Visser, J. (1999) Art. 8

|43|

Artikel 8

 

Iemand wat nie gestudeer het nie, sal nie tot die diens van die Woord toegelaat word nie, tensy daar sekerheid is van sy buitengewone gawes, godsaligheid, ootmoedigheid en ingetoënheid, goeie verstand en onderskeidingsvermoë sowel as gawes van welsprekendheid. As so iemand hom aanmeld, moet die klassis, as die partikuliere sinode dit goedvind, hom eksamineer en na gunstige bevinding hom vir ’n tyd lank private preekproewe laat lewer, om dan met hom te handel soos die klassis stigtelik oordeel.

 

Toelating sonder voorafgaande studie. 

In hierdie artikel word die moontlikheid van toelating tot die diens van die Woord sonder voorafgaande studie bepaal. Dit is geen prinsipiële uitsondering op die vorige artikels nie; dit is steeds gefundeer in die basiese Skriftuurlike beginsels dat die Here Self manne tot sy diens roep en daarvoor toerus (kyk art. 3).

Normaalweg is voorafgaande studie noodsaaklik om toegelaat te word tot die diens van die Woord. Veral is kennis van die oorspronklike tale waarin die Bybel geskryf is, naamlik Hebreeus en Grieks, onontbeerlik om Gods Woord uit te lê en te verkondig. Hierby kom dan nog kennis van al die verskillende teologiese vakwetenskappe.

Tog is daar, in hoogs uitsonderlike gevalle, ’n moontlikheid om sonder voorafgaande studie toegelaat te word tot die diens van die Woord ... as daar naamlik bewys gelewer kan word dat die Heilige Gees iemand toegerus het met „buitengewone gawes”, soos in hierdie artikel genoem word. Die Here kan ook diegene wat Hy roep, sonder studie bekwaam om sy Woord te verkondig. Daar moet egter „sekerheid” wees van so iemand se buitengewone gawes.

 

Prosedure by toelating.

Die ordelike weg waarlangs so ’n persoon homself moet „aanmeld”, is soos volg:

|44|

➢ hy moet sy begeerte om tot die diens van die Woord toegelaat te word, onder die aandag van sy kerkraad bring. (Selfs in die geval van persone wat deur middel van voorafgaande studie toegerus word tot die diens van die Woord, word daar vertroulike getuienis van die plaaslike predikant verlang);
➢ die kerkraad moet volgens sy eie diskresie sekerheid verkry oor die persoon se buitengewone gawes, voordat hy die aansoek na die klassis deurstuur;
➢ as die kerkraad oortuig is dat die aansoek verdienste het en die aansoeker se motiewe suiwer is, verwys hy die persoon na die Teologiese Skool, sodat daar vasgestel kan word of sy teologiese toerusting voldoen aan die vereistes vir die Kandidaatseksamen, en of aanvullende opleiding nodig is;
➢ wanneer die Senaat van die Teologiese Skool tevrede is dat die teologiese toerusting van die persoon bevredigend is, word hy voorsien van ’n amptelike dokument waarin die toepaslike en vereiste gegewens weergegee word. Die kerkraad stuur dan ’n behoorlik gemotiveerde aansoek na die klassis deur; hierdie aansoek moet vergesel word van die dokument van die Senaat van die Teologiese Skool, asook van ’n getuienis van die aansoeker se leer en lewenswandel;
➢ nadat die klassis oortuig is dat daar wel genoegsame bewys van buitengewone gawes gelewer is, word die aansoek na die partikuliere sinode deurgestuur vir goedkeuring, voordat die kandidaat finaal deur die klassis (verkieslik met advies van die deputate van die partikuliere sinode — kyk art. 49 KO) geëksamineer word met die oog op beroepbaarstelling;
➢ vóór beroepbaarstelling moet die kandidaat egter vir ’n tyd lank, soos die klassis reël, „private preekproewe” lewer. Hierdie preekproewe is geen amptelike Woordbediening nie, maar die spreek van ’n stigtelike woord (kyk p. 8, 16). Oor hierdie preekproewe moet aan die volgende klassis verslag gelewer word;
➢ indien die verslag oor die preekproewe bevredigend is, volg die amptelike beroepbaarstelling, waarná die Ondertekeningsformulier vir Proponente onderteken moet word (kyk by art. 4, p. 16).