Spoelstra, B. (1989)

Gereformeerde Kerkreg en Kerkregering
’n Handboek by die Kerkorde
Hammanskraal (S.A.)
Die Hammanskraalse Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika
1989

Spoelstra, B. (1989) Inh.

|iii|

Inhoud

 

 

’n Woord Vooraf

 

1

Algemene Kerkregtelike Oriëntering

 

2

 

 

 

Inleiding

 

 

Naam en Herkoms van die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika

 

19

Doel en inhoud van die Kerkorde 

art 1

23

 

 

 

Eerste afdeling: Oor die dienste

 

 

Wettige roeping tot ’n bepaalde Diens

artt 2, 3

26

Beroeping tot en Bevestiging in die diens van die Woord

artt 4, 5

39

Bedienaars van die Woord in Gemeenskapstrukture

art 6

62

Die Bedienaar van die Woord is aan plek en wettige sending gebonde

art 7

66

Toelating tot die diens van die Woord op sterkte van buitengewone gawes

art 8

72

Toelating van predikers uit ander kerke of sektes

art 9

77

Kerklike bewilliging nodig om ’n beroep elders heen op te volg

art 10

82

Die kerk moet die bedienaars van die Woord onderhou

art 11

87

Die predikant is lewenslank geroep

art 12

93

Onderhoud van emerituspredikante en hulle afhanklikes

art 13, 20

98

Tydelike Onderbreking van of verlof uit diens

art 14

106

Toelating tot diens van die Woord in ’n ander kerk

art 15

109

Die Bedienaar van die Woord

art 16

111

 

|iv|

 

Ongehinderde Dienslewering

art 17

116

Die diens van Opleiding

art 18

119

Sorg vir Teologiese studente

art 19

127

Ouers en Skoolonderrig

art 21

129

Die beroeping van Ouderlinge en Diakens

art 22, 24

132

Die diens van Herder-ouderling

art 23

142

Die diens van Diaken

art 25

150

Diakens en Buite-kerklike Liefdadigheidsinstelling

art 26

161

Reëling van dienstyd van ouderlinge en diakens

art 27

163

Kerklike Korrespondensie met Owerhede

art 28

166

 

 

 

Tweede afdeling: Oor samekomste van die kerke

 

 

Kerke vergader in verskillende kringe vir kerkregering

art 29

169

Behandeling van kerklike sake en mindere bevoegdheid van meerdere vergaderings

art 30

177

Appèl of Beroep op die reg teen vergaderings

art 31

187

Kerkvergaderings in diens van God

art 32

202

Afvaardiging na meerdere vergaderings

art 33

205

Die Skriba naas die Voorsitter nodig met die oog op die Handelinge

art 34

212

Die amp of taak van die voorsitter

art 35

215

Dieselfde mag en Gesag om in kerklike vergaderings te bedien

art 36

218

Die Raad van Ouderlinge

art 37, 38b

224

Instelling van die kerkraad en die Klassis

art 38a, 39

235

Vergadering van die predikant en die diakens

art 40

241

Samekoms van naburige kerke in klassis

art 41

247

Meer advies in die klassis

art 42

253

Onderlinge Sensuur in meerdere vergaderings

art 43

255

Visitasie deur naburige predikante

art 44

257

Kontinuïteit van meerdere vergaderings (sinodes)

art 45

263

 

|v|

 

Agenda en besluite van meerdere vergaderings

art 46

267

Meer vergaderings en meer kerke

artt 47, 50, 51

274

Korrespondensie is belewing van oop kerkverband

art 48

283

Deputate om uit te voer wat besluit is

art 49

286

Engere en Ekumeniese kerklike Korrespondensie

art 52

292

 

 

 

Derde afdeling: Oor die leer, sakramente en ander sermonies

 

 

Die Band van kerklike eenheid

artt 53, 54

297

Bevordering van die ware geloof

art 55

305

Kinderdoop verseël die verbond

art 56

310

Verantwoordelikheid vir doopaanvraag

art 57

321

Onderskeie Formuliere vir Volwassene en Kinderdoop

art 58

326

Belydende Gemeente is Nagmaalgemeente

art 59

329

Volledige Doopregisters

art 60

332

Nagmaal slegs vir Gelowiges ingestel

art 61

335

Die wyse van Nagmaalviering

art 62

344

Gereelde Nagmaalviering

art 63

350

Nagmaalbediening slegs in die gemeenskap van die gelowiges

art 64

353

Lykdienste en Lykpredikasies moet geweer word

art 65

356

’n Dag van verootmoediging en gebed

art 66

360

Christelike feesdae

art 67

365

Stelselmatige opbou in Geloof

art 68

368

Orde ten opsigte van die Kerklied

art 69

371

Huweliksbevestiging

art 70

375

 

|vi|

 

Vierde afdeling: Oor die bediening van die versoening of kerklike tug

 

 

Bediening van Versoening is noodsaaklik

art 71

380

Die Onderlinge Vermaning as Bediening van Versoening

artt 72, 73

391

Die Kerkraad as bedienaar van die Versoening

art 74

397

Die wyse van kerklike versoening

art 75

403

Verharding veroorsaak afhouding van die Nagmaal

art 76

407

Laaste Tugmiddel: Afsny van die gemeenskap van die kerk

art 77

412

Versoening van en met ’n afgesnedene

art 78

422

Waak oor die heiligheid van die amp

art 79, 80

426

Christelike sensuur onder ampsdraers

art 81

445

Kerklike Attestasie by vertrek uit die gemeente

art 82

450

Kerklike sorg vir vertrekkende armes

art 83

459

Christus alleen koning van sy kerk

art 84

462

Eenheid en Verskeidenheid in die ekumene

art 85

466

Kerkorde is ooreenkoms tussen kerke

art 86

470

Bibliografie

 

476

Register

 

486

 

Spoelstra, B. (1989) WV

|1|

’n Woord Vooraf

 

 

In my diens as professor in kerkreg en kerkregering gedurende die afgelope agtien jaar het ek stelselmatig besef watter voorreg ek gehad het om aan die Teologiese Skool te Potchefstroom by die onvergeetlike prof W J Snyman eksegeties geskool te word in die Bybelse gebruik en betekenis van die woord kerk. Tweedens het die Openbaringsgeskiedenis my verplig om kennis te neem van die magistrale werk van dr Herman Ridderbos, De Komst van het Koninkrijk waardeur ek kon begryp dat hierdie koninkryk op heerskappy van God, teenwoordig en toekomstig, neerkom. Dit het my daartoe gebring om krities na die gangbare benadering van kerkreg te kyk en my oortuig dat die koninkryk van God wonderlike perspektiewe vir kerk-wees vandag open. Dit was toe ook asof Calvyn vanself oopgeval en hier en nou aktueel geword het.

My ervaring met kerkregering in kerke van die Eerste en Derde Wêreld wat almal gereformeerd wil wees, het my oortuig dat die basiese kerkreg in die Skrif gevind word terwyl die Kerkorde slegs maniere hoe dit toegepas behoort te word, aandui.

Hierdie werk wil Christus as Koning van sy kerk bely en aanvaar onvoorwaardelik dat Hy alleen reg, wet en regering van sy kerk bepaal. Nietemin gebruik Hy ook mense op ’n wyse wat in die Skrif beskryf is. Die boek wil aan die koningskap van Christus diensbaar wees en verskil waarskynlik van baie uitgangspunte wat die kerk as vertrekpunt neem. Ek kon nie my hand op ’n werk lê wat kerkreg (wat die Koning bepaal het) konsekwent van kerkregering (soos die dienaars dit beoefen) onderskei nie. Indien ek hiermee ’n eie bydrae maak, wil ek by voorbaat verskoning vra omdat so ’n braakland uiteraard met banke geploeg is. Indien dit vir ander iets beteken, is die werk hieraan meer as beloon.

Ek betuig graag my innige dank aan die Kuratore, Senaat en personeel van die Hammanskraalse Teologiese Skool vir ondersteuning, verlof, hulp en aanmoediging om die publikasie die lig te laat sien, veral aan mev Ina du Plessis vir die tik en aan dr Izak Bekker vir taalkundige nasien en proeflees van die manuskrip, dikwels onder moeilike omstandighede. Ek dank my vrou vir jarelange liefde, begrip en vertroue, ook wanneer mens soms alleen moes loop. Indien dié werk kerkregering tot eer van die Drie-enige Verbondsgod sal dien, wil ek dit aan die Here as my geringe offer van dank opdra vir so veel en groot genade, waaraan ek my lewe dank.

Mag die kerk reg regeer word. Soli Deo Gloria.

Spoelstra, B. (1989) AKO

|2|

Algemene Kerkregtelike Oriëntering

 

 

1. Die titel

Die titel van hierdie werk bevat vier begrippe. Gereformeerd verwys in die eerste plek na die Reformasie van die 16de eeu, veral soos Calvyn dit verwoord en die kerke in Nederland van 1571 tot 1619 dit uitgewerk het. Die begrip kerk beteken in die titel die volk van God wat een in Christus is (universele kerk) of die gelowiges (gemeente) wat op ’n bepaalde plek saamlewe. Die woord kerkreg verwys na geldende en bindende reëls wat god vir sy kerk gegee het. Daar is gevolglik ook ’n teologiese vakwetenskap kerkreg wat hierdie reëls uit die Skrif moet opdiep. Die begrip regering het te doen met kerkreg soos mense dit toepas en ander voorskrifte wat in die kerklike praktyk nodig mag wees (NGB 32; Calvyn Inst IV.10.xvii, xxvii-xxxii).

Die onderskeiding tussen kerkreg en kerkregering is noodsaaklik wanneer ons die koninkryk van God en nie die “kerk” als organisasie as ons vertrekpunt neem. Ons kan onderskei tussen die reg wat God ingestel en voorgeskryf het, byvoorbeeld die Tien Gebooie, die opdrag om oor die kerk toesig te hou (Hd 20: 28) ensovoorts, en die “reg” wat kerkregeerders of die gemeente voorskryf. Godgegewe reg is van ’n ander aard as menslike bepalings. Die goddelike reg (jus constituendum) kan selfs in die praktyk heeltemal verontagsaam word en verskil van heersende en interne verbondsreg (jus constitutum) (vgl NGB 30, 31, 32; Pienaar 1984:3).

Omdat hulle die wil van God of koningskap van Christus voorop gestel het, het Luther en Calvyn die Skrif as enigste reël en bindende voorskrif vir die geloof geneem (vgl NGB 7, 32). Daarin is die reg van die Koning vir sy volk gegee. Gereformeerde kerkreg moet begin met die Skrif as enigste reël vir die geloof (sola scriptura). Die kerk as vergadering van gelowige moet hierdie monargale reg eerbiedig. Tog beantwoord kerkregering in “gereformeerde” kerke nie vanself aan hierdie reg niet.

 

2. Wie die reg vir die kerk bepaal

Christene verskil oor hierdie beginsel. In die eerste plek het die vroeë Christelike kerke en Calvyn gesê dat God sy wil of ordinansies vir die natuurlike en geestelike lewe gegee het (regimen naturalis en regimen spiritualis, Spoelstra 1982:233). In die kerk regeer God deur die Woord (Christus) en Gees (vgl bv Ex 20; en Mt 18: 15v; Hd 20: 28; 2 Tm 4: 1-5; Hb 1: 1v, 2: 1v; 1 Pt 1: 12; Calvyn Inst hfst 8-11). In die Skrif is alles voorgeskryf wat die mens vir sy verlossing en nuwe lewe deur die Gees in Christus nodig het (NGB 7, 31, 32).

Op voorbeeld van die Romeinse keiserlike ryk het die monargale biskop (pous) gedurende die Middeleeue opgekom. Daar is ’n dogma opgebou dat Christus die biskop van Rome as sy verteenwoordiger op aarde aangestel het en hom in sy amptelike optrede onfeilbaar deur die Heilige Gees lei. Hy kan die reg in die Bybel kanoniek en absoluut geldend aanvul. Die pouslike regering

|3|

is Christus se koninklike regering op aarde. Wie aan die pous ongehoorsaam is, is in werklikheid aan Christus en die Gees ongehoorsaam. Hierdie pouslike monargale kerkreg is in die Corpus juris Canonici vervat.

Luther het hom op die Skrif as monargale gesag vir wat reg is teen die pous beroep. Toe hy daaroor uit die kerk op 10 Desember 1520 geban is, het hy die ban en die corpus juris canonici in die openbaar verbrand. Hy stel daarmee Skrifgesag radikaal teenoor ampgsgesag. Volgens sy twee ryke leer regeer God sy volk (die universele kerk van gelowiges) regstreeks deur die Woord en Gees. Alle sigbare, tydelike regering oefen God egter deur die landsvors uit. Hy voorsien en versorg die sigbare kerk-instituut. Dié uitgangspunt sluit aan by die Germaanse feodale reg. Die vors versorg onder andere die godsdiens van sy onderdane in ruil vir hulle diens. Die regering van die sigbare kerkinstituut is dus van ’n ander orde as God se regering van die onsigbare kerk van gelowiges.

Op sterkte van hierdie Lutherse skeiding tussen die onsigbare kerk en die sigbare kerkinstituut het die verenigingsreg van die Aufklärung vanaf die 17de eeu toenemend die kerk beskou as ’n vrywillige vereniging vir godsdienstige behoeftes van sy lede. Mense assosieer en stig ’n kerk met ’n eie konstitusie. Selfs die Nederlandse gereformeerde teoloog, Abraham Kuyper, wat die kollegialisme skerp kritiseer het, het dogmaties onderskei tussen kerk as organisme (die gelowiges) en kerk as instituut of “vorm” (Kuyper sj:26v, 102, 155v, 182). Hierdie opvatting skei onbewus gelowiges en instituut (vgl. bv by “kollegialisme”). Die kerk als instituut word as ’n “ding”, ’n samelewingsverband wat mense inrig en waarvoor hulle die reg bepaal, beskou. Die lede van die vereniging bepaal die reg deur middel van die bestuur wat die konstitusie daartoe magtig.

’n Vyfde en laaste opvatting van die piëtisme is deur Rudolph Sohm (1892) verwoord. Op Lutherse model het hy die geestelike en botydelike karakter van die kerk as gemeenskap in Christus eensydig beklemtoon. Die verhouding met Christus sluit enige formele, dwingende regsisteem vir die kerk uit. Mense kan nie reg vir God se kerk ontwerp nie, omdat reg met liefde bots. Liefde sluit kerkreg en kerkregering uit. Die teenstelling wat die Griekse filosoof Plato tussen natuur en gees gemaak het, het so ook tot vandag toe in piëtistiese, sektariese en ekumeniese kringe die geestelik-vrye “kerk” sonder omlynde kerkreg teenoor die staat, politiek, kultuur en samelewing gestel.

Die gereformeerde kerkreg het op spoor van die Doleansie probeer om terug te keer na Bybelse kerkreg. Tog het hulle te veel die koningskap (koninkryk) van Christus met die kerk as instituut verplaas. ’n Gereformeerde kerkregkundige stel so byvoorbeeld tereg Christus as enigste Wetgewer, Regsvormer en Regshandhawer in sy kerk wat van “ampsdraers” gebruik maak. Op sterkte van kerk en ampsdraers definieer hy kerkreg dan as “die reëls wat uit die beginsels, gegee in die Woord van God, gevorm (is) deur ampsdraers, vir die gedrag in die gemeenskap van die gelowiges” (Van der Linde 1965:32). Als dit die geval sou wees, moet mens vra: Is Christus nog die “enigste” Wetgewer wanneer “ampsdraers” vir die gelowiges “reëls” vorm? As die reg “uit die beginsels” in die Skrif gevorm word, is die reg as sodanig dan nog monargaal in die Skrif gegee? Hoe verskil dit van Rome wanneer “ampsdraers” op grond van hulle aanstelling deur Christus reg mag vorm? Hoe kan ons nog prinsipieel

|4|

onderskei tussen die reg wat behoort te geld (jus divinum, jus constituendum) en reg wat kerkregeerders neerlê (jus permissum, jus constitutum)? Die kerkreg moet òf die koninkryk (Christus as wetgewer) òf die “kerk” as vertrekpunt neem om te bepaal wie die reg bepaal.

 

3. Christus is die enigste hoof van sy kerk

Christus is Here, Koning, Hoof van die gemeente (kerk), die volk van God (Mt 16: 18, Joh 18: 36-37; 1 Kor 15: 24-28; Ef 1: 22; 4: 5 ens; Van der Walt 1976; Coetzee 1965; NGB 27, 31; Heid Kat S. 12, 21). Kerkreg en kerkregering moet by hierdie punt begin. In ’n absolute monargie bepaal die Koning en Hy alleen die reg (NGB 7, 31). In ’n konstitusionele monargie sou Christus sy Goewerneur (pous), of die parlement (sinode) of die volk of gemeente (demokrasie) reg kon gegee het om aanvullende reg neer te lê.

Die Skrif noem duidelik Christus die enigste Koning, Wetgewer, Regvormer, Regeerder en Bestuurder in, oor en van sy kerk. Die werklikheid is so intiem dat dit met die hoof van ’n liggaam vergelyk word (Ef 5: 23, 29, 30). Die wese van die koninkryk as regering in sy kerk word met hierdie beeld gegee. Dit is ironies dat kerkregeringstelsels met die mond bely dat Christus die enigste Hoof van sy kerk is, terwyl in die praktyk òf biskoppe, kerkrade òf sinodes effektief as hoof van die kerk optree en as sodanig erken word.

 

4. Koninkryk en kerk

In die Ou en Nuwe Testament gaan dit om God wat oor die heelal regeer (teokrasie) en in besonder oor sy uitverkore volk. In die Ou Testament is dit die volk Israel en in die Nuwe Testament roep God sy volk uit alle tale en nasies (Mt 28: 19; Joh 4: 23; Hd 1: 8). Hierdie volk is die kerk (kuriake, wat aan die Here behoort).

In die moderne tyd word die kerk sentraal geplaas en die teokrasie (koninkryk) verswyg. Die Here Jesus verwys in die evangelies meer as honderd maal na die koninkryk van God waarvoor Hy gekom het (Mk 1: 14; Lk 4: 43). Hy gebruik die woord gemeente of kerk (ekklesia, letterlik “uitgeroeptes”) net twee keer, naamlik in Mt 16: 18 en 18: 17. Die Nuwe Afrikaanse Vertaling vertaal om onverklaarbare rede ekklesia in een geval met kerk en in die ander geval met gemeente, waarskynlik omdat die kollegialisme die kerk as struktuur teenoor die koninkryk in die moderne teologie verabsoluteer het. Die teoloog Loisy het aan die begin van hierdie eeu gesê dat Christus vir die koninkryk van God gekom het, maar sy volgelinge het daarvan die kerk gemaak (Ridderbos 1950:291). Die moderne neiging maak die kerk as horisontale menslike organisasie heeltemal los van die koninkryk.

Die Bybel bedoel met koninkryk oorwegend die koningskap (regering) van God. Dit kan egter ook soms die mense (gebied) waaroor God Koning is of die vrugte of gevolge van God se regering beteken (Van der Walt 1962). Die koninkryk is dus niet ’n statiese struktuur niet. Die koninkryk wys op die dinamiese regering van God wat gehoorsaam of weerstaan word (Ridderbos 1950: 19, 41). Waar die Woord en Gees van God gehoorsaam word, het die

|5|

koninkryk gekom. Daar is God Koning. Die kerk is dus ’n vrug of gestalte van die gehoorsaamheid aan die koningskap van God (Heid Kat S 21, 48).

Gehoorsaamheid of dissipline is die sleutel waarmee Calvyn die koninkryk van God begryp (Milner 1970:189). Waar die Woord en Gees gehoorsaam word, word orde in die gebroke sondige wêreld herskep. Die kerk is daardie orde wat God skep waar menslike instrumente sy Woord en Gees bedien (Milner 1970:44, 47, 65, 83; Spoelstra 1982:239).

Die kerkregering is bedoel om God se orde op aarde te vestig en te bewaar (Heid Kat S 48). Kortom, kerkregering behoort onderwerping en gehoorsaamheid aan Christus as enigste Koning na te streef en bevorder. Dit beteken dat kerklike dienaars slegs op gehoorsaamheid aanspraak kan maak wanneer en in so ver hulle die Woord en Wet van hierdie Koning in hulle kerkregering bedien (NGB 7, 27, 31, 32). Die kerk as herstelde orde vertoon daarom duidelike kenmerke wat elke gemeente op elke plek moet vertoon om waarlik kerk van Christus te wees (NGB 28, 29; Calvyn Inst IV.1.x; 11).

 

5. Die kerk

Tereg skryf ’n bekende Nederlandse teoloog dat die leer oor die kerk in die teologie gruwelik verwaarloos is en dat die opvattings daaroor ’n mens in ’n doolhof laat beland. Gedurende die Middeleeue is Woord en sakrament uit die hand van ’n priester ontvang sonder om ’n leer oor die kerk te ontwikkel. Die sigbare priesterinstituut is as die “kerk” beskou (ubi papa ibi ecclesia). Vanaf die Reformasie (en ons moet veral na die Rasionalisme van die 18de eeu verwys) is allerlei opvattings oor die kerk stelselmatig ontwikkel (Runia 1984:41, 42).

Die eenvoudigste definisie van die kerk is in die Twaalf Artikels te vinde. Die kerk is ’n heilige, katolieke (algemene) vergadering of eenheid van gelowiges, saamgebind deur ’n ware geloof in Christus (Heid Kat S 21; NGB 27). Die Bybel noem hierdie een (universele) kerk of liggaam van Christus ekklesia (Mt 16: 18; Hd 9: 31; Ef 1: 22 ens). Die Bybel noem egter ook die vergadering of eenheid, naamlik gemeente van gelowiges, op ’n bepaalde plek ekklesia (Mt 18: 17; Hd 2: 47; 11: 22; 13: 3; 1 Kor 1: 2; 2 Kor 1: 1; Op 2: 1, 8, 12, 18 ens). Hieroor het wyle prof W J Snyman waardevolle eksegetiese navorsing gedoen (vgl Snyman 1977). Hy het aangetoon dat die Bybel nooit die woord ekklesia (kerk of gemeente) in die enkelvoud vir institusionele eenheid van ’n aantal gemeentes gebruik soos die woord kerk vandag vir ’n denominasie, sinodale eenheid, verenigde kerkorganisasie of “kerkgenootskap” gebruik word nie. Daar is teoloë wat dit onder andere op twyfelagtige eksegese van Hd 9: 31 wil beweer (Bavinck 1918:301; Kleynhans 1982:33v; Pont 1981:48, 188, 193, 221). Du Plooy het hierdie eksegese oortuigend weerlê (1982:111). Die woord “kerkverband” mag ook nie daarvoor gebruik word nie.

Waar die Bybel die sigbare eenheid tussen meer of al die gemeentes op die oog het, gebruik dit altyd die meervoud gemeentes, dit wil sê kerke (vgl 1 Kor 16: 1; 2 Kor 8: 19, 23; Gl 1: 1; Op 1: 20; 2: 7 ens). Die Bybel praat dus nie van die kerk as ’n objektiewe instituut of organisasie waarby iemand aansluit of “lidmaatskap” verkry nie. Jy kan slegs deur geloof lid van die kerk wees. Die Bybel praat gevolglik ook nie soos ons vandag van “lidmate” van die kerk

|6|

nie, maar van gelowiges (Hd 2: 44, 5: 12; 6: 7; 10: 45; 11: 1, 26; Rm 15: 27; 16: 14; 2 Kor 9: 1 ens) of volgelinge (dissipels) van die Here (Hd 9: 1).

Die Bybelse begrippe gemeente, volk van God, gelowiges, volgelinge of dissipels benadruk die geloofsverhouding tot Christus wat die Woord en Gees bewerkstellig terwyl die woord “lidmaat” of “lidmaatskap” meestal vandag die verhouding tot ‘’n bepaalde gemeente-organisasie of “kerkverband” aandui. ’n Mens kan dus sê dat die gangbare gebruik van die woord “kerk” grootliks verskil van hoe die Bybel die gemeente en kerk verstaan en andersyds aantoon hoe die begrip van kerk en gemeente grootliks gesekulariseer het. Die “kerk” word beskou soos ’n party wat mense gestig het, waarby jy vrywillig aansluit. Die mens word “lidmaat” van daardie kerk deur vrye keuse. Dit reken nie meer met God wat sy kerk verkies, roep en bewaar nie. So neem die kerk in ’n groot mate die plek van Christus in. Mense word vandag “lid” van ’n kerk soos die Bybel praat van mense wat deur geloof “lede” van Christus word (1 Kor 12: 12, 27; Ef 4: 4-7, 12 ens).

Die kerk is volgens die Bybel mense en nie ’n vaste instituut waarby jy aansluit soos wat jy in ’n bus klim nie. Die kerk as mense is dinamies, lewend en ’n organisme soos ’n liggaam wat gedurig verander, beweeg na Christus toe of van Hom afval, siek word, moeg raak. So het die vroeë Christelike kerke, Rome en die Reformasie die kerk oorwegend as organisme (volk) verstaan. Die volk was aan Christus onderdanig (Nuwe Testament), of aan die priesterinstituut gehoorsaam (Rome). Kerk is die volk wat God deur sy Woord en Gees geroep, verlos, met geloof begenadig en in die eenheid van ’n ware geloof beskerm en bewaar (Calvyn Inst IV.1).

By Rome ontwikkel reeds ’n statiese juridiese kerkbegrip rondom die amp waarin Bybelse kerkreg geleidelik met menslike institusionele reg vermeng. Die Roomse ensikliek Mystici corporis (1943) beskryf die kerk as ’n hiërargiese gemeenskap (societas hierarchica), dit wil sê as die Roomse priesterinstituut (Van der Merwe 1984:62-64; verwys na Weyland 1965). Wanneer die verenigingsreg in die 18de eeu opkom (vgl. Rousseau le Contrat Social), word die kerk al meer as ’n wetlik omlynde vaste instituut beskou wat teenoor of in verband met die “staat” staan.

Die Gereformeerde Belydenis gee drie kenmerke of norme waaraan ’n ware kerk beantwoord wanneer dit die universele kerk op daardie plek verteenwoordig (NGB 27-29). Hierdie kenmerke is verkeerdelik in die Nederlandse Afskeiding van 1834 op kerkgenootskap of “kerkverband” as ’n sinodale kerkgemeenskap toegepas. Die plaaslike kerk leef die Woord, sakramente en tug soos Christus dit gegee het uit — of sit dit met vindingrykheid opsy. Elke gereformeerde gemeente beweeg dinamies meer na Christus toe of van Hom af weg.

“Lidmaatskap” in die gemeente is nie sinoniem vir gelowig wees in Christus nie. In die sigbare kerk (gemeente) kom gelowiges en ongelowiges voor (Calvyn Inst IV.1.xiv). Juis daarom het die Here dienste ingestel (Hd 20: 28; 1 Kor 12: 28; Ef 4: 11v; 1 Tm 3: 5; 5: 17; Tt 1: 7) en moet versoening deur middel van tugoefening bedien word (vgl deel I en IV van die Kerkorde hierna).

Die botydelike goddelike herkoms van die kerk van Christus lei onder andere by Lutherse teoloë vandag daartoe dat die “kerk” radikaal teenoor die “staat” of natuurlike sosiale groeperinge gestel word en gesê word “die kerk is ’n protes

|7|

teen die sosiale groep … Die kerk is ’n gemeenskap van mense wat van die mag van hulle sosiale groep bevry is en transendeer dus alle sosiale groepe en volkere” (Nürnberger 1975:392). So word die “kerk” as alternatiewe gemeenskap vir natuurlike samelewingsverbande aangebied. Dié standpunt is verwant aan die Piëtisme wat die natuurlike lewensverbande aan die “geestelike” prysgee.

Die universele kerk soos God dit ken, transendeer wel die natuurlike verskeidenheid (Gl 3: 28; Ef 2: 14, 15, 20; 4: 4). Gelowige mag daarom nie kunsmatig en diskriminerend in “aparte” kringe gedwing word nie. Dit neem egter nie weg dat net soos geloof nie ’n man of vrou laat ophou om te wees wat hulle is nie, net so min hef geloof kulturele en ander natuurlike werklikhede op. Daar is nie net een universele kerkstruktuur, kerktaal of kultuur soos Rome probeer het nie. Die Gees wil dat elke mens die evangelie in sy eie taal hoor en die Here daarin aanbid (Hd 2: 7-11). Daarom verskyn die een universele kerk van Christus in baie gemeentes onder verskillende volke, tale en nasies. Elke gelowige deel in die kultuur en wêreld in sy totaliteit as mens (Rm 15: 27; 1 Kor 12: 5, 13). Christene tree op in hulle bepaalde sosiale standverskille (slawe en vrymanne), asook etniese verbande as Jode (Hd 22: 3; Rm 16: 7, 11), Masedoniërs (2 Kor 9: 2, 4) of stadskultuur van Korinthe ensovoorts. Die etniese verskeidenheid verplig nie ’n rigoristiese geskeidenheid of “apartheid” nie. Die gemeenskap van die gelowiges oor taal- en volksgrense verplig ook nie gemeentelike of strukturele eenheid nie.

Die moderne ekumeniese strewe om “een wêreldkerk” daar te stel berus op die valse idee dat die kerk of liggaam van Christus saamval met strukture wat mense vir kerkregering of demonstratiewe eenheid daarstel, terwyl die natuurlike werklikheid leer dat waar mense in verskeidenheid lewe, sal die een kerk van Christus ook in ’n verskeidenheid van kerke (gemeentes) en kerkvergaderings sigbaar word. Net so min as wat ’n man of vrou hulle geslag verloor wanneer hulle gelowig word (Gl 3: 28), net so min verloor die gelowige sy deel aan die familie, volk, stad of land waartoe hy behoort. So word die een volk van God sigbaar in baie gemeentes onder baie volke en tale van die wêreld (Mt 28: 19; Hd 1: 6, 8). Slegs so kan die gelowiges vir die wêreld intree, die wêreld dien en ten volle betrokke wees by hoe God koning wil wees in die wêreld (vgl RES 1980:63v, 221v).

 

6. Kerkeenheid

Die koninkryk (heerskappy of regering) van God bepaal die aard van kerkeenheid. Die kerke wat na die Woord en Gees van God luister, is een, al leef hulle in verskillende lande en praat tale wat vir mekaar vreemd is. Gevolglik gebruik die Bybel begrippe soos liggaam, tempel, bruid, volk, saailand, gebou, gemeenskap, vir die universele kerk. Die liggaam van Christus, die tempel van God kan nooit verdeeld wees nie. Christus het per definisie nooit meer as een liggaam nie. Indien ons op aarde van ’n verdeelde kerk van Christus praat, neem ons strukture en nie die liggaam van Christus nie as ons vertrekpunt en identifiseer ons moontlik strukture vir kerkregering (soos Rome) meet kerke.

Die een kerk of liggaam van Christus word op aarde sigbaar waar gelowiges in baie gemeentes in die eenheid van ’n ware geloof saamkom en die Woord

|8|

van God in alles probeer gehoorsaam (NGB 28, 29; Hb 4: 14, homologia, dit wil sê dieselfde geloofsbelydenis). Die Gereformeerdes maak gevolglik sedert die 16de eeu besonders erns met die inhoud, handhawing en binding van die Belydenisskrifte. Calvyn sê daar moet eers eenstemmigheid as vrug van die Gees in geloofsake wees voordat daar gemeenskap en liefde, dit wil sê ’n gemeente of lewende kerk, kan wees (Inst IV.2.iv, v).

In die huidige tydsgewrig dink mense in terme van “ryke”, “imperiums”, volkebonde en internasionale groothede. Talle teoloë verstaan “eenheid” ook as iets op sigself, ’n strukturele norm. Die “kerk” kan vir hulle net “een” wees indien dit aan die norm van strukturele genootskaplike “eenheid” beantwoord. Hulle vra dan na die eenheid van die kerk. Hierin is eenheid die dominerende begrip waarby “kerk” slegs kwalifiserend in die genitief geplaas word.

Rutgers het in die Doleansie van die vorige eeu beklemtoon dat die gereformeerdes “eenheid” belewe wanneer dieselfde geloof bely word, al is strukturele eenheid in kerkregering (dws in dieselfde sinodes) nie moontlik nie, terwyl die liberalisme in die Nederl Herv Kerk aan strukturele eenheid vasgeklem het, al was daar nie eenheid in geloof nie (Rutgers 1882). Die tragiese geskiedenis van die Geref Ekumeniese Sinode (1946-1988) illustreer hoe vandag aan strukturele eenheid ten koste van Skrifgesag en geloofseenheid gekleef word.

Wanneer ons van God se een kerk en “ons baie kerke” praat (Heyns 1977), skei ons soos Luther onsigbare en sigbare kerk. In hierdie kader word Joh 17: 21 verklaar asof God daarmee sigbare “kerkeenheid” in strukture van kerkregering (kollegialisme) beveel het. Die opvallende is egter inteendeel dat sedert die kerk as eenheidstruktuur wat gemeente saambind, verstaan is, het juis die dwang uit die sentrale sinodegesag “kerkgenootskappe” by dosyne laat ontstaan. Die Skrif gebied primêr geloofsgemeenskap as eenheid in gees en waarheid en nie ’n sinodale of pouslike kerk nie (Joh 17: 17; 4: 24; Rm 10; 12: 1-6 ens). Die moderne eenheidstrewe verloor uit die oog dat een biskop of een sinode hoogstens eenheid in uiterlike kerkregering en allermins die eenheid wat die kerk in Christus is, kan daarstel.

Wanneer eenheid met organisasie of struktuur vereenselwig word, sekulariseer die kerkbegrip. In werklikheid is die moderne gesekulariseerde kerkbegrip staties en vas. Elke “kerk” is ’n “liggaam” wat wetlik vas deur sy konstitusie of kerkorde gevorm en omlyn is. Daarvolgens sou daar een Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika en byvoorbeeld nog twee ander Afrikaanse kerke in Suid-Afrika bestaan. Kerk is volgens hierdie beskouing in werklikheid net ’n idee, ’n begrip of ’n abstrakte voorstelling van die rede.

 

7. Kerkreg en kerkregering

Uit die voorgaande blyk dus duidelik dat die regering (koninkryk) wat Jesus Christus uitoefen, kerkreg vir die volk van die Koning bepaal. In die teologie moet die vak Kerkreg hierdie reg wat die Koning in die Skrif gegee het, naspeur. Kuyper (1909:225) plaas Kerkreg as kerklike (ekklesiologiese) wetenskap onmiddellik na die bibliologiese vakke wat die Bybel deur middel van eksegese bestudeer. Eers wanneer dié kerkreg in praktyk toegepas word, kry ons met presbiteriale kerkregering (kubernetiek) in pastoraal te doen waar Christus deur

|9|

middel van die opsiener-ouderling die kerk regeer. Die vak pastoraal kan slegs van kerkregering geskei word indien die kerk as organisasie outeur van die kerkreg is en “pastoraal” die aktiwiteit van die pastoor aandui. Met die koninkryk as uitgangspunt is bediening van die koningskap van Christus (pastoraal) die grondvlak van kerkreg en kerkregering.

Kerkreg word in kerkregering nie volmaak toegepas nie. Gevolglik behoort kerkreg en kerkgeskiedenis nooit los van mekaar beoefen te word nie (Coertzen 1984:187). Slegs kerkgeskiedenis kan aantoon of die jus constituendum (kerkreg) in die jus constitutum (praktiese kerkregering) eerbiedig word.

Aan die begin van die tweede eeu het die druk van vervolging in elke kerk (gemeente) onder die ouderlinge en diakens ’n leier-biskop (Ignatius 115; Policarpus 120) na vore laat tree (Spoelstra 1969; Koole 1949:63). Vanaf 313 het die Roomse keiser die Christelike godsdiens begunstig. Kragtens Romeinse administratiewe reg moes sy monargale gesag oor die kerk van die ryk aanvaar word. Die keiser het op gesette tye die goewerneurs van provinsies saamgeroep. Op dieselfde wyse het hy in 325 die eerste sinode (konsilie) van biskoppe te Nicea byeengeroep om onder sy leiding oor leersake te beslis. Die finale gesag wat die keiser oor konsiliebesluite uitgeoefen het, het die biskop van rome gaandeweg vir homself opgeëis (Plöckl 1958:I,58). Verskillende faktore het die aanspraak van die Roomse biskop gedurende die Middeleeue begunstig sodat hy in die Weste as godsdienstige en selfs as politieke leier die plek van die keiser wat na Konstantinopel verhuis het, ingeneem het. So het hy die sigbare monargale hoof van die kerk en eweknie van die keiser in Wes-Europa geword. Die kerkregering van die vroeë Christelike kerke is dus gesekulariseer en op Romeinse staatsregtelike lees geskoei (Plöckl 1958:30, 123; Spoelstra 1977:47). Die Konsilie onder gesag van die biskop van Rome is beskou as die sigbare beeld van die ekumeniese kerk, terwyl “ekumenies” die Romeinse ryksgebied sowel as die universele kerk van Christus beteken het (Plöckl 1958:I,115-119).

Die Roomse gee hulle eie eksegese van Mt 16: 18. Christus sou Petrus as aardse hoof van sy volk aangestel en as sy verteenwoordiger in Rome geplaas het (Hodge 1879:69). Biskoppe volg Petrus op en word in hulle amp onfeilbaar deur die Heilige Gees gelei (Joh 20: 22, 23). Die Vatikaanse Konsilie van 1870 het die pous in sy amptelike uitsprake onfeilbaar verklaar (infallibilitas papae loquentis ex cathedra). As verteenwoordiger van Koning Christus dra die pous ook twee swaarde, ’n wêreldlike en ’n geestelike. In ’n Christelike ryk moet die pous bo die staat staan en slegs hy oor die geestelikes regspreek.

Gedurende die Middeleeue is die nagmaal op voorbeeld van die Ou Testament weer as offerande beskou. Die opsiener-amp is aan die sakrament verbind en het tot ’n priesteramp ontwikkel. Die kerk bestaan in hierdie hiërargie of rangorde van priesters. Hulle behoort tot ’n hoër orde (ecclesia docens) en dra vaderlike verantwoordelikheid vir die leke (ecclesia audiens) (Biesterveld, Kuyper 1905:ii, iv). Die invloed van hierdie kerkbegrip beheers vandag nog dikwels die media en openbare mening sodat een of ander “ampsdraer” namens die “kerk” moet praat of die “kerk” verteenwoordig.

Die Roomse opvatting oor gesag vloei voort uit die amp van die pous. Rome sê die volk het die Woord van die “kerk” (pous) ontvang. Gevolglik dra die kerklike tradisie (dws latere pouslike voorskrifte) dieselfde kanonieke gesag as

|10|

die Skrif. Die “kerk” (pous) behoort selfs oor skole, wetenskap, gesin, staat en elke lewensterrein namens Christus te regeer.

 

8. Skole van kerkregering

8.1 Die Roomse stelsel

Die Roomse stelsel neem tereg in die kerkregering Christus as Hoof van die kerk as uitgangspunt (Smit 1985:16v). Rome beklemtoon die onverbreekbare band tussen Hom en die biskop-ouderling (Jonker 1965:5; Van der Walt 1976:16). Die monargale biskop verteenwoordig en vervang Christus in die kerkregering wat amptelik (ex cathedra) geskied. Calvyn bind daarteenoor meer as een biskop aan die plaaslike kerk en aan die bediening van die Woord van Christus (Inst IV.3.vii).

Die Tweede Vatikaanse Konsilie 1962-1965 het die Roomse kerkreg in die codex juris canonici hersien. Dit definieer die Roomse Kerk as ’n wêreldwye gemeenskap wat aan die “heilige herders” gehoorsaam is. Hierdie herders staan op hulle beurt onder die hoogste, volledige, onmiddellike en universele gesag van die pous (Coertzen: Die Kerkbode 14.3.84:7; vgl. Canon 204, 212, 331, 749, 753).

Dit is verkeerd om te sê dat Rome die “kerk” as vertrekpunt neem (vgl Kleynhans 1982:65). By Rome is die kerk koninkryk en nie ’n objektiewe struktuur waarby jy aansluit of waarvan jy lidmaat word soos by die kolledialisme nie. Die Roomse kerk strek so ver as wat die sakramente (veral die doop) onderdane vir die pous as sigbare hoof van die koninkryk van God maak. Rome kan derhalwe moeilik by een van die moderne ekumeniese bewegings inskakel wat nie die universele gesag van die pous erken nie.

 

8.2 Die Lutherse stelsel

’n Aantal konsilies het voor die kerkhervorming (vgl bv Pisa (1409), Constans (1414-18), Basel (1442-43)) vrugteloos probeer om hulle gesag oor die pous te vestig. Luther bots met die pous wanneer hy sy gesag teenoor Luther se beroep op die gesag van die Skrif laat geld. Luther neem Skrifgesag (sola scriptura) as sy vertrekpunt, maar bou tog nie ’n stelsel van kerkregering daaruit op nie. Hy konsentreer hoofsaaklik op die vryheid en versoening van die gelowige wat die Skrif gehoorsaam.

Luther sê met sy twee-ryke leer dat God geestelik, onsigbaar en direk met sy Woord en Gees oor sy gelowige volk (universele kerk) regeer. Hierdie regering (koninkryk) is van totaal ander orde as alle sigbare organisasie en regering waarvoor God die landsvors verantwoordelik gestel het (Smit 1985:36). Alle sigbare aardse regering val onder die vors (vgl Erastus 1524-1583). Kragtens die feodale stelsel is die vors kontraktueel verantwoordelik vir die godsdienstige versorging van sy onderdane in ruil vir hulle diens aan hom. Die landsvors het reg en plig in kerkregering (jus patronatus in sacra) binne ’n Christelike staat (corpus christianum) en moet die godsdiens van sy land bepaal en onderhou (cuius regio eius religio).

|11|

Uit die staanspoor van die Lutherse Reformasie is behoudende Anabaptiste deur die owerhede bloedig vervolg (Spoelstra 1975). Die Kompanjie stuur Jan van Riebeeck in 1652 om onder andere die gereformeerde godsdiens aan die Kaap te vestig en belet selfs die Lutherse godsdiens vir meer as ’n eeu.

Die vorste beskik oor ’n “noodreg” (Bavinck 1918:IV,205) waardeur hulle finale verantwoordelikheid vir die kerkregering dra. Hulle delegeer hulle taak na konsistories waar burgerlike regslui en kerklike ampsdraers die sigbare preek- en onderwysinstituut bestuur. Hierdie “kerk” is van totaal ander orde as die ware en onsigbare kerk van gelowiges waaroor God geestelik regeer. Die predikers (Pfarrers) staan onder gesag van toesighoudende superintendente of biskoppe. Omdat hulle basies “leraars” van die staat vir die volk is, kwalifiseer hulle vir hulle diens deur die graad van wetenskaplike opleiding wat hulle geniet het. Die amp is gesekulariseer soos enige andere betrekking of professie.

Die Lutherse stelsel is ook as die territoriale bekend. Dit gaan uit van lands- of staatskerke. Die kerk strek so ver die gesag van die betrokke staat reik. Tot vandag onderhou owerhede in party Duitssprekende lande predikante met staatsgeld. Die kerk is dus eintlik ’n nasionale massakerk, ’n volkskerk (Runia 1984:43).

Die Kerkhervorming val saam met die opbreek van die ou Heilige Romeinse Ryk in nasionale state wat in 1648 by Westfale beslag kry. So het Henry VIII met die Act of Supremacy van 1534 die Anglikaanse staatskerk daargestel toe die Kroon sy aartsbiskop benoem. Politici het die kerkhervorming ondersteun om hulle nasionale staat te bou en volgens Germaanse tradisie hulle gesag in die “Christelike” ryk laat geld. Selfs Calvinistiese owerhede in Nederland wou nie die Dordtse Kerkorde van 1619 goedkeur en nasionale sinodes toelaat niet.

Luther se kloof tussen sigbare en onsigbare kerk het in gereformeerde land onder druk van die Rasionalisme die idee laat posvat dat kerkregering of by die owerheid of by die “lidmate” van die vereniging berus. Koning Willem skep in 1816 in Nederland ’n totaal nuwe (kollegialistiese) struktuur op die filosofiese grondslag van staatsabsolutisme en volksoewereiniteit, want kerkinrigting word as ’n sigbare, godsdienstig-middelmatige en politieke saak beskou. So het die genootskaplike of kollegialistiese kerkbegrip posgevat wat met ’n konstitusie ’n “kerk” stig.

Ook die piëtisme aanvaar die breë Lutherse volkskerk en probeer ware gelowiges in organisasies binne die volkskerk (ecclesiola in ecclesia) verenig. Die Weslyaanse revivalisme het die besinning oor kerk en kerkregering verder verswak en die Anabaptiste versterk in hulle opvatting dat gelowiges hulle in ’n eredienstige gemeenskap (kerk) van die gewone lewe kan isoleer (Runia 1984:43-47).

Aan die positiewe kant het Luther die priesterskap van die gelowige met die Skrif in die hand teenoor die absolute amp van Rome herstel. Tog het dit weer maklik tot onordelike en leke-prediking en -sakramentsbediening gelei. Die balans tussen die basiese, mondige amp van gelowige en die geordende bedienaar van die gemeente het nuwe aandag gevra.

|12|

8.3 Die Independentistiese stelsel

Die Engelse episkopaalse staatskerk het geleidelik die gereformeerde leer in die 16de eeu aanvaar. Tog het gereformeerde Engelse (puriteine) met die massale staats- of volkskerk genoeë geneem. Hulle beskou die kerk nie as onderdane van die Engelse koning nie maar as gelowiges wat in leer en lewe, in bekering, heiligmaking aan die Bybel en Christus gehoorsaam is. Hulle verwerp die staatskerk (caesaropapie) en verlang kerklike strukture wat die gemeentepatroon in die Bybel navolg en wil God se wette vir die Engelse sameleweing voorskryf (Runia 1984:45). Die politieke beweging onder Cromwell het in die 17de eeu ’n groot impak gehad.

Die kerkregtelike independentiste val uiteen in twee groepe. Robert Browne (1550-1636) stig in 1580 in reaksie teen die biskoplike gesag in die kerk ’n separatistiese gemeente en emigreer daarna met sy gemeente na die Nederlande. Elke gemeente is radikaal onafhanklik en moet selfs nie deur presbiters oorheers word nie. Afsonderlike gemeentes kon konfereer, maar neem geen Belydenisskrifte of bindende besluite aan nie. Die gemeente regeer met meerderheid van stemme en die kerkraad voer die opdragte uit. Browne se independentisme reageer teen klerikale oorheersing deur Luther se priesterskap van die gelowiges as vertrekpunt te neem. Tegelykertyd is spore van die Engelse idee van volksoewereiniteit te sien. Browne het aan die “independentisme” ’n baie slegte naam gegee omdat die “volk” hier die regering by Christus oorneem (Kaajan 1925:386).

Aan die ander kant stel Thomas Cartwright (1535-1603) die Skrif as hoogste en finale gesag teenoor die Engelse episkopalisme en tree so as een van die eerste gereformeerde kerkregtelike skrywers na vore (Bouwman 1928:45, 231, 236). Hy gaan uit van die gelowiges wat op ’n bepaalde plek in ’n geloofsverbond saamkom (“covenanters”) en ’n gemeente (kongregasie) vorm (Kuyper 1883:49) en wat die Skrif fundamentalisties aanvaar en gehoorsaam. Die Puriteine was nonkonformiste ten opsigte van die staatskerk en is daarom deur die owerheid vervolg. Hierdie “pilgrimfathers” het hulle independentisme en streng wettiese moraal na die VSA uitgedra.

Aan die begin van die 17de eeu beklemtoon Robert Parker die “gemeente” van die Nuwe Testament as kerkvorm en wys dat die gemeente nie ’n onderdeel van ’n institusionele geheel vorm nie. Die kerke is egter kragtens hulle eenheid in Christus tot Christelike gemeenskapsoefening geroepe. Een vorm van gemeenskap is periodieke sinodes. Sinodes het egter geen selfstandige of regstreekse gesag van Christus oor die kerke ontvang nie. Sinodes kom “occasional” saam sonder om “amptelike seggenskap” of jurisdiksie oor die kerke te verkry. Hulle bied noodsaaklike “advice” aan die kerke (Deddens 1984:46v).

Parker het met Voetius korrespondeer en sterk invloed uitgeoefen op die Dordtse Sinode van 1619. Gevolglik is die Dordtse Kerkorde van 1619 verwant aan die kongregasionalistiese kerkordes in die Cambridge Platform 1648 (VSA) en Savoy Declaration 1658 (Engeland) wat vir gereelde sinodes en vaste kombinasie van kerke voorsiening maak. Die kerkordes is egter nie na behore toegepas nie en geleidelik het reëlmatige “meetings” van kerke plek gemaak

|13|

vir “meetings” van predikante en neem die kerkregering teen 1833 ’n dominokratiese karakter aan (Deddens 1984:46-57).

Al neem die kongregasionalisme in Engeland ’n eie karakter teenoor die Nederlandse kerkregering aan, kom dieselfde gereformeerde kerkregtelike lyn by die Engelse Kongregationaliste en Engelse Baptiste na vore. Alhoewel hulle die Skrif wou gehoorsaam, is die swakheid van die independentisme hulle oordrewe individualisme (Biesterveld, Kuyper 1905:xiii). Daarby sluit hulle sterk aan by die Engelse idee van volksoewereiniteit en neem hulle die gemeente eerder as die koningskap van Christus as vertrekpunt.

Vanweë die geweldige invloed wat die kollegialistiese kerkbegrip in Suid-Afrika opgebou het, is “independentisme” in gereformeerde kringe as ’n groot spook voorgeteken. Wanneer dit in die kerkregering om die regering van Christus met die Skrif (koninkryk) gaan, skuil minder gevare in independentisme as in kollegialisme wat die “kerk” en “sinodegesag” verabsoluteer. Die GKSA is self vrug van reaksie teen blatante sinodale voorskriftelikheid van 1841 tot 1859.

Die historiese-Baptiste kerkgemeenskap erken die selfstandigheid van die plaaslike gemeente binne ’n Baptiste Unie van Suid-Afrika. Elke gemeente kan grootliks homself uitleef sonder sinodale inmenging. Belydenisse en praktyke mag verskil, maar in wese staan Baptiste behoudend en ortodoks by hulle belydenis van 1689 wat by die Drie Formuliere van Eenheid van die GSKA aansluit (Holdt, Van Rooyen 1982).

 

8.4 Die genootskaplike of kollegialistiese kerkbegrip

Die benaming “kollegialisme” is afgelei van die Romeinse regsbegrip collegia licita wat wys op ’n wettige vereniging wat die gemeenskap veroorloof (Kuyper 1883:51). Die kerk as organisasie of instituut vorm die vertrekpunt en ampte en gesag word van die kerkstruktuur afgelei. Die Rasionalisme en renaissance-humanisme het vanaf die 17de eeu die outonomie van die individu teenoor die absolute keiserlike en pouslike gesag gestel. Die menslike samelewing skep eie strukture vir gemeenskaplike belange deur vrywillige assosiasie of vereniging van outonome individue. Die individue kom onderling ooreen op watter basis hulle verenig. Elke individu regeer in teorie homself. Hy het nie meer pligte teenoor die koning en sy naaste nie, maar regte (Kleynhans 1982:84). Die “lidmate” delegeer by wyse van konstitusie hulle natuur-reg om hulleself te regeer na verteenwoordigers in die hoogste bestuur van die genootskap. Die stem van die meerderheid is die hoogste gesag (vox populi vox Dei est).

Hierdie beginsel van volksoewereiniteit staan lynreg teenoor die monargale karakter van die koninkryk van God. Omdat die volk die plek van die Koning neem, is dit “revolusionêr” van aard en wyk dit verder weg van die basiese beginsels van gereformeerde kerkregering as die independentisme (Kuyper 1883:51). Tog kan die kollegialisme hom opportunisties met feitlik enige stelsel, selfs die gereformeerde, identifiseer. Dit kan Rooms handel met die idee dat die lede hulle gesag aan ’n moderator opgedra het. Hulle kan Luthers voorkom en as kerk van die staat optree. Hulle kan gereformeerd poseer deur die reg van die “lidmaat” en “plaaslike kerk” te beklemtoon (vgl Kuyper 1883:52).

|14|

Die meeste regslui en Afrikaanse kerkmense huldig vandag die standpunt van die kollegialisme oor die kerk en kerkregering. Die Geref Kerken van Nederland het tot 1950 die Dordtse Kerkorde en Skriftuurlike kerkbegrip gehandhaaf en toe op voetspoor van M Bouwman (1937) die kerk as ’n gewone “gemeenskapskring waarin mense saamlewe en saam handelend optree” aanvaar (Nauta 1971:7). Die nuwe Kerkorde beskou die kerk as genootskap waar nie meer Christus die hoogte Wetgewer en die Skrif die hoogste gesag is nie, maar die sinode bepaal “die algemene wetgewing van die kerk” (Nauta 1971:9). Belydenis, Kerkorde en sinodebesluite lê op een lyn. Waar Rome die koningskap van Christus met die monargale biskop verplaas, doen die kollegialisme dit met die sinode.

Die kollegialisme het verskillende wortels. In die eerste plek het die ou Roomse konsilies voorgegee dat hulle die beeld van die kerk van Christus is, ’n aanspraak wat Calvyn verwerp het (Inst IV.8.x; 9.i-iii). Vir die kollegialisme verteenwoordig die sinode die “hele” kerk. Tweedens leef die Roomse idee dat Christus regeerders vir die kerk gegee heet om kerklike beleid op te stel en voor te skryf (vgl Inst IV.10.vi) feitlik net so by die kollegialisme. Daarom kan ’n “kerkleier” of amptenaar van ’n kerkstruktuur “namens die kerk” praat. Derdens het Luther se skeiding tussen die ware onsigbare kerk en die sigbare kerkorganisasie as bykomstige en tydelike saak, die basis gebied waarop kollegialisme kon ontwikkel (De Wet 1921:21v). Die idee van die “kerk” as “an organized body” (Hodge 1879:69) of kerk as instituut (Kuyper) oorheers die denke oor die kerk in die vorige eeu. Die “kerk” word met organisasie vereenselwig.

In die kollegialisme speel die basiese kerkwet en kerkreglemente ’n bepalende rol (vgl Smit 1985:53v ivm Reglement 1816; KO van De Mist 1804, Eerste Kaapse Sinode 1824, Kerkwet in ZAR 1858) en gaan dikwels hand aan hand met die idee van òf staatskerk òf volkskerk. Die kerk word nie meer basies as vrug van God se verkiesing en vergaderende werk van Woord en Gees gesien nie, maar as ’n stigting van ’n volk, ’n groep of van ’n staat, ’n produk van die mense (vgl Smit 1985:5). Die kollegialisme het dus veral uit die Rasionalisme van die 18de eeu op die beginsel van volksoewereiniteit opgekom (De Wet 1921:2, 6v, 120). Die begrip van ’n sentrale kerkgenootskap meet ’n vaste identiteit en regspersoonlikheid is per slot van rekening net ’n idee of abstrakte voorstelling van die rede.

Waar Rome die amp as vertrekpunt neem, gaan kollegialisme van die verabsoluteerde kerk uit. Die “kerk” as instituut bepaal in reglemente vir gemeentes die ampte, kerkrade en kerkvergaderings. Die gesag berus derhalwe ook by instansies aan wie die “lede” in reglement of kerkorde gesag toevertrou het. Die helfte plus een bind die hele kerk (Kuyper 1883:51; Spoelstra 1986:98v). Sinodale besluite moet gehoorsaam word totdat die sinode anders verorden het, al sou watter bedenkinge daarteen ingebring kon word.

Die amp is amp van die kerk (en nie van Christus nie). Die “ampsdraer” is feitlik amptenaar van die genootskap en kan sy “pos” in ’n gemeente of by ’n permanente sinodestruktuur beklee. So leen die kollegialisme hom vir predikanteheerskappy (dominokrasie) en kommissieregering (oligargie). Die predikant se teologiese opleiding plaas hom in ’n klas van sy eie in die “kerk” (klerikalisme).

|15|

Die mees opvallende kenmerk van die kollegialisme is dus dat alles om die kerk sentreer. Daar word gepraat van die “kerk se boodskap”, “kerk se lidmate”, “jeug van die kerk”, “ampte van die kerk” ensovoorts, waar ons van Christus sou wou praat. ’n Mens hoor van “die kerk se kategese”, “kerk se pastoraat”, “kerk se prediking” ensovoorts, waar ons “herder” of “predikant” in die plek van “kerk sou wou gelees het. Kortom, die “kerk” is vir die kollegialisme ’n bepaalde genootskaplike of sinodale organisasie, ’n selfstandige regspersoon.

’n Gemeente, kerkraad of klassis kan natuurlik ook kollegialisties as regspersoon op sigself verselfstandig en tot gewone samelewingsvorm, soos daar baie onder mense bestaan, gesekulariseer word. Wanneer independentisme die plaaslike kerk op grond van natuurreg verabsoluteer, is dit ook ’n vorm van kollegialisme (Smit 1985:74). Sekularisasie vind plaas wanneer die kerk, dit wil sê die volk, verabsoluteer word en die koninkryk of koningskap van Christus wat sy volk (kerk) vergader en onderhou (Heid Kat S 21; NGB 27) met die mond bely, maar in die kerkreg losgelaat word.

Omdat “kerk” in die kollegialisme per slot van rekening die “lidmate” en “ampsdraers” self verteenwoordig, verabsoluteer dit met “kerk” en “sinode” die mense self. ’n Mens hoor daarom ook dikwels van “ons kerk”, “my kerk”, “die man se kerk”, “ons lidmate”, iemand het na “ons” toe oorgekom of by “ons” aangesluit, “lidmaat geword” ensovoorts, ensovoorts. Die invloed van die kollegialisme is geweldig en druk sy stempel ook onder gereformeerdes af. Die meeste kerkgemeenskappe binne die ou Geref Ekumeniese Sinode huldig hierdie denominasionele of genootskaplike kerkbegrip sonder om dit met die kerkbegrip wat in die Skrif en Belydenis voorkom in verband te bring (vgl Spoelstra 1982a:13v; 1986a:4v; 1986:102v). Die wêreld soek in die naam van Christus na groter liggame waarby “kerke” (genootskappe) as “lede” moet aansluit om die “ekumene” uit te bou.

Dit is merkwaardig dat namate die kollegialisme sedert die 17de eeu opgekom heet en die kerk as statiese eenvormige struktuur beklemtoon, dit juis kerklike afskeidinge, skeurings en skismas by hope veroorsaak het. Gelowiges het in Wes-Europa tot in die 17de eeu hoofsaaklik net volgens Roomse, Lutherse of gereformeerde oortuigings in stede of lande kerklik groepeer. Die kollegialisme met sy statiese, absolute en sentrale kerkbegrip en dwingende gesag van die meerderheid, sluit die deure vir diegene wat verskil. Soms moes gelowiges om die vryheid van die koninkryk van God te geniet en Hom te dien volgens sy Woord teruggryp na die Reformasie van die 16de eeu. Soms het ander om ’n bepaalde oortuiging te handhaaf op dieselfde kollegialistiese model net ’n ander “genootskap” gestig. Slegs ten opsigte van die NGK is dit gemeentes en nogmaals gemeentes (Van der Watt 1977).

Die kerkraad van die Geref Kerk Reddersburg verklaar in Januarie 1860 hulle afskeiding van die Ned Geref Kerk in ’n skrywe na Nederland soos volg: “… die kerkregering was vir ons te wêrelds. Ons is verplig omdat die sinode besluit het, as dit maar ’n reglement was. Daar is minder of glad nie gevra nie: is dit volgens Gods Woord?” (Afgedruk by Van der Vyver, 1959:489 vertaald). Hier hoor ons die koninkryksvraag teenoor die kerkvraag van die kollegialisme.

|16|

8.5 Die Gereformeerde of presbiteriale kerkregering

“Gereformeerd” verwys na ’n geloofstandpunt wat aansluit by die kerkregtelike besinning van Calvyn (1509-1564) wat ons in sy Institusie, Kommentare en enkele traktate vind. Predikant wat in Genève geskool is, het daardie kerkreg en vorme van kerkregering veral in Frankryk en Nederland toegepas. Ongelukkig moes Calvyn grootliks kompromieë met die Raad van Genève aangaan toe ’n Kerkorde daar in 1541 opgestel is waarin Calvijn die onafhanklikheid van die kerkraad in tugoefening wou verseker. Ons glo nie dat die Geneefse Kerkorde Calvyn bevredig het nie (soos Pont 1981:21 beweer). Daarom het die Franse Kerkorde van 1559 en die Nederlandse van 1571 nie die Geneefse nagevolg nie.

Calvyn gaan basies van die Godsregering, die koninkryk en soewereiniteit van God uit. Hy stel die kerk daar om Hom te dien en eer (soli Deo gloria). God verkies, roep, verlos, vergader en behou die kerk vir sy doel in en deur sy Seun, Jesus Christus. Hy vergader en regeer die kerk deur die Woord en Gees (vgl Van der Merwe 1965:328v).

Die oorsprong, bestaan en wese van die kerk berus nie by mense nie, maar by God. Daardie een universele kerk van God sigbaar word op ’n bepaalde plek onder bepaalde mense in ’n bepaalde kerk wat die kenmerk vertoon dat dié kerk die wil van God soos dit in die Skrif gegee is, gehoorsaam. So bring Calvyn die onsigbare en sigbare, die universele en plaaslike kerk in onlosmaaklike verband (Inst IV.1.i-xii).

Hoewel Calvyn ’n uitnemende regsgeleerde was, definieer hy nie die kerk formeel-wetlik as ’n instituut nie. Kerk is vir Calvyn nie ’n collegia licita, ’n vereniging of genootskap in terme van Romeinse reg of die 18de eeuse rasionalisme nie, maar die kerk is “wordende gemeente” (Bavinck 1918:IV,311). B C Milner sê tereg: “According to Calvin we cannot think of the church as a legally defined institution … Rather the church must be defined dialectically as a union with Christ in, through and together with the means by which the Spirit brings us to Him”. Hy merk met skerp insig op dat “kerk” vir Calvyn identies met “orde” is, wat ontstaan sodra die Woord en Gees van God gehoorsaam word. “God has ordained both the preaching of the Word and the administration of the sacraments, and when coupled with the efficacious working of the Spirit they constitute the order which marks the church” (Milner 1970:123v). Daartoe moet die diens van die opsiener-ouderling meewerk.

Afgesien van wat God direk deur die Woord en Gees doen, waarop Luther ook gewys het, beklemtoon Calvyn dat God bepaalde mense tot besondere dienste geroep het en aan die gemeente gegee het (1 Kor 12: 28, Ef 4: 11, Hd 20: 28). Hierdie dienste of bedieninge van God gegee, is die institusionele aspek van die kerk. In die handhawing van die amp staan Calvyn nader aan Rome as aan die kollegialisme. Hy benadruk egter dat God die dienste in die gemeente gegee en gebind het (Inst IV.3.vii). Calvyn se Kerkorde van 1537 reken met met predikante as herders. Na sy verblyf in Straatsburg sluit hy by Bucer aan wat vanuit die priesterskap van die gelowiges lerende en regerende ouderlinge onderskei het (Van ’t Spijker 1970:361v). Die wesenlike kerkregering het God aan biskoppe of predikante saam met herder-ouderlinge opgedra. Hierdie

|17|

opsieners word in die Skrif “ouderlinge” (presbiters) genoem. Hulle bedien die tug individueel in wyke en vir ekskommunikasie kom die ouderlinge (presbiters) in ’n kerkraad saam (Pont 1981:29; Inst IV.11.i). Dit mag ook nodig wees om die leer in ’n konsilie of sinode vas te stel (Inst IV.8.viii-xii).

Die kerkvergadering of kerkraad is dus nie vertrekpunt vir die bestuur van die kerk soos by die kollegialisme nie. Dit tree eers as tweede vlak van regering na die individuele herderlike of pastorale bediening na vore. Tegelykertyd is die gewone herder-ouderling se diens nie dieselfde as dié van predikant (biskop) nie (Inst IV.3.vii, viii; Van Ginkel 1975:149v).

Die presbiteriale kerkreg van Calvyn kom hierna by byna elke artikel aan die orde. Gevolglik gaan ons nie hier verder daarop in nie. Presbiteriale kerkregering verwys na ouderlinge wat primêr individueel en sekondêr gesamentlik vir die gemeente sorg dra.

Daar is egter nie net een “gereformeerde” kerkorde of vorm van kerkregering nie (Hesselink 1983:17). Calvyn het die Engelse kerke nie oor hulle biskoplike stelsel veroordeel nie, mits hulle dieselfde hoofsake van geloof vasthou. Ter wille van die “eenheid” in geloofsake sou hy oor sewe seë wou reis, terwyl hy nooit organisatoriese eenheid in of met die oog op kerkregering bepleit of probeer verwesenlik het nie.

Terwyl Calvyn met ’n biskoplike sisteem voorwaardelik verlief kon neem (Hesselink 1983:19), het die Skotte dit weer radikaal afgewys. Die Skotse parlement en politieke stelsel wat die reformasie deurvoer, beïnvloed die Skotte om hulle “assemblies” of kerkvergaderings deel van die Westminster Confession te maak (artt 31, 32). Die Skotse Book of Discipline (1560) bring nie die plaaslike kerk pertinent na vore nie (Pont 1984: 128). Die klassis of “presbytery” behartig die eintlike kerkregering, terwyl die kerkraad net plaaslik optree, sodat selfs van “presbiteriaanse” kerk gepraat word. Die presbiterianisme wat saam met die demokrasie ontwikkel, moes natuurlik in die kollegialisme opgaan en het vanaf die eerste Sinode in 1824 sy stempel in Suid-Afrika gedruk. Die Herderlike Brief van die Ring van Graaff Reinet 1841 twis daarom met mense wat nie die predikante van die Ring blindelings wou volg nie.

Selfs die inleiding in die Kerkorde van die GKSA neem as basiese kenmerk van die presbiteriale kerkregering nie die presbiter nie, maar die plaaslike kerk en kerkraad (1979:12). Devaluering van die presbiter sal veroorsaak dat die ouderling plaaslik en op kerkvergaderings nie meer effektief in presbiteriale kerkregering na vore kan tree nie, soos tot ongeveer 1940 in die GKSA wel die geval was.

Tans word in Ned Geref- en Ned Herv-kringe gepraat van ’n prebiteriaal-sinodale kerkregering (Kleynhans 1982:81; 1985:23; Pont 1981:171). Dit reken met presbiters wat in die kerkraad plaaslik dien en met ’n permanente sinode waar oor die “kerk” as eenheid van gemeentes regeer (Spoelstra, 1989). Die Gereformeerde Belydenis (NGB 30, 31, 32) ken nie hierdie newesteling nie. Die praktyk in die GKSA neig egter steeds meer van presbiteriale na sinodale kerkregering namate die gemeente nie meer eenvoudig en organies volgens die Bybel lewe nie, maar kerk-wees van sinodale voorskrifte en aksies verwag.

|18|

 

9. Vervorming van presbiteriale kerkregering

Rome het die presbiteriale kerkregering vervorm deur van die presbiter ’n priester te maak en aan ’n monargale biskop te onderwerp. Die kollegialisme het revolusionêr die kerk verabsoluteer en Christus as Hoof van die kerk met die sinode verplaas. Die kerkraad word die plaaslike bestuur waarin die Skriftuurlike ampsdifferensiasie tussen diakens en presbiters (vgl Hd 6 en 20: 28) verdwyn sodat hulle gesamentlik “ampsdraers” (Bouwman 1937:85v), “lede van die kerkraad” (Pont 1981:49) of “sinodelede” (Nauta 1971) genoem word.

Die presbiter vervaag ook wanneer gesê word dat die gemeente deur die kerkraad in naam van Christus bestuur word (KO GKSA 1916, inleiding). Dit klink selfs na die Roomse opvatting waar die biskop namens Christus sou regeer. Tereg wys teoloë op die gevaar van institusionele selfbelang wat “survival orientated” en nie “ministry orientated” is nie. Dit het die kerklike instituut as doelpunt, terwyl elke vertakking van die kerkvolk ter wille van hulle eie behoeftes bedien moet word (Nel 1982:43).

Die presbiter is as herder vir die gemeente gegee (Ef 4: 11v; Hd 20: 28). Hy moet dien omdat gereformeerd-wees in die verhouding van die gelowiges tot Christus en nie in hulle verhouding tot ’n abstrakte kerk, soos byvoorbeeld die Gereformeerde Kerk in SA (enkelvoud) vergestalt moet word nie. Die aksent op die “kerk as instituut” maak die belange van die “algemene kerk” (Kleyn 1888) dikwels vandag belangriker as die vraag na die gelowig-wees van die gemeente.

Gereformeerde of presbiteriale kerkregering verloor sy sin of gerigtheid wanneer die onder die naam “kerkverband” gemeentes in ’n groter “kerk” wil oplos (vgl GKSA 1982:361-363; Du Plooy 1982:406v). Tereg is opgemerk dat die moderne teologie die natuurlike en organiese verband wat in die Skrif tussen Christus en die kerk gegee is, verwaarloos het (Pont 1983:104). Dit kom daarop neer dat die dominerende kerkbegrip wat vanaf die 17de eeu opgekom het die heerlike waarde van die koninkryk van die hemele hier en nou verduister het.

Spoelstra, B. (1989) Inl.

|19|

Inleiding

Naam en herkoms van die kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika

 

1. Die Kerkorde van Genève 1541, 1561

Calvyn het Genève in 1538 verlaat toe die stad se Raad aan die predikante wou voorskrywe wie hulle tot die nagmaal moes toelaat. As voorwaarde vir sy terugkeer na Genève het hy gestel dat die kerkraad sonder inmenging van die owerheid kerklike dissipline moet kan behartig. Hy het inspraak by die Raad gehad wat die Ordonnances Ecclesiastiques vir Genève in 1541 opgestel het. Dit is in 1561 hersien (Pont 1981:21).

Die Geneefse Kerkorde wyk heelwat af van beginsels wat Calvyn in sy Institusie (Boek IV) en Kommentare gestel het. Calvyn moes toegee aan allerlei burgerlike bepalings in die Kerkorde om sekere kardinale beginsels erken te kry. Die opvatting van ’n Christelike staat (corpus christianum) en feodale patronaatsreg van die owerhede in die godsdiens van hulle onderdane, het toe nog die Europese opset oorheers. Calvyn se gedagtes oor die plek van die gemeente kon glad nie in praktyk gebring word nie.

 

2. Die Kerkorde van Parys 1559

Franse predikante wat Calvyn geraadpleeg het, het die 72 Gereformeerde kerke op die Sinode van Parys 1559 beweeg om die Discipline Ecclesiastique te aanvaar. Die owerheid was Rooms en vyandig gesind. Dus ontstaan hierdie Kerorde sonder owerheidsinmenging. Die 40 artikel handel oor vergadering, dienste, dissipline of tug, huwelik en gesag van meerdere vergaderings (Pont 1981:48-54). Deur middel van die kerkorde spreek die kerke af om sinodes te hou sonder dat een kerk deur middel van ’n sinode ’n ander kerk sal oorheers (artt 1-5), hoe oor-en-weer beroeping van predikante sal plaasvind en noem die dienste van ouderlinge en diakens (20-24). Die diaken moes voorgaan (sonder om te preek!) wanneer die predikant afwesig is. Die tugoefening kry besondere aandag (25-32). Kortom, die Kerkorde stig nie plaaslike kerke nie, maar reël hoe bestaande kerke onderling sou saamlewe.

In die Nederlande, insluitend huidige België, het gereformeerde gemeente ten spyte van swaar vervolging in die geheim ontstaan. Van Guido de Brès, predikant te Rijssen en Valenciennes, het ons die Belgiese Konfessie (NGB) in 1561 ontvang. Hierdie Franssprekende (Waalse) kerke het streeksbyeenkomste gehou en eie kerkordes, dienste, vergaderings, seremonies en tug daarop nagehou. Die Sinode van Emden 1571 laat hulle eie klassikale en

|20|

provinsiale sinodes voortgaan terwyl hulle in die Algemene Sinode by die Nederlandse kerke aanskakel.

 

3. Die Sinode van Emden 1571

’n Aantal predikante het, vanweë die vervolging, buite Nederland te Wezel in 1568 besin oor ’n moontlike kerkorde waardeur die Nederlandse kerke in meerdere vergaderings sou kon saamwerk (Pont 1981:55-71). Die neerslag lyk soos ’n konsep Kerkorde, maar die Sinode van Emden 1571 het die nie aanvaar nie. In 1571 het afgevaardigdes uit enkele kerke in Nederland, Duitsland en Oos-Friesland vanweë die Spaans-Roomse vervolging in Duitsland te Emden saamgekom in wat as die eerste nasionale sinode van Nederlandse kerke beskou word.

Die gereformeerde kerke was huiwerig omdat hulle bang was dat gereelde sinodes tot oorheersing van die plaaslike kerke sou lei. Hulle duurgekoopte selfstandigheid, vryheid en verantwoordelikheid wou hulle ten alle koste bewaar. Hulle wou niet die Roomse pous vir ’n sinodepous verruil nie. Hulle wou ook nie klakkeloos die Franse, Geneefse of Waalse kerkordes oorneem nie.

As vertrekpunt vir onderhandeling oor ’n ooreenkoms van samewerking verklaar hulle hulle teen hiërargie of heerskappyvoering van een kerk of een predikant oor ’n ander (Pont 1981:103 art 1, kyk art 84 KO). Hulle stel vervolgens hulle eenheid in geloof vas, al onderskryf die Waalse en Nederlandse kerke verskillende Belydenisskrifte (artt 2, 5). Naburige kerke sal twee tot viermaal per jaar in klassisse en jaarliks in sinodes saamkom wanneer dit nodig mag wees, sodat die kerke mekaar kan help by die toelating en beroeping van predikante en dieselfde gebruike en seremonies onderhou kan word. Die oudste kerkordes het altyd breed oor die huweliksvoorskrifte gehandel. Tugoefening is in die gees van Calvyn se Institusie opgestel (Pont 1981:92-113; vgl huidige artt 71 tot 80).

Eenheid in die leer en geloof is dus die wese van kerkverband tussen selfstandige kerke en basis vir samewerking en ondersteuning waaroor in ’n Kerkorde ooreengekom word. Die Kerkorde is dus nie ’n konstitusie vir die stigting van ’n kerk nie, maar ’n konfederale ooreenkoms tussen reeds bestaande kerke wat geestelik een is. Die Nederlandse kerk het so ’n formele eenheidsband daargestel nog voordat die Nederlandse provinsies polities in ’n nuwe staat saamgesnoer was. Al was die politieke nood baie groot, wou die kerke nie op die versoek ingaan om soldate vir die stryd te werf nie. Kerklike sake moet nie met politieke sake vermeng word nie (art 30 KO).

 

4. Die kerkorde neem vorm aan 1574-1586

Teen 1572 het die noordelike Nederlandse provinsies hulle van die Spaanse en Rooms-Katolieke oorheersing vry geveg en kon die kerke daar vrylik saamkom en oor hulle kerkordelike verband besin. Belangrike samekomste vind so te Dordrecht 1574, Dordrecht 1578, Middelburg 1581 en Den Haag 1586 plaas. Laasgenoemde drie sinodes het feitlik die Kerkorde van 1619 se

|21|

inhoud en vorm vasgestel. Hoewel die Kerkordes gereformeerde denke weerspieël, moes die kerke steeds toegewings maak op grond van inmenging een voorskrifte van die owerhede. Die Wes-Europese owerhede wou hulle patronaatsreg oor die kerke onverswak uitoefen.

 

5. Die Dordtse Kerkorde 1619

Die ernstige beroering in die kerke as gevolg van die leer van die Remonstrante het Prins Maurits van Oranje beweeg om in 1618 ’n nasionale sinode, bygestaan deur 23 teoloë uit die buiteland onder voorsitterskap van die Engelse biskop, byeen te roep. Hierdie Sinode het teen Mei 1619 met die Dordtse Leerreëls die leerstellige werk afgehandel. Daarna het die Nederlandse kerke die Kerkorde van 1586 hersien. Die kerke het toegewings aan die owerhede gedien in die hoop om die Kerkorde offisieel vir al die provinsies aanvaar te kry. Dit het nie gehelp nie. Sommige provinsies, waaronder Holland waarbinne die klassis Amsterdam geval het, wou wie owerheid nog meer seggenskap oor die kerke gee (Pont 1981:170). Die Dordtse Kerkorde van 1619 kon dus nie vir die Kaapse kerke “vigerende kerkorde” (Kleynhans 1985:30) gewees het nie (Spoelstra 1984:29v). Tog het Nederlandse provinsiale kerkordes min of meer die basiese beginsels gehandhaaf. Koning Willem I het in 1816 ’n totaal nuwe Reglement vir ’n staatskerk op die beginsels van die Franse Rewolusie ontwerp.

Aan die Kaap het die kerke voor 1824, behalwe vir ’n kort periode van 1745 tot 1759, glad nie saamgekom nie, sodat ’n kerkorde vir hulle nie nodig was nie. De Mist het in 1804 aan die Kaap gedoen wat Koning Willem eers in 1816 in Nederland gedoen het.

 

6. Reglemente van De Mist 1804 en Koning Willem 1816

Vanaf die 17de eeu het die Renaissance ’n geweldige rewolusie in die kerklike denke van Wes-Europa teweeggebring. Die basiese uitgangspunt in die outonomie van die individu en wette van die natuur, het totaal nuwe begrippe oor menslike samelewing veroorsaak. Die kerk is as vereniging of genootskap beskou wat outonome individue deur vrye assosiasie vir húlle behoeftes volgens húlle insigte vorm en deur die staat toegelaat word. Die individue delegeer hulle mag na die staat en kerklike besture. Hierdie kollegialistiese opvatting beheers die Kerkorde van De Mist in 1804 aan die Kaap en die Algemene Reglement van Koning Willem I in Nederland in 1816.

 

7. Die opskrif en proloog van die Kerkorde

Die Modernisme of Liberalisme wat in die ou Gereformeerde (of Hervormde) kerke in Nederland en Suid-Afrika posgevat het (Hanekom 1951; Oberholster 1956; Spoelstra 1963), het in Nederland in 1834 en in Suid-Afrika in 1859 kerklike afskeidings veroorsaak. Die Christelike Afgeskeie Gereformeerde Kerk in Nederland en die Sinode van Reddersburg 1862 het die Dordtse Kerkorde,

|22|

aangepas by eie omstandighede, as basis vir hulle kerkregering aanvaar. Hierby sluit die proloog van die Kerkorde aan.

 

8. Hersiening van die Dordtse Kerkorde

Gedurende 1886 het die Doleansie ’n tweede afskeiding in die Nederlandse Hervormde Kerk veroorsaak. Die dolerende kerke het in 1892 met ’n deel van die Christelike Gereformeerde Kerk verenig. Gedurende die Doleansie het onder andere A Kuyper, F L Rutgers, De Savornin Lohman, H Bouwman en andere indringend oor kerkreg en kerkregering besin. Die Nederlandse kerke het gevolglik in die Sinode van Utrecht 1905 die Dordtse kerkorde hersien. Die seggenskap van die owerhede is uitgewis. Artikels oor byvoorbeeld boekesensuur het verval. Nuwe artikels is geformuleer. Tog is hoofsaaklik die inhoud van die Dordtse Kerkorde behou.

Die Sinode van 1916 het die Nederlandse revisie van Utrecht 1905 net so oorgeneem, al het Suid-Afrikaanse toestande destyds provinsiale Algemene Vergaderings in plaas van klassisse en partikuliere sinodes nodig gemaak. Die Kerkorde is dus as grondliggende dokument vir die kerklike lewe aanvaar, maar aanvanklik in sommige opsigte nie toegepas nie. Die Sinode van 1862 het wyslik nie die Gewysigde Kerkorde van ds D Postma met sy kollegialistiese inslag aanvaar nie.

Die Gereformeerde Kerke van Nederland het vanaf 1949 begin om hulle Kerkorde te wysig en het dit teen 1959 totaal van die Dordtse kerkorde vervreem. Op hulle versoek het Sinodes te Potchefstroom vanaf 1955 na die Kerkorde gekyk, byna ’n taamlik ingrypende verandering in 1961 aanvaar, maar uiteindelik tog net die Kerkorde van 1619 by eie omstandighede aangepas. Hier en daar het kleiner afwykings plaasgevind (GKSA 1964:52-73).

Ontwikkeling van selfstandige kerke en meerdere vergaderings onder ander volksgemeenskappe in Suid-Afrika, het van 1964 af nuwe ontwikkeling gestimuleer. ’n Algemene Sinode het tussen nasionale sinodes tot stand gekom. As gevolg daarvan kan nasionale sinodes te Potchefstroom nie meer die Kerkorde wysig nie, maar moet dit deur al die kerke saam in Algemene Sinode gedoen word (GKSA 1979:552-557).

Spoelstra, B. (1989) Art. 1

|23|

Artikel 1

Doel en inhoud van die kerkorde

 

Artikel 1: Om goeie orde in die kerk van Christus te onderhou, is daarin nodig: die dienste, samekomste, toesig oor die leer, sakramente en seremonies en die kerklike tug, waaroor hierna agtereenvolgens gehandel word.

 

A. Kerkregtelik

1. Christus is die enigste Wetgewer vir sy kerk

Die koninkryk van God waarvan die Skrif spreek, het bepalende betekenis vir kerkreg en kerkregering. Christus is die enigste Hoof (Koning) van sy kerk (kyk by artt 2 en 3). Waar Hy en die Heilige Gees gehoorsaam word, vestig die goddelike heerskappy, die koninkryk van God, onder mense. In hierdie opsig is die ware kerk die mees opvallende teken van die koninkryk van God op aarde (NGB 27-31, Heid Kat S 48; Inst IV.2.iv). God herskep tot orde wat die kerk is (Spoelstra 1981:9v; Smit 1985:87, 101).

Op sterkte van 1 Kor 14: 40 onderskei Calvyn die “mag om wette te maak”, die mag om te regeer en die mag om te leer. Wie in die kerk regeer en leer, moet slegs deurgee wat Christus in die Woord beveel, anders beswaar ’n kerklike wet gewetens van mense (Inst IV.3.x; 10.vii,xxvii-xxxiii). Calvyn sê dat die ware opsieners gesag het om die kerk te regeer: “Ek beweer egter dat hulle geen wetgewers oor die gelowiges is om hulle te dwing om dinge te onderhou wat hulleself bedink het en nie in die Woord van God gevind het nie” (Calvyn 1951:361,vi).

God is die enigste Regter, Wetgewer en Koning aan wie ons slegs gehoorsaamheid verskuldig is. “Hierdeur word alle mag afgesny wat die mens hom mag aanmatig om iets in die kerk te gebied buite die Woord van God om” (Calvyn 1951:367,vii). God het ons presies geleer hoe Hy gedien wil wees. Gevolglik moet mense nie bande nie, maar die vryheid van Gl 5: 1 ervaar (Ibid viii). Die Kerkorde moet dus net die opbou van die gelowiges (die kerk) op die oog hê (Ibid:374,xxxii).

Wanneer ons soos die Nuwe Testament die koninkryk van God en Christus as Hoof (monarg) van die kerk as uitgangspunt van die kerkreg en kerkregering neem, het ons in die kerk met ’n monargie te doen. Skriftuurlike kerkreg is monargaal van aard. As ons kerkordes en sinodebesluite as bron van kerkreg neem, kan ons hoogstens van ’n konstitusionele monargie praat wat die Skrif nie ken nie.

|24|

2. Kerkorde is geen kerkwet nie

Die Hervormers het teen die absolutisme van die pousdom gebots en hulle breuk met Rome was op grond van die reg wat die Skrif alleen bepaal (sola scriptura, vgl tweede deel van art 29 NGB; Calvyn: Inst IV.1.viii). Die kerk ontstaan uit God se verbond en verkiesing. God roep en vergader deur sy Gees sy volk. Hy alleen kan dus wette en voorskrifte vir sy kerk gee. Hy het die kerkreg in sy Wet en Woord gegee. Indien die kerklike dienaars of sinodes wette en voorskrifte vir die gelowiges wil gee, verdring hulle Christus as Hoof van sy kerk (NGB 30-32; Calvyn: Inst IV.1.i; 8.ii,iv-vi). Hulle maak dan van God se kerk hulle kerk.

Hierdie fundamentele gereformeerde beginsel word vandag waarskynlik die meeste verkrag. Kerkordes funksioneer soos kerkwette. Wanneer ’n kerkorde-artikel, formele “wette” of sinodale bepalings oortree word, word dit in ’n ernstige lig beskou, al is daar geen Skrifbeginsel op die spel nie.

Wanneer die kerk reël en bepaal hoe die wette, voorskrifte en bevele wat Christus neergelê het in die kerk van die Here ordelik bedien moet word, moet dit slegs dien om die kerkreg wat in die Skrif voorgeskryf is, te verwesenlik. Dit moet nie die kerk se belange op sigself dien nie.


3. Kerkorde is noodsaaklik

Hoewel die vroe Christelike kerke geen Kerkorde gehad het nie, het die apostels, die Bybel en gebruike grootliks die orde in die kerke bepaal. Die apostel sê dat alles in die kerk van Christus ordelik moet gebeur (1 Kor 14: 34). Die Skrif gee voorskrifte wat direk op ordelike kerklike gebeure en regering betrekking het (bv Hd 13: 2, 3; 15: 22v; 16: 4; 20: 28; Rm 15: 27). Briewe aan kerke, Timotheus en Titus bevat talle ordebepalings.

Calvyn het reeds gewaarsku dat kerkordelike bepalings nuttig en min in getal moet wees (1951:373,xxxii). Die 86 artikels van die Dordtse Kerkorde van 1619 bepaal met slegs ’n paar veranderinge nog steeds die orde in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.

 

4. Die Kerklike Dienaars moet kerkordelike bepalings neerlê

Die Gereformeerdes bely in die 16de eeu reeds dat die regeerders van die kerk onder mekaar sekere ordinansies met die oog op die opbou, eendrag, eenheid en vrede in die kerke moet instel (NGB 32). Luther verbrand die Roomse Corpus Juris Canonici, ’n bundel “regspostuleringe en wetboeke” (Smit 1985:18) in 1520 omdat dit vir die Evangelie en koninkryk van God ’n struikelblok geword het.

Tydens die Hervorming kom verskillende uitgangspunte vir kerkorde en kerkregering na vore. Die meeste verleen aan die staat ’n bepaalde seggenskap (Luther, Engeland, Genève, Nederland). In Genève kry Calvyn in 1541 weer inspraak, maar tog bepaal die staat die Kerkorde (1541, 1561). In die Nederlande probeer die kerke onafhanklik en selfstandig kerkorde bepaal, maar probeer tevergeefs dat die owerhede dit sanksioneer.

|25|

Die “regeerders” (NGB 32) wat tydens die Reformasie gereformeerde kerkordes ontwerp het, het probeer om dit te laat klop met wat God in sy Woord beveel het (Inst IV.4.iv; NGB 7,32). Calvyn het deur sy Institusie, die opleiding van predikante en deur direkte adviese sy stempel op Gereformeerde kerkreg en kerkregering afgedruk.

 

B. Kerkregering

1. Die doel van die Kerkorde

Die Kerkorde wil “goeie orde in die kerk van Christus” (1 Kor 14: 40) bevorder. Die Kerkorde neem die universele kerk, die liggaam van Christus, as uitgangspunt. In die plaaslike sigbare kerke (gemeentes) gaan dit om die groei en toename van die gelowiges in die eenheid met Christus (Du Plooy 1982:20). So word die tweede bede van die Onse Vader vervul (Heid Kat S 48). Tereg sê Milner dat die kerkorde is dit wat verwesenlik word waar die Woord en Gees in die harte van gelowiges korreleer deur middel van die bedieninge wat God verorden het (Milner 1970:4). Kortom, waar Jesus Christus gehoorsaam word, heers ware kerkorde. Dit gaan dus nie om die belange van hierdie of daardie kerkinstituut te bevorder nie.

 

2. Die inhoud van die Kerkorde

Die Kerkorde handel agtereenvolgens oor die dienste, die samekomste van die dienaars en kerke, die bediening en toesig oor die leer, sakramente en seremonies en oor die kerklike dissipline en tug. Dit verdeel die kerkorde in vier afdelings, naamlik bepalings oor die dienste (2-28), oor die vergaderings (29-52), oor die leer, sakramente en ander seremonies (53-70) en oor die kerklike tug (71-81), interkerklike dissipline (82-85) met art 86 as gepaste slotartikel.

 

3. Die plek van die Kerkorde

Die Kerkorde bepaal nie soos die Geloofsbelydenis die wese van die kerk nie, maar sy “welwese”. Dit wil beter-kerkwees bevorder. Sommige (Van der Linde 1978:65v; Smit 1984:75) sê dat die Kerkorde nie tot die “welwese” nie, maar tot die wese van die kerk behoort. Die kollegialisme beskou die Kerkorde as die konstitusie wat die wese van die instituut bepaal (konstitueer).

Die kerk is egter gelowiges wat deur geloof met Christus verenig is (NGB 27, Heid Kat S 21). Geloof in Christus en nie vorm nie, bepaal dus die wese van die kerk (1 Kor 12). Die “ampte” (1 Kor 12: 28, Ef 4: 12-16) maak nie die kerk van die Here nie. Die bedieninge kan slegs die geloof opbou en so tot die wese van die kerk bydra. Die gelowiges, die kerk, moet deur die dienste steeds meer word wat hulle alreeds in Christus is (Ef 4: 11-16). Indien die Kerkorde die wese van die kerk bepaal het, sou kerke met afwykende kerkordes nie meer kerke

|26|

wees nie. Calvyn erken egter selfs onder ’n valse pousdom nog kerke van die Here (Inst IV.2.xii). Die Kerkorde druk dus nie soos ’n Belydenisskrif inhoud (quod) van die geloof uit nie, maar is ’n middel waardeur die Woord en sleutelmag bedien word (modus quo). As sodanig beoog die Kerkorde die welwese van die kerk wat reeds wesenlik bestaan (Spoelstra 1979:47v; Kleynhans 1985:1, 7, 9, 142).

Spoelstra, B. (1989) Art. 2 & 3

Artikel 2 en 3

Wettige roeping tot bepaalde diens

 

Artikel 2: Daar is vier soorte dienste: die van die bedienaars van die Woord, die van die professore aan die Teologiese Skool, die van die ouderlinge, en die van die diakens. 

Artikel 3: Dit sal vir niemand geoorloof wees om die diens van die Woord en Sakramente uit te oefen sonder dat hy wettig daartoe beroep en toegelaat is nie.

 

A. Kerkregtelik

1. Christus is die enigste Hoof en Regeerder van sy Kerk

Nie die kerk nie, maar die koninkryk van God moet die vertrekpunt vir kerkreg en kerkregering wees. Christus het met die oog op die koninkryk van God na die aarde gekom (Mt 4: 17,23; Mk 1: 15; Lk 4: 43). Hy preek meer as honderd maal die koninkryk en maak slegs twee maal van die gemeente (kerk) in nou verband met die koninkryk melding (Mt 16: 19; 18: 17). Die twee keer staan ook in verband met die regering van die Koning oor sy volk. Die wese van hierdie kerkregering is dus monargaal.

Die Bybelse begrip “koninkryk” beteken oorwegend koningskap, koninklike heerskappy (Ridderbos 1950:41 ), dit wil sê die regering van God deur Christus en die Heilige Gees (Heid Kat S 21; NGB 7). Die regering van God oor sy skepping en ongelowige wêreld laat ons hier buite rekening.

Waar die evangelie van Christus geglo en Hy gehoorsaam word, kom die koninkryk op aarde en word die kerk van God bewaar en vermeerder. Die kerk is dus in besonder die koninkryk (regeergebied) van God (Heid Kat S 48; Calvyn Inst IV.2.iv). Die Gereformeerdes bely derhalwe dat Jesus Christus die enigste algemene Opsiener (Biskop) en enigste Hoof van die Kerk is (NGB 31; Van der Walt 1976).

 

2. Christus roep en gebruik mense in diens van sy Koninkryk

Rome (Kung 1973: 395-401 ) en die Reformasie aanvaar Christus as Hoof van sy kerk en die intieme verband tussen koninkryk en kerk. Hulle verskil egter

|27|

radikaal oor hoe Christus sy kerk regeer. Rome sê Hy doen dit deur die opvolging van biskoppe wat Hy in sy plek aangestel het en onfeilbaar deur die Heilige Gees lei (Mt 16: 18; Joh 20: 21-23). Die kerk (pous) verteenwoordig Christus op aarde en kan dus vir die koninkryk nuwe leerstellings neerlê, voorskrifte gee, sakramente instel en oor geestelikes regspreek.

Die Reformasie sê daarteenoor dat Christus self direk deur Woord en Gees in die harte van die gelowiges (die kerk) regeer (Heid Kat S 21). Hy gebruik egter nog mense in sy diens om die Woord en Sakramente te bedien, kerklike dissipline uit te oefen en onderlinge broederliefde te bevorder. In die kerk is daar net een Koning. Daarom moet die gesag van die amp altoos dienend van aard wees, ’n bediening van Woord en Gees waardeur Christus regeer (NGB 30-32; Inst IV.i.v; 2v; 3.i.viii). Gevolglik moet ons nie op die waardigheid of gawes van die herder let nie, maar op die kwaliteit van diens wat gelewer word (2 Kor 5: 7; Inst IV.1.v; 3.i). Die Reformasie het die Skrif as kriterium geneem om te bepaal of ’n kerklike dienaar of sinode Christus dien of vir homself gesag aanmatig (NGB 7,31 ,32; Inst IV.9.vii; 10.i).

Calvyn is ook versigtig teenoor die Wederdopers. Hy benadruk dat die Heilige Gees die kerklike dienste gebruik om die gemeente op te bou. Hy wil nie van ’n vrye “profete”-amp weet nie (Balke 1973:164).

Demokrasie en volksoewereiniteit het vanaf die 17de eeu die monargale model in die kerkregering begin verdring. Die “kerk” is nie meer as ’n “koninkryk” beskou nie, maar as ’n organisasie van mense. Kerkdienaars het “kerkleiers” geword. Hulle behartig die sigbare regering van die kerk, terwyl die koninkryk van God tot die onsigbare en hiernamaals behoort. Kerklike ampsdraers, kerkrade en sinodes word regeerders van die “sigbare kerk” (Dijk 1952:16). Gevolglik raak dit belangriker om te vra wat sinodes of die “kerk” eerder as die Bybel oor vraagstukke soos Skrifgesag, vrou in die amp, gesamentlike aanbidding, “lidmaatskap” en politieke sake sê. Kerklike gesag kan die gesag van Christus in sy kerk verplaas (NGB 29).

 

3. Die dienste gaan die kerk vooraf

Onder predikante kry jy “verkoopsmanne” en “dienaars” (Bandstra 1985:4). Die verkoopsman het die evangelie om te verkoop, terwyl die dienaar hom persoonlik aan die evangelie diensbaar stel. Eersgenoemde “besit” die evangelie, terwyl die evangelie die dienaar gebruik.

Sommige gereformeerdes neem die “kerk” as instituut (kollegium) as vertrekpunt. Die kerk gaan dus aan die ampte vooraf, het seggenskap oor die “ampte” en kan daarom “spesiale opdragte” aan bepaalde ampsdraers gee. Die ampsdraers is feitlik amptenare in “diens van die kerk”. Sommige word met die oog daarop selfs los van gemeentes en die primêre bediening van Woord, Sakramente en tug gemaak, solank dit werk vir of posisie in die kerk as instituut is.

Hierdie opvatting sluit grotendeels by Luther aan. Op sterkte van sy tweerykeleer het Luther die voorsiening van predikante vir die sigbare kerk van die “onsigbare” ryk van Christus losgemaak en aan die “sigbare” owerheid

|28|

opgedra. Predikant-wees kan so as ’n staatsbetrekking beskou word. So word die amp verhorisontaliseer as dit aan staat of kerk (mense) gekoppel word. Wanneer Rome en gereformeerdes egter die koninkryk van God as uitgangspunt neem, is die kerk ’n bepaalde resultaat van die koms van die koninkryk (Heid Kat S 48). Die dienaar is net ’n instrument, gereedskap, in die hand van Koning Christus waardeur Hy met sy Woord en Gees die gelowiges roep, vergader en bou. Daarvoor gebruik Hy verskillende mense in verskillende bedieninge van lering, vertroosting, vermaning, versorging, liefdesbetoon, regering en tug (Rm 12: 4-8; 1 Kor 12: 27-31; Ef 4: 11-16).

Die verskillende soorte dienste het die gemeenskaplike kenmerk dat hulle deur Christus ingestel en die dienaars deur Hom geroep is om sy genadegawes aan die kerk (gelowiges) mee te deel. Daar moet dus eers dienste (ampte) wees, voordat daar ’n kerk kan wees (Mt 28: 19; Rm 10: 13-17; Inst IV.1.v.xii).

Die Kerkorde handel derhalwe eerste oor die dienste (artt 2,16,18,23,25,26) voordat daar oor vergaderings van die dienaars (kerkraad) en van kerke (sinodes) gehandel word. Selfs die Franse Kerkorde van 1559 (Pont 1981:50) wat met vergaderings begin, berus op die veronderstelling dat daar reeds predikante, ouderlinge en diakens in die verskillende gemeentes dien.

Die ampte is dus nie kerklike posisies nie, maar bedieninge waardeur die Koning (Christus) sy volk versorg en regeer. Elke aspek van ampsbediening moet die kerk (gelowiges) versorg (Dijk 1952:30). Christus bepaal dus wat die diens inhou en wie dit moet doen. Christus staan in direkte verhouding tot die dienaar in die bepaalde diens. Die Hoof van die kerk gee bepaalde mense vir bepaalde dienswerk aan die liggaam, die gemeente. So word elke bepaalde dienaar as ’n gawe aan die gemeente gegee (1 Kor 12: 28; Ef 4: 11; Spoelstra 1971b:33; 1976:44). Hy is vir die uitoefening van sy diens aan Christus verantwoordelik, terwyl die hele kerk daaroor toesig het.

Van God se kant noem die Bybel die dienste gawes (charismata) en van die gemeente se kant dienste (diakoniai) (Ridderbos 1966:492v).

 

4. Die begrip “diens”

Met Christus as uitgangspunt is kerklike dienaars nie diensknegte of werknemers van die kerkraad of gemeente nie. Hulle is diensknegte, slawe, arbeiders, bestuurders van Christus (Rm 1: 1; 15: 16; 1 Kor 4: 1; Fil 1: 1). Jesus Christus het die apostels self geroep (1 Kor 1: 1) en deur die wil van God aan die gemeente van God gegee (2 Kor 1: 1 , vgl Gl 1: 1 , Ef 1: 1 ens). Paulus beskou homself as ’n “gevangene” van die Here (Ef 3: 1 ). Hy het ’n dienaar van die genade van God geword volgens genadegawes wat hy ontvang het (Ef 3: 7). Hy sluit ook die evangelis Timoteus by hom onder die terme dienaar (diaken) in (Fil 1: 1, vgl Ts 1: 1; 1 Tm 3: 1,10,12,13 vir begrip dien). Aan die ander kant word iemand soos die vrou Febe, wat nie een van die besondere dienste beklee nie, die dienares (diaken) van die gemeente genoem (Rm 16: 1).

Die begrip diens (diakonia) wat die Skrif ten opsigte van Christus, sy apostels, ander dienaars en vroue gebruik, het die Grieke en Jode nie aangestaan nie. Hulle wou onderskeidelik as elite of kinders van Abraham vereer word. Die woord “diaken” het egter ’n tafelbediende, een van die geringste slawedienste,

|29|

aangedui. Die woord “diens” het selfs in Afrikaans die betekenis van werk onder gesag van iemand anders (HAT 1965:11 5; Van Dale 1950:390). Juis hierdie woord diens (diakonia) gebruik die Skrif vir werk wat in ’n besondere verband met God en Christus met die oog op die gemeente gedoen word (Spoelstra 1971b:32v; 1976:41-44) Die pous het selfs die titel van dienaar (slaaf) van die dienaars (servus servorum) geërf.

In Nederlands beteken die woord amp nog werk of “diens”, alhoewel dit ookal op ’n eervolle openbare betrekking dui (Van Dale 1950:131). In Afrikaans beteken “amp” uitsluitlik “betrekking”, posisie, waardigheid of status wat aan ’n eervolle diens in die samelewing verbind word (HAT 1965:34). Terwyl “amp” vandag by voorkeur gebruik word, verraai dit dat die kerklike diens as ’n eervolle posisie of waardigheid beskou word en sy oorspronklike betekenis verloor. Amp as posisie ontstaan wanneer die “amp” aan die kerk gekoppel word. Mense praat dan van diens van koster en orrelis, maar van die amp van predikant.

Die begrip amp kom nêrens as sodanig in die Nuwe Testament voor nie (Spoelstra 1976a:42v). M Bouwman (1937) neem egter die begrip “ampsdraer” (iemand wat die eer dra) as uitgangspunt vir die kerkregering. Kleynhans beskou die “ampte” as posisies wat Christus met die oog op die kerkraad ingestel het en wat daarom gesag besit (1985:36-38). So verloor die begrip “amp” maklik sy diens-(diakonale) karakter.

Verdere besware kan teen die begrip “ampsdraer” ingebring word. Dit differensieer nie tussen die verskillende dienste, take en gawes wat die Here gee nie, terwyl die Bybel telkens iemand konkreet as ouderling of apostel aandui (1 Kor 12: 28, Ef 4: 11). Die benaming “ampsdraer” begunstig ’n klerikale stand teenoor die gemeente. Dit versterk die verkeerde opvatting dat die “ampte” in die kerk aktief mag optree, terwyl die gemeente passief moet bly of eers toestemming van die “ampsdraers” kry voordat hulle iets mag onderneem. Daarin skemer iets van die Roomse clerus en leke-opvatting deur. Die dienste moet tog juis die gelowiges beweeg om vryelik te onderneem, so lank hulle nie teen die Woord of Wet van Christus gaan nie.

 

5. Buitengewone en gewone dienste

Die vier dienste wat die Kerkorde erken, moet onderskei word van die buitengewone dienste soos van profete en apostels deur wie Christus grondliggende werk gedoen het (Ef 1: 22; 2: 19-22; Hb 1: 1; 2 Pt 1: 16-19). Hierdie apostels het ouderlinge, diakens en evangeliste of leraars aangestel (Hd 6: 2-6; 14: 23; 1 Tm 1: 18; 3; 4: 6-16; 2 Tm 2: 3; 4: 4) wat weer ander opsieners, leraars en diakens moes aanwys. Oor wat die diens van “evangelis” behels het, heers daar vandag onsekerheid. Een beskou dit as ’n buitengewone diens, ’n ander selfs as helper vir die sendeling (Floor 1964). Dit kon ook net ’n ander benaming vir die diens van latere predikante en sendelinge gewees het (Spoelstra 1968:45).

In sommige vroeë kerke het ook buitengewone en tydelike dienste van gesondmaking en uitlê van tale voorgekom (1 Kor 12: 30; 14: 5,13,28; Koole 1949:82-90). Calvyn het grootliks van Ef 4: 11 gebruik gemaak en die vier

|30|

gewone dienste onderskei wat die goeie orde volgens 1 Kor 14: 40 in die kerk van Christus verseker (Inst IV.3.iv-x; Spoelstra 1982:243-248).

In die vroeë kerk het een dienaar soms meer as een diens verrig (Hd 6: 5; 8: 33-38; 1 Tm 5: 17). Daar is dus nie vir elke taak ’n afsonderlike diens ingestel nie. Omdat die begrip “amp” nie in die Skrif voorkom nie, hoef die vraag of daar twee ampte (ouderling en diaken) en vier dienste of drie ampte (predikante, ouderling, diaken) en vier dienste bedoel word, nie beantwoord te word nie. Die werk wat ’n persoon doen, waartoe hy geroep en bevestig is, en wat die Formulier omskryf, bepaal sy amp (GKSA 1964:100).

Sommige kerkregtelikes verwys na die ampte van Christus (Heid Kat S 12) en noem die predikantsamp die profeteamp, die ouderlingamp die koninklike en die diakenamp die priesterlike. Die dienste is egter so verstrengel dat diê skema nie opgaan nie (Dijk 1952:227).

 

6. Onderskeie dienste

Elke dienaar moet ’n bepaalde diens vervul. Die diens word uit die Skrif in die Formuliere omskryf. Die gereformeerde kerkregering is presbiteriaal (presbiter = ouderling), omdat Christus elke ouderling afsonderlik geroep het om met die herderstaf van die Woord te regeer. Wanneer sy regering vrug dra, is die koninkryk van God gedien en het die kerkraad daar niks mee te make nie (kyk Mt 18: 16; artt 16,23,71-76). Elke predikant vervul ook so sy leerdiens, professor sy opleidingstaak en diaken sy versorgingstaak op gesag van Christus wat hom geroep het. Die een mag nie die diens oorneem of indring in ’n diens waartoe ’n ander geroep is nie (kyk art 80).

 

7. Christus gee dienste met die oog op die gemeente

Calvyn begin sy uiteensetting van kerkregering met die gemeente wat God tot die ewige lewe uitverkies en deur sy Woord en Gees vergader (Inst IV.1). Die gemeente is nie daar ter wille van die dienste nie, maar die dienste is daar met die oog op die gemeente (Hd 20: 28; Rm 12: 4; Ef 4: 11-16; 1 Tm 3: 5; 4: 16; 2 Tm 4: 2v; Dijk 1952:30). Die belangrikste dienswerk of amp is om as gelowige die Here te dien. Daartoe moet die besondere dienste (ampte) die gelowiges toerus (Rm 12: 6-8). Hulle moet doen wat vandag dikwels van die besondere dienste verwag word. Elke besondere diens moet ’n bepaalde faset van kerkwees in die Christene bevorder. Die besondere dienste beantwoord aan hulle doel wanneer die gelowiges diens aan die Here en mekaar lewer en hulle amp vervul.

Die diens van predikant beklee by Calvyn ’n belangriker plek as die ander dienste omdat God daardeur die gelowiges (kerk) roep, wedergebore maak, vergader, bou en tug (Inst IV.1.i.xii). Hieroor was Calvyn se mening: “God has ordained both the preaching of the Word and the administration of the sacraments, and when coupled with the efficacious working of the Spirit they constitute the order which marks the church…” (Milner 1970:123v). Die kerk is in wese nog “wordende gemeente” (Bavinck 1918:311) en daarom het God

|31|

dienste gegee om die gelowiges steeds meer te maak wat hulle in Christus reeds is (Ef 4: 11v).

Die beroeping en bevestiging van dienaars (artt 4,5,22 en 24) is die enigste aspek van instituering wat in gereformeerde kerkreg op gemeente-organisasie wys (Bavinck 1918:362v). Daar is nie sprake van “kerk” instituering nie, maar wel van instituering van bepaalde dienste.

 

8. Algemene kenmerke van die dienste

Die kenmerke van die dienste (ampte) moet in ag geneem word wanneer vrae oor vroue in die amp, meer of minder ampte, ensovoorts gevra word (Spoelstra 1971 a en b; RES 1972:167-204; 52-60). Die Gereformeerde Ekumeniese Sinode het in 1972 na Skrifondersoek grootliks eenstemmig oor die karakter van die dienste geoordeel. Elke diens dra ’n teosentriese karakter (Joh 20: 21; Mt 28: 19; NGB 31). Dit is God wat daardeur werk. Daarom het die Here self die dienste deur die apostels ingestel en as voorskrif aan Timoteus, Titus en ander deurgegee. Dit bly egter dienste, omdat Christus die absolute, sentrale en enigste Opsiener van sy kerk moet wees. Die dienaar in sy diens (amp) is instrument van Christus en nie ’n funksie wat die kerk vir sy doeleindes nodig ag nie. Die instrument moet hom onderwerp aan die een wat hom gebruik (Goumaz 1964:16).

Die diens dra gevolglik ’n verteenwoordigende (gesantskap) karakter. Christus gebruik die diens om self by die gemeente teenwoordig te wees. Die dienaar moet dus Christus bring en bly aan Hom verantwoording verskuldig. Terwyl Rome sê dat die biskop deur die Gees gelei word om namens Christus te regeer, sê die Gereformeerdes dat die dienaar die Woord wat die Gees gebruik, moet bedien. So is Christus by sy kerk nie in die bedienaar nie, maar in die bediening teenwoordig (Calvyn Inst IV.3.i; 6.ix; 8.ii; NGB 31).

Wanneer ampte aan die kerk ontleen word (vgl RES 1968:146v; 1972:187, 191), word alle kerklike aktiwiteit aan die ampte gekoppel, iemand moet dus eers ’n besondere amp beklee om in die koninkryk van God te kan werk! Met hierdie klerikalistiese argument word gepleit dat vroue besondere ampte moet beklee (vgl RES t.a.p.).

In die Bybel staan die inhoud van die betrokke diens voorop (Ridderbos 1966:496). As sodanig dra die gewone dienste ’n charismatiese karakter, sonder dat dit beteken dat die begaafste persoon die diens moet verrig. Gawes word aan die hele gemeente gegee. Die primêre vraag is dus nie of iemand die meeste gawes ontvang het nie, maar of hy genoeg gawes vir die uitoefening van die diens ontvang het. Daaroor moet die gemeente oordeel wanneer hulle iemand tot diens roep.

 

9. Vereistes vir die dienaars van Christus

Die Skrif bepaal vereistes waarvolgens die dienaars gekeur moet word (1 Tm 3; Tit 1: 5v ens). Daaroor word meer in besonder by ander artikels gehandel.

|32|

10. Goeie orde vereis wettige beroeping

Artikel 3 is feitlik regstreeks aan Calvyn ontleen. Goeie orde en welvoeglike optrede (1 Kor 14: 40) vereis dat iemand in die kerk van die Here wettig tot ’n besondere diens beroep moet word (Inst IV.3.vii.x). Die gemeente is middel wat Christus gebruik om te beroep en moet toesig hou oor wie en hoe dienaars in hulle amp gestel word (Inst IV.3.xi).

In beroeping werk goddelike en menslike faktore van koninkryk en kerk geheimnisvol saam. Christus roep sy dienaars deur die werk van die Gees (Hd 9: 6; 20: 28 vgl Rm 1: 1; 1 Kor 15: 8-11; Gl 1: 1,10; 5: 25). Die gelowiges moet dit opmerk, die dienaars uitken, aanwys en erken (1 Ts 5: 12; 1 Tm 3; 5: 22; Tit 1: 7; 1 Joh 4: 1). Hulle moet vir die valse profete wat voorgee, oppas (2 Pt 2: 1 v; 1 Joh 2: 18; Jd 4).

 

11. Inwendige en uitwendige roeping

By die roeping tot diens is daar drie instansies betrokke, naamlik Christus, die persoon wat van die roeping bewus word en die gemeente wat die roeping erken. So het gereformeerdes tradisioneel tussen inwendige en uitwendige roeping onderskei.

Die Skrif sê dat niemand die eer van ’n heilige bediening vir homself aanneem nie. Hy moet soos Aaron deur God geroep word (Hb 5: 4). Reeds in die vroegste Nuwe Testament-kerke het mense na vore gekom wat op ’n besondere roeping en spesiale gawes aanspraak gemaak het. Die aanspraak kan waar of vals wees. Die gelowiges moes dus versigtig en verantwoordelik die geeste beproef en nie maklik iemand wat hom aandien, in ’n besondere diens stel nie (1 Tm 5: 22; Hd 20: 29-30; Gl 1: 9-10). Hoewel Paulus eers die gemeente vervolg het (1 Kor 15: 9; 1 Tm 1: 13), het God hom tog al voor sy geboorte bestem maar eers later deur sy gebede geroep (Gl 1: 15) om apostel, leraar en prediker (2 Tm 1: 11) te wees.

Onder die innerlike roeping verstaan Calvyn ’n werk van God in die hart van die mens waardeur hy bewus en oortuig raak dat hy uit liefde vir God en begeerte om die kerk te dien, die bepaalde diens sou wou verrig. Hy moet seker wees dat hy die begeerte nie uit eersug of ter wille van byvoordele koester nie (Inst IV.3.xi).

Die eerste vraag in die Bevestigingsformuliere “of u in u hart voel”, het op hierdie “innerlike roeping” betrekking. Die innerlike roeping kan slegs waar wees indien die persoon oor die nodige gawes vir die diens beskik, standvastig na die diens strewe en die weë vir so ’n persoon ook oopgaan. Die uitwendige moet op die innerlike roeping die seël plaas (Bavinck 1918:415). Net soos wat daar naam-Christene en hipokriete onder die Christene gevind word (Inst III.14.i.ii), kan mense ook valslik voorgee dat hulle die innerlike roeping het.

Die innerlike roeping word egter deur sommige betwyfel (Runia 1982) Runia sê die hele gemeente word innerlik geroep na die heil in Christus (Rm 1: 6,7; 1 Kor 1: 9; 1 Ts 2: 12), dissipelskap en navolging (1 Kor 11: 1; Ef 5: 1; 1 Pt 2: 21), bepaalde gedrag (Ef 4: 1; 1 Ts 2: 11,12) en tot verkondiging van Christus (1 Pt 2: 9). Volgens hom is daar nie spesiaal van 'n innerlike roeping tot die amp

|33|

sprake nie en ken kollegas en predikante in die Gereformeerde Kerke van Nederland nie so iets nie. Hy bevind egter dat hulle in aansluiting by 1 Tm 3: 1 van ’n begeerte of verlange na die predikantsdiens kan getuig, wat hulle ten spyte van uitwendige en innerlike weerstande en moeilike teologiese studie behou. Runia wil dus liewers van die begeerte tot die amp in plaas van innerlike roeping praat.

Klaarblyklik koester Runia ’n professionele en kerkgesentreerde uitgangspunt. Die “verlange na die diens” (van predikant) val vir hom op presies dieselfde vlak as die begeerte om onderwyser, dokter of ambagsman te word. Die “amp” is dan ’n gewone “beroep” waarin ’n gelowige God dien en daarom ag hy daarvoor geen inwendige roeping nodig nie. Hierdie opvatting pas in die Gereformeerde Kerke van Nederland waar die kerk as ’n gewone samelewingsverband soos skool, industrie of staat beskou word (Nauta 1971:7,9,123). Iemand gaan werk (“job”) in die kerk soos ’n onderwyser dit in die skool gaan doen, omdat hy daarvoor opgelei is. Wie egter van Christus as Hoof van sy kerk (NGB 31; Heid Kat S 21) uitgaan en die vier dienste aan Christus en nie aan die kerk ontleen nie, moet aan innerlike roeping bly vashou. Wie dit loslaat, sny die band tussen Christus en die diens waarin Hy hom by die gemeente verteenwoordig, af.

Die uitwendige roeping kom wanneer die kerk van die Here (die gelowiges) na ondersoek en aanlê van die kriteria wat die Skrif vereis (vgl 1 Tm 3; Tit 1: 5-11), verantwoordelik en versigtig iemand met die bepaalde diens konfronteer. Calvyn het beklemtoon dat die gemeente die dienaar moet goedkeur, erken en aanvaar (Inst IV.3.x-xv). Hulle behoort hom dus te ken.

 

12. Vroue en die besonder dienste

Vroue het tydens Jesus se lewe op aarde en in die vroegste kerke aktief in die amp van die gelowige aan die uitbreiding van die evangelie meegewerk (bv Mt 28: 4; Lk 24: 10; Hd 18: 26; Rm 16; 1 Tm 5; Tit 2 ens; Spoelstra 1971 a en b). Vandag word beweer dat die apostels op grond van die kultuursituasie vroue in daardie tyd openbare optrede en toelating tot die ampte ontsê het. Die feit dat vroue egter in Korinthe die reg en vryheid gehad het om in die gemeente hulle mans teen te staan, sodat die apostel moes ingryp, bewys dat vroue destyds wel kon optree (1 Kor 14: 34-37; 1 Tm 2: 9-15; Tit 2: 3,4). Die apostel sluit hulle dus om ander as kulturele redes by evangeliediens in maar van die besondere ampte uit.

Weliswaar kom die aandrang om vroue tot die ampte toe te laat uit die huidige kultuursituasie op. Nuwe denkbeelde het oor die rol en verhouding tussen man en vrou, seksualiteit, die huwelik, beroepslewe, kiesreg van die individu, outonome selfverwesenliking en menseregte na vore gekom. Gevolglik word geredeneer dat vroue tot die besondere ampte toegelaat moet word om diskriminasie uit te skakel, pragmaties voordeel vir die “kerk” te behaal, vroue hulle self te laat verwesenlik en om die kerk bytyds te hou. Dit word met vroueaktiwiteite in die vroeë kerke uit die Bybel gemotiveer (RES 1968:144-160; Kleynhans 1984:106-143).

|34|

Wie aanvaar dat die “kerk” as regspersoon oor die gesag beskik om oor “sy ampte” te besluit, kan vroue in die amp akkommodeer. So het die Ned Herv Kerk alle ampte en verskillende Ned Geref Kerke die diakenamp vir vroue oopgestel (Kleynhans 1984:143-161). Die kollegialisme beskou dat die kerk sy werk na die ampte delegeer. Hierdie opvatting stimuleer die verval en passiwiteit van die amp van die gelowige wat op sy beurt roep om die ampte vir vroue oop te stel.

In Roomse kloosterordes, by Metodiste en in sendinggenootskappe het vroue sonder om kerklike ampte te beklee, ’n groot rol gespeel. Die Gereformeerde kerklike lewe in Nederland en Suid-Afrika het vroue ongetwyfeld (moontlik op kultuurgronde) grootliks passief gehou. Hulle kon slegs beskeie aktiwiteite, soos om fondse in te samel, onderneem. Dié praktyk mag selfs op ’n verkeerde filosofie berus dat die vrou die mindere van die man volgens die Skrif sou wees. Daardeur het die gereformeerde vrou na buite vir die koninkryk van die Here werkloos geraak. Die koninkryk is vergeet en die kerk vir mans geannekseer. Vroue moes by die “kerkraad” toestemming gaan vra om iets in die “kerk” te doen. Hulle mag nie buite die kerkraad om inisiatief vir die koninkryk neem nie. Die “kerkraad” tree op soos ’n bestuur van ’n genootskap omdat die “kerk” en nie die koninkryk nie, as uitgangspunt geneem word.

Die opsieners moet oor die diens en werk van gelowiges toesig hou (Ef 4: 12-16). Hulle moet daarom lerend en dissiplinerend ingryp wanneer gelowiges (ook vroue) teen die Skrif of Belydenis oortree. Dit beteken egter nie dat slegs die opsieners inisiatief mag neem of besluit wat die gelowiges vir die koninkryk van God wil of moet doen nie. In die Gereformeerde kerke het ’n ontsaglike skat aan vroue-diens verlore gegaan.

Die kerkregtelike implikasie van die koningskap van Christus sluit vroue van die regeerampte of opsienerdiens uit (RES 1972:58, 59-60). Die Skrif leer dat Christus manne aangewys het om Hom as Koning by sy volk te verteenwoordig. Hierdie verhouding stel die Skrif in Ef 5: 23 normatief vir die huwelik. Christus wil Hom dus as Koning in die amp van regering deur die man as gesinshoof in die kerk laat verteenwoordig. Die uitsondering om hierdie reël te bevestig, sal totale afwesigheid van manne en uiters abnormale en buitengewone omstandighede vereis. Firet argumenteer tereg dat die ampte vir vroue op ander as Bybelse gronde oopgestel moet word (RES 1972:53; Spoelstra 1985:43-48; vgl Vorster 1984). Wie die Skrif as norm neem (NGB 7), moet met die vroeë Christelike en Roomse episkopaalse tradisie aanvaar dat die openbare opsienersdiens deur manne verrig moet word.

Aan die ander kant vereis die koninkryk van God dat die amp van gelowige teenoor die besondere dienste herwaardeer moet word. Vroue moet vry kan werk en kan as kragte by die besondere dienste betrek word. So kan verhoed word dat die kerklike lewe in sy instellings stol (Spoelstra 1989b).

|35|

B. Kerkregering

1. Redaksie van artikel 2

Calvyn het reeds in 1537 in Genève ordereëls vir predikante en diakens ingestel. Bucer het in Straatsburg (1538-1542) plek vir die regeer-ouderling naas die predikant ingeruim (Van ’t Spijker 1970:3,439). Die doktore-amp (doceo vir leer, onderwys, lesings hou) is met die oog op opleiding van predikante en kategete ingestel (Pont 1981:23 art 2).

In die abnormale omstandighede van 1571 wys die Sinode van Emden “lesers” aan vir die plekke waar geen predikante is nie (Pont 1981:98v), maar sê niks oor opleiding van predikante nie. Toe die kerklike toestande enigsins gestabiliseer het, maak die Kerkorde van 1581 vir vier dienste voorsiening. Die dienste word volgens funksie benoem en onderskei (Biesterveld, Kuyper 1905:142 artt 1,2).

“Doktor” dui vandag ’n akademiese graad aan en nie noodwendig ’n leraar (dosent) nie. Gevolglik oorweeg Sinode Potchefstroom om “doktore” met “professore in die teologie” te vervang, maar besluit daarteen omdat alle professore in teologie (bv by Unisa) nie noodwendig predikante oplei nie. “Doktore” word vervang met “professore aan die Teologiese Skool” (1964:67). Die huidige bewoording bevredig nie. Dit klink asof die diens aan ’n “Skool” buite die kerke gelewer word. “Leraars (of dosente) vir die opleiding van predikante” sou ’n meer kerklike benaming wees. Nie die band met ’n instituut soos ’n Skool nie, maar die aard van die besondere diens (2 Tm 2: 2; art 18) moet die kerklike diens bepaal.

 

2. Redaksie van artikel 3

Op die oog af bepaal artikel 3 net dat wettige roeping vir predikante noodsaaklik is. Calvyn noem die predikante biskoppe (opsieners) en herders, terwyl ander ouderlinge nooit biskoppe genoem word nie (Inst IV.3.iv,vii,viii). Die ou Kerkordes stel gevolglik die noodsaaklikheid van roeping ten opsigte van die diens van die Woord terwyl roeping voorvereiste is vir al vier dienste. Die eerste kernvraag in die Bevestigingsformuliere vra by elke amp na die innerlike en uitwendige roeping.

Die Sinode van Dordrecht 1578 stel voorop dat net persone wat ten opsigte van leer en lewe goed “beproef” was, bekwaam is om onderwys te gee en oor goeie getuienis van binne en buite die gemeente beskik, tot die diens van predikant beroep mag word, en so ’n dienaar moet bewus wees dat hy deur God (innerlik) en die gemeente (uiterlik) “wettig beroep” is (Pont 1981:130).

Die Sinode van Middelburg 1581 bepaal in artikel 3: “Dit sal vir niemand, al is hy Doktor, Ouderling of Diaken geoorloof wees om die diens van die Woord en Sakramente uit te oefen sonder dat hy wettig daartoe beroep is nie. En as iemand hierteen handel … sal die Klassis oordeel of hy as skeurmaker verklaar … moet word” (Kuyper, Biesterveld 1905:142). Die Sinode van Potchefstroom 1964 het sonder om te motiveer die roeping tot predikante beperk en die strafmaatreëls weggelaat.

|36|

Mense is geneig om te dink dat universitêre opleiding die essensiële vereiste vir die diens van predikant is. Roeping bepaal egter wie mag preek en sakramente bedien. Iemand wat opgelei is as predikant en oorgaan tot die beroepslewe (artikel 12) verbeur die reg om Woord en Sakramente te bedien omdat hy nie meer die roeping van God (innerlik) en van die gemeente (uiterlik) het nie. Van der Linde noem ontslane predikante “lopers” wat onder dekmantel van ’n “stigtelike woord” of “preeklees” in gemeentes met hulle eie preke voorgaan (1983:12). Wanneer die diens van predikant horisontaal en pragmaties as ’n professie in ’n “kerk” beskou word, word nie op roeping gelet nie. Niemand wat hom van die Here geroepe voel om predikant te wees, sal die diens verlaat om buite die kerk van Christus te gaan werk nie.

 

3. Vier verskillende dienste

Die Latynse vertaling van die Kerkorde in 1619 noem die dienste by artikel 2 functio (werking, taak), terwyl dit by artikels 16,23,25 officium (amp of plig, taak, diens) en by die doktorediens in artikel 18 munus (taak, diens, plig, amp, pos, werk) gebruik. Dit lyk asof artikel 2 ’n wyer begrip as die ander artikels gebruik (GKSA 1964:67). Die offisiële Nederlandse Kerkorde van 1619 gebruik egter in artikel 2 “dienste” en by artikels 16,18,23 en 25 konsekwent die woord “amp” in die sin van 'n diens (ambag) wat verrig moet word. Amp moet nie teenoor diens gestel word nie.

 

4. Verskillende artikels reël saam een diens

Artikels 2 tot 17 en 28 het gelyktydig en saam betrekking op die een diens van predikant. Artikel 4 sluit woordeliks en kwalifiserend by artikel 3 aan. Net so reël artikel 2 saam met artikels 16,17,22,23,24,25,26,27 onderskeidelik die dienste van ouderlinge en diakens. Ons het in die Kerkorde een orde wat in verskillende artikels beskryf word. Daarom geld artikel 3 ook vir ouderlinge en diakens (vgl Middelburg 1581).

In die 16de eeu het die staat predikante in gemeentes en professore aan die Universiteite aangestel. Gevolglik kon die kerke nie die opleiding van predikante in eie reg reël nie (Pont 1981:207v). Die ou beginsel van die staatskerk (jus patronatus in sacra) begin gedurende die 19de eeu verval. Die Afskeiding van 1834 herstel die kerklike opleiding en dra dit aanvanklik aan dienende predikante op. Die basiese beginsels vir predikante geld dus ook vir professore. Sodra ’n professor tot suiwer universitêre diens (al is dit in teologie) oorgaan, is hy nie meer aan die wettige roeping van die kerk onderhewig nie en moet hy sy amp neerlê (art 12). Hy tree dan immers uit die kerk by ’n universiteit in diens.

 

5. Dienste en hulpdienste

Naas die buitengewone en gewone dienste, bied die Skrif voorbeelde van dienste met die oog op tydelike behoeftes (1 Kor 12: 30, 14: 5,28), en van ander

|37|

kragte en hulpdienste wat die ampsdraers bygestaan het. Onder hulle was selfs vroue (Rm 16: 3,12,13; Hd 9: 36; 1 Tm 5 ens). Vandag word redelik algemeen van katkisasie-onderwysers in die leerdiens van predikante, helpers by sendelinge en in enkele gevalle vroue as hulp vir die diakens gebruik gemaak.

Die voorbeeld van die apostels (vgl Rm 16) laat ’n groot veld braak vir predikante, ouderlinge, diakens en professore om manlike en vroulike helpers te gebruik om hulle onderskeie dienste beter te kan uitvoer, byvoorbeeld waar ouderlinge damestehuise of alleenwonende vroue of vroue met besondere probleme moet besoek, mense moet troos. nuwelinge moet opvang; diakens behoeftes by gesinne moet vasstel, mense moet versorg; die evangelie op die sendingveld gebring word, swart kerke voorgelig of ontmoet word, ens. Hulpdiens kan geskied sonder dat die hulpkrag in ’n diens bevestig word soos katkisasie-hulpkragte predikante se leerdiens aanvul sonder om in ’n “amp” bevestig te word. Elke ouderling en diaken moet egter ten volle die leiding behou en verantwoordelikheid bly dra vir die diens waartoe hy deur die Here geroep is.

Waar geloviges in die amp van die gelowige op eie inisiatief of op versoek van ’n ampsdraer diens lewer, is geen “toestemming” daarvoor van die kerkraad nodig nie. Selfs in ’n kontensieuse tugsaak verleen die Skrif in Mt 18: 16 aan ’n hulpkrag by 'n ouderling diskresionêre bevoegdheid. Eers wanneer ’n ouderling in opdrag van ’n kerkraad optree (kyk by artt 75,76), kan hy slegs met medewete en toestemming van die kerkraad van hulpkragte gebruik maak.

Talle ander dienste, soos dié van koster, orrelis(te), tuinier en byvoorbeeld huisouers van ’n tehuis, word ten behoewe van die hele gemeente onder sorg van die kerkraad en diakens gelewer. Hierby kan funksionarisse soos voorsitter, skriba en kassier gereken word. Die hulpdienste moet die amptelike dienste aanvul en die diens van die gelowiges stimuleer en nie verplaas nie.

 

6. Die ondersoek na roeping

Die bevestigingsformulier stel iemand met die eerste vraag in sy gewete voor die innerlike sowel as die uitwendige roeping. Die kerk (gelowiges) moet voortdurend kyk of teologiese studente uit of in hulle midde met leer en lewe bewys lewer dat hulle tot die diens geroep is. Anders as predikante, kan ouderlinge, diakens en professore eers na ’n uitwendige beroep innerlike roeping oorweeg. In daardie stadium moet die kerk (gelowiges) ook op hulle leer en lewe let.

 

7. Niemand kan gelyktydig meer as een diens vervul nie

Die Here het nie “poste” in ’n “kerk” geskep nie, maar gee iemand in ’n bepaalde funksie as leraar, herder of diaken aan die kerk (gelowiges). Dieselfde persoon kan nie verskillende “funksies” gelyktydig op hom neem nie. Hy is of tot leraar, of tot ouderling of tot diaken geroep. Namate die kollegialisme “ampte” as funksies waaroor die kerk as ’n instituut besluit, beskou het, het in die GKSA ’n praktyk ontstaan om geëmeriteerde predikante (of teologiese professore) nog ook as ouderlinge te beroep en te bevestig sonder dat hulle

|38|

ontslag neem. Sodoende kon ’n professor as ouderling na ’n meerdere vergadering afgevaardig word, daar as voorsitter verkies word asof hy as predikant afgevaardig was, terwyl hy nog as teologiese professor kon optree.

Die kerke het die praktyk beëindig. Iemand wat die naam en eer van een amp dra, mag nie tegelykertyd in ’n ander amp bevestig word nie. Die werk wat iemand doen, sê in watter diens hy staan. Indien hy ’n ander amp wil bedien, moet hy van sy vorige amp losgemaak word (GKSA Acta 1964:100; 1967 pt 5b). Tans emeriteer professore omdat hulle op ouderdom 65 jaar “tegnies seniel” verklaar word en word hulle sonder ontslag uit die amp van professor weer as predikante beroep en bevestig. Dit plaas ’n vraagteken agter die lewenslange roeping van die Here tot ’n bepaalde diens (art 12) en die gronde waarop professore emeriteer word (art 13). Durf die kerke ’n geroepene van God aan wie God nog klaarblyklik gawes van gesondheid gee, ontslaan? Dit lyk asof koppeling met die Universiteit die diens van professor weer soos in die 16de eeu grootliks gesekulariseer het.

 

8. Wie is ’n “wettig” beroepe predikant?

“Wettig beroepe predikante” is deur ’n kerk in kerkverband volgens die Kerkorde of deur kerke met wie “enger korrespondensie” (art 52) beoefen word, as predikant beroep en bevestig.

Gereformeerdes erken egter ook van die begin af dat in ander kerkgemeenskappe met wie nie korrespondensie beoefen word nie ook “wettige” predikante dien, al het hulle selfs op gewetensgronde van daardie kerke afgeskei (vgl Afskeidingsverklaring 12.1.1859 in Postma 1905:124). Op versoek van die NG Kerk van die OVS wys die Sinode van Pretoria dat elke kerkraad moet besluit watter “evangeliedienaar” hy op die kansel toelaat. Die kerkraad moet hom daarvoor aan die gemeente en meerdere vergaderings kan verantwoord. Gevolglik moet elke kerkraad vooraf vasstel dat so ’n predikant regsinnig is en in goeie trou staan (GKSA 1882:34).

Die toesig oor wie op die kansel toegelaat word, is ’n basiese “eie saak” en reg van elke kerkraad (artt 15,30: Hd 20:28-31). Geen ander kerkraad, klassis of sinode kan ’n kerkraad hierin voorskryf nie. Indien ’n kerkraad egter iemand sou toelaat wie se regsinnigheid en goeie trou ten opsigte van die gereformeerde leer en lewe onder verdenking is, moet die kerke daardie kerkraad in die klassis tot verantwoording roep.

Indien ’n kerkraad hieroor onverskillig blyk te wees kom die kerkverband in gedrang en kan die ander kerke gemeenskap met daardie kerk opsê. Dit is egter verkeerd om van die klassis of sinode te vra wie die kerkraad mag toelaat. ’n Kerkraad mag selfs weier om ’n predikant uit eie kerkverband op sy kansel toe te laat indien die kerkraad die erns, opvattings, goeie trou of verantwoordelikheid van dié predikant bevraagteken. Nie die formele vraag uit watter “kerkverband” ’n predikant kom nie, maar die vraag of hy wettig beroep en regsinnig in leer en suiwer in lewe is, bepaal of hy toegelaat mag word.

Spoelstra, B. (1989) Art. 4 & 5

|39|

Artikel 4 en 5

Beroeping tot en bevestiging in die diens van die Woord

 

Artikel 4: Die wettige roeping en toelating van iemand wat nie tevore in die diens van die Woord gestaan het nie en wat deur die klassis waarin hy woonagtig is, voorbereidend (preparatoire) geëksamineer is, bestaan uit:

ten eerste, die verkiesing na voorafgaande gebede, deur die kerkraad en die diakens volgens die reëling wat daarvoor plaaslik in gebruik of soos deur die kerkraad vasgestel is en verder in kerke met slegs een bedienaar van die Woord, ook met advies van die klassis of van die konsulent wat hiervoor deur die klassis aangewys is;

ten tweede, die ondersoek na die leer en lewe (peremptoire) van die beroepene deur die klassis (waar die beroeping ter goedkeuring voorgelê moet word) wat met advies van die deputate van die partikuliere sinode moet plaasvind;

ten derde, die approbasie en goedkeuring deur die lidmate van die betrokke kerk wat daarin bestaan dat daar, nadat die naam vir minstens drie Sondae in die kerk afgekondig is, geen wettige beswaar ingedien is nie;

ten laaste, die openlike bevestiging voor die gemeente in teenwoordigheid van die klassikale deputate, volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is.

 

Artikel 5: Waar 'n bedienaar van die Woord van een kerk na 'n ander binne die kerkverband beroep word, geskied dit soos volg:

ten eerste, die verkiesing deur die kerkraad en die diakens na voorafgaande gebede, met onderhouding van die reëling wat

|40|

daarvoor plaaslik in gebruik of deur die kerkraad vasgestel is en van die algemene ordinansies vir die beroepbaarheid van diegene wat buite die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika gedien het en verder in kerke met slegs een bedienaar van die Woord, ook met advies van die klassis of van die konsulent wat hiervoor deur die klassis aangewys is;

ten tweede, die goedkeuring deur die lidmate van die betrokke kerk, as daar, nadat die naam vir minstens drie Sondae in die kerk afgekondig is, geen wettige besware ingedien is nie;

ten derde, die kontrolering deur die kerkraad saam met die klassikale deputate van die goeie kerklike getuienis ten opsigte van leer, lewe en ampsbediening en van losmaking.

 

A. Kerkregtelik

1. Die kerk moet ondersoek en vasstel

Die Skrif sê dat kerklike dienaars betroubaar en bekwaam bevind moet word (1 Kor 2: 3; 2 Kor 11: 12-15; 1 Tm 3: 7,10; 1 Joh 4: 1). Die kerk (gemeente) moet daarom voornemende sowel as diensdoende predikante, voortdurend beoordeel. Hierdie taak behoort veral by die opsieners (Hd 20: 28-31). Hulle is die adres van die kerk en handel namens Christus en sy kerk {Hd 11: 30; 15: 2,6; 1 Ts 5 :12). Die feit dat artikels 4 en 5 die diakens by die ouderlinge voeg, verbreed slegs die basis waarop die kerk deur middel van die ouderlinge handel (vgl Hd 15: 22 en Fil 1: 1).

Die kerk (gelowiges) moet seker wees dat die dienaar met reg aanspraak op ’n innerlike roeping maak, die gawes vir die diens ontvang het, ’n Christelike oortuiging en lewenswandel besit, oor kennis van die Woord, die gereformeerde leer, liefde vir Christus en sy gelowiges beskik. Hy moet ook bereid wees om homself te verloën, van aardse goed af te sien en homself lewenslank, selfs al word hy beledig en vervolg, aan die diens toe te wy. Bevestiging, wyding of ordening het dus van vroeg af altyd met deeglike ondersoek gepaard gegaan (Inst IV.4.xiv).

 

2. Wettige beroeping en toelating tot die diens van predikant

Artikels 4 en 5 vorm saam met 2 en 3 ’n eenheid. Artikel 4 kwalifiseer “beroep” (art 3). Die kerkregtelike beginsels wat by artikels 2 en 3 bespreek is, geld dus ook by artikels 4 en 5 om wettige beroeping en toelating te laat plaasvind.

|41|

3. Die persoon meld homself aan

Iemand wat nog nie-tevore in die diens van predikant gestaan het nie, het homself in die vroeë christelike kerk vir opleiding en praktiese ondervinding aangemeld (Inst IV.4.ix). Talle is destyds soos vakleerlinge opgelei. Elkeen moet persoonlik kan getuig dat hy innerlik geroep is. Tekste soos Hd 18: 26; 20: 29: 2 Kor 6: 4; 10: 12,18; 11: 13,15; Gl 1: 15-24; 1 Tm 3: 1; 1 Joh 4: 1; 2 Joh 10; Jd 11 toon aan dat ook valse dienaars hulle mag aanmeld. Iemand wat as predikant wil studeer, behoort hom by die kerkraad aan te meld wat hom met attestasie moet kan aanbeveel (kyk art 8 p 73 en art 19).

 

4. Die unieke en verhewe diens van die Woord

Die Roomse bediening van die priesters het op die sewe sakramente aan “leke” saamgetrek. Luther het daarteenoor prediking van die Woord, waardeur die Gees geloof werk, en die selfstandige priesterskap van die gelowiges gestel. Calvyn sê dat God die “herders”-amp soos die apostelamp met die hoogste eer en agting beklee (Inst IV.3.iii; vgl Jes 52: 7; Rm 10: 15). Sonder herders en leraars kan die kerk daarom nooit wees nie. Hulle moet die Woord, Sakramente en tug bedien en die Skrif uitlê (Inst IV.3.iv). Hierdie diens bind gelowiges in een liggaam, die gemeente, die kerk, saam (Inst IV.3.ii). Die ware kerk is vrug van die bediening van Woord en Sakramente en word sigbaar waar die Evangelie suiwer gepreek en ontvang en die Sakramente gelowig bedien en gebruik word (Inst IV.1.x.xxii). So beklee die diens van predikant 'n besondere, unieke en verhewe plek onder die vier erkende dienste en verg dit gewoonlik spesiale opleiding (vgl by artt 8,18). Tegelykertyd lê die gemeenskaplike geloof tussen verskillende kerke in Christus 'n nou verband (Du Plooy 1982) sodat hulle met mekaar saamwerk om predikante in diens te stel. Ook is beroeping van een kerk na 'n ander moontlik en soms noodsaaklik (Van der Linde 1983:28).

 

5. “Verkiesing” deur die gemeente

Die Here gee voorskrifte waaraan die dienaars moet beantwoord (Inst IV.3.xii, 1 Tm 3: 1 en Tit 1: 7). In die wyse waarop hulle beroep moet word, staan nie die manier van verkiesing nie, maar die godsdienstige erns en eerbied waarin dit moet geskied voorop (Inst IV.3.xi,xii).

Vir die wyse van verkiesing is daar geen vaste reël nie. Die vroegste gelowiges het meegewerk in die nominasie of verkiesing van die dienaars (Hd 6: 3; 14: 23). Die lot het aanvanklik die verkiesing na nominasie beslis (Hd 1:1 4-23). Die apostels het hulle opvolgers op voorstelle “aangestel” (Hd 3: 3,6; 14: 23; 1 Tm 5: 22; 2 Tm 2: 2). Soms het ’n opsiener(s) ander dienaars aangewys (Inst IV.3.xiii-v; Tit 1: 5; 1 Tm 5: 22). Die apostels het vir kontinuïiteit van die diens van die Woord deur beroeping en opleiding gesorg. Hierdie beginsel lê aan artikels 4 en 5 ten grondslag.

|42|

Die Griekse gebruik was om hande op te steek (Inst IV.3.xv; Hd 14: 23). Die verkiesing het egter eers “wettig” plaasgevind wanneer die gemeente onder leiding van die herders die persoon vir die amp eenstemmig goedgekeur het (Inst IV.3.xv). Die wyse waarop die nominasie gedoen word, is dus van middelmatige belang. Die wesenlike vraag is of die gemeente toestem en approbeer dat God die persoon geroep en bekwaam het (Inst IV.4.ix). Later het die pous die gelowige volk met sy heerskappy onmondig gemaak (Inst IV.5.ii). “Kiesreg” (vgl GKSA 1982:501v) van die gemeente is strydig met die wese van die kerk en die monargale (koninkryks-) karakter van Christus se regering in sy kerk.

 

6. Bevestiging en handoplegging

Die karakter van kerkdiens oor die algemeen en diens van die Woord in besonder vereis dat so ’n persoon uitdruklik in die diens gestel moet word (vgl Hd 6: 3-6). Volgens Joodse gebruik (vgl Christus, Mt 19: 15) het die apostels iemand die hande opgelê wanneer hy in diens gestel is. Dit gee te kenne dat die persoon aan God voorgestel en toegewy word en simbolies gawes van die Gees ontvang (Hd 19: 6). Die handoplegging kan die waardigheid van die amp by die gemeente tuisbring, indien geen bygelowigheid of blote formalisme daarmee gepaard gaan nie (Inst IV.3.xvi). Die kerklike goedkeuring, erkenning en aanvaarding van die innerlike roeping word deur handoplegging gesimboliseer (1 Tm 5: 22).

 

7. Diens en verbondenheid aan een kerk

In die vroeë christendom het onder die opsieners (biskoppe) in dieselfde plaaslike kerke spoedig ’n prominente voorganger uitgestaan (Op 1: 20; 2: 1 ens). Waar Rome net een monargale biskop (pous) aan die hoof van die hiërargie ken, noem Calvyn elke bedienaar van die Woord ’n biskop en verbind elkeen aan ’n bepaalde kerk op ’n bepaalde plek. Elkeen moet weet dat hy kragtens die goddelike beroep lewenslank aan die diens in daardie kerk gebind is (art 12; Inst IV.3.vii) tensy hy ordelik tot diens in ’n ander kerk beroep en bevestig word.

 

8. Beroeping van een kerk na ’n ander is moontlik

In die Roomse stelsel kan die senior biskop priesters van een parogie (dorpsgemeenskap) na ’n ander verplaas. Talle Protestantse stelsels maak ook van verplasing van predikante deur biskoppe of superintendente gebruik. In gevalle waar byvoorbeeld die burgerlike owerheid predikante in diens neem, kom verplasing ook voor (vgl by art 6).

Ouderlinge en diakens (artt 23,25) word egter nie van een kerk na ’n ander beroep nie, maar dien plaaslik. ’n Predikant mag op ’n ordelike wyse van standplaas verander wanneer algemene belang of die behoeftes van ’n kerk dit nodig maak. ’n Predikant mag nie verandering met die oog op sy eie voordele

|43|

soek nie en behoort nie alleen oor die wenslikheid van verplasing te oordeel nie (Inst IV.3.vii; art 10).

 

9. Goeie kerklike getuienis

Kerke staan in kerkverband kragtens hulle eenheid in leer en lewe. Een kerk moet gevolglik aan ’n ander sekerheid oor ’n predikant wat verhuis se leer en lewe oordra. Dit geld ook in geval van enige ander gelowige (vgl art 82). ’n Predikant benodig dus bepaalde getuienis wanneer hy na die ander kerk oorkom. Behalwe oor sy leer en lewe moet ook oor sy ampsbevoegdheid en ampsbediening getuig word. Sonder goeie getuienis kan hy nie tot die diens toegelaat of van een kerk na ’n ander verhuis nie (vgl art 10 KO).

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die Dordtse Sinode het in artikels 4 en 5 bepaal dat stedelike en plattelandse kerke predikante na goeie “korrespondensie” (ooreenstemming) met die plaaslike Chnstelike owerheid moes verkies (Vgl die Christelike ryksopset p 10v.) Die kerke moes in die 16de eeu eenvoudig die staatskerkopset aanvaar.

Die Dordtse Kerkorde van 1619 hou in artikel 5 daarmee rekening dat dorpsowerhede hulle predikante kon verplaas (Pont 1981:177). Die kerke het vrugteloos probeer dat die owerhede deur die Kerkorde te erken aan hulle meer seggenskap in hulle eie sake sou verleen. Die toegewings aan die owerheid by beroeping, die bepaling dat die magistraat sowel as die klassis ’n beroep eers moes goedkeur en toegewing dat predikante vir beroepe mag aansoek doen, het niks gehelp nie. Die owerhede het die Kerkorde nooit gesanksioneer nie.

In Nederland het die owerheid hom eers teen die middel van die vorige eeu aan die kerke onttrek. Die huidige artikel 5 is toe in 1905 geformuleer. Advies van ’n konsulent word as alternatief vir die klassis gestel wanneer kerke met slegs een predikant moes beroep. Die wyse van beroep geskied volgens plaaslike reëlings en sinodale bepalings, terwyl die gebruik van die Formulier by die Bevestiging uitdruklik voorgeskrywe is. Die “reg” om vir diens aansoek te doen, het verval. Sinode van Middelburg 1904 het vir “klassikale deputate” voorsiening gemaak wat in 1964 in die Kerkorde opgeneem word.

Gedurende die 17de eeu kon ’n teologiese kandidaat verkies (beroep) word en eers daarna kerklik geëksamineer word met die doel om vas te stel of hy toegelaat kan word. Daarna moes die approbasie van gemeente sowel as van die owerheid verkry word voordat hy bevestig kon word (Pont 1981:176). Die Nederlandse kerke het te Utrecht 1905 ’n bykomende voorbereidende (proponents-) eksamen en beroepbaarsteliing tussen die akademiese kandidaatseksamen en oorspronklike toelatingseksamen ingestel. Die GKSA het dit in 1916 sonder besinning net so in die Kerkorde oorgeneem, en tog nie so toegepas nie. Drie kerklike eksamens, te wete kandidaatseksamen,

|44|

proponentseksamen (preparatoire) en toelatingseksamen (peremptoire) lyk na oordrewe reglementering. Die redaksie voor 1905 is beter.

 

2. Die Kandidaateksamen

2.1 Selfstandige kerklike opleiding

Die Kerkorde hou rekening met kandidate wat gestudeer het (art 4) en wat nie gestudeer het nie (art 8 KO). Dit skryf tereg nie voor waar iemand moes gestudeer het nie. Nie die plek waar iemand gestudeer het nie, maar die geskiktheid van die kandidaat moet deurslag gee. Kandidate vir beroeping kan hulle vanuit nie-kerklike, semi-kerklike en suiwer-kerklike opleidingsentra vir diens aanmeld. Calvyn is aan ’n Roomse Universiteit opgelei. Nederlandse studente het in die 16de eeu te Genêve en in die buiteland gestudeer. Na die bevryding van Spanje het die staatsuniversiteit van Leyden opleiding in teologie verskaf. Predikante in Nederland tot 1834 en in Suid-Afrika tot 1859 het hulle opleiding feitlik uitsluitlik aan staatsuniversiteite ontvang.

Die Afskeiding van 1834 in Nederland het plaasgevind uit reaksie teen die vrysinnige teologie wat deur staatsuniversiteite aan predikante oorgedra is. Om die erfenis van die Reformasie suiwer te bewaar het hulle (as ’t ware soos Rome!) weer die beginsel gestel dat kerkdienaars predikante onder kerklike sorg moes oplei. So het feitlik as ’n stukkie vertraagde reformasie ’n eie, onafhanklike en selfstandige kerklike opleiding die lig gesien. Aanvanklik is kandidate soos vakleerlinge by bepaalde predikante opgelei en daarna kerklik geëksamineer en beroepbaar gestel. Later is professore vir die opleiding onder direkte beheer van die kerke beroep.

 

2.2 Die kandidaatsertifikaat

Die kerke behartig die toesig oor die opleiding deur middel van ’n kuratorium wat ’n kandidaatsertifikaat aan suksesvolle studente uitreik. Daarin erken die kuratorium die “teologies-wetenskaplike” bekwaamheid en “regsinnigheid” van die kandidaat (Sinode 1967:48), ongeag die vraag of hy ook ’n universiteitsgraad vir dieselfde opleiding ontvang. Elke kandidaat moet hierdie kandidaatsertifikaat voorlê in die kerklike vergadering waar hy volgens artikel 4 geëksamineer moet word.

Die vraag is of die kerke self in ’n kuratorium die eksamen afneem en ’n kandidaatseertifikaat uitreik en of dit deur ’n buite-kerklike instansie (soos ’n universiteit) gedoen was. Indien die kerke uit die provinsiale sinodes die kuratorium soos ’n sinode konstitueer, maak die proponentseksamen net na die kandidaatseksamen nie sin nie. Die kandidaatsertifikaat van die kuratorium kan as kerklike beroepbaarstelling erken word. Dit verskil wesenlik van ’n sekulêre akademiese kwalifikasie (bv ’n universiteitsgraad) wat liberale opvattings sou verlang asof die beroep van predikant soos ’n sekulêre professie universitêre skoling vereis. Omdat die werklike toelating tot die diens eers na verkiesing, beroeping, toelatingseksamen en approbasie plaasvind, behoort die kandidaatseksamen van die kuratorium vir beroepbaarstelling te geld. Die kerke

|45|

kan bepaal dat so ’n proponent wat na ’n bepaalde tydperk nie beroep is nie by ’n partikuliere sinode moet verskyn vir ’n ondersoek om te oordeel of die beroepbaarstelling en preekverlof verleng of ingetrek moet word.

 

2.3 Kandidate wat elders gestudeer het

Kandidate vir die diens van die Woord mag hulle aanmeld met ’n sertifikaat wat hulle in die buiteland verwerf het. In Nederland en die VSA word teologiese seminaries dikwels as selfstandige en selfs interkerklike opleidingsentra, onder ’n eie raad van beheer bedryf. Kerke hou nie daar so direk toesig oor die opleiding deur middel van kuratore soos by ons die geval is nie.

Elke aansoek moet deeglik op eie meriete behandel word (kyk art 85). Onderskeid mag nodig wees tussen ’n kandidaat wat iewers studeer het en iemand wat reeds ’n proponent by “erkende kerke” (1904: art 125) is. ’n Proponent kan slegs proponeer binne die ressort en jurisdiksie van die bepaalde kerklike gemeenskap wat hom toegelaat het. Om te proponeer is ’n voorreg, geen kerklike diens nie.

Die Sinode van Middelburg 1904 (art 125) het bepaal dat proponente (wat wel kerklik geëksamineer was) uit buitelandse kerke met wie enger korrespondensie (kerkverband, art 52 KO) onderhou word, nie weer geëksamineer sal word nie. Die kuratore moet slegs met so ’n kandidaat ’n indringende en broederlike onderhoud (colloquim doctum) voer omdat hulle in 1904 beroepbaar gestel het. Dergelike kandidate moet hulle vandag dus ook wend na die instansie wat beroepbaar stel. Suiwer kerkregtelik beoordeel behoort ’n klassis en nie kuratore nie te handel met ’n kandidaat wat elders studeer het.

Vandag stel die Kuratore nie meer iemand in die GKSA beroepbaar nie. ’n Proponent of kandidaat uit die buiteland moet dus, volgens artikel 4 KO, of by die klassis waar hy bekend is of volgens huidige reëling, by ’n Part Sinode om toelating aanklop en daar sy sertifikaat ten opsigte van opleiding en kerklike getuienis uit die buiteland voorlê. Indien hy reeds ’n tyd lank in kerke binne Suid-Afrika verkeer het, sal hulle getuienis (attestasie) ook onontbeerlik wees.

Gereformeerdes pas soms bloot formeel akademiese maatstawwe toe op kandidate of proponente uit “erkende” kerke in die buiteland (vgl Van der Linde 1983:20). Die Part Sinode Oos-Transvaal het in 1972 in stryd met Sinode 1904 artikel 125 geweier om ’n proponent uit ’n “erkende” (Skotse) kerkgemeenskap vir eksamen onder artikel 4 toe te laat, omdat sy voorbereidende (nie teologiese nie!) studie nie in alle opsigte (bv tov Filosofie en Latyn) met die formele vereistes wat vir eie studente geld geklop het nie. So ’n proponent is gevolglik nie vanweë gebrekkige teologiese kennis of onregsinnigheid geweier nie, maar om onder middelmatige vereistes. Die Sinode Potchefstroom 1973 (Acta: 221-236) het die gronde van ’n appêl nie behoorlik beantwoord nie (vgl Ibid, minderheidsrapport; artt 30,46,84,85 KO en GKSA 1904 art 125). Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika behoort nie hulle besondere manier van doen en nie-teologiese opleidingsvereistes as norme te laat geld vir die opleiding in buitelandse gereformeerde kerke nie, omdat op hierdie wyse ’n bekwame en geroepe dienaar wat regsinnig is; om blote formele redes toelating tot die diens

|46|

geweier sou word. Die handeling van Sinode 1973 eerbiedig ook nie kerklike “korrespondensie” nie (art 52).

Kandidate uit kerkgemeenskappe met wie nie enger korrespondensie onderhou word nie, kan ook volgens artikel 4 by die korresponderende kerkraad van ’n klassis of ’n partikuliere sinode aansoek doen om met die oog op beroepbaarstelling geëksamineer te word. Elke aansoek moet op eie meriete behandel word. Daar moet vooraf geoordeel word of die opleiding in essensiële aspekte genoegsaam en regsinnig was. In die lig daarvan en persoonlike ondersoek (colloquim doctum) kan korrektiewe of aanvullende opleiding voorgeskryf word. Die ondersoek moet gaan oor die kandidaat se leer en lewe sowel as die redes waarom hy juis vir diens in die Gereformeerde Kerke aanmeld en of die kandidaat reeds in dié kerke ’n goeie getuienis verwerf het, ensovoorts. Die kerke kan na analogie van artikel 9 ’n “proeftyd” of aanvullende opleiding voorskryf. Die opleiding kan goedskiks by ’n paar predikante in die klassis plaasvind. Die Kerkorde skryf nie optrede buite eie kerkverband voor nie. Elke vergadering moet dus sy eie modus operandi vir elke buitengewone geval vaststel.

 

2.4 Kerkorde en kerklike eksamens in die GKSA

Die Nasionale Sinode van 1866 het die eerste kandidate wat volgens artikel 8 KO na vore getree het en deels by predikante touwys gemaak is, selfs in nie-teologiese vakke geëksamineer. Twee van vier kandidate is beroepbaar gestel en tot die diens toegelaat. Die toelatingseksamen (peremptoire) is net geïgnoreer. Die proponente moes met ’n eed teen “simonie” (Hd 3:18-23) sweer dat hulle nie met die oog op geld sal dien nie. Tegelykertyd het die Sinode ’n “Sinodale Kommissie” met verteenwoordigers uit elke “staat” benoem om toekomstige eie kandidate sowel as predikante en proponente uit ander “kerkgenootskappe” te ondersoek en toe te laat (1866:9-13,17). Die Kommissie is klaarblyklik volgens artikel 50 van die Dordtse KO as synodus contracta bedoel.

Die Sinode van 1869 behartig weer self die eksamen (1869:10-13) en maak vir teologiese opleiding op Burgersdorp in samewerking met die kerkraad voorsiening. ’n “Collegie” van kuratore, saamgestel uit twee predikante of ouderlinge wat deur elke Algernene Vergadering deputeer word, sou voortaan die opleiding bepaal en beheer en net “één beslissende” eksamen afneem. Die “collegie” kon selfs iemand wat nie aan ’n “Kweekskool” studeer het nie, maar oor goeie attestasies van 'n gereformeerde kerkraad en Algemene Vergadering beskik, ondersoek en beroepbaar stel (1869:21-22). Die Raad van Kuratore tree hier duideliker as ’n kleiner Sinode (synodus contracta) volgens art 50 van die DKO na vore met ’n opdrag wat slegs by kerklike vergaderings volgens artikels 4,8,9 tuishoort. Tegelykertyd vorm die kandidaatseksamen ook toelatingseksamen (toe voor 1905 nog geen proponentseksamen was nie).

Die GKSA sluit volledig aan by die Reformasie van 1834 in Nederland en breek met die ou Nederlandse staatskerkpraktyk met sy opleiding aan staatsuniversiteite.

Die GKSA net die hersiene Kerkorde van Nederland 1905 te Steynsburg in 1916 aanvaar en artikel 4 in praktyk geïgnoreer. Die Kuratorium het nog die

|47|

kandidaatseksamen en beroepbaarstelling behartig. Die toelatingseksamen is afgeneem deur die Algemene Vergadering (later partikuliere sinode) uit wie se ressort ’n proponent afkomstig was, terwijl die vergadering in wie se ressort hy ’n beroep aanvaar het, dit eintlik moes doen. Poponente is dus toegelaat ongeag die vraag of ’n beroep ontvang was of nie. Die kerk waarvandaan die proponent kom, laat hom tot die diens toe terwyl dié kerk waar hy in diens tree, niks te sê mag hê nie. Die GKSA het verkeerdelik in praktyk die toelatingseksamen met beroepbaarstelling vervang asof ’n proponent in ’n genootskap toegelaat word.

Die Sinode van Utrecht 1905 in Nederland het met die ekstra voorbereidende eksamen probeer reglementeer na aanleiding van die stryd oor die proponentsformulier in die Ned Herv Kerk. Só ’n eksamen kan slegs sinvol wees wanneer iemand aan ’n staatsuniversiteit of buite eie kerkverband opgelei is (GKSA 1967:52 pt 5).

Die bepaling dat die “Teologiese Skool” moet vasstel of ’n kandiaaat van buite ’n kandidaatsertitikaat mag ontvang, wys hoeveel van “papiere” gemaak word en is prakties onuitvoerbaar. Iemand ontvang ’n sertiflkaat van wie hom opgelei het. 'n Teologiese Skool kan nie ’n sertifikaat uitreik op sterkte van ander se opleiding nie. Toelating moet nie op grond van akademiese, maar van kerklike evaluering in die klassis saam met deputate van die Part Sinode geskied en op bekwaamheid, regsinnigheid, Skrifkennis en wat met die bediening saamgaan, nadruk lê. Daar is goeie riglyne vir die kerklike eksamens neergelê (GKSA 1964:74-79; 1967:49-51).

Sinodes het van 1955 tot 1964 verkeerdelik aangeneem dat die Kuratorium in terme van artikel 49 deputate van ’n Nasionale Sinode en daarom nie ’n kerklike “liggaam” in eie reg was nie Gevolglik is geredeneer dat die Kuratore nie ’n kerklike eksamen kan afneem of beroepbaar stel nie. In 1964 is artikel 4 toe letterlik in werking gestel (GKSA 1964;74-79). Kandidate het toe vir ’n kort periode kandidaatseksamen by die Kuratorium, onmiddellik daarna voorbereidende of proponentseksamen in die klassis waarvandaan hulle kom en daarna toelatingseksamen in die klassis waar hulle ’n beroep aanvaar het, afgelê. Laasgenoemde twee eksamens het in vorm en inhoud grotendeels oorvleuel.

Die Sinode van 1970 (127-128) het toe, sogenaamd omdat sommige klassisse nie deeglik kon eksamineer nie (Van der Linde 1983:19), net een eksamen aan die Part Sinodes uit wie se ressort studente hulle oorspronklik vir studie aangemeld het, opgedra. Die ondeurdagte navolging van artikel 4 soos Nederlandse kerke dit te Utrecht 1905 geformuleer het, het in die GKSA se praktyk net verwarring gestig. Hoewel tans na kandidaats- weer soos in die 16de eeu net een kerklike eksamen volg, het die aksent egter van die toelatingseksamen (DKO 1619) na die proponentseksamen (Utrecht 1905) verskuif. Die Kuratorium is ’n kerklike vergadering (vgl Sinodes 1982:60-67; 1985:534-543) wat na geslaagde kandidaatseksamen proponente beroepbaar kan stel. Die klassis van die kerk waarheen die proponent ’n beroep aanvaar; moet regtens die toelatingseksamen afneem, omdat die proponent daar in diens tree en daar verbind word. Sy toelating moet daar approbeer word (vgl art 30).

|48|

Die vraag kan in die lig van Sinode 1970 (127-281) gevra word of net ’n Part Sinode tans die proponentseksamen mag afneem, en of ’n klassis dit ook nog mag doen. Geen Algemene Sinode het nog die Kerkorde artikel 4 verander nie. Die besluit van 1970 maak dus net vir ’n alternatiewe metode vir kerke binne ’n bepaalde nasionale sinodale verband voorsiening. Die Kerkorde bly norm vir Sinodebesluite en nie omgekeerd nie (vgl artt 31,33,86 KO). Gevolglik geld die prosedure van artikel 4 KO ook nog so lank ’n Algemene Sinode dit nie gewysig het nie.

Dit maak prinsipieel geen verskil of die eksamen in een klassis of deur ’n paar klassisse in partikuliere sinode afgeneem word nie (Sinode 1970:127; Kruger et al 1966:56; Van der Linde 1983:19). Trouens proponentseksamen in ’n klassis saam met deputate van die Part Sinode is nodig vir aanvullende of buitetydse aansoeke.

Indien ’n klassis onverwags om eksamen genader word, moet die korresponderende kerkraad in oorleg met die roepende kerkraad vooraf reëlings tref en die deputate van die partikuliere sinode oproep. Dit sluit die benoeming van eksaminatore, reëling van proefpreke, ensovoorts in.

In die geval van kandidate wat te Hammanskraal opgelei is, moet artikel 4 uitgevoer word. Hulle kom nie uit die kerke wat die opleiding voorsien het nie (Sinode 1964:177). Hulle moet in die kerke waar hulle vandaan kom beroepbaar gestel word. Daardie kerke moet die bekwaamheid van kandidate, sowel as hulle leer en lewe eksamineer. Indien die kerke deur middel van hulle kuratore tydens die kandidaatseksamen die beroepbaarstelling moet behartig, sou dié kerke liewer daarna soos voor 1905 met ’n indringende toelatingseksamen kon volstaan.

 

3. Proponents- of Voorbereidende-eksamen in klassis met deputate van die Part Sinode volgens artikel 4 KO

3.1 Eksamen in die klassis van die kerk waarvandaan die kandidaat kom 

Kerklike eksamen (examinatio) beteken ’n ondersoek, ’n toets om seker te maak of om iets vas te stel. Dit gaan nie om ’n persentasie punte of minimum standaard te behaal nie. Die Dordtse Kerkorde van 1619 het die toelatingseksamen aan die klassis saam met deputate van die Part Sinode opgedra. Die kerk wat die proponent beroep het, is deel van die klassis wat die eksamen afneem. Soos reeds genoem, het Nederlandse kerke ’n proponents- (preparatoire) eksamen in 1905 (in SA 1916) ingestel en die kerk en klassis waarvandaan kandidaat oorspronklik gekom het, betrek. In Nederland was die deputate van die partikuliere sinode nie hierby nodig nie. Die GKSA het egter in 1967 sonder motivering die deputate van die Part Sinode bygevoeg (1967:52 pt 6b). Skynbaar moes die beroepbaarstelling uit struktuurdwang dieselfde patroon as die toelatingseksamen aanneem. Dit het die toelatingseksamen verdring en die beroepbaarstelling van die persoon geniet tans meer aandag as die toelating tot diens in die kerk van die Here.

|49|

3.2 Deputate van die partikuliere sinode

Die beginsel en praktyk van kerklike deputate (vgl art 49) het ontstaan toe die Dordtse Sinode in 1619 deputate van die partikuliere sinodes benoem het om na die stryd met die Remonstrante klassisse by die toelatingseksamen behulpsaam te wees (Pont 1981 :176). Hulle advies moes help om regsinnigheid indringend vas te stel. Die klassis moet egter besluit (Bos 1950:29). Indien die deputate (of iemand anders) nie by die besluit van die klassis kan berus nie, moet hulle na die partikuliere sinode appelleer {art 31; Bos 1950:28).

Die deputate van die partikuliere sinode kan en mag volgens die beginsels van Kerkorde (vgl artt 4,30 en 49) nooit as verteenwoordigers van of plaasvervangers beskou word wat namens 'n partikuliere sinode optree nie. Deputate is en bly persone en gee hulle advies in persoonlike hoedanigheid, waarna die klassis besluit. By die kollegialisme behartig “kommissies” die toelating of legitimasie van predikante. Deputate van die partikuliere sinode mag nie hierin ontaard nie.

 

3.3 Die aard en inhoud van ’n proponentseksamen

Die proponentseksamen moet nie akademies of wetenskaplik-teologies soos die kandidaatseksamen gerig wees nie (GKSA 1967:48-52). Die eksamen moet gaan oor die integriteit en bekwaamheid van die kandidaat vir die diens van die Woord. Gevolglik gaan die ondersoek eerstens oor die innerlike roeping deur middel van ’n goedbeplande vertroulike gesprek en ondersoek van betroubare getuienisse waarvoor die kerkraad(e) verantwoordelik is. Die kandidaat moet sorg dat die kerk waar hy woon getuienis oor sy gawes, leer en lewe aan die vergadering voorlê. Die vergadering kan enige ander ter sake getuienis, selfs mediese verslae, elders opvra en oorweeg.

Vervolgens moet die kandidaat se regsinnigheid aan die hand van die Belydenisskrifte sowel as sy bekwaamheid om die leer uit te dra, getoets word. Dit vereis rekenskap van sy preekvermoë, waarby kennis van homiletiek, liturgiek, kategese, Skrif en dogma te pas kom. Verder moet seker gemaak word dat hy soos 'n herder kan optree en die kerk regeer (GKSA 1967:49v). Dit moet vasstaan dat die kandidaat prediker en herder kan wees. Vir ’n deeglike ondersoek wat verantwoordelik met biddende erns afgeneem word, moet voldoende tyd ingeruim word. Na suksesvolle eksamen moet die proponent die formulier onderteken in die vergadering wat beroepbaar stel (vgl artt 53,54).

 

3.4 Goeie kerklike getuienis

Die oorspronklike Kerkordes het die kerklike getuienis oor leer en lewe ook vir die eksamen met die oog op toelating tot die diens (peremptoire) nodig geag. Slegs kerkrade kan daardie kerklike getuienis gee wat meer as ’n attestasie (art 82) inhou, omdat dit moet handel oor die vereistes wat vir die diens van die Woord nodig is. Dit moet die opbou van die kerk op die nog hê. Die kerkrade moet seker maak dat dienaars van die Woord en nie “verkoopsmanne” (2 Kor 2: 17) nie, toegelaat word. Hierdie getuienis word tans by die

|50|

beroepbaarstelling beoordeel, terwyl dit kerkregtelik by die kerk (en klassis) waar diens aanvaar word, tuishoort soos dit gebeur met die akte van losmaking wanneer ’n predikant in ’n nuwe kerk bevestig word.

 

3.5 Verval beroepbaarstelling na ’n tyd?

Die huidige enkele eksamen vir beroepbaarstelling geskied tegelyk met die oog op toelating tot die diens. Militêre diensplig, wag op ’n beroep, siekte, ensovoorts, kan veroorsaak dat ’n proponent nie beroep word nie. Slegs ’n kandidaat wat ’n beroep begeer en in staat is om dadelik ’n wettige beroep te aanvaar, moet geëksamineer word (1970:128). Dit is sinloos om iemand beroepbaar te stel wat nie tot die diens kan toetree nie. Omdat die huidige proponentseksamen ook toelating tot die diens impliseer selfs sonder dat ’n beroep aanvaar is, kan dit nie onbepaald geldig bly nie

Indien die kuratore normaalweg beroepbaarstel, kan die beroepbaarstelling volgens die huidige artikel 4 KO net gebruik word vir gevalle waar die kuratore nie beroepbaar gestel het nie of waar die kuratore se vergunning van beroepbaarstelling verstryk het. Die vergunning van beroepbaarheid behoort jaarliks oorweeg te word wanneer ’n proponent nie beroep word of ’n beroep aanvaar nie. Talle partikuliere sinodes binne die GKSA het ook bepaal dat, wanneer ’n proponent na ’n vasgestelde tyd nog nie ’n beroep aanvaar het en bevestig is nie, hy voor bevestiging die toelatingseksamen (peremptoire) volgens artikel 4 moet doen (kyk GKSA 1979:367v, 387-398, 529v).

 

3.6 Aansoek om beroepbaarstelling

Aansoeke met die oog op beroepbaarstelling moet aan die betrokke korresponderende kerkraad (art 45) van die betrokke klassis of partikuliere sinode gerig word en van die kandidaatsertifikaat en kerklike getuienis vergesel wees (GKSA 1967:49-51; 1970:127-128). ’n Aansoek om 'n toelatingseksamen af te lê nadat ’n beroep aanvaar is, moet van die sertifikaat van die proponentseksamen vergesel wees. Indien ’n proponent lank proponeer het, moet hy resente kerklike getuienis van soveel as moontlik kerke waar hy redelik bekend geraak het, voorlê. Die aansoek om te proponeer vra om ’n vergunning en maak nie op enige reg aanspraak nie.

 

3.7 Behoefte aan hersiening?

Die kerklike beroepbaarstelling in die huidige artikel 4 maak egter wel sin wanneer iemand oor ’n kandidaatsertifikaat beskik en eers later beroepbaar gestel moet word. Die Sinode van 1964 het egter die deputate van die partikuliere sinode onnodig daarvoor by artikel 4 gevoeg. Die swaartepunt van kerklike eksamen moet berus by die kerk en klassis waar die proponent diens aanvaar (peremptoire). Die ondersoek of eksamen (examinatio) pas by die toelating tot ’n heilige diens (Hd 20:28v) en is aan die roeping (vocatio)

|51|

verbonde (art 3). Met die oog daarop het die kerke in die 17de eeu deputate van die sinode by hierdie toelatingseksamen bygevoeg.

 

4. Die beroep

4.1 Na advies van die klassis of van die konsulent

Waar meer as een predikant in ’n kerk dien, lei een van hulle die ouderlinge en diakens in die verkiesing. Daar is geen advies van die klassis of ’n konsulent voor nodig nie (artt 4,5).

Die Kerkordes van die 16de eeu het slegs van “advies van die klassis” gepraat totdat die Sinode van Utrecht 1905 die konsulent bygevoeg het Die klassis wys ’n konsulent aan om as voorsitter die ouderlinge en diakens in ’n vakante kerk te lei. Hy moet ’n bedienaar van die Woord wees (art 35). Indien die predikant of konsulent ’n kerk adviseer om nie te beroep nie, moet die beroep uitgestel word totdat advies van die klassis ingewin is (art 41 ).

 

4.2 Wie is verkiesbaar?

Binne algemene sinodale verband is in enige kerk alle diensdoende en geëmeriteerde (art 13) predikante en professore (art 18), sowel as proponente beroepbaar. Verder kan predikante en professore uit ander Gereformeerde Kerke met wie korrespondensie (kerklike eenheid) onderhou word (art 52), beroep word. In so ’n geval behoort nogtans ’n broederlike onderhoud tussen alle partye voor die bevestiging plaas te vind (Bos 1950:34). Dit is baie wenslik dat predikante of proponente uit wie beroep word by die gemeente bekend sal wees, anders is “verkiesing” nie moontlik nie.

Iemand mag vra of ’n predikant uit ’n kerk met wie nie enger korrespondensie onderhou word nie (art 52) na ’n Gereformeerde kerk beroep sou kon word. Vanuit twee verskillende uitgangspunte kan twee verskillende antwoorde gegee word. Wie formeel van “kerkverband” as struktuur uitgaan, of kerkreg uit die Kerkorde aflei moet artikel 5 limitatief vertolk. Predikante is dan feitlik amptenare wat tot kerke in kerkverband beperk is en nie daarbuite mag optree nie.

Die Kerkorde reël egter nie optrede buite kerkverband nie. Wanneer ’n plaaslike kerk met ’n diensdoende predikant buite formele kerkverband onderhandel soos die Sinode 1866 voorsien het, moet die kerk dit op meriete behartig. Gevolglik maak artikel 9 vir dergelike situasies voorsiening. So ’n weg moet egter met groot versigtigheid en verantwoordelikheid bewandel word.

Dit is selfs moontlik dat ’n predikant uit byvoorbeeld die Gereformeerde Kerke van Nederland (Vrygemaak) beroep sou kon word. Die inisiatief kan van die predikant of van die kerkraad uitgegaan het. Die “verkiesing” van so ’n predikant sou nie op die gewone wyse kon plaasvind nie, maar die vrug van plaaslike onderhandelinge gewees het. Wanneer die kerk en kerkraad die betrokke predikant verkies het, sal daarna na analogie van artikels 4,5,8 en 9 kerklike approbasie in die klassis verkry moet word. Die klassis saam met deputate van die Part Sinode sal die motivering en aansoeker moet ondersoek en kan moontlik ’n “proeftyd” bepaal (art 9).

|52|

4.3 Die “verkiesing”

Die “verkiesing” moet in die lig van die besondere karkakter van die amp verstaan word. By beroep moet ’n kerk iemand wat Christus aan hulle gee (1 Kor 12: 28, Ef 4: 11; 1 Tm 3: 5) in diens van Christus stel sonder dat hulle hom in hulle diens neem. Gevolglik het die Kerkordes van die 16de eeu bepaal dat die verkiesing eers na ernstige gebede (en selfs met vaste indien iemand vir die eerste maal tot die diens toetree) sou plaasvind (Hd 14:23; Biesterveld, Kuyper 1905:96 art 3; Van der Linde 1983:20). God regeer. Daarom moet gebed voorafgaan. God moet self deur middel van die kerk roep (Hd 20: 28-30; 2 Pt 2: 2; eerste vraag in die Bevestigingsformulier). Die sogenaamde “verkiesing” is dus in wese slegs ’n nominasie waarop verdere ondersoek en bewilliging van die hele kerk volg om dit as ’n beroep te “bevestig”.

 

4.4 Wie beroep?

In beginsel beroep God self (art 3), maar Hy gebruik daarvoor die lot of mense. So maak artikels 4 en 5 voorsiening vir die “verkiesing deur die kerkraad en diakens” volgens plaaslike reëling as die eerste stap waarin die “beroep” uitgevoer word. Van der Linde meen dat artikel 4 gewysig behoort te word sodat die gemeente onder leiding van die kerkraad (skynbaar sonder diakens) sal verkies (1983:21). Die huidige bepaling is beter omdat dit meer as een vorm van verkiesing toelaat.

Die kerkraad en diakens kan alleen of saam met die gemeente (volgens die plaaslike reëling) iemand “verkies”. Daarna gaan die keuring (approbasie) egter die kerk as geheel aan (1 Kor 12). Die kerkregtelike gronde pleit daarvoor dat die gemeente nie teenoor die ampsdraers (kerkraad en diakens) gestel moet word nie, allermins onmondig en onbekwaam geag moet word en nooit die gevoel moet kry dat hulle slegs pro forma by beroepe betrek word nie. Wanneer die beroep uitgebring word, neem die kerkraad (ouderlinge) saam met die diakens die offisiële verantwoordelikheid as verteenwoordigers van Christus en die kerk.

 

4.5 Die sogenaamde “kiesreg” van die gemeente

Wie prinsipieel “kiesreg” verdedig, mag die gemeente selfs nie op grond van “onkunde” (Van der Linde) uitsluit nie. Begrippe uit die sekulêre demokratiese tradisie soos “stemgeregtigde lede”, “manslidmate” (Kruger et al 1966:58) en “kiesreg” (Van der Linde 1983:21), kom nie in die Skrif voor nie. Dit kom te pas wanneer die kerk as ’n vereniging (blote instituut) beskou word. Waar “kiesreg” vir vroue bepleit word, word met reëlmatige frekwensie na ’n kiesreg “in die kerk” verwys (GKSA 1985:325-331). Die instituut, vereniging of “kerk” vorm die uitgangspunt en norm wat geen “diskriminasie” tussen “lidmate” toelaat nie. Die wyse waarop in kerklike “verkiesings” van “stembriefies” en “stemgeregtigde belydende manslidmate wat nie onder sensuur is nie” gepraat word, versterk die indruk dat kerklike “verkiesing” met ’n sekulêre eleksie ooreenkom.

|53|

Mense beskou die rol van man en vrou in die 20ste eeu anders as wat in die Bybel en vroeër die geval was. Die moderne individualisme en seksisme het geen begrip vir mense in gemeenskap (1 Kor 12), man en vrou as ’n twee-eenheid (Ef 5: 23) en funksionele differensiasie binne dieselfde liggaam (1 Kor 12; 14: 33-35) waardeur een in ’n ander en vir ’n ander ’n roeping vervul nie. Moderne mense beskou derhalwe die “verkiesing” deur mans as diskriminasie teen die vrou. So word “menseregte” op grond van uitgediende kultuurbeskouings verkrag. Wanneer sommige hulle nog meerderwaardig op die “hoofskap” van die man beroep, is die vet in die vuur. ’n Mens hoor soms skerp, neerhalende, smalende kritiek van byvoorbeeld sogenaamde “ontwikkelde vroue” wat hulleself vergelyk met en verhef teen “snuiters” wat wel mag “stem”.

Hierdie argumente verraai hoe min die kerk in terme van 1 Kor 12 as liggaam in Christus beleef word. In die kerk as lewende organisme vervul sommige mans tog ook ten behoewe van ander mans (en daarom ook tov vroue) sekere dienste. Om van “kiesreg” vir ’n “lidmaat” te praat, skreeu egter teen die wese van die kerk van die Here. In die kerk het gelowiges onderskeie roepinge en verantwoordelikhede en nie enerse “regte” nie (1 Kor 12; vgl Spoelstra 1985:45-48).

Die Kerkorde bepaal dat die nominasie of “verkiesing” volgens plaaslike gebruik tot die meeste stigting moet dien. Dit moet selfs nie die swakker broeder en suster laat struikel nie. Die monargale (koningkryks-) karakter van die kerkregering sluit “kiesreg” prinsipieel uit. ’n Volk het nie kiesreg in ’n monargie nie. Die kerk is eenvoudig nie ’n demokratiese vereniging nie. Juis vanweë die wese van die kerk (1 Kor 12) wys die Here op unieke en selfs veelvormige wyses mense vir sy diens aan.

Sommige stel weer kerkraad en gemeente teenoor mekaar asof die gemeente net mag “adviseer”, terwyl die kerkraad “beroep”. Die eenheid in die liggaam van Christus plaas nie kerkraad en gemeente soos bestuur en vereniging teenoor mekaar nie, maar onderskei slegs tussen die Hoof Christus en die gemeente wat in die verhouding tussen man en vrou binne huwelikseenheid weerspieël word (Ef 5: 29-32; vgl NGB 31; Bevestigingsformuliere).

 

4.6 Prosedure by verkiesing behoort hersien te word

Elke kerkraad stel saam met die diakens sy eie prosedure vir die nominasie of “verkiesing” van predikante, ouderlinge en diakens vas. Predikante word nie noodwendig op dieselfde wyse as ouderlinge en diakens beroep nie. Die besondere plek wat die diens van die Woord ten opsigte van die gemeente beklee (Calvyn Inst IV.1.x) en die feit dat te beroepe predikante anders as ouderlinge en diakens in die gemeente betreklik onbekend mag wees, regverdig vir die beroep van ’n predikant ’n eie prosedure. ’n Beroep kan slegs sinvol geskied wanneer die predikante aan die gemeente bekend of enigsins voorgestel is. Die kerkraad behoort te sorg dat die gemeente van tyd tot tyd ook ander predikante deur middel van ruildienste leer ken.

|54|

In Nederland stuur sommige kerke ’n “hoor-kommissie” wat hulle gaan vergewis van verskillende predikante se persoon, gawes en dienswerk, hom selfs “pols” en dan verslag doen waarna ’n groslys saamgestel word. Die gebruik om voor ’n beroep ’n predikant te “pols” moet ten alle koste bestry word. Dit maak van ’n beroep na gebede ’n klug, is sonde teen die derde gebod en open die weg vir beroepjagtery, vlug van eie roeping of probleme, ensovoorts. Tog kan ’n stil, verantwoordelike besinning, selfs deur middel van ’n hoor-kommissie, nie sonder meer afgekeur word nie. Indien die opdrag aan ’n hoor-kommissie goed omskryf word en ewewigtige betroubare broeders daarop dien, sou die kerkraad hulle bevindinge oor ’n paar verskillende predikante objektief aan die gemeente kon voordra, waarna die gemeente kon “verkies” wie beroep moet word.

Die verb!ntenls tussen ’n predikant en gemeente moet uit beginsel as lewenslank aanvaar word. Beroepe moet daarom met die grootste verantwoordelikheid, nooit lukraak nie en allermins op grond van gerugte dat ’n predikant wil verhuis, deurgevoer word. ’n Predikant wat dergelike gerugte versprei, is reeds onverantwoordelik teenoor die roeping waarin hy staan.

In die Gereformeerde Kerke was predikante vroeër landswyd bekend, sodat talle kerke vrye verkiesings gehou het. Tans lê die Kerkraad en diakens gewoonlik die name van net twee predikante (in ’n enkele geval moontlik ’n drietal) aan die gemeente voor om een te verkies. In baie gevalle ken die gemeente nie eers een van dié predikante nie. Selfs wanneer “name” vooraf van die gemeente ingewin was, hou die kerkraad en diakens hulle nie juis by die name uit die gemeente nie en dikwels haal ’n naam op ’n gerug in die kerkraad onverwags die tweetal.

Hierdie optrede degradeer die gemeente, open die weg vir manipulasie van die verkiesingsprosedure, en menslike foute waarvoor die verantwoordelikheid na ’n gebed op die Here geplaas word.

Talle van die probleme en selfs die twyfelagtige aandrang om universele (vroue) “kiesreg”, kan uitgeskakel word wanneer die kerkraad en diakens vooraf die vereistes vir die betrokke diens aan die gemeente uitspel en die gemeente (manne en vroue, vgl 1 Kor 14: 35) versoek om gemotiveerde voorstelle met die oog op die beroep in te dien. Indien die kerkraad die gemeente by die nominasie betrek, behoort die kerkraad en diakens die finale nominasie uit die gemeentevoorstelle vir die finale verkiesing voor te lê. Indien die eerste nominasies oorweldigend op ’n bepaalde leraar dui, kan die kerkraad en diakens sy naam slegs vir goedkeuring aan die gemeente voordra. Die nadele aan groter inspraak vir die gemeente, onder andere dat “georganiseer” mag word, kan deur toesig en afkondigings ontmoedig word. Dit is in elk geval minder moontlik as dat ’n lukraak tweetal in die kerkraad gestel sal word.

 

4.7 Die wyse van verkiesing

Die verkiesing van persone geskied met stembriefie en nadat ’n volstrekte meerderheid behaal is (GKSA 1873:art 173). By staking van stemme moet die naam van die Here dadelik aangeroep en die lot gewerp word. Wanneer stemme staak oor die vraag of iemand die proponentseksamen (of toelatingseksamen)

|55|

slaag, word hy nie tot die diens toegelaat nie (GKSA 1873:art 173,35). Die voorsitter in ’n kerklike vergadering het geen beslissende stem nie (GKSA 1910:art 176).

’n Volstrekte meerderheid vereis dat een kandidaat minstens een stem meer op hom verenig as die helfte van die totale aantal stemme op al die kandidate saam uitgebring is. Om uit te stern moet trap vir trap tussen diegene gestem word wat met behulp van die stemme van kandidate wat weggelaat word nog die meeste stemme op hul sou kon verenig het. Byvoorbeeld: A kry 15, B 12, C 9, D 8, E 3, F 3 en G 2 stemme. D kan nie A met die stemme van alleen F en G oortref nie, terwyl hy met die stemme van E, F en G meer as A, B en C kan behaal. Daar sal dus eers tussen A, B, C en D gestem moet word. Sodra een 27 stemme of meer behaal, het hy 'n volstrekte meerderheid op hom verenig. Soms moet voordat die finale stemming plaasvind, eers tussen die tweede en derde hoogste totale uitgestem word om te bepaal wie teen die hoogste stemtotaal gestel moet word. Die beginsel is solank geen kandidaat die helfte plus een of meer stemme behaal het nie is daar nog nie ’n besliste meerderheid verkry nie.

By staking van stemme in ’n finale rondte kan een keer herstem word, maar as daar dan nie ’n beslissing kom nie, moet die lot gewerp word. 

 

4.8 Die goedkeuring van die beroep deur die gemeente

Na die “verkiesing” of nominasie dra die gemeente (elke man, vrou en kind) as gelowiges in die liggaam van Christus die verantwoordelikheid om die verkiesing goed of af te keur. Afkeuring moet gemotiveer word. Volgens die Bevestigingsformulier behaal die approbasie (en nie die “verkiesing” nie) die uiteindelike beroep. Hierdie prosedure verskil prinsipieel van demokratiese “kiesreg” waarin die wense van die meerderheid eerbiedig moet word. Een enkele persoon (bv ’n jong dogter) kan ter wille van die koninkryk van God getuienis voorlê (’n stem uitbring) by die kerkraad wat die hele beroep vernietig. Dit is nie nodig om hier eers die weg van Mt 18 en 1 Tm 5: 17 te volg soos by besware teen ’n dienende ampsdraer nie. By approbasie dra die kerk as liggaam (1 Kor 12) sorg dat ’n ware dienaar van Christus tot die diens van die Woord toegelaat word.

Die classis contracta (kerkraad saam met deputate van of twee naburige kerke) moet die gewig of “wettigheid” van elke “beswaar” teen ’n beroepe predikant beoordeel. Indien hulle die beswaar ligtelik afwys, het die beswaarde die reg en plig om die saak voor die klassis te lê (art 31). Volgens ’n ou kerkregtelike beginsel geld “geen beswaar” altyd as stilswyende goedkeuring (approbasie) van die beroep deur die gemeente (Biesterveld. Kuyper 1905:97 art IV).

Met die oog op die goedkeuring moet die naam van ’n geroepene vir minstens drie Sondae in die “kerk” (die gemeente in erediens) afgekondig word. Hierdie bepaling rus nie op ’n Skrifbeginsel nie en daarvan sou afgewyk kon word wanneer kerkbelange dit vorder en die gemeente wel (’n kort) geleentheid gehad het om die beroep te bewillig.

|56|

4.9 Die beroepsbrief

Tans stuur baie kerke dadelik na die “verkiesing” ’n beroepsbrief af, waarvan ’n konsep in die kerkordeboekie (GKSA 1979:97) afgedruk is. Daarvolgens “vertrou” die kerkraad dat die beroepene die beroep sal opvolg “nadat dit die nodige kerklike approbasie verkry het”. Sommige meen dat hierdie beroepsbrief eers na die kerklike approbasie afgestuur behoort te word (Kruger et al 1966:63) en die beroepene ondertussen slegs van die verkiesing of “benoeming” kennis behoort te kry (Biesterveld, Kuyper 1905:94).

Indien ’n kerkraad ’n beroepsbrief namens die hele gemeente reeds afstuur terwyl oor 14 dae heen nog in offisiële afkondigings bewilliging van die kerk gevra word, lyk dit nie asof so ’n kerkraad veel van die goedkeuring van die beroep deur die gemeente dink nie. Dit bemoeilik die moontlikheid om die bekwaamheid (gawes), regsinnigheid of lewenswandel van die beroepene te bevraagteken. Oorhaastige beroepe het al vir gemeentes en predikante baie pyn en skade berokken. Juis dié bewilliging van die Beroep, benadruk dat dit van die kerk van die Here kom (eerste vraag by bevestiging), terwyl onmiddellike afstuur van die beroepsbrief die gemeente en beroepene voor ’n voldonge feit stel.

 

5. Die toelatingseksamen (peremptoire)

Gedurende die 16de eeu het die kerkraad saam met diakens op advies van die klassis of alternatiewelik drie naburige predikante afgestudeerde kandidate “benoem” waarna die breë kerkraad die kandidaat eksamineer het. Die Beroep moes daarna deur die owerheid en gemeente oor ’n tydperk van 14 dae “bewillig” word. Indien iets teen die beroepene voorgebring word, moes die kerkraad met behulp van sommige uit die klassis (vgl naburige kerkrade) daaroor oordeel (Biesterveld, Knyper 1905:96 art IV). Hieruit blyk dat beroeping, ondersoek en bevestiging prinsipieel by die plaaslike kerk berus (art 30) en dat naburige kerke daarby slegs hulp verleen.

Die kerk wat beroep het en die kerke in klassis moet van elke predikant se beweegredes, roeping, akademiese en persoonlike bekwaamheid, regsinnigheid, houding oor bepaalde kerklike vraagstukke, Christelike lewe, etiese beginsels en selfs gesindheid ten opsigte van eienaardighede, politieke ligging en kulturele karakter van die betrokke gemeente of naburige kerke seker wees ter wille van die opbou van die kerke (GKSA 1964:74-79; 1967:48-51). Daarom behoort ’n indringende toelatingseksamen in die klassis van die kerk wat beroep het saam met deputate van die partikuliere sinode tuis. Die klassis moet hulle eie ondersoek beplan. Hierbo is herhaaldelik daarop gewys dat die jongste redaksie van artikel 4 beroepbaarstelling in plaas van toelating tot die diens van die Here op die voorgrond gestel het.

Tans tree ’n classis contracta by die toelating van ’n proponent (art 4) op soos by die bevestiging van ’n predikant (art 5). Indien daar enige vrae oor die leer of lewe van die proponent of die te bevestigde predikant bestaan, moet die classis contracta as bevoegde meerdere vergadering sonder om te huiwer

|57|

daarop ingaan. Slegs wie suiwer in die leer en onbesproke in die wandel en bekwaam vir die diens bevind is, mag tot diens toegelaat en daarin bevestig word.

Beroep (art 3) plaas egter die toelating tot diens van die Woord in ’n bepaalde kerk binne sy eie unieke situasie op die voorgrond. Daarom behoort die classis contracta ’n indringende vertroulike onderhoud te voer met die proponent wat daar tot die diens toetree. Dit mag selfs by die bevestiging van ’n predikant sinvol en tot opbou van die kerke wees.

Hoewel die werklike toelatingseksamen (art 4), grootliks in onbruik geraak het, maak die Kerkorde nog steeds daarvoor voorsiening. Enige klassis sou kon reël om saam met deputate van die partikuliere sinode ’n proponent se regsinnigheid of suiwerheid van wandel te ondersoek, veral as daar besware met die oog op sy bevestiging by die kerkraad na vore gekom het.

Die toelatingseksamen is altyd gerade wanneer ’n proponent vir ’n geruime tyd geproponeer het, in die buiteland gaan studeer het, aan vreemde invloede onderworpe was of deur ’n klassis volgens art 4 beroepbaar gestel is. Wanneer art 4 op voet af vir beroepbaarstelling gevolg word, moet dit ten opsigte van toelating tot die diens ook gebeur.

 

6. Bewilliging van bevestiging deur middel van ’n classis contracta

Die naburige kerke het kragtens kerkverband belang by wie as predikant in ’n naburige kerk bevestig word. Tog het die Kerkorde van 1619 die naburige kerke slegs by die toelatingseksamen en hulle predikante by die handoplegging tydens die bevestiging betrek. Tans betrek art 4 die naburige kerke by die bevestiging.

Die Suid-Afrikaanse situasie het die Sinode van Middelburg 1904 beweeg om ’n “kommissie van toesig vanweë die Algemene Vergadering” by die losmaking en bevestiging van predikante en proponente aan te wys. Die Kommissie is later “klassikale deputate” genoem wat saam met die kerkraad die kerklike getuienis kontroleer (GKSA 1964:68) en van die ordelike afloop van bevestiging (artt 4 en 5) en ontslag (art 10} aan die betrokke korresponderende kerkraad kennis gee. Die reiskoste moet deur die kerk wat beroep het, betaal word (GKSA 1904:40 art 132). Die “verkleinde klassis” (classis contracta) bestaan uit twee afgevaardigdes uit elk van twee naburige kerke en die kerk wat beroep het met die konsulent as voorsitter.

Van der Linde (1983:30v) sê tereg dat die benaming “klassikale deputate” uit die kollegialisme spruit. Dit strook nie met art 49 KO nie. Die klassis het nie die persone benoem nie. Die twee naburige kerke kom deur middel van deputate saam soos in ’n klassis. Die artikel behoort, soos dit vroeër was, na die klassis te verwys terwyl die taak (vgl Sinode 1904) deur ’n classis contracta (“kommissie”) uitgevoer word. Die beginsel dat naburige kerkrade deur middel van afgevaardigdes in ’n klassis ’n ander kerk in ’n gewigtige saak bystaan, word in ’n classis contracta slegs deur minder naburige kerke vervul omdat dit hier met die oog op ’n bepaalde en beperkte opdrag (artt 4,5,10) geskied. Die Sinode van 1904 kan hom vir ’n classis contracta op die kerkrade (art 79)

|58|

beroep. Die classis contracta moet die kerkraad en die kerk waar die predikant (of proponent) bevestig word, ondersteun.

Die kerke het in 1936 bepaal dat die leraar na sy bevestiging in teenwoordigheid van die classis contracta die klassikale ondertekeningsformulier van predikante moet onderteken (GKSA 1936:59). So vergewis die kerke in kerkverband hulle van die eenheid in leer wat die ruggraat van kerkverband vorm (vgl art 53 KO).

Dit is altyd beter om moeilikhede te voorkom as om te probeer genees. Die naburige kerke moet vasstel of die beroepsbrief met bylaes deur die predikant en kerkraad goed en eners verstaan word. Die classis contracta behoort ook met die proponent of predikant wat in die kerk en klassis nuut en vreemd inkom, ’n broederlike onderhoud en gesprek oor bedieningsbehoeftes en omstandighede te voer. ’n Proponent het immers nog geen praktiese ervaring nie en mag byvoorbeeld met ’n stedelike agtergrond, ’n plattelandse situasie nie begryp nie. Bepaalde besware, vrae of onsekerhede en beroepsprosedure mag die classis contracta verplig om ’n gedeë vertroulike samespreking (colloqium doctum) met die beroepene te voer voordat bevestiging bewillig word. Daarvoor moet genoegsame tyd ingeruim word. Tans kom die naburige kerke meesal slegs ’n paar minute voor die bevestiging saam asof dit ’n sinlose formaliteit is. Dit doen die erns in die kerk skade aan.

 

7. Openlike Bevestiging volgens die Formulier

Die Formulier beskryf die kerkregtelike gronde vir die diens van die Woord. Die Formulier moet gelees word sodat die beroepene met die gemeente as getuie sy diens kan aanvaar soos die Skrif dit bepaal (en nie soos mense of die “kerk” dit omskryf nie).

Die gemeente (kerk) bevestig dat hulle die dienaar nou as geroepene van die Here (art 3) erken en ontvang.

’n Predikant wat “kerklik beroep” is met “spesiale opdrag” of vir ander werk as wat die Bevestigingsformulier vir Bedienaars van die Woord uiteensit (GKSA KO 1979:97), is nie ’n predikant soos Christus gegee het nie en mag nie voor ’n gemeente bevestig word me. ’n Predikant word nie in diens van die kerk, nie maar in ’n bepaalde diens van God binne ’n kerk gestel.

 

8. Oplê van hande

Handoplegging is in die vroeë kerk toegepas waar ’n dienaar bevestig is. Tans gebeur dit slegs waar ’n proponent bevestig word. Die seremonie kan sinvol wees Wanneer die sin daarvan aan die gemeente oorgedra word.

Die 16de eeuse Kerkordes het bepaal dat die dienaar wat die Formulier lees sy hand op die hoof van die proponent wat bevestig word, moet lê terwyl ander dienaars wat teenwoordig is ook daaraan kan deelneem. In praktyk ontwikkel egter allerlei probleme. Wanneer ’n groot aantal dienaars, sommige moontlik uit ander kerkgemeenskappe, die hande oplê kom dit nie so stigtelik oor soos wanneer net ’n paar dit doen nie.

|59|

9. Ondertekeningsformulier

Nadat die proponent volgens die Formulier in ’n erediens bevestig is, moet hy daar in die openbaar die Formulier onderteken waarin hy sy instemming met die Drie Formuliere van Eenheid betuig, onderneem om hierdie leer voor te staan en hom tot bepaalde optrede verbind indien hy teen die leer besware sou ontwikkel (kyk art 53).

 

10. Losmaking en getuienis van die vorige kerk by predikante

Wanneer ’n diensdoende predikant ’n beroep elders wil opvolg, bepaal artt 5 en 10 dat hy daarvoor goedkeuring, toestemming en ordelike “losmaking” in ’n classis contracta by die kerk wat hy gedien het, moet verkry. Goeie kerklike getuienis en losmaking vervul by die bevestiging van ’n diensdoende predikant dieselfde funksie as geslaagde eksamens en goeie kerklike getuienis in die geval van ’n proponent. Die Kerkordes van 1619 en 1905 het die klassis (naburige kerke) by die beoordeling van die kerklike getuienis in die kerkraad betrek. Die Sinode van Middelburg 1904 het dit aan ’n classis contracta opgedra. Wanneer verskil van oordeel voorkom, sal die aangeleentheid na die klassis verwys moet word.

 

11. Die konsulent

’n Konsulent het in die GKSA vroeë ’n baie belangrike rol gespeel toe talle kerke klein en vakant was. Klein kerke het selfs konsulente beroep om in ’n vaste verhouding tot die kerk te staan. Gevolglik is konsulente vir Woord- en Sakramentsbediening, siekebesoek en selfs begrafnisse in vakante kerke verantwoordelik gehou.

Die konsulent is egter ’n predikant wat ’n klassis aanwys om as voorsitter van die kerkraad ’n vakante kerk te adviseer met betrekking tot die wenslikheid, moontlikheid en verantwoordelikheid om weer te beroep. Die konsulent het geen keurstem of beslissende stem in ’n kerkraad waarin hy presideer nie, maar is ook nie ’n deputaat (vgl art 49) van die klassis nie. Die klassis het hom slegs aangewys om sy funksie in die betrokke kerkraad te vervul. Hy is die verantwoordelike voorsitter gedurende die vakature en kan as voorsitter tot verantwoording geroep word. Gevolglik behoort geen kerkraad sonder verlof van die konsulent ’n ander voorsitter vir die kerkraad aan te wys nie.

Indien ’n vakante kerk geen konsulent het nie, moet die kerkraad by die klassis advies oor beroep al dan nie, vra. Die klassis sal dan minstens ’n konsulent aanwys. Nogtans bly beroep primêr ’n eiendomlike saak van die plaaslike kerk.

Die konsulent se advies sal eerstens op die kerkregtelike aspekte, tweedens op kerklike adviese en prosedures by beroepe, derdens op die finansiële vermoë en moontlik spesiale omstandighede van die kerk wat beroep, gerig wees. Hy durf egter nie by voorbaat besluit wie die beroep sal aanneem of bedank nie of ’n beroep op bepaalde voorwaardes vir ’n vriend probeer beding nie. Dit lê nie op sy weg om ’n kerk te beinvloed wie om te beroep nie. Wie dit doen tree oneties, ongevoelig, onbehoorllk en aanmatigend op. Hy kan eerder help reël dat soveel moontlik predikante in die vakante kerk bekend raak.

|60|

Indien die vakante kerk van ’n konsulent Woord- en Sakramentsbediening verlang, moet met die kerkraad van die konsulent onderhandel en die koste uitgeklaar word (GKSA 1952:297-301). Die vakante kerk het nie aanspraak op die dienste wat die kerk waar die konsulent dien, ontwrig of tot ekstra koste vir plaasvervangende dienste verplig nie.

Die Sinode van 1907 (36) het geoordeel dat ’n vergadering van ouderlinge en diakens sonder ’n predikant of konsulent as voorsitter in buitengewone gevalle gehou kan word wanneer die saak nie uitgestel kan word nie, oorleg met die konsulent (byvoorbeeld deur middel van telefoniese kommunikasie) gepleeg is en die handeling op die eersvolgende gewone vergadering gerapporteer word. Wanneer ’n predikant sonder voorwete van die konsulent as voorsitter in ’n vakante kerk optree, dring hy in die diens van die konsulent, in.

 

12. Kerke met meer predikante

Gedurende die Reformasie was in Europese stede en dorpe, byvoorbeeld in Genève, sestien en meer predikante. Die Kerkorde beskou dit as normaal dat in dieselfde kerk meer as een predikant (“biskop”) sal wees. In Suid-Afrika weer (behalwe vir Kaapstad) was daar tot diep in die 19de eeu gewoonlik in elke kerk net een predikant. Die GKSA het met die verstedeliking van die 20ste eeu so gou moontlik “afgestig” om aan elke nuwe “kerk” sy predikant te gee. Beroeping van ’n tweede predikant is selfs afgewys deur te sê dat meer as een predikant nie “klaar kom nie” en sonde so gekondoneer. Elke predikant moes skynbaar alleen biskop in ’n kerk wees.

Kuyper het daarvan uitgegaan dat elke “plek” (“burgerlike gemeente”) net een kerk (kerkraad) kan hê, al omvat dit duisende mense (1883:36). Hy benadruk die noue verband tussen mense en “kerk” as institusionele struktuur. Hoewel die GKSA Kuyper se opvatting afwys, het die kerk as instituut tog swaarder geweeg as bediening deur meer predikante in dieselfde kerk. Meer kerke en nie meer predikante in dieselfde kerk nie is as “meerdere bediening” beskou.

Die situasie het hom met die verloop van tyd begin wreek. Ouer stadgemeentes het so klein geword dat hulle nie meer die bediening van ’n predikant kon bekostig nie. “Afgestigte” kerke het vir ’n paar dekades floreer, in geboue gekapitaliseer en daarna geleidelik vergrys. By die “afstigting” (vgl art 38 KO) het klassisse gewoonlik nie die prognose van die “afstigtende” en “afgestigte” kerk oor ’n paar dekades korrek gelees nie.

Wanneer kerke vergrys, strem dit gemeenskap van gelowiges, katkisasie, meelewing van die jeug, beskikbaarheid van gawes vir die ampte, finansiële vermoë, dinamiese lewe na buite en baie meer. Daar moet liewer ’n tweede en selfs derde predikant beroep word voordat aan “afstigting” gedink word. Die kriterium moet “bediening” en nie “afstigting” wees nie. ’n Kerk moet slegs “afgestig” word, wanneer ’n nuwe gemeenskapsentrum ontwikkel het en die prognose vir die afstigtende kerk oor jare genoeg bloei en verantwoordelike benutting van kapitaalbelegging voorspel. Die waarde wat die dienste van meer

|61|

as een predikant en aanwending van hulle verskillende gawes in dieselfde kerk en omgewing het, moet nie onderskat word nie (vgl art 81 KO).

 

13. Kombinasieberoepe

Die Sinode van Colesberg 1920 (p 39) het die praktyk van “konsulentgemeentes” probeer uitfaseer deur middel van kombinasies van kleiner kerke wat saam een predikant beroep. Die Sinode van Bloemfontein (GKSA 1939:34-38) het vaste orde en riglyne vir kombinasieberoepe gegee, alhoewel ’n eenvormige kombinasiepatroon onmoontlik is. Elke situasie moet op eie meriete in ’n kombinasie-akte gereël word.

’n Kombinasie is nie ’n permanente of nuwe kerklike “struktuur” nie. ’n Kombinasie is slegs ’n ooreenkoms tussen kleiner en gewoonlik finansieel swakker maar selfstandige kerke met die oog daarop om saam ’n bepaalde beroep uit te bring. Die ooreenkoms duur slegs vir die duur van daardie beroep. Vir ’n volgende beroep moet ’n nuwe kombinasie-ooreenkoms opgestel word.

Die kombinasie-ooreenkoms moet aan die klassis vir inspraak en goedkeuring voorgelê word. Dit reël die wyse van beroeping, verkiesing, ondertekening van die beroepsbrief, bylae tot die beroepsbrief, samestelling van die gekombineerde kerkraad uit al die “kerkraadslede” of uit ’n gelyke aantal wat per kerk of hoofdelik stem, diensverdeling, tug oor die predikant, ensovoorts. Predikante in kombinasies van kerke kan beurtelings deur die kerke na ’n klassis afgevaardig word (GKSA 1958:135). Elke kerk wat kombineer bly volkome selfstandig. Die kombinasie moet duidelik en uitsluitlik die beste voorsiening van bediening van die Woord en Sakramente in elke kerk op die oog hê.

 

14. Vraagtekens agter sommige beroepspraktyke

’n Predikant word geroep om die koninkryk te verkondig waar die Here hom deur middel van die kerke plaas. Die gemeente is dus nie daar om die predikant te dien, te versorg en te vertroetel nie. Die aansien van die diens en dienaar van die Woord ly skade wanneer op “beroepe jag” gemaak word (Van der Linde 1983:29) of wanneer ’n beroep ter wille van groter “salaris”, byvoordele, of eer aan die staanplek verbonde, gesoek, uitgelok of aanvaar word (1 Tm 3: 3; Tit 1: 7; 1 Pt 5: 2). Wanneer ’n predikant ’n beroep sou aanvaar met die oog op sy eie voordele, ontwikkeling, studiegeleentheid of huislike belange, dui dit daarop dat ’n dienskneg self gedien wil wees.

Hoewel toesig oor beroepspraktyke op terrein van klassisse lê (art 30), het verskillende sinodes al euwels probeer bekamp byvoorbeeld wanneer ’n predikant binne een jaar weg beroep word, kan die kerk wat beroep het vir die koste van die vorige beroep verantwoordelik gehou word (1879). So is die koste-aspek, maar nog nie die nadelige uitwerking op die diens nie, aangespreek. Die Sinode van 1945 het adviseer dat “dit nie wenslik is dat ’n leraar wat nog geen twee jaar in sy gemeente werksaam is nie, beroep sal word, aangesien die kort bediening in stryd is met die belange van die gemeente” (GKSA 1945:113; vgl Bos 1950:33). Die feit dat sinodes probeer

|62|

reglementeer, dui daarop dat die naburige kerke in die classis contracta by die losmaking (art 10) en bewilliging van die beroep (art 5) nie werklik effektief na die belange van albei kerke omsien nie. Die wil en wens van predikante weeg waarskynlik swaarder as die belange van die kerke.

Soms bedank ’n predikant 'n beroep en word hy kort daarna weer beroep. Hierdie praktyk kan of deur ’n predikant uitgelok word of “onbehoorlike druk” op ’n predikant plaas (Van der Linde 1983:29). Wanneer ’n predikant ’n beroep bedank en die kerkraad hom van die beroep onthef het, het die kerkraad aanvaar dat daardie predikant nie deur die Here vir daardie kerk bestem was nie. Daar moet minstens ’n jaar of meer verloop voordat so ’n predikant weer beroep word. Die Nederlandse Sinode van Hertogenbosch 1875 het gereël dat dieselfde persoon nie in dieselfde vakature sonder toestemming van die klassis vir ’n tweede maal beroep mag word nie (vgl Bos 1950:33). Ook in hierdie opsig behoort die classis contracta wat beroepe bewillig (artt 5 en 10), hulle plig na te kom of anders eers advies by die klassis in te win (art 41 ).

Spoelstra, B. (1989) Art. 6

Artikel 6

Bedienaars van die Woord in gemeenskapstrukture

 

Artikel 6: Geen bedienaar van die Woord mag onder ’n beskermheer of in gestigte of op ’n ander wyse diens van die Woord aanvaar nie, tensy hy daarvoor toestemming verkry het en toegelaat is volgens die voorgaande artikels; en hy is ook net soos die ander aan die Kerkorde onderworpe.

 

A. Kerkregtelike beginsels

1. Diens van bedienaar van die Woord

Die kerkregtelike beginsels wat in die vorige artikels ten opsigte van die bedienaar van die Woord aangedui is, geld onverswak waar iemand die naam en eer van predikant in militêre, staats- of ander gemeenskapsdiens wil behou. As dit nie die geval is nie, kan immers nie meer van predikante gepraat word nie. Bepaalde gebruike en omstandighede dring hom aan die kerke op en vra soms vir ’n kompromis. In daardie geval mag die wesenlike beginsels wat die diens bepaal, nie prysgegee word nie.

|63|

2. Geloofsgemeenskappe wat nie “kerke” is nie?

Die Wes-Europese kultuur en regsorde het in die loop van die geskiedenis allerlei vorme van selfstandige plaaslike munisipaliteite, universiteite, heerskappe, gildes, broederskappe, kompanies, vry stede, bisdomme en so meer geken wat elkeen subjek van sy eie reg was (vgl Murray 1976:9). So het byvoorbeeld die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie sedert die 17de eeu op skepe en aan die Kaap predikante voorsien. Vorste en leenhere het ook aan hulle howe of munisipaliteite vir hulle stede eie predikante aangestel en onderhou. In Genève was die volk die gemeente vir wie die stadsraad predikante voorsien het.

Jansen (1952:35) gee uit die Skrif voorbeelde van “huisgemeentes” (Hd 12: 12; 17; 21: 8; Rm 16: 23; 1 Kor 16: 19). Hy redeneer heeltemal vanuit kerksentriese en moderne institusionele prinsipes, met geboue en al, dat hier kerkstrukture voorgekom het wat hy soos Voetius “onwerklike onvolledige en voorlopige kerke” gebore uit ’n noodsituasie, noem. ’n “Huiskerk” met “kerklike mag” kon op ’n eiland voorkom, maar nie op ’n plek waar daar wel ’n “plaaslike kerk” was nie. So ’n “huiskerk” sou hoogstens ’n byeenkoms van ’n “afsonderlike deel van die plaaslike kerk” wees. So redeneer mense vandag vanuit die kerkinstituut en nie vanuit die koninkryk van God nie en sou daar maklik met Jansen saamgestem kon word.

Dit is egter ’n ope vraag of Jansen se kerksentrisme die basiese kerkregtelike situasie in die Nuwe Testament korrek weergee. In die Nuwe Testament gaan die koninkryk van God en diens van die Woord aan die kerkinstituering vooraf (Mt 28: 19; Rm 10: 14). Gevolglik kan gemeenskappe wat nie formeel “kerke” is nie, ook behoefte aan en ’n vraag na bediening deur predikante hê. Dit wil artikel 6 reël.

 

3. Die Wes-Europese samelewingstruktuur

Die Romeinse reg stel die keiser as goddelike soewerein oor die ryk, bepaler van die godsdiens en daarom ook hoof van die kerk. Sy ryk moes ’n corpus christianum wees waarin hy 'n jus patronatus in sacra (reg van die vors in godsdiens) uitoefen. Henry VII van Engeland het dit in die Act of Supremacy 1534 onomwonde geproklameer en die Anglikaanse Kerk onder die biskop wat die koning aanstel, is staatskerk.

Die Germaanse feodale stelsel sluit hierby aan en verleen nog meer gedesentraliseerde mag aan elke leenheer (vgl Spoelstra 1980:30). Elke leenheer was in die kontraktuele verband waarin hy tot sy onderdane staan, aan die soewereine “rule of law” onderworpe wat die regte en pligte van vors en onderdaan bepaal. Harmonie is slegs moontlik indien en in so ver reg gehandhaaf word (vgl Mornay du Plessis 1579: Vindiciae contra tyrannos, Murray 1976:8-16). Elke korporasie, stigting, leenheer en plaaslike kerk is subjek van sy eie reg (vgl art 30 KO).

Kragtens die feodale kontrakreg was die leenheer (“heerlikheid” genoem, vgl DKO 1619) verplig om vir die godsdiens van sy onderdane voorsiening te

|64|

maak in ruil vir die diens wat hulle gelewer het. Die Sinode van Dordrecht reël daarom reeds in 1578 die posisie van hofpredlkante.

Prof Murray (1976:9) wys dat die 16de eeu nog glad nie die abstrakte begrip “staat” en sentrale staatsgesag (“Pretorianisme”) geken het nie. Van sentrale sinodale kerklike soewereiniteit, eenvormigheid of regspersoon was daar nie sprake nie (Murray 1976:12).

In hierdie artikel erken die kerke die “rule of law” en soewereiniteit van plurale selfstandige gemeenskappe, korporasies, vorstedomme en leenheerskappe (vgl art 28 KO), maar reël die orde van die diens van die Woord wat by hulle tuishoort.

 

4. Kapelane in die Suid-Afrikaanse Weermag, Polisie, Gevangenisdienste 

Gedurende oorloë het predikante as veldpredikers leërs en kommandos vergesel. Hulle het daarin geen militêre rang geneem nie. In die GKSA het die kerkregtelike beginsels rondom artlkel 6 ter sprake gekom toe kapelane in die Weermag benoem is.

Staatsdepartemente redeneer basies vanuit suiwer departementele en sekulêre regsbeginsels. Die “staat” beskou die “kerk” soos die kollegialisme as ’n mensllke vereniging onder gesag van sy eie besture. Kerke met kollegialistiese beginsels keur dit pragmaties maklik goed, terwyl Gereformeerdes kerkregtelike probleme ondervind wanneer ’n dienaar van die Woord sito-sito onder sekulêre gesag gestel word. Gevolgllk moet na ’n kompromis gesoek word, indien hulle ook diens wil lewer (vgl GKSA 1979:378-401; 1982: 476-480). 

 

B. Kerkregering

1. Redaksie

Die Kerkorde van die Provinsiale Sinode van Dordrecht 1574 versoek die Prins om amptenare te beveel dat hulle slegs predikers met klassikale getuienis sal toelaat (Biesterveld, Kuyper 1905:68, art 19). Die Kerkorde van die GKSA 1916 het Utrecht 1905 nagevolg wat van diens onder ’n “beskermheer of in gestigte of op ’n ander wyse” praat. Die “beskermheer” is vandag meesal ’n staatsinstansie wat die diens van ’n predikant wil bekom, soms gebore uit die Engelse tradisie van die corpus christianum. Dit beoog dan dienste soos Woordverkondiging, kategese, sakramentsbediening en huisbesoek. Die staat, ’n stigting, universiteit of tehuis behoort nie ’n predikant in sy amp vir kontakwerk, administrasie, organisasie, geldinsamellng, doseerwerk of bestuur van ’n “pastorale” kliniek in terme van artlkel 6 te oorweeg nie (vgl art 12 KO).

Die Sinode van Dordrecht 1578 (art 8) bepaal dat waar vorste predikante aanstel, hulle ordelik en wettig beroep moes word, die Belydenis en Kerkorde moes onderteken en aan die hof uit die bekwaamste mense ouderlinge en diakens (kerkraad) moes aanstel wat ook in die klassisse verteenwoordig kan word. So’n hofkerk is derhalwe soos ’n ander kerk behandel.

Die Sinode van 1586 (art 6) reken met hofpredikers (“heerlikhede”) en onder andere gastehuise, maar laat die bepaling oor Belydenis en Kerkorde sowel

|65|

as die instelling van ouderlinge en diakens weg en sê slegs dat dergelike predikante volgens voorgaande artikels toegelaat en aan die Kerkorde onderworpe bly.

Gedurende die 17de eeu is probeer om die diens van veldpredlkers te reël deur middel van “noodgemeentes” onder soldate in te stel. Daar is egter gestuit op die nie-kerklike karater van ’n leër. Die GKN bepaal in Nederland 1947 dat kerkrade na ’n oorlog teruggekeerde soldate wat in “veldgemeentes” belydenis afgelê het, liefs weer moet ondersoek voordat hulle tot die nagmaal toegelaat word (Bos 1950:36-39).

 

2. Ooreenkomste tussen kerke en ander instansies

Die Sinode van die GKSA 1982 het kennis geneem dat bepaalde departemente soos die Weermag, polisie en gevangenisse op ’n getallebasis voltyds of deeltyds Gereformeerde predikante as kapelane aanstel om Gereformeerdes in die betrokke departementele opset te versorg. Die owerheid wil sover moontlik kerkregtelike beginsels in ag neem. Tog geniet die kardinale vraag waarom polisie, staande mag, gestasioneerde soldate nie binne gewone gemeentelike verband bearbei kan word nie, by die owerhede nie veel aandag nie. Selfs gevangenes kan plaaslik waar die tronk geleë is, bearbei word. Die owerheid veronderstel eenvoudig dat polisie, bewaarders, soldate en gevangenes se geestelike versorging plig van die owerheid is en dat die kerk soos die departement ’n sentrale (pretoriaanse) bestuur het waarmee onderhandel kan word.

In die ooreenkoms met die owerheid moet die plaaslike kerk die vertrekpunt vorm wat in klassikale verband met die departement onderhandel, toesig oor predikante uitoefen en eventueel tug toepas. Waar kapelane gewerf word, ag die kerke interkerklike samesprekings met ander kerkgemeenskappe oor prinsipiële probleme noodsaaklik. Vir die doeleindes van die staat geld die Administratiewe Buro as sentrale adres wat kommunikasies na die betrokke plaaslike kerke deurgee. Voorbeelde van diensooreenkomste wat soveel moontlik kerklike beginsels in ag neem, is goedgekeur (GKSA 1982:471-485).

 

3. Geen “dienspligkapelane”

Teologiese studente was tot 1976 vrygestel van militêre diensplig. Vanaf 1977 is blanke kandidate wat hulle teologiese opleiding voltooi het, opgeroep vir twee jaar militêre diens. Hulle word as offisiere (luitenante) tot hulp van die kapelane aangewend en so het die benaming “diensplig-kapelaan” ontstaan. Die Weermag het sodoende as ’t ware ’n quasi-kerklike amp geskep “Denominasies” met ’n kollegialistiese struktuur laat dergelike dienspligtiges by ’n sentrale kommissie as predikante “legitimeer”, terwyl Gereformeerde dienspligtiges slegs nadat ’n kerk hom beroep het, as predikant bevestig kan word (vgl Calvyn Inst 1V.3.vil).

Die Sinode van 1982 het verklaar dat diensplig ’n saak van die staat is en dat die begrip “dienspligkapelaan” geen kerklike konnotasie het nie. Nie

|66|

opleiding nie, maar roeping (art 3 KO) bepaal die kerklike amp. Nietemin kan ’n Christen wat kandidaat in die teologie is, wel in die “amp van die gelowige” onder soldate soos enige ander gelowige geestelike werk verrig (GKSA 1982:474-476, 479v). Diens hoef nie geklerikaliseer te word nie (vgl Rm 16:3,9; Kol 4:9,12; Film:13 ens).

 

4. Predikant of offisier?

Sommige meen dat “die kerk” nie deur middel van ’n kapelaanspraktyk met die owerheid kan saamwerk sonder om daarmee die eie aard en wese van die “kerk” aan te tas nie (W Nicol: Die Beeld 4.11.86).

Die Bedienaar van die Woord, al is hy kapelaan, se verhouding tot ander mense en gelowiges, al is hulle soldate, word In die Skrif, Belydenis, Kerkorde en Bevestigingsformuliere omskrywe. Die milltêre rangstruktuur wat afstand en hiërargie tussen die gewone soldaat en die offisier bewerkstellig, maak ’n pastorale ontmoeting tussen die gelowige en predikant in die militêre situasie baie moeilik. Die ideaal sou gewees het dat ’n predikant gewoon tussen die soldate geleef het.

Die offisiershiërargie bring ook mee dat ’n kapelaan van sy diens as predikant na weermagadministrasie “bevorder” mag word sodat hy heeltemal in die diens van die leër tree. Hy word so ’n beroepsoldaat (vgl art 12 KO), en behoort tussen predikantsdiens of weermagsdiens te kies. ’n Beroepsoldaat in weermagadministrasie kan nie “kosmeties” evangeliedienaar bly nie. Wat die weermag as “promosie” beskou, mag die einde van die “naam en eer” as predikant beteken, omdat die werk wat iemand doen sy amp bepaal.

Spoelstra, B. (1989) Art. 7

Artikel 7

Die bedienaar van die Woord is aan plek en wettige sending gebonde

 

Artikel 7: As iemand tot die diens van die Woord in ’n bepaalde kerk beroep word, moet hy op die bepaalde plek gevestig wees, tensy hy gestuur word om elders kerke te vergader.

 

A. Kerkregtelik

1. Bedienaar van die Woord

Die artikel reël nog steeds fasette van die beroep en diens van predikante. Die kerkregtelike beginsels wat in die vorige artikels die beroep, diens en bedienaar bepaal het, is hier dus ook direk of indirek ter sake wanneer die artikel na “iemand (wat) tot die diens van die Woord … beroep word” verwys.

|67|

2. Die diens en bedienaar van die Woord is plekgebonde

Talle kerkregtelikes lees in hierdie artikel primêr dat die predikant aan die plaaslike kerk verbonde is (Jansen 1952:38; Van der Linde 1983:34). Tog sê die artikel eintlik dat die predikant op ’n bepaalde plek gevestig moet wees. Dit herinner effens aan die regsbeginsels van locus standi en locus citandi waarmee die algemene reg rekening hou. Dit gaan oor die “staanplek” van ’n predikant. In die opsig sê dit eintlik iets meer as wat verbondenheid aan ’n plaaslike kerk sê.

In die Skrif was die opsieners (biskoppe) aan bepaalde plekke gebonde (Hd 11: 30), terwyl hulle tegelykertyd aan die gemeente in daardie plek verbonde was (Hd 14: 23; 20: 17).

Iemand was “leraar van die gemeente in Efese” (of Smirna, Pergamum ens; Op 2: 1,8,12 ens). Elke leraar moet sy eie kerk hê (Calvyn Inst IV.3.vii), maar hy moet ook tegelykertyd op ’n bepaalde plek gevestig wees. As dienaar en instrument van Christus strek sy diens verder as die gemeente. Die leraar van die gemeente is tegelykertyd sendeling van Christus om sy koninkryk op daardie plek te laat kom (Mk 1: 14; Lk 4: 43; Rm 10: 14). Woordverkondiging roep almal tot geloof en gehoorsaamheid aan Christus op, terwyl die wat glo, in die gemeente verenig word (vgl Heid Kat S 21).

Gedurende die genootskaplike “sendingeeu” is kerk en sending teenoor mekaar gestel en het die predikant as amptenaar van die kerk teenoor die sendeling of evangelis te staan gekom. Die “kerk” of verenigings het die “sendingopdrag” van Mt 28: 19 buite predikante om deur sendelinge vervul. Die opdrag van Mt 28: 19 geld egter vir elke bedienaar van die Woord. Elke bedienaar van die Woord is primêr dienaar of apostel van Christus wie se diens aan die kerk voorafgaan (Rm 10) en instrumenteel tot die vergadering van die kerk lei (Calvyn Inst IV.1.ix,x). Hy is nie dienskneg van die kerk nie en behoort die Woord wyer as die kerk te bedien.

 

3. Die apostolaat (missie) van die diens van die Woord

Die apostolaat van die diens van die Woord is sending na die gemeente in ’n bepaalde plek, maar ook tegelykertyd nie noodwendig tot daardie plek beperk nie (Inst IV 3 vii). Die roeping om elders die koninkryk van God te gaan proklameer moet ook ordelik en onmiddellik tot die dienaar kom. Hy kan daar nie alleen oor besluit nie. So het die Heilige Gees voorgangers in Antiochië en die kerk gebruik om Paulus en Silas te roep en uit te stuur om in ander dorpe en stede die evangelie te gaan verkondig (Hd 13: 1-3; 14: 26,27), sonder dat Paulus dit op sy apostoliese gesag vanself onderneem het (Ef 2: 20). Tog verskil gerigtheid op nie-Jode en Jode in die bediening van Paulus en Petrus (Gl 2: 6-8).

Sending bring die swakheid van die instrumente, die kleipotte (2 Kor 4: 7), na vore wat tog “ambassadeurs” van God moet wees (2 Kor 5: 20). Sendelinge is nie net “geleibuise” vir boodskappe van en na hulle sender nie. Die sendelingambassadeur verteenwoordig persoonlik sy Sender, beliggaam die Een wat

|68|

hom stuur. Die goeie sendeling moet intieme kontak met sy Sender bly onderhou (Bosch 1986:13). Daaraan kan hy uitgeken word.

 

4. Sending in koninkryksperspektief

Die intieme band tussen kerk en koninkryk staan vir Calvyn in die Reformasie vas (Inst IV2.iv). In die 18de eeu het die Piëtisme begin om individuele “siele” vir Jesus te wen. In die 19de eeu het die doel van sending in die kollektiewe en institusionele ideaal van bepaalde kerkplantings of kerkuitbeiding begin opgaan. “Die kerk” stuur in die kerksentriese benadering sendelinge met “die kerk” as bloudruk (Bosch 1986:3) uit om sy gebruike, opset, amptenare en seminaries net so op ander volke oor te plant. Die Westerse sending het daarmee dikwels nie die koninkryk van God nie, maar kerkimperialisme, kolonisasie en kulturele verwestersing op die oog gehad (Spoelstra sa:151-163).

Tegelykertyd het die Griekse filosofie in die Rennaissance die Westerse denke ingrypend laat onderskei tussen die geestelike (waarop die sending hom rig) en die gewone natuurlike liggaamlike lewe, waarmee die sending nlks te make het nie. Jesus se verlossingswerk en sy heerskappy (koninkryk) spreek en gryp die mens egter in sy totaliteit aan. Sending in koninkryksperspektief behoort op die voetstappe van Jesus nie net “geestelik” en “eredienstig” gerig te wees nie, maar ook die evangelie in genesings, opvoeding, voeding van hongeriges, ywer vir geregtigheid en vrede, afbreek van mure van haat, vooroordeel en diskriminasie te laat deurwerk (Mt 10: 8; Joh 20: 21). Die missionêre betrokkenheid moet in die missio Dei van Jesus Christus (Joh 3: 16-21) gegrond wees. “Ons sending is om deel te hê aan die sending wat Jesus begin het, die sending van die inhuldiging van die koninkryk van God” (Bosch 1986:6).

Sending moet drie aspekte op die oog hê: verspreiding van die evangelie, vernuwing van die kerk en skepping van ’n gemeenskap wat deur die beginsels van die koninkryk van God regeer word. “As ons evangelisasie mense uit die wêreld uitroep sonder om hulle terselfdertyd weer in die wêreld in te stuur, is dit nie evangelisasie nie, maar ontsnapping. As dit in ons kerkvernuwing slegs om ons eie kerk gaan en nie om die samelewing nie, het ons nie met vernuwing te doen nie, maar slegs met die opbou van ons eie geestelike koninkryk en ’n bolwerk van ons eie belange” (Bosch 1986:9v). Sending steek gevolglik grense van geografie, godsdiens, kultuur, ideologie, klas, denominasie, ras en volk oor. Daar is nie meer Jood, Griek, slaaf, man of vrou nie. Dit hef egter nie die kulturele of natuurlike onderskeidinge en differensiasie binne die eenheid van die koninkryk op nie. Die koninkryk verplig mense in hulle verskeidenheid om te lewe soos mense wat aan Christus behoort (Gl 3: 27,28). Die eenheid van die koninkryk word juis in verskeidenheid versoenend verwesenlik.

 

5. Afsonder vir bepaalde diens

Die Skrif leer dat ’n dienaar afgesonder word (aforeizein) vir ’n bepaalde diens

|69|

(Hd 13: 2; Gl 2: 7) en dat God ’n man uitkies vir sekere werk (Hd 17: 31; Gl 1: 15,16). Die afsondering van ’n sendeling vind dus plaas binne die algemene apostolaat van die diens van die Woord (Dick 1978:295v). Die onderskeiding tussen predikant en sendeling moet basies gelowiges en ongelowiges en nie etnisiteit op die oog hê nie. ’n Wit predikant mag nie aan een kerk verbonde wees om eintlik predikant in ’n ander swart kerk te wees nie. Enige kerk kan enige predikant uit enige etniese situasie as predikant of sendeling beroep. Tot ongeveer ’n eeu gelede het sommige selfs geglo ’n predikant mag nie vir swartes en ’n sendeling nie vir blankes preek nie (vgl Angola).

 

B. Kerkregering

1. Die ontstaan van die artikel

Roomse geestelikes word met ’n sakrament lewenslank in die amp gestel. Eenmaal ’n priester altyd ’n priester, al word hy ’n ontroue priester. Hy is aan ’n amp, nie aan 'n plek of kerk gebonde nie. Priesters wat met die Reformasie saamgegaan het, wou dié opset dikwels voortsit.

Die gereformeerdes handhaaf ook die beginsel van lewenslange amp of diens (art 12) in diens van Christus (nie van die kerk nie). Calvyn bind predikante soos ouderlinge egter aan ’n plek (Inst IV.3.vii,viii) omdat die buitengewone amp van apostels en rondreisende evangeliste opgehou het om te bestaan (art I (7), Dordrecht 1578). Aanvanklik is predikante gestuur “om hier en daar in die gemeentes onder die kruis te gaan preek”. Niemand mag egter elders ’n beroep opvolg of selfs sonder behoorlike toestemming van kerkraad, klassis of sinode gaan preek nie. Die huidige redaksie dateer uit 1581 en 1586. 

 

2. Die bedienaar van die Woord is aan die kerk op ’n bepaalde plek verbonde

God se roeping gaan in die diens van die Woord tot alle mense uit en is nie beperk tot die kerk op die bepaalde plek nie. Tog kan die diens nie los van die kerk (gemeente) verrig word nie. Die eenheid in Christus bind die diens dadelik aan die gemeente. Die kerk wat beroep en bevestig moet oordeel wanneer “algemene nut” vereis dat die dienaar na ’n ander plek verplaas moet word en daaraan openbare goedkeuring verleen (Calvyn Inst IV.3.vii, vgl intieme eenheid en gemeenskap van een liggaam 1 Kor 12).

Die predikant is met die oog op sy diens nie net aan die “kerk” as sodanig nie, maar ook aan die plek waar hy woon, verbonde. Hy is immers ’n dienaar van Christus en nie ’n amptenaar van die kerk nie. Sinodes het reeds in die 16de eeu die band met die kerk en plek waar die predikant woon, beklemtoon (Bos 1950:39). Slegs sending om elders te dien om gelowiges (kerk) te vergader maak ’n uitsondering moontlik. Nie die kerk nie, maar die diens van die sendeling, soos by die apostels, gebruik die Here om ’n nuwe kerk en kerkraad

|70|

te vergader.

 

3. Die sendeling

In die woord “sendeling” lê die gedagte van gestuur wees (apostolaat) opgesluit. Die vraag is dus wie stuur. Dit moet primêr die Here van die koninkryk wees wat ’n dienaar stuur om sy koninkryk te gaan proklameer Die dienaar moet hom derhalwe persoonlik innerlik van sy roeping bewus wees (Gl 1: 1; 2: 7; Ef 1: 1; Fil 1: 1; 2 Tm 2: 15). Die sending vind egter eers plaas wanneer die kerk ook deur die kerkraad hierdie sending uiterlik tot die dienaar rig en bevestig. Kragtens die eenheid in Christus bly die band tussen die sendeling en sendende kerk onverswak bestaan (Hd 14: 26,27).

Die verhouding tussen sendende kerk en sendeling moet duldelik uitgedruk en gereël word in die beroepsbrief en ooreenkoms wat die kerkraad met die sendeling tref. Die werk wat die sendeling doen, bepaal sy amp. Hy mag geroep word om tydelik of permanent verspreidwonende gelowiges te gaan bedien (art 39 KO) of om heidene of buite-kerklikes te gaan evangeliseer en mense so weer aan Christus as Here gehoorsaam te maak (Heid Kat S 48). Die sendeling mag nie van een (bv ’n blanke) kerk gestuur word om ’n ander (bv swart) kerk te gaan bedien nie, behalwe wanneer die swart kerk uitdruklik vir tydelike hulp gevra het. Wanneer ’n sendeling hom op grond van sy sendingroeping met 'n bestaande plaaslike kerk inlaat, dring hy in die diens van ’n ander in en maak hom aan ’n skorsingwaardige sonde skuldig (art 80). Die Skrif ken geen voogdyskap of paternalisme van ’n sendeling uit ’n bepaalde kulturele gemeenskap oor gelowiges in ’n kerk onder ’n ander kulturele gemeenskap nie (art 84).

 

4. Die Kerkraad stuur

Die genootskaplike sending van die 18de eeu het kerk en sending langs en teenoor mekaar gestel. Buite-kerklike genootskappe het sendelinge uitgestuur en beheer en kerklike sending is op genootskaplike patroon deur afsonderlike sinodale of plaaslike sendingkommissies beheer wat oor standplaas, traktement, instituering van “sendinggemeentes”, sendinghelpers, ensovoorts besluit het. As gevolg van Europese kolonialisme was die sendeling altyd ’n blanke (Europeaan) en het “sendinggemeentes” onder voogdyskap van blanke kerke gebly.

Die kerkraad moet die sendeling uitstuur en oor hom as dienaar van die Woord toesig hou. Wanneer ’n kommissie nodig is, moet die kommissie weet waarop hulle moet ingaan en aan die kerkraad rapporteer om te besluit. Wanneer ’n paar kerkrade kombineer om ’n sendeling uit te stuur, moet hulle ’n behoorlike kombinasie-akte met die oog op daardie spesifieke beroep en predikant opstel. Kerke kombineer nie vir “sending” nie, maar om ’n sendeling te beroep. Van ’n gesamentlike sendingkommissie wat aan verskillende kerkrade rapporteer of namens hulle optree, kan geen sprake wees nie (art 49). ’n Behoorllke kombinasie-akte sal vir ’n gekombineerde kerkraadsvergadering (feitlik ’n classis contracta) voorsiening maak sodat die kerkrade saam oor die diens van die sendeling toesig kan hou. Die kerkrade moet hulle verteenwoordigers

|71|

met behoorlike geloofsbriewe (art 33) stuur om die gekombineerde kerkraad te konstitueer. Die kerkraad moet hom daaraan verbind om die besluite te erken mits dit nie met die kombinasie-akte, die Skrif, Belydenis of Kerkorde (vgl art 33) in stryd is nie. Wanneer kerkrade in kombinasie mekaar nie vind nie, moet die saak na die klassis verwys word (artt 41 of 31).

Nòg die gekombineerde kerkraad, nòg die klassis mag op die selfstandigheid of huishoudelike verantwoordellkheid van enige plaaslike kerk inbreuk maak (art 30). Die ander kerke of klassis kan byvoorbeeld nie op sterkte van die “sending” finansiële verpligtinge van ’n plaaslike kerk verhoog nie (artt 30,84). Die kerk kan ook nie op grond van eie probleme eensydig aangegane verpligtinge verminder of beëindig nie. Die neiging om ’n groot getal kerke te “kombineer” met die oog op onderhoud van ’n sendeling, moet ontmoedig word. Daar moet liewers hoogstens drie kerke kombineer, terwyl ander kerke hulle tot finansiële sustentasie aan die kombinasie verbind. Die basiese beginsel vereis dat die sendeling deur ’n bepaalde plaaslike kerk uitgestuur word.

Die Sinode van 1967 het vir die bevestiging van ’n sendeling ’n afsonderlike Formulier vasgestel (243-247).

 

5. “Kerk” en “sending”

Gedurende die eeu van Europese kolonialisme het almal aanvaar dat die sending en sendeling van Wes-Europa na die sogenaamde “inboorlinge” (nie-blanke gemeenskappe) uitgaan. Die “blanke” kerke het op “beskawing” aanspraak gemaak en “voogdyskap” oor “sendingkerke” uitgeoefen.

Die GKSA het na die Tweede Wêreldoorlog op talle plekke sending (evangelisasle) onderneem, later ampte en kerkrade geïnstitueer sodat “jong” kerke tot stand gekom het wat nog geestelike en finansiële ondersteuning nodig gehad het. Die instituering van ’n “sendingkerk” het dikwels die einde van sending beteken en slegs finansiële sustentasie het van “sendende” na “sendingkerk” voortgegaan. Rapporte voor Sinodes 1949 tot 1976 handel oor “sending” asof dit ’n selfstandige aktiwiteit op homself is wat in kerkverband uitgevoer word. Selfs sendelinge en sendingkommissies het onder die noemer van “sending” die “jong” kerke bearbei en voorgeskryf, in enkele gevalle selfs waar die “jong” kerk ’n eie predikant gehad het. Soms het “blankes” rigoristies voorgeskryf hoe finansiële bydraes per jaar moet groei en sustentasie dienooreenkomstlg verminder. Sendelinge verbonde aan ’n blanke kerk, gesteun deur betaalde helpers wat as ouderlinge dien, het tegelyk soos superintendente in jong kerke en hulle kerkvergaderings opgetree Dergelike situasies is kerkregtelik onhoudbaar (art 84; GKSA 1961:118-119, 188-190; 1964:261-270).

Die wese en selfstandigheid van die plaaslike kerke vereis dat sendende kerke — in bepaalde plekke waar reeds ’n swart kerk geïnstitueer is, eers met daardie swart kerk of kerke ’n behoorlike ooreenkoms aangaan. Daarin moet die verhouding tussen die sendeling en die swart kerk, sowel as die opname en versorging van gelowiges wat die sending toebring, duidelik omskryf word. Ooreenkomste moet in die onderskeie klassisse van die “sendende kerk” sowel as de “jong” kerk in wie se gebied gewerk word, voorgelê en goedgekeur word.

Spoelstra, B. (1989) Art. 8

|72|

Artikel 8

Toelating tot die diens van die Woord op sterkte van buitengewone gawes

 

Artikel 8: Iemand wat nie gestudeer het nie, sal nie tot die diens van die Woord toegelaat word nie, tensy daar sekerheid is van sy buitengewone gawes, godsaligheid, ootmoedigheid en ingetoënheid, goeie verstand en onderskeidingsvermoë sowel as gawes van welsprekendheid. As so iemand hom aanmeld, moet die klassis, as die partikuliere sinode dit goedvind, hom eksamineer en na gunstige bevinding hom vir 'n tyd lank private preekproewe laat lewer, om dan met hom te handel soos die klassis stigtelik oordeel.

 

A. Kerkregtelik

1. Roeping en nie opleiding nie

Hierdie artikel maak geen prinsipiële uitsondering op die vorige artikels nie. Dit berus op die basiese beginsels wat vir die toelating tot diens (ook vir ouderlinge en diakens) in die kerk van Christus geld, naamlik dat Christus self manne tot sy diens roep en bekwaam (vgl art 3). Gewoonlik word geroepe predikante opgelei om die diens na behore te kan doen. Christus is egter soewerein en kan iemand direk sonder dat hy gestudeer het tot die diens van die Woord roep en bekwaam. Die Skrif bepaal nêrens dat akademiese opleiding ’n absolute vereiste vir toelating tot die diens van die Woord of enige ander diens in die kerk is nie.

 

2. Christus verleen die nodige gawes

Christus gee gawes aan elkeen wat Hy roep (Rm 12: 6, Ef 4: 7). Daarby is die dienaar en sy diens self ’n gawe van die Here aan die gemeente (Ef 4: 11). Op sterkte van die gawes kan ’n mens van die roeping seker wees Christus gee aan die een meer en aan die ander minder. Wie geroep is, ontvang genoegsame gawes. Opleiding slyp en ontwikkel die normale en gemiddelde gawes met die oog op die diens wat die eer van God en opbou van die gemeente moet bevorder (Ef 4, art 4 KO).

Christus kan egter deur die Heilige Gees iemand ook met soveel gawes bedeel dat studie nie noodsaaklik is om die diens te verrig nie. Hier is dus sprake van opvallende besondere gawes van verstand, hart, geloof, takt,

|73|

omgang en lewe waardeur die persoon die evangelie kan oopmaak, oordra en ander gelowiges daarmee kan opbou (Ef 4: 12) en met sy lewe vir Christus getuig.

Diegene wat nie die koninkryk van Christus nie, maar die kerk as uitgangspunt neem, kan nie art 8 KO onderskryf nie. Net soos ’n sekulêre instelling soos ’n bank sy personeel oplei, so verwag mense dat die “kerk” noodwendig, sy “personeel” op dieselfde wyse moet oplei. In hierdie benadering neem teologie en akademiese kwalifikasies dikwels die plek in wat die Skrif aan die gawes wat God gee, toeskrywe.

 

3. Christus sonder mense vir diens af

Die Skrif wys dat God mense soms direk vir ’n besondere diens roep en afsonder. Die Griekse woord aforeizein dui op grense bepaal. So is Paulus binne die apostolaat vir sendingwerk afgesonder (Dick 1978:295v). Talle sektes beskou dit as voldoende wanneer iemand op hierdie roeping aanspraak maak. Tog moet die kerk seker maak en vasstel of die aanspraak waar is. Slegs buitengewone gawes kan bewys lewer dat iemand wat nie gestudeer het nie wel tot die diens van die Woord geroep kan wees. Die kerklike ondersoek (examinatio) na die roeping (vocatio) wat by artikels 4 en 5 aan die orde was, moet dus nog steeds plaasvind. ’n Mate van hulp en voorligting kan aan iemand wat nie gestudeer het nie, gegee word met die oog op prediking, kerkregering of oriëntering ten opsigte van die diens wat hy beoog, maar dit moet gebeur nadat sy buitengewone gawes toegestem was.

 

B. Kerkregering

1. Redaksioneel

Die artikel het baie min sedert die 16de eeu verander. Die ou redaksie het die kandidaat net as “skoolmeester, vakman of ander” omskryf (Pont 1981:177). Die begrip “nie gestudeer het nie” wys dus op teologiese opleiding en nie op ander opleiding wat onderwysers, vakmanne of ander kandidate ontvang het nie.

Kerkregtelikes meen dat na “buitengewone gawes” ’n dubbelpunt geplaas moet word, sodat die artikel self die gawes nader aandui (Kruger et a11966:78). 

 

2. ’n Noodsaaklike maatreël in die kerkgeskiedenis

Gedurende moeilike beginjare in Nederland (1834,1886) sowel as Suid-Afrika (1859-1869) is dienaars van kerkweë volgens dié artikel gesoek en toegelaat. Die Sinode van Rustenburg 1863 het kerkrade versoek om uit te kyk vir manne met buitengewone gawes wat na een of twee jaar afronding by een van die twee predikante ondersoek kon word met die oog op toelating tot die diens

|74|

van die Woord. Hier het dit gegaan om eenvoudige boeremense wat prakties geen formele skoolonderrig gehad het nie. Die Sinode van Reddersburg 1866 het van die kandidate toegelaat, maar ander afgewys.

Wanneer genoegsame kandidate met teologiese opleiding voorsien word deur die kerke (vgl art 19), is daar groter weerstand teen hierdie wyse van toelating. Tans kry veral kerke uit die Derde Wêreld met aansoeke onder art 8 KO te doen. Die kerke in Sinode Middellande het selfs al oorweeg om die weg heeltemal af te sny. Tog loop dit gevaar om iemand wat Christus roep en bekwaam heeltemal uit die diens te weer, tensy hy eers gaan studeer — iets wat prakties onmoontlik, onwenslik of onnodig mag wees. Tog kan art 8 KO nie los van art 19 KO beoordeel word nie. Die kerke dra verantwoordelikheid ten opsigte van die voorsiening van bedienaars van die Woord.

 

3. Buitengewone gawes

Die gawes het primêr betrekking op die innerlike verhouding waarin die kandidaat persoonlik tot God staan. Verder raak dit sy optrede na buite, hoe hy hom openbaar en of hy met mense gemaklik kan kommunikeer. Die kandidaat moet werklik uitmunt in vroomheid, nederigheid, onbesproke sedelike lewe, skerp insig en goeie verstand. Dit moet opvallend wees en die persoon moet daarvoor alombekend wees. Buitengewone intellektuele en onderskeidingsvermoë moet veral blyk uit ’n natuurlike Skrifkennis en vermoë om dit uit te lê en die dieper sin daarvan te ontbloot. Sonder kennis van die grondtale moet hy kan eksegetiseer en Skrif met Skrif kan vergelyk, sinvol verklaar en toepas. Welsprekendheid hou in dat hy sy gedagtes ordelik, logies, helder en korrek moet kan oordra.

 

4. Die kandidaat moet hom by die kerkraad aanmeld

Die persoon wat aanspraak op roeping van die Here en die gawes sonder om te studeer, maak, moet (moontlik nadat vertroulike gesprekke gevoer is) hom by die kerkraad aanmeld. Die ouderlinge is immers juis daar om in besonder oor die kansel en die diens van die Woord toesig te hou (Hd 11: 30; 20: 28-30; artt 15,19).

Die kerkraad moet selfs oor aansoeke om in die teologie te gaan studeer, attesteer. In buitengewone gevalle waaroor artikel 8 handel, het die kerkraad nog groter verantwoordelikheid. Daarom kon die Sinode van 1863 verwag dat die kerkrade manne met besondere gawes moes uitwys. Die Sinode van 1869 (art 84) het vir aansoeke onder artikel 8 ’n aanbeveling van die Algemene Vergaderlng (klassis) by die kuratore vereis, maar die Sinode van 1888 (art 36) het tereg ’n attestasie van “aanprysing” van sowel die kerkraad as die destydse Algemene Vergadering (klassis) voorgeskryf toe die Kuratorium feitlik as partikuliere sinode (synodus contracta) oor aansoeke moes handel omdat persone daar die beste bekend is. Die Algemene Vergadering het in 1888 die werk van ’n huidige klassis en partikuliere sinode terselfdertyd gedoen.

Die kerkraad moet volgens eie diskresie sy werkwyse bepaal en daarvolgens sekerheid verkry voordat hy die aansoek na die klassis deurgee (art 33). Die

|75|

oordeel van die kerkraad behoort op intensiewe waarneming, intieme kennis, bewyse uit die persoon se optrede in evangelisasie, die gemeente en die gemeenskap te berus.

 

5. Die klassis moet die aansoek oorweeg

By ontvangs van ’n aansoek onder artikel 8 KO moet ’n klassis in die eerste plek vasstel of die kerkraad die aansoek behoorlik ondersoek het en op watter gronde die kerkraad dit as 'n aansoek wat aan artikel 8 voldoen, beskou. Indien dit sou blyk dat die kerkraad die aansoek maar net deurgee om dit van sy tafel na die klassis oor te dra, moet die klassis die saak eers terugverwys (art 30) en daarvan afstap.

Die klassis moet op sy beurt bepaal hoe hy van die kandidaat se buitengewone gawes seker wil maak. Die buitelyne van eksaminering onder artikel 4 KO behoort as leidraad te dien by die eksaminering. Die klassis kan selfs vereis dat die kandidaat eers in een of meer kerke verder gaan hulpdiens lewer om so in breër verband beoordeel te word. Die Kerkorde sê daar moet “sekerheid” wees, maar nie hoe dit vasgestel moet word nie.

Indien ’n klassis egter “sekerheid” oor die meriete van die aansoek het, bepaal artikel 8 dat die klassis dit na die sinode (partikuliere) moet stuur. Die advies van die sinode is nodig voordat die klassis met die ondersoek en toelating verder kan gaan.

 

6. Die advies van die Partikuliere Sinode

Die Part Sinode moet andermaal vasstel of die kerkraad en klassis die meriete van die aansoek behoorlik oorweeg het en of daar redelike “sekerheid” bestaan dat die kandidaat oor buitengewone gawes beskik.

Die Sinode moet hom verder net met die kandidaat op hoogte stel en met die oog daarop bepaal hoe die ondersoek moet verloop. Die aspekte van die proponentseksamens (art 4) kan ook hier as leidraad dien. Die ondersoek moet egter nie op akademiese of teologiese vakwetenskaplike kennis afgestem word nie, maar op ter sake Skrif-, Belydenis- en Kerkordebeginsels vir die diens van die Woord toespits. ’n Ondersoek na preekgawes, insig in die Skrif en regsinnigheid vereis dat die kandidaat ten opsigte van meer as een preek, wat binne ’n redelike tydspan gemaak is, geëksamineer word. Met die oog hierop kan die een sinode bepaal dat die kandidaat oor ’n tydperk preke sal maak en aan deputate sal voorlê wat aan ’n volgende sinode met die oog op ’n sinodale beoordeling sal rapporteer (vgl bls 76 oor proefpreke of “propositiën”).

Die artikel stel baie duidelik dat die partikuliere sinode eers positief moes geoordeel het oor die moontlikheid dat die kandidaat oor buitengewone gawes beskik, voordat 'n klassis in die lig daarvan die finale eksaminering en eventuele toelating tot die diens kan onderneem.

|76|

7. Die toelatingseksamen

Net soos by artikel 4 KO berus finale eksaminering by die kerke in ’n klassis. Wanneer die kandidaat in die hoof-afdelings (vakke) van die eksamen slaag, moet hy nog “vir ’n tyd lank privaat preekproewe” op ’n plek en wyse wat die klassis bepaal, lewer. Daaroor moet op ’n volgende klassis verslag gelewer word. Daarna oordeel die klassis of die kandidaat tot die diens van die Woord toegelaat kan word of nie. Indien die kandidaat toegelaat word, ontvang hy preekverlof en moet hy die Formulier vir proponente onderteken. Hy is dan volwaardig proponent soos enige ander wat studeer het (vgl art 84 KO). Waar die toelatingseksamen (art 4 KO) gebruiklik is, moet dit nadat 'n beroep ontvang is, afgeneem word.

Die lang prosedure en duplisering beklemtoon dat met versigtigheid, verantwoordelikheid na alle kante en omsigtigheid in ’n aanspraak op buitengewone gawes tot die diens van die Woord gehandel moet word.

 

8. Die reëling van preekproewe

Die Kerkorde is gewysig om nou net in artikel 8 van preekproewe melding te maak. Die DKO 1619 artikel 20 het voorsiening gemaak dat voornemende predikante op besluit van die klassis preekproewe (“propositiën”) in kerke waar daar meer as een bekwame predikant was, moes gaan lewer (Pont 1981:178; Bos 1950:12). Iets van vakleerlingskap skemer in die praktyk met “propositiën” deur. Die oefening van preekgawes kwalifiseer nie as “amptelike Woordbediening” nie maar as die uitspreek van ’n “stigtelike woord”. Dit is van die Reformasie af as ’n vorm van proponering beskou op grond waarvan kandidate opgelei, beoordeel en geëksamineer word. Gevolglik het die ou kerkvergaderings in Nederland bepaal dat die preekproewe altyd ander toesig en kontrole van ’n predikant en kerkraad moes plaasvind (Bos 1950:10-13).

Teologiese studente wat in hulle finale jaar “preekverlof” met die oog op oefening van hulle preekgawes ontvang, sal waarskynlik waardevolle praktiese begeleiding met die oog op afronding van hulle studie verkry, indien hulle ook verplig word om tydens hulle “preekverlof” voor ervare en bekwame predikante op te tree om daarna hulp en wenke van so ’n predikant te ontvang.

 

9. Die toelating van blindes tot die diens van die Woord

’n Blinde het die Sinode van 1888 (art 85) versoek om ander artikel 8 KO tot die diens van die Woord toegelaat te word. Die Sinode het kerkrade en klassisse (Algemene Vergaderings) verwys na die besluit van Sinode Middelburg, Nederland, 1581 (vraag 51) dat ’n blinde slegs by hoë uitsondering wanneer hy oor uitnemende geleerdheid en gawes beskik, toegelaat mag word. ’n Blinde word geadviseer om liefs saam met ’n predlkant wat oor gesig beskik, te dien. Die Sinode het dit bykans as onmoontlik vir ’n blinde beskou om tot die predikantsdiens toe te tree, maar die weg tog oopgelaat, waarskynlik omdat die moontlikheid nie op Skrifgronde verbied kan word nie. Christus kan immers by wyse van hoë uitsondering ’n blinde persoon tot die diens roep en bekwaam.

Deur moderne tegniese ontwikkeling kan al meer blinde persone die teologiese studie met gemak en onderskeiding voltooi. Indien slegs teologiese

|77|

opleiding die toelating tot die diens van die Woord bepaal, mag ’n blinde persoon moeilik vandag geweier word. Tog het die Sinode van 1961 (art 73) volstaan met die besluit van Sinode 1888. Die gawe van gesig (oë) behoort tot die normale gawes wat vir ’n predikant noodsaaklik is. ’n Blinde persoon moet ongetwyfeld oor buitengewone gawes beskik, anders mag hy toegelaat word tot skade vir homself en die kerk van die Here.

Spoelstra, B. (1989) Art. 9

Artikel 9

Toelating van predikers uit ander kerke of sektes

 

Artikel 9: Predikers wat uit ander kerke of een of ander sekte aansluit, sal nie tot die kerkdiens toegelaat word nie, behalwe met groot versigtigheid, en dit eers nadat hulle vir ’n sekere tyd goed beproef is.

 

A. Kerkregtelik

1. Die dienaar staan primêr in diens van Christus

Kragtens die koninkryk van God wat Christus op aarde verwerklik, roep Hy dienaars van die Woord. Gevolglik dien “predikante” ook in ander Christelike gemeenskappe en kan as sodanig erken word. Indien die predikantediens volledig aan ’n bepaalde kerkgemeenskap gekoppel was, sou so ’n kerkgemeenskap slegs sy predikante erken het. Die Kerkorde stipuleer nie watter voorgangers uit watter kerke erken word nie Dit reël slegs die orde tussen kerke in kerkverband. Hierdie artikel dateer uit die Reformasie toe, ten spyte van skerp verskil met Rome en Anabaptiste, voortdurend voorgangers uit daardie geledere hulle by Gereformeerde Kerke gevoeg het. Opmerklik genoeg verwys artikel 9 oorspronklik nie na Lutherse predikante nie.

Indien aanvaar word dat die koninkryk (heerskappy) van die Woord en Gees ook buite ’n bepaalde kerkverband na vore tree en die eie kerkgemeenskap nie die enigste openbaring van die liggaam van Christus is nie, soos Calvyn ook ware kerke ander die valse pousdom erken (Inst IV.1.vii), moet voorgangers buite eie geledere ook erken word. Wanneer hulle vir diens aanmeld, moet met hulle op ’n eie wyse gehandel word.

 

2. Toelating uit ander groepe verg groot verantwoordelikheid

Die Skrif waarsku dat iemand nie haastig die hande opgelê moet word nie (1 Tm 5: 22). Wanneer dit in eie geledere geld, is dit soveel te meer die geval wanneer iemand van buite kom. Die ondersoek (examinatio) moet as ’t ware nog deegliker plaasvind. Uit die aard van die saak sal ’n prediker uit ’n ander

|78|

kerkgemeenskap ’n ander opleiding ontvang het as wat by predikante-opleiding in eie geledere die geval is. Selfs wanneer aansoekers uitnemende geleerdes en predikante is wat oor dieselfde en beter opleiding hier te lande of van oorsee beskik, bepaal dit nie die toelating tot die diens nie. Gevolglik moet deeglik ondersoek en vasgestel word of die persoon die innerlike roeping ontvang het; of hy oor die nodige gawes vir die diens beskik; of hy werklik uit geloofsoortuiglng en sonder enige direkte of indirekte bybedoelings horn vir diens aanmeld. Eers daarna kan op sy toerusting en bekwaamheid vir die diens ingegaan word. Artikel 9 lê met een woord klem op deeglike ondersoek wat met groot versigtigheid oor ’n tydperk moet strek.

 

3. Die persoon moet nie ’n nuweling wees nie

Die Skrif waarsku daarteen om ’n “nuweling”, iemand wat maar onlangs tot geloof gekom het, tot ’n kerklike diens toe te laat. Die voorskrif geld per implikasie wanneer iemand van buite tot gereformeerde leer en lewe oorkom. Die Skrif sê dat wanneer iemand te gou en te maklik hoog aangeslaan en toegelaat word, dit die persoon soos die duiwel verwaand kan maak (1 Tm 3: 6). Die ouderlinge moet waak en juis verhoed dat “wolwe” die kerk indring (Hd 20: 28-31).

Wie van buite tot die diens toegelaat word het aanbevelings nodig (1 Kor 9: 2; 2 Kor 3: 1, 5: 12; 6: 4; 8: 22; 10: 17, 12: 11 ens). Sy stap moet as ’t ware deur almal verwag word op grond van die kennis wat hulle van sy leer en optrede opgedoen het. Kerklike getuienis is daarom selfs by ondersoek van ’n kandidaat uit ’n ander kerkgemeenskap van onmisbare belang. Getuienis van ’n paar gesiene persone is nie voldoende nie.

 

B. Kerkregering 

1. Redaksioneel

Die Dordtse KO het van “Nuwelinge, mispriesters, monnikke, diegene wat enige sekte verlaat” gepraat. In 1964 is hierdie omskrywing met “predikers” saamgevat, wat op sigself ’n wyer begrip as “predikante” is. Die kategorie predikers moet dus ruim verstaan word. Dit het betrekking op enige voorganger, selfs ’n Roomse priester, of geleerde (soos ’n monnik) of begaafde voorganger (uit ’n sekte) wat hulle op grond van veranderde oortuigings tot gereformeerde kerkdiens geroepe voel. Hierdie verskynsel het dikwels tydens die Reformasie na vore getree. Luther was immers self eers ’n Roomse priester en ’n monnik. Tydens die predikantenood in die Gereformeerde Kerke (1860-1869) het verskillende voorgangers in ander kerkgemeenskappe oorweeg om oor te kom (GKSA 1869:118; 1918: artt 49,112). Die kerke in die Derde Wêreld kry ook gedurig met dergelike gevalle te doen wat hulle miskien te maklik en te gou op een eksamen af toelaat. Hierdie “nuwelinge” verlaat dikwels die kerkdiens weer net so gou of moet afgesit word om redes wat moontlik hulle oorkoms veroorsaak het.

|79|

Die negatiewe formulering van die artikel toon dat in die reël niemand van buite (behalwe in hoë uitsondering) toegelaat word nie. Iemand mag selfs met die oog op bepaalde voordele soos lewensonderhoud, status, tipe werkgeleentheid of iets dergeliks om toelating aansoek doen. Hierdie motiewe mag weggesteek word onder skyn van ernstige oortuiging en verlange na diens. Slegs ’n bona fide aansoeker wat oor die nodige roeping, oortuiging en bekwaamheid beskik, moet toegelaat word.

 

2. Die aansoek om toelating

Die prosedure vir toelating van dienaars uit ander kerkgemeenskappe staan, in die lig van groot versigtigheid en sluit dus by dié van artikel 8 aan. Die kerklike weg vereis dat die aansoek by ’n kerkraad ingedien moet word. Die kerkraad moet so deeglik as wat enigsins moontlik is, ondersoek instel na en oordeel oor die persoon se lewe, agtergrond, beweegredes, dienslewering in sy vorige werkkringe, getuienis van die gemeenskap oor hom, sy opleiding, ensovoorts. Wanneer dit blyk dat die aansoeker uit oortuiging gemeenskap met die vorige kerkgroep opgesê het en reeds ’n tyd lank in die gemeente geleef en gewerk het, kan hieroor makliker duidelikheid verkry word.

Dit is moeiliker wanneer iemand wat nog aan ’n ander kerkgemeenskap behoort, hom vir diens aanmeld. Hy mag die gereformeerde preekdiens begeer maar tog redeneer dat die halwe eier waar hy is, beter sal wees as die leë dop wanneer die GKSA weier om hom toe te laat.

Die notule van die kerkraad wat die aansoek om toelating steun, behoort die agtergrond van die aansoek, die vernaamste feite met betrekking tot die aansoek, die oorweginge van die kerkraad en die uiteindelike besluit baie duidelik weer te gee. Die kerkraad moet hierdie stuk aan die oorspronklike aansoek heg en aan die klassis deurgee indien die kerkraad die aansoek aanbeveel.

Du Plessis meen daar moet gewaak word om iemand met “laer standaard opleiding” toe te laat (Kruger 1966:85). Van der Linde laat veel afhang “van waar hy vandaan kom” en die vraag of hy van sy “dwalinge genees” is (1983:42). Opleiding kan egter nie deurslaggewend wees nie. Iemand met ’n ander of “laer” akademiese opleiding, mag deur natuurlike gawes, selfstudie en ontwikkeling tydens sy diens meer toegerus wees as ’n ander met bloot formele kwalifikasies. Die formele agtergrond bepaal ook nie meganies iemand se godsdienstige en geloofsoortuigings nie. Iemand wat die gereformeerde godsdiens in skril kontras met sy oorspronklike opvattings leer ken het, mag juis daarom van sterk oortuiging wees. Nietemin waarsku die Skrif teen “nuwelinge” en daarom moet die kerkraad van ’n aansoeker se oortuigings baie seker maak. Die kerkraad moet op die plaaslike vlak die persoon se motiewe binne die konteks van sy situasie vasstel. Geen meerdere vergadering kan met ’n paar formele vrae binne bestek van ’n eksamen en ex parte antwoorde, oor ’n persoon in sy totaliteit sekerheid verkry nie.

’n Kerkraad kan normaalweg met twee tipe aansoekers te doen kry. Eerstens mag ’n aansoeker oor formele opleiding tot die diens van die Woord en vorming

|80|

in dienservaring beskik. Die aansoeker moet inhoudelik deur deeglike ondersoeke evalueer word en nie bloot formeel aan sy akademiese studie gemeet word nie. Oorskatting van die waarde van akademiese opleiding is die grootste gevaar by die toelating van predikante. Die Kerkorde skryf groot versigtigheid en ’n proeftyd voor, waarna die aansoeker wat gestudeer het volgens die prosedure wat in artikel 4 KO bespreek is, toegelaat word.

’n Tweede kategorie aansoekers mag uit ’n sekte of ’n kerkgemeenskap kom, wie se teologiese opleiding glad nie met die eie vergelyk nie. So ’n aansoeker sal eers ook vir ’n behoorlike tydperk getoets moet word, voordat sy aansoek verder met die prosedures van artikel 8 behandel sal moet word. Artikel 9 moet dus hier weer met artikel 8 saamgelees word om verskerpte versigtigheid te verseker.

 

3. ’n Onontbeerlike proeftyd

Reeds in artikel 8 is melding gemaak van die proeftyd, proefpreke en “propositiën” wat sedert die Reformasie in gebruik was. Dit stel die kerk met die kandidaat en die kandidaat met sake, praktyke en beginsels in die kerk op die hoogte. Die noodsaaklike proeftydperk wat artikel 9 voorskryf, kan uiteraard slegs in ’n kerk (gemeente) gedoen word. Wanneer die kandidaat uit ’n ander kerkgemeenskap in die omgewing kom, sal die kerkraad moontlik reeds enigsins oor hom en sy diens kan getuig. Die proeftyd sou in so’n geval korter kan wees as in die geval van ’n betreklik onbekende kandidaat. Die kerkraad moet derhalwe die proeftyd bepaal. Eers wanneer die kerkraad die aansoek op grond van die proeftyd steun, kan die prosedure van artikel 4 of artikel 8 met die oog op beroepbaarstelling gevolg word.

Die aandrang op “groot versigtigheid” hou in dat kerkvergaderings die proeftyd kan verleng, of na ander kerke vir nog meer getuienis kan verskuif of na die kerkraad kan terugverwys. Die proeftyd moet die aansoeker van die onontbeerlike attestasie voorsien waarsonder iemand uit eie geledere selfs nie tot teologiese opleiding toegelaat word nie.

 

4. Die oordeel van die klassis en/of partikuliere sinode

In “groot versigtigheid”, veral in gevalle waar ’n persoon se opleiding en ervaring ingrypend met die gereformeerde praktyk verskil, mag die klassis eers nog een of meer ander kerkrade aanwys waar die kandidaat ’n verdere “proeftyd” kan deurmaak sodat ’n volgende klassis in die lig van die verslae van die kerkraad(e) met hom kan handel.

Die aansoek om toelating met die gemotiveerde aanbeveling van die kerkraad moet in die klassis dien (artt 4,8,33 KO). indien die aansoeker nie gestudeer het nie, volg die klassis die weg wat in artikel 8 aangetoon is. Die lang en soms omslagtige prosedure beoog om groot versigtigheid aan die dag te lê.

Indien die kandidaat onder artikel 9 iemand is wat ’n aanvaarbare predikante-opleiding geniet het, moet die klassis met deputate van die partikuliere sinode

|81|

na die proeftyd die beroepbaarstelling afneem. Die Sinode van 1869 het toe daar slegs Algemene Vergaderings was die Kuratorium van die Teologiese Skool die eksamen laat afneem. Die klassis met deputate van die partikuliere sinode moet tans predikante wat in terme van artikel 9 KO toegelaat word, beroepbaar stel. In hierdie gevalle is ’n preparatoire- of proponentseksamen (art 4) onontbeerlik, waarna die toelatingseksamen (peremptoire) nog in die klassis waar die persoon ’n beroep aanvaar, afgeneem moet word.

 

5. Kanselruil

Bediening van die Woord moet met die oog op die opbou van die gemeente geskied en nie met die oog op kerklike “demonstrasies” of verering van predikers nie. Daar moet versigtig omgegaan word met die sogenaamde kanselruil. Toe die Anglikaanse biskop in 1849 in Colesberg op die kansel van die Ned Geref Kerk toegelaat is, het dit ’n belangrlke bydrae tot die kerklike afskeiding in 1859 gelewer (Spoelstra 1963:73v). “Gebare” soos kanselruil kom maklik voor waar die rasionalistiese gees van godsdiensverdraagsaamheid en interkerklike samewerking heers en het met die bediening van die gemeente min te make.

Daarteenoor beweer sommige selfs dat ’n Geref kerkraad nie die reg het om iemand wat nie wettig “in die Gereformeerde Kerk” (enkelvoud, kollegium) beroep is nie, op die kansel toe te laat nie. Slegs in ’n uitsonderlike geval sou die kerkraad iemand met toestemming van die klassis kan toelaat (Van der Linde 1983:43).

Hierdie opvatting hou nie rekening met die feit dat die Kerkorde slegs orde tussen kerke in kerkverband reël en glad nie voorskrifte gee ten opsigte van situasies wat daarbuite val nie. Die Kerkorde kan nie die plaaslike kerke bind in wat tot hulle mees wesenlike taak behoort nie (Hd 20: 28-31; artt 15,30,84 KO). By kanselruil moet die kerkraad alle verantwoordelikheid neem en vooraf seker maak dat die prediker ’n erkende predikant en regsinnig in leer en suiwer in lewe is. Vanuit die kollegialistiese (kerksentriese) opvatting word soms die “kerk” waaruit ’n predikant kom, beoordeel, asof dit enige waarborg oor die predikant self gee. So ’n formele benadering mis die saak waaroor dit gaan.

Toe die Ned Geref Kerk van die OVS deur middel van kanselruil meelewing met die kerke in Transvaal na die Eerste Vryheidsoorlog wou betuig, het die Sinode van 1882 geoordeel dat elke kerkraad moet besluit watter “Evangeliedienaar” hy op die kansel toelaat. Die kerkraad moet hom daaroor voor die gemeente en voor “hoëre kerkbesture” kan verantwoord en kan instaan vir die regsinnigheid en goeie trou van so ’n predikant (GKSA 1882:34).

Net so het Sinodes nie aan Gereformeerde predikante voorgeskryf by watter gesindtes hulle mag preek nie. Die Sinodes het slegs geadviseer dat wanneer dit gebeur, daar aan die liturgiese bepaling in artikel 69 KO gehou moes word (GKSA 1876: Versameling van Algmene Bepalinge van Sinodes van die GKSA artikel 38(a)). Gereformeerde predikante preek dus nie elders op uitnodiging

|82|

omdat ’n Sinode dit toelaat nie, maar omdat Christus hom roep om die evangelie tydig en ontydig tot alle mense te laat uitgaan (artt 3,30 KO).

Die gangbare kerksentriese opvatting gee voor dat weerstand teen roetine kanselruil refleksie op ander kerkstrukture werp en weier om “eenheid van die liggaam van Christus” met kanselruil te demonstreer. Die rede vir kanselruil moet primêr die belange en ordelike bediening van die gemeente in gees en waarheid (Joh 4: 23) wees en alle vertoon- of demonstrasiesug tussen “kerke” of persone kragtig afwys. Die kollegialisme dring aan dat “sinodes” kanselruil tussen “kerke” (as strukture) moet voorskryf omdat prediking van die erkende “kerkgenootskap” sou uitgaan. Vanuit die koninkryksperspektief geld die beginsel dat Christus bepaalde dienaars aan ’n bepaalde gemeente verbind het (Ef 4: 11-16) en toesig oor die kansel en Woordbediening aan die ouderlinge opgedra het (Hd 20: 28; artt 2,15). Dit val buite die jurisdiksie van klassisse en sinodes, behalwe wanneer ’n kerkraad onder artikels 31 of 41 advies vra.

Spoelstra, B. (1989) Art. 10

Artikel 10

Kerklike bewilliging nodig om ’n beroep elders heen op te volg

 

Artikel 10: ’n Bedienaar van die Woord wat eenmaal wettig beroep is, mag die kerk waaraan hy verbonde is, nie sonder bewilliging van die kerkraad met die diakens en toestemming van die klassis verlaat om op ’n ander plek ’n beroep op te volg nie; en geen ander kerk mag hom ontvang voordat hy van die kerk en klassis wat hy gedien het, wettige getuienis van sy losmaking getoon het nie. 

 

A. Kerkregtelik

1. ’n Predikant bly aan ’n kerk verbonde, maar kan na ’n ander werkkring beroep word

By episkopaalse stelsels kan die hoër biskop die laer geestelikes verplaas. Ook in die Lutherse territoriale stelsel kan owerhede, superintendente of biskoppe dienaars verplaas. Op sterkte van verskillende Skrifgegewens, veral Ef 4: 11-16 (vgl Hd 11: 30, 14: 23, 20: 17,28; 1 Kor 12: 28; FiI 1: 1; 1 Tm 3: 5v; Tit 1: 5; Jk 5: 14, 1 Pt 5: 2 ens) het Calvyn uitdruklik bepaal dat elke predikant (ouderling, opsiener) sy eie kerk (gemeente) moet hê. Die predikant is altyd biskop (opsiener) van ’n gemeente (Calvyn 1951:333, IV.3.viii) Hy mag derhalwe nie in ’n ander se dienskring indring of sonder dat hy beroep en ordelik toegelaat

|83|

is, oral rondpreek nie. Hy is deur die reël van goddelike beroeping aan die kerk verbind. Tog is hy nie sodanig verbind dat hy nooit van standplaas mag verwissel nie. Dit mag ordelik gebeur wanneer “algemene nut” dit vereis en die verhuising nie van die predikant uitgaan na gelang dit vir hom persoonlik voordelig voorkom nie (Calvyn 1951:333, IV.3.vii).

 

2. Die Here roep ’n predikant deur middel van ’n kerk

Calvyn wys die aanstelling en verplasing van dienaars deur ’n persoon in hoër gesag radikaal af en vereis dat die verkiesing of uitwendige beroep moet uitgaan van die “eenstemmigheid en goedkeuring van die gemeente onder leiding van die herders” (Calvyn 1951:335, IV.3.xiv; kyk artt 3,4,5 KO).

 

3. In elke kerk regeer ’n raad van ouderlinge

Weliswaar is elke herder en ouderling individueel deur Christus innerlik geroep. Hy moet egter uitwendig ordelik in diens gestel word. Hy tree primêr kragtens sy roeping op gesag van Christus as opsiener op (Mt 18: 15; Hd 20: 28; 1 Tm 5: 17; Tit 1: 5-11). Nogtans gebruik die Skrif die meervoud ouderlinge as eenheid wat daarop dui dat hulle ook saam in gemeenskaplike sake opgetree het (Hd 11: 30; 20: 17; 1 Pt 2: 5). Calvyn wys hoe in die vroeë Christelike kerke in “elke stad” ’n “kollege of raad van ouderlinge” opgetree het (Calvyn 1951:337, IV.4.ii). Die herders en leraars moes toesien dat alles in die kerk van die Here welvoeglik en ordelik toegaan (1 Kor 14: 40). Hulle moes veral waak oor wie tot die gemeente as herder en leraar oorkom (Hd 20: 31). Aanbevelingsbriewe en getuienis wanneer ’n dienaar van een kerk na ’n ander gaan, was toe al gebruiklik (2 Kor 8: 18-24). In baie opsigte het die apostels toe gedoen wat kerke tans in kerkverband doen (Du Plooy 1982.174v).

Die verhuising van ’n predikant van een kerk na ’n ander, raak die kerke in kerkverband. Dit spreek vanself dat die kerke in klassikale verband hiervan moet kennis neem en moet approbeer (goedkeur). As sodanig gryp artikel 10 terug op artikels 3 tot 9 en ook reeds vooruit op artikels 29 37,41. Dit beklemtoon weer eens dat die artikels die kerklike orde gelyktydig en gesamentlik en nie in isolasie van mekaar nie, aandui.

 

B. Kerkregering 

1. Redaksioneel

Die DKO van 1619 praat in die eerste lid nie van “kerk” nie, maar van “gemeente”. Die predikant is wesenlik dienaar van Christus in ’n gemeente-as-mense situasie en is nie aan ’n onpersoonlike kerkstruktuur verbonde nie. Verder het die DKO van 1619 uitdruklik na die kontraktuele verbintenis verwys in die beroep wat die predikant onvoorwaardelik aangeneem het. ’n Kondisionele beroep is onaanvaarbaar omdat Christus onvoorwaardelik tot diens roep. Dit is later weggelaat sowel as die bepaling dat die “magistraat”

|84|

(die stadsowerheid) die ontslag moet toestem, een van die kompromisreëlings waarmee die kerke destyds offisiële sanksie vir die Kerkorde by die owerheid probeer verkry het.

 

2. Bewilliging van die Breë Kerkraad namens die gemeente

In die huidige praktyk besluit predikante toenemend alleen oor beroepe en kerkrade neem eenvoudig verlief met ’n besluit om te gaan of om te bly. Die predikant word al hoe meer in sekulelêre konteks as ’n dienaar binne ’n breë “kerkverband” beskou, sodat hy vryelik ’n beroep na ’n ander kerk kan opvolg.

Wanneer die koninkryk van God en ’n dienaar se diensverhouding tot Christus die uitgangspunt vorm, lê dit totaal anders. Na die approbasie van die gemeente tree die ouderlinge en diakens by die bevestiging namens die gemeente op (artt 4,5 KO). Dieselfde breër vergadering handel weer namens die gemeente. Wanneer aanname van die beroep bewillig moet word en die band tussen die predikant en gemeente losgemaak moet word. ’n Wedersydse band en verhouding wat in wese lewenslank kon weer, kan nie deur die predikant as een party alleen losgemaak word nie.

Goeie orde vereis derhalwe dat ’n beroep in die gemeente, voordat die predikant daaroor besluit, minstens drie agtereenvolgende Sondae afgekondig word. Gemeentelede kan inspraak uitoefen of stilswyend bewillig dat die ouderlinge en diakens namens hulle sal handel.

Die leraar behoort sodra hy die offisiële beroep ontvang het, die breë kerkraad daarvan te verwittig en om advies en voorbidding by die oorweging daarvan te vra. Hy staan op daardie oomblik tussen twee “beroepe” een in die kerk waaraan hy verbonde is en die ander na die kerk wat hom beroep het. Na albei kante kan positiewe en negatiewe oorweginge na vore tree. Die vraag is wat die Here wil hê hy moet doen. By kerkraad en leraar moet die koninkryk van God, die stigting, opbou en belange van die kerk waarin hy staan sowel as die arbeid wat tot die ander kerk roep, swaar weeg. Ongelukkig speel irrelevante, persoonlike en selfs sondige motiewe dikwels by beroep ’n beslissende rol, soos aanbod van hoër traktement, soek na “populêre” dominees, status, gesinsomstandighede of gesinsvoorkeure, ’n makliker werkkring, afkeer teen sekere tipes van gemeentes (bv plattelandse), ensovoorts. ’n Beroep lyk dikwels na ’n geleentheid om “moeilikhede” in ’n gemeente te ontvlug, net om dit elders weer te gaan voortplant!

Wanneer ’n dienaar die beroep oorweeg het, moet hy sy beslissing aan die ouderlinge en diakens met voorkennis van en onder voorsitterskap van die konsulent voorlê (art 33 KO). Indien daar nie veel verskil bestaan nie, kan dit op ’n vergadering sonder ’n konsulent (art 5) gebeur.

Die Kerkorde gaan daarvan uit dat predikante, kerkrade en die Klassis sal verseker dat beroepe verantwoordelik beslis word. Tog moes die Sinode van 1945 al adviseer dat dit nie wenslik is “dat ’n leraar wat nog geen twee jaar in sy gemeente werksaam is nie, beroep sal word, aangesien die korte bediening in stryd is met die belange van die gemeente” (1945:113). Die Sinode van 1879 het bepaal dat ’n gemeente wat ’n predikant binne sy eerste diensjaar beroep, ook die koste wat die gemeente wat hy verlaat met sy bevestiging

|85|

gehad het, moet vergoed. Die classis contracta (deputate van naburige kerke) behoort nie tot die aanneem van beroepe wat met advies van sinodes in stryd is, toe te stem nie.

Wanneer die predikant na minstens drie afkondigings aan albei betrokke gemeentes besluit het om die beroep op te volg, moet hy dit eers aan sy kerkraad saam met die diakens voorlê. Nadat die kerkraad sy besluit bewillig het, deel hy dit aan die kerk wat beroep het, mee. Indien ’n kerkraad ’n beroep wat ’n predikant wil opvolg nie wil of kan bewillig nie, kan arbitrasie van deputate van twee naburige kerke (classis contracta) of van ’n klassis gevra word (kyk art 41 KO). ’n Predikant wat die kerkraad wat beroep het van sy besluit in kennis siel voordat hy bewilliging van sy eie kerkraad verkry het, tree uiters onordelik op (Kruger et al 1967:85).

Dit het al gebeur dat ’n predikant wat ’n beroep na ’n ander kerk aanvaar het, sy besluit agterna verander en dan sê dat sy kerkraad nie die beroep bewillig het nie. Hierdie optrede is in stryd met die bedoeling van die Kerkorde, die waarheid en die goeie orde. In so ’n geval behoort daardie predikant slegs by sy kerkraad toestemming te vra (al het die kerkraad die beroep bewillig) om weer met die kerkraad by wie hy die beroep aanvaar het, te onderhandel. Indien albei kerkrade toestem, kan die predikant onthef word van die beroep wat hy aangeneem het.

 

3. “Wettige getuienis” van losmaking

’n Predikant moet “wettige getuienis van sy losmaking” voorlê by die kerkraad en deputate van die klassis (classis contracta) anders kan hy nie bevestig word nie. In die Kerkorde-boekie (1979:98v) verskyn ’n konsepvorm waarin die kerkraad (en diakens) verklaar dat hulle die beroep bewillig en dat die predikant losgemaak word van daardie kerk sodra hy bevestig is. Dit getuig verder (attesteer) oor sy leer en lewe en sy optrede as predikant. Die bewoording van hierdie “akte” veronderstel ’n ideale situasie en sluit af met ’n dankbetuiging en seënbede.

Die gesin van die predikant benodig uiteraard ’n ander attestasie by verhuising (art 82) omdat die attestasie vir die predikant oor hom as gelowige en dienaar handel.

Ongelukkig word die akte van losmaking en attestasie baie keer so oppervlakkig, onverantwoordelik en formalisties hanteer en eenvoudig uit die Kerkordeboekie deur ’n skriba afgeskrywe, geteken en afgestuur. Die kerkraad in wie se naam dit gedoen word, het dit dalk nie eers gehoor en goedgekeur nie. ’n Dominee mag groot probleme in ’n gemeente ondervind het en dan word uit die Kerkordeboekie getuig dat hy “al die tyd … sonder om aanstoot te gee, onbesproke in die gemeente verkeer het”. So ’n leuen is sonde teen die negende gebod en word dikwels geteken deur ’n konsulent, skriba en deputate van twee naburige kerkrade. Waar probleme en spanning geheers het, moet die kerkraad wat beroep het seker met waardigheid, verantwoordelikheid en min woorde daarvan in kennis gestel word. Dit mag immers weer rondom ’n bepaalde persoon na vore tree.

|86|

4. Toestemming van die klassis

Die klassis is ’n vergadering van naburige kerke (art 41). Die kerke kan in ’n klassis onpartydig oordeel oor die noodsaak, meriete en selfs teenstrydige oordele oor ’n beroep en daarin die belange van die kerk van Christus bo persoonlike belange plaas. Die kerke in die klassis is immers nie by die beroep betrokke soos die predikant en die kerke wat deur die beroep regstreeks geraak word nie (art 33 KO). Die approbasie of toestemming tot ontslag en bevestiging deur die klassis dien dus die goeie orde as dit verantwoordelik uitgevoer word. In praktyk neig dit daartoe dat die toestemming van die klassis ’n blote formaliteit by bevestiging en ontslag word (kyk artt 4,5), moontlik omdat belange van kerke tweede viool speel teenoor die wil en wense van predikante by beroepe.

In die Gereformeerde kerkreg is ’n klassis nie ’n struktuur op sigself nie. Gevolglik kan minder kerke in ’n classis contracta dieselfde as al die kerke in ’n klassis doen. Derhalwe het die Sinode van 1904 besluit dat twee naburige kerke by die losmaking en toelating van predikante optree. Die classis contracta moet in besonder seker maak dat die betrokke kerk en predikant mekaar volkome begryp oor die beroepsbrief, die getuienis (akte) van die kerkraad wat losmaak, die approbasie van die onderskeie gemeentes, die ordelike aanvaarding van die beroep nadat kerklike bewilliging verkry is, verantwoording oor die voortgang in bediening van die vakante kerk, ensovoorts (kyk ook by artt 4,5).

 

5. Kerklike verbintenis van predikante in transit

Die Kerkorde reël duidelik dat ’n predikant se losmaking eers van krag word wanneer hy in die kerk wat beroep het, ontvang en bevestig is. Voordat dit plaasgevind het, bly daardie predikant aan die kerk wat hy gedien het, ten volle verbonde, ook met betrekking tot onderhoud, toesig en eventuele tugoefening. Gevolglik moet losmaking en bevestiging spoedig op mekaar volg. Die kerk wat losmaking verleen het, behoort ook nie te beroep voordat die kerk wat beroep het hulle verantwoordelikheid en verpligting oorgeneem het nie. Agter in die Kerkordeboekie stel ’n konsepvorm wat aan vertrekkende leraars gegee word dat losmaking sal ingaan op die dag waarop die dominee hom aan die ander kerk ten volle verbind (1979:98v).

Spoelstra, B. (1989) Art. 11

|87|

Artikel 11

Die kerk moet die bedienaars van die Woord onderhou

 

Artikel 11: Die kerkraad wat die kerk verteenwoordig, is verplig om sy bedienaars van die Woord met behoorlike onderhoud te versorg en mag hulle nie die onderhoud weerhou ot hulle uit hulle diens ontslaan sonder kennis en goedkeuring van die klassis met advies van die deputate van die partikuliere sinode nie.

 

A. Kerkregtelik

1. Die koninkryk van God vereis die bediening van die Woord

By die vorige artikels is telkens op die sentrale beginsel gewys dat Christus sy heerskappy deur die bediening van die Woord en die Heilige Gees wat geloof werk, verwesenlik (Lk 4: 43; Mt 28: 19, Joh 14: 26; Rm 10: 12-17; Heid Kat S 2 en 48). Gevolglik moet die gemeente sorg dat die diens van die Woord onbelemmerd voortgaan.

 

2. Die gemeente moet die bedienaars van die Woord versorg

Die stam van Levi en die priesters wat die volk godsdienstig bedien het, het nie land geërf nie, maar moes deur die volk onderhou word (Nm 18: 20v, Dt 18: 1v). In die Nuwe Testament moet die wat onderwys ontvang al hulle gawe met die wat onderwys gee, deel (Gl 6: 6). Die gemeente moet bedienaars van die Woord onderhou omdat hulle die evangelie liefhet (FiI 4: 17; Heid Kat S 38). ’n Soldaat stry nie op eie koste nie. Wie ’n wingerd plant, moet van die vrugte eet. Diegene wat die evangelie preek, moet van die evangelie lewe (1 Kor 9: 6-14). In die reël moet die predikant hom as ’n soldaat van Jesus Christus voltyds wy aan sy roeping (2 Tm 2: 4).

 

3. Tentmakerbediening

Dit staan ’n leraar nogtans vry om nie van die reg op onderhoud gebruik te maak nie. Hy mag verlang om self in sy eie onderhoud te voorsien want die ware evangeliedienaar werk nie vir loon nie (1 Kor 9: 15-18). Hy dien vrywillig met die oog op die gemeente. Die gemeente is nie daar ter wille van hom nie (1 Kor 9: 19). Paulus was ’n tentmaker (Hd 18: 3). Daarom word die begrip “tentmaker-predikant” gebruik vir ’n dienaar wat in sy eie onderhoud voorsien maar (let wel!) so oorvloedig in die gemeente arbei dat die gemeente in geen

|88|

enkele opsig skade ly nie. Voltydse kerkdiens en volledige onderhoud geskied op die veronderstelling dat ’n predikant al sy tyd aan die bediening van die gemeente en evangelisasie na buite wy. “Tentmakery” het nooit in belang van die dienaar nie, maar ter wille van die kerke (koninkryk) geskied. Calvyn wys inmeng in ’n sekulêre beroep gevolglik skerp af.

 

4. Die gemeente het reg om ’n beroepsooreenkoms op te sê

Die beroepsooreenkoms tussen predikant en gemeente het kerkregtelike en kontrakregtelike implikasies. ’n Predikant kan sy ooreenkoms beëindig (artt 10,12). Net so kan die kerk die diens van die predikant beëindig in die gewone reg moet die “werknemer” gewoonlik die “werknemer” voor die tyd kennis gee dat ’n dienskontrak beëindig gaan word. Al is die predikant in kerkregtelike sin dienaar van Christus en nie ’n werknemer by die kerkraad nie, gee dit hom en die klassis uit ’n regsoogpunt eerder minder aanspraak om ’n ooreenkoms vol te hou wat die kerkraad nie meer kan of wil volhou nie. Soms moet die diens van ’n predikant in belang van die rus en opbou van die kerk van God dringend beëindig word.

 

5. Om vergenoeg te wees

Binne ’n kapitalistiese ekonomie beskou mense eiebelang, selfsug en jag na meer loon, selfs by predikante, as gewoon. Dit word met mag, geluk, status en sukses vereenselwig. In sosialisme beskou die werker weer dat hy reg het op die vermoë van die gemeenskap. Diens van die Woord wat primêr op die toewyding aan God gerig is (1 Tm 4: 8), word gevolglik met die oog op geld beoefen (1 Tm 6: 6-19).

Die predikant moet egter dieper waardes en sekerhede as rykdom verkondig en uitleef. ’n Geroepe bedienaar van die Woord moet weet dat sy diens nie volgens sekulêre norme van posevaluasie, studiejare en ervaring soos by staatsamptenare en in die privaatsektor beloon kan word nie. Die evangeliedienaar moet tevrede wees met wat hy het en in baie gevalle ter wille van Christus en sy gemeente gebrek ly (2 Kor 11: 16-33; Hb 13: 5; 2 Tm 2: 3).

Dominees wat geld en gemak najaag, wek bytende satire op. So vra die digter Adam Small (1973) die dominees met hulle skottels gebakte aartappels en duur motorkarre hoe klere van kameelhare en ’n dis van sprinkane en heuning hulle sal pas.

 

6. Inter-kerklike sustentasie

Die liefde en eenheid in Christus verplig die kerke om na mekaar se belange en behoeftes om te sien sonder om oor daardie kerke te heers. Kerke moet mekaar (of armes in daardie kerke) op ’n ordelike wyse help (Rm 15: 26,27; 2 Kor 8 en 9; Gl 6: 2). Daarom verleen die kerke onderling aan mekaar hulp of sustentasie om bediening van die Woord te laat voortgaan (Heid Kat S 38; GKSA 1964:392-408).

|89|

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

In 1581 het die Kerkorde nog slegs bepaal dat die gemeentes hulle dienaars behoorlik moes onderhou. Indien hulle dit sou nalaat, moes die klassis oordeel of die predikant van so ’n gemeente weggeneem moes word. In 1586 bepaal artikel 11 teenoor artikel 10: “Aan die ander kant sal die kerkraad … verplig wees om sy dienaars met behoorlike onderhoud te versorg en dit sonder kennis en oordeel van die klassis nie mag staak nie, wat ook wanneer middele vir onderhoud ontbreek, sal oordeel of die betrokke predikant nie verplaas kan word nie.” Artikel 11 bepaal dus ’n reg van die kerk parallel met die reg van die predikant in artikel 10. Die situasie is vandag besonder relevant in kerke van die Derde Wêreld waar finansiële nood soos tydens die Reformasie kan voorkom.

Artikels 10 en 11 dui op die bilaterale karakter van die beroepsverbintenis. Tegelykertyd aanvaar die kerke in kerkverband kragtens die band in Christus ’n mate van verantwoordelikheid om mekaar in so ’n situasie te help. Die Sinode van Utrecht 1905 in Nederland het die deputate van die Part Sinode by die klassis gevoeg (De Moor 1906:10). Dit versterk die gevaar van dominokrasie teenoor die kerkraad. Die bybring van deputate kos geld en is onnodig omdat wanneer ’n klassis verkeerdelik toestem om ’n predikant los te maak appèl na ’n die partikuliere sinode moontlik is (art 31).

 

2. Probleme met betrekking tot bepaling van “behoorlike onderhoud”

2.1 Salaris of traktement

Hoewel die Kerkorde die kerk reeds in die 16de eeu tereg vir onderhoud aanspreek, het die munisipaliteite predikante toe aangestel en gesalarieer. Staatsalaris vir predikante van die NGK en NHK was tot ongeveer 1875 in SuidAfrika ook die reël. Die GKSA het van die begin af elkeen sy eie predikant onderhou en staatsalaris in stryd met ’n vrye kerk beskou (Spoelstra 1963:217v,273; Van der Linde 1983:51; Kruger et al 1966:89).

Predikante is tot in die 20ste eeu met “traktement” onderhou wat uit ’n kontantbedrag per jaar, ’n pastorie, vervoerreëlings en selfs in natura ’n aantal sakke koring vir brood, gerwe gars vir perdevoer en hamels vir slagdoeleindes bestaan het. Die ou Sinodes verwys na Gl 6: 6 en het dit feitlik letterlik uitgevoer. Elkeen gee wat hy beloof het. Diakens moes reël en op toerbeurt uit die wyke die onderhoud aflewer. “Traktement” was destyds feitlik al waarvoor kerklik bygedra is. Vir ander uitgawes plaaslik of in kerkverband is gekollekteer.

Omdat ’n predikant ’n dienaar van Christus en nie ’n werknemer van die gemeente is nie, wys sommige “salaris” of salarisskale vir predikante prinsipieel af. Dieselfde kerke betaal egter aan teologiese professore as predikante “salaris”. Die salaris word selfs soms deur die Universiteit vasgestel. Kerkregtelik kan “salaris” net so wel as “traktement” in terme van artikel 11 as behoorlike onderhoud kwalifiseer.

|90|

2.2 Euwels aan “traktement” verbonde

Iemand in die private sektor moet met ’n “salaris” self sy onderhoud, lewenstandaard, huisvesting, voertuig, telefoon, ensovoorts bekostig. Omdat die kerk “behoorlike onderhoud” (traktement) moet voorsien (art 11), is veral na 1960 al meer geredeneer dat die kerk vir alle behoeftes van die predikant verantwoordelik is (Kruger ei al 1967:92). Dit grens aan sosialisme wat die gemeente ten volle vir die individu verantwoordelik hou en die predikant sy rentmeesterskap voor God ontneem. Beroepsbriewe het toenemend toelaes per kind, studiegeleenthede, biblioteek, inkomstebelasting of selfs verkryging van ’n eie huis op rekening van die kerk gediversifieer.

In die lig van inflasie alleen al moet ’n kerk wat die bediening van die Woord voorop stel, sy eie pastorie hê al sou dit verhuur word wanneer ’n predikant sy eie huis bewoon. Daarby moet die versorging nie per item die predikant probeer voorskryf nie. By die bepaling van predikantonderhoud word byvoordele ten opsigte van pastorie, vry telefoon, motortoelae, vry water en ligte, pensioenvoordele sonder bybetaling (art 13), ensovoorts dikwels verswyg sodat slegs die kontantuitkering met ander salarisse vergelyk kan word. Indien “salarisse” na buite vergelyk word, behoort salarisskale onvermydelik daarmee saam ingestel te word en die predikant ’n groter aandeel te neem in bekostiging van die items wat die ouderling en diaken uit hulle “salaris” bekostig om die kerk te bedien. Sommige beweer ’n pastorie benadeel ’n predikant, terwyl onderwysers vry woning toejuig. Niks verhoed ’n predikant om self beleggings (bv annuïteite met die oog op huisvesting by emeritaat) te doen nie.

 

2.3 Wanneer is onderhoud behoorlik?

“Onderhoud” kan slegs deur middel van ’n norm of maatstaf as “behoorlik” beoordeel word. Sommige neem al die behoeftes en begeertes van die predikant as maatstaf, bv grootte van huisgesin, studieskuld, predikant se belasting- en versekering-aanspreeklikheid, motorkeuse, lewenskoste in ’n bepaalde omgewing, lewenspeil van die betrokke gemeente, ensovoorts. Ander dink in terme van ’n willekeurige verhouding tussen ’n werkgewer en huurling. Teoreties kan onderhoud van predikant tot predikant en van gemeente tot gemeente verskil en nog as “behoorlik” beskou word (Van der Linde 1983:49v), maar kerkrade kan ook hulle verantwoordelikheid verwaarloos.

In praktyk word oor die algemeen ’n kontantuitkering met byvoordele vasgestel voordat die kerk weet wie beroep is en wat sy “behoeftes” is. Gangbare en vergelykbare “salarisse” uit die sekulêre wêreld dien baie keer as norm. So maak beroepsbriewe soms selfs van “vakansiebonusse” en onthaaltoelae (wat op etiese gronde betwyfel kan word), melding. Hoewel van “traktement” gepraat word het ons in praktyk dikwels met gewone salaris te doen. Klassisse het na 1960 al meer begin om “riglyne” (salarisskale) vir onderhoud van predikante neer te lê en deur middel van visitasie (art 44) af te dwing. Versorging het so al meer (ten spyte van artt 11 en 30) gesinodaliseer en ’n salariskarakter verkry.

|91|

Behoorlike onderhoud moet onvermydelik aan die hand van een of ander vergelykbare salaris uit die omgewing as norm bepaal word. Die Emeritaatsfonds (ou EPPW en W) neem reeds pensioen van ’n senior lektor as norm (1982). Miskien kan die salaris van ’n skoolhoof as basis geneem word en daarvan die direkte voordele soos ’n gratis pensioenfonds, vry woning, subsidie in motortoelae, ensovoorts afgetrek word (dit wil sê voordele wat die skoolhoof nie ontvang nie). ’n Predikantsalaris wat aan ’n vergelykbare norm beantwoord, stel die dominee in staat om self sy kinders te laat studeer, sy motor te herstel, versekering en voorsorgfondse te bekostig. Rasionalisering vereis bydraes van kerk en predikant vir ’n behoorlike uitkering by aftrede. Die advies van Sinode 1985 dat kerkrade predikante tydens diens aan eie huise moet help, is in stryd met artikel 30 KO geneem, moeilik uitvoerbaar en kon deur die Sinode self as ’n voorsorgfonds by die Emeritaatsfonds aangebied word. So ’n voorsorg lê op die weg van ’n sinode. Die huis wat ’n predikant tydens sy diens benodig, verskil van wat hy by aftrede sal nodig hê.

 

2.4 Gemeentelike of sinodale onderhoud?

Prinsipieel is die kerk (gemeente) deur middel van die kerkraad vir die onderhoud van predikante verantwoordelik. In die kollegialistiese kerke is die eertydse owerheidsalarisse en salarisskale onder sentrale sinodale beheer oorgeneem en uit ’n sentrale sinodale kas betaal. Die GKSA het in 1949 in die lig van die selfstandigheid en verantwoordelikheid van die plaaslike kerk (Van der Linde 1983:49) geweier om dié voorbeeld te volg. Ondertussen het dieselfde kerke, veral vanaf 1982, ten opsigte van artikel 13 wat dieselfde beginsel as artikel 11 vir elke plaaslike kerk stel, tog ’n Emeritaatsfonds sinodaal aangepak. Daar heers duidelik teenstrydige persepsies asof daar beginsels op die spel is. Realiteite verplig waarskynlik vandag salarisskale met pensioenvoorsiening as ons van “behoorlike onderhoud” in kerk en kerkverband wil praat.

 

3. Weë en middele om bediening van die Woord te bekostig

Gedurende die vorige eeu het die kerkraad op die platteland voor ’n beroep elke gesinshoof gevra na sy “belofte” vir die “traktement” van die predikant Dit beklemtoon die vrywillige liefde en verantwoordelikheid vir die diens van die Woord wat elke gelowige moet motiveer. Daarvolgens het die beroepsbrief die traktement “aan hierdie standplaas verbonde” vasgestel. Vermoënde mense het dikwels baie minder as ander gegee. Gevolglik het kerkrade toe probeer om mense se vermoë te skat en hulle te “raam” — ’n stelsel wat moeilik regverdig kon werk. Daarna is liewers gevra dat mense van hulle bruto of netto inkomste ’n eenvormige persentasie (bv 3%) as kerklike bydrae afdra wat die kerkraad in staat sou stel om binne perke vir uitgawes te begroot.

In kerke in die Derde Wêreld het die idee van ’n eenvormige “Iidmaatskapfooi” soos by ’n sekulêre vereniging ingeburger. Hier staan “lidmaatskap” aan “kerk as instituut” en nie die bediening van die Woord nie, voorop. Soms is ook baie negatief geoordeel oor pogings van kerke om deur middel van

|92|

gesamentlik pogings soos verkopings, middele vir kerklike doeleindes in te samel (GKSA 1955:376-385). Dié oordeel kan betwis word. Indien die ware wat verkoop word van die “lidmate” self kom en deur hulle arbeid verwerk-en-verryk is, kan die verkoping daarvan tog nie veroordeel word nie. Die onderskeid tussen “kerklike doeleindes” en “Christelik-nasionale en maatskaplike lewe” (1955:384) is iets wat die Bybel nie ken nie en waarskynlik op Kuyper se skeiding van kerk as “instituut” en “organisme” berus.

Soms beskik kerke oor fondse of bemakings wat as ’t ware die gemeente se verpligtinge kan oorneem. In die lig van die kerk se dankbaarheidsplig (Heid Kat S 38) mag dit nooit gebeur nie en moet dergelike inkomste vir ander doeleindes in diens van die koninkryk verantwoordelik bestee word.

Die kerkraad moet die finansies volgens erkende norme administreer en noukeurig kontroleer. ’n Begroting moet jaarliks opgestel en stip daaraan gehou word. Die kerkraad moet toesien dat vir elke ontvangs ’n kwitansie en vir elke uitbetaling ’n magtiging uitgereik word. Jaarlikse oudit deur ’n bekwame instansie is onontbeerlik. Besware dat dit in ’n “kerk” nie pas nie, is onsin. Hoe smartlik ookal, diefstal van kerkgeld kom voor en sonder kontrole kan administrateurs onder verdenking geplaas word. Die eer van God, sy kerk en van diegene wat die geld hanteer, vereis stiptelike en gereelde finansiële kontrole. Twee handtekeninge op ’n kerktjek is dan ook nie ’n mosie van wantroue in die kassier nie.

Kerke wat ’n predikant nie finansieel kan onderhou nie, moet hulle na die klassis wend (art 41). Daarom betrek artikel 11 ook die klassis. Die aansoek vir sustentasie by die klassis moet berus op geouditeerde finansiële state (die werklike posisie) en bewyse dat die gemeente na vermoë bydra, verantwoordelik begroot en op ’n tekort afstuur. Wanneer ’n kerk glad nie meer 'n predikant kan onderhou nie, kom ontslag onder artikel 11 ter sprake.

’n Gemeente wat die bediening van die Woord waardeer, sal daarvoor offer. Gewoonlik stel klassisse en partikuliere sinodes eie reglemente op waaraan aansoeke om sustentasie moet beantwoord en daarin word bogenoemde vereistes vir die aansoek om sustentasie gestel.

 

4. Sending of sustentasie

Gewoonlik het kerke uit die Eerste Wêreld “sending” onder mense van die Derde Wêreld gedoen en bekostig. “Sending” het daarna verkeerdelik ’n noemer vir “sustentasie” van selfstandige “swart” kerke geword. Wanneer blanke kerke swart kerke finansieel onderhou, kom dit paternalisties (vgl art 84) oor. Dit hou daardie kerke afhanklik, smoor inisiatief en verhoed dat eie finansiële kontrole, begroting en administrasie ontwikkel.

Sodra ’n kerk selfstandig word, moet dit jaarliks vir sustentasie by die eertydse sendende kerk aansoek doen. Verder moet die twee kerke ooreenkom hoe die sending (evangelisasie) verder saam voortgesit gaan word en die ooreenkoms aan die onderskeie klassisse meedeel. Die kerkraad moet sorg vir absoluut noukeurige finansiële administrasie, baie gereelde oudit en moet nie huiwer om van elkeen wat kerkgeld hanteer die uitreik van kwitansies te verwag en boeke gereeld (maandeliks) te kontroleer nie.

|93|

5. Ontslag van ’n dienaar van die Woord

Wanneer ’n kerkraad namens die kerk oortuig is dat hy die onderhoud van die predikant moet staak, deel hy sy besluit met motivering aan die klassis mee om goedkeuring (approbasie) te verkry. In die klassis moet deputate van die Part Sinode adviseer. Die advies staan op rekening van die deputate en geskied nie namens die partikuliere sinode nie, anders sou byvoorbeeld appèl (art 31) teen die klassis nie moontlik wees nie en hierdie persone (vgl art 49) die besluite van ’n wettige kerkvergadering dikteer (kyk artt 30,84). Die klassis is nie verplig om die advies op te volg nie, waarna die deputate daarby kan berus of na die partikuliere sinode appelleer. Geen kerkraad kan egter verplig word om ’n predikant te onderhou wanneer die klassis sy ontslag toegestem het nie.

Die mees algemene rede vir ontslag volgens artikel 11 behoort finansiële onvermoë van die kerk te wees. Soms wil ’n kerk ’n bepaalde predikant se diens nie langer hê nie, en hom nie verder onderhou nie, alhoewel hy hom nie aan ’n skorsingswaardige sonde skuldig gemaak het nie (artt 79,80). Hy mag slordig, onbekwaam of lui wees, aanstoot gee, twis, veeleisend, onsmaaklik en afstootlik optree of sonder vrug werk (Bos 1950:303; Kruger et al 1966:93v). Wanneer ’n “ondraaglike toestand” ontstaan het, mag die kerkraad oordeel dat die predikant nie langer met vrug kan dien nie. Geen persoon en geen instansie kan ’n kerkraad dwing om ’n predikant te onderhou wat die kerk van Christus skade doen nie.

Wanneer die klassis adviseer dat die kerkraad ’n predikant sal ontslaan, moet volle en/of later gedeeltelike onderhoud verseker word tot op datum waarop die ontslag van krag word. indien nodig moet die klassis gepaste hulp verleen. Die periode van ongeveer drie maande se vasgestelde onderhoud word soms “waggeld” genoem Die klassis stel onmiddellik al die kerke in kerkverband van die besluit in kennis en meld dat indien die predikant nie voor die bepaalde datum na ’n ander kerk beroep word nie, hy ipso facto van sy diens ontslaan is en sy beroepbaarheid as predikant verval (kyk artt 3,4,5 en Calvyn Inst IV.3.vii). Wanneer die datum verstryk, vind geen verdere handeling plaas nie en die persoon gaan eervol oor tot “‘n ander staat van lewe” (art 12).

Spoelstra, B. (1989) Art. 12

Artikel 12

Die predikant is lewenslank geroep

 

Artikel 12: Omdat ’n bedienaar van die Woord wat eenmaal wettig beroep is, lewenslank aan die kerkdiens verbonde is, mag hy nie tot ’n ander staat van die lewe oorgaan nie, behalwe om gewigtige redes waaroor die kerkraad en die klassis moet oordeel met advies van die deputate van die partikuliere sinode.

|94|

A. Kerkregtelik

1. Christus roep tot diens

Christus roep mense tot sy diens (art 3). Gevolglik kan niemand ’n persoon wat nie meer die roeping voel nie, in die diens dwing of hou nie. Christus roep ook tot dienste van ’n ander karakter op ander lewensterreine. In uitsonderlike gevalle word ook predikante op sterkte van besondere aanleg en gawes deur middel en op aandrang van die gemeenskap vir ’n ander taak geroep. Die inisiatief gaan in daardie geval nie van die predikant uit nie.

 

2. Die predikant mag kragtens gewone reg sy diens beëindig

Net soos die kerk die band tussen kerk en predikant ordelik kan opsê (art 11), kan ’n predikant ook sy diens opsê. So werk Demas saam met die apostel (Kol 4: 14; Fm: 24) maar rig hom daarna op “die teenwoordige wêreld” in Tessalonika (2 Tm 4: 10). Hoewel ’n persoon in eie reg dié keuse uitoefen, sê Calvyn dat die ware dienaar onder goddelike beroeping nie self mag dink aan verhuising en ontslag al na gelang dit hom voordelig voorkom nie (Calvyn 1951:333).

 

3. Die amp is diens en nie ’n titel of status nie

Die Skrif gebruik deurgaans (behalwe by Hb 5: 4) die begrip diens (diakonia) en woorde wat op taak, funksie of werk dui. Selfs die enkele keer waar “eer” in verband met die diens ter sprake kom, hou dit verband met iemand wat diens verrig en onder beroep van God staan (1 Tm 5: 17; Hb 5: 4; GKSA 1964:600). Die Skrif ken gevolglik nie ’n amp of posisie as waardigheid of status op sigself nie.

 

4. Lewenslange diens

Die kerkregtelike gronde wat op die roeping van God tot diens wys (kyk by art 3; Hb 5: 4) hou in dat die diens lewenslank (so lank dit God behaag) moet wees. Aan die ander kant moet die gelowiges erken dat die Here iemand ook weer die roeping kan ontneem. Die geval van Demas (1 Tm 4: 10) is hiervan ’n voorbeeld. Die wyse waarop die Skrif oor die roeping van die dissipels en apostels handel en aandui hoe in die oudste kerke die apostolaat in die diens van herderopsieners voortgesit word (1 Tm 3:15; 2 Tm 2:1-6, 15; 4:4 ens) wys op lewenslange diens sodat Rome selfs tradisioneel die amp as onverloorbaar beskou (character indelebilis). Die diens verdien dus al ons Iiefde, al ons tyd, al ons volharding en algehele toewyding (Kruger et al 1966 96). Hierdie gereformeerde diensbegrip kom vandag onder druk namate die opvatting oor “amp” sekulariseer en as ’n posisie in die kerk by kerkvergaderings verstaan of horisontaal as ’n vrywillig gekose “beroep” of professie beskou word.

|95|

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Oënskynlik maak die artikel voorsiening daarvoor dat iemand op eervolle wyse “kan oorgaan tot ’n ander staat van die lewe” (Van der Linde 1983:56). In werklikheid het die Sinode van Dordrecht 1578 eers net die positiewe beginsel van lewenslange diens gestel en daarmee die deurlopende Skrifgegewens oor die opsieneramp korrek weergegee. Ons leef in ’n gebroke menslike werklikheid. Gedurende die Reformasie het gemeentes selfs verdwyn en moes predikante ’n ander heenkome soek. Gevolglik het die Sinode van Middelburg 1581 ontslag by wyse van uitsondering moontlik gemaak en veronderstel dat nie die persoon nie, maar ’n partikuliere sinode sou oordeel of dit geregverdig is (Bos 1950:62). Tereg het die kerke te Den Haag in 1586 die klassis in plek van die partikuliere sinode gestel en eers in 1920 is deputate van die Part Sinode bygevoeg (Bos 1950:63). Tussen die lyne kan mens lees dat ’n nuwe gees die beginsel van “lewenslange diens” begin betwyfel en probeer het om nie-kerklike werkkringe wat ’n “geestelike karakter” (let op die piëtistiese norm) dra, by “kerkdiens” te betrek (Bos 1950:64). So bepaal en beskik die kerk in plaas van Christus die ampstermyn. In die Gereformeerde Kerken van Nederland het hierdie sekularisering verder gegaan sodat die “amp” vandag volkome as ’n funksie “in” en “van” die “kerk” (as genootskap) beskou word.

 

2. Eiemagtige en eiewillige neerlê van amp is trouelose diensverlating

Enige predikant kan regtens sy “bedanking” vir die roeping by ’n kerkraad indien. Wanneer dit gebeur, moet dit dadelik voorlopig aanvaar word. In ’n sekulêre beroep kan iemand nog kontraktueel verplig word om ’n tyd van “kennisgewing” uit te werk tot ’n plaasvervanger gevind word. Dit is egter in die kerk onmoontlik om iemand wat verklaar dat hy hom nie meer van Christus geroepe voel tot die diens nie en ’n ander beroep wil gaan beoefen, selfs vir ’n enkele verdere diens as predikant te erken.

Dit kan gebeur dat ’n predikant weier om op die oordeel van kerklike vergaderinge te wag of om hom daaraan te onderwerp en eiemagtig besluit om die diens neer te lê. In hierdie geval sal die kerkraad die smartlike feit van trouelose verlating van die diens aan die klassis moet berig wat dit moet konstateer en die kerke in kerkverband daarvan in kennis stel. Die oordeel kan selfs in afwesigheid van die persoon gevel word. So ’n persoon sal kwalik ooit weer as predikant toegelaat kan word, omdat hy die roeping nie geag het nie (vgl art 80 KO).

 

3. Oorgaan tot ’n ander “staat van lewe”

Bostaande uitdrukking uit die ou Nederlandse Kerkordes berus waarskynlik op die ou standeverdeling waar predikante (clerus) ’n afsonderlike sosiale “stand”

|96|

beklee het. Die eie stand het ’n besondere “status”, “radikaal” of “ampstitel” verleen (Bos 1950:64, GKSA 1939:76; 1942:116).

In die GKSA het die vraag of ’n predikant wat as parlementslid verkies word, “oorgaan tot ’n ander staat van lewe” baie aandag geniet (Acta 1916:90; 1930 meerderheidsrapport p 145, minderheidsrapport p 148; 1933:53; 1939:76; 1942:116). Die Sinode van 1930 stel “geestelik” teenoor “wêreldlik” en onderskei in Kuyperiaanse sin die “terrein” van “besondere” van “algemene genade” en oordeel dat ’n predikant nie parlementslid mag word nie. ’n Minderheid redeneer dat ’n parlementslid as “volkverteenwoordiger” nie ’n professionele politikus is nie.

Dit illustreer die verwarring wanneer die diens van predikant as ’n “beroep” ontleed en losgemaak word van die “kerkregtelike” vraag of die predikant nog primêr dié diens verrig waartoe hy geroep was (artt 2,3,16). Die Sinode van 1964 het aan die verwarring ’n einde gemaak, vorige sinodebesluite herroep en gewys dat artikel 12 nie reël hoe ’n ex-predikant sy amp mag behou nie, maar aantoon hoe hy eervol uit die diens ontslaan word. ’n Predikant kan slegs as sodanig erken word wanneer hy die werk doen wat in sy beroepsbrief omskryf is (Acta 1964:100). Sodra ’n predikant uit daardie diens tree, beklee hy de facto nie meer die amp (diens) nie en moet hy daarvan ook de jure ordelik losgemaak word, anders gee hy valslik voor om ’n predikant te wees. Die uitsondering op die reël word in artikels 13 en 14 gereël.

 

4. Die oordeel oor ontslag

Die kerkraad moet eerstens oor die redes waarom ’n predikant sy diens wil verlaat, oordeel. Dit hou in dat ’n predikant die redes wat ontslag mag noodsaak aan die kerkraad moet voorlê, terwyl hy self nog nie daaroor geoordeel en besluit het nie.

Indien die kerkraad oordeel dat die redes gewigtig is en die predikant tot ontslag uit sy diens verplig, verwys die kerkraad die redes (gronde) vir ontslag na die klassis om daaroor finaal te oordeel nadat die deputate van die Part Sinode (art 49) hulle advies gegee het. Indien die klassis die advies nie aanvaar nie, konformeer die deputate met die klassisbesluit of appelleer dadelik na die Part Sinode (art 31).

Wanneer die klassis oordeel dat die redes ontslag noodsaaklik maak, verleen die kerkraad eervol ontslag uit die diens van predikant. So ’n persoon is van daardie oomblik af nie meer predikant nie en mag nie meer uitgenooi word om, op grond van wat hy vroeër was, in kerke te preek nie (Bos 1950:64).

 

5. Gewigtige redes vir ontslag

Die Sinode Leeuwarden 1920 wou nie ontslag volgens artikel 12 reglementeer nie. Elke geval moet op meriete behandel word. Daar moet primêr uitgemaak word of die predikant nog oortuig is dat God hom tot die kerkdiens geroep het (art 3). In bepaalde gevalle mag ’n predikant beweer dat hy nog geroepe voel, terwyl hy klaarblyklik onbekwaam is of volharding en deursettingsvermoë ontbeer. Iemand wat volgens artikel 11 op “waggeld” geplaas was en in die

|97|

bepaalde tyd nie ’n beroep na ’n ander kerk ontvang het nie, moet uit die diens tree. Iemand wat byvoorbeeld deur ’n motorongeluk fisies vir predikantsdiens onbekwaam geword het, mag eerder as om vir altyd siek en nooit dood met emeritaat ’n las op die kerk te wees (art 13), liewers in ’n ander beroep of besigheid sy brood gaan verdien.

Indien ’n predikant self die redes verskaf waarom hy in ’n beroep of besigheid wil ingaan, moet hy aantoon waarom juis hy en niemand anders daardie werk kan en moet doen. Kortom, wanneer iemand die roeping tot predikant nie meer vir homself ken nie, moet hy ter wille van die gemeente uit die diens “eervol” ontslaan word.

 

6. Terugkeer tot die diens van predikant

In Nederland waar die roeping tot diens van predikant grootliks tot ’n amp, posisie of betrekking “in die kerk” verselfstandig is, word van “herstel in die amp” gepraat. So laat die Sinode van Den Haag 1914 dit afhang van die tipe “staat van die lewe” waarvoor die ex-predikant sy diens verruil het, sy motiewe by diensverlating en by sy aansoek om terug te keer. Opportunisme, materiële of ander voorregte (bv pensioen), mag geen rol speel nie.

Kerkregtelik kan daar glad nie van “herstel in die amp”, maar slegs van terugkeer tot die diens sprake wees. So ’n persoon moet weer deur ’n klassis geëksamineer word met die oog op beroepbaarstelling (art 4). Die klassis sal in diepte moet ondersoek en vasstel of die aansoek geloofwaardig aantoon waarom die roeping eers verloor en tans weer terug ontvang word. Die kerke durf geen subjektiewe willekeur of spel met die roeping tot die diens van predikant duld nie. Wanneer iemand wat sy amp eiewilllg neergelê (“bedank”) het, moontlik toe tugstappe gevrees was of omdat hy die roeping verloor het (art 12), tot die diens wil terugkeer, moet baie versigtig opgetree word.

Iemand wat weer tot die diens wil toetree, moet toestemming en selfs ’n aanbeveling van die kerk waar hy woon sowel as van die kerk en klassis waar hy uit die amp ontslaan is, voorlê. Berou is geen afdoende rede om weer beroepbaar gestel te word nie. Die beslissende vraag is of die persoon weer met stigting die kerk sal en kan dien en of hy die onmisbare gawes van ’n ware evangeliedienaar soos getrouheid, roepingsbewustheid, selfverloëning, volharding, ensovoorts besit in die kerklike ondersoeke moet sy motiewe vir terugkeer indringend ondersoek word (GKSA 1973:318). In geval van die minste twyfel moet nie aan beroepbaarstelling gedink word nie.

Mense is geneig om die persoon wat terugkeer simpatiek te oorweeg en die kerk en koninkryk van die Here agter te stel. Persone het al teruggekeer, en die ou probleme is herhaal. ’n Ander is beroepbaar gestel, het beroepe bedank, diens aanvaar, op vroeë ouderdom geëmeriteer sodat dit lyk asof nie diens nie, maar emeritaatsgelde die terugkeer motiveer het.

Spoelstra, B. (1989) Art. 13 & 20

|98|

Artikel 13 en 20

Onderhoud van emerituspredikante en hulle afhanklikes

 

Artikel 13: As ’n bedienaar van die Woord, volgens oordeel van die kerkraad met goedkeuring van die klassis en advies van die deputate van die partikuliere sinode onbekwaam word vir die uitoefening van sy diens weens ouderdom, siekte of andersins, behou hy die eer en die naam van ’n bedienaar van die Woord en moet die kerk wat hy gedien het, hom in sy nooddruf eervol versorg.

Artikel 20: By die afsterwe van ’n bedienaar van die Woord moet die kerk wat hy gedien het of in die geval van ’n professor aan die Teologiese Skool, die kerkverband, sy weduwee en wese eervol in hulle nooddruf versorg.

 

A. Kerkregtelik

1. Die diens bind aan die kerk

Kragtens die basiese beginsels dat Christus mense “lewenslank” tot sy diens roep (artt 3,12), verstryk daar nie ’n loonkontrak tussen ’n predikant en die “kerk” waarin hy dien wanneer hy nie meer kan werk nie. Die dienaar moet nog op grond van die band in Christus en as vrug van sy gelewerde diens versorg word (Fil 4: 17-19), sodat God eintlik op dié wyse self sy dienaar onderhou (Fil 4: 17-19). Dit sluit sy vrou en kinders wat van hom afhanklik is, in.

Die dienaar se posisie vergelyk derhalwe met dié van ’n soldaat wat nie op eie koste gedien het nie (1 Kor 9: 7). Die Romeinse soldaat wat nie meer kon dien nie, het na sy uittrede die naam en eer behou wat hy gedurende sy diens verwerf het (Latyn: mereri vgl meriete, verdien, vandaar “emeriteer”).

 

2. Kerk-wees is gemeenskap-wees

Die diens van predikant het die gemeente in geestelike dinge laat deel en daarom moet die dienaar van die Woord weer in die stoflike gawes deel (1 Kor 9: 11,12). Liefde bind die kerk as broeders en susters saam (Calvyn Inst IV.1.x).

|99|

Die ware kerk is derhalwe mense wat in besonder na die behoeftes van medegelowiges omsien (Gl 6: 10).

 

3. Verantwoordelike rentmeesterskap

’n Goeie rentmeester van God moet voorsorg maak vir ouderdom, siekte en onverwagte gebeurlikhede Sowel die kerk as predikant kan nie in die toekoms kyk nie en moet soos Josef in Egipte of die vyf verstandige meisies op 'n verantwoordelike wyse vir die toekoms voorsiening maak. Sommige Gereformeerdes in Nederland het versekering as ’n gebrek aan geloof in die voorsienigheid van God afgewys. Mense kan finansiële versekering op ’n sondige wyse oordryf, maar kerk en predikant mag God ook nie versoek nie. ’n Kerk kan behoorlike onderhoud aan die predikant uitkeer (art 11) en toesien dat hy vir homself polisse, annuïteite, jaargelde of pensioen koop. Sekulêre beroepsooreenkomste verplig werknemers om by ’n voorgeskrewe pensioenskema aan te sluit en daartoe by te dra. Die kerke doen dit gesamentlik ook met die professore aan die Teologiese Skool

Wanneer die kerk egter net die predikant volgens sy onmiddellike behoeftes “trakteer”, bly die kerk verantwoordelik vir die onderhoud van die predikant wat moet aftree en sy afhanklikes. Die kerk behoort in daardie geval alleen of saam met ander kerke voorsiening te maak.

 

4. Reg en barmhartigheid

Namate die idee van ’n loonkontrak ontwikkel het, het Nederlandse Sinodes ontken dat versorging van emerituspredikante met “barmhartigheid” te doen het (Bos 1950:67) en is dit as “verpligting” van die kerk of “reg” van die predikant benadruk hoewel dieselfde kerke ook van “traktement” en “honorarium” wou praat en “pensioen” as “uitgestelde loon” radikaal afgewys het (Bos 1950:68). Liefde word so teenoor reg afgespeel.

Niemand het “reg” op ’n “honorarium” nie. Sonder ’n klousule met betrekking tot ’n pensioenfonds in ’n loonkontrak vestig ’n predikant geen regte op uitgestelde loon nie. Emeritusversorging bly dus ’n liefdesplig wat kerke met barmhartigheid moet uitvoer. Om barmhartigheid (liefde) te ontvang, is geen skande nie, maar eie aan die kerk van Christus. Versorging van emeriti en hulle afhanklikes moet nie soos in die wêreld nie op die finansiële aspek saamtrek nie, maar die emeriti moet ook emosioneel die liefde en deernis van die kerk wat hulle gedien het, ondervind.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie artikels 13 en 20

Aan artikel 13 oor emeritaat het baie min verander. Die Kerkordes van die 16de eeu praat van “eerlik” in plaas van “eervol” versorg en voeg in hakies “so ook die weduwees en wese van die dienaars oor die algemeen” by.

|100|

Artikel 20 het in die ou Nederlandse Kerkorde vir “propositiën” (preekoefeninge) vir persone wat as predikante opgelei word in kerke waar meer as een bekwame predikant was, voorsiening gemaak (kyk art 8). So ’n reëling is nie in die Kerkorde nodig nie omdat dit na instelling van ’n spesiale “kerklike diens” lyk. Die GKSA het artikel 13 op die predikante en artikel 20 op die onderhoud van afhanklikes van die predikante betrek (Acta 1964:69). Die artikel praat egter van “kerkverband”, in die geval van afhanklikes van professore asof dit ’n struktuur naas die kerke is. Dit behoort minstens “kerke in kerkverband” te lees waar “kerkverband” die betrokke sinodale verband waarin die kerke die opleiding voorsien het, aandui.

 

2. Emeritaat

Die posisie van predikant (of teologiese professor) wat emeriteer verskil van dié van byvoorbeeld ’n professor by ’n universiteit. In laasgenoemde geval behou die persoon ook naam en eer, maar sy kontrak met die universiteit kom radikaal tot ’n einde. In die kerklike gemeenskap bly die band voortbestaan al word die diens nie meer gelewer nie. Die geëmeriteerde predikant (en teologiese professor) bly aan ’n betrokke kerk (gemeente) verbonde. Kerkregtelikes het selfs al geargumenteer dat ’n emerituspredikant nog die “reg” (?) het om kerkraadsvergaderings by te woon en sekere ampspligte uit te oefen, maar nie daartoe verplig kan word nie. Tereg waarsku Van der Linde dat só ’n praktyk ’n kerk kan benadeel (Van der Linde 1983:62).

Die emeritus is volgens artikel 13 ’n predikant (professor) wat “onbekwaam” geword het om sy diens, selfs al wil hy, voort te sit. Emeritaat behoort gevolglik slegs verleen te word wanneer ’n dienaar in mindere of meerdere mate “permanent onbekwaam” geword het vir die uitoefening van sy diens (GKSA 1967:59). By emeritaat word ’n dienaar van sy ampspligte onthef, maar behou sy ampsbevoegdhede. Hy mag derhalwe hoogstens insidenteel ampspligte op uitdruklike uitnodiging vervul of as gelowige doen wat hy kan. Die emeritus kan nie op ’n reg om te dien en die kerk nie op sy diens aanspraak maak nie (1967:60).

Kerke met net een dienaar van die Woord sou waarde kon put wanneer ’n emeritus byvoorbeeld na die kerkraadsvergaderings uitgenooi word. Sodra egter heerssug of dominokrasie by of die nuwe predikant of die emeritus as ou predikant na vore tree, sal die kerk daaronder ly. Nietemin kan ’n kerkraad wat oor advies van twee predikante beskik, daarvan vrugbaar gebruik maak.

 

3. Prosedure om te emeriteer

Ordelike emeritaat draai om die spil van onbekwaamheid wat vanweë siekte, ouderdom of iets dergeliks ingetree het. Die onbekwaamheid kan of deur die predikant of deur die kerkraad beweer en aangevoer word. Hoewel kerkrade gewoonlik die predikant lank verdra, kan die kerkraad die predikant se bekwaamheid byvoorbeeld tydens visitasie (art 44) of onderlinge ampsensuur (art 81) ter sprake bring. ’n Predikant wat daaroor aanstoot neem, sondig en

|101|

stel sy eie belange voor die kerk van die Here. Indien die motiewe in die kerkraad nie suiwer is nie, kan die predikant hulp van die klassis inroep (art 31).

Wanneer “onbekwaamheid” beweer word, moet die kerkraad deeglik op die saak ingaan en die positiewe sowel as negatiewe aspekte daarvan op rekord stel en daaroor ’n oordeel vel. In geval van siekte behoort ’n kerkraad minstens twee onafhanklike geneeshere te nomineer om verslag te doen oor wat die predikant nog kan en nie meer kan doen nie (vgl Bos 1950:69 pt d).

Dikwels word te maklik op ’n “doktersertifikaat” sommer by die eerste geleentheid emeritaat verleen sonder dat die kerkraad en daarna die klassis self geoordeel het in welke mate ’n predikant deur siekte permanent ongeskik geraak het. Predikante wat net gedeeltelik ongeskik vir diens geraak het, moet kragtens hulle roeping ook nog gedeeltelik aangewend word indien hy nog ander werk as predikantswerk wil of kan doen, behoort hy die weg van artikel 12 op te gaan.

Wanneer jonger predikante weens siekte of ander oorsake emeriteer het, behoort die kerkraad en klassis jaarliks daarna gedeë verslae oor die predikant se gesondheidstoestand te ontvang en hom aan werk te help namate hy kragte herwin. Met die oog hierop behoort mediese ondersoeke van tyd tot tyd herhaal te word.

Nadat die kerkraad baie oortuig is dat ’n predikant heeltemal onbekwaam vir sy diens geword het, lê hy sy oordeel met getuienis aan die klassis voor. Die klassis win advies in van die deputate van die partikuliere sinode (art 49) waarna die klassis in die lig van eie ondersoek die aanvraag terugverwys, hersien of goedkeur. Indien die klassis die advies van die deputate van die partikuliere sinode verwerp, moet die deputate met die klassisbevinding konformeer of andersins na die partikuliere sinode appelleer. Die deputate rapporteer hoogstens aan die volgende partikuliere sinode dat hulle aan ’n klassis advies gegee het. Wat die advies ingehou het, hoort by die klassis tuis en word daar afgehandel (art 30), behalwe wanneer dit in appèl na die partikuliere sinode gebring word.

Die ondersoek van die klassis en deputate van die partikuliere sinode vergewis hom (a) of daar ’n behoorlike aanvraag om emeritaat dien en of die kerkraad onder voorsitterskap van die konsulent dit eers self genoegsaam ondersoek en beoordeel het. Die predikant moes daarin geen regter in sy eie saak gewees het nie (art 33). (b) Die kerkraad moet onbetwisbaar bewys dat die dienaar vir die huidige “permanent” onbekwaam geword het sodat hy geen diens meer kan verrig nie. (c) In geval van siekte moet die mediese getuienis die graad, omvang en aard van ongeskiktheid omskrywe asook ’n prognose met die oog op herstel gee. (d) Dit moet bepaal word of die emeritaat bona fide versoek word en nie aangevra word om tug te ontduik, emeritaatsvoorregte sonder diens te geniet, verlies aan roeping verbloem om emeritaatsgeld saam met ander persoonlike bronne van inkomste (bv verdienste van eggenote, byverdienstes ens) te geniet nie. (e) Dit moet bepaal word hoeveel emeritaatsonderhoud die predikant nodig het en hoe daarin voorsien kan word. Wanneer ’n predikant net gedeeltelik onbekwaam geraak het, kan die klassis en deputate van die partikuliere sinode adviseer en hulle beywer om vir die predikant ’n heenkome te vind waar hy deeltyds diens verrig en in ’n mate homself kan onderhou.

|102|

4. Redes vir emeritaat

Die Nederlandse Sinode Groningen 1946 beklemtoon dat dit vir ’n dienaar ’n eer is om sy Koning met al sy krag of, as dit nie kan nie, dan ten dele te dien so lank hy kan. Die dienaar van die Koning hunker nie na die “rus” van emeritaat nie, maar lê die herderstaf slegs neer wanneer “onbekwaamheid” hom daartoe noop (Bos 1950:69). Hiervolgens kan ’n dienaar van Christus nie bloot meganies en willekeurig op ’n sekere ouderdom as seniel beskou word nie. Outomatiese aftrede op ouderdom verlaag kerkdiens tot die vlak van staatsdiens, ontduik die roeping om aftrede voor die Here te verantwoord en misken die verskeidenheid van gawes, ook van gesondheid en werkvermoë, wat die Here aan sy dienaars gee. Sedert Sinode 1961 ouderdom 65 vir uitkering van die sinodale emeritaatsgeld aanvaar het, het die kerk en kerkraad niks te sê wanneer hulle predikant met ’n beroep op ouderdom wil emeriteer nie. Die Sinode 1979 het dit aan die Kuratorium opgedra om by bewys van goeie gesondheid die diens van professore te verleng (GKSA 1979:193 pt 1(b) en 221 pt 3.5.9.1). Waar die Kuratorium dit nagelaat het, ontstaan die anomalie dat professore uit hulle leerdiens weens “onbekwaamheid” emeriteer maar weer voltyds of deeltyds na die predikantsbediening terugkeer. Dit bewys dat die kerke ’n dienaar uit ’n diens van die Here ontstaan het, voordat hy “onbekwaam” geword het. Dit kan kerkregtelik (Skriftuurlik) nie verdedig word nie en is selfs onregverdig omdat Universiteitsprofessore na aftrede op ouderdom, nog weer in hulle departemente aangestel kan word — iets wat in geval van teologiese professore onmoontlik is.

Naas ouderdom en siekte noem artikel 13 ook oorsake wat “andersins” emeritaat mag noodsaak, byvoorbeeld motorongelukke, verlies van liggaamlike of geestesvermoëns, ensovoorts, wat enigsins aan siekte verwant is. Siekte of ouderdom van ’n predikant se eggenote of kinders mag sy emeritaat net so min as in die sekulêre wêreld regverdig. Waar die kerke binne sinodale verband die emeritaatsversorging behartig en predikante geen pensioenregte vestig nie, gebeur dit ongelukkig dat persone wat na regte uit die diens ontstaan moes word, emeritaat ontvang ter wille van die finansiële voordele daaraan verbonde. 

 

5. Wyse van versorging

Die Kerkorde bepaal eenvoudig dat die kerk wat die emeritus gedien het, hom en sy afhanklikes eervol in hul nooddruf moet versorg. Dit stel die essensiële band en kwaliteit van versorging sonder om die wyse hoe dit moet gebeur, voor te skrywe. Gevolglik het elke plaaslike kerk reg om ’n eie wyse van versorging daar te stel en is hulle regtens nie verplig om by ’n sinodale skema in te skakel nie (artt 11,13,30). Die kerk moet toesien dat die emeritus met sy afhanklikes (al het hulle nie oorvloed nie) aan niks tekort kom en gebrek ly nie. So alleen kan die versorging menswaardig en eervol wees.

Indien elke kerk alleen artikels 13 en 20 moet nakom mag ’n bepaalde kerk plotseling selfs meer as een emeritus met afhanklikes moet onderhou waardeur die voortgang van die evangeliediens en die kerk skade kan ly. Die GKSA het toe vroeg al ’n Fonds daargestel waaruit die kerke koöperatief aan artikel 13

|103|

uitvoering wou gee (GKSA 1882:107v). Daartoe het kerke en predikante aanvanklik bygedra. Later is die predikant met ’n beroep op artikel 13 vrygestel asof die artikel sy bydraes prinsipieel sou uitsluit. Die Fonds is deur ’n kommissie, trustees of deputate wat deur die nasionale sinode aangewys is, behartig. Daarvoor is (bv 1942) ’n uitvoerige reglement opgestel waarin voorsiening gemaak is dat onder andere uitkeringe volgens behoefte kon varieer, dat kerklike vergaderings behoeftes (“nooddruf”) sou bepaal en gelde sou uitkeer. Die praktyk het egter geen kerklike karakter verkry nie en op ’n meganiese karige pensioenversorging uit die Fonds neergekom.

Diegene wat nie tydens hulle diensjare baie spaarsaam geleef het nie, kon eintlik nie aftree nie. Emeriti, hulle weduwees en wese het gebrek gely. Die plaaslike kerke was net in teorie vir hulle verantwoordelik. In praktyk is alles van die EPPW en W-fonds verwag. Om sakeredes is groepsversekering afgewys. Die Sinode van 1961 verander gevolglik radikaal van koers met ’n beroep op artikel 13 wat die plaaslike kerk verantwoordelik stel asof die sinodale EPPW en W-fonds nie kragtens artikel 13 ontstaan en opgebou is nie. Met ’n dualistiese begrip van kerk (gemeente) en kerkverband (in kollegialistiese sin) beskou 1961 die EPPW en W-fonds as behorende tot ’n Sinode wat net “sustentasie” aan kerkrade gee. Op model van ’n pensioenfonds beveel die Sinode buite sy mandaat om aan dat kerke 6% van ’n predikant se traktement vir eventuele emeritaat reserveer (GKSA 1961:223-229; 1970:413-422).

Hierdie koersverandering het tot prinsipiële beswaarskrifte gelei (GKSA 1964:84-99). Die Sinode van 1967 skep weer ’n nuwe stelsel van direkte koöperatiewe verantwoordelikheid van die kerke. Die reeds opgehoopte Fonds word gesluit en help die lopende versorging bekostig (GKSA 1967:145,146). Die posisie van emeriti het onmiddellik verbeter, maar nog nie goed vergelyk met mense wat sekulêre pensioenfondse ontvang het nie. Gevolglik word die versorging “op meer professionele vlak” (en daarby ’n minder kerklike vlak, art 30) benader waarby “langtermyn aktuariële beplanning” in aanmerking geneem word (GKSA 1976:427v). Ondertussen was elke afsonderlike plaaslike kerk waarby die versorging regtens tuishoort (artt 11,13,30) nie in die verkleinde Sinode teenwoordig nie. Die gesentraliseerde sinodale beheer neem dus dit oor wat regtens by elke kerk tuishoort, sonder dat dié kerk direk geraadpleeg of langer direkte inspraak daarby het. 

Sinodes worstel toenemend met verskillende gedagterigtings en praktyke wat met vorige sinodebesluite en kerkregtelike beginsels in stryd is (GKSA 1979:325-351). Die plaaslike kerke word nie daarin geken nie. Dit lei in 1982 tot ’n voorskriftelike sinodale “volledige versorging” (106) waarin die uitkering op die pensioenfonds van ’n senior lektor aan ’n universiteit geskoei word. Wanneer die nie-kerklike universiteit sy pensioen verhoog het, is die EPPW en W-uitkerings ook ipso facto verhoog. Ondertussen het senior lektore tot hulle pensioenfonds en predikante nie tot hulle EPPW en W-versorging bygedra nie. ’n Senior lektor het dus reg op sy pensioen, selfs wanneer hy bedank. ’n Predikant vestig geen regte ten opsigte van sy emeritaat nie.

Die sinodale voorskrif van 1982 het op sy beurt ’n stroom van besware by die Sinode van 1985 ontlok (85-122). Die Sinode was op die punt om te besluit om die aangeleentheid in sy geheel te laat bestudeer, toe die voorstel nie

|104|

toegelaat is nie. Die besware moes summier beoordeel word. Die Sinode het die beswaarskrifte uit die kerke oor wat basies hulle saak was, afgewys (artt 13,30).

Die situasie pas in ’n kollegialistiese opset. Die Sinode wat oor die besware moes oordeel, was in ’n sekere sin (so ver dit dieselfde Deputate betref) aangeklaagde en verdediger van die bedeling van 1982 oor ’n saak wat by die plaaslike kerke tuisgehoort het. Daarbenewens het predikante wat regstreekse finansiële belang by die EPPW en W het (anders as in ’n kerkraad) ’n oorweldigende keurstem in die Sinode uitgeoefen, terwyl die Kerkorde dit afwys (art 33 KO). Oor dié aangeleentheid behoort die Sinodes van 1982 en 1985 eers met die kerke te geraadpleeg het. Die Sinode van 1985 het egter wel die besluit (1982) dat die EPPW en W “volledige versorging” behels, herroep (Acta: 113). Die Sinode van 1988 word onder druk geplaas om ’n pensioenfonds in die lewe te roep, maar deins steeds vir hierdie sinvolle ontwikkeling terug (733). Tog is daar ’n gereglementeerde “Versorgingsfonds” soos ’n pensioenfonds ingerig (689-708) sonder dat dit aan predikante regte en ’n voorsorguitkering by emeritaat bied.

Samevattend blyk dat koöperatiewe versorging uiteindelik op ’n parapensioenfonds uitgeloop het. Dit lê nie op die weg van die kerke om deur middel van deputate of amptenare die ingewikkelde professionele bestuur oor ’n pensioenfonds te probeer verwesenlik nie (art 30). Tog kan ’n pensioenfonds waartoe predikante bydra ’n beter versorging as die huidige opset bied. Teologiese professore word reeds op dié wyse kragtens artikel 13 deur middel van ’n ooreenkoms met die PU vir CHO versorg. Predikante behoort of tydens hulle diens (art 11) self by beskikbare pensioenskemas met of sonder bydrae van die kerk in te skakel sodat ’n predikant volgens diensjare uitkering ontvang wanneer hy tot ’n ander staat van lewe oorgaan (art 12), uit sy diens ontslaan (art 11) of afgesit (art 79) word. Die wêreld beskou die GKSA vandag as liefdeloos wanneer ’n predikant sonder enige pensioengeld na jare diens ontslaan word. Sonder ’n behoorlike pensioenfonds is so ’n predikant “onbehoorlik” versorg. Realiteite verplig dat artikels 11 en 13 meer gelyktydig in ’n wettige pensioenskema (buite-kerklik) nagekom moet word en dat die huidige sosialistiese patroon wat selfs oor huisvesting handel (1988:734), gediskontinueer word.

Die wyse waarop die EPPW en W-versorging in die GKSA geskied het, is sito-sito na die kerke uit die Derde Wêreld oorgedra. So ’n skema kan daar nog moeiliker slaag. In plaas van die risiko om ’n pensioenfonds op te bou en kerklik te probeer bestuur, kan liewer by pensioenfondse van finansiële inrigtings met ingeboude lewensversekering aangesluit word om aan artikel 13 uitvoering te gee. ’n Kerkraad kan ’n bepaalde persentasie van ’n predikant se traktement maandeliks in so ’n polis belê wat aan die kerkraad gesedeer word sodat die kerkraad daaroor beheer uitoefen. Die kerkraad kan dit self aan die predikant uitkeer wanneer hy volgens artikels 11, 12 of 79 uit die diens ontslaan word. Tegelykertyd kan die kerkraad in sy beroepsbrief bepaal watter bydrae van die predikant verwag word om regte op die bykomende voorsiening te vestig.

|105|

6. Kerkregtelike anomalieë rondom artikel 13 KO

6.1 Emeriteer na analogie van artikel 13 KO

Die Doleansie van 1886 in Nederland het meegehelp dat die Kerkorde as basis van ’n wettiese kerkreg beskou kon word. Die amp van predikant is aan ’n formele band met ’n plaaslike kerk gekoppel. Op sterkte daarvan kon toe geredeneer word dat iemand sy amp kan behou terwyl hy nie meer in die bediening van Woord staan nie, indien hy “na analogie van artikel 13 emeriteer”. Op dieselfde wyse is selfs geredeneer dat die professor wat tot predikante-opleiding geroep word, moet emeriteer om sy band met die plaaslike kerk wat hy gedien het, te behou (GKSA 1939:75v art 80).

Die GKSA het in 1964 en 1967 tereg orde op sake gestel en die gedagte van behoud van amp “na analogie van artikel 13” afgesny. Die besluite van 1939 en 1942 oor artikels 12-14 KO is herroep omdat die KO reël hoe iemand in bepaalde gevalle ordelik uit die diens tree en nie hoe hy sy amp kan behou wanneer hy nie meer in die diens staan nie. Professore word tot ’n eie diens onder sorg van die kerke in kerkverband beroep (Acta 1964:100; 1967:60-62; 1970:425-429; 1973:315-316).

 

6.2 Die band tussen ’n emeritus en “sy kerk”

Wie die Kerkorde as konstitusie van die “kerk” beskou wat ampte instel en bepaal, redeneer dat die predikant wat emeriteer “predikant bly van die kerk wat hy gedien het” al gaan hy ook waar. Ten opsigte van predikante ontslaan ’n dualistiese opvatting: Die emeritus verhuis as “lidmaat met attestasie” na ’n ander kerk, maar as geëmeriteerde “ampsdraer” bly hy verbonde aan die kerk wat hy gedien het. Eersgenoemde kerkraad handel met hom as “lidmaat” terwyl laasgenoemde met hom as “predikant” volgens artikels 13 of 79 KO moet handel (GKSA 1970:428-429; 1973:242v). Die anomalie van dubbele kerklike toesig is blykbaar in 1970 vir studie verwys en nie uitgevoer nie (1970:429 pt 5).

Wanneer van die heerskappy (koninkryk) van Christus deur middel van geroepe dienaars en die eenheid van die universele kerk uitgegaan word, behoort die emerituspredikant wat verhuis ook volledig onder bediening (ook tug) in die kerk waar hy woon, ontvang te word. Hierdie kerkraad kan waar nodig oorleg pleeg of hulp inroep van die kerke) wat hy as predikant gedien het.

Spoelstra, B. (1989) Art. 14

|106|

Artikel 14

Tydelike onderbreking van of verlof uit diens

 

Artikel 14: ’n Bedienaar van die Woord wat weens siekte of om enige ander rede sy diens ’n tyd lank moet onderbreek, wat nie sonder bewilliging van die kerkraad en advies van die klassis mag gebeur nie, bly steeds onderworpe aan die beroeping van daardie kerk.

 

A. Kerkregtelik

1. ’n Predikant bly aan die beroep verbonde

Die basiese beginsel wat in feitlik elke artikel van 3 tot 13 na vore tree, beheers artikel 14. Niemand kan predikant wees en bly, indien hy nie die diens verrig waartoe ’n predikant beroep is nie. Die “beroeping” gaan nie in ’n formele kontraktuele verband op nie, maar word bepaal deur die roeping van God wat deur middel van die plaaslike kerk gekom het en in hoofsaak in die beroepsbrief en bevestigingsformulier verwoord is. Sodra ’n predikant die diens moet onderbreek, kom sy amp in gedrang.

 

2. Uitsonderings kom voor

In praktyk kom daar omstandighede voor wat die dienslewering soms onmoontlik maak. Ons het nie in die Skrif ’n presiese voorbeeld nie, behalwe moontlik waar Johannes na Patmos verban of Paulus in die tronk was. Die Kerkorde wil so ’n uitsonderlike, ingrypende en selfs vreemde situasie hanteer sodat hierdie uitsonderings omsigtig en verantwoordelik gereël sal word.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die Kerkorde van 1578 stel naas omstandighede wat artikels 12 en 13 reël “ander oorsake” waardeur ’n predikant sy diens “vir ’n tyd” noodgedwonge moet “nalaat” terwyl hy steeds aan die beroeping van die “gemeente” onderworpe bly (Biesterveld, Kuyper 1905: 98). In 1586 (art 12) word die oorsake wat tot emeritering lei by die “ander oorsake” genoem as rede tot verlof en bepaal dat die verlof met “advies” van die Kerkraad geneem moet word.

|107|

In Nederland het kerkrade die vergunning misbruik en sodanige verlof gegee dat dit eintlik daarop neergekom het dat die predikant van sy diens losgemaak was. In 1923 is toe bepaal dat goedkeuring van die klassis in hierdie geval nodig is (Bos 1950:71).

Verskillende Sinodes (Burgersdorp 1930 en Pretoria 1933) het geworstel met die vraag of ’n predikant verlof kon neem om parlementslld te word. So het die GKSA te Bloemfonteln 1939 (art 80) besluit dat die klassis geken moet word wanneer verlof volgens artikel 14 KO verleen word. Die Sinode van Potchefstroom 1964 het die beginsel in die Kerkorde opgeneem. Tog kom van hierdie bepaling by die meeste aansoeke om lang- of studieverlof weinig tereg. 

 

2. Die situasie wat artikel 14 reël

Die redes waarom ’n predikant sy diens vir ’n tyd lank moet onderbreek, mag aan vervolging soos gedurende die Reformasie, chroniese siekte, liggaamlike of geestelike ineenstorting buitengewone kerklike of burgerlike opdragte wat binnelands of buitelands verrig moet word, Bybelvertaling of noodsaaklike studieverlof te wyte wees. Die verlof moet klaarblyklik tydelik van aard wees en terugkeer tot die diens in die kerk impliseer. Tweedens moet deeglik vasgestel word dat die onderbreking van diens noodsaaklik is (vgl “moet onderbreek”). Die persoon moet voor die verstryking van die verlof deur die kerk teruggeroep kan word, met ander woorde hy mag nie ’n diensooreenkoms met ’n ander instansie aangaan wat die beroep van die kerk uitskakel nie. Die band tussen die predikant en kerk moet lewend en daadwerklik in stand gehou word (vgl GKSA 1967:60).

Dié situasie onder artikel 14 moet dus duidelik van dié onder artikels 12 en 13 onderskei word. In geen geval moet iemand verlof kry om in praktyk oor te gaan tot ’n ander beroep (“staat van lewe”) nie. Hy moet ook nie emeritaat ontvang indien hy moontlik na ’n tyd van verlof weer mag herstel nie

Die artikel handel oor tydelike onderbreking van diens en nie oor onbepaalde verlof nie. Die tydsduur mag aan die begin moeilik bepaal kan word byvoorbeeld hoe lank ’n Bybelvertaling mag duur. In daardie geval behoort die verlof vir ’n bepaalde tyd (byvoorbeeld een jaar) vasgestel te word met die bepaling dat die Kerkraad gereeld vorderingsverslae moet ontvang en die verlof op sterkte daarvan mag verleng. Die binding aan die “beroeping van daardie Kerk” hou in dat predikant en kerk in die nouste voeling en medewerking met mekaar moet bly.

 

3. Die prosedure vir besluit oor verlof

Die bewoording van hierdie artikel het tot in 1964 die besluit oor verlof eintlik by die predikant met advies van die kerkraad laat berus. Die kerkraad is nie geroepe om oor nie-kerklike aangeleenthede waarby ’n predikant betrokke mag raak, te oordeel nie (art 30 KO) en kan selfs moeilik persoonlike aangeleenthede vir sy rekening neem. Daar lê dus eerstens ’n swaar onus op die predikant om die versoek tot diensonderbreking aan die kerkraad te motiveer. In die reël sal die versoek van kerkvergaderings, owerheidsinstansies, onderwysinrigtings

|108|

of Bybelgenootskappe afkomstig wees. Daaroor kan die kerkraad in terme van kerklike norme oordeel en adviseer.

Tegelykertyd hou die aard van die geldende “beroeping” in dat die predikant nie teen die advies van die kerkraad kan ingaan nie, omdat dit op trouelose verlating van die diens (art 80) of ’n ondraaglike toestand (art 11) sou neerkom.

Gewoonlik sal die predikant die versoek wat hy ontvang het of die omstandighede wat ’n verlofaansoek noodsaak en sy oordeel daaroor aan die kerkraad voorlê. Omdat dit sy persoon raak (art 33) behoort die konsulent die kerkraad te lei en die besluit geneem te word nadat die predikant die vergadering verlaat het. Die Kerkorde bepaal dat die kerkraad wat verlof wil verleen advies in die klassis moet vra. Dit is nie altyd in spoedeisende gevalle prakties moontlik nie.

Die kerkraad en klassis sal natuurlik in die eerste plek moet oorweeg en sorg dat die bediening van die Woord en koninkryk van God nie skade ly nie, maar deur die diensonderbreking eerder gedien sal word. Reëlings vir geskikte plaasvervanging op koste van die instansie wat die predikant se diens verlang, moet verseker word. In gevalle waar die predikant om persoonlike redes verlof aanvra, moet hy en die kerkraad oor die voorwaardes ooreenkom wat inkorting van sy onderhoud mag meebring. Kerkrade tree soms inkonsekwent op. In een geval beroep hulle selfs voordat die predikant wat verhuis in ’n nuwe kerk bevestig is, ter wille van die bediening. In ’n ander geval verleen hulle vir maande studieverlof aan ’n predikant sonder om vooraf vir deurlopende bediening voorsiening te maak.

Die predikant dien die aansoek om verlof in wanneer hy oortuig is dat hy sy diens moet onderbreek. Soms moet die kerkraad ’n predikant verplig om met die oog op sy gesondheid of herstel langverlof te neem. Die prosedure om advies van die klassis in te win, is lomp en ’n buitengewone klassis vir so ’n saak duur en moeilik verdedigbaar. Advies van naburige kerkrade (classis contracta) kan goedskiks die probleem ondervang.

 

4. Die band tussen predikant en kerk bly gehandhaaf

Diensonderbreking vir ’n bepaalde tyd hou in dat die predikant by geen ander instansie in permanente diens mag tree nie (vgl art 12). Die kerkraad bly dus ook vir die versorging verantwoordelik, alhoewel die instansie wat die predikant se diens benodig dit direk of via die kerkraad kan doen. Die kerkraad moet dit bepaal (art 11).

Wanneer die verloftydperk verstryk, moet die kerk die predikant in sy diens terug ontvang, selfs wanneer die “onbepaaldheid” wat die “bepaalde” tyd (art 14) kan aanneem (Van der Linde 1983:68), ondertussen die beroep van nog 'n predikant nodig gemaak het. Daarvoor sal egter gedeë advies van die klassis ingewin moet word (art 5).

Die posisie van die predikant by sy terugkeer nadat sy verlof beëindig is, moet noukeurig beskryf word. Om die persoon by sy terugkeer op “waggeld” (art 11) te plaas (Van der Linde), kom daarop neer dat die beroeping van daardie kerk by die terugkeer van die predikant beëindig word. Dit is kennelik nie in ooreenstemming met die sin van ’n beroep (art 3v) en bedoeling van

|109|

artikel 14 nie. Indien verlof onder artikel 14 hierop mag uitloop, moet liewer aan artikel 12, al is dit vir ’n tydperk, gedink word.

Spoelstra, B. (1989) Art. 15

Artikel 15

Toelating tot diens van die Woord in ’n ander kerk

 

Artikel 15: Geen bedienaar van die Woord mag in ’n ander kerk die Woord of sakramente bedien sonder bewilliging van die kerkraad van daardie kerk nie, en niemand wat die diens van sy kerk onderbreek of nie in vaste diens staan nie, mag hier en daar gaan preek sonder die toestemming van die klassis of ’n partikuliere sinode nie.

 

A. Kerkregtelik

1. Die kerkraad waak oor die kansel

Die ouderlinge is nie individueel nie, maar in kerkraad gesamentlik geroep om vir die bediening van die Woord en Sakramente sorg te dra en te waak oor wie hulle tot die kansel toelaat. God, die Heilige Gees, het bepaaldelik vir hierdie doel ouderlinge in die gemeente gegee (Hd 20:28-31). As sodanig gryp artikel 15 reeds vooruit op artikels 23 en 37. Sorg vir en toesig oor die bediening van die Woord hoort eiendomlik by die Kerkraad tuis en hierin kan ander kerke selfs in sinode nie voorskrywe nie (vgl art 30). Om te sê dat prediking “op gesag van die kerkraad” geskied (Kruger et al 1966:111), pas by kollegialistiese kerkreg wat die kerk as instituut en nie die koninkryk van God nie as uitgangspunt vir kerkregering neem.

 

2. Bediening van die Woord vereis ordelike toelating

In die kerk as openbaring van die liggaam van Christus moet alles ordelik gebeur (1 Kor 12:12-28; 14:26-40). Alhoewel Christus mense regstreeks roep om die Woord te verkondig, moet hulle roeping in die kerk as openbaring van die liggaam van Christus erken word. Gevolglik kan niemand wat nie “in vaste diens staan nie” of “diens van sy kerk onderbreek” preekdiens verrig nie, behalwe wanneer hy deur die klassis of partikuliere sinode verlof om te proponeer of preekoefeninge te lewer, ontvang het (vgl artt 4,8,9).

|110|

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Rondgaande los predikante (lopers) was tydens die Reformasie en onder die Anabaptiste aan die orde van die dag. In 1578 het die Kerke al besluit dat dit niemand betaam om van een plek na ’n ander te reis om te preek aangesien die amp van apostels en evangeliste lank reeds nie meer in die gemeente van God bestaan nie (Biesterveld, Kuyper 1905:98 art 7).

In aansluiting by Calvyn se Institusie (IV.3.vii) het die Kerkorde van 1581 bepaal dat niemand hom as prediker by die gemeente mag opdring nie. Hy moet aan ’n bepaalde kerk verbonde wees of verlof van ’n sinode (bedoelende partikuliere) of klassis ontvang het. Prediking in ’n kerk geskied slegs na bewilliging van die kerkraad (Biesteveld, Kuyper 1905:143v).

In 1586 is die artikel soos volg geformuleer: “Dit sal vir niemand wat die diens van sy kerk onderbreek of in geen vaste diens staan, geoorloof wees om hier of daar te gaan preek sonder toestemming en gesag van die sinode of klassis nie. Net so sal niemand in ’n ander kerk enige preek mag lewer of sakramente bedien sonder bewilliging van die kerkraad nie.”

Hierdie bewoording het die Sinode van Potchefstroom in 1964 effens gewysig deur die tweede gedeelte as uitgangspunt voorop te stel en die uitsonderings daarna aan te dui (69). Tegelykertyd is “partikuliere” voor sinode geplaas om aan te dui dat hier nie ’n nasionale of algemene sinode bedoel word nie.

 

2. Bewilliging van die Kerkraad

’n Individu, die predikant of besoekende prediker kan ’n versoek aan die kerkraad rig om die Woord te bedien. Gevolglik word gereël dat die kerkraad wat die gesag van Christus in sy Kerk bedien, so ’n versoek moet bewillig (NGB 27-32). So vervul hy die diens van Christus.

Niemand kan hom soos in die kollegialisme daarop beroep dat hy ’n erkende predikant in die “kerkverband” of “van” die “Kerk” is en daarom outomaties in ’n vakante kerk mag preek nie. Geen klassis of sinode kan buite die kerkraad om ’n predikant stuur om daardie kerk te gaan bedien nie.

Indien ’n kerk of kerke in ’n klassis oordeel dat ’n naburige kerk onverantwoordelik iemand tot die kansel toelaat, moet die kerk regstreeks aangespreek (art 44) of in klassis vermaan word (art 41). Indien die kerkraad die vermaning nie aanvaar nie, moet die Kerke daarby berus of die betrokke kerk buite die kerkverband plaas. Laasgenoemde stap mag nie op formele gronde gedoen word nie omdat die saak waaroor die verskil bestaan eerstens huishoudelik by die betrokke kerkraad berus (art 30) en ander kerke daarin nie mag voorskryf nie (art 84). Gemeenskap binne kerk- of klassikale verband (art 41) kan slegs verbreek word nadat bewys is dat die betrokke kerk die basis van eenheid of

|111|

akkoord van kerklike gemeenskap (die Drie Formuliere van Eenheid) nie in sy optrede in ag wil neem nie.

 

3. Oor en weer preek in verskillende kerkgemeenskappe

Hierdie moeilike en sensitiewe aangeleentheid is reeds by artikel 9 bespreek. Toe die NG Kerk van die OVS vanaf die kansels meelewing met die Transvaalse Gereformeerdes wou betuig, het die Sinode van 1882 (art 84) geadviseer dat elke kerkraad beslis wie hy op sy kansel toelaat. Die kerkraad moet sy optrede voor die gemeente en in kerkverband kan verantwoord en moes vooraf van die prediker se regsinnigheid en goeie trou seker gemaak het (kyk art 9, 5).

Die Kerkraad kan ook nie voorskryf waar hulle predikant mag preek of nie mag preek nie, indien hy nie sy diens in eie gemeente versuim nie. Die predikant is dienaar van Christus wat sy Woord universeel verkondig. Die predikant is verantwoordelik waar hy wil en kan preek, gebonde aan die diens, leer en tug van die GKSA. Hy sal die gebruike by ander kerkgemeenskappe aan prinsipiële norme moet toets, alhoewel die liturgie formeel nie met die eie ooreenkom nie. Die kerk wat hy dien, kan hom altyd tot verantwoording roep (vgl GKSA 1882 art 84).

 

4. Wie die kerkraad nie mag toelaat nie

Gedurende die Reformasie het die aksent op die uitsluiting van los “lopers” of selfaangediende predikers geval. Wanneer ’n predikant nie ordelik volgens artikel 14 sy diens onderbreek of nie meer as predikant aan ’n kerk verbonde is nie (art 11), mag hy nie elders tot die kansel toegelaat word nie. Die gebruik om eertydse predikante wat later ’n ander beroep gevolg het (art 12), uit te nooi om die Woord te bedien asof hulle nog erkende predikante is, bots lynreg teen hierdie ordereëling. Kerkrade behoort predikante uit buitelandse kerke met wie enger korrespondensie onderhou word (art 52), ook slegs toe te laat indien daar sekerheid is dat hulle bona fide predikante en suiwer in leer en lewe is. (Vir uitsonderings vgl artt 4,8,9.)

Spoelstra, B. (1989) Art. 16

Artikel 16

Die bedienaar van die Woord

 

Artikel 16: Die amp van die bedienaars van die Woord is om in die gebede en bediening van die Woord te volhard, die sakramente te bedien, om goed ag te gee op hulle medebroeders, op die ouderlinge, op die diakens sowel as op die gemeente, en eindelik om saam met die ouderlinge die kerklike dissipline uit te oefen en te sorg dat alles betaamlik en ordelik plaasvind.

|112|

A. Kerkregtelik

1. Die Bedienaar van die Woord

Ons kry deur geloof deel aan Christus. Omdat ons swak is, is uitwendige middele nodig om die geloof in ons te werk en te versterk. Daarom het God herders en leraars aangestel om ons met gesag te onderwys en die sakramente te bedien (Calvyn Inst IV.1.i; Rm 10:14v; Ef 4:11-16). Die sentrale beginsel van die Reformasie, naamlik dat die Woord en Gees in die kerk moet regeer, verleen aan die diens van die Woord, sakramente en tug ’n besondere plek (Calvyn Inst IV.3.ii-vi).

Die vorige artikels het die instelling en toelating van dienaars deur roeping tot die diens van die Woord in besonder gereël (artt 1 tot 15). In aansluiting hierby noem artikel 16 nou in breë trekke die “amp” van die predikant. Die Kerkorde is nie soos in die kollegialisme ’n kerkwet of konstitusie waarin die “kerk” aan sy amptenaar mandaat of instruksie gee nie. Die Kerkorde stel net die daar-wees van die diens sodat orde in die kerk van die Here onderhou sal word (Calvyn Inst IV.3.viii; 1 Kor 14: 40).

 

2. Bediening van die gebede, Woord en Sakramente

Christus het die diens van leraar verorden (Mt 28: 19; Joh 20: 21-23; Ef 2: 20; 4: 11v; 1 Tm 5: 17; 2 Tm 3: 10-4: 5 ens). Hierin gaan die bediening van gebede voorop (Hd 6: 4; Kol 4: 12; 1 Ts 5: 12; Jk 5: 14; 1 Tm 2: 1-8) omdat God deur sy Woord en Gees moet handel (Heid Kat S 21; NGB 31). Die leraar is immers net ’n instrument deur wie God se Woord, onder leiding van die Heilige Gees bedien word en tegelyk ook mondstuk van die gemeente om dank en lof te betuig sowel as nood en behoeftes aan die Here voor te dra.

Die bediening van die Woord is omvattend (Rm 10: 11-20) en sluit bediening van sakramente in terwyl Rome glo dat die sakramente aan die prediking voorafgaan om sodoende genade uit te deel. Gevolglik het die opsiener by Rome weer priester geword.

Die konsep-beroepsbrief in gebruik by die GKSA beroep die leraar “om deur leer en voorbeeld, bestuur en opsig, alles te doen wat 'n herder en leraar betaam, ooreenkomstig Gods heilige Woord en die Belydenisskrifte van die GKSA wat daarop gegrond is.” Dit betrek leraarswerk “in besonder” op die verkondiging van die evangelie, bediening van sakramente en om leraar te wees in huisbesoek en weeklikse katkisasie wat deur die hele jaar gehou moet word (KO-boekie 1979:97). Die kerkregtelike aspek van die diens van die Woord word verder in die Formulier vir Bevestiging van Bedienaars van die Woord uitgespel. Opmerklik genoeg word die diens nie uit kerklike besluite nie, maar uit die Skrif en opdragte van die Hoof van die Kerk (NGB 31,32), afgelei.

 

3. Leraar-ouderling

Die konsep-beroepsbrief sowel as die Formulier vir Bevestiging meld dat die predikant as “herder en leraar van hierdie gemeente” beroep word. ‘n

|113|

Leraar-ouderling word in besonder tot ’n leerdiens geroep (1 Tm 5: 17). Die Here Christus wil sy kerk self regeer soos die hoof die liggaam regeer en derhalwe moet sy Woord die kudde voed, lei en in goeie orde hou.

Gevolglik moet die diens van die Woord leidend in die herderswerk (regering) na vore tree. So het selfs apostels die naam “ouderling” gedra (2 Joh 1; 3 Joh 1). Die “ouderlinge” moes die werk van die apostels voortsit (Hd 20: 28v; Van Ginkel 1975:41; Koole 1949:93; Dijk 1952:156v). Ouderling en opsiener dui in die Skrif dieselfde diens aan en word slegs van “diakens” onderskei.

In die vroeë Christelike kerke is die ouderlingamp geleidelik in die monargale hiërargie opgeneem en tot dié van priester omvorm (Van Ginkel 1975:43). Die Reformasie herstel die ouderling as pastor. Calvyn se eerste kerkordereëlings in 1537 ken net die dienste van predikante en diakens. In Genève en omgewing het destyds meer as een predikant in dieselfde gemeente gedien. Bucer ontwikkel in Strassburg die bedieningspatroon in die gemeente (ministerium ecclesiae, vgl Van ’t Spijker 1970:119v). Hy wil geen prinsipiële onderskeid tussen opsieners en ouderlinge maak nie, maar het tog die toelating van opsieners tot die diens van die Woord meer seremonieel gemaak (Van ’t Spijker 1970:392).

Bucer sowel as Calvyn (Inst IV.3.vii,viii), onderskei die bedienaars van die Woord as biskoppe (“opsieners”) naas die herder-ouderlinge (vgl art 23). Hierdie posisie hou die gevaar van hiërargie in. Talle predikante val in die versoeking om te wil heers. Calvyn waarsku dat die ware biskop geen wetgewer oor die gelowiges is om hulle te dwing om dinge te onderhou wat nie in die Woord van God gevind word nie. ’n Dienaar het geen bevoegdheid om verder te gaan as Christus, ons Regter, Wetgewer en Koning nie (Inst IV.10.vi,vii). Een predikant per kerk leen hom vir heerskappyvoering.

Die bedienaars van die Woord moet as opsieners en herders deurlopend toesig hou oor hulle mede-predikante, die herder-ouderlinge, diakens en die gemeente en wanneer nodig saam met die ouderlinge kerklike dissipline uitoefen (artt 71-82). Bucer sowel as Calvyn het primêr aangeneem dat elke herder voortdurend persoonlik pastoraal “ware sielsorg” met die Woord van God beoefen (Van ’t Spijker 1970:160v). Eers daarna wanneer nodig, doen hy sekondêr in die kerkraad aan “kerklike dissipline” mee (Calvyn Inst IV.11.i,vi). Tereg onderskei artikel 16 dus tussen die deurlopende opsienersdiens en wat “eindelik” in die kerkraad plaasvind.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Toe die Kerkorde in Nederland in 1571 sy eerste treë neem, het predikante lankal geweet en gedoen wat van hulle verwag word. Die bewoording van artikel 16 kom vir die eerste keer in 1581 (art 8) na vore. Die Kerkorde van 1578 (art 11) het daarteenoor van uitgebreide bevoegdhede, soos die bring tot geloofsbelydenis en aanstelling van ouderlinge en diakens, melding gemaak, wat weer weggelaat is. Die Kerkorde reglementeer dus nie die diens van die

|114|

predikant nie. Die Kerkorde vertrek van die bediening van die Woord wat aan bepaalde dienaars toevertrou is waarsonder daar nie kerke sou gewees het nie en praat nie soos vandag dikwels onder invloed van die kollegialisme en demokrasie van die “prediking van die kerk”, “pastoraat van die kerk” of “kategese van die kerk” nie. Die diens gaan van Christus en nie van die kerk uit nie.

 

2. Diens van die Woord verg voorbereiding

Die een predikant aanvaar hy is teologies “opgelei”, het sy eksamens geslaag, is beroep en bevestig. Hy het arriveer. Hy moet as sodanig aanvaar word en wanneer iets van hom verlang word, stroom “preke” of toesprake wat na diens van die Woord klink soos water uit ’n kraan. Hierdie “biskoplike” figuur verpersoonlik die “kerk” en verwag om gehoorsaam te word en nie deur “leke” teengespreek of tot verantwoording geroep te word nie

Die ware dienaar van Jesus Christus verstaan sy amp as diens (diakonia) die taak van 'n tafelbediende. Hy moet die kos (die Woord) wat sy Sender gee aan die huisgenote van sy Here gaan voorsit. Hy soek nie homself nie, maar om die Here se wil te doen. Hy laat die roep van die evangelie tot alle mense uitgaan en bou in besonder die huisgenote van die geloof in prediking. huisbesoek en kategese op (Ef 4: 11v). Hierdie dienaar bid gedurig om sy diens te kan verrig, berei hom met moeite voor vir elke diens, verloën homself selfs wanneer hy beledig word, luister na kritiek om sy diens net beter te kan lewer. Sy teologiese opleiding stel hom slegs in staat om die Skrif in sy diens beter toe te pas.

Die predikant self kan die grootste struikelblok vir die bediening van die Woord wees. Die predikant wat agter die Woord van God, soos gedra deur die Heilige Gees op die kansel, huisbesoek en in kategese verdwyn, sal geëer word (1 Ts 5: 12,13; 1 Tm 5: 17).

 

3. Die praktyk van die herder en leraar

Die predikant moet die Woord van God vermanend, opbouend bestraffend, vertroostend en oordelend bedien. Hy moet dit altyd eerste aan homself bedien. Bewaar die predikant wat vir ander preek maar homself daarbo verhewe ag. 

Kuyper het al gesê dat die predikant nie net herder by die siekbed of op huisbesoek is nie, maar juis op die preekstoel (Kruger et al 1966:115). Sy prediking moet dus waarlik herderswerk wees wat die kudde voed, waarsku, lei en vertroos met “so sê die Here!”. Vandag is daar ’n groot gevaar dat die prediking veroppervlakkig, moraliseer, verhorisontaliseer, probeer vermaak, verpolitiseer of vormlik raak omdat die “vorm” van erediens nog onderhou word sonder om werklik na die Woord van God te vra.

Die predikant is in die eerste plek leraar. Om te leer het vir Calvyn beteken om die waarheid van God se Woord onverswak tot opbou van die gelowiges uiteen te sit. Dit staan in kontras met die Roomse Sakramentalisme (Moore 1984:142v). Die “leerdiens” word vervul op die kansel, op huisbesoek veral waar mense leer- en geloofsprobleme ondervind, waar kinders gebore is, in

|115|

katkisasie, iemand siek of oorlede is, iemand in sonde geval of beproef word, evangelisasie (sending) nodig is, of iemand sy raad kom vra. Selfs waar iemand lastig, beledigend of aggressief word, mag hy hom nie deur die kwaad laat oorwin nie. Hy moet die Woord bedien wat die kwaad deur die goeie oorwin. Die Heelmeester Christus het immers gekom om te soek en te red wat afgedwaal, vervreem en verlore was.

Die predikant het ’n besondere leerdiens om teenoor die kerkjeug te vervul, te onderrig en op te voed in die vrese van die Here en in sy verbond. Hy mag die taak nie aan, helpers of sogenaamde hulpkragte oorlaat en ’n soort “Sondagskool” met soveel “klasse” as wat daar skoolstanderds is daarop nahou nie. Die predikant behoort met die kinders jonger as 12 jaar minstens Sondae saam te kom, die psalm wat gesing word te verduidelik en die Bybelgeskiedenis te behartig. Daarna kan die kleiner kinders in klasse van hulle eie voorbereiding rekenskap gaan gee by hulpkragte, registers gemerk word ensovoorts. Die kontak wat die predikant as leraar met jonger kinders maak, lê bande wat die koms van die koninkryk van God bevorder. Vanaf die ouderdom wat kinders leerstellig kan begin “verstaan” (ongeveer 12-jarige ouderdom), moet die predikant self aan al daardie kinders die volle raad van God onderrig en daarvoor genoeg tyd, by voorkeur in die week, inruim. Hulpkragte moet hier slegs gebruik word wanneer kerkkatkisasie deur die leraar onmoontlik is.

Die herder en leraar se diens is nie tot ’n kerk beperk nie. Hy moet dus ook die Woord van God laat spreek in die samelewing, by geleenthede in die skool, teen euwels en sonde in die gemeenskap, ontmoeting met plaaslike en hoër owerhede en veral om ook doelbewus God se koninkryk deur middel van evangelisasiewerk te laat kom (vgl Heid Kat S 48). Predikante tree te veel as amptenare in en van ’n kerk en te min as dienaars van Christus ook evangeliserend na buite op.

 

4. Saam met die ouderling

Die artikel praat van “medebroeders” omdat daar in die 16de eeu meer as een predikant in die gemeente gedien het. Die Kerkorde van Genève 1561 maak gevolglik voorsiening vir weeklikse predikantevergaderings en visitasie deur ’n kommissie van ouderlinge en predikante wat eenmaal per jaar by die gemeente rondgegaan het om vas te stel of die predikante hulle diens getrou uitvoer (Pont 1981 25; artt 20,27,31)

Die predikante moet in die tweede plek ouderlinge vergesel na probleemgevalle voordat so ’n saak op die kerkraad dien (Mt 18: 16). Die ouderlinge behoort die predikant te wys op gevalle waar sy leerdiens nodig is. In die laaste instansie oefen die predikant(e) saam met die ouderlinge die kerklike dissipline in die kerkraad uit (kyk artt 71-78. Calvyn: Inst IV hfst 11).

In een-predikant-per-gemeente-praktyk en onder invloed van die kollegialisme, word die posisie van die predikant oorspan. Die verkeerde neiging het ontstaan om die predikant soos ’n biskop die alleenadres vir klagtes oor sondes in die gemeente te maak. Hy moet as ’t ware self alle dissipline uitoefen of aan die “ouderling” opdrag gee, asof die ouderling sy helper is. Die predikant

|116|

is in die presbiteriale tugoefening volkome gelyk aan enige ander herder-ouderling en mag nie vir homself op grond van sy “leerdiens” in die kerkregering enige gesag of heerskappy as herder oor die ouderlinge aanmatig nie (kyk artt 22,37).

 

5. Geen ampsgewaad

Die kerke het in Sinode 1879 verklaar dat die Nuwe Testament nie ’n “ampsgewaad” vir predikante voorskrywe nie en dat predikante gevolglik slegs verplig kan word om hulle te gedra soos 1 Tm 4: 12 en Tit 2: 7,8 dit van hulle eis (art 158). Hierdie advies sluit aan by dié van Edam 1604 waarin predikante opgeroep word om te onthou dat mense verskil en oor kleredrag nie eners dink nie. Waar hulle die kerk moet opbou, moet hulle die gemeente wat daaroor anders dink in hulle swakheid soveel moontlik tegemoet kom om daaroor nie ergernis te veroorsaak nie (Bos 1950:77).

In die geskiedenis het sommige kerkrade tog ’n manél en soms ’n wit das (vroeër strikkie) ter wille van “eenvormigheid in die kerkraad” aan predikante, ouderlinge en diakens voorgeskrywe. Ander het slegs ’n netjiese dagpak verlang. Sedert 1950 het die voorskriftelike “ampsgewaad” uit feitlik alle kerke verdwyn. Kleredrag is ’n middelmatige saak wat deur kultuur, gebruike, gewoonte en smaak bepaal word, en nie kerklike voorskrifte of dwang vereis nie. Die diens verg slegs ’n netjiese voorkoms.

 

6. Die predikant is liturg

Die kerke stel gewoonlik kragtens hulle eenheid in kerkverband ’n liturgiese orde daar waaraan die liturg hom moet hou, sonder om in slaafse formalistiese eenvormigheid soveel as persoonlike voorkeure en veranderinge in die liturgie te verval (vgl GKSA 1927:80; 1955:403). Die liturg behou altyd ’n mate van vryheid (vgl GKSA 1876: art 93; 1955 art 262). Hy moet soms in bepaalde situasies die liturgie aanpas op sterkte van besondere geleenthede, beperkte tyd, ensovoorts. Hy moet egter nie die eenheid in diens tussen kerke in kerkverband versteur nie.

Spoelstra, B. (1989) Art. 17

Artikel 17

Ongehinderde dienslewering

 

Artikel 17: Waar daar meer as een bedienaar van die Woord aan ’n kerk verbonde is, moet in hulle dienspligte sowel as in die ander opsigte volgens die oordeel van die kerkraad en, indien nodig, van die klassis, soveel moontlik gelykheid bestaan. Dit moet ook in die geval van die ouderlinge en die diakens onderhou word.

|117|

A. Kerkregtelik

1. Christus is alleen Hoof van sy Kerk

In die koninkryk van God is Jesus Christus die enigste Hoof en Koning van sy Kerk. Gevolglik bely ons uitdruklik dat die predikante, as dienaars van Christus, in watter plek hulle ook al dien, dieselfde mag en gesag het (NGB 27,31). Die Reformasie verwerp die Roomse hiërargie wat die pous as plaasvervanger van Christus op aarde beskou op sterkte waarvan hy aan die spits van die hiërargie gesag oor hoër ampte soos kardinale en biskoppe voer, wat op hulle beurt onderhewig aan die pous oor priesters, pastore en mindere ampte regeer (vgl art 84 KO).

Die Reformasie bely dat Christus elke dienaar tot sy bepaalde diens roep (NGB 31) en daarvoor verantwoordelik hou. Predikante dien derhalwe nie onder gesag en regering van superintendente, moderatore, voorsitter van bestuurskolleges of kommissies van predlkante nie. Niemand kan die diensopdrag van Christus verander nie.

Op grond van dieselfde beginsels kan ouderlinge en diakens ook nie onder gesag van die predikant of diakens onder ouderlinge gestel word nie. Predikante word nie in “hoër” poste of diakens tot ouderlinge “bevorder” nie. 

 

2. Gesag berus by die Woord

Elke predikant bedien dieselfde Woord van God waarin God met gesag sy wil bekend maak. Geen predikant kan hom gesag aanmatig asof hy die gesag van die Woord oor ander dienaars voer nie (vgl art 84).

 

3. Gelykheid van die Skrif

Jesus noem die dissipels almal broers en bring grootheid in sy koninkryk in verband met diens (Mt 23: 8, Mk 9: 35; Joh 13: 14-16). Die apostels noem hulleself mede-ouderlinge van die ander ouderlinge (1 Pt 5: 1).

Wanneer Rome aan die pous, Luther aan die owerheid of die kollegialisme aan die kerk gesag verleen om die amp te bepaal, kan een dienaar oor ’n ander gestel word. Daardeur kom “hulppredikers” na vore of word die predikant hoër as ouderlinge of ouderlinge bo diakens beskou.

Die dienste van predikant, ouderling en diaken verskil inhoudelik en een dienaar lewer kwantitatief meer diens as ’n ander (vgl 1 Kor 15: 10). In kwaliteit bly die diens egter gelyk. Kwantitatiewe ongelykheid mag nie tot kwalitatiewe ongelykheid tussen dienaars lei nie. Elke dienaar moet altyd alle aspekte van sy roeping en diens van die Here ten volle kan uitvoer.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die artikel is vir die eerste keer in 1586 geformuleer en van toe af feitlik onveranderd behou (Biesterveld, Kuyper 1905:195).

|118|

2. Noukeurige verdeling van ampspligte

Waar meer as een predikant dien, moet die kerkraad hulle werksaamhede noukeurig en duidelik verdeel en omskrywe sodat elkeen hom daaraan kan hou. Van der Linde ag dié diensreëling so bindend dat hy van “indringing in die diens van ’n ander” praat, indien ’n dienaar of ouderling daarvan sou afwyk (1983:75; vgl art 80).

Kerkregtelik is elke predikant, ouderling of diaken kragtens die Bevestigingsformulier egter aan die hele kerk verbonde. Wanneer hy om diens deur gelowiges in ’n ander wyk gevra word, sal hy moet oordeel en hom primêr aan Christus moet verantwoord, veral wanneer sy hulp gesoek word omdat ’n medebroeder doelbewus verbygegaan word. Wanneer hy van ’n medebroeder moet verskil, moet hy volgens sy gewete optree, maar sy medebroeder dadelik inlig en desnoods teenspreek en vermaan (vgl Gl 2:11 en art 81).

Die kerkraad mag nie pligte so verdeel en een predikant of ouderling van sekere ampspligte onthef en hom in ander laat spesialiseer nie (vgl 4 hieronder). So mag een predikant nie byvoorbeeld net vir preek of net vir ’n hospitaal of tehuis of die jeug of studente aangewend word nie. ’n Ouderling kan nie in sy amp slegs as skriba of kassier optree nie. Daar moet gelykheid wees in die aard en fasette sowel as in die werklading van die dienaars. Die kerkraad moet “soveel moontlik” elke dienaar in elke faset van sy ampsroeping op gelyke basis aanwend. Wanneer die kerkraad probleme ondervind, moet die kerkraad advies van die klassis vra.

Ter wille van goeie orde reël die kerkraad derhalwe dat elke predikant, ouderling of diaken binne bepaalde wyke werk, alhoewel hulle by bevestiging op gelyke wyse aan die hele gemeente verbonde is. Hulle het dus ook ’n taak teenoor die hele gemeente. Gevolglik moet kerkrade waar meer as een predikant dien. reël dat hulle soveel moontlik in gereelde tussenposes roteer om in die hele kerk verbonde en diensbaar te bly. Vir bepaalde gevalle (bv tuggevalle) kan die diens van predikante op meriete gekontinueer word. Toerbeurt of rotasie verseker “gelykheid” in dienspligte. Verder moet die predikante om die beurt preek, in die kerkraad presideer, gelyke aandeel neem in huisbesoek, kategese en beurtelings na die klassis afgevaardig word.

In buitengewone omstandighede, byvoorbeeld wanneer ’n predikant net gedeeltelik ongeskik geraak het, mag beroep van ’n tweede predikant noodsaaklik en gelyke werkverdeling met gelyke finansiële versorging onmoontlik wees. ’n Jonger predikant met die groter werklading in die buitengewone situasie mag selfs ’n kleiner salaris ontvang. Oor hierdie feite kan die kerkraad die advies van die klassis vra (vgl art 13 KO).

 

3. Gelyke versorging

Die bepaling dat ook “in ander opsigte” gelykheid tussen predikante in dieselfde gemeente moet bestaan, hou hoofsaaklik verband met traktering, erkenning, dank of eerbetoon, onderlinge betrekkinge, ensovoorts. “Gelyk” beteken nie “eners” nie. Die salaris mag verskil wanneer onderhoud teenoor behoeftes afgeskaal word. Een predikant mag byvoorbeeld daardie jaar uitgestrekte

|119|

plaaswyke en die ander kompakte dorpswyke moet bedien. Hulle reiskostetoelaes sal moet verskil om “gelykheid” te verseker. ’n Predikant wat pas in ’n kerk bevestig is, sal nie dieselfde erkenning en vertroue geniet as sy kollega wat reeds jare daar dien nie (vgl art 44).

Die kerkraad moet egter waak dat byvoorbeeld die jonger predikant nie as ’n hulpprediker vir en onder die ouer predikant gestel word en ’n kleiner salaris met die idee van ’n ondergeskikte gestel word. Waar ’n eerste onder gelykes (primus inter pares) na vore tree, dui dit op onderskeiding op sterkte van ampsgawes en ampsdiens en nie op stand en rangorde nie (Kruger et al 1967:122; kyk 1 Tim 5: 17).

 

4. Geen ampdifferensiasie nie

In die kollegialisme bepaal die Sinode die funksies van ampsdraers. Gevolglik gee die Sinode soms aan ’n predikant ’n “spesiale opsdrag” of stel ’n ”spesiale diens” in wanneer die sinode pragmaties die belange van die “kerk” as genootskap wil bevorder.

Klassis Krugersdorp het in 1964 geredeneer dat funksionele differensiasie op sterkte van die praktyk van werkverdeling geoorloof mag wees (GKSA 1964:523-525). Die kerke het egter in 1967 gewys dat werkverdeling binne die betrokke ampsbediening plaasvind terwyl funksionele differensiasie tot ’n nuwe amp lei, soos dié van predikant uit dié van ouderling ontwikkel het. Om ouderlinge vir byvoorbeeld sending, jeug of evangelisasie af te sonder stel hulle de facto in die diens van predikant (kyk GKSA 1967:100v). Vanuit koninkryksperspektief is die ouderling dienaar van Christus en nie soos vanuit kerkperspektief ’n dienaar van die kerk of vir sektore van die kerk nie.

Spoelstra, B. (1989) Art. 18

Artikel 18

Die diens van opleiding

 

Artikel 18: Die dienspligte van die professore aan die Teologiese Skool is om bedienaars van die Woord op te lei, die Heilige Skrif uit te lê en die suiwere leer teen die ketterye en dwalinge te verdedig.

 

A. Kerkregtelik

1. Die diens van opleiding van predikante

Christus roep en gee gawes aan mense om die diens van die Woord te verrig (kyk artt 2,3,8). Dié gawes moet nogtans deur studie of oefening ontwikkel word (artt 4, 8). In die Ou Testament was profeteskole en Jesus het as Leermeester

|120|

(Joh 13: 13) sy elf dissipels opgelei en Paulus buitengewoon toegerus om as apostel te dien (Mt 28: 19,20; 1 Kor 15: 8; GI 1: 11; Ef 2: 20). Die apostels het op hulle beurt geestelike “kinders” opgelei (1 Tm 1: 18; 4: 6-16; 6: 2; 2 Tm 2: 2 ens), wat weer op hulle beurt ander bekwame voorgangers moes onderrig (2 Tm 2: 2).

Die Heilige Skrif vorm die hoof leerinhoud (2 Tm 3: 14-4:5), terwyl ook talle voorskrifte in die evangelieverkondiging, pastoraat en kerkregering in ag geneem moes word (vgl bv briewe aan Timotheus en Titus). Die diens van opleiding moes deurlopend voortgesit word.

 

2. Bedienaars van die Woord lei predikante op

Calvyn onderskei die herders (predikante) van leraars (“doktore”) in sy kommentaar op Efesiërs 4: 11. Eersgenoemde versorg die gemeente, terwyl die leraars aan die gemeente en na buite onderwys gee (Bos 1950:78). Sonder herders kan die kerk volgens hom nooit wees nie, omdat die bediening van die Woord, sakramente en tug nie mag ontbreek nie. Gevolglik is leraars (doctores, professore) op grondvlak nodig om die Skvif uit te lê, soos die profete die wil van God in die Ou Testament bekend gemaak het (Calvyn 1951:332.iv).

In die vroeë Christelike kerke was daar gevolglik reeds kategumeneskole waar heidene en verbondsjeug tot geloofsbelydenis opgevoed is deur herders en hulle helpers. Met die oog op kategese, opleiding van predikante en verweer teen die heersende dwalinge het egter ook kategete- en biskopskole ontwikkel. Soos die herder en leraar of predikantediens uit die diens van opsienerouderling (herder en leraar) ontwikkel het, het met die oog op die opleiding van predikante weer die leraarsdiens (“doktor”, professor) uit die predikantsdiens ontwikkel.

 

3. Die diens van opleiding gaan van dienaars en nie van ’n “Skool” uit nie 

Die plek waar die dienaars (kyk artt 2,3) predikante oplei, word in die gewone taal ’n “skool” of seminarie genoem. So was daar biskopskole te Alexandrië en op ander plekke in die vroeë Christelike kerke.

Vandag word onder ’n “skool” of universiteit egter ’n inrigting verstaan wat op sterkte van sy konstitusie, akte van oprigting of wet in eie reg onder eie Raad van Beheer optree, eie personeel in diens neem, ensovoorts. Indien die opleiding van predikante van so ’n inrigting uitgaan, staan die professor nie meer in ’n kerklike diens nie, maar in diens van daardie selfstandige inrigting.

Die Kerkorde reken nie met dergelike selfstandige instellings nie. Kerke kan ook nie aan selfstandige inrigtings voorskrifte gee nie (art 30 KO). Die opleiding van predikante geskied volgens Kerkorde deur dienaars in 'n bepaalde diens wat daartoe deur een of meer kerke beroep word (artt 2,3). Die plek waar die opleiding plaasvind word dan in oordragtelike sin ’n skool genoem (GKSA 1985:545). Op grond van die koninkryk waardeur Christus Hoof van sy kerk is, staan die professor ook direk in diens van Christus en is hy nie in diens van ’n kerk of ’n skool nie.

|121|

Die gevaar bestaan dat die diens van opleiding aan die “kerke” as sodanig verbind word. So word gesê dat die professore vir hulle diens aan al die kerke gelykelik verbonde sou wees (GKSA 1985:537). Wat met “verbonde wees” bedoel word, is onduidelik. Indien hiermee bedoel word dat die professor as predikant in diens van al die kerke staan, bots dit met die kerkregtelike karakter van 'n kerklik diens (artt 2,3), die verbondenheid aan ’n kerk (Calvyn: Inst IV.3.vii) en die diens van predikant (vgl by art 16). So ’n stelling loop gevaar om die unieke karakter van die amp as dienaar van Christus wat aan die kerk voorafgaan te verkerklik asof die “kerk” hierdie diens instel, bepaal en beheer.

Wie die kerklike diens van leraar, soos Calvyn, op sterkte van Efesiërs 4: 11 beklemtoon, moet dit net soos dié van herder, aan die plaaslike kerk bind (Calvyn 1951:333). Daar bestaan geen kerkregtelike grond om professore as sinodale predikante te beskou nie, behalwe wanneer die kerke Christus verplaas as die werkgewer van predikante. Die professore is slegs in die diens wat hulle lewer ten opsigte van versorging en erkenning gelyk aan al die kerke verbonde. Die kerke oefen wel toesig oor die opleiding deur middel van ’n Kuratorium of in laaste instansie deur 'n nasionale sinode uit, terwyl slegs die kerkraad oor die professor as predikant kan handel (GKSA 1973:316).

 

4. Eenheid in leer is die eenheid van die kerk

Volgens Rome omlyn die regeringsfeer van die pous die kerk. Die Reformasie beskou egter die kerk, soos die Skrif, as mense wat God tot die ewige lewe verkies het en deur sy Woord en Gees in die eenheid van ’n ware geloof met Christus verenig (Heid Kat S 21; Calvyn Inst IV.1.ii). Die gelowiges is dus “lidmate van die Here” (1 Kor 12) eerder as “lidmate” van ’n kerklike instituut soos by die kollegialisme. Dwaalleer en afval in geloof versteur derhalwe die eenheid wat die kerk is. Eenheid in geloof bepaal die wese van die kerk. In die Skrif is fel teen dwaalleraars en afwykende leerstellings opgetree (Mt 28: 19; 1 Kor 1: 10; Ef 4: 1-6; Fil 3: 1,2; Kol 2: 8; 1 Tm 1: 19; 4: 1 v,16; 2 Tm 2: 15).

Calvyn bring gevolglik die leraarsdiens (doktore-amp) op sterkte van sy eksegese van Efesiërs 4: 11-16 ook in verband met die handhawing en verdediging van die suiwere leer teen kettery en dwaling. So raak die doktore-amp regstreeks elke gelowige. Die diens wat die suiwere leer verdedig, behou en bou die kerk as eenheid in ware geloof (Calvyn Inst IV.1 iv-vi). Die leraars (“doktore-amp”) moet dus die bedienaars van die Woord toerus om in hulle diens die merkteken van die ware kerk te openbaar.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die Kerkorde van Genève 1561 koppel die diens van die “doktore” (Latyn: docere, om te leer) aan die predikante, maar verwys verder na ’n Skoolorde en die Gimnasium en Akademie van Genève wat dienaars vir die kerk en burgerlike regering moes oplei terwyl dogters in aparte skole geplaas word

|122|

(Pont 1981 28 artt 43-47). Klaarblyklik het ons hier ’n kompromis. Calvyn stel die “doktore-amp” in die Kerkorde, terwyl die Raad van Genève kragtens die feodale stelsel sy hand aan die skole en Akademie hou.

Nederland was ook onder invloed van die idee (vgl by Luther) dat die owerheid volgens feodale reg pligte ten opsigte van die godsdiens en onderwys het in 1575 is die Universiteit van Leiden onder beheer van die owerheid gestig en opleiding van predikante daaraan toevertrou. Ten spyte daarvan het die kerke die huidige artikel in 1581 te Middelburg geformuleer, maar kon nie slaag dat die owerhede die Kerkorde erken en kerklike beheer oor die teologiese opleiding toestaan nie (Pont 1981:207). Nederlandse teologiese professore as personeel van selfstandige universiteite het by herhaling met afwykende leerstellings ernstige beroering en skeuring in die kerke veroorsaak omdat hulle die eenheid in die leer nie onderskryf het nie.

Die Afskeiding van 1834 het met die staatskerkidee gebreek en die beginsel van kerklike opleiding deur middel van kerklike dienaars in werking gestel. In Nederland het nietemin twee duidelik uiteenlopende rigtings posgevat. Kuyper en sy medestanders het nog voor die Doleansie op Hervormde Kerk-model ’n selfstandige Vrye Universiteit in 1880 opgerig om predikante op te lei. Ander Gereformeerdes het egter te Kampen volgehou met die tradisie van 1834. Die GKSA lei van vroeg af predikante op ’n kerklike wyse onder toesig van die kerke op (GKSA 1866 8-14; 1869:16: Van der Linde 198:78)

 

2. Predikante en teologies-akademiese opleiding

Predikante is tot 1919 in ’n voorbereidende of litterariese departement en daarna in die teologiese afdeling deur beroepe teologiese professore opgelei. In die voorbereidende afdeling het ander dosente klas gegee en nie net voornemende predikante gestudeer nie.

In 1918 het finansies en staatsbeleid ten opsigte van hoër onderwys die GKSA as ’t ware verplig om die Litterariese Departement as die Potchefstroomse Universiteitskollege by die Universiteit van Suid-Afrlka in te lyf (GKSA 1918:22v.39v, 1920:12-32). Die staat het ’n gewetensklousule voorgeskryf waardeur geen dosent of student na sy geloofsoortuiging met die oog op toelating gevra mag word nie. Die PUK het weldra verlof ontvang om die teologiese professore te gebruik om Unisa-grade in teologie uit te reik. In praktyk het dit daarop neergekom dat die Universiteit die teologiese opleiding vir studente wat ook by die Universiteit inskrywe akademies erken en het so ’n teologiese fakulteit daargestel. Die teologiese opleiding van predikante het egter onafhanklik van die PUK aan die Teologiese Skool onder sorg van die Kuratorium voortgegaan. Die teologiese opleiding is deur die kerke in sinodes beheer.

Die Sinode van 1942 het samewerking deur middel van ’n ooreenkoms tussen “albei selfstandige inrigtings, elke onder sy eie bestuur” oorweeg sonder dat daar sprake van “inlywing” van die een by die ander mag wees (GKSA 1942:193). Daar was groot vrees dat die kerklike opleiding gaandeweg deur die Universiteit ingesluk sou word. Voor die Sinode van 1945 stel ’n meerderheidsrapport wat besluit word, die selfstandigheid van die twee

|123|

inrigtings voorop, onder onderskeie en selfstandige beheer van die Kuratorium en Raad van die PUK. Onderlinge hulp kan verleen word waar en wanneer “teologiese professore hulle toestemming” gee. Saamsmelting of “saamkoppeling” van die kerklike en universitêre opleiding word uitdruklik afgewys. Die Sinode stel die beginsel van “opleiding vir die kerk deur die kerk” as ononderhandelbaar Die minderheidsrapport wou samewerking slegs met ad hoc-reëlings laat voortduur uit vrees dat die gees, rigting en ontwikkeling van die PUK met verloop van tyd van die GKSA mag vervreem (GKSA 1945:162-172).

Die eerste ooreenkoms is in 1949 aangegaan (GKSA 1949:132-134,308) en sedertdien van tyd tot tyd aangepas. In praktyk het die Universiteit vandag grootliks die finansiële verantwoordelikheid oorgeneem en gepaard daarmee meer seggenskap by beroeping en emeritaat van teologiese professore verkry. Die aksent rus moontlik swaarder op akademies-teologiese as kerklike predikante-opleiding.

Die GKSA het as interimreëling opleiding van predikante te Temba in Bophuthatswana (Hammanskraal) vir die kerke uit die Derde Wêreld onderneem (GKSA 1961:174v; 177v). Die standaard van opleiding is geleidelik verhoog. Akademiese erkenning van studie geskied met toestemming van die Suid-Afrikaanse sowel as Bophuthatswana regerings aanvanklik op ’n ad hoc-basis aan die PU vir CHO. Die Kuratorium van die HTS (kyk GKSA 1973:520v) het by herhaling vertoë tot die Suid-Afrikaanse regering gerig om die wetlike struikelblokke uit die weg te ruim, sodat ’n vaste ooreenkoms van samewerking tussen die GKSA en die PU vir CHO tot stand kon kom. Die eerste konsep-ooreenkoms is reeds deur die Sinode van 1976 in samewerking met die PU vir CHO oorweeg, dog die Minister wou die HTS by die Universiteit van die Noorde affilieer (GKSA 1976:124-131). Uiteindelik het die Regering in 1986 verlof verleen sodat die langverwagte ooreenkoms in Augustus 1987 formeel aangegaan kon word.

 

3. Die kerkregtelike posisie van ’n teologiese professor

Die teologiese professor is ’n bedienaar van die Woord en moet as sodanig aan ’n plaaslike kerk verbonde wees. Die toesig oor sy leer en lewe en persoon as gelowige en predikant hoort by die kerkraad waar hy woon tuis (artt 16,23,30,71-78). Die kerke wat hom beroep, moet met mekaar ooreenkom hoe hulle die professor gaan versorg (vgl art 11).

Wie van die kerk uitgaan, redeneer dat ’n predikant aan die kerk waar hy gedien het verbonde bly wanneer hy verhuis om elders die roeping as professor op te volg. Gevolglik is lank geglo dat so ’n predikant “na analogie van artikel 13 KO” geëmeriteer word, maar as predikant nominaal aan die betrokke “kerk” verbonde bly, asof hy sy amp aan die kerk ontleen. Wie egter nie van die kerk nie, maar van Christus as Hoof van sy Kerk (koninkryk) uitgaan, aanvaar dat so ’n predikant losgemaak word by die betrokke kerk en as predikant in die diens van opleiding (“doktore-amp”) in die ander kerk waar hy gaan woon, bevestig word. Daardie ouderlinge hou toesig oor hom as gelowige en dienaar (GKSA 1973:315-316).

|124|

Die kerke in kerkverband handel by die opleiding deur middel van ’n “kuratorium”. Dit tree op by die bevestiging, ontslag, emeritaat of eventuele tugoefening wat ’n professor raak. In finale instansie handel die kerke daaroor in sinodale verband. In bepaalde gevalle moet die kuratorium en kerkraad onderskei wat hulle aan mekaar moet meedeel, of gesamentlik oorleg pleeg of aan die ander oorgee om daarmee te handel omdat dit daar tuishoort (art 30; GKSA 1973:315-316).

 

4. Die professor as bedienaar van die Woord

Die opdrag om die Skrif uit te lê en die suiwere leer teen kettery en dwaling te verdedig, laat ruimte vir persoonlike inisiatief wat regstreeks aan Christus verantwoord moet word. Die kerke kan egter ook oor bepaalde probleme bepaalde versoeke rig of opdragte gee om te studeer en tot diens van die kerke en samelewing adviese te publiseer.

Omdat die professor nog altyd ’n predikant is, behou hy die bevoegdheid om in kerke die diens van die Woord te verrig, terwyl hy die Woord op ’n besondere wyse bedien waar hy teologiese opleiding aan toekomstige predikante gee en hulle opbou in die ware geloof, regte kennis en vaste vertroue (vgl 2 Tm 2: 2; 3: 15; Ef 4: 11-16; Van der Linde 1983:78).

So gesien verkry die predikantsopleiding ’n eie gerigtheid wat nie deur ’n sekulêre aksent op universitêr-akademiese vereistes oorskadu moet word soos wat by nagraadse teologiese studie aan die dag tree nie. Wetenskaplike teologiese opleiding is in predikante-opleiding geen doel op sigself nie, maar steeds net middel tot die doel wat in die roeping (vgl art 3) opgesluit lê.

Die bemoeienis van die Nederlandse owerhede vanaf die 16de eeu met predikantopleiding het veroorsaak dat daar nie ’n Formulier vir die Bevestiging van professore opgestel is nie. So laat as 1982 het die GKSA hieraan aandag begin gee (GKSA 1982:81-84). Hierdie Formulier voldoen waarskynlik nog nie aan al die vereistes nie, maar gaan reeds van die besondere roeping en posisie van die teologiese professor in ’n kerklike diens uit wat van dié van enige ander professor aan ’n universiteit verskil.

 

5. Die Kuratorium en Kieskollege

Reeds toe in die sestigerjare van die vorige eeu die enigste twee diensdoende predikante nog predikante in hulle onderskeie pastorieë opgelei het, het die kerke al ’n “Sinodale Kommissie” benoem om “in naam der Synode” eksamens af te neem wanneer die kerke nie in sinode saamkom nie. Die “Kommissie” is soos ’n sinode volgens artikel 50 KO saamgestel en doen wat die kerke volgens artikels 4 en 9 in sinode (klassis) doen (vgl GKSA 1866:17). Dit was ’n pragmatiese kerkvergadering met ’n bepaalde beperkte doel.

Toe die twee predikante van Burgersdorp op vaster voet die opleiding onderneem, stel die Sinode van 1869 ’n “collegie der Curatore” volgens artikel 50 KO daar wat uit twee “verkose” predikante of ouderlinge uit elke Algemene Vergadering (vgl partikuliere sinodes) konstitueer om die opleiding vir die kerke te versorg. Origens het die predikante onder toesig van die kerkraad gewerk

|125|

(GKSA 1869:21). Die Sinode van 1894 beroep vir die laaste keer ’n teologiese professor, waarna ook dit (1904) aan ’n “breër” kuratorium wat ’n “kieskollege” genoem word, opgedra word.

Die kerke het die kuratorium daarna selfs as regspersoon gebruik om namens al die kerke op te tree, byvoorbeeld om eiendom te hou wat niks met opleiding van predikante te make het nie. Die kuratorium is dus nie deputate in die sin van artikel 49 KO nie, maar ’n kerklike “liggaam” met ’n meer permanente karakter as ’n algemene vergadering, klassis of nasionale sinode. As sodanig opereer dit soos ’n gekombineerde kerkraad by kombinasieberoepe waar meer as een kerkraad saam ’n gemeenskaplike taak verrig (GKSA 1982:60-68; 1985:534-543).

Omdat die begrip synodus contracta nie kerkregtelik geyk is nie, skrik party vir nog ’n “struktuur” terug. Dit is egter die gevolg van ’n valse probleemstelling omdat die benaming nie die wese van die kuratorium bepaal nie.

Die kuratorium konstitueer soos ’n sinode deur middel van afgevaardigdes uit mindere vergaderings om oor predikante-opleiding kerklike (sinodale) toesig te hou. Uit die aard van sy taak dra die kuratorium ’n durende karakter. Die kuratorium beantwoord aan die definisie wat artikel 50 van ’n sinode gee as “vergadering … waarheen elke part sinode ’n gelyke aantal bedienaars van die Woord … soos deur die nasionale sinode bepaal, afvaardig”. Dit verskil egter van ’n sinode daarin dat die kuratorium en kieskollege nie noodwendig deur middel van ’n gelyke getal predikante en ouderlinge konstitueer nie. Die gedagte dat leraar-ouderlinge oor die leerdiens toesig hou is egter eie aan die predikantevergadering van Calvyn in Genève en artikel 81 K0. Indien nodig kan sake wat die Kuratorium nie kan afhandel nie, by wyse van appèl of deur verslag in ’n nasionale sinode beslis word. Die Kuratorium tree in tugsake teenoor ’n professor volgens die Ondertekeningsformulier op soos ’n kerkraad oor ’n predikant. Die professor behou die reg van appèl op die kerke in sinode wat hom beroep het.

Die kuratorium se beperkte samestelling sowel as sy beperkte opdrag met betrekking tot opleiding, kwalifiseer die kuratorium om ’n synodus contracta genoem te word. Die kuratorium is ’n kerklike vergadering wat wesenlik verskil van ’n Raad van ’n Universiteit, Kollege of ’n Skool waarvoor slegs “lede” benoem word. Die kerke hou self deur middel van partikuliere sinodes wat deur kuratore verteenwoordig word in kuratorium toesig oor die professore, opleiding en studente.

Die kerke is in terme van artikel 11 KO verantwoordelik vir die onderhoud van die professore. Die feit dat aspekte daarvan in ’n ooreenkoms met die PU vir CHO gereël word, onthef nie die kerke van hulle prinsipiële verantwoordelikheid nie. Kerklike professore is daarom nie Universiteitsprofessore en -personeel in die gewone sin van die Woord nie.

 

6. Beroeping van ’n Professor

Sinodes bepaal van tyd tot tyd op watter wyse professore uit diensdoende predikante of predikante uit kerke met wie enger korrespondensie onderhou word, beroep moet word. Die kuratorium berei tans die werk vir die kieskollege

|126|

voor en vra predikante om hulle akademiese kwalifikasies en werk op dié vakgebied voor te lê. Dié prosedure kom feitlik op applikasie maak neer. Die Hammanskraalse Teologiese Skool verwag weer dat die lede van die kieskollege ’n drietal moet voorstel en motiveer om meer met die prosedure van ’n kerklike beroep ooreen te stem en die verantwoordelikheid van die kieskollege te beklemtoon.

’n Kieskollege kan slegs aan sy doel beantwoord wanneer elke lid hom op hoogte stel en hou met die teologiese publikasies en akademiese prestasies wat deur predikante binnelands en oorsee gelewer word. Die formele weg van die minste weerstand is om net te vra of iemand die “graad” in ’n vakgebied besit. Iemand wat baie en deeglike werk op ’n vakgebied gelewer het, maar nie in die betrokke vakgebied ’n doktorsgraad besit nie, behoort bo iemand met ’n graad sonder verdere werk beroep te word. Kieskolleges kan gebruik maak van metodes waarvolgens ander akademiese inrigtings kandidate op grond van verdienste en vermoë evalueer. ’n Kerklike beroep behoort op ’n onbesproke, onpartydige wyse met die oog op die diens wat gelewer moet word, geskied. Partikuliere sinodes wat oor broeders ouderlinge beskik wat aan universiteite dien, kan goedskiks dergelike persone vir die kieskollege benoem. ’n Prosedure om ’n nominasie vir verkiesing tot die kieskollege by die partikuliere sinode te motiveer, behoort aandag te geniet. Beroeping van teologiese professore mag nie baantjies vir boeties word nie. Streng tugmaatreëls behoort toegepas te word indien ’n vakature vooraf aan ’n kandidaat beloof of wanneer ’n kieskollegelid hom vooraf ten opsigte van ’n kandidaat kompromitteer. ’n Teologiese professor moet beroep word (art 3) en nie op straat gekies en die Here in ’n kieskollege van die keuse verwittig word nie!

 

7. Die diens van professor in die teologie

Die professor in teologie moet by uitstek leraar wees. Sommige maak verskil tussen “amp” (as posisie in die kerk) en “diens” (as bediening of taak}. Hulle praat van predikant en professor as een amp, maar twee dienste. Die onderskeiding tussen amp en diens berus nie op die Skrif nie (kyk art 2).

Die kerk is in wese ’n eenheid in ware geloof (Heid Kat S 21). Die professor se leraar-diens moet daarom hierdie geloof koester, uitdra en verdedig. Die professor moet by bevestiging onvoorwaardelik die Skrif aanvaar as hoogste gesag en sy volkome instemming met die Formuliere van Eenheid betuig en hom aan die kerklike toesig onderwerp deur ’n formulier te ondersteun (kyk by art 53 KO).

Die professor moet die bedienaars van die Woord oplei volgens die kursusse en sillabusse wat die sinodes en kuratoriums voorskrywe. Kragtens die kontraktuele verband met die PU vir CHO word dit ook in oorleg met die Fakulteit Teologie gereël. Elke professor behoort gedurig bedug te wees op aanvalle wat op die Gereformeerde leer gedoen word en bereid te wees om dit op teologies-wetenskaplike gebied te verdedig. Hy moet nuwe kennis deur vlytige navorsing bybring.

Spoelstra, B. (1989) Art. 19

|127|

Artikel 19

Sorg vir teologiese studente

 

Artikel 19: Die kerke moet soveel nodig sorg dat daar studente in die Teologie is wat deur hulle ondersteun word.

 

A. Kerkregtelik

1. Die gelowiges moet vir die diens van die Woord sorgdra

Die kerk is geroepe gelowiges wat God dien in die “amp van die gelowiges” om die Woord te verkondig en algemene priesterskap te beoefen (Heid Kat S 12). As sodanig moet die gemeente uitkyk na manne in wie die Woord en Gees van die Here die roeping werk (art 3; Hd 6: 3, 13: 2; 2 Kor 8: 18,19; 1 Tim 3 ens). Die voorafgaande artikels rus telkens op die taak van die kerk (gelowiges) om dienaars te verkies, te ondersoek en in die diens van Christus toe te laat. Hierdie verantwoordelikheid begin reeds voordat iemand in sy diens bevestig is.

 

2. Die gelowiges moet reeds die toekomstige dienaars van die Woord ondersteun

Wie die kerk as uitgangspunt neem, sou kon redeneer dat Christus “ampte” (posisies, poste) in “sy kerk” gestel het en dat die kerk vir sy behoeftes soos ’n sekulêre instelling geskoolde werkers moet oplei. Teologiese studente studeer dan soos enige ander student vir ’n “beroep”. Teenoor hierdie beskouing aanvaar ons dat Christus ’n bepaalde persoon met bepaalde genadegawes (en menslike gebreke) tot ’n bepaalde diens ten behoewe van bepaalde gelowiges roep. So is die toekomstige dienaar self ’n gawe van Christus aan die gemeente (1 Kor 12: 28; Ef 4: 11; Spoelstra 1976:44; Ridderbos 1966:492-499). Die gemeente moet by die gawe betrokke wees, hulle gawes opmerk en erken, vir hulle bid, hulle aanmoedig en finansieel ondersteun. Die kerk as liggaam van lewende lede moet intiem met die lid wat hom vir die besondere diens voorberei, saamleef (1 Kor 12).

 

B. Kerkregering 

1. Redaksioneel

In 1578 het die Nederlandse kerke gevra dat die gemeentes vir die studente staatsondersteuning of hulp van “partikuliere persone” (vgl art 6) moet soek

|128|

sodat daar altyd “bekwame predikante” sal wees (Bos 1950:83). In 1581 is bepaal dat die gemeentes moet “arbei” dat daar studente in die teologie sal wees wat ex bonis publicis (publieke gawes) onderhou moet word en wat proefpreke (“propositiën”) met die oog op opleiding voor die gemeente kon lewer (Biesterveld, Kuyper 1905:145 art 14). Die onderhoud was toe bedoel vir studente wat aan staatsuniversiteite en in Genève moes studeer. Die onnodige verwysing na publieke gawes is in 1964 weggelaat.

 

2. Tussen die kerke en teologiese studente moet ’n geestelik-sedelike band bestaan

Tydens die vervolging van die 16de eeu (Bos 1950:83) en in Suid-Afrika toe die kerke intiem by die teologiese opleiding betrokke was, het die kerke studente geken en hulle diens ingewag. Namate verstedeliking plaasgevind het, het dit verander. Tans mag ’n teologiese student selfs in die tuisgemeente onbekend wees of hy word akademies-formeel as student beskou.

By die toelating van teologiese studente is die getuigskrif van die kerk waaruit die teologiese student hom aanmeld, onontbeerlik. Wanneer kerkrade hierdie plig as ’n formaliteit behandel byvoorbeeld net om die student aan ’n studiegeleentheid te help, versuim hulle hulle karakter en plig as kerk van Christus en dra by om die diens van die Woord te sekulariseer. Die kerke behoort hieroor op mekaar ag te gee (kyk artt 41,44).

 

3. Die kerke moet teologiese studente finansieel ondersteun

Nederlandse kerkregtelikes wil nie ondersteuning van teologiese studente met “barmhartigheid” in verband bring nie (Bos 1950:82). Hulle stel klaarblyklik “barmhartigheid” en “verpligting” teenoor mekaar. “Barmhartigheid” is egter liefde en liefde lê ’n dure plig op gelowiges. Die beurse vir teologiese studente moet uit liefde gegee word. Studente in hulpbehoewende omstandighede kan selfs verdere hulp by die kerkrade in die vorm van studielenings soek. ’n Student wat leningverpligtinge versuim en hoop dat die kerkrade dit ’n “skenking” sal maak omdat hy nie (kan) betaal nie, maak hom skuldig aan sonde teen die agste en negende gebooie. Die kerklike hulp raak basiese behoeftes en moet nie vir weelde soos motorkarre en luukshede aangewend word nie.

Elke student moet dankbaar wees vir die liefdegawes van die kerke. Hulle gee dit vir die diens en nie omdat die student volgens artikel 19 daarop aanspraak kan maak nie. Elke teologiese student is voor die Here ’n rentmeester en moet self uiters versigtig en verantwoordelik begroot en spandeer en nooit in sosialistiese sin die gemeenskap vir sy onderhoud verantwoordelik hou nie.

In die teologiese opleiding te Hammanskraal onderhou die kerke uit die Eerste Wêreld wat die opleiding voorlopig voorsien (GKSA 1961 177), ook grootliks studente uit kerke van die Derde Wêreld. Geleidelik begin dié kerke egter ook hulle verantwoordelikheid besef. ’n Breë kuratorium uit die kerke wat die professore daarstel en uit kerke waaruit studente kom, besluit saam

|129|

oor alle studentebelange. Kuratore uit sinodes waaruit studente kom, sou goedskiks die finansiële versorging van studente uit hulle kerke volledig kon oorneem. Hulle sou ook geleidelik professore kon beroep en aanbied en so geleidelik die opleiding oorneem.

 

4. Toelating van studente

Studente word versigtig en verantwoordelik toegelaat op sterkte van getuigskrifte van predikante, kerkrade en onderhoude met studente. In beginsel bly dit dus in die laaste instansie altyd die gemeentes wat met hulle getuigskrifte studente toelaat.

Die kerke en dosente moet oor voorbereidende studente se agtergrond en leefwyse gedurende hulle hele studieloopbaan toesig hou en hulle bekwaamheid en geskiktheid om as predikante opgelei te word, beoordeel. Die kuratorium moel gedurig getuienis oor al dié aspekte oorweeg en mag sonder opgaaf van redes ’n student wat akademies geslaag het in belang van “kerk en skool” toelating tot teologiese studie ontsê (GKSA 1958:389).

Die GKSA het op grond van die besondere band en ooreenkoms met die PU vir CHO selfs al gereglementeer dat voorbereidende studie aan dié Universiteit moet plaasvind. Dit gaan egter te ver omdat studente ook aan ander inrigtings voorbereidend mag studeer wanneer dit goedkoper of geriefliker (bv deeltyds of buitemuurs) kan plaasvind (GKSA 1958:388). Die Kuratorium moet basies slegs oordeel of die betrokke kandidaat homself geroepe weet en oor die akademiese toerusting beskik om die teologiese studie te kan doen en hulle daarvan weerhou om opleidingsentra voor te skryf asof ’n inrigting iemand se integriteit waarborg.

Spoelstra, B. (1989) Art. 21

Artikel 21

Ouers en skoolonderrig

 

Artikel 21: Die kerkrade moet toesien dat die ouers die skoolonderrig aan hulle kinders in die vrees van die Here laat geskied.

 

A. Kerkregtelik

Op sterkte van die verbond van God moet die kinders van gelowige ouers gedoop word. Die ouers is daarom nie net natuurlik nie, maar in besonder voor die Here verantwoordelik vir die behoorlike opvoeding van hulle kinders. Die kinders behoort nie aan die staat, kerk of die gemeenskap nie en is ook nie los individue wat eers later hulle godsdienstige keuse moet maak nie. Die ouers se verantwoordelikheid voor die Here reik baie verder as net versorging met kos en klere of selfs ’n ordentlike opvoeding in ’n kultuurgemeenskap. Dit gaan

|130|

veral om die tydelike en ewige welsyn van die kind en sluit die opvoeding in die gereformeerde Belydenis en godsdiens in. Die kind moet in sy totaliteit opgevoed word. Die skoolonderrig moet aansluit by die opvoeding van die ouers en dit aanvul. Kragtens die verbond van God wat in die doop beseël is, moet die kind se skoolonderwys hom verder opbou om wanneer hy selfstandig en volwasse word self van sy geloof en verbondenheid aan God, wat in sy doop beseël is, belydenis te doen (vgl 2 Tm 1: 5 ivm 2 Tm 3: 14-17; Kol 3: 10 ivm 21; Dt 4: 10 ivm 6: 7; Js 4: 21-24 ivm 24: 14 ens).

Teen hierdie agtergrond kan ons verstaan waarom Gereformeerde onderwys in Nederland en in Suid-Afrika tot aan die begin van hierdie eeu eintlik gewone onderwys aan die onderrig in Bybelgeskiedenis en Heidelbergse Kategismus ondergeskik gemaak het.

Onderwys as sodanig is nie die taak van die kerk (as gemeente olv die ampte) nie. Die kerklike taak is beperk tot die diens van die Woord wat tot belydenis van geloof lei. Daarom verskil kategese van gewone skoolonderrig (kyk by art 55 KO). Die kerklike toesig gaan oor elke Christen-onderwyser van die kinders in die gemeente, selfs al val hulle nie regstreeks onder toesig van die kerkraad nie (Mt 18: 15v). Kerkrade moet waar nodig met die besture van die skole op ’n gepaste en waardige wyse skakel wanneer die eer van die Here dit eis of regstreekse Skrifbeginsels in gedrang kom (art 28). Die gelowiges (reeds die ouers al) moet oor die karakter van die onderwys toesig hou en mag nie toelaat dat die kind verwar word deur skoolonderrig wat hom van sy huis en godsdiens vervreem nie.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Volgens die Germaanse feodale stelsel moes die vorste (owerhede) predikante en onderwysers voorsien en onderhou. Die Raad van Genève het in die Kerkorde bepaal dat skole met die oog op die toekoms van die kerk nodig is (Pont 1981:29). Pas na die Hervorming in die Nederlande is in 1574 bepaal dat die kerke in klassis sal besluit waar skole kom, terwyl die predikante die onderwysers sou keur wat deur die owerheid aangestel en betaal sou word (Biesterveld, Kuyper 1905:68-69). Die Dordtse Kerkorde van 1619 stel in art 21: “Die kerkrade moet oral toesien dat daar goeie onderwysers is, wat die kinders nie net leer lees, skryf en in tale en vrye kunste onderwys nie, maar hulle ook in die godsaligheid en in die Kategismus onderwys” (vgl Pont 1981:178).

Die skoolsituasie het ingrypend verander toe vanaf die begin van die 19de eeu neutrale staatskole begin oorneem het. Die laaste Gereformeerde skole het aan die begin van die 20ste eeu verdwyn.

Spanning by die GKSA rondom die staatskole word duidelik weerspieël in Sinodes 1933, 1939 en 1942. Die kerklike bediening moet die ouers “aktiveer”. Sinodes, partikuliere sinodes en klassisse het ernstig aandag aan die staatskool gegee (GKSA 1967:62-64). In 1967 is toegegee dat die redaksie van artikel

|131|

21 onduidelik, verouderd en onuitvoerbaar is, terwyl wanneer op die taak van die kerkraad in die lig van handelinge op Sinodes 1933, 1939 en 1942 gelet word, die nuwe bewoording die taak van die kerkraad duidelik stel op die beginsel dat die ouers en nie die kerk nie vir die opvoeding van die kinders verantwoordelik is. Die bewoording stem ooreen met die doopformulier en die Skrif (Pred 12: 13; Ef 6: 4).

 

2. Ouerskole en Christelike staatskole

Die Gereformeerde Kerke het gedurende die 19de eeu teenoor die neutrale openbare skole en waar die ouers nie in staat was om skole te voorsien nie, kerkskole en Vrye (ten opsigte van die owerheid) Christelike Skole, geïnisieer, georganiseer en help onderhou. Later het hulle getrag (waarskynlik onder invloed van Kuyper se model om die “kerk as organisme” in verenigings te organiseer) om Christelik-Nasionale Skole (CNO) deur middel van ouerverenigings te loods. Die staat wou dié skole egter nie subsidieer nie en CNO het weens finansiële onvermoë ondergegaan.

Die GKSA en opvoedkundiges van die PU vir CHO het egter onverswak bly ywer om Bybelonderrig in Afrikaanse skole terug te kry. Interkerklike samewerking is geleidelik verkry en die Onderwyswet van 1966 het ’n kompromis tussen ’n Christelike ouerskool (Gereformeerd) en Christelike staatskool (Luther) daargestel.

Nuwere ontwikkeling op die gebied van staatsonderwys mag gesubsidieerde Gereformeerde skole wat van ouers of verenigings uitgaan in die toekoms moontlik maak.

 

3. Kerklike bediening en onderwys

Die kerkorde stel tereg die taak van “kerkrade” ten opsigte van toesig oor die gees en rigting van die skole waarheen ouers hulle kinders stuur. Die ouers het hierin ’n unieke Christelike plig en verantwoordelikheid. Daarom plaas die artikel net so primêr verantwoordelikheid by die herders (predikante en ouderlinge) in hulle onderskeie bedieninge om op huisbesoek en indien nodig in die kerkraad oor skole en onderwys indringend te handel (art 44 KO).

Spoelstra, B. (1989) Art. 22 & 24

|132|

Artikel 22 en 24

Die beroeping van ouderlinge en diakens

 

Artikel 22: Die ouderlinge word deur die gemeente onder leiding van die kerkraad verkies volgens die reëling wat daarvoor plaaslik in gebruik of deur die kerkraad vasgestel is. By hierdie reëling staan dit elke kerkraad vry om vooraf aan die gemeentelede geleentheid te gee om die aandag op geskikte persone te vestig, en om saam met die diakens vir die verkiesing die nodige aantal ouderlinge aan die gemeente vir approbasie voor te dra of om tweetalle of ’n dubbele getal te stel waaruit die gemeente die nodige aantal kies. Die verkose broeders word, nadat hulle name verskillende male afgekondig is, en geen wettige beswaar ingekom het nie, bevestig volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is.

Artikel 24: Wat gebruiklik is in die geval van die ouderlinge, moet ook onderhou word by die verkiesing, goedkeuring en bevestiging van die diakens.

 

A. Kerkregtelik

1. Die dienaars van Christus word verkies

In die vroegste Christelike kerke is ouderlinge en diakens deur die Christene (gemeente) aangewys en daarna deur die apostels in hulle diens voor die gemeente bevestig (Hd 6: 3-6; 14: 23). Die gemeente was verantwoordelik om norme by die verkiesing aan te lê (1 Tm 3; Tit 1: 7), maar met die bevestiging het die Heilige Gees hierdie dienaars aangestel (Hd 20: 28). Daar is altyd sprake in die Skrif van goddelike aanstelling (RES 1972:182). Die Skrif verbind die roeping sowel as die toerusting tot die diens in besonder aan manne wat vol is van die Heilige Gees en wat die Gees in die diens aanstel (Hd 6:3; 20:28 ens). Oor die verkiesing van predikante het artikels 4 en 5 reeds gehandel. Dit verskil in beginsel nie van wat artikels 22 en 24 bepaal nie.

 

2. Die Reformasie herstel die ouderling- en diakendienste

Die Roomse het gedurende die Middeleeue die ouderling-opsiener in priesterdiens laat opgaan en diakens het slegs hulpdiens vir die biskoppe

|133|

gelewer. Slegs priesters is deur die biskop met ’n sakrament in hulle diens gestel. Die “leke” het daarin geen rol vervul nie en die voordragte, toestemming (approbasie) en onderskrywing van die kerkraad het verdwyn (Inst IV 4. xii; 5.ii).

Calvyn het tot 1538 eers net die predikant as opsiener-ouderling naas die diakens erken (Kerkorde 1537). Na sy ontmoeting met Bucer in Strassburg (1538-1541) het hy egter naas predikante en diakens ook die diens van herderouderling en kerkraad uitgewerk (Van ’t Spijker 1970:3,341-444, Inst IV.3.vii,viii; 11.vi).

 

3. Die wyse van verkiesing

Die kerklike “verkiesing” dra ’n eie karakter en verskil radikaal van ’n demokratiese “verkiesing”. Die Gereformeerdes volg Calvyn na wat nie die wyse van verkiesing wil voorskryf nie. Vir hom is die godsdienstige erns waarin die verkiesing behoort plaas te vind, die bepalende faktor (Inst IV.3.xii). Hoewel Hd 14: 23 volgens die Griekse gewoonte op verkiesing deur middel van opsteek van hande dui, was daar by Jode en Romeine weer ander gebruike in omloop (Inst IV.4.xiv, RES 1972.183).

Dit maak selfs nie saak wie die persoon moes aanwys nie, aangesien dit per slot van rekening die Here self was wat die persoon moes verkies (Inst IV.3xiii,xiv). Dit kan slegs gebeur wanneer iemand beantwoord aan die vereistes wat die Woord van God vir die dienaar en diens stel. Dit vereis ook dat hy daarom eenstemmig onder leiding van 'n herder deur die gemeente verkies en goedgekeur sal wees. Die vroeë Christelike kerke het iemand selfs met behulp van 'n formulier ondersoek, voordat hy bevestig is (Inst IV.4.x) Bucer het ’n eksamen (ondersoek) vir ouderlinge nodig geag (Van ’t Spijker 1970:373-376). Die wesenlike verkiesing is dus die toestemming, goedkeuring en aanvaarding (approbasie) van die geroepene en toelating tot bevestiging deur die hele gemeente. Dit is sonde wanneer ligsinnigheid, partyskappe of opstand ’n rol in die kerklike nominasie speel (Inst IV.3.xv).

 

4. Die benaming “ouderling” en “diaken” (vgl art 23)

Waar “opsiener” en “herder” in byvoorbeeld Hd 20: 28 meer op die werk wys, dui “ouderlinge” in Hd 20: 17 op voorgangers in die gemeente. Hoewel die Skrif geen ouderdomsgrens vir beroepbaarheid voorskrywe nie en predikante soms so jonk as 23 jaar beroep kan word, lê in die begrip tog “rypheid” (Van der Linde 1983:96), verantwoordelikheid, wysheid, besadigdheid, betroubaarheid, ewewigtigheid, integriteit, voorbeeldigheid en ampwaardigheid opgesluit. Dit is veral duidelik dat die “genadegawes” wat God gee en waarop die innerlike roeping berus, aanwesig moet wees (Hd 6: 3, Ef 6: 4, Kol 4: 5,6; 1 Ts 4: 11,12; 1 Tm 3; 1 Pt 4: 15,16; 5: 1-3). Iemand wat aan die vereistes beantwoord en geroep word, mag as mens hom seker onbekwaam en onwaardig beskou, maar hom tog in die lig van die genadegawes nie maklik aan die roeping onttrek of daarvan onthef word nie (Bos 1950:92).

Die benaming “diaken” (artt 2,25) dui op ’n geringe slaaf of dienskneg wat die tafels bedien het. Weens die geringheid van die taak was dit by die Grieke

|134|

op soek na die elite-mens en by die Jode as “kinders van Abraham” ’n veragte begrip. Christus pas “diakonos” (dienaar) egter op homself, die opsieners en diakens en die gelowiges toe.

Wanneer noukeurig na byvoorbeeld 1 Tm 3 gekyk word, blyk dat ouderlinge en diakens sekere eienskappe gemeenskaplik moet hê, die ouderlinge bepaalde gawes met die oog op regering en die diakens veral gawes met betrekking tot ekonomiese en finansiële verantwoordelikheid en eerlikheid moet besit. Die gawes (Van der Linde 1983:93v; 102v) moet ’n beslissende rol by die verkiesing speel.

Aan die slot van artikel 30 NGB bely Gereformeerdes dat hulle glo dat deur die onderskeie ampsbedieninge “sal alles in die Kerk behoorlik en ordelik uitgevoer word wanneer sulke persone gekies word wat getrou is volgens die reël” in 1 Tm 3. Die nadruk val dus op die diens (diakonia) wat deur diegene wat geskik is, uitgevoer moet word (vgl selfs Kung 1973:395). Wat onder “gekies word” verstaan en bely is, sal uit die 16de eeuse kerkregering duidelik word.

 

5. Die metode van verkiesing

Die Skrif skryf geen bepaalde wyse van verkiesing voor nie. Die Jode het tweetalle gestel waaruit een met die lot aangewys is (Hd 1: 23,26). Die Grieke het met opsteek van hande gekies (Hd 14: 23). Paulus is direk geroep en op grond van openbaring en waarneming aanvaar (Hd 9: 17; 1 Kor 9: 2; 15: 9-11; 2 Kor 10: 11; Gl 1 :23, 2: 9). Sommige dienaars is regstreeks deur Titus aangestel (Tit 1: 5). Gedurende die Reformasie moes predikante soms die ouderlinge en diakens aanstel (Acta Dordt 1578 art 11). As die gemeente ’n “reg” het om te verkies, sou hierdie aanstellings onwettig gewees het.

 

6. Is vroue verkiesbaar as ouderlinge en diakens?

Veranderinge In die 20ste eeu bring mee dat mans en vroue vanuit ’n “unisex”-oogpunt beskou word. Vroue moet in alle opsigte die “manlike” terreine betree. In die lig hiervan word “vroulike” gesinsverpligtinge afgeskaal, toetrede tot die kapitalistiese beroepslewe opgeskroef en kom die huwelik selfs in gedrang. Die moderne kerkbegrip beskou net die ampte as aktiewe organe van die “kerk”. Gevolglik het talle kerkgenootskappe reeds vroue in die ampte laat verkies (Spoelstra 1971 a:33v; b:25v).

Gereformeerde Kerke het egter in die GES te Sydney 1972 bevind dat die Skrif die leer- en regeerampte van predikant en ouderling nie vir vroue bedoel nie (RES 1972:58; 167-204; 1 Kor 14: 34,35; 1 Tm 2: 12). Die Skrif benader man-en-vrou soos Christus-en-gemeente in unieke eenheid (vgl bls 33; Ef 5: 23-27, Tit 2: 5 vgl met 1 Tm 3: 2-5). Die een word in die ander vervul en verteenwoordig. Eenheid bestaan in verskeidenheid van funksie en roeping. Daarbenewens is die ampte ’n instelling van Christus en nie van die kerk nie en Hy het hom van manne (Hd 6: 3; 1 Tm 3: 2) laat bedien. Die kerk het nie bevoegdheid om dit “namens Christus” te verander nie. Waarskynlik sal Rome met sy biskoplike tradisie en Gereformeerdes met hulle Skrif- en koninkryksbeskouing volhou dat Christus hom van manne bedien met die oog op die opbou van die gelowiges

|135|

(Ef 4: 11-16). Christus wil juis dat die hele gemeente, vroue sowel as die manne wat nie in ’n amp dien nie, die Here met hulle geloof en werke sal dien. Die GES het In 1972 geoordeel dat vroue baie meer ondersteunend by die diakendienste gebruik kan word.

Die Ned Geref Kerk het kragtens hulle kerk- en ampsbeskouing die diakendiens selfs vir vroue oopgestel. Die vraag is of die “verampteliking” van vrouediens reg laat geskied aan die Skriftuurlike gegewens oor vroue wat soos Febe (Rm 16: 2) en ander (Hd 18: 26; Rm 16 ens) in die vroeë Christelike kerke hiper-aktief was en net soos mans wat nie in die amp was nie, ondersteuning aan die apostels gegee en ’n wesenlike rol in die kerk-wees en kerkgroei gespeel het. Die verampteliking van dienste lei tot die teenstelling clerus (ampsdraers wat werk) en leke (met wie gewerk word) in die gemeente.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van artikels 22, 24

Die Kerkorde van 1559 (Parys) het gereël dat predikante deur die ouderlinge en diakens gekies sal word en daarna aan die gemeente voorgestel sou word. Daar is egter nie gesê hoe hierdie konsistorie (kerkraad) tot stand kom nie. De Brés se artikel 30 NGB werp daar egter lig op. Die eerste Sinode van Nederlandse Kerke 1571 bepaal “verkiesinge” van ouderlinge en diakens, hoewel daarby nie die advies van die omliggende kerke of klassis nodig sou wees soos in die geval van predikante nie (Pont 1981:50,104).

Die Kerkorde van 1619 bepaal: “Die ouderlinge word volgens die oordeel van die kerkraad en diakens verkies: elke kerk sal vry wees om na omstandighede soveel ouderlinge as wat nodig is aan die gemeente voor te stel sodat (indien niks dit verhinder nie) en die gemeente dit approbeer en daarmee goed bekend is, hulle met openbare gebede en stipulasies bevestig word; of anders om ’n dubbel getal te stel en die helfte deur die gemeente te laat verkies en op dieselfde wyse in diens te bevestig volgens die formulier wat daarvoor opgestel is” en verder “Dieselfde gebruik wat ten opsigte van ouderlinge vasgestel is, sal ook by die verkiesing, approbasie en bevestiging van diakens onderhou word” (vgl Pont 1981:178,179).

Kerkregtelikes wat “kiesreg van die gemeente” onderskryf, het teen hierdie bepaling beswaar (Van der Linde 1983:89v).

Die artikel is deur die Geref Kerke in 1964 geredigeer om die verkiesing aan die gemeente onder leiding van die kerkraad op te dra omdat die “reg van verkiesing aan die gemeente toekom” (GKSA 1964:70). Waarom die nuwe redaksie die diakens nie meer by die kerkraad noem nie, by die kerkraad, verklaar die Sinode nie. Indien “kerkraad” soos by artikel 79 limitatief gebruik word (Van der Linde 1883:255), sou die nuwe redaksie verkiesings slegs deur ouderlinge en predikante laat lei. Dit kan egter nie die geval wees nie aangesien diakens nêrens op kerkregtelike gronde deelname belet is nie (GKSA 1979:560).

|136|

Tweedens het die gemeente slegs “reg van verkiesing” indien demokratiese beginsels onderskryf word (Van Ginkel 1975:215). By die beroep van ’n predikant (vgl artt 4,5) handel die kerkraad en diakens in baie opsigte as die kerk wat beroep het. Slegs by die Independentiste was die kerkraad blote uitvoerders van die wil van die gemeente. Daar is geen Skrifgrond om die reg tot verkiesing by die gemeente teenoor die kerkraad te verdedig nie. Daar moet liewer van die eenheid tussen kerkraad en gemeente uitgegaan word, waardeur verskillende wyse van verkiesing moontlik is, terwyl die kerkraad altyd die leidende orgaan bly (kyk artt 30,31 NGB).

 

2. “Kiesreg” skep ’n valse probleemstelling

Calvyn het selfs in burgerlike regering verkiesing deur verantwoordelike kiesers in ’n sogenaamde aristokratiese stelsel bo demokratiese “kiesreg” voorgestaan (Inst IV.20.viii). Gedurende die Hervorming was moderne “demokrasie” nog onbekend. Ons idee van “kiesreg” het gedurende die 18de eeu uit die Rasionalisme opgekom.

Die koninkryk (Heid Kat S 48), koningskap en heerskappy van Christus as die enigste Hoof van sy kerk (Ef 1: 22; Heid Kat S 21) laat slegs monargale kerkregering toe. Dit laat geen “kiesreg” aan die “volk” of konstitusionele monargie van die kerk toe nie. Christus gee die dienaars aan sy kerk (Ef 4: 11). Hy en die Heilige Gees (Hd 20: 28) beskik daarom oor “kiesreg”. Gevolglik is dit foutief om te redeneer dat die kerk ’n “kiesreg” het (Kruger et al 1966:138; Van der Linde 1983:89v). Kerklike “verkiesing” verskil radikaal van wêreldse “kiesreg”. Die kerklike verkiesing wys slegs persone aan in wie die werk en gawes van Christus en die Heilige Gees opgemerk en erken word (Hd 6: 3; 20: 28). Hierdie “verkiesing” is slegs die uitwendige roeping (vocatio) en word dus nie met meerderheid van stemme finaal beslis nie. Op die aanwysing volg nog ondersoek (examinatio) en goedkeuring (approbatio) voordat bevestiging (ordinatio) kan plaasvind. ’n “Verkiesing” (vocatio) met ’n groot meerderheid kan gevolglik deur die enkele stem van byvoorbeeld ’n minderjarige wat onsedelike gedrag by ’n geroepene bewys, vernietig word.

 

3. Verkiesing

Die ou redaksie van artikel 24 het nog die fases van vocatio (“verkiesing” of aanwysing) examinatio en approbatio (ondersoek van en aanvaarding deur die gemeente) en die ordinatio (bevestiging, toelating, diensaanvaarding) duideliker onderskei. Die examinatio wat by predikante voorgeskryf is, word nie meer by ouderlinge en diakens formeel toegepas nie, alhoewel dit veronderstel word dat die persoon oorweeg en geskik bevind word.

“Verkiesing” in artikels 4,5,22 en 24 kom dus op “uitwendige roeping” (vocatio) neer (art 3). Soos wat die diens van die dienaar ’n middel in die hand van Christus is, so is die verkiesing van die gemeente ’n middel in sy hand en van die Heilige Gees om iemand vir diens te roep (vgl eerste vraag Bevestigingsformulier). Dit is verkeerd om die kerkraad met of sonder diakens teenoor die gemeente te stel en die “reg” om te verkies by die een of die ander

|137|

te plaas. Die gemeente verkies onder die ordelike leiding van die kerkraad en diakens. Calvyn het die eenstemmige en verantwoordelike aanvaarding deur die gemeente as teken beskou dat God self die persoon tot sy diens roep. Die gemeente dui aan dat die persoon vir die diens geskik en bekwaam is (Van ’t Spijker 1970:156,377).

Die plaaslike kerk stel die verantwoordelike wyse van verkiesing vas (art 30). Die kerkraad saam met die diakens bepaal watter manier die belange van die kerk die beste sal dien. In stedelike kerke waar mense mekaar byna nie ken nie, pas metodes wat ideaal in ’n plattelandse gemeente werk, glad nie. In eersgenoemde geval dra die kerkraad en diakens en dikwels die predikant feitlik alle verantwoordelikheid om mense aan te wys, terwyl op die platteland selfs ’n vrye verkiesing gehou kan word. Kerklike verkiesing moet altyd ordelik, opbouend, verantwoordelik sonder persoonlike of party-invloed verloop. Die gemeente moet minstens betrokke wees om te bepaal of elke aangewese persoon aan die Skrifeise vir die diens beantwoord. Die afkondiging van name moet die gemeente oproep om te oordeel of die persone geskik is en om vir die geroepe dienaars te bid.

Die Kerkorde dui reeds enkele alternatiewe maniere van verkiesing aan:

(1) Die gemeente kan opgeroep word om op geskikte persone die aandag te vestig. Daarna kan die kerkraad (en diakens) daaruit die nodige aantal aanwys en aan die gemeente voordra om toestemming (approbasie) van die hele kerk (mans, vroue, kinders) te verkry.

(2} Die kerkraad kan saam met die diakens, sonder om name van die gemeente te vra, net die nodige getal aan die gemeente voordra. Eers wanneer die gemeente hierdie voordrag aanvaar en gekeur (approbeer) het, kan die bevestiging plaasvind.

(3) Die kerkraad en diakens kan byvoorbeeld vir elke vakante wyk ’n tweetal van broeders wat geskik geag word, stel. Daarna kry die gemeente (wyk?) geleentheid om een van die twee aan te wys, waarna nog altyd weer die goedkeuring van die hele gemeente verkry moet word, voordat bevestiging kan plaasvind. Waarom Van der Linde dit die mees bevredigende en normale metode noem, is nie duidelik nie. Dit is op sigself reeds ’n baie beperkte “verkiesing”.

(4) Die kerkraad kan wanneer byvoorbeeld vyf verkies moet word, sewe of tien name voor die gemeente lê om daaruit vyf aan te wys. In hierdie geval moet die gemeente vir vyf of minder name “stem”. Dit betrek die gemeente beter by die “verkiesing” as die vorige metode.

(5) In ’n kerk waar almal mekaar goed ken en die gemeente op ’n hoë en verantwoordelike geestelike peil beweeg, kan ’n vrye verkiesing gehou word. Die gemeente, saam met ouderlinge en diakens, begin sonder voorstelle stem en indien nodig, word onder die hoogste stemtotale herstem totdat die nodige getal met minstens die helfte plus een van die stemtotaal aangewys is.

(6) Gedurende die Reformasie het die kerkraad en diakens (konsistorie) sonder die gemeente die verkiesing behartig (Van Ginkel 1975.156; 226; vgl Emden 1571 artt 13,14).

(7) In die kollegialisme benoem die Ring gewoonlik die eerste kerkraad (en reken diakens by die ouderlinge). Die “kerk” stel as ’t ware die “kerkraad” vir die nuwe “gemeente” in en plant hom as ’t ware so voort. Daarna vul die

|138|

kerkraad (soms saam met “oud-kerkraadslede”) sy “lede” aan. Dié metode moet prinsipieel afgewys word.

(8) Gedurende die Reformasie het die patronaatreg van die owerheid en feodale stelsel veroorsaak dat die owerheid ouderlinge aangewys het (Van Ginkel 1975:229v). Calvyn moes in Genève die kompromis aangaan dat die ouderlinge uit lede van die Raad van Genève kom en die burgemeester die kerkraadsvergadering sou lei (Pont 1981:29,45). Wanneer hierdie ouderlinge beantwoord aan die vereistes wat die Woord van God stel, is hulle wettig en ordelik dienaars van Christus, omdat nie die wyse van verkiesing, kiesreg of delegasie van mag uit die kiesers nie, maar roeping hulle diens bepaal. Die aard en karakter van die diens wat hulle lewer, sal beslis of hulle van God geroep is of nie.

 

4. Wie is verkiesbaar?

Die Skrif stel vir die diens van ouderling en diaken hoë vereistes (vgl 1 Tm 3 en par A hierbo). Hulle moet belydende gelowiges van onbesproke gedrag wees en oor die gawes beskik wat by die diens pas. Die vereistes verskil ten opsigte van ouderlinge en diakens. Daar word dikwels gefouteer deur net na ouderdom te kyk. Diakens sou jonger en ouderlinge ouer wees.

Die te verkose ouderling of diaken mag nie ’n “nuweling” wees wat maar onlangs tot geloof gekom het nie. Dit hou ook in dat hy nie ’n nuweling in die gemeente moet wees nie want die gemeente moet hom op goeie kennis verkies en approbeer (1 Tm 3: 6,7; Hd 22: 12; 3 Joh: 12). Ouderlinge sowel as diakens moet hulle eie huise goed regeer. “Goed” hou in Christelike norme en orde sowel as ekonomies gesond. Eties gaan Van der Linde te ver wanneer hy iemand wat een maal as skuldige party geskei het, permanent onbevoeg vir kerklike diens verklaar (1983:94). Elke geval moet op eie meriete behandel word. Die daad van egskeiding is sonde van “owerspel”, maar die Here het tog egskeiding toegelaat al bly dit veroordeel (Mt 18: 8). Wanneer so ’n sondaar oor ’n tydperk berou en nuwe lewe duidelik bewys het en as sodanig weer in die gemeente aanvaar word, kan die sonde van egskeiding tog nie altyd teen hom gehou word nie. Die beslissende vraag is of so ’n persoon as ouderling ’n ander sal kan vermaan. Dieselfde oorwegings geld wanneer ’n afgesette ampsdraer (predikant, ouderling of diaken) later weer vir een van die drie dienste oorweeg moet word.

Die vraag is ook of iemand wat in een amp dien vir ’n ander verkies mag word. Dit is seker geoorloof as buitengewone maatreël wanneer nood dit verg. So ’n persoon moet van die amp waarin hy dien losgemaak word voordat hy in die ander diens bevestig kan word. Die praktyk wat ’n tyd lank beoefen was om emeriti-predikante of teologiese professore as ouderlinge te verkies sonder dat hulle ontslag as predikante neem, is buite orde (GKSA 1964:100v;1967:61).

Gereformeerde sinodes wou nie grade van verwantskap onder dienaars in die kerkraad reglementeer nie, aangesien sommige apostels broers was (GKSA 1904: art 30). Nogtans moet familielede onthou dat hulle in sake wat familie raak nie onpartydig is nie. Hulle moet in kerklike vergaderinge waar verkiesings

|139|

of beslissings hulle familie raak, hulle belange verklaar en hulle daarvan weerhou om te stem, anders maak hulle hulle aan nepotisme skuldig

Die vraag kan ook gestel word of teen die name op ’n tweetal of groslys beswaar ingebring kan word voordat die verkiesing plaasvind. Moet so ’n beswaar voor die verkiesing uitgemaak word? Sommige meen dat die kandidate ook geapprobeer moet word (Kruger et al 1966:137). Die feit is egter dat die verkiesing keuring mag teweeg bring. Besware teen ampwaardigheid kan eers oorweeg word, wanneer iemand aangewys en met die roeping gekonfronteer is. Indien die beswaar teen ’n kandidaat nie ’n growwe openbare sonde (art 76) raak nie word die vrede in die kerk gedien as besware oorweeg word nadat iemand verkies is.

’n Kerk kan byvoorbeeld binne Lesotho net vroue en jong seuns vir ampsdiens beskikbaar hê. Sou vroue in hierdie geval verkies kon word? Kragtens die amp van gelowige kan vroue daadwerklik die funksie van hulpouderlinge uitvoer. So sou byvoorbeeld tien vrouelike hulpkragte net twee ouderlinge (artt 37,38) kon bystaan (Rm 16:12, Priscilla in Hd 18:26 en 2 Tm 4:19). Gedurende die Reformasie is van hulpkragte in buitengewone omstandighede gebruik gemaak (Van Ginkel 1975:199,203). Indien ’n kerkraad onseker is, kan hy ’n naburige kerk(e) inroep om hom te adviseer.

Daar is reeds op gewys hoe ouderlinge en diakens gedurende die Reformasie (vgl oa Van Ginkel 1975:245) op verskillende maniere deur verskillende instansies verkies is. In daardie tyd het die mans wat belydenis gedoen het namens hulle gesinne (1 Kor 14: 35) die openbare funksie om te stem uitgevoer (kyk by art 4) en so saam met die kerkraad en diakens opgetree. Tog moet nie op sekulêre model gepraat word van die “verkiesing” berus by al die belydende manslidmate wat nie onder sensuur verkeer nie omdat dit die opvatting begunstig dat verkiesing op grond van “lidmaatskap” in die kerk (gemeente) as kollegium berus (kyk Bouwman 1934:528; Kruger et al 1966:140). “Verkiesing” berus nie op formele “lidmaat-van-’n-kerk”-wees nie. Die toelating van vroue om te stem in die verkiesing (GKSA 1988:507) is ’n korreksie op die eensydige klem op “manslidmate” en ’n toegewing aan moderne kultuur waarin die funksionele eenheid tussen man en vrou grootliks verindividualiseer is. Hoe kollegialisties gedink kan word, blyk uit die feit dat die besluit van 1988 op plekke sito-sito sonder die kerkraad ingevoer is, wat teen die grein van die reg ingaan (vgl Pienaar 1984v:3).

 

5. Hoe die verkiesing plaasvind

Die Reformasie stel vier vereistes by die verkiesing. Die eerste en belangrikste is dat daarvoor gebid moet word. Tweedens dat noukeurig gelet moet word op die vraag of die Heilige Gees die persoon aanwys deurdat hy genadegawes ontvang het. Derdens moet die verkiesing vir approbasie deur die gemeente voorsiening maak. Die bevestiging moet laastens met heilige erns plaasvind (Van ’t Spijker 1970:166-169). Die GKSA binne Afrikaans-nasionale sinodale verband skryf na die gebed stembriefies voor wanneer oor persone gestem word. Dit dien die eendrag en vrede in die kerk (NGB 32). In bepaalde gevalle mag opsteek van hande deur die kerkraad bepaal word indien dit die verkiesing die beste kan dien. Wanneer “stemme” staak, is vroeër soms die oudste van

|140|

die twee kandidate aangewys. Tans moet die lot gewerp word (GKSA 1910: art 176; kyk bis 54v).

 

6. Die approbasie of eintlike verkiesing deur die gemeente

Die hele kerk, mans, vroue en kinders, het aan die keuring of approbasie van die beroep deel. Selfs iemand wat onder kerklike behandeling verkeer (artt 76,77), mag oor inligting beskik wat die kerkraad moet oorweeg voordat die beroep deur die gemeente goedgekeur en deur die beroepene toegestem en aanvaar word. Gedurende die Reformasie is persone dikwels nie toegelaat om die roeping te weier nie (Van Ginkel 1975:231).

Met die oog op die approbasie word die name in die reël minstens drie agtereenvolgende Sondae aan die gemeente afgekondig. Indien iemand van iets weet wat die bevestiging in gedrang mag bring, moet dit by die kerkraad aangemeld word. Die kandidaat kan ook self gedurende die tyd van oorweging sake met die kerkraad uitklaar voordat hy sy finale antwoord gee. In hierdie approbasietydperk moet godsdienstige erns, die unieke aard van kerklike diens (artt 2 en 3), die besondere omstandighede van die kerk en van die persoon wat beroep is, voorop staan. Soms waar die kerkraad vir die eerste keer ingestel word (art 37) of waar bediening moeilik en seldsaam in afgeleë gebiede plaasvind, vereis die belange van die kerk dat die approbasie onmiddellik na verkiesing verkry en bevestiging moet plaasvind.

Wanneer kerklike “verkiesings” ligtelik hanteer word of met hoë frekwensie voorkom, verloor die roeping aan karakter. Dit sal dit al moeiliker maak om dienaars te vind wat erns en toewyding aan die dag sal lê. Om die frekwensie van verkiesings te beperk, moet vakatures liewers oorbrug word sodat so min as moontlik “bevestigings” per jaar plaasvind (art 27).

 

7. Bevestiging

Die bevestiging van ouderlinge en diakens vind plaas in ’n samekoms van die gemeente onder leiding van die ampte met die Formulier wat daarvoor vasgestel is. Daarna onderskryf die bevestigde broeders ook die Formuliere van Eenheid (art 54). Bevestiging met oplegging van hande het gedurende die Reformasie nog plaasgevind, maar spoedig in onbruik geraak (Van Ginkel 1975:237). Bucer en Calvyn het dié gebruik voorgestaan mits dit die erns van bevestiging beklemtoon (Inst IV.3.xvi, Van ’t Spijker 1970:377). Bevestiging moet van die kerkraad en ’n voorganger uitgaan (Van ’t Spijker 1970:382). Om te dien is om die Woord, sakramente en tug te laat funksioneer. Aangesien die bekwaamheid slegs van God kan kom, is die gebede by bevestiging noodsaaklik (vgl Van ’t Spijker 1970:384). Die Formuliere moet sinvol, doelgerig en effektief by bevestiging gebruik word. Wie dit net as ’n “lastige formaliteit” aframmel, moet dit liewer nalaat.

|141|

8. Die Formulier

Die huidige Bevestigingsformulier kom van die Nederlandse Sinode van Den Haag 1586. Dit stem ooreen met die tradisie van Bucer, Calvyn, a Lasco en Micron (Van Ginkel 1975:238). Dit fundeer die ampte in die Bybel en sluit die huidige populêre opvatting dat die ampte amptenare van die kerk is, uit. Dit beklemtoon dat die ouderlinge geroep is om saam met die predikante te regeer.

Gedurende die Reformasie was die diakens in die Christelike staat feitlik die burgerlike welsynsdepartement en tot versorging van armes beperk, asof net armes aan die tafels van Hd 6 aangesit het (art 25). Die GKSA het die Formulier vir die bevestiging van diakens na ’n lang geskiedenis hersien en inhoudelik verbreed (GKSA 1985:354-359).

 

9. Kerklike kleredrag

Die Skrif gee geen voorskrifte oor kerklike kleed vir die Christene of dienaars in die Nuwe Testament nie. Die Roomse kerklike kleed het vanaf die 5de eeu uit die Ou Testament ontwikkel namate die priesteramp uit die ouderlingamp ontstaan het (Küng 1973:436v). Die Reformasie ken geen kerklike kleed nie. Geleidelik het besondere kleredrag in gereformeerde kerke tog posgevat. Sommige het ’n toga vir ’n predikant as bewys van sy akademiese opleiding ingevoer. Ander het in die Viktoriaanse tydperk (19de eeu) deftige modes soos mantel en bef, strikdas, manél of witdas vir predikante en later vir alle “kerkraadslede” voorgeskryf. Die GKSA het geweier om ampsdrag voor te skryf omdat die Nuwe Testament dit nie doen nie (GKSA 1879 art 158). Nietemin het talle kerkrade in die OVS en Kaapprovinsie tot in die middel van die 20ste eeu van ouderlinge en diakens manél met witdas tydens eredienste verwag. Tans het dié gebruik uitgesterf en moet kleredrag slegs volgens die mode en betrokke volkskultuur netjies en gepas wees (kyk art 16 punt 5).

Swart kerkgemeenskappe, ook Gereformeerdes, het soms ’n besondere kleed vir ’n groep vroue binne die gemeente. Sommige voorgangers is heftig daarteen gekant, ander laat dit aan die vryheid van elke kerk oor. Hieroor gee die Skrif ook geen voorskrif nie. Dit is ewe skadelik om die kleed te verplig as om dit te belet. Om te argumenteer dat dit sondige hoogmoed of ander euwels kweek, gaan nie op nie omdat die kleed nie noodwendig sonde meebring nie. Tweedens verander die verbod op ’n kleed nog nie die gesindheid waaruit sonde opkom nie. Oor uiterlike sake soos klere moet die vrede en eenheid van die kerk van die Here nie in gedrang gebring word nie (NGB 32), veral as dit met ’n bepaalde kultuurgemeenskap en volksgewoontes saamval. Dergelike uiterlikhede moet met geduld, lankmoedigheid en liefde hanteer word totdat die Woord en Gees die harte verander.

 

10. Enkele probleme vir ouderling- en diakenskap

Dit kan gebeur dat bepaalde persone uit ambisie, eersug of om bepaalde bymotiewe hulleself as ouderlinge of diakens bevestig wil kry. Hulle kan hulleself op die voorgrond dwing. Reeds tydens die Hervorming moes kerkrade

|142|

daarteen optree. Politici wou in die verlede as ouderlinge invloed uitoefen in die kerkraad. Vandag is daar bepaalde politieke bewegings wat planmatig kerkrade infiltreer om kerke as bondgenote in hulle politieke stryd na links of regs te manipuleer. ’n Sakeman mag die kerkraad vir sy besigheid probeer gebruik. ’n Familielid mag vir een van sy familielede propaganda maak. Iemand wat homself of ’n familielid in die diens van ouderling of diaken probeer inwring, moet op sterkte hiervan nie oorweeg word nie (Van Ginkel 1975:232).

Dit is ook verkeerd om persone te dwing om die roeping op te volg. Nogtans moet ’n kerkraad hom op die hoogte bring waarom iemand die roeping afwys. So ’n persoon moet pastoraal besoek word en op die betekenis van die roeping en implikasies van die weiering om te dien, gewys word. Voorligting, motivering en aanmoediging kan nie sonder meer as dwang beskou word nie. 

Talle mense aanvaar ’n roeping om populêr te wees of ter wille van status in die samelewing. Hulle is nie werklik bereid en ingestel om te dien nie. Kerkrade moet op die gepaste wyse hierteen waak (art 81). Waar die kerk in baie opsigte vandag als ’n menslike organisasie en die Bybel as ’n boek met oorkonde van godsdienstige ervaring beskou word, moet kerkrade bewus wees van hulle taak om die heiligheid van die kerkdiens te beskerm.

Spoelstra, B. (1989) Art. 23

Artikel 23

Die diens van die herder-ouderling

 

Artikel 23: Die amp van die ouderlinge is, benewens dit wat hulle gemeenskaplik saam met die bedienaar van die Woord moet doen soos in artikel 16 neergelê, ook om toesig te hou dat bedienaars van die Woord, hulle mede-ouderlinge en diakens hulle ampte getrou bedien; verder om huisbesoek te doen tot stigting van die gemeente soos die omstandighede van tyd en plek dit toelaat, sowel voor as na nagmaal, om van die lidmate te vertroos en te onderrig en om ook ander tot die Christelike Godsdiens op te wek.

 

A. Kerkregtelik

1. Funksionele differensiasie tussen die leer-ouderling en herder-ouderling

Die diens van die predikant as leer-ouderling en die herder-ouderling as opsiener in die gemeente is intiem verwant. Die apostels het in die kerkregering na die hemelvaart alle dienste self verrig, maar aan hulle sending om te leer die Woord, gebede en sakramente te bedien voorkeur gegee (Mt 28: 17v;

|143|

Joh 20: 21-23; Rm 10: 13-17; 1 Kor 11: 23; Ef 2: 20). Geleidelik het daar funksionele differensiasie tussen ouderlinge wat leraars en dié wat herders was, ingetree (1 Tm 3: 4,5; vgl 2 Tm 2: 2 en Tm 5: 17). Sommige neem dus aan dat herders en leraars in Ef 4:11 ook reeds op dié diensverdeling wys. Beide leraars en herders het ouderlinge en “opsieners” (biskoppe) gebly (Hd 6: 4; 11: 30; 20: 28; Fil 1: 1; 1 Tm 3: 2; vgl 1 Tm 3: 8 ens). Boon (196:506) argumenteer dat die ouderling van die Hervorming nie dié van die Nuwe Testament is nie.

 

2. Die diens van die opsiener-ouderling berus op die koninkryk (heerskappy) van God

By artikel 2 en 3 is gewys dat Christus die enigste Hoof van sy Kerk is. Hy gebruik mense in diens van sy heerskappy (koninkryk) in sy kerk. Hierdie “dienaars” is “senuwees” deur wie die instruksies van die Hoof na die gemeente moet deurwerk en tegelyk “gesante” wat die Hoof verteenwoordig, sy Woord en Wet oordra en toesien dat dit nageleef word. Hulle mag egter nooit die Hoof verplaas en aanspraak maak dat hulle kragtens hulle amp biskoplik (Rome) of sinodaal (kollegialisties) “namens Christus" regeer nie. Die kerkregering behoort derhalwe altyd ’n monargale en teosentriese karakter te dra waarin Christus self deur sy Woord en Gees in en oor die gelowiges regeer.

Volgens Calvyn is die dienste van regering en versorging van die armes die mees blywende en verskil van tydelike bedieninge of kragte (Inst IV.3.viii). Die uitsluitlike doel van die diens van ouderling-opsiener is om deur die bediening van lering en regering die geloof in die gelowiges te versterk en te beskerm (Inst IV.1.i) Die bediening moet die priesterskap van die gelowiges aktiveer (Van ’t Spijker 1970:347)

 

3. Apostel-biskop-ouderling

Die Hervormers beklemtoon dat Christus alleen Hoof is van sy kerk (Van Ginkel 1975:108,114,125 ens; Van der Walt 1976:16v; Boon 1965:165v). Die Bybelse kanon is juis opgestel om die kerkregering soos Christus dit aan die apostels opgedra het, voort te sit (Boon 1965:24v). Die Skrif dra alleen gesag (sola Scriptura) om sake van godsdiens en geloof te beslis.

Die apostels het in hulle diens hulle Sender verteeenwoordig (Ef 2: 20; Boon 1965:49). Daarom moes elke apostel in harmonie met die ander apostels optree (aw, 53v; vgl Hd 15) want hulle het alleen en ook gesamentlik verantwoordelikheid vir die kerkregering gedra. Christus het hierdie apostels direk aangestel (Mt 28: 19, Joh 20: 21), en hulle het op hulle beurt hierdie volmag aan opsieners oorgedra. Hierdie opsieners (ouderlinge) was ondergeskikte medewerkers van die apostels. Hulle moes steeds in harmonie met die apostels die apostoliese bediening voortsit. Op hierdie wyse word die blywende heerskappy van Christus soos aan die apostels opgedra, uitgevoer. Die opsiener-ouderling (“biskop”) was in die gemeente “apostelopvolger”. Net soos die apostel behoort die ouderling nie aan die gemeente nie, maar kom as gawe van Christus tot die gemeente (Boon 1965:61-72).

|144|

Wanneer die figuur van die apostel agter die opsiener verdwyn, is die biskop nie meer opvolger nie, maar plaasvervanger van die apostel (Boon 1965:87). Christus is Self die insteller (Ordinator) in die diens. Gevolglik het dit feitlik sakramenteel na die gebede met oplegging van hande geskied (aw, 107). Derhalwe moet die opsiener-ouderling steeds die apostel in die gemeente verteenwoordig. Sy diens hang nie van sy intellektuele gawes af nie, maar van die gawes van die Hellige Gees, al sou party biskoppe nie die gawes van die Gees hê nie (aw, 126-132).

Die Engels-kongregasionalistiese onderskeiding tussen “teaching-elder” en “ruling-elder” is onaanneemlik, omdat dit nie meer die apostel verteenwoordig nie (Boon 1965:196-8). Calvyn het die predikante as “biskoppe” van die herder-ouderling onderskei (Inst IV.3.vii,viii; Boon 1965:82). Vir Calvyn het die herder-ouderling sy opdrag van God ontvang, terwyl Bucer hom meer as verteenwoordiger van die gemeente beskou het.

Boon is seker reg as hy die ouderling in hulle Nederlandse “sinodaal-presbiteriale” regeringstelsel vreemd aan Calvyn vind. Hy noem die onderskeiding tussen twee soorte “opsiener-ouderlinge” die vrug van verkeerde eksegese en ’n “onmogelijkheid”. “De functie van de ouderling onderstelt veeleer de diens van predikant; zij is ten volle van deze dienst afhankelijk en daarvan afgeleid” (Boon 1965:193-200,201 v). Slegs predikante sou die apostoliese tradisie voortsit en ouderlinge nie (Boon 1965:201-204). Boon sê dat die predikant onder gereformeerdes met die ouderling-kollege soos ’n konstitusionele monarg regeer: die predikant verteenwoordig soos ’n premier die koninklike gesag en die ouderlinge soos ’n parlement die gemeente. Gevolglik is die ampte van ouderling en diaken in die hervormde tradisie geen wesenlik kerklike ampte nie, omdat dit nie meer die aposteldiens verteenwoordig nie (Boon 1965:206v).

Boon sny inderdaad ’n probleem aan. Talle kerkregeringstelsels wat hulle self “presbiteriaal” noem of hulle op Calvyn beroep, sal herwaardeer moet word. Die vraag is egter of die predikante en ouderlingampte die apostoliese tradisie, dan wel die regering van Christus vanuit koninkryksperspektiet, moet verteenwoordig. Calvyn ondersoek nie primêr die verteenwoordiging van die apostels nie, maar die “uiterlike middels waardeur God ons roep tot die gemeenskap met Christus en ons daarin bewaar” (Opskrif Institusie boek IV). Boon het reg as hy betwis dat die ouderlinge blote verteenwoordigers van die gemeente mag wees. Nietemin hou ampbediening spanning tussen menslike en goddelike faktore in. Predikante en ouderlinge is Christene uit die geledere van die priesterskap van die gelowiges (gemeente) en word nie daarvan losgemaak wanneer hulle die Hoof Christus in hulle diens verteenwoordig nie. Boon merk self op dat die verteenwoordiger van “Christus en zijn kerk” heeltemal verdwyn agter die figuur wat hy verteenwoordig. Daar is ook ’n representatiewe band tussen herder en kerk (gelowiges) (Boon 1965:72; vgl 76).

Funksionele onderskeiding en differensiasie het definitief tussen die biskop, presbiters en diakens in die vroeë Christelike kerke ingetree sodat die een hom konsekwent van veral die liturgiese funksie van die ander weerhou het (Boon 1965:107). Waarom sou die herder-ouderling by Calvyn, die Franse en Nederlandse kerke (vgl bv Boon 1965:204) nie saam met die “biskoppe” in

|145|

die gemeente met die “apostoliese” Woord (2 Pt 1: 19-21; Ef 2: 20; Hb 1: 1-3) herders kon wees nie, maar hulle van liturgiese Woord- en Sakramentbediening weerhou omdat hulle gawes van die Gees nie deur opleiding ontwikkel en in die gemeente deur roeping erken is nie? Die opsienerdiens met die Woord van patriargale ouderlinge gedurende veral die eerste driekwart-eeu in die GKSA, moet nog beskrywe word.

Aan die ander kant lê Boon tereg nadruk op die representatiewe (verteenwoordigende) karakter van ampsdiens (Spoelstra 1971 b:29; RES 1972:190; Boon 1965:47v,94v,119v) Die herder-ouderling moet deur middel van die gawes van die Gees die Vader en Hoof van die Liggaam verteenwoordig. Hoe kan hierdie manlike regeerbeeld deur vroue verteenwoordig word? Vroue kan slegs as ouderlinge toegelaat word vanuit die 19de eeuse Hervormde tradisie waarin “leke-ampsdraers” die gemeente van mans en vroue verteenwoordig het om heerskappyvoering deur predikante aan bande te lê.

 

4. Die herder-ouderling en priesterskap van die gelowiges

Die herder-ouderling van die Nuwe Testament is as verteenwoordiger van Christus en die Heilige Gees uniek. Nietemin het dié figuur aangesluit by die “oudste” in die Ou Testament, die ouderling in die Sinagoge en Essenergemeenskappe (Van Ginkel 1975:15-45; Bittlinger 1974:31). In die vroeë Christelike kerke het “opsieners” (biskoppe) alleen maar ook gesamentlik in ’n presbiterium opgetree. Spoedig het een biskop soos Jakobus in Jerusalem (Hd 15) as voorganger of leier in die presbiterium (kerkraad) na vore getree. Die NAV vertaal angelos (boodskapper) met “leraar” (Op 1: 20; 2: 1 ens) en dui daarmee aan dat toe al een leraar tussen ’n aantal “opsiener-ouderlinge” die eerste onder gelykes was (Hd 11: 30;14: 23; 20: 28; Boon 1965:138).

Die leier-biskop het homself nie as “apostel” beskou wat oor die ander mag heers nie en is daarom nie die voorloper van die Roomse monargale episkopaat nie. Die voorganger-ouderling het die eenheid van die kerk, soos ’n vader ’n groot familie (pater familias), verteenwoordig. Soos ’n burgemeester in ’n stadsraad het dit vir die eenheid van die kerk groot betekenis gehad (Boon 1965:73-80). Calvyn verwys na die stadsraad wanneer hy die kerkraad instel (Inst IV.11.i).

Die Roomse priester wat die herder-ouderling gedurende die Middeleeue vervang, heers in ’n rangorde van priesters onder gesag van die monargale biskop oor ’n geografiese terrein. Die gemeente was nie meer solidêr by die kerkregering betrokke nie (Van Ginkel 1975:42-45). Wanneer Luther teen hierdie monargale episkopaat bots, beklemtoon hy weer die priesterskap van die gelowiges wat die Gees besit om met die Woord die kerkleer en prediking te beoordeel. In die kerk moet die predikant die Woord verkondig om die lewe te hervorm. Die owerheid behou die jus patronatus van die Romeinse en feodale reg in die kerkregering. Zwingli doen dieselfde, maar beklemtoon dat die gelowiges onderling toesig oor sedes en huweliksake moet hou (Van Ginkel 1975:62). Bucer, die hervormer van Ulm en Strassburg, neem die kerk as

|146|

gemeenskap van gelowiges as uitgangspunt. Kragtens die priesterskap van die gelowiges (Luther) moet hulle op mekaar ag gee en ouderling sielsorg beoefen.

Om die owerheid gerus te stel dat die predikante nie wil heers nie, voer Bucer reeds In 1531 die ouderlingamp (Kirchenpfleger) in as verlengstuk van die tug wat die gemeente beoefen, oor die plek van die owerheid en reg van die gemeente met mekaar in verband te bring. Die ouderlinge verteenwoordig die gemeente. Tegelykertyd is die opkomende burgery in die kerkregering betrek en werk die hervorming na die volk deur. Calvyn maak van 1538 tot 1541 intiem kennis met Bucer in Strassburg (Van Ginkel 1975:90-150; Van ’t Spijker 1970:73-79,148-150,318). Iemand het gesê Bucer was die genie wat die amp van herder-ouderling geskep het, maar Calvyn die genie wat die gedagte gerealiseer het.

In sy ontwikkeling van die ouderlingsamp het Calvyn, die gelykheid (“collegialiteit”) tussen predikant en ouderling in die kerkregering vasgehou. Hy was in sy hart aristokraat en het daarom aan episkopale (opsieners-) kerkregering voorkeur gegee (Van Ginkel 1975:146). Alhoewel by Calvyn ’n bepaalde spanning tussen die gelykheid en onderskeid van die predikant (“biskop”) en herder-ouderling voorkom, het hy nooit geleer dat die biskop Christus en die ouderling die gemeente (priesterskap van die gelowiges) verteenwoordig nie. Beide predikant en ouderling moet afsonderlik en gesamentlik as dienaars van Christus die koningsheerskappy van Christus met die Woord bedien, waarmee die Gees die gemeente bou. So is aan elke herder-ouderling ’n wyk toegewys. Dit het sekondêr meegebring, soos Calvyn “gemeente” in Mt 18: 17 verklaar, dat hulle ook die wyke verteenwoordlg (Van Ginkel 1975:137,319).

Die herder-ouderling staan nie los van die gemeente nie. Die Heilige Gees gee gawes in die gemeente waardeur die manne uitgeken word wat as ouderlinge moet dien om die gemeente te laat funksioneer en die sleutelmag te bedien (Van ’t Spijker 1970:133,153,164,344-347). Indien die ouderlingdiens tot ’n “leke”-amp gedegradeer word omdat hulle nie Woord en Sakramente bedien of nie “opgelei” is nie, bedien dit nie meer Christus nie en kan dit verval. Ouderlinge kan self hiertoe bydra indien hulle in hulle ampsdiens versuim om die evangelie te verkondig en die lewe in die gemeente slegs wetties en juridies wil reël volgens besluite en voorskrifte van kerkrade of sinodes. Die ouderling in die hand van die Opperherder Christus regeer wanneer hy met die evangelie in die hart tref (1 Pt 5: 4).

 

5. Die taak van die herder-ouderling

Die Here Christus is en bly die enigste Hoof van sy kerk (Ef 1: 22; 1 Pt 5: 4; Tit 1: 7). Hy laat Hom nie verplaas of voorskryf deur enige biskop, ouderling, kerkraad of sinode nie (Jonker 1965:32v). Die herder-ouderling is gevolglik slegs in diens van die Opperherder wanneer hy bydra om die Woord van God in die gemeente te laat heers (Mt 20: 19; Calvyn Inst IV.11.iv, 12.ii). Die verskillende name wat die Skrif gebruik soos opsiener en herder (Hd 20: 28) leier of voorganger (Rm 12: 8, 1 Ts 5: 12; Hb 13: 7), stuurman (1 Kor 12: 28) waarin dié van herder voorop staan, dui die taak van die ouderling aan

|147|

(Du Plooy 1979:51; Van der Walt 1976 79-81). Die ouderlinge moet individueel en waar nodig gesamentlik, op elkeen in die wyk en op die hele gemeente ag gee, oor hulle besorg wees en waak, hulle soos skape laat wei, hulle hy die naam ken en hulle met die Woord lei (Joh 10). Daarom bedien hulle in besonder die sleutelmag (Heid Kat S 31; NGB 30,31,32). Die Skrif verbied daarby uitdruklik die sondige begeerte van mense om oor ander te wil heers (1 Pt 5:2; NGB 29). Geen ouderling mag iernand dwing in iets wat nie regstreeks op die Woord van God steun nie (Inst IV.10 vi,vii; 11.xi).

Die ouderling moet dus in die eerste plek onberispelik (1 Tm 3: 2-7; Tit 1: 6,7) en ’n voorbeeld (1 Tm 1: 16, Hb 13: 7) vir die gemeente wees (1 Pt 5: 3).

Die ouderlinge moet veral oor die predikante se leer en lewe toesig hou en verhoed dat dwaalleer die gemeente verskeur (Hd 20: 29). Kortom, die herder moet self die Woord van God ken en bestudeer sodat hy dit as sy herderstaf kan aanwend. Waar dit gebeur hou God self die kudde met die Heilige Gees in goeie orde (Hd 14: 3,23,27; 20: 28; Rm 1: 16; 16: 25-27; 1 Ts 2: 13; 2 Tm 3: 15-17; Tit 1: 16: Hb 4: 12).

Die ouderling is en bly altyd primêr gelowige. As Christen is hy met die Heilige Gees gesalf om koning, priester en profeet te wees en die gemeenskap van die heiliges te beoefen (Heid Kat S 12). Alhoewel hy in sy amp veral herder is, sluit dit nie uit dat hy in bepaalde gevalle moet leer of doen wat amptelik by diakens tuishoort nie (Spoelstra 1964:5-6 1976: 41).

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die eerste Nederlandse sinode te Emden, 1571 reël nie die werk van die predikante of ouderlinge nie, maar wel hoe die ouderlinge verkies word (art 14), die konsistorie (artt 6.17,18,27) en dat hulle saam met die predikante kerklike dissipline uitoefen (art 25). Die Kerkorde van 1578 (art 67) noem die huisbesoek van predikante en ouderlinge by veral die “swakstes” voor nagmaal en dié van 1581 voeg toesig hou oor predikante en diakens by en meld huisbesoek voor nagmaal om behoorlike voorbereiding te verseker (art 16). Die huidige artikel is in 1586 vasgestel. Dit onderstreep dat die Kerkorde oorspronklik eerder die wyse hoe ouderlinge verkies word en rondgaan as die wat van hulle ampsbediening aandui, waaroor die bevestigingsformulier weer in hoofsaak handel.

 

2. Herder-wees saam met die predikante

Die artikel verwys na artikel 16 omdat dit van Calvyn se eenheid en gelykheid van predikant en ouderling as herders uitgaan. Soos die Woord “opsiener” aandui, praat die Kerkorde eerstens van “toesig hou” oor die ampsbediening van die predikante, mede-ouderlinge en diakens (vgl art 81). Ouderlinge kan maklik soos in die sekulêre wêreld hulle nie steur aan kollegas se ampsbediening nie terwyl moedswillige sonde, heerssug, menslike swakheid

|148|

en luiheid van predikante, ouderlinge of diakens die gemeente van die Here skade laat ly. Die verantwoordelikheid aan die Hoof van die Kerk vereis dat elke ouderling in sy gewete oortuig moet wees dat die regering van Christus in die gemeente tot eer van God geskied.

In die tweede plek word huisbesoek voor en na nagmaal uitdruklik aan die ouderlinge opgedra. Dit beklemtoon die individuele taak van elke ouderling en predikant. Te Wezel in 1568 het die predikante dit beskryf as toesig oor die doen en late van die gemeente ten tye van nagmaalviering, hoe die onderwys in elke gesin geskied, of daar smorens en saans in die gesin voorbidding gedoen word, ensovoorts. Die ouderling moet kalm, maar ernstig vermaan, die mense aanmoedig om standvastig te bly en tot geduld in die vrese van die Here aanspoor. Waar nodig moet die ouderling troos of bestraf en, indien nodig, volgens Mt 18 die tug bedien (Bos 1950:94). Verder moes die ouderlinge toesien dat die katkisasies bygewoon word, die skole gesonde onderwys gee, kerkdienste reël, respek vir die owerheid bevorder, ensovoorts. Die ouderling is waarlik pastor. ’n Ouderling sonder ’n wyk of wat nie huisbesoek doen nie, kan nie in gereformeerde kerkregering bestaan nie. So ’n persoon is nie ’n dienaar van Christus nie, maar ’n amptenaar van die kerk.

Die gebed “laat u koninkryk kom” (Heid Kat S 48) verplig ook elke herder deur wie Christus regeer om so te werk dat, indien moontlik, afvalliges hulle bekeer, ongelowiges hulle aan die Here onderwerp en onverskillige mense die Woord en Wet van die Here gehoorsaam. Gedurende die Hervorming het die gelowiges apostoliese verantwoordelikheid vir die hele volk gevoel (Van Ginkel 1975:217).

 

3. Hoe die huisbesoek gereël word

Die Kerkorde wys dat die behoeftes van die gemeente en omstandighede van plek tot plek die huisbesoek bepaal. Huisbesoek moet doelgerig en sinvol geskied. Van die begin af (in Genève 1541) is die gemeente in wyke verdeel. Die behoeftes van die gemeente word bepaal deur die omstandighede, behoeftes en gesindheid van elke belydende gelowige en onvolwasse kind in elke huisgesin of besoekpunt. Daarvoor is elke ouderling in sy wyk geroep. Hy moet die wat swakker staan en dreig om af te val, baie meer, voor sowel as na nagmaal, besoek. Die Wezelse artikels van 1568 het van weeklikse besoeke gepraat.

Waar een lid in die gesin, byvoorbeeld die vader of moeder of een van die kinders afvallig raak, in sonde geval het of hulle rug op die eredienste of ampsbediening keer, moet die ouderling daardie persoon nie in die teenwoordigheid van ander gesinslede met die probleem konfronfeer nie. Hy moet reël om die persoon afsonderlik te ontmoet en eers geduldig uitvra, luister en ’n diagnose maak. Waar hierdie prosedure in byvoorbeeld swart gemeenskappe nie moontlik is nie, omdat ’n ander man nie ’n vrou of jong meisie mag besoek nie, moet die ouderling die vader of oudste broer van die vrou volgens kulturele gebruik met hom saamneem. In bepaalde gevalle sou hy van ’n ander vrou as hulp vir die ouderling kan gebruik maak (vgl art 2,3 punt 5; art 16 punt 4; art 25 punt 8).

|149|

Huisbesoek verg dus beplanning van elke besoek, aangepas by en gerig op die mense wat aan die ouderling toevertrou is. Die kerkraad kan ook ten opsigte van die gemeente as geheel ontleed, diagnoseer en die ouderlinge op behoeftes rig. Die huisbesoek mag egter nie ontaard in ’n vormlike besoek waarin ’n ouderling op ’n voorgeskrewe wyse een of ander “projek” van die kerkraad loods nie of altyd ’n foutvinderige ouderling aandien nie. Huisbesoek moet bedoel om te kommunikeer, troos, onderrig, waarsku, vermaan, aan te moedig, ondersteun en raad te gee. Die ouderling wil keer dat die lidmaat veragter, maar sorg dat hy in die geloof opgebou word sodat die gemeente as geheel bloei (vgl 1 Kor 12; Ef 4 ens).

Elke ouderling moet voor hy op huisbesoek gaan hom biddend voorberei, hom diensbaar in die hande van die Here stel en smeek om die gawes van wysheid, selfbeheersing, baie geduld, vriendelikheid en opregte liefde sodat hy Christus aan die mense in sy wyk kan bedien. Indien hy hom van bepaalde probleme bewus is, moet hy vooraf gepaste Skrifgedeeltes oorweeg. Op huisbesoek moet hy nie uit die hoogte, beterweterig, heerssugtig optree nie. Die Skrif moet die mense deur sy mond aanspreek. Hy moet opreg vir die lastigste en moeilikste mens, wat hom selfs beledig, voorbidding doen. Die ouderling het immers bedienende en nie heersende of dwingende mag en gesag nie.

 

4. Die Nagmaalgemeente

Die Bybel, die Twaalf Artikels uit die eerste eeue, Calvyn en die Gereformeerde Belydenisskrifte bely dat die kerk gelowige mense is, al is dit vermeng met sommige wat net geloof voorgee (Heid Kat S21; NGB 27-28; Inst IV.1.iii,vii). Die Here bedien hom in die gemeente van herders om diegene wat met hulle belydenis en lewenswandel die orde versteur, van die nagmaal af te hou (kyk artt 61,76). So kan die liggaam van Christus duidelik in die gemeente wat nagmaal vier, gesien word. Gemeente-bediening vra derhalwe nie allerlei skemas, programme, take, begrotings of aktivisme nie (Spoelstra 1982:240). Die bediening van die Woord en toesig van die ouderlinge moet net elke gelowige daartoe help om sy persoonlike, huislike, sosiale en beoepslewe as ’n Christen, wat aan die Woord en Wet van die Here gehoorsaam is, uit te voer. Nagmaal behoort dus slegs bedien te word nadat huisbesoek plaasgevind het (Van der Linde 1983:100) en die ouderlinge in staat is om rekenskap oor die gemeente te gee (Hb 13: 17).

Spoelstra, B. (1989) Art. 25

|150|

Artikel 25

Die diens van diaken

 

Artikel 25. Die eintlike amp van diakens is om die liefdegawes in geld en goedere wat aan die armes gegee word, nougeset te versamel en dit met gesamentlike oorleg getrou en vlytig uit te deel volgens die eis van die behoefte aan sowel die behoeftiges in die gemeente as aan ander; en verder om die wat in nood is te besoek en te vertroos en om goed toe te sien dat die gawes nie misbruik word nie. Die diakens moet in die kerkraad verslag doen van hulle werksaamhede en, indien verlang, ook voor die gemeente wanneer die kerkraad dit geskik ag.

 

A. Kerkregtelik

1. Die koningskap van Christus

Die koninkryk (regering) van God wat Christus verwesenlik, verlos die hele mens en plaas hom na gees en liggaam in ’n nuwe lewe. Die regering van Christus deur sy Woord en Gees verlos die mens uit die eensaamheid en gebrokenheid van die sonde en plaas hom in gemeenskap met Christus en sy gemeente. Die liefde van God en gemeente reik uit na mense in enige vorm van nood. Christus het met wonderlike spysiging van hongeriges, genesing van siekes en opwekking van dode getoon dat Hy die mens as liggaam ook verlos. Met die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (Lk 10) en in sy laaste gesprekke (Mt 25: 31-46) het Hy geleer dat wie Christus liefhet, ook goed doen aan mense in nood (vgl Schutte sa:11, vgl Ridderbos “Waar Jesus Koning is, sal die armes dit nie sleg hê nie”).

Christelike noodleniging dra ’n eie karakter. Die nuwe lewe wat die Woord en Gees werk, bring vanself die algemene priesterskap van die gelowige na vore. Dit bring die onderlinge liefdebetoon en diakendiens voort. Christus kom dus in die dade van gelowiges na mense in nood.

Die diakendiens verskil wesenlik van die opsienerdienste (leraar, ouderling, herder) deur wie Christus self direk en regstreeks in sy Woord en Gees (sleutels van die hemelryk, Heid Kat S 32; Mt 16:18,19) kom. Juis die betrokkenheid van die diakendiens (Hd 6:4) op die liggaamlik-aardse en natuurlike lewe in onderskeiding van die geestelike lewe, het spoedig onder invloed van die Platoniese teëstelling van gees en liggaam, natuur en genade, veroorsaak dat die diakenamp sowel as Christelike diakonale aktiwiteit in die Middeleeue

|151|

grootliks verval het. Selfs die Gereformeerde Kerke het geen besondere diakonale rekord om op trots te wees nie (vgl Schutte sa). Sending is selfs bloot “geestelik” bedryf asof dit niks met daaglikse of natuurlike lewensbehoeftes te doen gehad het nie; hospitale en boerderye is los van die sending bedryf en later gestaak; in die jong kerke is diakens gekies maar geen diakonale lewe ontplooi nie.

Tereg het die Reformator Bucer die diakens vanuit die Koninkryk van Christus in ere herstel omdat armoede, nood, eensaamheid, siekte of wat ook al, die gemeenskap van gelowiges en gevolglik die regering van Christus bedreig (vgl Van ’t Spijker 1970:405,410).

 

2. Die instelling van die diakendiens

Bucer en Calvyn vind die instelling van die diakendiens in Hd 2 tot 6. Vanaf die vorige eeu het teorieë oor Hd 6 die diakenamp gevarieer van ontkenning dat ’n amp ingestel is tot die opvatting dat die opsienersamp in Hd 6 sy oorsprong vind (vgl Dijk 1952:239-240; Spoelstra 1969:2-4; Coetzee 1967:50). Coetzee vergelyk Hd 6 met Hd 1: 13 en 14 en vind al die eienskappe om af te lei dat ’n amp ingestel is (Coetzee 1967:45,51) sonder om te sê dat daardie amp met die huidige diakenamp ooreenkom. Die benaming diaken kom nie in Hd 6 voor nie, hoewel die Sewe (Hd 21: 7) ’n bepaalde bediening (diakonia) moes vervul het.

Die woord diaken (diakonos) word in die Bybel vir diens van Christus, apostels, evangeliste, medewerkers van Paulus, ’n vrou soos Febe en enige dienaar van Christus gebruik (Coetzee 1967:50-51). Dit het oorspronklik die nederige werk van ’n geringe slaaf, ’n tafelbediende, aangedui sodat die Grieke en Jode dit nooit vir ’n “amp” sou gebruik nie (vgl art 2,3 punt 4). “Diaken” pas etimologies besonder goed by die bediening van tafels in Hd 6:2. Die naam “diaken” kon geleidelik tegniese term vir die dies geword het (vgl Fil 1: 1; 1 Tm 3: 8), veral namate die apostels verdwyn en die diens van die Woord en gebede en regering aan opsieners toevertrou is (Hd 6: 2-4; Fil 1: 1; 1 Tm 3: 8; Hd 20: 28; 21: 7).

In die oudste kerkgeskiedenis word diaken aan die Sewe in Hd 6 verbind. In Rome dien vir eeue ’n “heilige sewetal” diakens (Spoelstra 1969:8; Du Plessis 1969:17). Die diakens word algaande hulpkragte vir biskoppe en latere priesters. Die Roomse hiërargie het die diakenamp finaal afgetakel.

 

3. Die bediening van die tafels in Hd 6

Die murmurering onder die Griekssprekende Jode het gelei tot die instelling van die amp van die Sewe (Hd 6: 1). Murmurering dra die kiem van gemeenskapontbinding wat die heerskappy van die Hoof Christus, oor die gemeente en die eendragtige lewe van die gemeente (Hd 2: 46; 4: 34; Ef 4: 3; Fil 2: 4,5) bedreig. Die Sewe moes dien om die gemeenskap (koinonia), eenheid en nuwe polsende lewe en so die kerk van Christus self te herstel, te bewaar en te bevorder. Die kerk van Jerusalem was op daardie tydstip die universele kerk van Christus op aarde.

|152|

Die murmurering onder die Griekssprekende Christene het weer ontstaan omdat weduwees uit húlle etniese gemeenskap nie op dieselfde vlak as dié van die Hebreërs versorg is nie. Die diens van die Sewe moes dus sorg dat niemand gebrek ly nie, sodat die gemeente weer een van gees en sin kon lewe. Dit bring vanself armversorging, noodleniging, omsien na behoeftes van mense in nood soos weduwees en wese, vreemdelinge, ensovoorts mee. Hierdie dienste moet nie horisontaal met die oog op mense in nood bedryf word nie, maar moet die heerskappy van Christus realiseer en beleef.

Die diens van die Sewe was ’n bediening (diakonia) van die tafels waar die hele gemeente aan liefdesmaaltye aangesit het (Hd 2: 44-47; 4: 35). Die hele gemeente het saamgelewe en saamgeëet en daarmee saam ook nagmaal gevier. Hulp by nagmaal word tradisioneel aan die diens van diakens gekoppel. Die Sewe was egter nie net tot die tafelbediening beperk nie. Net soos ander Christene het hulle kragtig vir die Here getuig en sommige onderskei hulle as evangeliste (Hd 7 en 8). In die nog losse kerkorganisasie bedien Filippus as een van die Sewe die doop (Hd 8: 37,38). Die eerste Christene was vol van die Heilige Gees. Die “ampsdraers” se dienste was aanvanklik nie skerp afgegrens nie. Ter wille van orde is die sakramentbediening spoedig aan die leraarsdiens (later priesters) verbind. Die leraars, herders, diakens en gelowige manne en vroue het sonder ophou Christus met Woord en daad verkondig sodat sy koninkryk kon kom (vgl Heid Kat S 48)

 

4. ’n Selfstandige diakendiens

Die diens van die Sewe is van meet af aan selfstandig en word nêrens ondergeskik aan die diens van die opsiener gestel nie. Die apostels onttrek hulle volkome aan die bediening van die tafels (Hd 6: 3-6; 1 Tm 3: 8-13). Die diakens dien dus met gesag van Christus en het in hulle diens volkome “regeer”-bevoegdheid oor die liefdesmaaltye wat Coetzee selfs aan “opsig” (Coetzee 1967:48) by die nagmaal laat dink, waarskynlik omdat hy die diakenamp as prototipe van al die kerklike dienste aanvaar het (vgl Coetzee 1967:50; Spoelstra 1969:6,12).

 

5. Barmhartigheid

Die verkiesende liefde van God, sy genade en barmhartigheid red uit alle nood. Dit verlos die gelowiges individueel en kollektief van liefdeloosheid. God se barmhartigheid wek barmhartigheid in die gelowiges. Die Skrif benadruk altyd gesindheid waar aalmoese gegee word. Van aalmoese is in Handelinge slegs by Tabita sprake, terwyl Paulus nie daarna verwys nie. Die gedagte aan ’n “diens van barmhartigheid” vind weinig steun in die Skrif (Von Meyenfeldt 1955:19-38; Coetzee 1969:30).

Armversorging of uitdeel van aalmoese is nie die sin van die diakendiens nie, maar wel liefde wat tot gemeenskap (koinonia) lei (Von Meyenfeldt 1955:33-43). Koinonia beteken om met iemand iets te deel, ’n aandeel te neem aan iets of ’n ander ’n deel te gee aan iets (Coetzee 1969:31). Gemeenskap in die gemeente strek van deelname in prediking, nagmaal, leer, geloof

|153|

persoonlike behoeftes (vgl Fil 4: 10-20) tot voorsiening in die behoeftes van geloofsgenote (Coetzee 1969:29-34).

Christelike barmhartigheid moet radikaal van gewone en institusionele liefdadigheid onderskei word (Coetzee 1953:23). Liefde kan slegs in die konkrete ontmoeting van mens tot mens in dade en spontane doen en late van gelowiges na vore tree. Die diaken kan egter persoonlik die georganiseerde liefdebetoon van die plaaslike kerk behartig. Die persoonlike en konkrete karakter van gemeenskap en barmhartigheid anker die diakendiens by uitstek in die gemeente. Die kollektiewe hulpbetoon van gemeentes in Macedonië word deur afgevaardigde “diakens” aan Jerusalem persoonlik afgedra (2 Kor 8: 23). 

 

6. Gemeenskap strek verder as die plaaslike gemeente

Paulus beveel in GI 6: 10 en Bucer wys dat gemeenskap deur middel van stoflike gemeenskap verder as die eie en lokale omgewing moet strek (Van ’t Spijker 1970:407). Treffend wys Paulus die kerke uit die heidendom wat aan die geestelike rykdom van die kerk van Jerusalem deel gekry het, daarop dat hulle nou weer uit hulle stoflike oorvloed Jerusalem se armoede te hulp behoort te kom (Rm 15: 25-29; 1 Kor. 16: 1-4; 2 Kor 8; 9: 1-5; 12-15). Die wese van die ware kerk word bepaal deur gemeenskap aan die diens van Woord, sakramente en tug (NGB 29), maar ook deur die broederliefde wat die gemeente saambind (Calvyn Inst IV.1.x; 2.v). Christus sê: “Geseënd is die barmhartiges …” (Mt 5: 7).

Die wyse waarop die kerke uit die heidene hulp aan Jerusalem verleen, toon dat hierdie diens uit die gemeentes opkom. Dit is hulle “gawe” waarin hulle egtheid van hulle liefde bewys en probeer om uit oorvloed “gelykheid” daar te stel (vgl 2 Kor 8). Ook interkerklike hulpbetoon (2 Kor 8 en 9) vind sy basis in die gemeentes (2 Kor 8: 1,23). Afgevaardigdes verteenwoordig in diensbetoon die gemeentes en per implikasie Christus. Hulle stoflike hulpbetoon in die natuurlike lewe is vrug van die nuwe lewe wat die Woord en Gees gewerk het (Rm 15: 27; Heid Kat S 21).

 

7. Die diakens en die kerkraad

Wanneer ’n mens van die “kerk” as “instituut” (Kuyper) uitgegaan, kom die kerkraad as bestuur na vore. Die kerkraad vat die bestuursfunksies en opdragte van die verskillende “ampsdraers” saam. Volgens dié opvatting word die diakens as “ampsdraers” ook tot die kerkraad gereken (Kleynhans 1985:36,42-44).

Wanneer ons egter van die koninkryk van God en Christus as Hoof van sy kerk uitgaan, dien Christus elke dienaar met ’n bepaalde doel by die gemeente aan (1 Kor 12: 28; Ef 4: 11 v). Hoewel ons koöperatiewe en kollektiewe optrede van die Sewe diakens (1 Tm 3: 8; Hd 21: 7) kan aflei, praat die Skrif nie eers van ’n breë kerkraad nie. Kerkregtelik moet die eie besondere diens van die diakens net soos dié van die ouderlinge en nie die kerkraad as kollektiewe bestuur van ’n vereniging nie, as vertrekpunt geneem word.

Calvyn het verskillende ampsdraers in afsonderlike vergaderinge byeen laat kom. Predikante vergader met die oog op hulle diens, die bediening van die

|154|

Woord. Die ouderlinge kom saam met predikante vir die bediening van die tug. Die diakens versorg selfstandig armes en hospitale onder kontrole van die predikante en ouderlinge (Pont 1981:24-3t; artt 12,20,28,56,61,64; vgl DKO artt 16 en 40).

Namate die kerk as instituut vanaf die 19de eeu die kerkbegrip en kerkregering domineer, neem die kerkraad sy plek as sentrale bestuur wat deur “kerkraadslede” saamgestel word. Daar word ’n beroep op art 30 NGB gedoen om te bewys dat die diakens tot die kerkraad behoort. Hierdie opvatting ignoreer die feit dat die diakens in die vroeë Christelike kerke hoogstens ’n hulp vir opsieners was, gedurende die Reformasie slegs ’n hulp vir die ouderlinge by kerkregering was; dat die Geref Kerke van 1571 tot 1618 moeilik in die Kerkorde en Bevestigingsformuliere die diakens in flagrante stryd met die Nederlandse Geloofsbelydenis van die kerkraad sou uitsluit. Die NGB en 16de eeuse kerkordelike ontwikkeling het Calvyn doelbewus nagevolg. Calvyn het slegs die ouderlinge bv die wesenlike kerkregering, naamlik die bediening van die sleutelmag van die koninkryk gereken (Inst IV.11.i,vi), omdat die kerk vir hom nie basies instituut nie maar organisme as vergadering van Godsvolk was. As daar teenspraak tussen die NGB en Kerkordes ontstaan het, moes dit ’n strydpunt gedurende die Reformasie gevorm het (Polman IV sa:22-25) Die formulering van artikel 30 NGB kom in baie opsigte met artikel 2 KO ooreen, ’n belydenis van verskillende dienste in een kerk met een kerkraad wat die sleutelmag hanteer (vgl artt 30 en 38 NGB).

Die diakens regeer in dit wat tot hulle amp behoort. Verder het hulle tydens die Reformasie in talle kerke as hulpouderlinge opgetree. Dit beteken egter nie dat die diakens wesenlik en altyd by die kerkraad gereken moet word nie (Polman sa:22-29. vgl art 38 KO).

 

8. Die diakens en die vroue

Vroue het die apostels en evangeliste aktief gehelp om die evangelie van die koninkryk uit te dra en om met liefdedienste die gemeenskapslewe in die gemeentes te bevorder (Hd 9: 36,39; Rm 16: 1, 1 Tm 3: 11, 5: 9,10; Tit 2: 3,4). Die koningskap van Christus het die vroeë Christene afsonderlik en gemeenskaplik gemotiveer om te werk en te dien sonder dat bepaalde take vir bepaalde ampsdraers gereserveer is. Die gemeente was aktief en die dienaars het net toesig gehou of administreer. Gevolglik het vroue saam met die amptelike dienaars na buite met woord en daad gewerk om die koninkryk van God uit te brei (Hd 11: 19-22). So ken Calvyn diakonesse wat doelbewus armes wou help en werke van liefde doen (Inst IV.3.xviii). Waar Christene in so ’n kategorie van “diakonesse” dien is daarmee nog nie bewys dat daardie diens aan die vereistes of kenmerke van ampsdiens voldoen nie (vgl Spoelstra 1971:26-44).

’n Diaken kan goedskiks sy eie vrou of ander vroue byroep om kragtens die gemeenskap in Christus hom in sy diens te help waar hy armes wil versorg siekes moet verpleeg, vreemdelinge moet inburger, wese of weduwees moet bystaan (Biesterveld et al 1905:175(17); Coetzee 1953:260-286). Die diaken moet rekening hou met omstandighede en vroue kan by vroue behoeftes die

|155|

beste bepaal. Bucer het selfs die gee van ’n bruidskat aan ’n behoeftige meisie wat op trou staan as kerklike plig beskou (Van ’t Spijker 1970:409)!

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Toe die liefdesmaaltye vir die hele gemeente in die vroeë kerke in onbruik geraak het, het die diakens hulle funksie van Hd 6 verloor en hulpkragte vir die biskoppe in finansiële administrasie, onderwys en by sakramentbediening (nagmaal) geword. Die Hervormers Bucer, Calvyn en Nederlandse Kerkordes van die 16de eeu het weer aan die diakendiens ‘n eie karakter verleen.

Calvyn (Inst IV.3.8,9, 4.v-vii; 5.xv-xviii) en die Konvent van Wezel 1568 het afsonderlike diakens vir armversorging en vir siekverpleging nodig geag en vanweë die geloofsvervolging en talle vlugtelinge in die kerke aan diakens gedink om die “vreemdelinge” te versorg (Bos 1950:96v; Pont 1981:30). Die behoeftes van weduwees en wese het altyd hoog op die lys gestaan. Die bekende bewoording wat die “eintlike amp van die diakens” meer op armversorging saamtrek, is in 1581 (Middelburg) gebruik. Die artikel moet nie tot armversorging beperk word nie (GKSA 1979:592-596; 1982:468-469; vgl 1976:441-444; 1973:151-154).

Die Afrikaanse Woord “aalmoes” gee nie die karakter van Christelike handreiking weer nie. Gevolglik is dit in 1964 met “liefdegawes in geld en goedere” vervang.

 

2. Die diakens dra kerkregtelike verantwoordelikheid

Die diakens is vir ’n bepaalde aspek van die ordelike kerk-wees verantwoordelik. Kollegialistiese kerkreëlings (bv 1816) en kerkregtelikes wat die begrip “kerkraad” as vertrekpunt neem (Kleynhans 1984:97-101) en kleiner Gereformeerde kerke (vgl art 38), reken die diakens tot die kerkraad. In hierdie geval neem die “kerkraad” die verantwoordelikheid van die diakonie oor. Aan die ander kant verstaan sommige gereformeerde teoloë die term “regeer” in net een absolute en omvattende sin en beperk dit tot die ouderlinge. Die eintlike kerkregering is nie vir hulle soos vir Calvyn die bediening van die sleutelmag nie (vgl Calvyn Inst IV.3.viii; 5.v; 11.i-vi), maar enige vorm van kerkbestuur. Daarvolgens ontsê hulle die diakens enige vorm van selfstandige besluitneming.

Die begrip “regeer” moet in konteks verstaan word. Die kerkraad (opsieners) regeer deur die norm van die Woord te bedien. Die diakens regeer verantwoordelik aan die norm van liefde waar hulle besluite neem om armoede, siekte, vereensaming, vreemdelingskap en menslike nood met middele te verlig, te verander of te voorkom. Die finansiële versorging van die kerk (wat met die bediening van die tafels in Hd 6 vergelyk kan word) stem meer ooreen met die wese van die diakendiens as met die geestelike opsig van die ouderlinge, hoewel dit nie waterdig geskei kan word nie.

|156|

Die sterk genootskaplike kerkbegrip wat sedert die Aufklärung in die 18de eeu posgevat het, het die ontplooiing van die diakendiens gestrem. Daarvolgens regeer die “kerkraad” die “kerk”. Die diakens is “ampsdraers” en daarom “lede” van die kerkraad, terwyl hulle in baie opsigte slegs vakleerlinge by of hulp vir die ouderlinge bly. Hulle beskik oor geen selfstandige “regeermag” nie.

Die diakens het in Genève en Nederland tot ongeveer 1800 grootliks buite die kerkraad om saam met owerhede en skole gewerk. Toe die Franse Revolusie kerk en staat geskei het, het die kerklike diaken grootliks werkloos geraak. Die bepaling van verslag “in die kerkraad” moet egter vanuit die 16de eeuse agtergrond en nie vanuit die latere kerkbegrip verklaar word nie.

Die verhouding tussen diakens en kerkraad en daarmee saam die selfstandigheid van die diakens kom in Nederland aan die einde van die vorige eeu skerp onder die soeklig (Bos 1950:97) en hang saam met die formele en institusionele hervertolking van die 16de eeuse Kerkordes.

 

3. Verslag in die kerkraad

Die Kerkorde bepaal dat die diakens “in die kerkraad” en indien nodig “ook voor die gemeente” verslag moet doen. Eerstens moet die ouderlinge (opsieners) hulle vergewis dat die diens van die diakens na behore funksioneer. Hulle moet vasstel dat die diens onbesproke, eerlik, toegewyd en verantwoordelik geskied, aan Skrifeise en aan die norm van liefde beantwoord en dat die diens eerlik, verantwoordelik, onpartydig, omvattend tot heil van die kerk en bevordering van God se koninkryk na buite bedien word (vgl art 81). Hierdie verslag en opsig verleen aan die kerkraad geen reg om die diakens se diens oor te neem, te beheer, in detail te kontroleer, te amendeer of te veto nie.

Die kerkraad mag dit nodig ag om die diakens oor bepaalde aspekte van hulle dienswerk op te skerp, op sterkte van die geestelike verantwoordelikheid wat hulle in die kerkregering vir die hele gemeente dra (vgl bv by art 41). Wie vanuit verenigingreg “regeer” omvattend vertolk, ken aan die diakens geen selfstandige regeermag toe nie (vgl GKSA 1930:45; art 37a; 38,45). Daarteenoor het Christus die diakens tot ’n eie besondere diens geroep wat hulle selfstandig en in verantwoordelikheid aan die Koning van die kerk moet uitvoer.

In praktyk behoort elke ouderling en diaken gedurig met mekaar oor die betrokke wyk oorleg te pleeg. Hulle kan mekaar help en aanvul. Hulle sou selfs gereeld in klein kerkrade op huisbesoek kan gaan (art 38). Waar ouderlinge en diakens egter nie saam in die kerkraad die tug bedien nie (art 38), behoort die diaken nie altyd die ouderling te vergesel nie. Tegelykertyd moet die diaken nie op ’n gesamentlike huisbesoek ’n blote “saamloper” word nie, maar daadwerklik op huisbesoek oor diakendiens handel.

Die jaarlikse verslag van die diakens moet in die kerkraad en voor die gemeente geskied. Dit raak in die eerste plek ’n geouditeerde finansiële verslag oor alle insamelings, inkomste en uitgawes onder beheer van die diakens. In die tweede plek moet dit ’n oorsig en skopus gee van die aard en omvang van die terreine waarop die gemeente onder leiding van die diakens dienswerk

|157|

lewer. Dit is immers die gemeente en nie die “diakens” wat die Christelike handreiking moet doen (Heid Kat S38). Die verslag van die diakens voor kerkraad en gemeente moet beplanning vir die volgende jaar vooruitskou. Die kerkraad en gemeente behoort daaroor vrymoedig te kommunikeer. Die volgende jaarverslag kan rapporteer oor nuwe dienste en tegelyk kan die gemeente nuwe doelwitte definieer.

Die diakendiens hou verband met die diens waartoe die Here elke Christen roep. Die diakens moet enige tyd vrymoedigheid neem om advies van die kerkraad of gemeente oor moeilike sake of wanneer hulle tekorte ondervind, in te win (vgl Bos 1950:98v; besluite 1574, 1595, 1899, 1933). Die kerkraad mag selfs daarna die klassis oor ’n saak advies vra (art 41). Die diakens besluit selfstandig na advies van die kerkraad en/of klassis ingewin is, omdat hulle die verantwoordelikheid dra.

 

4. Is die “eintlike amp” armversorging?

Wanneer In 1581 van die “eintlike amp” van die diakens as armversorging gepraat word, toon dit dat diakens toe ook ander pligte vervul het wat nie by armversorging behoort het nie (Van der Linde 1983:105). Die oorweldigende armoede, vlugtelinge en vreemdelinge het die kerke in 1581 juis daaraan laat dink en van diakens vir siekverpleging (soos by Calvyn) was nie sprake nie. Verpleërs het weldra in hospitale diakens vir siekeversorging onnodig gemaak. Gevolglik Is die diakens se “eintlike amp” as armversorging getipeer, terwyl dit hulp by die nagmaalviering, beheer van kerkgoedere en hulp aan skole ingesluit het (GKSA 1927:105v). Die staat het tot groot hoogte die diakens van die staatskerk se diens bepaal.

Die Formulier maan diakens tereg om “versigtig” uit te deel. In die 16de eeu het mense voorgegee dat hulle vlugtelinge was om as vreemdelinge diakenhulp te bekom. Die diakens is reeds in 1564 gemaan om vlugtende gelowiges van “landlopers en brutale bedrieërs” te onderskei (Bos 1950:97). Voor die staat sosiaal hulp voorsien het, was diaken-wees ‘n enorme en moeilike taak. Rondlopers probeer vandag nog geld van diakens onder allerlei voorwendsels bekom. Wie finansieel help, moet altyd katvoet loop. Die diakens moet hulle diens (kyk par 5,6,7 hierna) net soos en saam met predikant en ouderlinge so verrig dat hulle werk die gemeente in terme van Ef 4: 12v opbou (Van der Linde 1983:107). Nie net armes nie, maar die gemeente is objek van diakendiens.

 

5. Probleme met Formulier vir Bevestiging van diakens

Die Sinode van Den Haag 1586 het die Formulier vir Bevestiging van diakens opgestel om by die formulering van die Kerkorde te Middelburg 1581 aan te sluit (Bouwman 1907:83). So is die diens feitlik net aan armversorging gekoppel. Gedurende die 16de eeu was die Gereformeerde kerke in Nederland aan die “gemeenten” (munisipaliteite) gekoppel. Die diakens het die maatskaplike welsynswerk in die “Christelike staat” amptelik verrig. Gevolglik kon die diakendiens tydens die Reformasie nie suiwer ontwikkel nie. Selfs Calvyn moes

|158|

in Genève owerheidskontrole oor die werk van die diakens aanvaar (Pont 1981:30 artt 58,64). Die Kerkorde het daar selfs bedelary na die eredienste op die kerkplein of in die wyke op straf van openbare vervolging, belet (Pont 1981:31).

Net na die Doleansie (1886) is in Nederland los van die owerheid oor die diakendiens besin (vgl Hoekstra et al 1888, Bouwman 1907; Biesterveld et al 1907) en dit het teen 1927 na die GKSA deurgewerk (vgl Spoelstra 1964; Du Toit 1906; GKSA 1927:31).

Die Formulier van 1586 het die bediening van die tafels (Hd 6: 2) verkeerdelik met bediening van die armes vereenselwig. Nadat ’n beswaar geslaag het, het die GKSA ’n nuwe Formulier (buite die Algemene Sinode om) opgestel (1985:354-357). Daarin word elke diaken opgeroep om “saam met u medediakens” onderlinge gemeenskap te stimuleer. Die Formulier betrek die diakens kerkregtelik by die wese van die kerk as gemeenskap (koinonia). Dit verleen ’n dieper dimensie aan diakendiens. Dit gaan wyer as om geld en goedere vir armversorging te vind en te beheer. Tog laat die Formulier die gemeente te veel daarbuite. Dit sê te min oor Skriftuurlike eise omtrent insameling en uitdeling en die betrokkenheid van die gemeente by die diakendiens. Moontlik formuleer dit te veel uit ekklesiologiese (kerklike) en te min uit Christologiese oogpunt.

Binne algemene sinodale verband onderhou die jong GKSA tans die Formulier van 1586 en die blank-Afrikaanse kerke dié van 1985.

 

6. Die taak van die diakens

Die taak van die diakens val saam met die taak wat Christus op elke gelowige lê. Die diakendiens behoort dus die aktiwiteit van die gemeente te stimuleer, te rig, te lei en waar nodig uit te voer. Elke diaken moet in sy wyk tot werke van gemeenskap en mededeelsaamheid aanmoedig, vir geïdentifiseerde projekte gawes insamel en hulpdienste werf.

Vir elke gawe in geld of goed moet die diaken ’n kwitansie uitreik om hom te kan verantwoord en om sy goeie naam te kan beskerm. Niemand kan hom op Mt 6: 3 beroep sodat hy geld en goedere onverantwoordelik mag hanteer nie. Insameling is nog nie die doen van barmhartigheidswerk nie. Baie predikante kondig verkeerdelik die kollekte onder die erediens as “diens van barmhartigheid” aan. Gawes vir barmhartigheidsdienste moet egter nie so gepubliseer word dat dit persone vlei of aanstoot gee nie (Mt 6: 3).

Die diakens besluit gesamentlik waar en hoeveel uitgedeel moet word. Die uitdeling moet so geskied dat dit die liefde van Christus in en deur sy gemeente verkondig. Mense in nood wag op die liefde. ’n Diaken wat sy diens versuim is harteloos en begaan sonde wanneer hy hom nie met nood identifiseer nie en onverskillig nalaat om hulp te gaan afdra. Die ou Formulier het die kwaliteit van uitdeling “met ’n toegeneë gemoed” deur middel van trooswoorde uit die Skrif beklemtoon. Elke diaken moet hom met die onderlinge diens en liefdebetoon van die gemeente vereenselwig en gedurig die gelowiges opwek om ook spontaan projekte te loods waarin die nood, armoede, eensaamheid

|159|

of smart van medegelowiges, selfs in gemeentes onder ander volke, aangespreek word.

Elke diaken moet binne sy wyksgrense, selfs onder mense buite die gemeente, behoefte en nood diagnoseer en daarna die oordeel van die ander diakens vra (art 40). Hulle kan gemeentelede organiseer om hulp te verleen of om geld in te samel en af te dra. Wanneer ’n ramp ’n gebied of samelewing tref, moet die diakens die eerste wees wat omgee en hulp verleen. Hulp moet sover moontlik medegelowiges probeer ophef. Na buite sal die hulp meer tydelik en voorlopig gerig wees en van hierdie gevalle kan hulle by welsynsorganisasies of ander kerkgemeenskappe aanmeld (art 26).

Elke kerk openbaar selfstandig die nuwe samelewing waar saam uit geloof in Jesus Christus geleef word. Gevolglik is elke gelowige en gemeente self basies geroep om moreel en finansieel werke van barmhartigheid teenoor armes, vreemdelinge, bedroefdes, eensames, beproefdes, bejaardes, teleurgesteldes en so baie ander mense in nood te doen. Dit reik selfs in groepverband van een kerk tot ’n ander kerk in nood uit. Dit moet oor kerk-, kultuur- en volksgrense heen reik (Rm 15:27; Schutte sa 1-3; 28-33).

In die verlede is die geestelike nood van heidene dikwels los van hulle fisiese en sosio-ekonomiese situasie beskou. “Sending” is tot Woordverkondiging beperk. Die “geloof” is min in dade geïllustreer (vgl Jk 2: 14-17). Dit val op dat die diakendiens en onderlinge gemeenskapsoefening onder leiding van die diakens in die jong kerke ten spyte van sending eintlik nêrens ontplooi het nie. Dit is ’n aanklag omdat swart mense juis van huis uit ’n sterk kommuniale gemeenskapsbesef het wat kragtig kan ontplooi as dit in Christus geheilig en gemotiveer word.

Die diakendiens kan maklik formaliseer en stagneer binne kerkmure. Dan reageer diakens net op omsendbriewe en gewoonlik net op dié wat van “deputate” kom. Dit verraai duidelik ’n genootskaplike diakonale patroon en onvermoë of onwil om selfstandig in eie omgewing ter wille van Christus en sy gemeente inisiatief te neem, nuwe behoeftes te diagnoseer en saam te besin oor hoe om dit plaaslik of saam met ander diakonieë sinvol aan te spreek.

 

7. Interkerklike diakonale samewerking

Die GKSA worstel in 1930 in die sinode op genootskaplike patroon om die strukture “kerkraad” en “diakonie” te versoen. Aan die een kant wil hulle die diakens van “regeermag” uitsluit. Aan die ander kant dwing behoefte en praktyk hulle om vir “diakonale konferensies” plek te maak (vgl bis 244v).

Die kerkregtelike implikasies hiervan is nie voorsien nie. Die diakens het nou bloot op sterkte van hulle amp interkerklik begin saamwerk, selfstandig en onafhanklik teenoor die “kerkraad” en meerdere kerkvergaderings te staan gekom (Spoelstra 1964:68v). Talle kerkregtelike anomalieë ontstaan. Diakens versorg plaaslik namens Christus met stoflike middele. Sodra dienste egter interkerklik gelewer word, neem ouderlinge en predikante as “deputate” in nasionale sinodale verband die taak oor. Diakens mag op sterkte van die neo-calvinistiese denke nie “regeermag” oor selfs diakonale werk uitoefen nie, maar hulle mag in konferensies optree en selfs sake direk by interkerklike nasionale

|160|

sinodes vanuit die konferensies gaan voordra (GKSA 1930, art 37a,45). Die diakens mag plaaslik saamkom, besluite neem, maar naburige diakonieë mag nie saam besluit en daarvan soos in ’n kerkraad in die klassis verslag doen nie. Hierdie purisme help in 1930 dat die onsuiwer konferensiebegrip uit die sekulêre wêreld by die diakens ingang vind, omdat die heersende begrip van “meerdere vergaderings” (vgl Bouwman 1907:152;1928.598v) diakens volledig sou uitgesluit het.

Die diakonale konferensies het hulle besig gehou met sake wat prakties by diakens, plaaslike kerke en meerdere vergaderings tuisgehoort het (GKSA 1964:408-410; 399-408). Konferensies van diakens het weeshuise opgerig, deputate vir sinodes benoem, regspersoonlikheid geskep om eiendom te besit, ensovoorts. Amptelik het sinodes “regeermag” aan diakens ontsê. In praktyk het die diaken deur middel van konferensies regeermag uitgeoefen (vgl Spoelstra 1964:74-75). Die gevolg van die anomalieë was dat die klassis as belangrikste meerdere vergadering en ook partikuliere sinodes totaal uit die gesigsveld van die diakens verdwyn het. Artikel 30 KO figureer nie by diakensake nie. Na die diakonie kom Sinodale Deputate sedert Sinode 1945 as sentrale “bestuur” vir diakonale ondernemings van ’n gesentraliseerde “kerkgenootskap” na vore (GKSA 1945:19;1949:163 art 68). Die Deputate word eienaardig saamgestel en verplaas in baie opsigte kerkvergaderings. Persone wat nie eers by naam as deputate benoem is nie (vgl art 49} het groot mag. Die Sinode van 1988 moes kennis neem van ’n halfmiljoen of meer rand “diakonale geld” wat blykbaar deur hierdie bestuurskolleges verloor is!

Die Nederlanders het in hierdie eeu probeer om diakens na klassisse af te vaardig vir wanneer “diakonale sake” daar aan die orde sou kom. Afgevaardigde diakens mag so niks in ’n klassis te doen kry nie. Indien ’n diakensaak wel ter tafel kom, beslis nie-diakens saam met hulle. Daarna het die GKN aan diakens “volle sittingsreg” op die meerdere vergaderings verleen. So beslis diakens weer in klassis saam oor sake wat plaaslik buite hulle amp val. Dié eksperimente handel meer oor die samestelling van vergaderingstrukture in plaas van oor die diakonale bedieningstruktuur.

Hierdie verwarring en kerkregtelike anomalieë kan nie hier ten volle ontleed word nie. Hier lê ’n groot veld braak om oor te besin, sodat ook diakonale dienste in kerkverband gedesentraliseer kan word (art 30); die diakens op ’n kerkregtelike wyse interkerklik selfstandig kan onderneem; hulle diens in verantwoording aan Christus kan uitbou en tog die toesig en advies van die kerke in klassis op dieselfde wyse kan verkry as wat diakens plaaslik met die kerkraad skakel.

 

8. Diakonale versorging deur middel van “kerklike inrigtings”

Gereformeerde sinodes het tot in die dertigerjare op Skrif- en beginselgronde benadruk dat die diakens weeskinders by pleegouers in gesinsverband moes plaas en dat kinders, selfs met diakonale hulp, na hulle bejaarde ouers moes omsien. Hierdie uitgangspunt leef ook sterk by die swart kerke.

Tydens die depressie 1928-1936 en snel verstedeliking het die “tehuise” wat genootskaplike kerke vir pleegsorg van wese en bejaardes opgerig het, “die

|161|

Geref Kerk” (as “genootskap”) in dieselfde rigting gestuur. Diakens het formeel los van hulle kerke, maar in samewerking met sinodes, vir onversorgde kinders en bejaardes tehuise opgerig.

Aan die ander kant het die Geref Kerk Pretoria-Oos in 1957 ’n Gereformeerde Stigting met ’n sterk plaaslik-diakonale basis in die lewe geroep om dergelike take te onderneem. Die Stigting kan as regspersoon by die owerheid intree, staatsubsidies ontvang, personeel in diens neem en beheer, terwyl dit maklik met ander plaaslike diakonieë kon skakel (art 26). Dit is weer vanuit die hoek van Sinodale Deputate nie altyd waardeer nie. Die Gereformeerde teorie en praktyk, die betrokkenheid van diakens en gemeente by tehuise en die belewing van die diakonaat as middel om die evangelie te dien, geskied nie na wense nie.

Spoelstra, B. (1989) Art. 26

Artikel 26

Diakens en buite-kerklike liefdadigheidsinstellings

 

Artikel 26: Die diakens moet ander liggame of instellings wat aan behoeftiges hulp verleen, versoek om met hulle oorleg te pleeg sodat die gawes des te beter uitgedeel kan word onder die wat die meeste gebrek het.

 

A. Kerkregtelik

1. Soewereiniteit van God of twee ryke?

Jesus erken op aarde die Joodse tradisionele barmhartigheidsinstellings (Joh 12: 6) sowel as die Romeinse staatsbestel (Mt 22: 17-21). Die filosofie van Plato veroorsaak egter dat gedurende die Middeleeue ‘n teenstelling tussen kerk (genaderyk) en staat (natuurryk) posvat. Die teenstelling tussen genade en natuur werk ook deur by die Anabaptiste en Piëtisme. Hulle stel hulle godsdienstige kring en aktiwiteit radikaal teenoor die burgerlike, maatskaplike en politieke instellings op. Hulle “kerk” vorm ’n alternatiewe lewenskring teenoor natuurlike lewensverbande. Geen samewerking is tussen kerk en wêreld moontlik nie

Die Reformasie beklemtoon weer dat God soewerein is en mense in die burgerlike regering (owerhede) en in die regering deur sy Woord en Gees (kerklike dienaars) roep en gebruik Christus is Koning oor die hele wêreld. Ons kan natuurlike en geestelike regering onderskei, maar nie van mekaar skei nie (Calvyn Inst IV.20.i,ii). Die Here word gedien waar die verskillende dienaars gehoorsaam aan die Here saamwerk. Juis op die terrein waarop die diakens

|162|

beweeg, kom hulle met die natuurlike lewe en daarom ook in aanraking met buite-kerklike instellings wat ook nood wil lenig en liefdadigheid bewys. Hulle moet met mekaar tot eer van die Here kan saamwerk.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie

Die artikel ontstaan in die sinode van Den Haag 1586 toe publieke amptenare behoeftige gemeentelede in armsorg oor die hoof gesien het. Die artikel wou dus die openbare hulpverlening in verbinding met die diakens bring.

Toe die GKSA die Kerkorde in 1964 hersien, is die tipiese Nederlandse uitdrukkings soos “huiszittenmeesters of ander aalmoezeniers” vervang met “ander liggame of instellings wat aan behoeftiges hulp verleen”.

 

2. Wye oorlegpleging, koördinering en samewerking

Staatsdepartemente lewer vandag op ’n wye terrein welsynswerk deur middel van pensioene, hospitalisasie, uitplasing van verwaarloosde kinders, subsidie aan private ondernemings wat sonder winsbejag tehuise vir bejaardes, alkoholiste, gevalle mense, jongmense, ensovoorts oprig. So ’n private of kerklike onderneming moet as welsynsorganisasie registreer en kry ’n bepaalde WO-nommer voordat hulle staatsfondse mag verkry of vir publieke fondse mag kollekteer. Hulle behou na registrasie hulle selfstandigheid. Diakens moet dus in bepaalde gevalle volgens die aard van die behoefte waarin hulle moet help, met departemente van die staatsdiens sowel as welsynsorganisasies rekening hou. Onderlinge oorlegpleging is in belang van wie daar help en wie gehelp moet word.

Die diakens moet egter nooit behoeftiges uit die gemeente heeltemal aan nie-kerklike welsynswerkers oorgee om geld of moeite te bespaar nie. Die oomblik wanneer die diakens hulle onttrek, verdwyn die verkondiging van Christus by die hulpverlening. Die Christelike handreiking moet altyd ’n eie karakter en boodskap dra wat totaal anders as saaklike en burokratiese hulpverlening is. Die diakens moet selfs waar staatshulp verleen word, gedurig die situasie monitor. Gereelde besoeke gee morele ondersteuning en verseker dat die hulp voldoende sal wees. Die meelewing van die gemeente en ekspertise (moontlik selfs regsadvies) van die diaken(s) troos, bemoedig en lei die persoon wat in nood verkeer en dikwels juis nie oor kundigheid beskik nie.

Die diakens mag nie hulle oorlegpleging beperk tot byvoorbeeld net tehuise wat deur sinodale deputate opgerig en bestuur word nie. Hulle roeping raak nie die tehuise of stigtings nie, maar is primêr op die mense wat daar versorg word, gerig. Ter wille van dié mense en die roeping wat Christus op sy gemeente lê, moet hulle met die besture van tehuise, stigtings en ondernemings oorleg pleeg en waar nodig kritiese insette lewer.

|163|

Christus lê die roeping tot barmhartigheid so omvattend dat dit nooit beperk mag word tot hulp binne die eie gemeente of eie “kerkverband” nie (vgl Lk 10; Mt 25: 34-46 Jk 2: 14-17). Wie barmhartigheidswerk versaaklik, haal die liefde en lewe daaruit. Om te sê dat die diakens eers met die kerkraad (hulle “baas”?) moet raadpleeg voordat na buite hulp verleen word (Van der Linde 1983:112) vind geen steun in die Skrif nie. Dié standpunt verabsoluteer die kerkraad as n “bestuur” oor die kerk. Diakens moet met inisiatief ordelik, verantwoordelik en selfstandig die gemeente na buite lei om die lang verwaarloosde roeping uit te voer en om Christus ook so te verkondig.

 

2. Anomalie in interkerklike diakonale samewerking

Die roeping tot diaken-wees met die oog op die gemeente gaan van Christus en nie van die kerk uit nie (vgl artt 2,3). Reeds In die 16de eeu kon die diakens selfstandig met nie-kerklike instellings in belang van hulle dienswerk onderhandel (art 26).

Christus gee die diakens in ’n selfstandige diens aan sy kerk met die oog op die gemeente (Ef 4: 11v). Ten spyte hiervan belet die GKSA ordelike interkerklike oorleg en samewerking tussen naburige diakonieë, selfs al sou dit onderhewig aan verslag in die klassisse geskied (GKSA 1976:25-45). Die standpunt is onbegryplik waar die alternatief van “diakonale konferensies” tereg afgewys is (GKSA 1970 186-188).

Die verbod op offisiële kontak en samewerking tussen diakonieë in klassikale verband steun nie op Skriftuurlike kerkreg nie (vgl 2 Kor 8, 9). Dit berus grotendeels op ’n horisontale kerkbegrip wat die diakens as ’n deel van die plaaslike kerkraad beskou  (GKSA 1976:44 pte 3.2, 3.3). Dit fundeer die diakendiens nie in Christus nie, maar in die “kerk” as struktuur en kerkraad. Diakens word hulle roeping om in hulle diens te “regeer” ontneem. Gevolglik is dit dikwels die kerkraad wat doen wat art 26 aan die diakens opdra. Diakens word selfs aan sinodale deputate onderwerp (GKSA 1976 45 pt 3.5, 3.6), alhoewel dit in stryd met die Kerkorde is (vgl artt 30.49 en 84). Met soveel hindernisse verbaas dit nie dat die diakonale taak van die gemeentes nie van die grond kom nie.

Spoelstra, B. (1989) Art. 27

Artikel 27

Reëling van dienstyd van ouderlinge en diakens

 

Artikel 27: Die dienstyd van ouderlinge en diakens word deur die kerkraad gereël soos hy tot die meeste stigting van die kerk ag. By periodieke aftreding na minstens twee jare diens of meer, moet ’n eweredige deel jaarliks aftree.

|164|

A. Kerkregtelik

1. Verskil van mening

Die sinodale handelinge en kerklike praktyk in die GKSA voor 1959 toon dat oor hierdie artikel groot verskil van mening geheers het. Verskillende sinodes het geweier om die artikel voor te skryf (1869: art 48; 1888: art 70; 1891: art 88; 1894: artt 86,102; 1904: art 29). Sinode 1907 (art 70) verklaar dat die Skrif oor die dienstyd van ouderlinge en diakens geen bepaling maak nie en derhalwe kan die Sinode daarin nie voorskryf nie.

Diegene wat van die amp as middel wat Christus aan die gemeente gee uitgaan (vgl artt 2,3,12), oordeel dat niemand wat nog die roeping voel en uitvoer, verplig mag word om ontslag uit sy amp te neem nie. Periodieke aftrede wil die vorming van regerende klieke uitskakel en meer mense in die ampte betrek.

Namate die kerk as vereniging verkeerdelik uitgangspunt vir organisasie geword het, is verwag dat sinodes die dienstyd van “kerklike amptenare” reël. Die artikel het as agtergrond die seggenskap wat die burgerlike owerheid in die kerkinrigting gedurende die 16de eeu gehad het (Van Ginkel 1975:235v). Wanneer artikel 12 (“lewenslank”) met artikel 27 vergelyk word, tree onmiskenbaar ’n diskrepansie aan die lig.

 

2. Periodieke diens is moontlik

In die Ou Testament het die priesters “diensbeurte” ten opsigte van tempeldiens vervul (Lk 1: 8). Die feit dat iemand ’n tyd lank diens lewer en dit daarna onderbreek (Kol 4: 14, vgl 2 Tm 4: 10), doen niks af aan die kwaliteit daarvan nie. Waar die Here gawes aan meer broeders gee en die gemeente die roeping kan opmerk en approbeer, is daar op sigself nie onoorkomelike beswaar om “periodieke aftreding” te erken nie. Dit is egter nie noodsaaklik nie.

Waar die Here die dienste gegee het met die oog op die opbou van die gelowiges (Ef 4:11 v), moet die periodieke aftrede egter altyd die beste belange van die gemeente op die oog hê. Verpligte periodieke aftreding is nie ’n beginsel nie. Die feit dat ouderlinge en diakens nie in hulle diens finansieel versorg word nie, maak periodieke aftreding makliker maar kan nie die rede daarvoor wees nie.

 

3. Politieke druk

Dit staan vas dat Calvyn met sy Kerkorde van 1537 net die dienste van predikant (biskop) en diaken geken het. By Bucer het hy kennis gemaak met die regeerouderling uit die gemeente. Hy kon dus in 1541 die Raad van Genève oortuig om ’n kerkraad vir tugoefening in hulle Kerkorde te erken en die Raad het vereis dat die ouderlinge uit die raadslede verkies sou word en die kerkraad onder voorsitterskap van die burgemeester sou vergader. Die diens van hierdie raadslede as ouderlinge is vir ’n jaar vasgestel (Pont 1981:29,30 artt 49, 50, 55).

|165|

Periodieke aftreding is grootliks uit politieke druk en buite-kerklike pragmatisme gebore. Dit wou owerhede gerus stel dat daar geen predikanteheerskappy of “tirannie” in die gemeenskap sou posvat nie, en dat dienende ampsdraers nie hulle persoonlike belange verwaarloos nie (Bos 1950:102; Van Ginkel 1975:242v).

 

B. Kerkregering

1. Redaksioneel

Reeds die eerste Kerkorde te Emden 1571 bepaal dat die helfte van ouderlinge en diakens jaarliks sou aftree, maar waar belange van die kerke dit nodig maak kon hulle langer dien (Pont 1981:104 art 15). Hierdie reëling is in 1905 effens verander toe vir “herkiesing” van dié wat uittree, voorsiening gemaak is. Tereg het die kerke In 1964 die huidige redaksie in lyn met die oorspronklike bewoording vasgestel.

 

2. Kontinuïteit by aftrede

Die reëling van vroeg af dat slegs die helfte mag ontslag neem, toon dat in belang van die kerk kontinuïteit van kennis en ervaring behoue moet bly. Talle kerkrade reël derhalwe dat slegs ’n derde of kwart jaarliks uittree en dat wie ontslag geneem het vir minstens twee jaar daarna nie weer vir dieselfde diens oorweeg sal word nie, tensy dit nie anders kan nie. So word verhoed dat periodieke aftreding net ’n breuk in die kontinuïteit veroorsaak en nie werklik ander in diens stel nie. Tegelykertyd kan die kerkraad deeglik oorweeg wat die omstandighede en beste belang van ’n bepaalde kerk of afgeleë wyk mag wees en in die lig daarvan bepaalde dienstye selfs onbepaald verleng totdat die broeder self redes aanvoer waarom hy ontslag moet neem. So ’n reëling moet egter nooit die wense of eer van die ampsdraer as uitgangspunt neem nie. Die reëling moet altyd die beste bediening In die gemeente op die oog hê.

 

3. Misbruik van periodieke aftrede

Elke kerkraad moet waak dat periodieke aftrede nie die wese van die onderskeie dienste (artt 2., 3) verdof en veroppervlakkig asof die diens nie ernstig geneem moet word nie.

Periodieke aftrede kan misbruik word waar net een predikant in ’n kerk dien wanneer hy sy heerskappy in die kerk wil bevorder. So kan ’n predikant periodieke aftrede met beroep op die Kerkorde invoer om van “lastige” ampsdraers ontslae te raak, wat hom nie blindelings wil volg nie. Kerkrade wat periodieke aftrede misbruik om heerskappyvoering in die kerk toe te laat, versuim hulle roeping en stel die kerk bloot aan tirannie en kenmerke van die valse kerk (art 29 NGB).

Spoelstra, B. (1989) Art. 28

|166|

Artikel 28

Kerklike korrespondensie met owerhede

 

Artikel 28: Soos dit die plig van die owerhede as instellings van God is om aan die kerk en sy ampsdraers hulp en beskerming te bied, so is dit die plig van alle predikante, ouderlinge en diakens om die gehoorsaamheid en eerbied wat aan die owerheid verskuldig is, getrou en ywerig by die gemeente in te skerp, en hulle moet trag om in die vrees van die Here, die guns van die owerheid jeens die kerke op te wek en te behou in belang van die kerke. Dit is ook die plig van die kerklike vergaderings om korrespondensie met die owerheid te onderhou om die nodige medewerking van die owerheid te verkry en in voorkomende gevalle as kerk van Christus voor die owerheid te getuig.

 

A. Kerkregtelik

1. Owerhede is ook dienaars van God

Rome leer dat die pous as verteenwoordiger van Christus oor staat en kerk moet regeer. Luther het met sy twee-ryke leer die kerk van ware gelowiges tot die hemelregering en die burgerlike owerhede tot die sigbare aardse regering gereken, sodat hulle ook vir die kerkdienaars moes sorg. Die Anabaptiste en later die Piëtiste het kerk en wêreld radikaal gestel en teenoor mekaar gestel.

Calvyn gaan ook van “tweërlei regering”, naamlik ’n geestelike en burgerlike uit. Hulle kan onderskei word, maar moet nie vermeng word nie. Christus het die burgerlike regering gegee sodat die kerk en godsdiens beskerm, en welvaart in die samelewing bevorder word (Inst IV.20.i,ii; Rm 13; NGB 36; Heid Kat S 39). God roep mense deur wie Hy op politieke terrein regeer en hulle moet as dienaars van God op ’n ander terrein as waar kerkdienaars regeer, erken word.

In die Skrif en gedurende die 16de eeu slaan die begrip “owerhede” op vorste wat geroep is om te regeer. Die abstrakte begrippe van onpersoonlike “kerk” en “staat” het eers na die 16de eeu posgevat. Die artikel wil dus die optrede

|167|

van kerklike dienaars teenoor regeerders op burgerlike terrein reël, sonder om in Roomse, Lutherse, revolusionêre of Anabaptistiese opvattings te verval. Vanweë die tweërlei roeping tot dienaars, kerklik en burgerlik, wat albei van God uitgaan (Spoelstra 1982:233), skryf die Kerkorde nie aan die owerhede voor nie. Dit neem ’n vergelyking as uitgangspunt. God gee aan owerhede ’n opdrag teenoor kerklike dienaars en die beskerming van godsdiens. So gee hy ook aan kerkdienaars ’n opdrag teenoor die burgerlike owerhede.

 

2. Kerklike dienaars het ’n plig teenoor burgerlike owerhede

Die Skrif noem alle owerhede ongekwalifiseerd dienaars van God vir die gelowige se beswil (Rm 13: 1). Calvyn wys op verskillende plekke waar die Skrif owerhede met hoë eer vermeld (Ex 22: 8; Ps 82: 1,6; Joh 10: 35; Spr 8: 14; Js 49: 23; Lk 22: 25,26). Gevolglik vermaan die apostel die kerkdienaars om vir konings en almal wat hoog geplaas is, te bid sodat ons ’n stil en rustige lewe in godsvrug en waardigheid kan lei (1 Tm 2: 2). Hulle moet selfs sorg dat die Wet van God nagekom moet word. Die owerhede sal aan God rekenskap moet doen (Inst IV.20).

 

B. Kerkregering

1. Redaksioneel

Die Kerkorde handel in die reël net oor die afspraak tussen die kerke wat in kerkverband met mekaar wil lewe. Die Sinode van Dordrecht 1619 het hierdie artikel bygevoeg in hulle vergeefse poging om die owerhede te verseker dat kerklike vergaderings nie politieke heerskappy begeer nie, in die hoop dat die owerhede die Kerkorde sou goedkeur. Die ou artikel het die beginsel van die Christelike ryk (corpus christianum) wat by Lutherse en Nederlandse owerhede sterk geleef het, as uitgangspunt gestel: die owerhede sorg vir die godsdiens van hulle onderdane (vgl ook feodale kontrakreg). Hulle sou dus die kerkdiens bevorder, ’n voorbeeld vir hulle onderdane stel en moet die kerkdienaars in voorkomende sake ’n helpende hand bied. Ewe so is die kerkdienaars verplig om by die gemeente gehoorsaamheid, liefde en eerbied vir die “magistrate” in te skerp en voorbeeld te stel, en waar nodig deur respek en korrespondensie die guns van die owerhede teenoor die kerke op te wek sodat die Here geëer kan word in ’n samelewing waarin geen agterdog of wantroue tussen die kerklike en burgerlike owerhede voorkom nie. Hierdie stelling, wat eintlik nie ’n wyse van optrede (kerkorde) voorskrywe nie, is in 1967 hersien (GKSA 1967:65-66).

 

2. Erkenning van gesag en regering

Geen ordelike samelewing tussen mense is sonder burgerlike regering moontlik nie. Daar is verskillende vorme van regering en regeringstelsels moontlik

|168|

(Calvyn: Inst IV.20.viii). Gevolglik moet die gelowiges die gesag van regeerders eerbiedig, ongeag die vraag of hulle met die stelsel saamstem (Heid Kat S 39). Die revolusionêre magte van die Antichris beroep hulle op “burgerlike ongehoorsaamheid” om ’n land onregeerbaar te maak, sodat hulle die bewind kan oorneem en hulle regeringstelsel met geweld kan daarstel en handhaaf. Die gereformeerdes het vanaf die 16de eeu volgehou dat die wettige owerheid eerbiedig moet word, oor verkeerde wette of gebrek aan wetgewing gespreek moet word en veranderinge vreedsaam aangebring moet word.

Die Skrif stel ’n hoë premie op rus en vrede met die oog op die diens en eer van God. Slegs wanneer ’n owerheid gehoorsaamheid aan God onmoontlik maak en die owerheid die wil van God weerstaan, kan die volk onder leiding van die mindere owerhede in opstand kom om die moedswil van owerhede te bedwing en die reg van God te handhaaf (Calvyn Inst IV.20.xxix-xxxii; Murray 1976:8v).

 

3. Korrespondensie met owerhede

Die goeie verhouding tussen kerklike en burgerlike dienaars waarmee God die mense in rus, vrede en voorspoed wil hou, moet in die eerste plek in die plaaslike gemeenskap verwerklik en uitgeleef word. Wanneer nodig moet die naburige kerke in klassikale of sinodale verband skrywes rig of deputate na owerhede stuur om bepaalde wense en versoeke by die betrokke owerheid voor te dra. Gewoonlik wys streek- of nasionale sinodes deputate vir korrespondensie met die owerheid aan. Dit verswak egter die Christelike getuienis wanneer kerkrade, klassisse en streeksinodes nie self hulle vertoë by die owerhede voorlê nie.

Spoelstra, B. (1989) Art. 29

|169|

Artikel 29

Kerke vergader in verskillende kringe vir kerkregering

 

Artikel 29: Kerklike vergaderings wat onderhou word, is: kerkraad, klassis, partikuliere sinode, nasionale sinode en algemene sinode.

 

A. Kerkregtelik

1. Christus is die enigste Hoof van sy Kerk

Die meeste kerkregtelikes neem vandag die kerk of ekklesiologie as vertrekpunt wanneer hulle oor sinodes handel. Die Reformasie en Gereformeerde Belydenisskrifte neem egter die koninkryk van God as uitgangspunt. Hierdie Christologiese vertrekpunt het ons in die Inleiding en vorige afdeling van die Kerkorde (vgl bv by artt 2,3) probeer vashou.

Christus het net een liggaam, die universele kerk van ware gelowiges (1 Kor 12), wat in elke plaaslike kerk sigbaar word in die mate as wat die gemeente die kenmerke van die ware kerk openbaar (NGB 27-31). Die direkte verhouding tot Christus en die universele kerk het besondere betekenis vir die uitgangspunt in die kerkregering. “Daarin ligt enerzijds haar zelfstandigheid, anderzijds de noodzakelijkheid zich mede door andere gemeenten te laten bepalen en gezeggen” (Ridderbos 1965:213; vgl Snyman 1966 a,b; 1977.44v).

Die kerkregering hou dus in die eerste plek rekening met die Christusregering deur middel van gawes of ampte (charismata) waardeur die plaaslike kerk versorg, regeer en opgebou word (Ridderbos 1965.203v). Tweedens ontbreek enige aanduiding in die Skrif dat Christus in die plek van die apostels ’n hiërargie, superintendente-amp of sinode-instituut oor die gemeente(s) ingestel het (Ridderbos 1965:211). Die kerk (gemeente) is God se bouwerk (1 Kor 3: 1 v, 21 v) en direk onderworpe aan die gesag en orde van die Hoof Christus (1 Kor 12; Ef 4). Dié verhouding berus nie op ’n kerkordelike ooreenkoms waardeur kerke vir sinodes voorsiening maak nie. Inteendeel, die verhouding van Christus tot sy gemeente is so direk dat geen amp, volmag of kerkvergadering sonder die plaaslike kerk (gemeente) moontlik is nie (Ridderbos 1965:202v). Die saamkom in sinodes kragtens ’n kerkordelike akkoord (art 86), lê dus op ‘n ander vlak as die ampsbedieninge in die gemeente. Gevolglik is die vertrekpunt van die nuwere kerkreg in die GKN dat ampsdraers in sinodes saamkom en daarom regstreeks regeermag naas die kerkraad in die kerk en kerkverband uitoefen (vgl M Bouwman 1937:94-112) prinsipieel verkeerd. Dit steun op geen enkele Skrifbewys nie, maar op ‘n bepaalde kollegialistiese of presbiteriaanse vertolking van die kerkregkundige Voetius uit die 17de eeu.

|170|

Die eerste vlak van kerkregering deur die dienste hou die gemeente waarlik kerk. In die tweede vlak van kerkregering deur die samekomste tree hierdie komplete selfstandige kerke met mekaar in ’n kerkordelike ooreenkoms waardeur hulle deur middel van sinodes aan mekaar hulp verleen om waarlik kerke van Christus te wees en te bly.

 

2. Die tussen-kerklike vlak van kerkregering

Aanvanklik het die apostels die band tussen selfstandige en komplete kerke (gemeentes) kragtens die eenheid in Christus versorg (Du Plooy 1982:218-223). Geen ander amp of instelling vervang die apostels nie (Ridderbos 1965:201,211). Die ontwikkeling gaan eintlik van apostels-en-gemeentes na apostels-ouderlinge-en-gemeentes en dan na ouderlinge-en-gemeentes (vgl Ridderbos 1965:201 v).

Reeds by die apostels was die tussen-kerklike verhouding van belang en tree juis dié kerke as voorbeeld vir ander kerke na vore. Paulus wys gemeentes op hulle ekumeniese verbondenheid en wys die een op wat in die ander gebeur as ‘n voorbeeld (2 Kor 8: 1 v; 9: 2v; 1 Kor 16: 1v; Ef 1: 10; Kol 1: 6,23; 4:16; 1 Tm 3: 16). Hy sê dat hy in al die gemeentes dieselfde riglyne neerlê (1 Kor 7: 17; 4: 17; 14: 33) en waarsku teen individualisme en independentisme by die Korinthiërs (1 Kor 14: 36). Bepaalde kerklike reëls is bevele van die Here (1 Kor 14: 37) en moet daarom oral nagekom word. Die noodsaaklikheid dat die kerke met mekaar saam moet lewe en op mekaar ag moet gee, is met die eenheid in die universele kerk, die liggaam van Christus, gegee (1 Kor 12; Ridderbos 1965:212-213; Bouwman 1934:11,49). Juis toe die apostels nie meer daar was nie, moes die kerke self hierdie ouderlinge verband onder die een Hoof (Ef 1:22) koester en betrag.

Daar is dus ’n duidelike onderskeid tussen die kerkregering in die dienste om gelowiges waarlik te laat kerk-wees onder die Hoof Christus en die kerkregering tussen die gemeentes onderling om die verworwe eenheid in Christus te versterk, te versorg en te beskerm. Tereg het kerkregtelikes onderskei tussen die kerkregering deur middel van die opsieners wat tot die wese van die kerk behoort en kerkregering in samekomste van kerke (sinodes) wat tot die welwese van die kerk behoort (Bouwman 1934:65; vgl Franse KO 1559: art 40). Sonder die bediening van die gesag van Christus (NGB 7,31) kan daar geen gemeente wees nie, maar sonder die tussen-gemeentelike hulp aan en toesig oor mekaar kan dit met geen gemeente goed gaan nie.

Na die verdwyning van die apostels tree die gemeentes onder leiding van die opsiener-ouderlinge in kerkverband na vore om die gesag van en gehoorsaamheid aan Christus, die Hoof van elke kerk (gemeente), met die oog op die goeie orde en welstand van elke kerk te bedien en te laat funksioneer (Ridderbos 1965:214). So is die kerke in Christus saam-op-pad (sun-hodos) en word die geleenthede waar die kerke saam vergader sinodes genoem. Die benaming “meerdere vergaderings” wil dieselfde sê, naamlik dat hier meer as een kerk byeenkom om met mekaar saam besluite in belang van die kerk-wees van elke selfstandige komplete plaaslike kerk te neem.

Die feit dat Christus bepaalde dienste as gawes aan die gemeente of plaaslike kerk gegee het (1 Kor 12: 28; Ef 4: 11v; Fil 1: 1; Kol 4: 12; 1 Ts 5: 12;

|171|

1 Tm 3: 1-5; 1 Pt 5: 2; Jk 5: 14; Op 1: 20) en die ouderlinge dikwels saam as ’n korps genoem word (Hd 11: 30; 15: 22; 20: 17,28; 21: 18; FiI 1: 1; Jk 5: 14), beklemtoon dat naas dit wat hulle individueel gedoen het, hulle ook as ’n raad in die kerk opgetree het. Dit was veral nodig wanneer hulle die sleutels van die koninkryk van God, dit wil sê die kerklike ekskommunikasie (NGB 32; Heid Kat S 31) moes bedien (Calvyn Inst IV.11.i-vi). Die kerkraad (kyk artt. 37,38) moet dus kragtens sy wenslike plek in elke plaaslike kerk prinsipieel van die meerdere vergaderings onderskei word (vgl bv Bouwman 1934:22; Ridderbos 1965:212-215).

 

3. Vergadering(e) van kerke ter wille van eenheid in Hd 15 en GI 2

Die eenheid van die Kerk moet volgens die ekklesiologies-strukturele opvatting in sinodes na vore kom soos wat ander wêreldse verenigings in kongresse saamgesnoer word. Om die idee van een groot sinodekerk of genootskap te regverdig, het kerkregtelikes Hd 15 en Gl 2 baie keer oorvra en beweer dat God vir die plaaslike kerk ouderlinge en vir die kerkgenootskap sinodes ingestel het. So word dualisties van ’n presbiteriaal-sinodale kerkregeringsvorm gepraat (Bouwman 1937:36,79,117; Pont 1981:191; Kleynhans 1985:23,62; vgl Fourie 1973:70,119v).

Die konvent in Hd 15 was geen Roomse konsilie waar al die opsieners op grond van hulle amp uit ‘n bepaalde gebied saamgetrek is nie. Dit was ook nie ’n sinode waarheen verskillende selfstandige gemeentes afgevaardig het nie. Dit was allermins ’n sinodale “kongres” van ’n eenheidskerk. Dit was egter wel ’n samekoms (konvent) van die kerk van Jerusalem met afgevaardigdes uit Antiogië, omdat die noodsaaklike eenheid tussen die gemeentes weens verskil onder apostels oor die besnydenis van nie-Joodse Christene, in gevaar was (GI 2: 11-16). Hd 15 en GI 2 skryf nie sonder meer oor dieselfde een en enkele byeenkoms in Jerusalem nie (Du Plooy 1982:226).

Du Plooy beskou Hd 15 teen die agtergrond van die bevel en belofte van Christus aan sy apostels in Mt 28: 19 wat belewing van eenheid in die leer verplig (vgl Mk 16: 15, Hd 1: 8). Op grond daarvan moes die verskil uitgeklaar word. Hd 15 vorm ’n waterskeiding waardeur die verskille tussen gemeentes uit verskillende agtergrond oorbrug, en eenheid in leer en praktyk verseker is (1982:228). Van nou af tree die ouderlinge in die selfstandige en betreklik losstaande gemeentes al meer na vore (Hd 20: 28; 21: 18). Weldra tree die gemeentes met ouderlinge heeltemal op in die plek van die apostels (Op 1: 20). Gevolglik is dit betekenisvol dat kerke mekaar in die “oorgangfase” opsoek (Du Plooy 1982:230; Ridderbos 1965:211-213).

Die innerlike verband tussen die kerke as openbaringe van die een en selfde liggaam van Christus, maak dit noodsaaklik dat hulle sal saamkom om hulle eenheid in Christus te bevorder en te bewaar. Die eenheid gaan nie in die struktuur van een vergadering op nie, maar bestaan in geloof en praktyk wat in selfstandige kerke uitgeleef word (Hd 15: 24-33). In Hd 15 was geen sprake van ’n permanente oorkoepelende vergaderingstruktuur wat die gesag van die apostels oor die verskillende kerke moes kontinueer of oorneem nie. Dit beskryf egter hoe twee kerke in’n krisis kerkverband met mekaar belewe het (Du Plooy

|172|

1982:232). Tegelykertyd toon dit aan dat die apostels en ouderlinge net bedienaars van die Heilige Gees in die opbou van die onderskeie gemeentes was (Calvyn 1844:78).

Antiogië was in Hd 15 deur middel van afgevaardigdes, waaronder ’n apostel, verteenwoordig. Jerusalem was as gemeente, ouderlinge en apostels betrokke (Hd 15: 2,4,22). Die verskil in getalle is irrelevant. Die besluit dra immers gesag op grond van die innerlike kwaliteit wat die Heilige Gees daaraan verleen het (Hd 15: 28). Stemme word as ’t ware geweeg en nie getel nie. Kerklike besluite wat werklik na die leiding van die Heilige Gees vra, behoort in groot mate van konsensus en nie met blote meerderheid van stemme en allermins met ’n skrale meerderheid nie, geneem te word.

 

4. Instellings om eendrag en eenheid te bevorder

Die kerklike dienaars en veral die opsieneramp is gawes van God in en aan elke gemeente om daardie gemeente in eendrag en eenheid van geloof en lewe te hou (NGB 7,30,31; vgl artt 2,3 KO). Die Gereformeerde Belydenis van die 16de eeu bely nie sinodes nie, omdat dit nie in die Skrif voorgeskryf word nie. Nietemin, soos die kerke van Jerusalem en Antiogië spontaan oor’n aktuele probleem ontmoet en gehandel het, word bely dat die dienaars onder mekaar bepalinge kan maak waardeur eendrag en eenheid in gehoorsaamheid aan God en in ooreenstemming met die bevele van Christus as enigste Hoof van sy kerk in die gemeente bevorder kan word. Dié bepalinge mag egter nie godsdiens voorskrywe of gewetens bind nie (NGB 32).

Calvyn het reeds in Genève in 1537, 1541 en 1561 kerkordes help opstel. Hy reken eers net met die dienste van predikante en diakens. Na sy ontmoeting met Bucer vereis hy dat die Raad van Genève vir ’n kerkraad in die kerkorde van 1541 voorsiening maak. Die Gereformeerdes bely dus op Skrifgronde ’n kerkraad (NGB 30; KO art 37; Calvyn Inst IV.11.i-vi). Hoewel Genève nie sinodes onderhou nie, werk Calvyn mee om ’n kerkorde in 1559 vir die Franse gemeentes te ontwerp omdat hulle eendrag en eenheid nie langer sonder sinodes gedien kon word nie (Bouwman 1934:3; Pont 1981:50v artt 2,39).

Die verskillende vlakke of vorme van meerdere vergaderings in artikel 29 word nie in die Skrif voorgeskryf nie. Hulle hou verband met ’n bepaalde kultuurmilieu. Net soos die vroeë konsilies uit bestuurspraktyke van die Romeinse ryk opgekom het (Plöckl 1960:1,58), korrespondeer die patroon van meerdere vergaderings in artikel 29 met die gedesentraliseerde staatsvorme wat in Nederland gedurende die 16de eeu beoefen was (Bouwman 1937:74). Dit pas egter pragtig by die Skriftuurlike selfstandigheid en verantwoordelikheid van die plaaslike kerke aan (Spoelstra 1980a:3v). Hierdie Nederlandse pluralisme sal gevolglik weer ’n Roomse hoogkerklike of moontlik Engelse kultuursentiment wat aan sentrale gesag en bestuur voorkeur gee, afstoot. Die CRC van die VSA het met hulle sterk genootskaplike kerkbegrip (“our church”) partikuliere sinodes uitgeskakel en frekwensie van algemene sinodes verhoog. Ook in die geledere van die GKSA neem die tendens om te sentraliseer merkbaar toe (Spoelstra 1988:37-52). Die invloed van Skotse presbiterianisme

|173|

dra grootliks hiertoe by (Bannerman 1974:1,47;11:326, Macpherson sa:5v, Hodge 1879:125, Spoelstra 1989).

 

5. Die wese van ’n sinode of meerdere veragadering

Voetius definieer in die 17de eeu ’n meerdere vergadering of sinode soos volg: ’n wettige byeengeroepte samekoms wat bestaan uit afgevaardigdes van plurale (meer) kerke (conventus legitime convocati constantes ex delegatis plurium ecclesiarum, Bouwman 1937:86,97).

Die woord samekoms (konvent) in die Kerkorde het tot 1964 duideliker as die woord vergadering beklemtoon dat sinodes nie selfstandige liggame of strukture met eie bevoegdheid parallel naas of buite die kerke om is nie. Sinodes is slegs geleenthede waar minder of meer kerke vergader om saam met mekaar ’n bepaalde agenda af te handel (Bos 1950:106). Dit bly derhalwe kerke (meervoud) wat in die samekoms (sinode) besluit.

Die basis waarop kerke ’n kerkorde aangaan om mekaar in sinodes in die kerkregering by te staan, is die eenheid in geloof wat in Belydenisskrifte verwoord is. Die kerke identifiseer mekaar as ’t ware deur die geloof wat hulle bely (vgl artt 53,54 KO). Dié eenheid vind die eerste Nederlandse sinode te Emden selfs wanneer verskillende Belydenisskrifte by Nederlandse en Franse kerke in gebruik is (Pont 1981:103 artt 2,5). Gevolglik heet die Belydenis tereg “Formuliere van Eenheid”. Die kerkorde rus dus op die Belydenis en vloei daaruit voort (Du Plooy 1987).

In die 16de eeu word woorde gebruik soos korrespondensie (dws ooreenstemming), kombinasie, gemeenskap, verbintenis of verband (conjunctio), konfederasie, versameling, assosiasie, unie, vereniging, gemeenskap, eenheid waarby gewoonlik die genitief “van die Kerke” gevoeg word (Bouwman 1937:68). Uit dié name wil M Bouwman in 1937 aflei dat Voetius die “sinodaal verbonde kerke as’n kerkregtelike, korporatiewe eenheid soos die plaaslike kerk in institutêre sin” verstaan (71). Die argument waarop sinodes as strukture soos en naas die kerkraad geplaas word, berus nie op Skrifgronde nie, maar op ’n argument gebou op “afvaardiging” in die verenigingsreg en op ’n “kerkregtelike” argument oor die amp wat die afgevaardigde beklee (Bouwman 1937:85-97; Spoelstra 1967). Volgens hierdie kollegialistiese opvatting is die kerkrade en meerdere vergaderings strukture waarvan die ampsdraers (kerkraad) of die afgevaardigdes (in sinodes) “lid” word (Bouwman 1937:98; Nauta 1971:177). Volgens hierdie kollegialistiese strukturele opvatting beslaan kerkrade grense en word kerke binne bepaalde grense weer tot onderskeie meerdere vergaderings geïnstitueer. So beslaan ’n bepaalde meerdere vergadering ook ’n bepaalde geografiese gebied (vgl Nauta 1971:188v; vgl ook by presbiterianisme).

Hierdie kollegialistiese opvatting bots radikaal met wat die Skrif ons leer oor die amp en plaaslike kerk (vgl artt 2,3,16,23; Calvyn Inst IV.3.vii) en kerke in kerkverband. Dit verreken nie die verskil tussen kerkraad en sinode nie (vgl Bouwman 1934:17,22,64v; vgl selfs Bouwman 1931:97,104). ’n Sinode is wel ’n kombinasie of vergadering van “verenigde kerkrade” (Bouwman 1937:99), maar wanneer ons die selfstandige kerke agter en in die sinode bly raaksien,

|174|

vergader elke kerkraad in die sinode saam met ander kerkrade sonder om in ’n nuwe sinodale struktuur op te los. Die begrlp “lid” van kerkraad of sinode is vreemd aan die Skrif en eie aan die kollegialisme. Elke deelnemende kerk kan ’n bepaalde meerdere kerkevergadering van sy kant as sy kerkraadsvergadering beskou wat hy as vennoot saam met ander kerke hou, op sterkte van ’n bindende afspraak in die aanvaarde kerkorde wat kerke gesluit het om die drie sola’s (verlossing deur geloof, Skrif en genade alleen) in elke kerk na te leef (Van ’t Spijker 1984;1 v).

 

6. Sinodes struktureer nie eenheid nie

Kerke vergader in verskillende kringe volgens artikel 29 om funksionele redes. Die vorme van meerdere vergaderinge in artikel 29 (lokaal, streeks-, nasionaal of wyer gewyse), word met die oog op kerkregering in belang van die lokale kerke onderhou en pretendeer nie om organisatoriese kerkeenheid te demonstreer nie (Spoelstra 1988). Die eenheid van die kerke in leer, diens en tug is die grondslag wat dit moontlik maak. Die Skrif beveel nie dat gemeentes in ’n struktuur verenig moet word asof dié wat in ’n verskeidenheid van baie plaaslike kerke waarin die een kerk van Christus verskyn, op sondige verdeeldheid sou neerkom nie. Kerkverband of geestelike eenheid in leer, diens en tug, maak eenheid in kerkregering noodsaaklik maak. Sinodes dien eenheid in kerkregering en is nie die eenheid van die kerk nie. Die kerk is baie meer as kerkregering. Motiewe waarom eenheid nie in uitsprake voorkom nie, mag wel as sonde uitgewys kan word. Die blote feit van verskeidenheid is egter nie sonde nie. Slegs mense kan sonde doen.

Vir Rome val die kerk saam met die gesagsfeer of regering van die pous. Hulle sê dat ’n konsilie van biskoppe onder leiding van die pous ’n beeld van die een (unica catholica) kerk is. Calvyn verwerp hierdie persepsie. ’n Vergadering van herders kan nooit die eenheid van die kerk van Christus verbeeld nie (Inst IV.8.x; 9.i,iii,vii). Die Roomse idee van een kerk (in vergadering van regeerders) het in die 20ste eeu wêreldwyd onder reformatoriese kerke die ideaal geplant om eenheid van die kerk struktureel in “sinodes” of “rade” te verwesenlik, ongeag die vraag of daar werklik innerlike eenheid van geloof (mbt die “drie sola’s”) is. Dit verskil van die 16de eeu. Calvyn was bereid om tien seë deur te vaar om in konvente oor eenheid in die leer met Bullinger (Luthers), Cranmer (Anglikaans) en wie ook al te onderhandel, sonder dat hy institusionele eenheid daaraan gekoppel het. Die Dordtse Sinode van 1618 vergader as Nederlandse nasionale sinode. Dit is tegelyk ekumenies wanneer 17 kolleges van buitelandse afgevaardigdes met volle behoud van hulle identiteit die sinode assisteer. Die eenheid in die essensiële leer verg nie kerkordelike eenvormigheid waar etnisiteit verskil nie (vgl DKO 85). Kerkverband kan oor institusionele verskeidenheid heen ekumenies beleef word.

 

7. Die doel van sinodes

Die doel van die sinodes genoem in artikel 29 kan uit die aard van die saak slegs beoog wat elke kerkraad moet doen, nl diensbaar wees aan die regering

|175|

van Christus deur sy Woord en Gees in elke kerk. Gevolglik is die klassis (ook die classis contracta) as naaste aan die kerkraad die belangrikste meerdere kerkevergadering (vlg art 79, ivm tughandeling). Die kerkraad bedien met advies, hulp en bystand van die naburige kerke in klassisse sleutelmag, beroeping, losmaking en bevestiging van predikante (vgl artt 5,8,1015,441,44,77). (Die saak van die partikuliere sinodes lê verder weg, naamlik oplossing van beswaarskrifte uit die klassisse en opbou van korrespondensie tussen kerke, art 48). Die nasionale of algemene sinode behoort slegs oor die basiese eenheid ten opsigte van eenheid in leer, diens en tug te handel. Die bevoegdheid van die gereformeerde meerdere vergaderinge word konsentries beperk (art 30) en voorskriftelikheid of heerskappyvoering oor die kerke word belet (uitgangspunt Franse KO 1559 en Emden 1557 as art 1, vgl art 84 KO). Die selfstandigheid en kompleetheid van elke kerk is ononderhandelbaar. Christus regeer die plaaslike kerk met die bedieninge van die ampte, waarby geen meerdere vergadering mag indring nie.

 

8. Meer vorme van sinodes

Die kerke reël in die kerkorde hulle gereelde sinodes wat hulle met mekaar sal onderhou (art 29). Twee of meer kerke kan egter ook met mekaar hulle eie en besondere ooreenkomste aangaan waardeur hulle mekaar wil help en bystaan om waarlik kerke van Christus te wees. So is ’n sporadiese byeenkoms van naburige kerke (vgl artt 4,5,79) ’n classis contracta. Op dieselfde kerkregtelike vlak kom gekombineerde vergaderings tussen kerke kragtens ’n akte van kombinasie met die oog op beroeping voor (art 5). Dit kan ook met die oog op sending, opleiding, noodleniging, ensovoorts gebeur. Vroeër het kerkrade die hulp en advies van ’n naburige kerkraad in ’n moeilike saak (in plaas van advies van bv ’n professor vandag) ingeroep.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die Wezelse konvent 1568 ag samekomste van kerke in klassisse nodig om die diens van die Woord en dissipline doeltreffend te kan behartig, terwyl provinsiale sinodes vir die opstel van ’n kerkorde verantwoordelik moet wees (Pont 1981:75v). Dit gebeur by Emden 1571 waar vir gereelde klasssikale byeenkomste en byeenkomste van “alle Nederlandse kerke” voorsiening gemaak word (Pont 1981:104). Die Sinode van Dordrecht 1578 praat van vier kerklike “versamelinge” wat in artikel 29 KO beslag kry. Die Sinode van Dordrecht 1619 vervang die Woord “versamelinge” met “samekomste” wat te Potchefstroom 1964 met “vergaderings” weergegee word GKSA 1964:58v).

Die huidige redaksie verwerk die ontwikkeling vanaf 1964 nadat die selfstandigheid en gelykwaardigheid van kerke wat uit sending tot stand gekom het, kerkregtelik verreken is. Die GKSA verstaan dat “tegelyk vryheid aan kerke

|176|

onder afsonderlike volke gelaat word om vergaderinge te onderhou soos hulle dit nodig ag” (GKSA 1979:553).

 

2. Toepassing volgens omstandighede

Toe die kerke in Sinode van Reddersburg 1862 die Dordtse Kerkorde ongewysigd aanvaar, het hulle dadelik artikel 29 volgens landsomstandighede vertolk en toegepas deur middel van onderskeie Algemene Vergaderings van kerke binne die drie afsonderlike politieke state. ’n Algemene Vergadering het as klassis en partikuliere sinode van die Kerkorde funksioneer. In 1924 het die kerke in Transvaal en Kaapland in klassisse gegroepeer en partikuliere sinodes saamgestel, terwyl die kerke in die OVS eers in 1942 gevolg het.

Met die flotering van meerdere vergaderings vir die kerke wat deur sending ontstaan het, het die Sinode van Potchefstroom 1964 inisiatief geneem om meerdere vergaderings voor te stel. Daar is kollegialistiese invloed merkbaar. Sinodes is as staande strukture in die lewe geroep en benaam (GKSA 1964:265v) terwyl die “sinode” wat die besluit geneem het self nie ’n vaste “naam” gehad het nie. Die kerke moes nie volgens rasse nie, maar volgens etnisiteit groepeer, ’n argument wat ten opsigte van die “Kleurlinge” egter nie opgaan nie (GKSA 1961:119;1964:263).

Die sogenaamde “sinodes” van “Soutpansberg” en “Kleurlinge” was in werklikheid algemene vergaderings of klassisse omdat daar geen partikuliere en nasionale sinodes onderhou word nie en kerke immers funksioneel en nie struktureel nie groepeer. Die kerke moet dit self reël volgens behoefte (art 30 K0; vgl GKSA 1979:553).

Strukturele dwang het verkeerdelik die Sinode van Potchefstroom 1976 beweeg om sonder om partikuliere sinodes of klassisse te raadpleeg, ’n numeries-eweredige indeling van kerke in klassisse en ses partikuliere sinodale groeperinge te maak (GKSA 1976:461). Daarby is struktuur maar nie funksionaliteit, koste en naburigheid in ag geneem nie. Kerke in Wes-Transvaal groepeer tans by kerke in Namibië, terwyl ’n algemene vergadering (soos Soutpansberg) vir Namibië waarskynlik meer meriete het.

 

3. ’n Gereformeerde Ekumeniese Sinode

Die GKSA het die ideaal gekoester om in ’n volwaardige ekumeniese sinode te vergader, naamlik “’n uitwendige organisasie in die vorm van ’n ekumeniese sinode wat die Gereformeerde Kerke in al die lande van die wêreld met sigbare bande sal saamsnoer en sy kerk tot geheel heg sal saambind” (GKSA 1939; vgl Spoelstra 1981). Die sterk strukturele in plaas van Christologiese vertolking van die ekumene straal uit die ideaal.

Net na die Tweede Wêreldoorlog is in 1946 ‘n “Gereformeerde Ekumeniese Sinode” (GES) tussen die GKN, CRC (USA) en GKSA met blote adviserende bevoegdheid in die lewe geroep. Die Geref Kerke van Nederland (GKN) het geoordeel dat sinodes slegs met betrekking tot kerke binne ’n bepaalde nasionale eenheid bindende besluite (vgl art 31) kan neem. Die GKSA het probeer om die GES as kerkregtelike sinode te bejeën, GES-besluite ter tafel

|177|

geneem en daarop gehandel. Tereg skep dit die gevaar dat vreemde materiaal sinodale agenda binnesluip (Van der Linde 1983:121). Slegs die GKSA het die ideaal van ’n werklike GES vertroetel en in sake soos byvoorbeeld rasseverhoudinge het die GES die GKSA tot 1972 heilsaam beïnvloed.

Die geskiedenis van die GES vertoon uit die staanspoor spanning tussen diegene by wie die gedagte van “ekumeniese” struktuur oorheers en diegene wat ’n werklike “sinode” nastreef. Hierdie tweeslagtigheid (GKSA 1964:188195) lei daartoe dat die GES in 1972 ’n nuwe konstitusie aanvaar, waardeur dit heeltemal ’n sekularistiese “liggaam” in eie reg word en waarby “kerke” (genootskappe) as “lede” aansluit en volgens getalsterkte stem.

Tegelykertyd het probleme oor die koersverandering van die GKN na 1968 oor Skrifgesag, homofilie en die Wêreldraad van Kerke en ’n tendens van die GKN en NGSK om die GES na die WARC (Ottawa 1982) te verpolitiseer, die GES se voortbestaan in gedrang gebring. Die GES is doelbewus te Harare in 1988 in ’n Geref Ekumeniese Raad (Reformed Ecumenical Council) omskep met die bedoeling om strukturele eenheid eerder as homogene konfessionele en etiese norme in kerkregering na te streef. Dit berus volledig op die sekulêre model van die WBGK en WRK van ’n liggaam in eie reg waarby “kerke” (as genootskappe) as “lede” aansluit en meedoen. Dit sal waarskynlik steeds nader aan die WBGK beweeg.

Spoelstra, B. (1989) Art. 30

Artikel 30

Behandeling van kerklike sake en mindere bevoegdheid van meerdere vergaderings

 

Artikel 30. Kerklike vergaderings moet alleen kerklike sake en dit op kerklike wyse behandel. Op meerdere vergaderings moet alleen sake behandel word wat nie in mindere vergaderings afgehandel kan word nie of sake wat by die meerdere vergaderings tuishoort.

 

A. Kerkregtelik

1. Elke gemeente is ’n kompleet selfstandige kerk

Hierdie basiese Skriftuurlike beginsel tree voortdurend as norm vir die kerkreg en kerkregering na vore. Die een liggaam van Christus (NGB 27) word op ’n bepaalde plek in die gemeente (NGB 28) as ’n gemeenskap in ware geloof rondom die Woord, sakramente en tug (NGB 29) onder leiding van die ampte en kerkraad (NGB 30, 31) sigbaar. Die kerke kan met ander kerke ’n ooreenkoms (kerkorde) aangaan om mekaar te help en by te staan, maar kan nie die roeping en taak wat op die dienaars rus, oordra nie. Die kerkvergaderings vul die komplete kerke nie aan nie, kan hulle nie verplaas, vervang,

|178|

voorskryf of oorheers nie. Gevolglik mag ander kerke nie indring in die lewe en verantwoordelikheid van ’n kerk, behalwe wanneer by ’n kerk gehoorsaamheid aan Christus herstel moet word (NGB 7,31,32; artt 36,84 KO). Die kerke (gemeentes) word nie deel van ’n groter kerk wat aan hulle voorskryf nie.

Die wese van die kerk lê ’n absolute beperking op die agenda van ’n samekoms van kerke (sinode), sowel as op die wyse waarop die agenda behandel moet word (vgl by artt 2,3). Kerke is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie (Van der Linde 1983:123). Met hierdie beginsel het die Reformasie die aanspraak van Rome dat die pous ook hoof van die wêreldlike en politleke owerhede is, verwerp.

Hierdie Christologiese uitgangspunt staan lynreg teenoor die genootskaplike of ekklessiologiese vertrekpunt wat die kerk as vereniging van gelykgesinde “lidmate” beskou. Die standpunt word aanvaar dat kerkrade op gesag van sinodes lidmate bestuur, dat kerkrade as regspersone in ’n kerkorde hulle bevoegdheid na sinodes as organe van die “kerkverband” (of “kerk in die algemeen”) delegeer en daaraan ontleen, dat die sinode bevoegdheid oor die mees eiendomlike aspekte van die plaaslike kerk, soos lidmaatskap, beroeping, tug, ensovoorts verkry omdat dit daarheen delegeer is (vgl Fourie 1973:38v,63v,82v,102v,128). Sinodes moet dan veral “eenvormigheid” in die genootskap verseker.

 

2. Vryheid in en verantwoordelikheid aan Christus

Luther en Calvyn bots vierkantig teen die Roomse hiërargie en absolute monargale episkopaat. Hulle bely Christus as Hoof van sy kerk (Van der Walt 1976). Die Gereformeerdes het gevolglik in die 16de eeu gevrees dat sinodes weer 'n vorm van pouslike heerskappyvoering sou meebring (art 84).

Die Skrif sê: “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie” (GI 5: 1). Die Reformasie beklemtoon die mondigheid van elke gelowige en genoegsaamheid van die Skrif om die lewens van die gelowiges te reël (NGB 7). Die kerk kan slegs die sleutelmag as geestelike regering bedien. Daarin verskil dit radikaal van die owerheid wat die mag van die swaard bedien. Wanneer mense hulle op die dwingende gesag van hulle amp of die vergadering beroep, tree menslike of valse kerkregering na vore (NGB 29, tweede deel).

’n Ampsdraer kan nie op grond van sy amp aanspraak maak dat God hom aangestel het om oor gelowiges te regeer nie. Hulle kan slegs voorskrywe wat in die Woord van God gevind word (Calvyn Inst IV.10.vi). Daarom moet die gelowiges die kosbare gawe van vryheid van die gewete teen die tirannie van kerklike opsieners, as dit nodig word met hulle lewe verdedig (Calvyn 1965:92v). Die Reformasie beskou ampsdraers en kerkvergaderings nie soewerein nie, maar hulle is aan die wet en reg in die Skrif ondergeskik (art 31). Hulle bevoegdheid en jurisdiksie is beperk tot bediening van dit wat in die Skrif gevind word en mag nie aan die vryheid van die vergadering oorgelaat word nie.

|179|

3. Beperking van bevoegdheid in die kerkorde

Elke kerk tree selfstandig op, maar kerke in kerkverband tree nie onafhanklik van mekaar of in gemeenskaplike sake alleen op nie (Calvyn Inst IV.9.xiii, Du Plooy 1984). Om saam te vergader moet kerke dus ’n afspraak maak en vrywillig tot ’n ooreenkoms geraak waarin hulle basiese soewereiniteit beskerm bly (artt 1,31,86). Kerke kan nie die opdragte wat Christus aan die ampte in die plaaslike kerk gegee het, delegeer of aan ander kerklike strukture opdra nie. Hulle kan ook nie nuwe eenhede vorm, aansluit by of oplos in ander liggame of strukture nie (vgl Geldenhuys 1951:156). Hulle kan egter met behoud van eie selfstandigheid met ander kombineer om saam te doen wat tot die eenheid, goeie orde en beswil van elke kerk sal strek. Om hierdie optrede moontlik te maak, gaan die selfstandige kerke kragtens hulle kerkverband in Christus ’n kerkorde met mekaar aan wat die gegewe Skriftuurlike kerkreg behoort te respekteer.

Die Dordtse Kerkorde van 1619 sluit aan by die 16de eeuse feodale stelsel van pluralisme waarin die soewereiniteit, vryheid en verantwoordelikheid van individue, munisipaliteite, provinsies, korporasies, universiteite en broederskappe teenoor die magsaanspraak, absolutisme en gesag van vorste en sentrale owerhede in kontraktuele reg beskerm is (P J Loots 1962:49,66). Die 18de eeuse ontwikkeling stel egter die soewereiniteit van die volk, staat of kongres teenoor die reg. Die wil van die meerderheid in die betrokke vergadering word as hoogste gesag en formuleerder van nuwe en geldende reg beskou.

Die kerke het met artikel 30 bedoel om mekaar se selfstandigheid, verantwoordelikheid, eie geroepenheid en vryheid voor die Here te erken en te verseker in hulle kerkordelike ooreenkoms. Tog wou hulle ook vir die noodsaaklike en nodige samewerking voorsiening maak waar die selfstandige kerke volgens ’n afspraak saamkom.

 

4. Kerkregering het ’n unieke karakter

Kragtens die soewereiniteit, heerskappy (koninkryk) en verordening van God regeer Hy sy kerk deur Christus (1 Kor 15: 24-28; Ef 1: 22, NGB 27). Hy doen dit deur sy Woord en Gees en maak gebruik van mense (vgl by artt 2,3,16,23,71). Die kerkregering kom veral neer op die bediening van die sleutels van die hemelryk om die eenheid in leer en lewe te verseker. Daarom noem Calvyn dit ’n geestelike wyse van regering (Calvyn Inst IV:3 en 11 iii,iv; vgl NGB 30-32).

Die soewereine God verordineer egter ook mense om op ander terreine as dienaars van God te regeer: ’n vader in sy huis (1 Tm 3: 3), die vors en regering in die land (Rm 13: 1v, 1 Tm 2: 2), die bestuur van ’n vereniging, ensovoorts. Hierin hanteer die owerheid die mag van die swaard wat dwing en selfs met die dood straf. Hierdie dwingende regering verskil radikaal van die geestelike en bedienende karakter van kerkregering (NGB 36; vgl art 28 K0; Calvyn Inst IV:20). Die eerste sinode wat vanweë die Spaanse politieke en kerklike vervolging in die buiteland moes vergader, het op grond van die unieke karakter van kerklike regering geweier om in te gaan op ’n versoek van die Prins van

|180|

Oranje om behulpsaam te wees om huursoldate te bekom en te betaal (Bouwman 1934:30).

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die kerkorde van 1574 belet predikante en ouderlinge om in konsistories, klassisse en sinodes ander as kerklike sake te behandel, terwyl predikante oor gemengde sake, soos huweliksbepalinge, die oordeel van die owerhede moet aanvra. Daarna word in 1578 bepaal dat kerklike vergaderings slegs kerklike sake volgens die “wyse van kerkregering” moet behandel, terwyl owerheid en kerkraad gesamentlik oor gemengde sake moet beslis (Pont 1981:17). ’n Daaropvolgende artikel bepaal dat slegs sake wat in die mindere samekoms nie afgehandel kan word nie of wat die kerke gemeenskaplik aangaan na die “groter versameling” gebring mag word. By die druk van die Kerkorde in 1586 word die twee tot een artikel saamgevoeg (Biesterveld, Kuyper 1905:199) en tot vandag as artikel 30 behou.

Die regsposisie van kerkrade stem basies ooreen met dié van Nederlandse munisipaliteite wat selfstandigheid en eie verantwoordelikheid teenoor die provinsies en State-Generaal gehad het.

 

2. ’n Historiese probleemveld

Roomse biskoppe het seggenskap en heerskappy oor die “leke” op alle terreine gevoer. Die Reformasie herstel die mens as beeld van God en wys dat elke gelowige geroep word om persoonlik, huislik, maatskaplik en op politieke gebied die Here te dien, sodat “de kerk ophouden voogdes van het natuurlijke leven te zijn”. Nietemin het gereformeerde kerke hulle selfs in die 16de eeu dikwels ingelaat met nie-kerklike sake (Bouwman 1934:29). Dit het veral vir die Franse Kerke droewige gevolge meegebring.

Die verhouding tussen burgerlike en kerklike owerhede lewer nog gedurig probleme op. Volgens Romeinse reg het die keiser as hoof van die staat in 313 die Christelike godsdiens gewettig, self die sinode van 325 te Nicea saamgeroep, daaroor gepresideer om oor die belydenis te besluit. Volgens die Germaanse feodale stelsel was die feodale heer regtens verantwoordelik vir die geestelike versorging van diegene wat hom gedien het. Luther erken hierdie reg van vorste jus patronatus in sacra). Die Kompanjie aanvaar in 1652 verantwoordelikheid vir die gereformeerde godsdiens en kerk aan die Kaap. Owerheidsbemoeiing met kerklike sake was vir meer as twee eeue hierna nie vreemd nie. Daar is voorbeelde waar kerklike persone en sinodes met 'n beroep op die Bybel eenvoudig die wil van politieke owerhede uitgevoer het (vgl Kaapse Sinode 1837 oor die Groot Trek en biskoppe van die Russies Ortodokse Kerk in Rusland vandag).

In teenstelling hiermee het die Roomse biskop Sircius as kerkman in 385 alle verantwoordelikheid vir die Christendom aanvaar. Gedurende die

|181|

Middeleeue het die biskop van Rome aanspraak gemaak dat hy as verteenwoordiger van Christus ook wêreldlike vorste moet aanstel en kontroleer. Gedurende die Reformasie vrees selfs gereformeerde politieke owerhede dat predikante en sinodes weer politieke heerskappy sal probeer uitoefen. In die hoop dat die owerhede die kerkorde sou goedkeur, wil die kerke die beginsel van kerkregering suiwer stel. Dit sluit aan by Calvyn wat in 1541 na Genève teruggekeer het op voorwaarde dat die Politieke Raad die selfstandigheid en verantwoordelikheid van die kerk en kerkraad met betrekking tot kerklike tug erken.

Die demokrasie het by kerklike voorgangers en vergaderings weer die idee wakker gemaak dat hulle politieke owerhede namens die “kerk” moet kontroleer. Die Amerikaanse filosoof Ayn Rand teken ’n ewige stryd tussen die “koning” en “toordokter”, tussen “staat” en “kerk”. Kerklike persone en magte het by tye politieke owerhede gehiet en gebied. Vandag meng kerklike voorgangers dikwels op politieke gebied in. Dit skep soms die indruk dat hulle meen dat, omdat hulle met die Bybel werk, hulle met gesag van God die laaste woord oor elke politieke, wetenskaplike, kulturele, sosiale, ekonomiese of persoonlike aangeleentheid mag spreek. Die deputate van die GKSA na die GES te Harare in 1988 het tevergeefs op die beginsel probeer wys (RES 1988:88-93).

Hierdie artikel is dus baie nodig om die wese van die kerk en kerkregering te beskerm. Dit is egter moeilik om toe te pas. Dit vereis fyn geestelike aanvoeling en verantwoordelikheid vir die koninkryk (heerskappy) van God om selfdissipline te kan beoefen teenoor mense se pragmatiese en emosionele regverdiging van eie belange of tradisionele oorwegings. Mense soek gewoonlik na ’n kerklike hupstootjie vir aksies wat hulle na aan die hart lê.

Optrede teen een of ander sosiale euwel of sonde moet primêr van die gelowlges, die kerk as organisme, uitgaan. Hulle is geroep om lig, sout en suurdeeg in die wêreld te wees. Daarop moet die ampsbediening en besluite van kerkvergaderings gerig wees, terwyl mense altyd wil hê “die kerk” moet in ’n sinode na buite praat. Soms mag samewerking tussen kerke in klassikale of wyer verband nodig wees. Tog word sake te gou na sinodes verwys met die verkeerde idee om met meer “gesag” te kan praat. Die kollegialisme glo dat die “hele kerk” in sinode deur predikante praat en dat die gesag afhang van wie en hoeveel praat.

Die gelowiges moet hom op die gesag van die Woord en so op God beroep (NGB 7). Kerkvergaderings moet die roeping van die gelowiges nie oorneem of lamlê nie.

 

3. Die begrip “kerklike sake”

Stryd oor wat onder “kerklike sake” verstaan moet word, kom gewoonlik in krisistye soos oorlog, depressie, sosiale en maatskaplike twis op kerkvergaderings na vore. Die Sinodes van 1916 en 1942 het tydens oorlog en broedertwis probeer om “kerklike sake” te definieer. Nadat die Sinode “alles gesê het”, het hulle eintlik maar net gesê dat elke kerkvergadering vir homself moet uitmaak wat kerklike, wat “gemengde” en wat nie kerklike sake is nie.

|182|

“Gemengde” sake mag huwelikswetgewing, onderwys, armversorging. onsedelikheid, die eed en dergelike sake wees. Die moet deur “korrespondensie” (vgl art 52) met die betrokke owerhede of liggame hanteer word. Daarteenoor pas “staatkundige, maatskaplike of streng wetenskaplike kwessies” glad nie op die tafel van ’n kerkvergadering nie (GKSA 1942:24-26).

Dié bepaling van artikel 30 KO word gewoonlik stilweg geïgnoreer of ’n beroep op artikel 30 ontlok ’n hewige debat. Die probleem word grootliks veroorsaak wanneer die aard van die “saak” met “ander sake” op vorige sinodes vergelyk word om “presedente” te soek, asof ’n vroeëre fout ’n latere regmaak. Daar moet liewer gevra word watter aspek van die saak om die lig van die Skrif of heerskappy van Christus vra. Dit moenie oor “standpunt van die kerk” gaan nie. Kortom, dit is nie die objektiewe aard van ’n saak wat dit as kerklik kwalifiseer nie, maar eerder die vraag of en in hoever die Woord van God op die saak lig werp.

Verskillende maatstawwe waarmee beoordeel word, sal tot verskillende oordele lei. Vanuit koninkryksperspektief word gevra of die saak Christus se regering van sy kerk raak. Kerklike sake raak alle gestaltes van Woordverkondiging na binne en na buite, dissipline en tug, bedieninge, belydenisse (formulering van geloof), etiese en morele vraagstukke in die lig van die Skif, kerklike sustentasie, armversorging, korrespondensie (artt 28,52). Dit moet nie piëtisties beperk word asof die kerklike sake net tot ’n “geestelike” terrein behoort nie. Die koningskap van Christus gaan in sy Woord om die hele mens.

Vandag word die “kerk” as organisasie en regspersoon meestal as norm geneem. Hierdie artikel word dan omseil deur te vra of die “lidmate” in die saak leiding van die “kerk” nodig het. So kan feitlik enige saak as “kerklik” kwalifiseer, omdat die gelowige in sy totaliteit ook aan die lewe deel het. Die prediking moet lig so laat skyn. Daarna moet elke “lidmaat” as geroepe en mondige Christen (en nie sinodes nie) die lig van die Skif op die ander lewensterreine toepas. Die “kerk” moet nie in alles voorsê nie. Die gelowige moet in elke saak sy keuse aan die norme van Christus verantwoord.

Dit is baie moeiliker vir die “kerk” en kerkvergaderings as vir die gelowige om die lig van Gods Woord op die genuanseerde verskeidenheid van konkrete situasies (vgl bv alle vorme van dans, kaartspeel, kleredrag, ens) voorskriftelik te laat val. Bemoeiinge van sinodes ontlok eerstens die vraag watter (selektiewe?) situasies aangespreek moet word. Vervolgens is die vraag of dit plaaslik, klassikaal, provinsiaal of in algemene sinodale verband moet gebeur. Bepalend moet die vraag wees watter norme werklik aan die Skrif en watter aan gewoonte, tradisie, kultuur, konteks, ensovoorts ontleen word.

Die Kaapse Sinode oordeel in 1837 vanuit Engels-kolonialistiese hoek dat die Groot Trek sonde teen die vyfde gebod was. Voorskriftelike besluite van sinodes oor toneelspel, enige vorm van kaartspel, gemengde baaiery, kleredrag en modes, geboortereëling, verhouding tussen geslagte, ensovoorts, het ellende veroorsaak en word later laat vaar. Tegelykertyd bots hierdie soort besluite teen Calvyn en die Reformasie, wat sê dat God se Woord genoegsaam is om by te lewe (NGB 7) en dat kerkregeerders nie deur God aangestel is om vir die gelowiges voor te skrywe nie (Calvyn Inst IV.10.vi,vii).

|183|

4. Kerklike roeping na buite

Christus het hom nie aan die samelewing van sy tyd onttrek nie. Hy het hom egter ook nie met enige van die partye of godsdienstige groepe van sy tyd vereenselwig nie. Sy evangelie bevat nie ’n sosiale of politieke program nie. Dit gaan veel dieper en lê norme vir menslike gedrag neer. Die kerk moet vir Christus teen die antichristelike magte (Ef 6: 12) diensbaar wees.

Die kerk raak so organies en institusioneel in spanning, bekommernis antitese en op ’n afstand by die van God afvallige wêreld betrokke om die evangelie van die koningskap van Christus uit te dra. Die gelowiges, selfs wetenskaplikes moet deur die Woord in kerklike bedieninge gemobiliseer, toegerus en opgelei word om vir Christus in die wêreld te getuig; hulle moet intree met voorbidding; die lyde en nood van die wêreld in diakonia aanspreek en oorsake van die ellende en verdrukking bestry.

Hierdie dienste na buite moet op ’n kerklike wyse gelewer word. Die kerke mag hulle nie inlaat met allerlei sosio-politieke programme of met 'n bepaalde politieke groep, party of aksie identifiseer nie. Daardeur sou die kerke agterryers vir politici word. Nietemin moet die prediking die lig van die Skrif verantwoordelik op probleemvelde laat val. Die bevryding in Christus moet teenoor verslawing deur sonde of uiterlike verdrukking gepreek en deur die lewe van gelowiges demonstreer word. Die prediking moet die gewetens van die gelowiges opskerp en vir hulle norme en kriteria uit die Skrif leer wat hulle in hulle sosio-politieke en ekonomiese bedrywighede profeties moet uitleef. Kerkvergaderinge mag geroep word om konkrete situasies met verklarings uit die Skrif aan te spreek, vertoë tot owerhede te rig (vgl artt 28,52) om vorme van onreg, sedeloosheid, lyde, godslastering, ensovoorts te verander en op te hef.

Die kerk(e) mag egter in ’n situasie beland, soos onder ’n totalitêre of een-party staat, waar hulle toegelaat en verdra word, maar niks teen die regering of sy ideologie mag sê nie. Dan nog moet die gelowiges individueel en gesamentlik hulle roeping om lig en sout te wees, vervul (Mt 5: 13-16). Die diakens moet die gemeente voorgaan en lei om plaaslik, nasionaal en internasionaal diens te lewer. Waar nodig moet hulle met owerhede, sakeondernemings, vakbonde, industrialiste onderhandel om weë en middele te vind om die lewenskwaliteit van minderbevoorregtes te verbeter (artt 25,26).

Menings verskil oor die kerklike roeping na buite op politieke. maatskaplike, ekonomiese, kulturele, wetenskaplike en tegnologiese gebied. Die GES het in deeglike studiestukke oor “The Church, Science and Technology” (1983) belangrike riglyne aangedui. Die Here roep ook gelowiges om wetenskap en tegnologie te beoefen. Hulle moet die wêreld waarsku teen die godsdienstige en ideologiese ondertone wat uit die Rennaissance tot ’n gesekulariseerde, humanistiese en materialistiese lewensbeskouing ontwikkel het. Christene doen dikwels onkrities hieraan mee en wys ook aan die tegnologie ’n messiaanse rol toe. ’n Normlose ontwikkeling van wetenskap en tegniek veroorsaak probleme en bedreig die mensdom. Ewe-so stuur ’n normlose revolusionêre ingesteldheid alles in die rigting van chaos. Teen hierdie Babelkultuur moet die kerke die norme van die evangelie van Christus proklameer (vgl 2 Ts 2; 2 Tm 3; Rm 1: 18-32; Op 13,19,20,21).

|184|

5. ’n Kerklike wyse van behandeling

Die manier waarop ’n kerklike vergadering ’n saak behandel moet by die voorskrifte van die Hoof van die kerk, Christus, pas (1 Pt 5: 2-4; Mt 23: 10,11 ens). Sake moet te alle tye met ’n oop gesindheid behandel word. Die een moet die ander uitnemender ag as homself. Die optrede moet die stempel van liefde vir die Here en die naaste, selfs vir die lastige sondaar dra, terwyl die sonde en alles wat God onteer, gehaat en bestraf word. Enige vooraf-koukus, partyvorming, manipulasie van prosedure, dreigemente, staking, omkoop, uitstap, dwang, diensweiering, stoomrollertaktiek, propaganda of kerkpolitiek om eie standpunt of dié van 'n kliek te laat seëvier, is oneties, onordelik en ’n wêreldse metode in stryd met artikel 30.

Geestelike kerkregering moet die Woord of wil van God bedien (Calvyn Inst IV.10.v-vii,xxx). Sinodes van die GKSA het tot 1924 dikwels geweier om uitspraak te doen wanneer die Skrif oor ’n saak swyg. Namate Sinodes die soewereniteit van die Skrif verplaas het, is al meer uitsprake van sinodes gevra sonder dat Skrifgronde vir die versoek aangevoer is, oor byvoorbeeld “die vrou in die kerk”, vermake soos kaartspel, dans, bewegings soos vrymesselary, kulturele sake soos kleredrag, tegnologie soos reënmaak uit wolke. Sinodes moet as ’t ware die kanon van die Skrif met uitsprake aanvul of ’n “beleid” formuleer.

’n Kerklike vergadering moet elke saak op sy eie meriete behandel. Daar moet nie onder invloed van die Engelse regstelsel na presedente gevra word, asof soewereine vergaderings met hulle optrede reg voorskryf en die Skrif aanvul nie. Kerklike besluite behoort so geneem te word dat dit adviseer, teregwys, lei of bemoedig en nooit dwing met 'n beroep op kerkgesag nie.

Die kollegialisme het in die laaste dekades toenemend in die GKSA van die “soewereine” sinodes "eenvormige" voorskrifte of allerlei “studies” gevra. Wanneer ’n bestaande kerklike oordeel, praktyk of tradisie plotseling in “studie” geneem word, plaas dit die aangeleentheid reeds in twyfel. Dit is onordelik. Studie (oor byvoorbeeld “plek van die vrou in die kerk” GKSA 1985) word buitendien net deur een of twee persone gedoen asof hulle kon vind wat duisende voor hulle nie kon vind nie. Uiteindelik besluit 'n hele sinode oor die aangeleentheid deur die bril van daardie paar studente. Sinodes kan nie studeer nie. Studie hoort tuis by persone, predikante en teoloë (art 30). Hulle kan op eie stoom publiseer en daarna in die lig van studieresultate vergadering, uitbreiding of iets nuuts voorstel (artt 30,31,33,46).

Soms is dit nodig dat ’n kerkvergadering presies aandui waaroor vir ’n volgende byeenkoms meer inligting ingesamel moet word (art 49 “welomskrewe mandaat”). Sinodes behoort egter voorstelle sonder studieresultate wat verwag dat ’n sinode ander mense met “studie” moet belas, van die tafel te reël. Studie hoort by die voorsteller tuis (art 30). Sinodes kan onmoontlik “studie maak” van alle voorkomende sondige, ketterse, afwykende groepe, praktyke, strominge, bewegings, teorieë en probeer om indekse op te stel en by te hou. Die Gereformeerde Kerken in Nederland wat probeer het om oor Skrifgesag, homofilie en atoombomme te studeer, het in toenemende ideologiese verwarring, onsekerheid en deformasie geraak waarin die waarheid en evangelie gerelativeer is.

|185|

Om te verseker dat besluite op die Woord van die Here en nie op kerkgesag berus nie, behoort kerklike besluite die probleem kort en saaklik sonder beredenering in konteks te plaas en te analiseer. Daarna moet die ter sake Skriftuurlike, konfessionele, kerkregtelike of ander beginsels aangedui word, waarop die besluit berus. Rapporte voor die GES verskyn gewoonlik onder die hoofde “materials and mandate; background; observations; considerations; recommendations”. Nederlandse sinodes neem kennis, oorweeg, en spreek ’n oordeel uit en besluit. Stukke voor sinodes van die GKSA kom dikwels rommelrig, omslagtig, onduidelik op die tafel en besluite word geneem sonder dat dit duidelik is waarom dit geneem is. Dit lyk asof sinodegesag eerder as die gesag van oorweginge bedien word.

Kerklike vergaderings behoort goed te onderskei tussen prinsipiële en middelmatige sake. Niemand mag ter wille van “eenvormigheid” gedwing word om op kerkgesag met ’n middelmatige saak te konformeer nie. Uit agting vir die vryheid van die gelowiges het sinodes in die verlede sing van Skrifberyminge, plek van kollekte onder eredienste, kleredrag van ampsdraers, vorme van nagmaalviering, ensovoorts aan die kerke oorgelaat om te maak soos hulle goedvind. Iets soos psalmmelodieë is byvoorbeeld nooit voor 1973 (Acta p 206) gereglementeer nie.

 

6. Beperkte agenda vir meerdere vergaderings

Die kerke het in die kerkorde artikel 30 bepaal dat meerdere vergaderings nie in die wye bevoegdheid van die plaaslike kerk sou indring nie. Juis die selfstandigheid van die plaaslike kerk maak die klassis die belangrikste meerdere vergadering omdat dit die naaste aan die selfstandige kerkrade is (vgl artt 4,5,8,10-15,31,36,39,41,43,44,45,77,79). Die partikuliere sinodes staan reeds verder weg (artt 8,15,31,43,45,47-50). Nasionale en algemene sinodes is slegs by die gemeenskaplike sake soos die Formuliere van Eenheid, kerkorde, sekere aspekte van korrespondensie, opleiding, ensovoorts ter sprake (artt 45,48-53,86).

Die kerke moet doelbewus in meerdere vergaderings vra of ’n bepaalde saak nie in ’n mindere afgehandel kan word nie en of dit op die weg van die betrokke vergaderings lê om oor die saak te handel. Byvoorbeeld, ’n partikuliere of nasionale sinode kan nie oor die traktement van predikante, hulle huisvesting grense van kerke, bedieningspatrone en so meer handel nie. Dit behoort by die betrokke kerk en hoogstens by die klassis tuis. Verder moet die kerke insien dat ’n prinsipiële besluit van een klassis oor ’n aktuele saak ewe-goed die beginsel vir kerke in ander klassisse stel, omdat meerdere vergaderings nie strukture en gesagsfere afbaken nie. Kragtens die eenheid in Christus is wat prinsipieel vir kerke in een klassis waar is, ook waar vir ander kerke in dieselfde kerkverband (kyk art 48).

 

7. Wat by vergaderings tuishoort

Die Kerkorde reël in artikels 31,33,41,44,49,86 ensovoorts watter sake by sommige vergaderings tuishoort. Selfs besware teen besluite van algemene

|186|

sinodes behoort die volle kerklike weg te gaan. Die ondertekeningsformuliere skryf hierdie prosedures vir predikante met leerbesware voor. Ten spyte daarvan het die Sinode van 1964 die sinodale tafel vir direkte besware geopen. Dit misken die feit dat besluite van meerdere vergaderings besluite van kerke in kerkverband is en dat mindere vergaderings besware kan beantwoord sodat dit nie op ’n meerdere vergadering hoef te dien nie. Die mindere vergaderings behoort ook toe te sien dat opdragte vir meerdere vergaderings behoorlik, duidelik en korrek geformuleer word (vgl artt 31,33,46). Elke saak wat by ’n meerdere vergadering tuishoort, behoort ook by ’n bepaalde of alle plaaslike kerke tuis.

’n Saak hoort by 'n meerdere vergadering tuis indien dit ordelik daar ter tafel kom. Elke vergadering het sy eie huishoudelike aangeleenthede, soos prosedure, deputate, roepende kerkraad, sensuur, ensovoorts. Dit pas nie by gereformeerde kerkregering om sake volgens vergaderingstrukture te kompartementeer nie. Weliswaar kan mindere vergaderinge sake behandel om vas te stel wat hulle kan en nie kan afhandel nie, voordat dit by meerdere vergaderings voorgedra word (art 33).

 

8. Kan ’n meerdere vergadering ingryp in ’n kerkraad?

In Nederland het sinodes ingegryp en tug oor ouderlinge en predikante uitgeoefen (GKN 1944). Kerkregtelikes sê aan die een kant meerdere vergaderings mag nie ingryp in die plaaslike kerk en wil aan die ander kant by “wanbestuur” die ingrype ook verdedig (Van der Linde 1983:125). Dit is ondenkbaar dat wanneer ordelike kommunikasie nie ’n kerkraad tot ander insigte gebring het nie, ander kerke daar met reg kan ingryp. Die kerk en kerkraad wat sy eie weg gaan, het reg op sy eiendomme, keuse van optrede — al breek dit van ander kerke weg.

Wanneer ’n kerk onder leiding van sy kerkraad essensiële geloofsaspekte, eenheid in leer en lewe aantas en so kerkverband met ander kerke verbreek, sou die gelowiges wat trou wil bly liewer onder leiding van dienaars uit kerke (moontlik in opdrag van die klassis) ’n kerkraad in kerkverband moet institueer (artt 37,38).

 

9. Kerklike teenoor wêreldlike regspraak

Op sterkte van 1 Kor 6: 1-8 wil sommige gelowiges kerklike vergaderings as howe gebruik om geskille onder gelowiges op te los. Gelowiges behoort nie regsake teen mekaar te hê nie. Indien dit egter wel gebeur, is die kerklike vergaderings nou eenmaal nie geregshowe nie. Die Here het aan geregsdienaars en geregshowe hulle eie roeping tot diens aan die gemeenskap gegee. Kerklike dienaars mag nie daar indring nie, net soos die regbank nie oor kerklike sake behoort te beslis nie (Roeleveld 1982:17-45).

Spoelstra, B. (1989) Art. 31

|187|

Artikel 31

Appèl of beroep op die reg teen vergaderings

 

Artikel 31: Wat op ’n kerklike vergadering met meerderheid van stemme besluit is, moet as vas en bindend beskou word tensy bewys word dat dit in stryd is met Gods Woord of die artikels van die Kerkorde. As iemand egter ’n klagte het dat hy deur die uitspraak van die mindere vergaderings verongelyk is, kan hy hom op ’n meerdere vergadering beroep tot by die nasionale sinode. Beroep van ’n nasionale sinode op ’n algemene sinode is slegs moontlik wanneer ’n beroep gedoen word op die Skrif, belydenis en kerkorde, of ’n uitspraak van die algemene sinode.

 

A. Kerkregtelik

1. Christus is Koning van die kerk

Die koninkryk van God beteken die heerskappy of regering wat God deur Christus met sy Woord en Gees in besonder oor sy kerk uitoefen (Heid Kat S 48; NGB 31; 1 Kor 15: 24-28; Ef 1: 22). Jonker sê tereg dat kerkreg wat nie deur die koningskap van Christus beheers word nie, valse kerkreg is. Sodra hierdie koninkryk (koningskap) losgelaat word, klerikaliseer kerkreg en sekulariseer kerkregering volgens die wil van mense (Jonker 1965:3,4). Die Reformasie het Christus se heerskappy nie met die amp soos Rome of met die kerkvergadering soos die 18de eeuse rasionalistiese verenigingsreg, vereenselwig nie. Die wese van gereformeerde kerkregering moet bediening van die gesag van Christus wees (Jonker 1965:4v,17v; Spoelstra 1986:102). Jonker sê “Alle regeerwerksaamhede van ampsdraers en kerkvergaderinge moet aan Gods Woord getoets word. As bevind word dat daar strydig met Gods Woord gehandel of beslis word, het die handelinge of beslissinge van die ampsdraers geen gesag hoegenaamd nie” (Jonker 1965:9,Hd 4:19). Calvyn sê wesenlik dieselfde (Inst IV.9.viii). Daar is derhalwe nie net ’n reg nie, maar ook ’n plig tot appèl wanneer ’n kerkvergadering teen die Woord van die Koning ingaan.

|188|

2. Die reformatoriese kerkbegrip

Die liggaam of kerk van Christus is konkreet sigbaar aanwesig waar sy Woord suiwer bedien en gehoorsaam word, die sakramente, soos dit ingestel is, bedien en ontvang word, almal hulle volgens die Woord van God gedra en waar die ongehoorsames met die tug van die Woord aangespreek en wanneer hulle hulle verhard hulle uiteindelik uit die gemeente uitgesluit word (NGB 7,28,29). Christus gebruik mense vir hierdie bedieninge, maar delegeer nooit sy gesag na hierdie organe toe nie.

Die kerkvergaderinge kan gevolglik niks van die bediening van die regering (Rm 12: 18) deur die ouderlinge (1 Tm 3: 4) oorneem nie, maar daardie werk alleen voortsit (Spoelstra 1986:97v). Die kerkvergaderings is nie soewereine liggame wat reg vir die “kerk” as “vereniging” of “instituut” neerlê nie. Kerkvergaderings bly aan die reg en regering van die soewereine Koning wat hy deur die dienaars (artt.16,23) uitvoer, onderworpe.

’n Gelowige kan hom teen ’n opsiener op die kerkraad beroep. Net so kan hy hom teen ’n kerkraad op ’n meerdere vergadering beroep (appelleer) wanneer hy aanvoer dat ’n besluit van die betrokke vergadering die reg gekrenk het. ’n Mens sou verwag dat almal wat erns maak van gehoorsaamheid aan Christus gretig sou wees om in appèl die reg te laat seëvier, al bring dit mee dat ’n kerklike handeling (besluit) ter syde gestel moet word. Ongelukkig veroorsaak menslike eersug en heerssug enersyds dat iemand verwyt word omdat hy appelleer of andersyds dat onnodig en geforseerd geappelleer word (Spoelstra 1986:108).

’n Kerklike appèl behoort nooit teen persone of kerklike vergadering en allermins teen “die kerk” gemik te wees nie, maar moet ’n beroep op reg doen en daarom heilige plig ter wille van die eer van die Here, die stigting van die kerk en gewetens van gelowiges wees. Gereformeerdes bely dat die Skrif duidelik genoeg is vir elke gelowige om te verstaan en te gebruik (NGB 7). Of mense daarvan hou of nie, die Here roep eenvoudige mense om met die Bybel selfs oor ampsdraers en kerkvergaderinge te oordeel en toesig te hou (Ridderbos 1965). Die Reformasie het die “leke” van kerklike hiërargie, priesterheerskappy en klerikalisme bevry. Calvyn was uitgesproke antirevolusionêr waar die gemeente wil regeer, maar net so skerp antiklerikaal en teen menslike heerssug in die kerk gekant (Rutgers 1906; vgl Inst IV.4.x; 5.ii; 7.i; 10-i,vi,vii).

 

3. Kerkgesag

Die Roomse sê dat God in sy koninkryk die pous as verteenwoordiger van Christus op aarde met gesag beklee het. Hy word in sy ampsbediening onfeilbaar deur die Heilige Gees gelei, kan alleen die Skrif uitlê en nuwe bevele gee wat die leke moet gehoorsaam.

Lynreg hierteenoor het byvoorbeeld Henry VIII in die Act of Supremacy 1534 volgens Romeinse en Germaanse feodale reg die gesag van die owerheid (landvors) oor die staatskerk gestel. Die aartsbiskop is amptenaar van die owerheid. Die humanisme en rasionalisme het weer vanaf die 17de eeu die

|189|

outonomie wat die natuurreg aan die individu verleen om homself te regeer, beklemtoon. In die menslike vereniging berus die hoogste gesag derhalwe in die hoogste vergadering waarheen die lede hulle mag delegeer het.

Waar Rome die amp soewerein gemaak het, sê die Kerkorde van die Ned Geref Kerk dat God kerkvergaderings “elkeen na sy eie aard” met gesag beklee het (NGK 1972:11, art 20.1). Daardeur is elke vergadering op sy terrein volgens kerkorde soewerein (vgl Spoelstra 1986:101). Hierdie opvatting word ook deur die Suid-Afrikaanse Geregshowe gehuldig (Theron vs Ring van Wellington van NGSK 1976(2) SA I(A)). In hierdie opset kom appèl op ’n beroep op die betrokke vergadering neer. Die vergadering sou in sy uitspraak die kerkorde of vorige besluite kon verander en selfs nuwe reg neerlê om die saak te beslis soos die vergadering op daardie oomblik oordeel, terwyl die hof finale arbiter bly.

Die Reformasie beskou egter nie ’n appèl as ’n geding tussen twee partye voor ’n kerkvergadering as regeer nie. Op voetspoor van Calvyn pretendeer die belydenis en kerkorde dat alleen die Skrif die hoogste gesag in essensiële sake voer (NGB 7,32, KO 36). Die reg is derhalwe soewerein en bind die vergaderings, alhoewel daar ook kerklike reëlings getref moet word wat nie uit die Skrif afgelees kan word nie (1 Kor 14:40; NGB 32). Calvyn wil dus duidelik onderskei tussen “wette en wette”. Daar moet vasgestel word of ’n reëling werklik vir die saligheid en “wese van die godsdiens” nodig is en of dit middelmatig van aard is (Inst IV.10.xxvii). Belydenisuitsprake en Skriftuurlike voorskrifte in kerkorde oor tugoefening is bindend, terwyl goeie kerklike orde altyd rus en vrede in die gemeente op die oog sal hê en nie allerlei “beuselagtighede” (Calvyn) sal voorskrywe nie. Kerklike ordereëlings is veranderbaar en aan tyd en omstandighede gebonde. Dit mag daarom nie gewetens beswaar nie. Kerklike bepalinge moet van onderlinge liefde en konsiderasie spreek, nuttig en min in getal wees. Indien oor hierdie reëlings verskil heers, beklemtoon Calvyn die beginsel van verdraagsaamheid teenoor weerspannige en eiesinnige mense, sodat hulle self kan probeer om hulle eiesinnigheid voor God aanneemlik te maak (Calvyn Inst IV.10.xxvii-xxxii; NGB 32). Selfs afwyking in sommige leerstukke moet ter wille van die essensiële leereenheid geduld word (Inst IV.1.xii).

Vanaf die 18de eeu het kerkvergaderings al minder tussen wesenlike en middelmatige sake onderskei en byvoorbeeld oor iets soos sing van Gesange in die Ned Geref Kerk (Sinode 1847) of Ned Herv Kerk (1859) absolute gehoorsaamheid aan die kerkgesag afgedwing. Die beginsel was: Synodus locuta est causa finita est (Sinode het gepraat, die saak is besluit). So word oor God se volk geheers asof dit “ons lidmate” en “ons kerk” is.

Sodra kerkvergaderings met ’n beroep op orde, eenheid of kerklike gesag besluite neem oor sake waaroor die Skrif nie voorskrifte gee nie en daarvoor gehoorsaamheid afdwing, is Christus nie meer die enigste Hoof van sy kerk nie (vgl Lk 20: 1-19). In Christologiese kerkregering word die reg gekrenk wanneer by verskil van mening oor middelmatige sake verdraagsaamheid ontbreek, dwang onrus in die gemeente verwek of heerssug uit onnodige reglementering en voorskrifte blyk.

|190|

4. Gesag van die Kerkorde

Die pous bepaal as verteenwoordiger van Christus by Rome die offisiële regskode. Dit dra daarom kanonieke gesag. In die kollegialisme en wêreldlike howe bepaal die konstitusie (kerkorde) die hoogste gesag. Die gereformeerdes wou egter altyd op voetspoor van Calvyn onderskei tussen die reëlings in die kerkorde wat aan die Skrif ontleen is en bepalings wat die kerke met die oog op orde noodsaaklik geag het (vgl Inst IV hfsf 10). Laasgenoemdes dra nie ’n wetlike of absoluut bindende karakter nie. Kerkorde word dus van kerkwet onderskei. Kerkorde is nie 'n Belydenis nie. Dit kan om praktiese redes verander word (artt 31,86). Kortom, God se orde is wesenlik nodig vir kerk-wees (Smit 1984:1) en die kerkorde wil gehoorsaamheid aan die wette van Christus bevorder (Smit 1984:100; Calvyn Inst IV.10.vii).

Die aspekte van die Kerkorde wat direk op die Skrif berus, dra die gesag wat die Skrif daaraan verleen. Ander ooreenkomste tussen die kerke oor hoe (modus quo) hulle mekaar steun om dit (quod) wat Christus van sy kerk vra, te gehoorsaam, berus op die gesag van ooreenkoms. Waarheid, eerlikheid en betroubaarheid bepaal dus dat die kerke afsonderlik en in hulle vergaderings hierdie ooreenkoms moet nakom. As sodanige kan op die Kerkorde as ’n regsgrond in ’n appèl ’n beroep gedoen word. In so ver die Kerkorde by die kerkreg aansluit, byvoorbeeld wat die dienste inhou (artt 16,23,25), dat daar ’n kerkraad moet wees (art 37) of hoe die tug bedien word (artt 72-77) mag daar nie van afgewyk word nie. Wanneer die belang van ’n kerk of kerke egter uitvoering van ’n formele bepaling verhinder, byvoorbeeld verskillende afkondiginge van name (artt 22,24) of waar getuienis vir nagmaalviering in abnormale tye (art 61) ontbreek, kan van die gewone orde afgewyk word, mits aan basiese kerkreg voldoen word, die kerk gestig en die Here geëer word.

Die kerkorde dra dus ’n basiese ooreenkomskarakter en meer gesag as sinodebesluite. Dit is die ooreenkoms wat sinodes bepaal. Dit stel dus reg wat teenoor kerkvergaderings soewerein is. In appèlsake moet die betrokke vergadering derhalwe ook die reg wat in die kerkorde vervat is, bedien. Die gesag van die kerkorde is daarom ook bedienend van aard, diensbaar aan die koningskap van Christus.

 

5. Kerkdienaars en kerkvergaderinge is feilbaar

Die Here Christus bedien Hom in die kerkregering van beperkte, sondige en feilbare mense, Gregorius van Niazianze, een van die drie Kappadociërs, het reeds in die vierde eeu gesê dat hy nog nooit ’n goeie einde by enige kerkvergadering gesien het nie!

Geen ampsdraers of kerkvergadering is derhalwe soewerein nie, maar hulle handelinge bly altyd onderworpe en toetsbaar aan die reg en norme van die Skrif en voorskrifte van Christus. Appèlle gaan teen besluite en nie teen mense of vergaderings wat dit geneem het nie.

Dit is ’n lelike, sondige verskynsel by kerklike appèlle dat partye dikwels uit menslike trots, eersug en heerssug teen mekaar en teen goeie gronde in die appèl veg om te wen. Mens kan tog so kleinlik, onbroederlik en onchristelik

|191|

optree asof die appèl teen hulle persoon gerig was. Meerdere vergaderings tree as “verweerders” deur “verteenwoordigers” op soos in ’n hof. ’n Sondige geveg om te wen loën as ’t ware die realiteit van eenheid in Christus, menslike onvolmaaktheid en die voorskrif van Christus dat in kerklike gemeenskap die een die ander hoër as homself moet ag en vir die ander tot nut en seën moet wees. In appèl behoort saam na die waarheid gesoek te word, sodat kerklike besluite so veel as moontlik die eer van God, stigting van die kerk en heil van die naaste sal dien (vgl Spoelstra 1986:108).

 

6. Behandeling van die appèl

Die feit dat Jesus Christus die enigste Hoof van sy kerk is (NGB 31), verg die hoogste integriteit, objektiwiteit en onpartydigheid van die vergadering wat ’n appèl moet behandel. Hulle is in besonder geroep om in diens van Christus reg te spreek asof Hy dit self doen. Die appellant doen immers ’n beroep op die reg wat die Koning vir en in sy kerk voorgeskryf het. Die vergadering wat ’n appèl oorweeg, moet biddend met die reële teenwoordigheid van Christus as Hoof van sy kerk en met die Gees rekening hou en God dien deur die waarheid lief te hê (Heid Kat S 43). Die appellant en sogenaamde “verweerders” moet in goeie kerklike regspraak verdwyn en net die besluit en grond van beswaar daarteen geweeg word, sodat reg tot eer van God, vrede in sy kerk en in die hart van die beswaarde(s) kan seëvier.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Wanneer iemand kla dat hy deur die oordeel van ’n mindere “versameling” beswaard is, verleen die Sinode van Dordrecht 1578 aan hom die reg om sy saak voor ’n samekoms van meer kerke te hê (art 18). Die reg van appèl was in 1578 ’n artikel op homself. Essensiële sake is uit die Skrif beslis. By ander sake is eers gevra watter beginsels en norme op die spel is, waarna die meeste stemme advies vir ’n bindende besluit uitgebring het (art 23). Dit veronderstel dat daar ruim en voldoende geleentheid was waarin afgevaardigdes hulle oor die saak kon uitspreek.

Die Sinode van 1581 voeg bogenoemde twee artikels saam (art 23) en dit word net so in die Dordtse Kerkorde 1619 (art 31) behou; “As iemand ’n klagte het dat hy deur die uitspraak van die mindere vergadering verongelyk sou wees, kan hy hom op ’n meerdere kerklike vergadering beroep; en wat deur die meeste stemme goed gevind is, sal vir vas en bindend gehou word. Tensy bewys word dat dit met die Woord van God of met die artikels in hierdie generale sinode besluit, in stryd is, so lank dit nie deur ’n ander generale sinode verander is nie” (Pont 1983:180, vertaald). Hier word dus die reg van appèl, beslissing deur die meeste stemme en ’n voorwaarde vir die geldigheid van die genome besluit, gestel. Die gronde vir appèl was skynbaar wyer, terwyl ‘n

|192|

besluit met die Skrif en Kerkorde moes ooreenkom, kragtens die mandaat en bevoegdheid van die meerdere vergadering (artt 33,36).

Die Sinode van Potchefstroom 1964 neem ’n groot stap in die rigting van die verenigingsreg wanneer die artikel so geredigeer word dat die beginsel van beslissing deur die helfte plus een (Kuyper 1883:51 of soewereiniteit van die vergadering) voorop gestel en die reg van appèl daaraan ondergeskik gemaak word (Spoelstra 1986:104v; Van der Linde 1983:127). Nietemin handhaaf dit nog die soewereiniteit van die reg teenoor ’n kerkvergadering, omdat die geldigheid van besluite aan die gesag van die Skrif en Kerkorde ondergeskik gestel word. Die Algemene Sinode van 1980 het die beroep tot nasionale sinode beperk, behalwe wanneer iemand hom op Skrif, belydenis en kerkorde of ’n besluit van die algemene sinode beroep. In die laaste frase naamlik, “besluit van die algemene sinode” skemer reeds weer die gevaar vir moderne interpretasie van soewereine vergaderings met dwingende mag deur. Daardeur kom die soewereiniteit van die reg maklik in gedrang.

 

2. Die meerderheidstem

Die Sinode van 1964 het met die redaksionele wysiging eintlik die soewereiniteit van die meerderheid volgens die verenigingsreg onderhewig aan voorbehoud van appèl voorop gestel. In ideale omstandighede waar afgevaardigdes moeite gedoen het om vooraf verskillende skakeringe aan die saak prinsipieel te oorweeg en daarna onpartydig met ’n oop Christelike gemoed onder mekaar beredeneer het, sal hulle in beginselsake min of meer konsensus bereik. Meerderheid sal feitlik konsensus beteken. Oor sekondêre en nie-prinsipiële (middelmatige) aspekte mag dalk skerp meningsverskil voorkom. In so ’n geval sou iemand met die prinsipiële beslissing deur meerderheid van stemme saamstem, maar sy verskil van mening oor ander aspekte van die besluit geduld moet word, anders vind dwang ten opsigte van middelmatige sake plaas (vgl Calvyn Inst IV.10.vii.xxiii,xxxi).

’n Probleem ontstaan tans wanneer vergaderings met oorvol agendas nie meer rustig debatteer nie en besluite selfs op voorstel van ’n “kommissie” deurjaag. Afgevaardigdes stem oor sake waarvan hulle min weet en laat hulle lei deur die klank van ’n voorstel of persoon van die voorsteller. Moet swak besluite daarna op gesag van die meerderheid in die kerke dieselfde gesag as goeie besluite dra totdat dit op ’n langpad formeel verander is? Kollegialiste sal die vraag positief beantwoord, terwyl Calvyn moeilik kategories “ja” sou gesê het.

Van der Linde wys tereg daarop dat verwerping van ’n besluit soms getolereer moet word wanneer dit nie beroering veroorsaak nie. In sommige gevalle sal weieragtiges vermaan en getug moet word. Soms kan verskil daartoe lei dat persone kerklike gemeenskap moet verbreek (1983:129v). Hy onderskei hier nie tussen verskil van mening oor prinsipiële en middelmatige sake nie. Volgens Calvyn sou dwang oor ’n middelmatige saak gewetens op menslike gesag bind en op heerskappyvoering neerkom (Inst IV.8.iv; 9.xiii; 10.vi).

|193|

Gesag van ’n kerklike besluit hang van die inherente kwaliteit van die besluit af (art 35), terwyl aanhangers van ’n omstrede besluit hulle gewoonlik op die soewereiniteit van die vergadering beroep om andersdenkendes te dwang (soos die Ring van Graaff Reinet in 1841 of Ned Herv Kerkvergadering in 1859 met die Gesangekwessie). Hulle vermy beredenering van die omstrede besluit omdat hulle nie die billikheid van besware by ander teen ’n “sinode” wil toestem nie. Swak besluite wek lydelike verset en verbrokkel kerklike gemeenskap. Dwang om die wil van die meerderheid as sodanig deur te voer is die belangrikste oorsaak van kerklike breuke en skeurings in die geskiedenis. As reël behoort te geld dat verdraagsaamheid dwang sal verhoed en tot geduldige oorreding sal lei, behalwe wanneer die verskil van mening oor verstaan van die Skrif ten opsigte van ’n hoofsaak in belydenis (NGB 7,29; Calvyn Inst IV.1.xii), of belewing van kerkverband sou gaan (vgl Du Plooy 1982:127-185).

Die verskynsel doen hom voor dat oor gravamina en appèlle dikwels met ’n klein meerderheid selfs met wisselende uitslag by hertelling besluit word. Indien in ’n kerkvergadering soveel verskil van mening heers oor wat die Here vir sy kerk sê, hoe kan ’n paar stemme voorskryf wat as vas en bindend beskou moet word? Is dit gereformeerd om bloot vir orde of die struktuur van ’n vergadering te buig? Indien die skerp verskil oor ’n middelmatige saak gaan, waarom wil die vergadering ’n besluit daaroor afdwing?

Sinodes het al vroeg gereël dat wanneer stemme oor ’n saak op ’n kerkvergadering staak, is die saak onmiddellik van die tafel af (GSKA 1873:46 art 173). Bouwman sê dat gereformeerdes van oudsher nie die minderheid wou oorstem nie. Konformasie is toegepas om die minderheid te oorreed en te laat skik (1934:54). Die wese van die kerk vereis van die ampsdraers om na mekaar te luister totdat konsensus bereik is. So ’n eenstemmigheid is ’n gawe van die Gees. ’n Besluit wat met ’n meerderheid van twee of drie geneem is, is alreeds ander verdenking wanneer dit die kerke bereik (RES NE 1984 vol X Nr 11,1887: H B Weijland).

Met reg kan dus gevra word of ’n klein meerderheid in ’n kerkvergadering nie in werklikheid nog maar op staking van stemme neerkom nie. Alles in ag genome lyk dit asof Van der Linde gelyk het dat kerklike besluite wat nie blote orde reël nie, minstens met tweederde meerderheid geneem behoort te word (1983:127). Wanneer oor persone gestem word, kan een stem en by staking van stemme die lot beslis (vgl GKSA 1873 t.a.p.). Wanneer by gravamina, appèlle en essensiële sake nie ’n tweederde meerderheid beslis nie, behoort so ’n saak vir pre-advies in ’n volgende vergadering of na ’n sinodus contracta vir hierdie doel verwys te word.

Die sestiende eeu het ’n eerste stemming as advies beskou. Die advies is daarna weer tot stemming gebring sodat almal kon konformeer en die besluit daarna met “algemene stemme” (art 86) aangeneem kon word. Hierdie behoefte aan konsensus beklemtoon dat “meerderheid” in gereformeerde taal baie meer as die helfte plus een beteken. ’n Kerklike “stem” impliseer selfs meer as die getal een. ’n Stem hou oordeel en keuring in (art 33). Stemme in kerkvergadering behoort derhalwe volgens a Lasco (Forma ac Ratio 1550) nie getel nie, maar teenoor norme geweeg te word. Wie nie tot ’n oordeel kan geraak nie, moet buite stemming bly. Omdat die meerderheidstem moontlik te lig mag weeg, is appèl daarteen moontlik.

|194|

3. Geldigheid van besluite

Kerklike besluite wat ordelik tot stand kom, moet reeds al volgens die verenigingsreg as vas en bindend beskou word. Indien artikel 31 net hierdie beginsel gestel het, sou artikel 36 ook die soewereiniteit van die kerklike vergaderings bepaal. Die beperking van “tensy bewys word”, stel egter die soewereiniteit van die reg sonder om te spesifiseer hoe en waar die bewys gevoer moet word. Dit stel dus eerder ’n regsbeginsel as ’n prosedure.

Eerstens geld ’n besluit ongeag die vraag of ’n bepaalde kerkraad self teenwoordig was toe die besluit geneem is. Die Skrif (Hd 15: 23-29; 16: 4) toon dat minder kerke in kerkverband vir meer kerke ’n prinsipiële besluit kan neem.

Tweedens kom die vraag telkens vandag na vore of afgevaardigdes nog, soos in die verlede, kan versoek om hulle stem in die minderheid, selfs dalk met ’n kort weergawe van hulle redes (minderheidsrapport), te laat aanteken om daarmee te kenne te gee dat hulle nie met die besluit saamstem nie.

Op sigself het aantekening in die minderheid geen kerkregtelike implikasies nie (GSKA 1958:562v). Namate die soewereiniteit van die meerderheidstem gegroei het, het aantekening in die minderheid egter al meer weerstand ontlok uit vrees dat dit independentisme sou bevorder (Van der Linde 1983:131). Die betoog teen independentisme beredeneer en oorweeg egter nie die nog groter gevaar van kollegialisme en aantasting van die beginsel in NGB 7, artikels 30 en 80 KO nie.

Die gevaar dat die reg en vryheid van die individu en plaaslike kerk kollegialisties of met ’n beroep op artikel 31 aangetas word, het in Nederland gelei tot die opvatting dat kerkrade besluite van meerdere vergaderings moet ratifiseer. In Nederland (binne die GKN) het ’n kerksentriese kerkreg na die Doleansie van 1886 gesê dat kerkrade “oorspronklike” mag van Christus ontvang het. Die gesag van die meerdere vergaderings sou afgelei word van die kerkrade wat daarheen afvaardig (Bouwman 1934:19; vgl Van der Linde 1983:129). Op grond van die onderskeiding “oorspronklike” en “afgeleide” gesag is geredeneer dat besluite van meerdere vergaderings eers deur kerkrade bekragtig moet word.

Aan die ander kant is dit ook goed gereformeerd om besluite van kerklike vergaderinge voortdurend te beoordeel voordat dit aangehaal word (Calvyn Inst IV.9.viii). Die kerke het in gereformeerde kerkregering selfstandigheid en bevoegdheid wat nie in die kollegialisme bestaan nie.

 

4. Binding en aard van sinodale besluite

Calvyn ken aan sinodes bevoegdheid toe om leer te formuleer en voorskrifte te gee wat op die Skrif gegrond is (vgl Inst IV hfst 8,9,10). Besluite van meerdere vergaderings ten opsigte van kerkrade in gewone kerkregering kom egter gewoonlik op “advies” neer (vgl artt 4,5,14 en 77 KO) omdat dit in wese by die kerkraad tuishoort. Selfs waar die Kerkorde nie “advies” vermeld nie, mag die oordeel van die meerdere vergadering op advies vir die kerkraad neerkom (vgl artt 10,11,12,13,15,17,79), omdat die saak by die kerkraad tuishoort

|195|

(Hd 20: 28; 1 Kor 5: 12, art 30). Kragtens kerkverband het die kerke egter in die kerkorde ooreengekom om mekaar te help en in daardie sake in oorleg met mekaar ie handel. Dit beteken hoegenaamd nie dat kerkrade daarmee hulle regsposisie ten opsigte van eie predikant of bediening van tug na die ander kerke in die klassis gedelegeer het nie.

Gedurende die Reformasie voor ’n kerkorde aanvaar is, was die bevoegdheid en selfstandigheid van elke plaaslike kerk en kerkraad ononderhandelbaar. Langsamerhand het die vereningsreg begin redeneer dat die kerke met die kerkorde bevoegdhede na sinodes (klassisse, ens) gedelegeer het sodat die betrokke meerdere vergadering in eie reg vir elke kerkraad besluit. Dit kan byvoorbeeld illustreer word wanneer Sinode Potchefstroom 1988 verklaar (adviseer?) dat daar geen prinsipiële beswaar bestaan teen die meedoen van vroue aan advies (stem) by die roeping van ampsdraers nie. Hoewel elke kerkraad sy eie reëling by die beroeping van ampsdraers moet vasstel (vgl artt 22,24), is sogenaamde “vrouestemreg” ipso facto op sterkte van die sinodebesluit in baie (die meeste?) kerke toegepas, asof kerkrade na die sinodebesluit nie huishoudelik anders kan gedoen het nie.

Wat wil ons hiermee sê? Kragtens die gereformeerde kerkbegrip en uitgangspunt van die kerkorde moet besluite van meerdere vergadering deur die kerkrade in die kerke uitgevoer word. Meerdere vergaderings regeer nie langs of oor die kerkrade in die gemeentes nie. In die federale opset van die gereformeerde kerkgemeenskap is dit ondenkbaar om te verwag dat ’n kerkraad wat sy roeping en selfstandigheid hoog skat, ’n besluit waarteen hy prinsipiële besware koester vir ’n jaar of meer moet nakom totdat ’n volgende meerdere vergadering saamkom. Dit is egter ook onbehoorlik dat ’n kerkraad ’n besluit van ’n meerdere vergadering wat hom nie aanstaan nie, net so een kant sal plaas (vgl art 46).

Die binding van besluite van meerdere vergaderings balanseer in die gereformeerde kerkregering op die punt van gesindheid tussen die uiterstes van independentisme en kollegialisme. Besluite is “vas en bindend” (art 31), maar tegelykertyd mag ander kerke ook nie deur middel van sinode indring in die selfstandige kerk (art 30) of daaraan voorskryf nie (art 84). ’n Besluit oor die leer waarop kerkverband rus (Formulier van Eenheid) is dadelik van krag. Indien ’n kerkraad daarteen beswaar het, moet hy sy beswaar dadelik aan die klassis deurgee sodat die ander kerke hom oor sy beswaar kan help oordeel. Indien nodig voer die kerke die beswaar (gravamen) langs die kerklike weg verder. Die prosedure van Sinode Potchefstroom wat ’n beswaarde direk tot by ’n algemene sinode verwys (GKSA 1964:445,446), versplinter kerkregering tussen multistrukture soos die kollegialisme en misken die belewing van kerkverband, wanneer gelowiges en kerke probleme met gemeenskaplike besluite waarop die eenheid rus, ondervind.

 

5. Die vorm van kerklike besluite

Omdat die besluit van ’n kerkvergadering deur sy kwaliteit en inherente waarde gedra moet word, moet dit op duidelike oorweginge of grond rus, ongeag die vorm van die beskrywingspunt, versoek, rapport of appèl waaroor besluit is.

|196|

Dit moet elke uitspraak so verwerk dat die gronde daarvoor duidelik is. ’n Meerdere kerkevergadering behoort geen saak sonder opgawe van rede te beslis nie. Wanneer nodig kan ’n kommissie vir die vergadering sy besluit formeel voorberei.

Oorsese kerke het die metode beproef om besluite in genommerde stellings onder die afsonderlike hoofde voor te dra: (a) Opdrag; (b) Stukke gesien, getuies gehoor, ensovoorts; (c) Agtergrond sonder enige beredenering of beoordeling puntsgewys opgesom; (d) Opmerkings puntsgewys oor aspekte, omstandighede of probleme; (e) Prinsipiële of ander oorwegings, byvoorbeeld Skrif- of ander beginsels, Kerkordebepalingsituasies, ensovoorts; (f) Bepaalde gronde of gevolgtrekkings; (g)'n Konsepbesluit of aanbeveling (vgl Spoelstra 1986:111 v). Die formulering moet dwarsdeur so min as moontlik beredeneer en argumenteer en so veel as moontlik genommerde stellings in kort sinne bevat. Argumentasie maak ’n rapport ingewikkeld, lok wye diskussie uit of is vir twee interpretasies vatbaar. Kort genommerde stellings trek die aandag op die korrektheid, volledigheid en wenslikheid van ’n bepaalde stelling saam, wat dan maklik geamendeer kan word. Hierdie metode kan die werk van kerkvergaderings oneindig vergemaklik en in effek verhoog.

 

6. Stembevoegdes

In die kerkraad stem die predikant en ouderlinge. ’n Konsulent het daar geen stemreg nie. Die voorsitter het geen beslissende stem wanneer stemme staak nie. Hy mag nooit sy stem uitbring nadat hy die uitslag van ’n stemming gesien het nie. In ’n diakonale vergadering stem slegs die diakens. In die vergadering van die kerkraad saam met die diakens het almal gelyk stembevoegdheid.

In ’n meerdere vergadering stem slegs afgevaardigdes wat met ’n geldige geloofsbrief afgevaardig is (vgl by art 33). ’n Kerkraad of meerdere vergadering kan aan iemand “adviserende stem” of “spreekstem” verleen. Adviseurs is nie wesenlik deel van die vergadering nie en het geen “keurstem” nie (vgl art 42). 

 

C. Die appèl

1. Wat is ’n appèl

’n Appèl is ter sake wanneer ’n beroep op ’n meerdere vergadering gedoen word om die besluit van die mindere vergadering te hersien, op sterkte van ’n bewering dat dit reg krenk. Die beroep geskied volgens die orde van vergaderinge in artikel 36 K0. Hoewel die bewoording die indruk wek dat iemand slegs mag appelleer wanneer hy self persoonlik deur die besluit in sy reg gekrenk word, word die reg tot appèl nie daartoe beperk nie (Bouwman 1934:41). Enige regskrenking raak ook ander gelowiges in die kerk (1 Kor 12: 26). Selfs ’n ongelowige kan ’n beroep op herstel van reg by ’n bevoegde vergadering doen, omdat die wese van die kerk nie eers die skyn van onreg mag duld nie.

|197|

Die appèl veronderstel dat die meerdere vergadering onpartydig sal oordeel om reg te laat geskied of die appellant sal onderwys of vermaan indien hy verkeerd is (Bouwman 1934:12). In die appèl gaan dit dus om reg te spreek. Dit moet vasstaan dat die appellante net so veel reg aan hulle kant mag hê as die kerkvergadering wat die besluit geneem het. Die appèl staan teenoor die besluit en nie die appellant teenoor die vergadering wat besluit het nie. Die gevolge wat ’n regsuitspraak mag hê, mag nie die uitspraak beïnvloed nie. In ’n noodgeval kan na die uitspraak reëlings getref word om ’n moeilike situasie die hoof te bied (vgl GKSA 1958 356).

Omdat ’n appèl reg in geding stel, impliseer dit dat die gewraakte besluit nie Christus se regering in sy kerk dien nie, terwyl dit “vas en bindend” (art 31) beskou word. Meerdere vergaderings is veral met die oog op appèl voorsien. Gevolglik moet appèlsake prioriteit op elke agenda geniet. Dit skort behandeling van enige saak wat met die appèl verband hou op, totdat oor die appèl uitspraak gedoen is.

 

2. Vorm van die appèl

’n Appèl bevat in sy eenvoudigste vorm, mondeling of skriftelik, ’n besluit van ’n mindere vergadering en daarteenoor aangevoerde regsgronde. Die betrokke meerdere vergadering moet dit teen mekaar opweeg. Dit is moontlik dat ’n appellant ’n besluit op hoorsê aanhaal en sy gronde daarop afstem of dat appellante soos gedurende die dertigerjare chronies bly appelleer. Gevolglik het die Sinode van Aliwal Noord 1939 (art 135) prosedure vir behandeling van appèlsake neergelê. Die appellant moet die besluit waarteen hy appelleer in offisiële redaksie en die gronde vir sy besware in sy eie woorde skriftelik voor die vergadering lê. Soms kan die appellant nie ’n besluit “skriftelik” voorlê nie. Kennisgewing aan die vergadering teen wie se besluit appelleer word, verplig die vergadering om ten behoewe van die appèl die besluit in sy offisiële redaksie aan die meerdere vergadering voor te lê.

By oorweging van die appèl gaan dit net om die vraag oor wat besluit is en hoe die besluit vergelyk met en opweeg teen die gronde (reg) wat daarteen aangevoer word. Die appellant sou toestemming kon vra om, terwyl die appèl by die kommissie in vroeë stadium onder behandeling is, gronde te wysig of aan te vul omdat hy dit in sy “eie woorde” voorlê en sy aanvanklike bewoording gebreke mag vertoon. Die gronde moet reg en nie maar net teenoorgestelde argumente aanvoer nie.

Huidiglik word appèlsake baie ingewikkeld gemaak wanneer “appellante” en “verweer” op wêreldse patroon voor die meerdere vergadering of gewoonlik sy appèlkommissie argumenteer oor die reg of verkeerd van die mindere vergadering wat besluit het. Argumente sleep allerlei vertroebelende materiaal by, wat nie ’n beroep op reg is nie. ’n Kerklike vergadering skend nie noodwendig reg wanneer dit ’n fout maak nie. Die kerkraad het die reg om byvoorbeeld ’n pastorie te verkoop, al mag dit op ekonomiese gronde dom en verkeerd wees. Net so kan ’n omstrede besluit nie teen ’n appèl gehandhaaf word op grond van wat in die vergadering wat besluit het gesê of bedoel sou gewees het nie. Appèl gaan net oor dit wat genotuleer of offisieel besluit word.

|198|

Geen verskoning uit toeligting of vir omstandighede wat tot ’n swak besluit gelei het, mag dit teen ’n appèl red nie.

Na ons mening laat die kerkreg nie ruimte vir ’n “verweer” of “ander partye” in kerklike appèl nie. Die Skrif belet kerklike partyskappe. Verder het byvoorbeeld klassisse teen wie appelleer word, al opgehou om te bestaan en kan nie meer as regspersoon in appèl optree nie. Hoogstens kan deputate van ’n mindere vergadering aan die meerdere vergadering die besluit verduidelik en toelig. Dit is ook nie nodig dat die appellant self teenwoordig is nie (GKSA 1939: art 135), so lank sy regsgronde duidelik geformuleer is. Die keuse berus by die appellant.

 

3. Indiening en ontvanklikheid van ’n appèl

Die appellant gee vooraf aan die korresponderende kerkraad (art 45} of by konstituering aan die meerdere vergadering kennis van sy voorneme om te appelleer sodat dit op die agenda geplaas kan word. Geen meerdere vergadering kan appellante verplig om appèlle voor die konstituering skriftelik in te dien nie omdat (a) die appèl ’n beroep op ’n vergadering is wat eers moet konstitueer; (b} die ontvanklikheid eers beoordeel moet word; (c) appèlle vertroulik van aard mag wees en in geslote vergaderings behandel moet word. Dit staan ’n appellant vry om sy appèl vooraf in te dien en selfs ’n versoek te rig dat dit saam met die agenda uitgestuur moet word, mits dit oor ’n saak en nie oor persone gaan nie.

Die argument dat “mindere vergadering” teen wie se besluit die appèl gaan, tyd moet hê om die appèl met die oog op “verweer” te bestudeer, gaan nie op nie. Die appèl gaan teen ’n besluit en nie teen ’n vergadering nie. Die appellant voer in appèl juis grond by die bepaalde meerdere vergadering aan. Dit hoort daar tuis (art 30) en daarom val dit buite jurisdiksie van die mindere vergadering teen wie se besluit appelleer word. Die mindere vergadering het niks oor die gronde van die appèl te sê nie, maar behou slegs ’n reg van appèl teen die uitspraak van die betrokke meerdere vergadering.

Die appellant moet behalwe aan die korresponderende kerkraad van die meerdere vergadering ook aan die betrokke kerkraad of aan die korresponderende kerkraad van die klassis of sinode teen wie se besluit appelleer word, van die voorneme om te appelleer kennis gee sodat hulle die offisiële notule so wel as alle ter sake bylaes op die tafel van die meerdere vergadering na wie geappelleer is, kan plaas.

Dit is feitlik onvermydelik en noodsaaklik dat die appellant ’n gewaarmerkte afskrif van die besluit waarteen geappelleer word, reeds in sy appèl gebruik. Kerkrade en vergaderings teen wie appelleer word, weerhou ongelukkig dikwels van appellante wederregtelik notule en bylaes. Soms skuil kerkrade agter ’n verskoning dat notule nog nie gelees en goedgekeur is nie. Dergelike akrobatiek benadeel die appellant se regte. Sodra ’n besluit geneem is, is dit geldig en moet daarvan skriftelik kennis gegee kan word (vgl GKSA 1939: art 135). Geen kerkraad neem besluite op een vergadering om dit eers op ’n volgende vas te stel nie. Die skriba (art 34) moet onmiddellik na ’n vergadering in staat wees om ’n redaksie van die besluit te kan oorhandig. Die appellant

|199|

moet verwittig word indien die offisiële redaksie van die besluit (die notule) gewysig sou word. Om met die notule te peuter wanneer ’n appèl in die oë gestaar word, is sonde teen die negende gebod.

Indien die appellant deur eie toedoen die besluit verkeerd beet het, kom die ontvanklikheid van sy appèl in gedrang.

Die Sinode van 1939 (art 135) het ook bepaal dat die appellant die kennisgewings aangaande sy appèl binne ses weke vanaf die datum waarop hy skriftelik kennis kry van die beslissing waarteen hy appelleer, moet afhandel. ’n Appellant hoef dus nie op ’n vergadering van sy voorneme kennis te gee nie. Iemand kon selfs vir ’n besluit gestem het en daarna daarteen appelleer. Die bepaling dat hy skriftelik kennis moes gekry het, hou in dat hy langer as ses weke na die besluit geneem is, kan appelleer. Of die vergadering moes die besluit afstuur of die appellant moes dit opgevra het, voordat die ses weke ter sprake is. Die Kerkorde is nie ’n wet nie en daarom is die reglementering van ses weke ook nie ’n wet van Mede en Perse nie. ’n Meerdere vergadering sou op voorlegging van goeie redes die “ses weke” met diskresie kon toepas. Die bepalings wil slegs misbruik van artikel 31 afsny. Dit wil nie appèlle as sodanig verydel nie.

Die praktyk het ontwikkel om op meerdere vergaderings eers die ontvanklikheid van appèlle deur ’n “regskommissie” te laat beoordeel en eers daarna word die appèl gestel. In die meeste gevalle kom dit op formele tydrowery neer. Die appèlprosedure van 1939 dra die pre-advies oor ontvanklikheid aan die appèlkommissie op (art 135,4a). Die eenvoudigste prosedure is gevolglik om ’n appèlkommissie aan te wys en daarna die appèl in die vergadering aan die orde te stel. Indien die ontvanklikheid deur iemand betwyfel word, kan hy onmiddellik op ’n punt van orde aandring dat, voor dit gestel word, oor die ontvanklikheid rapporteer word. Indien die ontvanklikheid nie bevraagteken word nie, word die appèl gestel en kan deputate van die mindere vergadering indien nodig die besluit kortliks verduidelik. Daarna gaan die appèlkommissie op alle stukke in verband met die appèl in. Die appèlkommissie hoor die appellant saam met sy getuies aan en indien nodig ook toeligters van die besluit van die vergadering waarteen geappelleer word. Die appellant het reg om alle getuienis voor die kommissie te hoor. Die kommissie mag in die loop daarvan selfs die ontvanklikheid betwyfel. Dit moet dan eers daaroor terugrapporteer.

Wanneer ’n appèlkommissie die stukke nagaan, mag hy bevind dat die gronde wat aangevoer word geen regsbeginsels bevat nie, maar blote teenargumente of alternatiewe moontlikhede aanvoer en probeer om met behulp van die appèl die diskresie van ’n mindere vergadering uit te skakel of daarvan voor te skryf. ’n Stuk wat nie regsbeginsels as gronde aanvoer nie, kan nie regskrenking bewys nie en is dus as appèl onontvanklik. Oorweging van blote teenargumente, interpretasies en standpunte asof dit “gronde” vir appèl is, kan ’n meerdere vergadering oor die mindere in stryd met artikels 30 en 84 KO laat heers.

|200|

4. Behandeling van die appèl

Wanneer die kommissie die appèl ontvanklik bevind, moet die appèlkommissie presies vasstel waaroor die betrokke besluit en die bepaalde appèl gaan, dit wil sê wat staan teenoor wat. Daartoe mag die appellant en sy getuies en toeligters van die besluit behulpsaam wees. Goeie regsprosedure vereis dat die appellant en toeligters saam gehoor en saam getuienis sal aanhoor, behalwe wanneer hulle self verkies om hulle te onttrek. Dit is die beproefde metode waarop halwe of skewe waarhede en valse aantygings uitgeskakel kan word. Onreg word op kerkvergaderings gepleeg wanneer “getuies” agter die rug van die appellant of toeligters aangehoor en die appèlkommissie moontlik geprejudiseer word.

In die derde stadium berei die appèlkommissie sy advies aan die meerdere vergadering in so 'n vorm voor dat die vergadering kan oordeel en besluit. Kragtens die opdrag van Sinode 1939 (art 135 pt 4) moet die kommissie rapporteer oor (a) die stukke van die appèl; (b) die aanhoor van getuienis en nagaan van ter sake adviese of gesag; (c) ’n kort uiteensetting van die feite wat eerstens tot die besluite en tweedens tot die appèl gelei het. Indien ’n onoorkomelike probleem by enige van die stappe ontmoet word, kan die kommissie eers tot op daardie stadium rapporteer en verdere opdrag van die vergadering vra.

In die finale stadium word die besluit in gedrang getoets aan die gronde wat die appèl aanvoer (mits dit werklik gronde uit die Skrif, Belydenis, Kerkorde of algemene regsbeginseis is). Die kommissie moet die besluit op ter sake punte aan die gronde van die appèl toets. Die appèl geniet die voordeel van twyfel en het gelyk wanneer ’n besluit vir meer as een vertolking vatbaar is, verkeerde feite of gronde aanvoer, ter sake feite verswyg, bepaalde beginsels buite rekening gelaat het, ensovoorts. Die besluit moet na duidelike kernbegrippe herlei en daarna teenoor die gronde van die appèl oorweeg word. Indien regsgronde teen die besluit staan slaag die appèl.

Die meerdere vergadering moet nie in die slagyster trap om te wil uitspraak doen of kant kies in middelmatige sake en konflikte in 'n mindere vergadering nie. Wanneer die meerdere vergadering bevind dat ’n party in die mindere vergadering sonder regsgronde appelleer, moet dit die appèl daarom onontvanklik verklaar en indien nodig leiding gee om die eer van God en opbou van die kerk te dien. Die meerdere vergadering is nie ’n hof nie, maar ’n bedienaar van die koningskap van Christus.

Die kommissie moet tot ’n bevinding kom oor die vraag of en in hoeverre ’n besluit aangevoerde regsgronde krenk. Byvoorbeeld, iemand mag appelleer teen die bevestiging van iemand as ouderling omdat hy bevestig is sonder dat sy naam, soos artikel 23 vereis “verskillende male” afgekondig was. Die appèl het op dié enkele formele grond gelyk, maar tog bewys dit nog nie dat die persoon nie wettig as ouderling geroep en bevestig is nie. Die punt van prosedure waarop die appèl slaag, weeg nie in isolasie swaar genoeg om die handeling van bevestiging op te hef nie.

Appellante of kommissierapporte onderskei derhalwe dikwels tussen formele en inhoudelike (materiële) gronde vir appèl. Nie elke formele grond van appèl

|201|

is op sigself gewigtig genoeg om ’n besluit te vernietig nie. Afwyking van prosedure is in regverdigbare situasies toelaatbaar wanneer dit om die eer van God en opbou van die kerk gedoen word.

Sinode 1939 (art 135) sê dat indien die professor in kerkreg teenwoordig is, hy ex officio op die appèlkommissie dien. Dit gaan om sy advies en nie om sy oordeel nie. Net so kan die kommissie gepubliseerde adviese of ander gesag raadpleeg. Op voetspoor van die wêreldlike reg wou sommige al beweer dat so 'n professor by die besluit van ’n mindere vergadering betrokke geraak het, en geen meerdere vergadering meer kan bedien nie (GKSA 1979 257-261). Tereg het die Sinode die besware afgewys (vgl ook Assen 1926 in Bos 1950:137). Kerklike besluite behoort nie op menings van adviseurs te berus nie, maar op reg wat die advies aan die vergadering blootlê. Advies wat tot regskrenking lei, kan juis appèl vernietig word.

Die kommissie lê in sy rapport sy bevinding oor die appèl aan die vergadering voor en beveel aan dat die appèl in sy geheel, gedeeltelik of glad nie slaag nie. Enige lid van die kommissie wat met dié rapport of ’n aspek daarvan verskil, moet ’n minderheidsrapport teen die hele of bepaalde punt van die rapport indien. Die saak word die beste gedien wanneer die minderheidsrapport die meerderheidsrapport as basis gebruik en presies aantoon op watter punt en waarom dit van die meerderheid verskil, sodat dit punt vir punt in die vergadering beslis kan word. Ongelukkig verydel tydsgebrek dikweis hierdie vrugbare prosedure.

 

5. Die beslissing van die appèl

Die vergadering is verantwoordelik vir finale besluit. Eerstens dien die kommissierapport, daarna die minderheidsrapport (as daar een is), waarna die appellant repliek op die rapporte kan lewer. Daarna mag die deputate van die mindere vergadering teen wie se besluit geappelleer is en die appellant nie meer argumenteer of stem nie (art 33). Slegs in hoë uitsondering en op goeie gronde mag die vergadering ter sake vrae toelaat om ’n bepaalde punt duidelik te kry. Die vergadering besluit deur die rapport(e) van die appèlkommissie puntsgewys te beredeneer, te aanvaar, te amendeer of te verwerp.

Persoonlike reg kom meestal in gedrang by tugsake, waarom dit eintlik in presbiteriale kerkregering gaan (Calvyn Inst Iv.11.i,vi). Daarvoor is primêr ’n kerkraad in ’n gemeente nodig (art 37). Reg en liefde stel bepaalde eise aan kerklike regspraak (art 30), wat verskil van die oop deure van geregshowe. Nietemin kan ook kerkvergaderings veroorsaak dat iemand se naam belaster word (vgl 1 Kor 13: 5-7). Tugsake moet in die kerkraad, meerdere vergaderings en kommissies altyd “met geslote deure” (in camera) gestel, behandel en besluit word. Die appellant moet toestemming verleen indien enige persoon wat nie wettig afgevaardig of aan wie geen adviserende stem verleen is nie, in die vergadering teenwoordig moet wees. Dié reëling geld nie wanneer die appèl nie oor tugsake handel nie.

Wanneer die kommissierapport na die oordeel van die vergadering die appèl nie na behore stel nie, kan die vergadering dit amendeer of na die kommissie terugverwys, al moet die vergadering in reses gaan. Dieselfde vergadering

|202|

(afgevaardigdes) moet egter in appèlsake besluit voordat dit uiteen gaan. Slegs in hoë uitsondering, op gewigtige regsgronde en met toestemming van die appellant sou ’n appèl vir ondersoek na deputate vir pre-advies en rapport op ’n volgende samekoms verwys mag word. Artikel 31 verleen aan die appellant die reg om uitspraak te verwag en die kerk van Christus durf regskrenking wat die appèl beweer, nie tolereer nie.

 

6. Pastorale advies by appèlsake

’n Appèlsaak is basies ’n regsaak en daarom mag die gevolge wat die vernietiging van ’n besluit sal speel, geen rol speel in die oorweging en beslissing van die appèl nie. Oorweging van gevolge voor die uitspraak in die appèl prejudiseer die vergadering sodat dit nie regverdig kan oordeel nie. Gevolge is nie in die appèl aan die orde nie.

Nogtans raak die kerklike appèl kragtens die wese van die kerk die eer van God, die opbou van die gemeente en heil van die gelowige (en appellant). Wanneer ’n meerdere vergadering bevind dat die mindere vergadering of die appellant in gesindheid, woord of daad gesondig het, sou dit aan Christus ongehoorsaam wees wanneer dit nie die sonde bestraf en breuke probeer versoen nie. Dié taak vereis groot versigtigheid en mag nooit die behandeling van die appèl beïnvloed of daarvan deel vorm nie. Dit mag egter in noodsaaklike gevalle na die uitspraak oor die appèl as ’n nuwe saak wat uit die appèl voortvloei, ter tafel kom, veral wanneer dit blyk dat onderlinge sensuur oor ’n kerk of kerkvergadering uitgeoefen moet word. Die orde in artikels 30 en 84 KO mag egter nie geskend word nie.

Die meerdere vergadering moet daarom nie ligtelik oor individue soos die appellant oordeel en handel nie. Reg kan gekrenk word wanneer ’n meerdere vergadering die appellant in plaas van as klaer eerder as aangeklaagde behandel. Tug oor hom berus eerstens by die kerkraad.

Spoelstra, B. (1989) Art. 32

Artikel 32

Kerkvergadering in diens van God

 

Artikel 32: Alle vergaderinge moet met aanroeping van die Naam van God geopen en met danksegging gesluit word.

 

A. Kerkregtelik

1. God regeer sy kerk 

Die Here het vir hom ’n gemeente (kerk) tot die ewige lewe uitverkies wat Hy deur sy Woord en Gees in die eenheid van ware geloof vergader, beskerm

|203|

en onderhou (Heid Kat V/A 54; NGB 27). Die Heilige Gees stel opsieners aan (Hd 20: 28) en bedien Hom van die handelinge van ’n kerklike vergadering as sy handelinge (Hd 15: 28). Op sterkte hiervan sê Rome dat die pous amptelik onfeilbaar deur die Heilige Gees gelei word. Die Gereformeerdes reken egter ook met die sonde. Mense maak maklik van “sy kerk” “ons kerk”. Ampswerk in kerkvergadering moet daarom biddende begin, voortgaan en sluit (vgl Hd 13: 2,3; 15: 28) om bediening van goddelike regering te wees. Calvyn beskou ’n sinode alleen wettig wanneer dit met Christus as “voorsitter” deur die Heilige Gees bestuur word (Inst IV.9.i). Waar dit nie gebeur nie, verval die kerkregering in heerskappyvoering soos by Rome.

 

2. God gebruik die diens van sondige mense

Christus is die enigste Koning van sy volk, maar Hy bedien Hom van mense in sy koninkryk om die kerk te regeer (vgl artt 2,3). Die Woord en Gees stel dienaars in staat om sy koningskap te bedien. Hy gee voordat en sonder dat hulle vra. Op hierdie indikatief van God se genade rus die imperatief om die Drie-enige God aan te roep vir alles wat die dienaars in hulle bediening nodig het (Heid Kat S 45). Daarmee erken hulle Hom, bid om die Heilige gees sonder wie hulle niks kan doen nie en dank Hom vir sy ryke gawes (Heid Kat V/A 116; Joh 15;5 Hd 1:14; 6:6; 9:11;13:2,3;14:23; 20:32,26 ens).

 

B. Kerkregering 

1. Redaksie

Die eerste Sinode van Emden 1571 bepaal dat ’n meerdere vergadering na gebed van die voorsitter van die roepende kerk konstitueer en dat die daaglikse sittings met gebede deur die voorsitter sal begin en met danksegging gesluit sal word (Biesterveld, Kuyper 1905:58,59). Die Nederlandse, Duitse en Waalse kerke bepaal te Dordrecht 1578 dat predikante in die kerkraad presideer “en die handeling sal begin met aanroeping van die goddelike Naam en met danksegging en gebed wat by saak pas, sluit” (Pont 1981:133 art 21). Die huidige bewoording van artikel 32 in die Kerkorde van 1581 (art 24) reël ’n beginsel vir alle situasies. Die taalkundige revisie van 1964 het die aksent van gebede met betrekking tot die “handelinge” egter na die “vergaderinge” (as liggame?) verplaas.

 

2. Openingsrede

Gedurende die Reformasie moes een van die predikante tydens ’n klassis ’n preek lewer waaroor sy mede-predikante moes oordeel en hom help om te verbeter (Emden 1571 11,1). In Suid-Afrlka het die behoefte aan preke toe min predikante ’n wye wêreld moes bedien, die roepende kerk ’n erediens, dikwels gepaard met nagmaalviering, met die oog op die meerdere vergadering laat

|204|

hou. Die gebruik lei later tot formele opening onder leiding van die moderamen van die vergadering waar iemand wat die roepende kerkraad of selfs deputate vir korrespondensie versoek het, ’n “tydwoord” of ‘openingsrede” uitspreek en soms ’n “bidstond” vir die vergadering lei. Dié gebruik word tans nog net in verband met algemene en nasionale sinodes in Potchefstroom onderhou. Hierdie gebruik kan sinvol op die kerklike vergadering wat moet handel toespits en moet nie onderlinge stigting beoog of eenheid in nagmaal demonstreer nie. Dit hoort by die plaaslike kerk tuis (art 30).

 

3. Open en sluit met gebed

Opvallend genoeg het die ouer kerkordes die aanvang- en slotgebede aan die handelinge en nie aan die formele opening van ’n vergadering soos ’n parlement, skool of ander Christelike byeenkoms gekoppel nie. Dit lê klem op die voortdurende en dinamiese verband tussen gebed en handeling in kerkregering. Gevolglik word dikwels tydens die vergadering die Here nog weer spesiaal aangeroep in ’n saak waarin menslike onmag, afhanklikheid of verootmoediging te pas kom, byvoorbeeld om die lot by verkiesing te werp, spanning in die vergadering te besweer, ’n proponent tot die bediening toe te laat, ens.

Die verantwoordelikheid berus by die voorsitter om self in gebed voor te gaan of om te reël wie voorgaan. In verband hiermee moet die konsistoriegebede in ag geneem word by die weeklikse byeenkomste van die ouderlinge en diakens om die eredienste te versorg en ander noodsaaklike handelinge te verrig. Die gebede moet nie soos in Nederland net op die prediker en prediking afgestem word nie, maar die diens van predikant, ouderlinge, diakens en die gemeente en noodsaaklike kerkraadshandelinge moet voor die Here gelê word en daarvoor moet aan die einde van die dag gedank word.

 

4. Formuliergebede

Tydens die Reformasie is Formuliergebede vir gebruik tydens eredienste, vas- en biddae, oggend- en aandhuisgodsdiens, ten behoewe van voorbidding vir siekes, vir die opening en sluiting van kerklike byeenkomste en die opening van die vergadering van diakens opgestel (kyk agter in Psalmboek). Die Formuliergebede word nie verplig nie, maar kan of as voorbeelde gebruik of aangepas word.

Spoelstra, B. (1989) Art. 33

|205|

Artikel 33

Afvaardiging na meerdere vergaderings

 

Artikel 33: Die afgevaardigdes na die meerdere vergaderinge moet hulle geloofsbriewe en opdragte saambring, onderteken deur die wat hulle stuur, en elke afgevaardigde sal ’n keurstem hê, behalwe in sake wat sy eie persoon of kerk in die besonder aangaan. 

 

A. Kerkregtelik

1. Kerke korrespondeer deur afgevaardigdes

Reeds die eerste kerke het afgesante (Hd 15: 2,27; 2 Kor 8: 23) na ander kerke gestuur wanneer verskille oor leer en seremonies saam opgelos moes word om die eenheid te herstel (Gl 2: 11; Hd 15: 2,3; 2 Kor 8: 19). Die afgevaardigdes meld hulle nie self aan nie en word ook nie lede van ’n vergadering in eie reg nie, maar die kerk wat hulle stuur gee aan hulle geloofsbriewe en opdragte (1 Kor 16: 3; Fil 2: 25), sodat verskillende kerke as ’t ware in en deur die afgevaardigdes saam met mekaar kan vergader en handel. Wanneer die samekoms verby is, bly slegs die besluite van die gemeenskaplike samekoms oor en verdwyn die samekoms (Hd 15: 22-30).

Reeds by die eerste gereformeerde kerke tree die beginsel van afvaardiging, omskrywing van mandaat, bepaling van opdrag deur die kerk en voorlê van geloofsbrief deur die afgevaardigde na vore. Die geloofsbrief beperk dus die stembevoegdheid van die afgevaardigde. Hy mag nie handel soos hyself goed dink nie. Die alternatief vir afvaardiging sou wees dat elke kerk deur sy voltallige kerkraad met elke ander kerk sou handel. Dit is slegs ten opsigte van naburige kerke prakties moontlik (art 79).

 

2. Afgevaardigdes het keurstem

Keurstem sluit aan by artikel 31 omdat keurstem stembevoegdheid bepaal. Die keurstem moet norme, waardes en beginsels aanlê om te keur en daarom “geweeg” kan word. Vir die demokrasie is blote meerderheidstem voldoende. In die kerkreg gaan dit eerder oor die gronde waarop ’n saak gekeur of afgekeur word. Die apostels sê feitlik altyd in die Skrif waarom hulle iets in die gemeente beveel of verlang. So hoor ons die stemme van die apostels en afgevaardigdes

|206|

van Antiochië saam met die kerk van Jerusalem opgaan en sê waarom hulle die besluit oor besnydenis geneem het (Hd 15: 5,3v; Gl 2: 11v).

 

3. Audi et alteram partem

Die Skrif handhaaf die basiese regsreël dat ook die ander kant gehoor moet word en dat niemand regter in sy eie saak mag wees nie. Niemand kan oor homself soos ander oordeel nie (Hd 5: 3; 1 Kor 5: 12; 6: 1-6; Heid Kat V/A 112). Regspraak vereis absolute onpartydigheid, anders is dit vir die Here ’n gruwel (Amos 5: 7,15,24; Js 5: 20,21; Mt 7: 1v; 23: 23, ens). In feitlik die primitiefste regstelsels geld dat niemand (behalwe die absolute monarg) vir homself, sy eie belange, familie en groep mag regspreek nie. Iemand is deur sy eie situasie, insig en belange eensydig betrokke en daarom geprejudiseerd. Die reg vereis dat onbevooroordeeld geluister, oorweeg en teen mekaar opgeweeg moet word. Elke mens is geneig om sy kant of insig swaarder te laat weeg as die ander kant.

Hieruit volg ook die regsreël wat absoluut onpartydige ondersoek en oordeel vereis (vgl Wiechers 1984:236-241). Geen oordeel kan oor ’n party in ’n saak gevel word sonder dat hy regverdig gehoor en verhoor is nie.

 

4. Verlening van mandaat

Kerkregtelikes soos Rutgers en Bouwman het na die Doleansie van 1886 beklemtoon dat die verskillende plaaslike kerke wat deur die onderskeie kerkrade handel, in meerdere vergaderings saamkom. Omdat die hele kerkraad nie teenwoordig kan wees nie, wys hy afgevaardigdes aan wat hy met ’n geloofsbrief magtig (las gee) om namens die kerk saam met ander kerke te gaan handel.

Die woorde “afgevaardigde” (gedeputeerde of verteenwoordiger) en “kredensie” of “geloofsbriewe” wys duidelik op ’n instansie wat stuur. Die geloofsbriewe is vertrouensbriewe wat getuig dat die draer daarvan wettig gestuur is en tweedens omskryf dit presies wat die mandaat of bevoegdheid van die draer is en in hoeverre die sender hom deur die afgevaardigde laat verteenwoordig en gebonde ag (Kruger et al 1966:209). Die geloofsbrief moet presies uitspel waaroor en onder watter voorwaardes die afgevaardigdes namens hulle sender bindende besluite mag neem. Dieselfde regsbeginsel geld ook waar ’n prokureur deur middel van ’n prokurasie as agent namens iemand moet optree.

Bouwman sê dat “die verskillende kerke nie al hulle mag oordra nie, maar net soveel as wat nodig is om die betrokke kerk se belang daar te behartig en daarom kan nie enige saak op ’n meerdere vergadering besluit word nie” (Bouwman 1934:28). Die afgevaardigde kan sy sender net so ver verbind as wat die geloofsbrief hom daartoe magtig (Kruger 1967:209). ’n Geloofsbrief is derhalwe nie bloot ’n kennisgewing van wie afgevaardig is nie.

Bouwman se argument van “mag” wat oorgedra (gedelegeer) word kom sekularisties en meganies oor. Dit is asof kerkrade “oorspronklike mag” besit en vir meerdere vergaderings “mag” van kerkrade “afgelei” word. Die

|207|

afgevaardigdes bring die “mag” as ’t ware in geloofsbrief saam (Bouwman 1934:17; vgl 59,64). In hierdie argument hoor ons niks van die koninkryk (heerskappy) van Christus nie en dit gee ’n verkeerde beeld oor kerklike gesag (vgl art 36).

Die “mag” en bevoegdheid van meerdere vergaderings hang regtens volledig van die lasbriewe af (Bouwman 1934:61). Dit is die “lasgewer” se prerogatief om bevoegdheid te verleen of te beperk. ’n Afgevaardigde verteenwoordig in ’n gereformeerde kerkvergadering ’n kerk in so ver sy lasbrief dit bepaal en hy word hoegenaamd nie deur afvaardiging ’n “lid” van ’n “sinode” wat in eie reg bestaan en handel soos in die kollegialisme nie.

Die argument oor “afgeleide mag” (“gesag”) mag moontlik op algemene regsbeginseis berus. Dit stel in elk geval die regsposisie van meerdere vergaderings sekondêr ten opsigte van die kerkrade (vgl art 30). Tog moet “mag” of bevoegdheid vir ’n kerkvergadering nie van strukture nie, maar van die enigste Hoof van die kerk, Christus, afgelei word (vgl NGB 31 en KO art 36). Die Nederlandse debat oor oorspronklike (kerkraad) en afgeleide gesag (meerdere vergaderings) redeneer oor strukture soos die verenigingsreg (kollegialisme) (Spoelstra 1967 en 1977b).

 

5. Meerdere Vergaderings in eie reg

Die kerkreg van die GKN het plotseling na 1950 ingrypend verander nadat M Bouwman (1937) Voetius deur die bril van kollegialisme en verenigingsreg gelees en verteken het. Die weg is voorberei deur die presbiteriaanse Westminister Confession (artt 31,32) wat die “assemblies” as groter kerkraadsvergaderings oor die “groter kerk” in ’n buurt of land laat regeer. Die kerkrade behandel slegs die kleiner sake in die plaaslike kerk (vgl Van der Linde 1983:135).

M Bouwman (1937) het die beginsel van afvaardiging en mandatering namens ’n kerk deur middel van geloofsbrief verwerp. Hy wou wegkom van die idee van “afgeleide gesag” vir meerdere vergaderings. Hy stel toe dat “ampsdraers” kerkrade sowel as meerdere vergaderings saamstel om in elke struktuur ’n eie regeerbevoegdheid uit te oefen. Geloofsbriewe gee gevolglik net kennis watter ampsdraers volgens kerkorde aangewys is om in die betrokke sinode te dien. Meerdere vergaderings is dus breër en groter kerkraadsvergaderings.

Die kerkreg agter die Dordtse Kerkorde van 1619 neem die opsieners en kerkraad in elke komplete kerk as uitgangspunt. Naburige kerke kan slegs in en deur die onderskeie kerkrade in kerkverband optree. Die byeenkomste van meer kerke is tydelik met die oog op gesamentlike besluite. Vanuit die oogpunt van elke kerk wat daar saamkom, is dit ook sy kerksraadsvergadering en nie ’n ander kerksraadsvergadering nie, wat buite, naas, teenoor of in die plek van die kerkraad te staan gekom het. Die Gereformeerdes bely immers net een kerkraad (NGB 30).

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die kerke bepaal in 1578 (art 20): Afgevaardigdes moet briewe van “kredentie

|208|

en instruktie" van die instansie wat hulle stuur skriftelik voorlê en koppel dit verder aan wat artikel 46 tans reël. Twee afgevaardigdes per kerkraad ontvang “keurstem” in die klassis (Pont 1981:133,136). Die kerkorde van 1581 (art 25) beperk keurstem tot diegene wat kredensiebriewe voorlê.

Die Nederlandse kerkorde-revisie van 1905 sluit afgevaardigdes van keurstem uit wanneer ’n saak die persoon of kerk van die afgevaardigde in besonder aangaan. Die beginsel was egter nie nuut nie. Reeds in die 17de eeu is bepaal dat die voorsitter iemand wat deur bloedverwantskap, vriendskapsbande of om ander redes moontlik in ’n saak partydig mag wees, uit die vergadering moes stuur sodat die saak in sy afwesigheid beredeneer en besluit kan word (Bos 1950:136v), omdat mense nie geskroom het om in kerkvergaderings te stem in sake waarby hulleself, hul familie of besoemvriende besonder belang gehad het nie. Dit is dikwels juis eiebelang en partydigheid wat mense laat aandring om te stem.

 

2. Geloofsbriewe

Geloofsbriewe (kredensiebriewe, lasbriewe) kan nooit “mondeling” afgedra word nie. Slegs die kerk (kerkraad) wat afvaardig, kan die lasbrief uitreik. Die Kerkordeboekie (1979:100) gee gerieflikheidshalwe ’n konsepvorm, maar die geloofsbrief hoef nie ’n vaste vorm te hê nie. Dit is die prerogatief van die lasgewer om die mandaat van die afgevaardigde te omskryf (Bouwman 1934:59,61).

’n Geloofsbrief moet aan sekere basiese vereistes beantwoord. Dit moet die name van die afgevaardigdes en hulle moontlike plaasvervangers en datum van afvaardiging duidelik aandui; geteken wees deur die voorsitter en skriba van die kerkraad wat afvaardig om die waarheid te bevestig; die mandaat of bevoegdheid van die afgevaardigdes noukeurig beskryf; aandui of die kerk die besluite voorwaardelik of onvoorwaardelik sal aanvaar (vgl by artt 31 en 32). Omdat Christus die enigste Hoof van sy kerk is, beperk Gereformeerde kerke die bevoegdheid van hulle afgevaardigdes en stel hulle voorwaardes aan 'n besluit om aanvaar te word. ’n Kerk gee gewoonlik las en volmag aan sy afgevaardigdes om namens hom te handel in sake wat wettig en ordelik ter tafel gekom het en verbind hom om besluite te aanvaar wat in ooreenstemming met die Heilige Skrif, Belydenis en Kerkorde (dws op “kerklike wyse”, art 30) geneem is.

Omdat wettige geloofsbriewe die konstituering, bevoegdheid en handelinge van die klassis (sinode) bepaal, moet die roepende kerkraad (art 45) voor die konstituering oor die geloofsbriewe oordeel (Bouwman 1934:128,140). Anders moet die voorsitter van die roepende kerkraad ’n voorsitter laat kies wat dan in die vergadering eers die geloofsbriewe moet laat beoordeel (Biesterveld, Kuyper 1905:58).

Slegs afgevaardigdes wie se geloofsbriewe minstens sê wie gestuur is en onderteken is deur die voorsitter en skriba, mag toegelaat word om aan die

|209|

konstituering deel te neem. Wanneer sitting sonder ’n behoorlike lasbrief gegee word, kom die wettigheid van die vergadering en geldigheid van al sy handelinge in die gedrang. Die roepende kerkraad kan leemtes in geloofsbriewe, byvoorbeeld wanneer mandaat of verwysing na die datum waarop afgevaardig is, ontbreek, op die agenda van die vergadering plaas om die instansie wat afgevaardig het, te vermaan. Niemand mag ooit, met watter verskoning ook al, sonder ’n geldige geloofsbrief keurstem uitoefen nie, maar hoogstens as individu “spreekstem” (adviserende stem, art 42) ontvang. In so ’n geval is die betrokke kerk glad nie in die vergadering teenwoordig en by besluitneming betrokke nie.

 

3. Opdragte aan afgevaardigdes

Die ouer kerkordes het van die afgevaardigdes verwag om “instruksies” van hulle lasgewer saam met die geloofsbriewe ter tafel te lê sodat die agenda net na die konstituering vasgestel kon word (Biesterveld, Kuyper 1905:58). Die instruksie of opdrag van die sender verwys na sake waarin die oordeel van die meerdere vergadering gevra word. Gevolglik was die huidige artikel 46 vroeër aan die opdragte verbind.

Tog het die kerke in tye van ernstige beroering gedurende die 17de eeu, instruksie of opdrag gegee watter standpunt hulle afgevaardigdes moet stel en hoe hulle moet stem. Die mindere vergaderings kon dus vooraf oor sake wat voor sinodes sou dien, handel maar hulle kon daaroor slegs voorlopig besluit. Instruksie hoe om te stem moet tot fundamentele sake soos die formulering van die geloofsbelydenis beperk word (vgl Mandat Imperativ, Spoelstra 1967:27; Rutgers 1882). By formulering van die belydenis is die implikasie van die imperatiewe mandaat dat indien die besluit anders uitval, die betrokke kerk(e) verdere kerklike gemeenskap sou moes heroorweeg.

Bouwman en Rutgers wys dat ’n kerkraad (of mindere vergadering) in die reël nooit ’n afgevaardigde verder moet bind as dat hy hom in die meerdere vergadering aan die uitsprake van die Skrif, Belydenis en Kerkorde sal hou nie. Beraadslagings in die meerdere vergadering kan aan ’n afgevaardigde meer lig uit die Skrif, Belydenis of Kerkorde gee as waaroor sy sender by sy voorlopige besluit beskik het (Bouwman 1934:60,140). Stemming geskied daarom in meerdere vergaderings nie per kerk nie, maar per afgevaardigde.

Dit is belangrik dat die geloofsbrief aan elke afgevaardigde duidelik opdrag sal gee om die “accoord der kerkelyke gemeenschap” te eerbiedig. Die afgevaardigde behoort selfs teen sy persoonlike oortuiging in sy keurstem in lyn met Skrif, Belydenis en Kerkorde uit te bring (Bouwman 1934:61), anders bring vrysinnige en liberale stemme die eendrag en vrede in gevaar. Meerdere vergaderings is juis ingestel om die kerke op die Formuliere van Enigheid en Kerkorde te konsolideer.

Elke meerdere vergadering is ’n tydelike op homself staande byeenkoms van kerke en bestaan nie soos by die kollegialisme selfstandig en permanent buite die kerkrade om nie. Daarom kan slegs kerke deur middel van kerkrade sake op die agenda van meerdere vergaderings plaas (GKSA 1894: artt 117,118).

|210|

Die huidige prosedure vir beswaarskrifte (GKSA 1964:445,446) hou hiermee nie rekening nie. Die gelowige handel met die kerkraad, terwyl die kerkraad in sy regering hulp en advies van meerdere vergaderings aan die orde moet stel, behoudens die reg van appèl vir ’n beswaarde (art 31).

Om praktiese redes vereis meerdere vergaderings gewoonlik dat opdragte en stukke vir die agenda enkele weke vooruit by die korresponderende kerkraad sal wees (art 45). So ’n reëling moet met diskresie toegepas word om slapheid en agtelosigheid by kerke en hulle funksionarisse in belang van 'n ordelike en voorbereide vergadering, te bestry. Tog mag ’n ernstige en belangrike of resente saak nooit wetties op sterkte van hierdie formele reëling nie in behandeling geneem word nie. Die kerkorde gaan bo ordereëlings uit en dit laat die weg oop dat agenda nog saam met die geloofsbriewe gebring kan word.

Deputate van meerdere vergaderings (art 49) sondig gewoonlik die meeste teen artikel 33. Talle deputate kry nooit klaar met hulle werk nie en probeer gedurig om nuwe sake ter tafel te lê, asof hulle ’n tussentydse kerkraad, bestuur, oligargie of burokrasie is. Kerke kan nie dit wat Christus aan hulle opgedra het, na persone soos deputate of kommissies delegeer nie (art 49). Die kerkorde artikels 30,33 en 49 berus op die veronderstelling dat werk op ’n meerdere vergadering afgedoen word. Opdragte (agenda) wat nie voldoende inligting bevat en verdere ondersoek of studie verg, moet liewer na die voorsteller terugverwys word om eers meer inligting te versamel voordat dit op die agenda van ’n volgende vergadering geplaas word.

Omdat ’n klasssis (sinode) ’n tydelike byeenkoms van kerke is om agenda af te handel, kan ’n volgende byeenkoms nie die besluite van ’n vorige verklaar of motiveer nie (GKSA 1876: art 223). Dit kan alleen op aangevoerde gronde so ’n besluit wysig of vernietig (art 46).

 

4. Professore ontvang slegs adviserende stem

By Rome roep die pous ’n konsilie (sinode) van biskoppe kragtens hulle amp saam om hom met hulle besluite te adviseer. Die Kollegialisme koppel weer ampte aan die “kerk”. So beskou M Bouwman (1937) meerdere vergaderings as byeenkomste van “ampsdraers.” Dit kan deur middel van die kerkorde aan enige “amp” bevoegdheid verleen om “lid van die sinode” te word. Die Gereformeerdes stel professore in ’n spesiale leraardiens (artt 2,18) en ’n teologiese skool is nie ’n naburige kerk of kerklike instituut wat in sinodes saamkom nie. Gevolglik kan professore nie in hulle diens vir afvaardiging na of keurstem in ’n vergadering van meer kerke in aanmerking kom nie. Hulle het egter in lyn met hulle roeping (art 18) ’n plig om advies (mondeling of skriftelik) te gee sodat vergaderings weloorwoë besluite ten behoewe van die regering van Christus in sy kerk kan neem (Bouwman 1934:62,205-209).

 

5. Openlike Verklaring

Die Sinode Potchefstroom 1869 het ’n “Openlike Verklaring” (OV) daargestel wat tans nog in die meeste meerdere vergaderings net na konstituering gelees

|211|

word, waarmee daarna staande gekonformeer word. Dit stel die basiese mandaat wat in elke geloofsbrief vervat behoort te wees (vgl die OV met ’n konsep-geloofsbrief, KO-boekie (1979:65v,100). Die OV nooi ook buitestaanders om tot een gereformeerde kerkgemeenskap op basis van dieselfde geloof en kerkregering toe te tree.

Klassis Pretoria-Oos het gedurende die sestigerjare die mandaat van die geloofsbrief by die konstituering gelees en by die afgevaardigdes genotuleer (Spoelstra 1967:213). Na regte behoort die vergadering wat deputeer die mandaat aan die afgevaardigdes voor te lê en vas te stel of hulle daarmee konformeer. Die huidige OV skep die indruk dat die mandaat deur die gekonstitueerde vergadering voorgeskryf word, terwyl dit in werklikheid daarop saamgestel word.

 

6. Wanneer die reg en plig tot keurstem vervat

Nemo debet esse judex in propria causa. (Niemand kan regter in sy eie saak wees nie). Oud-hoofregter C J Claassen noem dit die mees basiese reël in enige regsadministrasie. Dit is ewe goed toepaslik waar die regter ’n belang in ’n saak het of wanneer hy ’n direkte party daarin is (1976:19). Die beginsel is in gedrang wanneer ’n predikant in ’n finansiële kommissie of in die kerkraad aktief of stilswyend meedoen aan byvoorbeeld bepaling van sy salaris of beoordeling van sy ampsbediening of tug oor ’n lid van sy gesin (vgl bv GKSA 1979:245-261).

Sinodes het ten spyte van bogenoemde reël predikante toegelaat om in alle aspekte van hulle pensioenvoordele waarin die kerke teenoor hulle verplig is (art 13), saam te besluit (GKSA 1985:91,115; 1988 ibid t.a.p.). Dit sou beter wees indien sinodes dergelike besluite op advies van die kerke neem of nadat dit geneem is aan kerkrade voorlê. In kerkrade het predikante oor so ’n saak geen of ’n minderheidstem, terwyl hulle op sinodes die stem van ouderlingafgevaardigdes wat geen direkte belang daarby het nie, oorheers.

Die kerkraad kan in dergelike sake ’n ouderling as voorsitter kies, terwyl die predikant die vergadering verlaat wanneer oor sy traktement gehandel word. Indien ernstige probleme opduik, kan die kerkraad die konsulent inroep.

Wanneer ’n klag of saak wat ’n ampsdraer, sy familie of selfs ’n goeie vriend raak, ondersoek word, het die betrokke ampsdraer daarin geen keurstem nie. Nadat hy en getuies gehoor is, behoort hy ter wille van goeie orde homself uit die vergadering te onttrek of uitgestuur te word. Niemand behoort deel te neem aan die stemming wanneer hyself, bloedverwante of goeie vriende by beroepe of belangrike deputasies teenoor ander broeders verkies moet word nie (vgl Bos 1950:136v). Kortom, sodra faktore iemand by ’n kerklike beslissing “partydig” mag stem, moet hy as onbekwaam vir keurstem beskou word. Die Reglement van 1816 het selfs grade van bloedverwantskap binne die kerkraad belet. Tereg wou gereformeerde sinodes nie so reglementeer nie.

Spoelstra, B. (1989) Art. 34

|212|

Artikel 34

Die skriba naas die voorsitter nodig met die oog op die handelinge

 

Artikel 34: In alle vergaderinge moet by die praeses ’n skriba gevoeg word om noukeurig op te skrywe wat noodsaaklik opgeteken moet word.

 

A. Kerkregtelik 

1. Eerste onder gelykes

Die apostels en ouderlinge handel as ’n groep en neem as sodanig daarvoor verantwoordelikheid (Hd 6: 2; 11: 30; 15: 6,22,23). Hulle kan hulle opdrag en bevoegdheid nie na ’n amptenaar delegeer nie. Tog is dit moeilik om aan te neem dat hulle sonder iemand wat leiding neem (vgl Mt 16: 16; Joh 21: 3; Hd 2: 14) as groep van gelykes kon handel. Daar was ’n hoëpriester (Hb 5: 1-4). Orde vereis erkenning van voorgangers (1 Ts 5: 12) en jongeres moet aan oueres onderdanig wees (1 Pt 5: 5). Jakobus tree as leier in Jerusalem na vore (Hd 21: 18). In die vroeë kerke tree ’n “engel” in elke gemeente as eerste onder gelykes op (primus inter pares, vgl Op 1: 20v). Die NAV vertaal “engel” sonder meer met “leraar”, terwyl volgens die oudste kerkgeskiedenis hier aan ’n leierbiskop (“opsiener”) gedink moet word (Inst IV.4.ii), sonder dat hy gesag oor ander biskoppe verkry het (Gl 2: 17-11). Goeie orde kan nie sonder ’n dienende funksie van “voorsitter” in ’n samekoms gehandhaaf word nie. Die voorsitter voer nie in die presbiteriale kerkregering kragtens sy posisie heerskappy oor ander nie (artt 17,84).

 

2. Orde vereis ’n skriftelike notule

In die kerkraad kom opsieners en in die meerdere vergaderings kerke deur middel van afgevaardigdes byeen om na onderlinge beraad saam dmv besluite die kerk te regeer. In die Roomse kerkregering voer ’n bepaalde opsiener oor ander en oor “leke” gesag, sodat hy met mondelinge opdragte mag regeer. Die kollegialisme beklee bepaalde “liggame” met gesag wat op hulle beurt hulle gesag na ’n funksionaris of burokrasie delegeer om te regeer.

Wie Christus as die enigste Hoof van sy kerk erken, kan geen eie gesag aan dienaars verleen om te regeer nie. Hulle kan slegs saam probeer om sy gesag deur middel van besluite te bedien. Die kerkregering word dus deur besluite gedien wat in die kerke toegepas word. Wat iemand op die vergadering

|213|

gesê of met betrekking tot 'n besluit verduidelik het, is irrelevant vir die kerkregering. Slegs die woordelikse en oorspronklike weergawe van die besluit is ter sake. Twee kerke stel in Jerusalem hulle besluit op skrif (Hd 15: 23,30v) en gee dit vir al die kerke deur, terwyl mondelinge toeligting op rekening van die koeriers bly staan (Hd 15: 32).

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die besluit

Hierdie bepalings vul in 1571 die eerste kerkorde aan. Die voorsitter word verkies en daarna moet hy die presensielys van aanwesiges (die keurstemme) sowel as afwesige persone en motivering vir besluite, deur ’n “skrywer” laat opteken. Beskywingspunte wat die leer of kerkorde raak, moet op die agenda voorrang geniet. Besluite moet aangeteken en gelees word, waarna kopie daarvan na elke kerkraad gestuur word om daar voorgelees te word. Die kerkrade moet weer eers al hierdie notules nagaan, voordat hulle beskrywingspunte na kerkvergaderings stuur (Biesterveld, Kuyper 1905:58,59).

Hierdie ordereëlings word in die Kerkordes opgeneem. Aanvanklik word die opdragte van die voorsitter (tans art 35) in dieselfde artikel as dié van die skriba opgeneem. In 1578 word uitdruklik voorgeskrywe dat elke kerkraad ’n notuleboek en notule op datum daarop na moet hou wat op die volgende vergadering eers gelees moet word om te sorg dat niks vergeet word nie. Die notule moet so gehou word dat dit die besluite ook verklaar en moet deur die betrokke vergadering goedgekeur word (Biesterveld, Kuyper 1905:103v,107).

 

2. Die notule

Die skriba is ’n funksionaris wat die handeling van die vergadering moet opteken. In die kerkraad is die ampsdraers en in die meerdere vergadering die plurale kerke die subjek wat besluit. Die notule moet aandui wat die kerkraad of, in die tweede geval, die kerke besluit het. Die kontinuïteit van die kerkregring is in die besluite en nie in die periodieke vergaderings nie, opgesluit (Bos 1950:137).

’n Notule begin met die datum van die vergadering en die presensielys waarin aangeteken is wie met en wie sonder verskoning afwesig is. Vervolgens moet notule stap vir stap aandui wat ter tafel kom en wat daaroor besluit word. Die notule volg die agenda op die voet. Waar ’n voorstel wat tot besluit gemaak word gronde bevat, moet ook dit genotuleer word. Menings van persone moet slegs genotuleer word wanneer die vergadering uitdruklik om advies gevra of dit versoek het.

Origens vorm die beraadslagings en persoonlike menings geen deel van die handeling van die vergadering as geheel nie.

Waar ’n bepaalde stuk deur middel van die agenda ter tafel kom, soos bv ’n minderheidsrapport, moet dit ook genotuleer word, al sou die vergadering dit verwerp. Hier vorm die verwerping ’n bepaalde handeling of besluit wat ook

|214|

later van belang mag wees. In bepaalde gevalle vra persone dat ’n voorstel wat verslaan is, in die notule aangeteken moet word. Hieroor bestaan geen vaste reël nie en moet die betrokke vergadering sy diskresie gebruik en billik oordeel of dit van waarde vir die kerke ’n eventuele appèl of begrip van die genome besluit is.

Die ideaal is om die notule voor die afsluiting van elke vergadering te lees, te korrigeer en goed te keur. Dit moet in die geval van meerdere vergaderings gedoen word omdat hulle verdwyn. ’n Klassis (sinode) laat slegs sy handelinge (besluite) na (art 46).

 

3. Differensiasie van skribaat

In die plaaslike kerk word dikwels meer as een skriba aangewys wanneer die omvang van werksaamhede dit noodsaaklik maak. So kan die kerkraad ’n skriba vir notule, ’n skriba vir byhou van attestate en lidmateregister (vgl Biesterveld, Kuyper 1905:104, art 24) en ’n aparte skriba vir vergadering saam met die diakens (breë kerkraad) aanwys. Daar kan selfs hulp-skribas aangewys word om kladnotuie vir die skriba by te hou. Die skriba kan vir kommissies notule hou, of daar kan afsonderlike skribas vir bepaalde kommissies van die kerkraad aangewys word. Wanneer die kommissie rapporteer word die rapport deel van die notule.

Meerdere vergaderings verkies tans feitlik algemeen naas die voorsitter ’n onder-voorsitter en by die skriba ’n hulpskriba om saam die “moderamen” te vorm. Wanneer ’n klassis uit minder as ongeveer agt kerke bestaan, behoort dit nie te gebeur nie omdat dit onwenslik is om soveel kragte van die vloer in die moderamen van so ’n klein vergadering saam te trek. Waar enigsins moontlik moet meerdere vergaderings klerikalisme bestry en bekwame ouderlinge as skribas in die moderamen betrek. Die skriba van ’n meerdere vergadering bly slegs in funksie totdat die vergadering sluit (art 45).

Gewoonlik dien een van die ouderlinge of diakens in die kerkraad as skriba. ’n Skriba moet vinnig en korrek kan formuleer. Kerkrade benoem soms met goeie rede ’n skriba wat nie in ’n amp dien nie. Onder invloed van die kollegialistiese struktuuropvatting is dergelike skribas selfs as ouderling bevestig om hom “lid van die kerkraad” te maak. Hierdie optrede dien iemand as “ouderling” aan sonder dat hy die diens van ouderling verrig. Wanneer ’n kerkraad ’n skriba van buite benoem, moet die betrokke persoon die vertroulikheid van die vergadering eerbiedig en slegs adviserende stem uitoefen. Skribas van meerdere vergaderings word uit die afgevaardigdes van die kerke verkies, behalwe wanneer nood anders vereis.

 

4. Ander pligte van die skriba

Die skriba moet in die loop van sy pligte korrespondensie vir die agenda van die kerkraad en kerklike administrasie ontvang, erken en bewaar. Hy moet dus stelselmatig en noukeurig werk en ’n bepaalde liasseersisteem daarop na hou. Hy (en soms die voorsitter) is verantwoordelik vir versorging van die kerklike

|215|

argief, wat baie belangrike werk meebring (kyk Snyman, Spoelstra 1963). Kerkrade moet erns van hulle eie en kerklike argiewe maak.

Die skriba moet die opdragte en korrespondensie wat uit besluite voortvloei, afhandel. Dit strek tot oneer van die Here en skande vir die kerk wanneer funksionarisse korrespondensie laat rondlê, briewe en navrae nie beantwoord nie, besluite wat ander raak nie deurgee nie, opdragte vir die agenda van ’n meerdere vergadering nie afstuur nie, ens. Die Skrif eis dat broeders mekaar in die kerk onderling moet bystaan en saamwerk. So behoort die voorsitter en skriba voor ’n vergadering die agenda vas te stel, mekaar tydens die vergadering goed te verstaan en mekaar na die vergadering by te staan om die werk van die vergadering af te handel. Voorsitter en skriba kan duidelik onderskei, maar nooit in goeie vergaderingsprosedure geskei word nie.

Die vertroulike aard van kerkraadshandelinge oor persone moet altyd eerbiedig word.

Spoelstra, B. (1989) Art. 35

Artikel 35

Die amp of taak van voorsitter

 

Artikel 35: Op meerdere vergaderinge presideer ’n bedienaar van die Woord en die werk van die praeses is om voor te dra en te verduidelik wat behandel moet word, toe te sien dat elkeen op sy beurt spreek, om die wat redetwis en alte heftig spreek die swye op te lê, en as hulle geen gehoor gee nie, die gepaste sensuur oor hulle uit te oefen. Sy amp hou op as die vergadering beëindig is.

 

A. Kerkregtelik

1. Christus is die enigste Hoof van sy kerk

Hierdie beginsel (NGB 7,31,32; Calvyn Inst IV.6.ix) is so dominerend in presbiteriale kerkregering dat dit gedurig na vore tree. Calvyn sê dat Christus self voorsitter is van ’n konsilie wanneer Hy dit deur sy Woord en Gees lei (Inst IV.9.i). Die persoon wat God roep en wat die Gees gebruik om die Woord te bedien, behoort daarom slegs ’n “mond” vir die Voorsitter Christus te wees en so op te tree dat Christus deur middel van sy Woord en Gees die vergadering lei. Die predikant verwerf self geen posisie of heerskappy oor ander nie. Daarom hou die amp van voorsitter op sodra die meerdere vergadering beëindig is.

|216|

2. Onderlinge toesig

Die Skrif roep die kerklike dienaars op om op mekaar ag te gee, sodat die voorskrifte van Christus en goeie orde onderhou word (1 Tm 3: 20; 2 Tm 3: 14,15,24; Tit 1: 9v; 3: 1v, 9v ens). Waar sondes van hoogmoed, woede, liefdeloosheid en twis onder kerklike dienaars en baie keer in vergaderings voorkom, moet die voorganger in diens van Christus die tug bedien (vgl by artt 43,81).

 

3. Die voorsitter dien in ’n bepaalde meerdere vergadering

Die meerdere vergadering in presbiteriale kerkregering konstitueer wanneer ’n voorsitter en skriba aangewys word (art 34). Dit gebeur met die uitsluitlike doel om die agenda ordelik te kan afhandel (1 Kor 14: 33,40; Smit 1984:6v). Die verkiesing roep iemand tot ’n funksie. Dit stel hom nie in ’n “pos” of biskoplike “posisie” oor ander dienaars aan nie. Gevolglik duur die funksie net vir die bepaalde vergadering. Dit hou op wanneer die vergadering sluit en uiteen gaan. 

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die artikel praat nie oor die voorsitter van kerkrade nie, omdat die kerkorde dit nie instel nie, maar veronderstel. In Genève het die stadsraad die burgemeester voorsitter van die kerkraad gemaak (Pont 1981:45 art 168). Kerkregtelik behoort iemand wat diens van die Woord verrig, te lei en predikante in dieselfde kerk om die beurt te presideer (art 37). Hy tree op waar ’n meerdere vergadering konstitueer (vgl Biesterveld, Kuyper 1905:58 (1571); 105,107 (1578)). Die kerkorde omlyn die funksies van skriba en voorsitter in 1581 in dieselfde artikel (26). Na 1586 word dit ’n afsonderlike bepaling (Biesterveld, Kuyper 1905:200).

 

2. Die funksie van voorsitter

Calvyn onderskei die dienaar van die Woord met die term “biskop” van die ouderling (Inst IV.3.viii; 11.vi).

In kerke met net een predikant kan dominokrasie (predikante-heerskappy) makliker na vore kom. Die voorsitter word in so ’n “biskopkerk” maklik “bestuurder” van die gemeente, soos in ’n wêreldlike organisasie (kyk by art 37). Die predikant moet daarom veral in die kerkraad sy taak, regte en voorregte as voorsitter goed ken en hom net as “eerste onder gelykes” gedra (Van der Linde 1983:140). Mense oorvra egter die predikant as voorsitter in die kerkraad omdat hulle dink dat hy spesiaal “opgelei” is om te regeer. Die voorsitter moet slegs die vergadering lei en mag nooit domineer om self te regeer nie.

In die Christelike Geref Kerk van Nederland word ouderlinge ook as voorsitters van kerkrade gekies. Dit bekamp wel die gevaar van predikante-heerskappy,

|217|

maar maak die leiding los van die diens van die Woord. ’n Ouderling kan slegs in bepaalde gevalle as voorsitter van ’n kerkraad optree (GKSA 1907: art 113, KO-boekie 1979:45).

Iemand moet leer om as voorsitter op te tree. Daar is boeke om te raadpleeg (Rossouw 1979:39v; Hattingh 1980:7v; Atkinson 1986:63-81). Sekere beginsels en vereistes geld vir ’n voorsitter in enige vergadering, soos bv sy voorbereiding vir die vergadering, reëling van orde waarin die agenda, verwante sake, voorstelle, amendemente, spreekbeurte, ensovoorts moet dien en wanneer beslis moet word. Die voorsitter moet een bepaalde spreker hoogstens twee keer laat praat, tensy die vergadering toestem dat hy noodsaaklike nuwe inligting voor die vergadering lê. Die voorsitter moet sorgdra dat sprekers net praat oor “die punt” wat ter tafel is, nie herhaal nie, nie persone beledig nie, nie laster of ander instansies of sake betrek wat nie regstreeks betrokke is nie. Die voorsitter moet toesien dat ’n spreker die stoel aanspreek en nie ’n ander persoon in die vergadering antwoord of met hom redeneer nie. Hoogstens mag verwys word na ’n stelling van ’n “vorige spreker.”

Die voorsitter moet onpartydig bly (vgl ook art 33). Gevolglik maak ’n voorsitter nie voorstelle in die vergadering nie, moet hy nie aan bespreking deelneem nie en mag hy nie voorsit in ’n saak wat hy bepleit of waarby hy persoonlike belang het nie. Indien die voorsitter betrokke raak, moet die ondervoorsitter die leiding oorneem totdat die saak beslis is. Indien daar geen ondervoorsitter is nie, kan iemand (bv ’n ouderling in die kerkraad) as voorsitter gekies word. Wanneer die voorsitter plotseling betrokke raak, kan die skriba gevra word om as voorsitter op te tree.

Die voorsitter in ’n kerklike vergadering moet die eise wat ’n kerklike vergadering aan hom stel, ken. Die voorsitter moet sorg dat die vergadering op ’n kerklike wyse (art 30) verloop. Hy mag nie toelaat dat iemand argumente aanvoer wat teen die Skrif en Belydenis ingaan nie, al sou dit by nie-kerklike verenigings en vergaderings pas. In nie-kerklike vergaderings kan iemand sy “demokratiese reg” eis en uitstap, “bedank”, demonstreer, petisies indien, drukgroepe vorm, koukus, “kook”, stemme vooraf werf, ensovoorts. Hierdie metodes moet die voorsitter in ’n kerklike vergadering belet en bestraf.

Dit is baie goed wanneer kerklike dienaars periodiek ouderling die vernaamste aspekte van goeie vergaderingsprosedure met betrekking tot ’n voorstel, amendement, punt van orde, ordevoorstel, ensovoorts bespreek. Die lede in die vergadering kan deur middel van ’n punt van orde die voorsitter om ’n reëling vra of deur middel van ’n ordevoorstel ’n reëling van die voorsitter ter syde stel en voorskryf hoe die voorsitter ’n saak aan die orde moet stel. Orde het slegs te doen met “hoe” ’n saak behandel word en mag geen wesenlike aspek in ’n voorstel prejudiseer of beslis nie. ’n Ordevoorstel word dadelik sonder bespreking gestel en oor besluit.

Wanneer ’n vergadering hande uitruk of wanneer georganiseerde verset in ’n vergadering voorkom, mag die voorsitter die vergadering tot ’n later uur of datum verdaag om gemoedere te laat afkoel, sekere persone te bestraf of advies in te win. Die voorsitter kan ook iemand wat hom nie aan die ordereëlings onderwerp nie, uit die vergadering stuur, waarna die oortreding kerklik behandel moet word (artt 71-81).

|218|

3. Die duur van die praesidium

In die kerkraad met net een predikant loer die gevaar en versoeking van hiërargie en heerskappyvoering wat die regering van Christus in sy gemeente bedreig (art 84), om die deur. Die ideaal is dat voorsitters by toerbeurt optree (artt 37,41). Die voorsitter van die vorige meerdere vergadering mag nie op die volgende presideer nie (artt 35,41). Slegs nood mag ’n uitsondering noodsaaklik maak wanneer net ’n vorige voorsitter in ’n bepaalde klassis beskikbaar sou wees. Die funksie en posisie van voorsitter verval sodra die vergadering gesluit het, omdat die kerkregering nie by individuele persone nie, maar by ouderlinge en kerkrade berus.

In die GKSA het die voorliefde vir die “maklikste” metode al daartoe gelei dat sinodes dieselfde twee predikante net om die beurt as voorsitter en ondervoorsitter inspan. Dit is ’n ongesonde en onwenslike praktyk. Dit sluit ander kragte uit en wanneer die ondervoorsitter optree, presideer die voorsitter van die vorige vergadering in stryd met die kerkorde. Die ondervoorsitter van die vorige vergadering kan wel tot voorsitter op die volgende vergadering gekies word. Dit sal kontinuïteit verseker. Hy kan hom onttrek wanneer ’n omstrede saak wat hy op ’n vorige vergadering gelei het, weer ter tafel kom (artt 35,41,84).

Spoelstra, B. (1989) Art. 36

Artikel 36

Dieselfde mag en gesag om in kerklike vergaderings te bedien

 

Artikel 36: Dieselfde seggenskap het die klassis oor die kerkraad wat die partikuliere sinode oor die klassis, die nasionale sinode oor die partikuliere sinode en die algemene sinode oor die nasionale sinode het.

 

A. Kerkregtelik

1. Christus is die enigste Hoof van sy gemeente (NGB 27,31)

Jesus verkondig sy koninkryk as dinamiese regering wat Hy deur sy Woord en Gees regstreeks en middellik deur bedieninge van sy dienaars uitoefen. Die Heilige Skrif maak die wil van dié Koning genoegsaam aan mense bekend. Die gereformeerde belydenis sê gevolglik dat mense nie in kerkvergaderings die Heilige Skrif ooit kan verplaas, aanvul of verander nie “want alle mense is uit hulleself leuenaars en nietigheid self” (NGB 7). Hierdie uitspraak geld dus ook ten opsigte van gewone kerklike gesag.

|219|

’n Klassis het dus nie oor ’n kerkraad of ’n sinode oor ’n klassis op sterkte van posisie, gesag of seggenskap (authoritas) nie. Christus is ’n ewige Koning oor sy onderdane, wat die kerk is (NGB 27, Calvyn Inst IV.6.ix). Hy is daarom die enigste algemene Biskop en enigste Hoof van sy Kerk, sodat die predikante, opsieners of ouderlinge net “een en dieselfde mag en gesag het, omdat hulle almal dienaars van Jesus Christus is” (NGB 31).

Die ewige Koning regeer ons met sy Woord en Gees (Heid Kat S 12). By Hom berus al die outoriteit. Dit laat slegs een konklusie toe: In die ware kerk geld dwarsdeur een en dieselfde gesag en seggenskap, naamlik dié van Christus.

 

2. Bedienende mag

Christus gee aan sy kerk lewe deur sy regering (Van der Walt 1976:48), wat Hy direk of deur die diens van mense in ampte of vergaderings uitoefen. Omdat hy die enigste Hoof van sy kerk is, kan ampsdraers en kerkvergaderings nie met hulle handelinge presedensiële reg skep nie. Presendensiële reg verleen aan die “vaders” of vorige vergaderings (selfs as hulle van die Skrif sou afwyk) normatiewe gesag naas Christus (Visser 1982:95,308). Dit kom op die Roomse standpunt neer.

Calvyn onderskei drieërlei kerklike mag: om te leer (potestas docendi) om wette te maak (potestas gubernandi of regiminis) en om reg te spreek (potestas jurisdictionis of disciplinae, vgl Bavinck 1930:393-403; Inst IV hfst 8-12). Die gesag van biskoppe, kerkrade en sinodes moet altyd bedienend van aard wees, dit wil sê behoort te sê wat Christus in sy Woord sê (Calvyn: Inst IV.6.Ix,x:7.xiii). Hulle mag word deur die Woord begrens, is daaraan onderworpe en daarin ingesluit. Hulle mag niks anders leer of voorskryf as wat hulle van God ontvang het nie (Inst 8.iv,v).

Kerke formuleer leer en voorskrifte meestal in meerdere vergaderings. Gevolglik moet die vergaderings die Skrif uitlê (Inst 9.viii,xiii). Hulle mag nooit die vryheid waarin Christus die gelowiges gestel het, deur die gesag van mense of sinodes aantas nie. Die gelowige is in sy gewete in diens aan God verhewe bo insettinge en voorskrifte van mense (Inst 10.i,v-vii).

Regspraak en dissipline berus basies by die opsiener en kerkrade. Ander kerke staan in klassis en sinode kragtens kerkorde ’n kerk by in tugoefening (artt 33,77,79) of ten opsigte van die diens van die Woord (artt 4-14). Al hierdie handelinge moet een en dieselfde gesag laat geld. Meerdere vergaderings oefen nie ’n eie, hoër of ander gesag langs die kerkrade uit nie. Daar mag gesag in (besluite van) meerdere vergaderings wees en nie gesag van sinodes nie (Visser 1982:273).

Die Nederlandse kerkreg wat met sekulêre Romeinse regsbeginsels soos privatiewe, kumulatiewe, oorspronklike en afgeleide gesag opereer, moet as onkerklike en nie-teologiese debatvoering afgewys word (vgl Bouwman 1934:347v, 594; De Jongh 1918:77; Visser 1982:107). Opsieners en kerklike vergaderings moet niks meer as bedienaars van dieselfde seggenskap, wat op die toepas van die Woord van die Koning neerkom, wees nie.

|220|

3. Die regsposisie van Gereformeerde kerke

’n Gereformeerde kerk (plaaslik) is in terme van die gewone reg ’n gemeenregtelike persoon wat nie op kontrak (jus constituendum) nie, maar op interne verbandsreg (jus constitutum) berus, waaraan lidmate en kerkraad hulle onderwerp (Pienaar sa:17,55). Deur die hou van meerdere vergaderings word eenparigheid in kerkregering nagestreef en bewerkstellig. Kerke kom in kerkverband en nie as kerkverband saam nie (Pienaar sa:29). Kerkrade dra nie gesag aan meerdere vergaderings oor nie en die gesag van meerdere vergaderings vervang ook nie dié van kerke nie. Dit is ’n vergadering van meer kerke en nie ’n korporatiewe liggaam waaraan kerke onderwerp word nie. Die gewone wêreldlike reg gaan van die gesag van “gesamentlike besluit” in meerdere vergaderings uit, wat die plaaslike kerk bind in sake waaroor die plaaslike kerk nie gesag mag of kan uitoefen nie (Pienaar sa:30). Laasgenoemde stelling is aanvegbaar, omdat dit die kerke en nie Christus nie as gesagbasis neem, hoewel dit tog Christus as basis wil erken (Ibid 86).

Dis kerkvergaderings is gebind aan ’n interne verbandsreg wat in die Bybel, belydenisskrifte en kerkorde opgesluit is. Die kerkraad moet toestemming verkry van die lidmaat vir handelinge wat vir die lidmaat gevolge het, soos byvoorbeeld aankoop of vervreem van eiendom, aanvaar van finansiële verpligtinge, verandering van lokale regte, ensovoorts. Die kerkraad mag nooit optree as verteenwoordiger van 'n sinode by die kerk nie, maar verteenwoordig die kerk in sinodes (Pienaar sa:37).

Die kerke beleef ’n eenheid in belydenis as akkoord van kerklike gemeenskap. Hulle stel ’n kerkorde vas. Die kerkorde positiveer nie meerdere vergaderings nie, maar wil ordelike kerkregering volgens die aanvaarde Skrifvereistes verwesenlik.

Omdat ’n meerdere vergadering tydelik van aard is, kan dit nie met regspersoonlikheid beklee word of ’n “naam” dra soos byvooreeld “sinode Middellande” nie (vgl Pienaar sa:53,55). Wanneer ’n meerdere vergadering besluit, word dit nie ipso facto besluit van ’n kerkraad nie. ’n Kerkraad moet self sy besluite wysig en herroep en in ooreenstemming met dié van meerdere vergaderings bring (Pienaar sa:56). Die term “regeerliggaam” (Van der Linde, 1983:142) moet derhalwe nie vir ’n meerdere vergadering gebruik word nie en daar behoort ook nie van kerklike vergaderings gepraat te word asof elkeen eie sake het nie (Ibid 144). Meerdere vergaderings is bloot funksionele byeenkomste van plurale kerke om hulle kerkwees en kerkeenheid in gehoorsaamheid aan Christus ten beste te dien.

 

4. Die gemeente

Die artikel praat nie oor seggenskap van die kerkraad oor die gemeente of van die gemeente oor die kerkraad en individuele dienaars nie. Dit word basies veronderstel omdat dit reeds fungeer wanneer die kerke met mekaar die kerkordelike akkoord aangaan. Hierdie gesag is ook dieselfde bedienende gesag van Christus. Die gesag van Christus kom deur die werk van die Gees in die afsonderlike gelowige en in die historiese en sigbare bestaanswyse van

|221|

die gemeente na vore (Ridderbos 1965:196). Die apostels beroep hulle op die onderskeidingsvermoë en bevoegdhede van die gemeente (Rm 15: 14; Kol 2: 5; Fil 1: 5,6,9v; 1 Kor 5: 4; 2 Kor 8: 18,23, 1 Kor 16: 3). So moet die gemeente ook sy eie reëls vir orde neerlê en mag hulle nie op “vryheid” van Gees (charismata) beroep nie (1 Kor 14). Soos die apostel soms verordinerend oor die huwelik, houding teenoor offervleis, plek van die vrou in erediens, of nagmaal praat, beperk hy hom ook tot die gee van adviese (Ridderbos 1965:197 v).

Meerdere vergaderings moet ook met die bevoegdheid, selfstandigheid en vryheid van die gemeentes rekening hou. Die gemeente gehoorsaam self Christus om orde en tug daarvolgens te verseker. Ridderbos wys dat die apostel hom nooit oor die gemeente heen tot ampsdraers rig nie (1965:201). Die gemeente stuur Paulus en Barnabas na Jerusalem (Hd 15: 2). Hulle word deur gemeente, apostels en ouderlinge ontvang (Hd 15: 4) en die gemeente werk mee aan die publikasie van die besluit (Hd 15: 22). Kragtens die eenheid van die kerk (1 Kor 12) mag die kerkraad nooit eie heerskappy oor die gemeente voer nie. Die gemeente moet aan die Hoof meer gehoorsaam wees as aan die mense (Hd 4: 19).

“Die opvatting dat die gemeente nie as ’n onmondige of onselfstandige skare onder die outoriteit van aangestelde ampsdraers hoef te skik nie, maar die mag en roeping het om hulleself op te bou, vertoon prinsipieel die regte insig in die Pauliniese begrip van die gemeente en van die orde en reg wat in die midde van die gemeente moet geld” (Ridderbos 1965:201, vertaald). Die gemeente is aan dieselfde gesag en orde onderworpe waaraan elke kerklike vergadering onderworpe is.

Instrumente bedien wel die gesag van Christus in die gemeente (1 Ts 5: 12v; 1 Kor 16: 16,18; Fil 2: 29). Daar is kommunikasie in korporatiewe gemeenskap tussen Christus as Hoof en die gemeente as liggaam (Ridderbos 1965:203). Omdat die gemeente liggaam van Christus is, is daar geen volmag of amp sonder die gemeente nie en het Christus die gemeente van geen gesag uitgesluit wat slegs die amp of kerkvergadering oor sou beskik nie. Dit waarsku teen die populêre stelling (vgl Die Kerkbode 17.8.83) dat “lidmate hulle aan gesag moet onderwerp” wat in die “kerkverband en meerdere vergaderings” setel. Wie die gesag in die struktuur fundeer, vervang Christus as Hoof van sy kerk deur strukture.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Gedurende die 16de eeu is gevrees dat predikante wat in sinodes saamkom weer soos Roomse biskoppe oor staat en kerk sou wou regeer. Selfs kerkrade was baie bang vir ’n sinodale struktuur (vgl art 1 in Franse KO 1559; art 1 Emden 1571). Die kerke aanvaar in 1571 nie die uitgewerkte Kerkorde van Wezel 1568 nie, maar maak versigtig vir meerdere vergaderings voorsiening, waarna die kerkorde ontwikkel (1571-1619), op voorwaarde dat die selfstandigheid van die kerk en kerkraad onder gesag van die Hoof van die kerk (Christus) ononderhandelbaar gewaarborg word. Robert Parker van die Engelse

|222|

kongregasionaliste en Voetius het in dié verband sterk standpunt ingeneem en saamgewerk (Deddens 1984; vgl Bos 1950: 143-145).

Op ’n vraag in 1581 word pertinent geantwoord dat die kerke altyd “goeie” besluite van ’n meerdere vergadering moet nakom. ’n Besluit is goed wanneer kerkvergaderings gelyke en identiese gesag (“het selfde segghen”) uitoefen. Wanneer die Remonstrante kort daarna op die toneel verskyn, sê die kerke egter in 1599 dat die mindere vergaderings “in die algemeen” besluite van meerdere vergaderings moet nakom (Bos 1950:144).

Dit is ongelukkig moontlik om hierdie artikel deur die bril van Kollegialisme te lees asof kerkrade aan meerdere vergaderings ondergeskik gestel word en asof ’n sinode die hoogste gesag in die kerkgemeenskap voer (Spoelstra 1967:227). Die gees van die Reformasie (sola Scriptura) en die woordjie “dieselfde” weerspreek egter dié hiëragiese opvatting. Bouwman sê dat hierdie artikel nie oor die basiese en wesenlike kerkregering (vgl Calvyn Inst IV.121; KO artt 16,23,37,38,71-79) van die ouderlinge in die gemeente praat nie (1934:63), maar net handel oor die hulp wat meerdere vergaderings aan kerkrade gee. ’n Klassis en partikuliere of algemene sinode het gevolglik dieselfde bevoegdheid.

 

2. Gesag en seggenskap

“Gesag” en “seggenskap” is nie dieselfde nie. Gesag berus wesenlik alleen by Christus as Hoof van sy kerk (NGB 7,31,32), terwyl dienaars kragtens hulle roeping (art 3) “seggenskap” verkry (Van der Linde 1965:32). Hulle amp is om te regeer (Hd 15: 28; 1 Tm 3: 5; 5: 17). Die seggenskap dra egter in ampsvervulling en in kerkvergaderings altyd ’n bedienende en geestelike karakter en verskil daarmee wesenlik van gesag in natuurlike samelewingskringe (vgl 5de gebod).

Die seggenskap in die kerk moet die Woord van die Hoof van die Kerk, wat gesag dra, bedien. Die stelling dat Christus kerkrade en sinodes instel en met gesag beklee om te regeer (vgl NGK KO 1972 art 22; Van der Watt 1983:9), vind nie grond in die Skrif nie. Daarom gaan die stelling van Die Kerkbode (17.8.83) dat “lidmate, leraars en kerkrade” hulle aan die “gesag van die kerkverband en meerdere vergaderings” moet onderwerp “omdat dit is wat Christus van hulle verwag” nie op nie. Die redenasie om die kerkvergadering selfstandig gesag te gee omdat Christus dit sou ingestel het, berus op argumente waarmee Rome die onfeilbaarheid van die pous as regeerder namens Christus handhaaf.

 

3. Kerklike gesag

Die kerkorde is ’n basiese ooreenkoms (gesamentlike akkoord, Biesterveld, Kuyper 1905:240) tussen kerke. Sommige bepalings dra kerklike gesag en kan weer verander word (vgl artt 46,86). Gevolglik het artikel 31 KO vroeër duidelik gesê dat iemand ook op grond van die kerkorde regskrenking kan beweer

|223|

solank die betrokke bepaling nie deur ’n sinode verander is nie. Die vraag is egter of alle bepalings dieselfde gesag dra.

Meerdere vergaderinge het vroeër in konkrete gevalle na hulle besluite as “advies” vir kerkrade verwys. Dit eerbiedig die selfstandigheid van die kerkraad (art 30) sowel as belewing van kerkverband. Besluite bind slegs wanneer hulle op die Woord van God gegrond is.

Die vraag het gevolglik al in die Sinode van 1571 na vore gekom of kerklike vergaderings alle besluite met die Heilige Skrif moet bevestig. Die antwoord lui dat sake wat die gewete van gelowiges raak, met Gods Woord bevestig moet word, terwyl dit nie by “middelmatige” sake nodig is nie (Biesterveld, Kuyper, 1905:49 par 2; 127 par 1). Calvyn verwerp die aanspraak dat God mense as “geestelike wetgewers” oor die gelowiges aangestel het. Iemand wat ’n besluit wat slegs op kerklike gesag berus, nie onderskryf nie, mag nie daarin gedwing of vanweë “ongehoorsaamheid” getug word nie (Inst IV.10.vi,vii).

 

4. Dieselfde seggenskap

Hierdie woorde in artikel 36 beklemtoon dat in die kerk opsieners en verskillende kerkvergaderings dieselfde en enigste gesag wat in Christus setel en wat hy na geen ampsdraer of vergadering delegeer nie, moet bedien (Van der Linde 1983:143). Die “kerklike wyse” (art 30) en “kerklike weg” (art 33) en bediening van dieselfde gesag deur “dieselfde seggenskap” (art 36) hang onlosmaaklik saam. Die meerdere vergaderings bied aan die minderes slegs hulp om die een en dieselfde gesag te bedien. ’n Mens kan dit vergelyk met ’n voertuig wat bly staan. Daar kom net al meer kerke in meerdere kerkvergaderings by om die kerk(e) wat vasgeval het, te probeer uitstoot. Daarom het ’n vergadering van meer kerke nie groter of hoër mag as ’n mindere vergadering nie en is ’n klassis die eerste en belangrikste meerdere vergadering.

 

5. Oorspronklike en afgeleide gesag

Nederlandse kerkregtelikes soos Kuyper, Bouwman, Rutgers en ander het die mag en gesag wat die kollegialisme en die beginsel van volksoewereiniteit aan sinodes oor kerkrade verleen het, bestry deur aan die kerkrade “oorspronklike” durende mag toe te ken en vir die kerkvergaderings uit die kerkrade mag af te lei. Kerkrade en kerkvergaderings is as strukture in eie reg beskou (Spoelstra 1967:31v; 1977:50) hulle het van die “kerk” as ’n “liggaam” en nie van die koninkryk as dinamiese regering van Christus uitgegaan nie. Wie die gesag van strukture aflei, moet kerkreg in terme van reg in sekulêre samelewingsverbande vertolk.

Die Nederlandse kerkregtelikes het tereg opgemerk dat die ouderlinge en kerkraad tot die wese van die ordelike samelewing van die gemeente as kerk van God behoort. Sonder ouderlinge en kerkraad is daar geen plaaslike kerk nie, terwyl kerke (gemeentes) voor 1571 sonder sinodes as kerke van Christus in Nederland bestaan het. Dit het die Nederlandse teoloë van die oorspronklike mag en gesag in die kerkraad en afgeleide mag van sinodes laat praat omdat

|224|

die kerkrade na die samekomste afgevaardig het (Bouwman 1934:17,64; Spoelstra 1967:30). Hierdie opvatting koppel gesag aan kerkstrukture en bring dit nie in verband met Christus as Hoof van die kerk nie (Van der Linde 1983:144; Spoelstra 1977 45v). Dié opvatting is verwant aan kollegialisme behalwe dat dit die plaaslike kerk as kollegium in plaas van die sinode as “algemene kerk”, as uitgangspunt neem.

Wanneer die gesag van Christus en van Hom alleen afkomstig is, is daar ook geen sprake van groter of “opgehoopte” mag (potestas cumulata) by sinodes nie. ’n Klein kerkraad het dieselfde bevoegdheid as ’n groter kerkraad (Spoelstra 1967:229).

 

6. Kan ’n klassis ’n kerkraad afsit?

In die Geref Kerke van Nederland het herhaalde skeuringe voorgekom wanneer meerdere vergaderinge in teologiese dispute stelling geneem en kerkrade, predikante en ouderlinge geskors het wat ’n sinodale uitspraak oor ’n teologiese kwessie (wat nie die Belydenis direk op ’n essensiële punt geraak het nie) verwerp het (bv in die “vrymaking” van 1944). Hoewel sommige kerkregtelikes dissiplinêre ingrype van ’n klassis in ’n kerkraad regverdig (Van der Linde 1983:125), dui die regsposisie van die kerk en kerkraad (Pienaar sa:54v) in die teenoorgestelde rigting. ’n Klassis kan wel van ’n kerkraad en kerk verklarings verwag en voorwaardes stel vir samelewing in dieselfde klassikale verband — en indien ’n kerkraad bande verbreek, reël dat gelowiges wat in kerkverband wil voortlewe, onder leiding van ’n konsulent ampte gaan institueer (artt 37,38), sodat daar as ’t ware ’n ander kerk sigbaar word.

Spoelstra, B. (1989) Art. 37 & 38b

Artikel 37 en 38b

Die raad van ouderlinge

 

Artikel 37: In alle kerke moet ’n kerkraad wees wat bestaan uit die bedienaar(s) van die Woord en die ouderlinge, wat gereeld vergader onder voorsitterskap van die bedienaar van die Woord of die bedienaars om die beurt as daar meer as een is.

Artikel 38: As die aantal ouderlinge klein is, kan die diakens deur plaaslike reëling by die kerkraad gereken word; dit moet egter altyd gedoen word waar die aantal ouderlinge minder as drie is.

|225|

A. Kerkregtelik

1. Christus is die enigste Hoof van sy Kerk

Christus het primêr ter wille van die koninkryk, dit wil sê die heerskappy van God gekom (Mark 1: 14; Lk 4: 43; Heid Kat S 48). Die Gereformeerdes bely dus dat slegs Jesus Christus die Hoof van sy kerk is en dit behoort te regeer (NGB 27,28,31,32. Kyk by artt 2,3,29,36 ens). Die Gereformeerde Belydenis sê dus nie dat Christus die biskop of kerklike ampsdraers of kerklike vergadering as sodanig met gesag beklee het om namens Hom te regeer nie. Hy gebruik mense individueel en in vergadering as sy instrumente om sy Woord te laat bedien waarmee die Gees die ware kerk regeer (NGB 29,36). Hierdie Woord is die enigste herderstaf waarmee die herder-ouderling die volk by God en so in eenheid met hulle Hoof, Christus kan bewaar (NGB). Die kerk is 'n gestalte van die koninkryk wat gekom het en nog kom en daarom mag die kerk nie uitgangspunt wees vir amp en kerkregering nie. Die koninkryk moet vertrekpunt wees (Van Ruler 1952:16-24). In die kerkraad doen die ouderlinge (en soms ook diakens) saam hierdie koninkrykswerk.

 

2. Die wese van die kerk is volk van God

Die kerkraad dui vervolgens op die beginsel dat Christus net een liggaam, een gemeente, een kerk kan hê (Ef 4: 3-6). Die kerk is ’n vergadering of eenheid van gelowiges onder hulle Hoof Christus, waar God regeer. Volk en koning, koninkryk (heerskappy) en kerk staan in nou verband met mekaar, al kan ons dit nie identifiseer nie (Du Plooy 1982:33v; vgl Coetzee 1965).

Die volk of kerk is altyd mense, universeel as kerk van Christus en plaaslik sigbaar waar die gelowiges om die genademiddele vergader in die eenheid van ’n ware geloof en onder die tug van die Woord van God (Heid Kat S 21; NGB 27-29). Die gelowiges is as mense onderhewig aan sonde en aanslae van die bose op die kerk van Christus. Hulle moet daarom as kerk bedien en versorg word om kerk te kan bly (Mt 28: 19). Daarom is dit noodsaaklik om diegene wat Christus as Koning verwerp en Hom (nie die kerkraad nie!) hardnekkig nie wil gehoorsaam nie, met die sleutels van die hemelryk uit die koninkryk en so uit die kerk van God te sluit (Mt 16: 19, Heid Kat S 31; NGB 31,32). Calvyn gee die opskrif van die vierde boek van sy Institusie daarom: “Die uiterlike hulpmiddels waardeur God ons roep tot die gemeenskap met Christus en daarin bewaar”. Hy tipeer die verskillende bedieninge en bedienaars en dui daarna in hoofstuk II aan waarom die kerkraad van ouderlinge vir die tugoefening nodig is.

 

3. Die besondere diens van die ouderling, opsiener

Die kerkraad is gevolglik ’n sekondêre fase waarin die diens van ouderling of opsiener (biskop) vervul word. Die Skrifbeginsels vir hierdie diens is reeds by vorige artikels bespreek (kyk artt 2,16,23,74,75 ens). Om die kerkraad te verstaan moet ons presies weet wat “ouderling” in die Skrif beteken. In talle

|226|

kerkregtelike werke ontstaan verwarring oor wat die kerkraad is, omdat “ampsdraer” as sinoniem vir predikante, ouderlinge en diakens gebruik word en alle “ampsdraers” tot die kerkraad gereken word. Daarmee verval die gerigte herderskap of betekenis van opsiener-wees en word die “amp” aan “kerkraad” ontleen.

Die Skrif onderskei ouderlinge wat meer in besonder regeer van ouderlinge wat meer in besonder leer (1 Tm 5: 17, vgl Formulier vir Bevestiging van Ouderlinge). Hulle roeping verskil van dié van die diakens (Hd 6; 1 Tm 3, Fil 1: 1). Dit is wanneer kerkregtelikes aanneem dat die kerkraad die kerk (gemeente) basies regeer (vgl Kleynhans 1985:38; Voorwoord KO GKSA, 1979:12v) dat van “ampsdraer” of “kerkraadslid” in plaas van predikant, ouderling of diaken gepraat word.

Die ouderling moet in sy wyk of predikant in die gemeente individueel die tug van die sleutelmag (Heid Kat S 31) bedien in prediking, kategese, huisbesoek, evangelisasie. Wanneer sy tugbediening suksesvol is (Mt 18: 16), mag hy dit nie aan die kerkraad rapporteer nie (Mt 18: 15v; art 73 KO). Presbiteriale kerkregering geskied by Calvyn deur ouderlinge in die wyke en eers wanneer strenger tug bedien moet word, tree die ouderlinge gesamentlik op in die kerkraad (Pont 1981:29 artt 48-53}.

Teoloë neem in ons tyd die kerkraad en nie die ouderling nie as uitgangspunt vir die kerkregering, omdat hulle die vertikale band van die ouderling met die Hoof Christus (art 3) verplaas met ’n band tussen die ouderling en die kerk as organisasie. Die kerk word vandag oorwegend as instituut met eie personeel beskou. So sê Kleynhans: “Elke plaaslike kerk is ’n selfstandige en komplete kerk met sy eie ampte en bediening” (1982:34). ’n Breë kerkraad regeer die kerk of gemeente aan wie die ampte hulle bevoegdheid ontleen (Kleynhans 1985:38).

Paulus roep die “ouderlinge” van Efese byeen wat die Heilige Gees as herders en opsieners (regeerders) oor die gemeente van God gestel het (Hd 20: 17,28; vgl Tit 1: 5,7). God gee bepaalde mense as genadegawes (1 Kor 12: 28) in die diens van regering. Die regering is self ’n genadegawe (Rm 12: 6,8a; 1 Tm 3: 1,4) omdat dit die gelowiges by hulle verlossing bewaar. Die presbiteriale kerkregering gaan gevolglik van die ouderling (presbiters) van die gemeente individueel uit todat hulle met die oog op bepaalde probleme as ’n raad van die kerk saamkom en saam as kerkraad optree (kyk artt. 72-74).

 

4. Die unieke aard van kerkregering

Vir Rome moet kerkregering gehoorsaamheid aan die pous as verteenwoordiger van Christus en vir die kollegialisme gehoorsaamheid aan die besture van die kerk as organisasie verseker. Die heerskappy van Christus deur sy Woord en Gees wil egter gehoorsaamheid in die gemeente aan Christus verseker (Heid Kat S 21), sodat ’n ware kerk in ’n plaaslike geloofsgemeenskap sigbaar word.

Die kerkregering is geestelik van aard (kyk art 36). By die ouderlinge in die kerkraad berus daarom die wesenlike kerkregering waarby die karakter van ’n ware of valse kerk en “sleutels van die hemelryk” op die spel is (art 29 NGB; Heid Kat S 31). Die diakens het weer ’n eie regeertaak (Polman sa:17,35).

|227|

Baie dinge waarmee kerkrade hulle besig hou, naamlik geboue, beleggings, geskenke, voertuie, ensovoorts val op heeltemal ’n ander vlak en moet nie met die regering van die kerk as volk van God op een lyn gestel word nie (Van der Walt 1975:37-66).

 

5. Die Kerkraad

Die Roomse kerkregering gaan (tereg) van die opsiener uit, aanvaar dat die pous ’n konsilie van biskoppe kan gelas, maar ontken die band tussen amp en gemeente en daarom ’n kerkraad. Luther skep wel konsistories, maar dit is eintlik instrumente waarmee owerhede die leerdiens aan die volk voorsien. Bucer bring regerende ouderlinge in die gemeente naas die predikantouderlinge en diakens terug (Van ’t Spijker 1970). Calvyn volg Bucer in 1541 na en beding ’n selfstandige kerkraad van ouderlinge vir tugoefening by die Raad van Genève. Kragtens die aard van hulle roeping en diens, is die diakens vir die versorging van siekes en armes (Inst IV.3.viii,ix) en nie vir die bediening van sleutelmag verantwoordelik nie. Dit berus by ’n raad van ouderlinge (Inst IV hfst 11 en 12).

Apostels, ouderlinge en diakens tree in ampsgroepe op. Die Skrif praat van die apostels as die twaalf en van die diakens as die sewe. Van die “ouderlinge van die gemeente” word gepraat as ’n korps, eenheid of groep wat saam optree (Hd 11: 30; 15: 6,22,23; 20: 17; 21: 18; Fil 1: 1; 1 Pt 5: 1-3; Jk 5: 14; Van der Walt 1976:78) Hd 21: 18 praat van ’n samekoms van ouderlinge. Die Joodse raad van ouderlinge in die Ou Testament en sinagoges was prototipe vir die ouderlinge in die Nuwe Testament (Koole 1949). Die apostels rig hulle meesal direk tot die gemeente, soms tot die ouderlinge maar nooit tot ’n raad van die kerk soos die Sanhedrin nie. Beraad, gemeenskaplike oorleg vir ernstige besluit en samewerking om die wil van die Here vas te stel, is eie aan die wese van die kerk (Hd 15: 6,8,22,28; Gl 2: 14).

Die kerkraad regeer dus nie omdat dit as ’n liggaam op sigself deur Christus of die gemeente met gesag beklee is om die gemeente te “bestuur” nie. Die kerkraad is net ’n tweede gestalte na die individuele opsienerskap waarin die ouderlinge die Woord van God in kerkregering moet bedien (Calvyn Inst IV.11.i.vi). Soos wat die regering van elke ouderling vir Calvyn basies op “broederlike vermaninge” neerkom (Pont 1981:29 artt 48,52), moet die kerkraad aan hierdie diens van vermaning verdere diepte en trefkrag verleen (kyk artt 71-78). Die ingrypende bediening van die ban berus nie by die individuele ouderling of predikant nie, maar by die ouderlinge in die raad van die kerk (Calvyn Inst IV.11.1).

 

6. Wie vorm die kerkaad

Rome en Calvyn stem ooreen dat die enger kerkregering in die diens of amp van opsiener (biskop) bedien word. Al verskil hulle ingrypend oor hoe dit gebeur, gaan dit vir Rome en Calvyn basies om die koninkryk van God, dit wil sê die heerskappy van Christus deur die amp (Rome) of deur Woord en Gees (Calvyn). Beide Rome en Calvyn neem nie ’n bepaalde “kerk”, kerkvergadering,

|228|

denominasie of kerkstruktuur as uitgangspunt nie, maar begin met die opsienersamp wat die Here ingestel het.

Die laaste twee eeue het die aandag op die kerk as horisontale struktuur met “lidmate” saamgetrek wat sy identiteit aan sy konstitusie (kerkorde of kerkwet) ontleen. Die “kerk” wys “ampsdraers” aan om die kerk volgens die konstitusie te regeer. Volgens dié beskouing bestaan die kerkraad uit al die ampsdraers van die kerk. Die predikante, ouderlinge en diakens vorm die kerkraad. Volgens die Reglemente van die Kaapse Kerk vanaf 1824 het die Ring die eerste kerkraad op ’n plek ingestel en daarna kies die “kerkraadslede” en “oud-kerkraadslede” nuwe “ampsdaers”. 

Op die oog af lyk dit asof artikel 30 NGB en Franse Kerkorde van 1559 die diakens by die kerkraad reken. Ons meen egter dat die NGB en Franse KO afsonderlike vergadering van ouderlinge en diakens (kyk art 40) onderskeidelik as die senaat, konsistorie of raad in die kerk beskou het (vgl NGB 30; Pont 1981:52, art 20). Die totale regering het in afsonderlike “kamers” gefunksioneer. Hiervoor kan die volgende argumente genoem word:

(1) Calvyn noem self die predikante, ouderlinge en diakens in een asem (Inst IV, 3, viii) en Guido de Bres neem artikel 30 NGB waarskynlik hieruit, terwyl juis Calvyn die enger kerkregering aan die ouderlinge in kerkraad toewys (Inst IV, 11, iv).

(2) Wie die besondere Skrifgegewens roeping van die ouderlinge wat op opsienerswerk gerig is, in ag neem, moet soos Calvyn die bediening van die sleutelmag aan die herder-ouderlinge toewys, terwyl die diakens ’n ander diens vervul (vgl Pont 1981:30v).

(3) Die wyse waarop De Bres net na artikel 30 eksklusief oor die ouderlingdiens praat i v m die “enigste algemene Opsiener en enigste Hoof van die kerk” (NGB 31, 32), dui daarop dat hy by Calvyn aansluit. 

(4) Polman sê tereg dat die teoloë in die 16de eeu logika streng beoefen het en geen diskrepansie tussen kerkorde en geloofsbelydenis oor die kerkraad sou duld nie (Polman sa:25).

(5) Onmiddellik nadat die Franse Kerkorde van 1559 skynbaar ouderlinge en diakens saam die kerkraad laat vorm, wys die volgende twee artikels op die afsonderlike dienste van ouderlinge en diakens (Pont 1981:52 artt 20-24).

(6) Die eerste Sinode van Emden 1571 stel ook skynbaar, soos NGB 30, dat die “konsistories” uit predikante, ouderlinge en diakens bestaan (Pont 1981:103 art 6). Net die volgende Sinode te Dordrecht 1574 verklaar dat dit beteken dat predikante en ouderlinge aan die een kant en diakens aan die ander kant hulle “eie sake” behandel en elke ’n eiesoortige roeping in die regering van die kerk vervul (Polman sa:26). Die ouderlinge kan egter waar min ouderlinge is, die diakens in die “konsistorie” betrek (Biesterveld, Kuyper 1905:63 art 4). Polman sê dat die onderskeid sowel as die eenheid tussen die ampte gehandhaaf is, terwyl hulle saam die konsistorie vorm. Die Reformasie het ’n prinsipiële teenstelling sowel as te ver deurgevoerde eenheid van die ampte, nie geken nie. (Poman sa:29).

Polman (sa:28) meen dat diakens op party plekke op vaste basis by die ouderlinge as “assistent-” of “hulp-ouderlinge” gereken is. Dit verskil reeds van die NG Sinode 1978 wat sê dat diakens “volle sittingsreg op die kerkraad … in ooreenstemming met Skrif en belydenis” het (Kleynhans 1985:37). Tog stry

|229|

die stelling van Polman met die essensie van gereformeerde kerkregering in die 16de eeu, wat enige vorm van hiërargie afgewys het (kyk art. 84). Heerskappy van de ouderling oor die diaken met die begrip “hulp-ouderling” gaan nie op nie. Die kerkorde bepaal juis dat die diakens soms by die kerkraad gereken moet word om heerskappyvoering van die ouderlinge te probeer verhoed. Dit kan slegs gebeur indien die diaken ten volle gelykwaardig met die ouderling in die kerkraad dien.

Die kerkregtelike grond waarop die diakens by die ouderlinge vir bepaalde sake in die kerkraad sitting neem, moet gesoek word in die gawes van God waardeur die gelowiges selfstandig in die kerkregering meewerk. Die intieme wisselwerking tussen die dienste en gelowiges as gemeente beperk die regering nie eksklusief tot ’n oligargie nie (vgl 1 Kor 12). Die gemeente (en daarom die diakens) het bevoegdheid en roeping met die oog op die goeie orde en lewe van die gemeente (Ridderbos 1966:522-530). Die ouderling staan nie bo die gemeente of tussen die gemeente en Christus nie (Ibid 531). Gevolglik is dit voor-die-handliggend dat die diakens soms betrek sal word in die kerkraad (kyk art 2-5, 22, 24) en noodwendig moet bykom in buitengewone gevalle waar die kerkraad klein is. 

 

7. Kerkraad en gemeente

By die Roomse monargale biskoplike stelsel word die kerkregering deur die ampsdraers (clerus) oor leke uitgeoefen. Volgens die kollegialisme kom die gesag teoreties die “lidmate” toe, maar die gemeente moet konstitusioneel die wil van die besture en ampsdraers gehoorsaam, na wie hulle gesag gedelegeer is. So verplaas die kerkraad die gemeente en sê sommige selfs dat Christus die “ampte” in die kerklike vergaderings met gesag beklee het om oor die gemeente te regeer (Kleynhans 1985:38; Van der Watt 1983:11). Daar word gepraat van “kerkraadslid” wat eintlik hoër staan as gewone “lidmaat”. Sommige onderskei selfs tussen ouderlinge as “leke-ampsdraers” en predikante (Geldenhuys 1951) sodat die regering eintlik die predikante toekom.

Die Gereformeerde Kerkorde kan ook deur die bril van die kollegialisme gelees word (Kuyper 1883:52). In Nederland en in Suid-Afrika word die kerkraad dikwels teenoor die gemeente gestel asof die gemeente net die kerkraad moet gehoorsaam en geen belang by die kerkregering het nie. Daarteenoor het die individuele gelowiges volgens die Skrif ’n taak (Mt 18: 15v; 1 Kor 5: 12; 2 Kor 13: 5; Gl 6: 1; 2 Ts 3: 6-14; 2 Joh: 10). Ridderbos wys op die groot plek wat die gemeente in die kerkregering by Paulus en in die Skrif inneem (Ridderbos 1965:200v; 1966:479v). Die ouderlinge moet individueel en gesamentlik vermaan, bestraf en self die ban uitoefen waartoe die gemeente as liggaam van Christus geroep en by betrokke is (vgl 1 Kor 5: 12; 1 Kor 12). Die ouderling en kerkraad funksioneer in, vir en saam met die gemeente . Die kerkraad moet gedurig van sy handelinge deur afkondigings medewerking van die gemeente verkry. Dit gaan per slot van rekening om net een diens, nl. die diens van die Here self in sy kerk (vgl Mt 18: 17 en 2Ts 3: 14,15; Van Ruler 1952:73-79).

|230|

Wie loskom van die sterk kerksentriese en eksklusiewe ampsleer moet “gemeentevergadering” ’n beter plek in kerkregering gee as wat in die GKSA tans in teenstelling met die 19de eeu gebruiklik is. Aan die ouderlinge van die gemeente kom niks toe wat nie in die gemeente gegee is nie. Die gemeente is nie daar vir die “ampsdraers” nie, maar die dienste is gegee met die oog op die gemeente (Ef 4: 11v; Ridderbos 1966:494). Die ouderlinge en diakens gaan die gelowiges slegs voor in dienste waartoe elke gelowige en almal saam in die gemeente geroep is (1 Ts 5: 12). Die kerkraad kan en moet die gemeente betrek in die kerkregering. Die diakens is dus ’n logiese aanvulling vir ’n te klein getal ouderlinge binne die gemeente.

Dit is verkeerd om stigting van kerke die doel van ampsbediening te maak (vgl Floor 1964:21). Die Here het nie “kerke” gestig nie, maar slegs die dienste ter wille van sy koninkryk (heerskappy) geïnstitueer (Mt 28: 19; 1 Kor 12: 28; Ef 4: 11; Van Ruler 1952:61 v). Die onderskeie dienste is dus as ’t ware die ruggraat van die liggaam, nie die kop nie. Dit bly deel van die liggaam, hou die liggaam regop, bied die senuweekanale (Inst IV 3:11) waardeur die hoof na elke lid kan deurwerk. Dit verplaas nooit die hoof, die brein, nie. Die hoof funksioneer juis in en deur die dienste (1 Kor 12).

Die gemeente is dus georganiseerd en kan met ’n tempel of gebou vergelyk word wanneer die gemeente die beeld van die ware kerk (artt 28,29) vertoon. Die opsieners en kerkraad moet voortdurend weet dat die Here die gemeente mondig gemaak en toegerus het om verantwoordelik op te tree (Gl 5: 1; NGB 7,32; Calvyn Inst IV,10.vi, vii).

 

8. Die Bedienaar van die Woord presideer

In ’n biskoplike stelsel presideer die biskop met die hoogste rang in die konsilie. In kongregasionalistiese opset kan ’n voorsitter uit kerkraadslede gekies word. In die kollegialisme bepaal die konstitusie wie presideer. Gedurende die Reformasie was daar in die stede en dorpe gewoonlik meer as een predikant in ’n kerk. Dit is logies dat die leerdiens die kerkraad lei (kyk art 35) en dienaars om die beurt optree waar meer as een is.

 

9. Geen hiërargie of heerskappyvoering nie

Omdat Christus die enigste Hoof in sy kerk behoort te wees, mag een dienaar of ’n paar (kliek) nie oor ander gesag soos in ’n biskoplike of kollegialistiese stelsel voer nie. Die predikante is as dienaars gelyk (art 17). Kerkraad moet gevolglik uit genoeg ouderlinge bestaan om oorheersing deur 'n paar te voorkom. Die diakens moet op gelyke voet in die kerkraad dien wanneer die aantal ouderlinge klein is (kyk artt 17,84).

|231|

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Gedurende die Reformasie het gewoonlik ’n bestaande Christelike gemeenskap op ’n plek soos Genève tot die Reformasie toegetree. So ’n stadskerk het selfs sy eie kerkorde gehad (vgl Pont 1981:21). Die bedoeling was hoegenaamd nie om ’n ander kerk teenoor ’n Roomse “kerk” te stig, soos byvoorbeeld met die APK in 1987 die geval was nie. Net so het in die Nederlande voor 1571 op baie plekke selfstandige gereformeerde kerke in dorpe en stede bestaan, waarin predikante saam met ouderlinge soos in Genève die kerkraad gevorm het. Die diakens het die gemeente gelei om armes, vlugtelinge en siekes te versorg. Toe ’n kerkorde in 1571 aanvaar is, het “konsistorie” reeds in elke kerk bestaan (Pont 1981:103 art 6). Die volgende Sinode in 1574 “verklaar” dat “konsistorie” die afsonderlike handelinge van ouderlinge en diakens bedoel, terwyl die diakens waar min ouderlinge is bygereken word. Die bewoording van artikel 37 is in 1581 vasgestel (Biesterveld, Kuyper 1905:149 art 28). Die voorskrif van weekliks vergader is in 1964 na “gereeld” verander (GKSA 1964:59).

 

2. Die kerkraad

Die kerkraad bestaan volgens Calvyn in enger sin uit twee soorte ouderlinge: predikante (biskoppe) en herders (ouderlinge) (Inst IV.3.viii; 11.vi). Tog het die VOC vanaf die 17de eeu in Suid-Afrika die praktyk van klein kerkrade begunstig, sodat die diakens altyd tot die kerkraad gereken en by sake soos tug, sensuur, kategese, attestasies, ens betrokke was.

Mede as gevolg van teologiese invloed vanuit Nederland het die GKSA vanaf 1924 prinsipieel oor ampsdifferensiasie besin en het groter kerkrade meer algemeen geword. Geleidelik het die kerkraad (ouderlinge) minstens driemaandeliks vir die wyksverslae voor nagmaal en tugoefening sonder diakens begin funksioneer en as die “smal” kerkraad bekend geraak. Dié benaming is onvanpas omdat dit die struktuur en nie die diens beskrywe nie.

Van “weeklikse” kerkraad het in Suid-Afrika niks tereg gekom nie. As gevolg van verstedeliking en meer voltallige erediens-bywoning van ouderlinge kon kerkrade “weekliks” op Sondae by eredienste aandag aan dringende sake met betrekking tot attestasies, tugoefening, kategese, ensovoorts gee. Hierdie handelinge moet minstens as byvoegsels by die notule van die vorige formele vergadering aangeteken word (kyk art 34). Om besluite te neem in ’n “konsistorie” voor of na eredienste en dit nie te notuleer nie, is onordelik en gevaarlik (Spoelstra 1966:234).

Langs die “smal” kerkraad het die sogenaamde “breë kerkraad” in baie kerke as “gereelde kerkraadsvergadering” van ouderlinge en diakens maandeliks voortgegaan. Die “breë kerkraad” het dikwels sake behandel wat of by ouderlinge of by diakens tuisgehoort het. Tegelyktertyd het die idee ook in sommige kerke geheers dat die gemeente geen seggenskap het nie en dat

|232|

die kerkraad alleen oor stoflike belange, eiendomme en verpligtinge van die gemeente besluit. Hierdie opvatting bots met die Skriftuurlike gegewens oor die verhouding van kerkraad en gemeente. Die ouderlinge en diakens besluit saam oor finansies en eiendomme as trustees van die gemeente wat die eiendomme korporatief besit. Terwyl die kerkraad medewerking van die gemeente in tugprosedure moet verseker, is dit te meer noodsaaklik dat die kerkraad die gemeente se direkte belang by die stoflike sal eerbiedig. In sommige Nederlandse kerke is die behandeling van finansies en eiendomme aan ’n aparte kollege van “kerkvoogde” toevertrou.

Wanneer die breë kerkraad maandeliks vergader, veroorsaak dit dikwels baie en onnodige rompslomp. Talle kerkrade laat die ouderlinge en diakens net driemaandeliks (vgl art 81) saam vergader, terwyl afsonderlike vergaderings van ouderlinge en diakens met die oog op hulle onderskeie ampsbedieninge meer dikwels gehou word.

 

3. Kerkraadsvergadering 

3.1 Die Voorsitter

Die voorsitter is gewoonlik die bedienaar van die Woord, en waar meer as een is, moet hulle om die beurt presideer. In bepaalde gevalle mag ’n vergadering sonder ’n predikant as konsulent gelei word (art 5). ’n Ouderling kan in ’n noodgeval en onder bepaalde voorwaardes presideer (GKSA 1952 artt 134,218; 1907 art 13; KO-boekie 1979:45). Toerbeurte moet heerskappyvoering of hiërargie uitskakel (Bos 1950:150).

 

3.2 Bepaling van tyd en plek

Elkeen moet behoorlik kennis dra of kennis kry (waarvoor die voorsitter basies verantwoordelik is) van die tyd en plek van gewone en buitengewone vergaderings. Kennisgewing moet dus ’n billike tyd vooruit gegee word.

 

3.3 Die agenda

Notules en agendas van die “breë kerkraad” (kerkraad en diakens) kan in die reël vooraf versprei word om ’n vergadering voor te berei. Wanneer sensitiewe of persoonlike aangeleenthede egter ter tafel is, mag dit nie versprei word nie.

Die agenda behoort net na die notule gelees en vasgestel te word voor die vergadering sake begin afhandel. Aan die einde moet die agenda nie onder ’n punt “algemeen” oopgestel word nie. Daar kan egter dan ’n punt op die agenda vir ’n volgende vergadering geplaas word.

 

3.4 Vertroulikheid

Die vergadering van die kerkraad (ouderlinge) is vertroulik. Dit raak die naam en eer van mense wat beskerm moet word (Heid Kat S 43; Bos 1950:150).

|233|

Iemand wat die vertroulike aard van ’n kerkraad skend, sondig teen die 9de gebod en kan selfs vir laster in die openbare hof gedaag word.

Gewone “breë” en “meerdere” vergaderings is nie noodwendig vertroulik van aard nie, behalwe wanneer oor tug of versorging van persone gehandel word. Die beginsel in 1 Kor 12 roep om meer korrelasie en “oop-deure” tussen kerkraad en gemeente.

 

3.5 Kworum

Die kerkraad stel ’n kworum vas. In die reël vorm die helfte plus een die kworum. Hoe kleiner ’n kerkraad, hoe groter behoort die kworum gestel te word. Wanneer ’n kerkraad net-net ’n kworum uitmaak, behoort besluite feitlik eenstemmig geneem of anders uitgestel te word vir volle vergadering.

 

3.6 Algemene Ordereëls

’n Kerkraad bedien net soos ’n ouderling die heerskappy van die Here Christus. Besluite moet daarom met oorleg, versigtig en in volle oortuiging geneem word. Onbesonne, oorhaastige, kleinlike, verkeerde, dom of gestoomrollerde besluite strek tot oneer van die Hoof van die kerk en skade van sy kerk.

Basiese kerkordelike reëls (vgl bv by artt 30,32,34,46 ens) vir meerdere vergadering geld ook vir kerkrade.

Wanneer ’n vorige besluit verander moet word, behoort in die gees van artikel 46 eers op ’n vergadering kennis gegee te word dat op ’n volgende vergadering voorgestel sal word om die bepaalde besluit te herroep of te verander.

’n Kerkraad moet altyd oop wees vir probleme wat mense met kerkraads- of sinodebesluite mag opper. Dit is immers die kerkraad wat besluit van sinodes bedien (artt 33,46). Die sinodes het al verdwyn. Dit gebeur dat ’n kerkraad oordeel dat dit nie kundige genoeg is om oor sinodebesluite aangespreek te word nie. Dit is reeds ’n twyfelagtige argument op mense gebou (Ps 146: 3). In daardie geval mag die kerkraad ook nie ’n besluit wat hy nie kan verdedig nie, toepas nie. ’n Kerkraad moet self sy bedieningstaak vervul en dit nie verwys nie. Dit kan egter van oral advies en inligting inwin om tot ’n oordeel te geraak (vgl artt 33,41).

Die kerkraad en gemeente moet nie van mekaar geskei en teenoor mekaar gestel word asof ’n kerkraad ’n afsonderlike liggaam is wat oor die gemeente troon nie of wat langs die gemeente staan nie. Die kerkraad moet nooit ’n oligargie (kliek) op sigself of rondom die predikant word nie. Die kerkraad moet nie huiwer om saam met die gemeente te vergader in belang van die rus, vrede, opbou en bloei van die kerk nie (Spoelstra 1966:237).

Die kerkraad moet goed onderskei tussen prinsipiële en middelmatige sake. Wanneer Skrif, Belydenis en Kerkorde op die spel is, moet die kerkraad duidelik en ongekompromiteerd optree, al moet hy ook verdraagsaamheid teenoor ’n persoon oor ’n bepaalde afwykende standpunt beoefen (Calvyn Inst IV.1.xii, 10.xxxxi). Oor middelmatige sake mag die kerkraad hom nie op die vyfde gebod beroep en sy wil afdwing en oorheers nie. ’n Teenoorgestelde standpunt moet verdra en soms selfs waardeer kan word. Hierdie bedienaarsgestalte in plaas

|234|

van die heersersfiguur sou baie bloedspore van bedankings en kerkskeurings in die verlede verhoed het.

 

4. Omlyning van “smaller” en “breër” optrede van die kerkraad

Die kerkregtelike beginsels moet verhoed dat ons nie kerkraad, kerkraad en diakens en die gemeente in kompartemente afhok asof Jesus Christus ons in sy kerk aan strukture oorgelewer het nie. Hierdie “strukture” moet nie in en met ’n eie reg verabsoluteer word nie. Waterdigte afgrensing is onmoontlik. Tog het sinodes al probeer om tussen enger en breër optrede van die kerkraad te onderskei (GKSA 1930: art 37a). Die Kerkorde dui in artt 16,23,71-77 in verband met die kerkraad en in artt 4,5,10,11,13,17,22,24,81 in verband met kerkraad en diakens rigting aan. Die Bevestigingsformulier vir die besondere dienste dui die prinsipiële basis vir onderskeiding aan. Wat eksklusief by ’n besondere diens berus, word ook by ’n eksklusiewe vergadering behandel. So het Genève in die 16de eeu afsonderlike predikante, predikante-en-ouderlinge en diakenbyeenkomste geken (Pont 1981:25,29,30,42).

Die kerkraad moet toesien dat die predikant sy bediening van die genademiddele, kategese, huisbesoek, siekebesoek, evangelisasie en getuienis in die gemeenskap na behore uitvoer. Die wyksverslae van die ouderlinge meld beproewing of seën uit die gemeente of tuggevalle aan, wat volgens artikel 74 of 76 ter tafel moet kom. Die ouderlinge kan bepaalde teikens met die oog op bediening van die jeug, beroepsgroepe, oues van dae of spesiale probleemareas aanspreek. By hulle berus die toesig of geestelike regering (koningskap van Christus) wat die gemeente ware kerk maak.

Die diakens doen op (nie aan nie) die kerkraad verslag. Die ouderlinge mag nie die werk oordoen, voorskryf of oorheers nie, maar moet as “opsieners” oordeel of die diens in omvang, gehalte, kontrole, ens aan die Skriftuurlike norme beantwoord en die gemeente in gemeenskapsbeoefening aktiveer.

Die kerkraad saam met diakens handel in algemene sake waar die gemeente as geheel optree, bv by die roeping, bevestiging en versorging in die dienste. Hoewel die GKSA later anders oordeel, kan die ouderlinge die diakens ook byroep wanneer oor die ampswaardigheid van ’n ampsdraer geoordeel moet word. Die diskresie berus sedert die 16de eeu by die kerkraad wanneer hulle die diakens wil byroep (Bos 1950:148). Hoewel Bouwman (1934:117v) verskil, behoort die kerkraad saam met diakens vir die kerk te deputeer na die klassis wat ’n vergadering van kerkrade of ouderlinge is. Finansiële eiendom en ander sake wat tot korporatiewe gemeentebesit behoort, behandel die ouderlinge saam met die diakens as trustees van die gemeente, terwyl die gemeente hierin betrek behoort te word (Spoelstra 1966:239).

In sommige kerke eis kerkrade dat iemand wat ’n Bybelstudiekring, sending, barmhartigheidsaksie, fondsinsameling vir behoeftige kerke, uitstappe vir medegelowiges ens, wil loods eers “toestemming” van die kerkraad moet verkry. Agter die opvatting skuil die valse idee dat die kerk ’n vereniging is wat die kerkraad bestuur. Gevolglik wil die kerkraad soos ’n bestuur alle aktiwiteite inisieer, kontroleer en beheer. Dit kom op hiërargie neer en lê die kerk lam.

|235|

Christus het die broeders en susters in die “amp van die gelowige” vrygemaak (Gl 5: 1). Hulle kan enige diens individueel of saam met ander ten behoewe van hulle Here, medegelowiges of sending sonder die kerkraad onderneem. Die gemeente en ouderlinge moet wel daaroor toesig hou. Hulle tree egter eers op wanneer bewus of onbewus teen die suiwerheid van die leer of lewe gesondig word. Die behandeling van so ’n klag moet streng volgens artikels 71-79 KO geskied. Die kerkraad mag nie paternalisties oor die gemeente heers nie.

Spoelstra, B. (1989) Art. 38a & 39

Artikel 38a en 39

Instelling van die kerkraad en die klassis

 

Artikel 38a: Waar ’n kerkraad vir die eerste maal of opnuut ingestel word, moet dit geskied met advies van die klassis.

Artikel 39: Plekke waar nog geen kerkraad kan wees nie, moet deur die klassis onder die sorg van ’n naburige kerkraad gestel word.

 

A. Kerkregtelik

1. Die kerkraad is essensieel

Die gereformeerde kerkreg van die 17de eeu praat nie soos vandag kerksentries van die “stigting” of “afstigting” van kerke nie. Die leidende vraag is hoe die Christusregering op ’n plek bedien sal word. Die kerkorde neem ook nie die voortplanting van die “kerk” as vertrekpunt nie, maar vra hoe die regering van Christus bedien sal word.

Waar die koninkryk van Christus met Woord en Gees die kerk vergader (Heid Kat S 21) moet ouderlinge geroep word om te regeer (artt 2,3,23). Die regering kan egter eers verwesenlik word wanneer minstens drie (artt 37,38b) ’n kerkraad daarstel sodat die tug en ban in oorleg na beraad bedien kan word.

By Rome stel ’n biskop en by Luther ’n superintendent mense aan om oor die gelowiges toesig te hou. In die gereformeerde kerkreg word die ouderlinge normaalweg deur en uit die gemeente (Calvyn Inst IV.3.xv; 4.x) onder leiding van eie of naburige kerkrade geroep.

|236|

2. Die kerkraad is plekgebonde

Die eenheid in geloof word op ’n bepaalde plek sigbaar waar gelowiges hulle in die amp van die gelowige afskei van diegene wat die geloof nie deel nie om as ’n ware kerk die merktekens van die ware kerk te vertoon. ’n Gelowige is verplig om te kyk waar hy die ware kerk aantref om hom daar aan die regering van Christus te onderwerp (NGB 28,29). So ’n komplete kerk kan slegs op ’n plek gevind word waar die tug, kerklike sensuur of ban (Heid Kat S 31; NGB 32) na behore uitgeoefen word. Op so ’n plek moet daar genoegsaam gelowiges wees met genoeg manne wat oor die nodige gawes beskik om as ouderlinge geroep te word. Wanneer daar drie of meer ouderlinge (waarvan een ’n diaken mag wees) dien, kan daar ’n kerkraad ingestel word en funksioneer daar ’n komplete kerk. Die kerkraad is veral noodsaaklik vir die bewaring van die kerk op daardie plek (Heid Kat S 48; NGB 30). Die gelowiges kan die behoefte aan ’n eie kerkraad aanvoel, maar die oordeel oor waar, wanneer en hoe dit sal gebeur moet ordelik saam met die naburige kerke uitgemaak word.

 

3. Eenheid in Christus is kerkverband

Die kerk is universeel en plaaslik een liggaam van gelowiges onder een Hoof, Christus (Ef 1: 22; 4: 4-6; NGB 31). Gevolglik moet die kerke oral in dieselfde goeie orde bestaan wat die ware kerk kenmerk. Die kerke is gebou op die leer en voorskrifte van die apostels (Ef 2: 20), sodat hulle in kerkverband staan. Die apostels het voor daar kerkvergaderings was, toegesien dat dieselfde orde in naburige kerke toegepas word. Hulle en hulle opvolgers het inisiatief geneem om ouderlinge van plek tot plek in te stel (Hd 1: 26; 6: 3,6; 14: 23; Tit 1: 5). Du Plooy het aangetoon dat die apostolisiteit van die kerk inhou dat die ouderlingamp aan die plaaslike kerk verbonde, maar nie daarin gebonde is nie. Die regering wat die ouderlinge bedien, strek selfs verder as die eie gemeente (1982:177). Daarom kan kerke oor mekaar toesig uitoefen sodat hulle die kentekens van die ware kerk vertoon (Du Plooy 1982:179).

Die kerke doen nou met mekaar in kerkverband deur middel van kerkvergaderings wat die apostels aan die begin gedoen het. So moet die naburige kerke, wat waarskynlik al meegewerk het aan die groei wat tot die behoefte aan ’n kerkraad lei, meewerk aan die instelling van ’n nuwe kerkraad. Kragtens die gemeenskap in Christus word kerkverband beleef (Heid Kat V/ A 55), ook op plekke waar nog nie ’n kerkraad kan wees nie. Die eerste en intiemste belewing van kerkverband tussen kerke vind in die klassis plaas. Gevolglik maak die kerke in klassis ’n inset waar die instelling van ’n nuwe kerkraad oorweeg word.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van artikels 38 en 39

Die bepalings in artikels 38 en 39 oor die instelling van kerkrade of ten opsigte van plekke waar nog geen kerkrade kan wees nie, was besonder aktueel tydens

|237|

die reformasie toe talle Roomse gemeenskappe gereformeer het en kerkrade moes instel. Rome het kerkrade nie geken nie. Op sommige plekke kon vlugtelinge voor Spaanse en Roomse vervolging weer terugkeer en moes “opnuut” kerkrade ingestel word. Gedurende die Afskeiding van 1834, Doleansie 1886 of vandag waar sending of migrasies gereformeerdes op plekke begin saamtrek, moet artikels 38 en 39 nagekom word. Dit word egter oorwegend gebruik waar ’n kerkraad by die sogenaamde “afstigting” of “stigting” van kerke ingestel moet word.

Te Emden 1571 moes die klassis predikante in behoeftige kerke onderhou, vir kombinasies sorg en predikante moes “verstrooide gemeentes” in bepaalde gebiede “aanpor” om selfstandig predikante te beroep (Pont 1981:108 art 40). Predikante het destyds doelbewus op plekke ’n gemeente gaan uitwerk (art 7). Sodra gawes aanwesig was, is ouderlinge en diakens bevestig (Biesterveld, Kuyper 1905:100 art 11 van 1578).

die oudste kerkordes aanvaar die plig en reg van gelowiges om op ’n bepaalde plek onder leiding van ’n dienaar van die Woord ouderlinge (en diakens) te verkies. In 1586 word die huidige artikels 38 en 39 geformuleer, behalwe dat (vgl 38) by die “opnuut” instel van ’n kerkraad die klassis geken word en (vgl 39) die klassis sou doen wat ’n kerkraad moes doen op ’n plek waar nog nie ’n kerkraad is nie (Biesterveld, Kuyper 1905:201 art 35). Tegnies was artikel 39 natuurlik in stryd met artikel 30 KO totdat die kerke in Nederland dit in 1905 gewysig het, sodat die klassis verspreidwonende gelowiges aan ’n naburige kerkraad toewys (Van der Linde 1983:148).

 

2. Advies van die klassis vir instelling van ’n kerkraad

Die bepaling dat die klassis oor die instelling van ’n kerkraad moet adviseer, dateer eers vanaf 1586 en wil dus eerder orde as ’n beginsel dien (kyk NGB 32). Die klassis moet ’n groepie gelowiges of ’n naburige kerkraad adviseer wanneer ’n kerkraad op ’n bepaalde plek ingestel moet word. Die werklike instelling berus egter by die gelowiges ter plaatse, alhoewel verwag word dat kerkrade die advies sal opvolg. Advies wat op prinsipiële oorwegings, soos die afwesigheid van ampsgawes, berus is meer bindend as advies wat op middelmatige oorwegings soos byvoorbeeld finansies berus (art 30; Calvyn Inst IV.9.viii; 10.vi). In buitengewone omstandighede mag gelowiges ’n kerkraad selfs sonder enige advies van ander kerke op ’n plek instel (Van der Linde 1983:149).

Die klassis het vir advies sekerheid oor basiese vereistes nodig: die aantal gelowiges op daardie plek, die aanwesigheid van voldoende ampsgawes, die ligging van daardie plek ten opsigte van naburige kerke, bedieningsvooruitsigte, ensovoorts. Die klassis mag die verhouding tot naburige kerkrade of prognose van demografiese, ekonomiese of politieke ontwikkeling daarby oorweeg en selfs vra of die nuwe kerkraad finansieel en andersins vir die bediening van die Woord en sakramente sal kan sorg.

|238|

3. Die plek waar ’n kerkraad ingestel word

Die “plek”, stad, stadswyk, dorp of selfs plaas waar ’n kerkraad ingestel word, is belangrik en moet aan bepaalde vereistes beantwoord. Die aangewese plek moet werklik ’n sentrum vir gemeenskap wees en mense reeds vir sakebelange, skole of maatskaplike belange bedien. ’n Kerk bestaan nie in isolasie nie. Wanneer ’n kerkplek, om watter ekonomiese of sentimentele redes ook al, op ’n uithoek geleë is, dien dit nie gemeenskapoefening nie en kom dadelik probleme oor byvoorbeeld bywoning van eredienste na vore.

In bloeiende stadswyke moet ook nie te maklik ’n tweede kerkraad naas die bestaande ingestel word nie. Daar moet liewer meer as een predikant in dieselfde kerkraad dien. Predikante dien die kerk met verskillende gawes, een kerkraad is goedkoper en kan toekomstige ontwikkeling ekonomies en demografies beter verwerk. Belange van ’n predikant mag nooit tot “afstigting” of ’n nuwe kerkraad lei nie. Die kerkplek moet die plek wees waar gelowiges lewende en natuurlik gemeenskap in geloof ten volle kan beoefen. Mense moet nie kunsmatig uitgekeer word net om ’n “kerk te stig” nie en moet nie gedwing word nie. Dit moet nie formeel oor “lidmate” gaan nie, maar oor bediening. Mense wat in werklikheid te veraf woon om natuurlike gemeenskap met die gemeente op daardie “plek” te beoefen, moet volgens artikel 39 as verspreidwonend bedien word.

 

4. Instelling van kerkrade (soms genoem “afstigting” van kerke)

Wie die “kerk” as uitgangspunt neem, werk basies met die idee dat die kerk as kollegium of vereniging op ’n bepaalde plek “gestig” of van ’n “moederkerk” afgestig moet word. Die nuwe “kerk” (struktuur) beslaan ’n bepaalde gebied en met vasgestelde grense. Wanneer die kerk “afstig” moet daarvoor ’n kerkraad as bestuur ingestel word. In die kollegialisme gaan die kerk aan die kerkraad vooraf.

Daarteenoor behou Rome, al pas hulle dit verkeerd toe, baie meer van die vertikale Skriftuurlike kerkbegrip wanneer hulle aanvaar dat sodra ’n priester die gesag van die pous en sakramente op ’n plek bedien, is die pous en so die kerk van Rome daar aanwesig.

Opvallend genoeg het vanaf die 17de eeu, namate die kerk as ’n objektiewe vereniging vir mense beskou is, die motief om “eie” kerke te stig baie sterk na vore getree (vgl Van der Watt 1977; APK 1987). Opposisie-kerke is soms om blote politieke redes gestig terwyl die “kerk” ook weer sy struktuur op een en almal wou afdwing (Spoelstra 1963:70v;139v). In Nederland kom in die begin van hierdie eeu die motief van “kerkformatie” (Bos 1950:153) in die plek van instelling van ampte en ’n kerkraad op die voorgrond en verkry ook in die GKSA voorrang bo ’n meer bedieningsgerigte benadering. Dikwels is “afstigting” ten duurste gerealiseer “om meer predikante te plaas” asof elke biskop noodwendig ’n eie kerk moes hê. Soms is weer op afgeleë plekke nie ’n kerkraad ingestel nie, hoewel daar drie of meer ouderlinge dien, om te keer dat die kerk

|239|

“klein” sou wees of dat die kerk “wat afstig” in kombinasie met ’n ander sou moes tree.

Voordat ’n nuwe kerkraad op ’n plek ingestel word, moet noukeurig op versklllende aspekte ingegaan word. Die kerkraad moet vir die bediening op daardie plek noodsaaklik wees omdat bediening nie effektief vanaf ’n ander kerkraad behoorlik kan plaasvind nie. Die sentrum van die nuwe kerkraad moet natuurlik en geskik vir kerklike gemeenskap wees en die ou en nuwe kerkrade moet groei en gesonde bediening kan voorsien. Nuwe kerkrade word meestal nodig in gebiede waar plotseling, byvoorbeeld as gevolg van mynbou of stedelike ontwikkeling, gelowiges begin saamtrek of waar as gevolg van sending of doelbewuste evangelisasie ’n kerk vergader word.

Die aansoek om bediening of om ’n eie kerkraad kom partymaal van mense wat bediening verlang, soms van ’n naburige kerkraad wat die nood raaksien of soms van buitestaanders. Die GKSA het hiermee aktueel in verband met bediening in Angola, Argentinië, Kenia, SWA en Zimbabwe te doen gehad. By die instelling van ’n afsonderlike kerkraad moet die motivering kerklik gegrond wees en aantoon dat ’n nuwe kerkraad vir kerk-wees noodsaaklik is. Argumente met betrekking tot lidmaatgetalle, finansies, “bruidskat”, gerief of meer standplase vir predikante is van relatiewe sekondêre of geen belang.

Die aansoek om advies by ’n klassis word in later jare gewoonlik in die vorm van ’n “akte” vir “afstigting” van kerk gegiet, omdat die idee van “kerkformasie” in die Doleansie van Nederland besonder benadruk is (Kuyper 1883:27-82). Vir die “te stigte kerk” word dan “grense” voorgestel, aangedui watter “lidmate” die “nuwe kerk” sal hê, gesê of die kerk in kombinasie sal optree en hoe die finansiële vooruitsigte lyk. Hierdie benadering beskou die kerk as ’n “ding” (kollegium) vir “lidmate” wat deur grense bepaal word. Die klassis amendeer moontlik die “grense” in die lig van naburige kerke en wys ’n classis contracta vir die “afstigting” aan.

Die kerkorde stig nie ’n kerk nie, maar voorsien ’n kerkraad vir mense wat die kerk is. Die gelowiges (kerk) word op ’n bepaalde plek saamgeroep. Dit is nodig om te weet wie die gelowiges is wat bedien moet word. Onder leiding van die konsulent, in teenwoordigheid van verteenwoordigers van naburige kerke, verkies die gemeente ampsdraers, wat na approbasie dadelik bevestig word. Indien reeds meer as drie saam met die gelowiges oorkom is dit onnodig om een oomblik “ontslag” te verleen by een kerk om die ander oomblik weer in dieselfde diens bevestig te word. Hierdie optrede koppel die diens te veel aan ’n ou en nuwe kerkstruktuur. Die ampsdraers staan in ’n diens van Christus, nie van kerke nie. Predikante wat verhuis ontvang nie eers ontslag om daarna bevestig te word nie. Dienende ouderlinge en diakens kan in die nuwe gemeente selfs sonder verdere verkiesing onder leiding van die konsulent met of sonder byverkose ouderlinge en diakens, as kerkraad konstitueer, ’n skriba aanwys, notuleboek en lidmaatregister aanlê, reëlings vir finansiële administrasie en beheer tref, ensovoorts. Daarmee is die nuwe kerkraad geïnstitueer.

Finansies knyp dikwels die nuwe kerkraad. Mense mag nie meganies ter wille van bydraes uit naburige kerke in nuwe “grense” ingedwing word nie. Die argument dat die klassis (as soort hoër gesag) die “grense” voorskryf, gaan nie op nie. Die bediening hoort by die kerkrade tuis wat die mense versorg

|240|

(art 30) en die gelowige dra self ook verantwoordelikheid van keuse van ’n gemeente waar hy hom voeg (NGB 28) om ten beste saam te leef en bedien te word. Kerkrade mag mense probeer oorreed in hulle keuse, maar kan hulle nie dwing nie.

 

5. Kerke staan in gemeenskap met inkomplete kerke

Gedurende die Reformasie het die eerste Sinode 1571 die ouderlinge reeds aangespoor om in naburige stede en dorpe geloofsgenote as kerke of “beginselen van kerken” te laat saamkom (Bos 1950:151). Toe is ook al advies van die klassis nodig geag en byvoorbeeld geadviseer dat voorgangers kleiner groepe (wyke op ander plekke) by naburige groter kerke in een kerkraad kon saamvoeg (Bos 1950:152). In 1905 word die Kerkorde in Nederland tereg gewysig om gemeenskappe wat nog nie ’n kerkraad regverdig nie, onder sorg van ’n naburige kerk te stel met advies dat die gelowiges op daardie plek afsonderlik administreer moet word, al deel hulle in dieselfde voorregte as die kerk wat versorg (Bos 1950:152). Wie die eenheid van kerkstruktuur beklemtoon, beveel nie die afsonderlike administrasie aan nie (Van der Linde 1983:152). Inkomplete kerkgemeenskappe vereis egter eiesoortige en afsonderlike administrasie omdat dit die werklike situasie weerspieël en kerkgroei stimuleer.

 

6. Bediening van Verspreidwonendes

Die Westelike Klassis het aan bediening van verspreidwonendes gedurende die vyftigerjare stelselmatig aandag gegee en die neiging om “op ’n meganiese wyse grense so wyd as moontlik” te stel, ontmoedig. Dit het mense as ’t ware by ’n kerk gedink, terwyl hulle ver was. ’n Kerk is mense wat op ’n plek saamleef en gemeenskap oefen. Waar dit nie kan gebeur nie, verkeer iemand fisies en werklik buite daardie kerk, al sou hy formeel as “lidmaat” aangeteken word.

Naburige kerke in klassis moet doeltreffende versorging van verspreidwonendes op “eie meriete” onderneem. Verspreidwonendes moet as “voorposte” van kerkgroei en nie as agterhoede van bestaande kerke behandel word nie. Gevolglik moet ook die name van ouderlinge in sentra waar nog nie ’n kerkraad kan wees nie, in die Almanak van die GKSA aangedui word (vgl GKSA 1961:446-449). Hierdie benadering het die bediening in die Klein Karoo en Suid-Westelike Kaap gestimuleer. Lidmateregisters is afsonderlik gehou. Notules van vergaderings van ouderlinge en diakens in die verspreidwonende wyke is aan die betrokke naburige kerkraad voorgelê. Geleentheid is vir verspreidwonendes geskep om eie fondse op te bou en selfs eiendomme in byvoorbeeld Cradock en Stellenbosch aan te koop, voordat daar ’n afsonderlike kerkraad ingestel is. Die kerke wat verspreidwonendes bedien, het jaarliks verslae in die klassis voorgelê en kerklike meelewing, finansiële ondersteuning en besef van gereformeerde bediening op afgeleë plekke gestimuleer. Met finansiële steun van naburige kerke is selfs predikante vir verspreidwonende bediening beroep. Weldra het groei die instelling van ’n hele aantal kerkrade op verskillende plekke moontlik gemaak.

|241|

Die beginsel dat ’n kerkraad deur die klassis aangewys word om verspreidwonende mense te bedien, stel die klassis verantwoordelik om te oordeel wanneer mense as sodanig en selfs in die buiteland bedien moet word (GKSA 1955 art 245:1973 art 21).

Wanneer ’n klassis ’n naburige kerk vir verspreidwonende bediening verantwoordelik stel, moet daardie kerk dit as ’n voorreg in diens van Christus aangryp. Ander kerke moet, waar nodig, finansiële ondersteuning gee vir die bediening waarvoor die kerke in klassis kragtens die eenheid in Christus saam verantwoordelikheid dra. Die kerke in klassis kan dergelike voorposte ook met finansiële hulp bystaan om eie vergaderplekke te bekom. Juis die kerke in die Boland het eie bedieningsfondse in die lewe geroep. Die “verspreidwonendes” moet egter ook self hulle verantwoordelikheid besef en trag om die gereformeerde godsdiens uit te dra, gelykgesinde gelowiges op te vang en kerklike gemeenskap te beoefen, selfs al is daar nog geen eie kerkraad nie. Op hierdie wyse het die Christendom in die eerste paar eeue oor die wêreld versprei.

Spoelstra, B. (1989) Art. 40

Artikel 40

Vergadering van die predikant en die diakens

 

Artikel 40: Die diakens moet gereeld saamkom om met die aanroeping van die Naam van God te handel oor die sake wat hulle amp aanbetref en die bedienaar van die Woord moet daaroor goed toesig hou en, indien nodig, daarby teenwoordig wees.

 

A. Kerkregtelik

1. Die diakens moet gesamentlike oorleg pleeg

Elke individuele diaken is geroep om onderlinge gemeenskap in sy wyk te bevorder tussen wie kan help en wie as gevolg van armoede, siekte, eensaamheid, ouderdom, vreemdheid, weduwee- of wewenaarskap of as wese in nood verkeer. Liefde en ouderlinge hulpbetoon realiseer reeds daadwerklik verlossing en ’n nuwe lewe in Christus en die gemeente vir die wat in nood verkeer en vir die wat kan help (Hd 4: 32,34).

Die kollege van twaalf apostels het gesamentlik in Jerusalem goedere vir die gemeente ontvang, oorleg gepleeg, nood bepaal en slegs wat nodig was, uitgedeel (Hd 4: 34c,35). Toe probleme weens die omvang van werk opduik, is die bediening van die tafels aan ’n kollege van sewe diakens toevertrou (Hd 6: 3,21:8). Die gemeente van Rome het eeue lank met presies sewe diakens

|242|

volstaan (Spoelstra 1969:8). Die diakens het saam met die Biskop ’n kollege vir versorging gevorm. Die diakens moet dus ook gesamentlik, met onderlinge raadpleging en oorleg hulle bediening uitvoer.

 

2. Die diakens is slegs instrumente van Christus

Die kerkorde skryf dieselfde reël vir die diakens voor as wat artikel 32 vir die ouderlinge bepaal. Met die gebed bely die diakens dat hulle slegs instrumente is in die hand van die Here wat hulle geroep het (kyk artt 2,3). Hy moet hulle deur sy Woord lei en met die Gees verlig sodat hulle die diens sonder menslike oorwegings waarlik in Christus van, vir en uit die gemeente sal laat uitgaan. Die verlossing deur en gemeenskap in Christus kom juis in die gewone lewe van die gemeente na vore. Soos die ouderlinge die dissipline behartig, moet die diakens die gemeente lei om onderlinge liefde te betoon (Hd 2: 42,46; 4: 32; Rm 13: 8; 2 Kor 8: 8; GI 6: 10).

 

3. Die Bedienaar van die Woord hoort by die diakens

Die diens van die Woord verkondig God se liefde en barmhartigheid in Christus, wat die gelowiges ontsluit om self ook liefde en barmhartigheid uit dankbaarheid na buite te betoon (Heid Kat S 38). Na regte behoort die predikant as Bedienaar van die Woord ook voorsitter by die diakenvergadering te wees, soos in die kerkraad gebeur (kyk artt 35,37). Die stoflike versorging van die diakens val sonder die diens van die Woord plat. Voordat die platoniese dualisme die geestelike verheerlik en die stoflike as minderwaardig beskou het, het die apostels as bedienaars van die Woord en gebede ook die hele gemeente aan die tafels tydens die liefdesmaaltye stoflik versorg. Eers toe die bediening van tafels te omvangryk geword het en die bediening van die Woord en gebede belemmer het, is die diakendiens aan ander toevertrou (Hd 6: 2-4).

Prinsipieel beskou is dit logies dat die Bedienaar van die Woord in die diakenvergadering sou presideer. Klassisse het dit gedurende die Reformasie selfs voorgeskryf (vgl Bos 1950:155; Kampen 1596). Die predikant is dikwels die eerste adres waar om diakonale hulp aangeklop word. Hy moet mense in hulle totale nood bedien en hy kan hom nie van fisiese noodleniging losmaak deur sy diens net aan “siele” te koppel nie. Diakendiens is selfs in die Reformasie as “gesubordineerde dienst van pastorale bediening” beskou (Bos 1950:156).

Hoewel predikante tans plaaslik nie in diakenvergaderings presideer nie, doen hulle dit wel waar kerke gesamentlik diakenwerk by tehuise, sustentasie aan behoeftige kerke of noodleniging binne- en buitelands onderneem. Die kerkorde erken die leidende posisie wat die diens van die Woord aanneem, wanneer die predikant as opsiener (Biskop) op die diakenvergadering aangewys word. Tog mag hy nie op sy amp aanspraak maak om as persoon oor die diakens te heers nie. Verskil van mening tussen diakens of die predikant en diakens moet in die kerkraad besleg word (kyk art 25; Bos 1950:155v).

In die vroeë Christelike kerke het die diakens stoflike gawes ontvang, geadministreer en onder toesig van die biskop(pe) verantwoordelik en versigtig

|243|

gebruik om kerklike dienaars en armes te versorg (Calvyn Inst IV.4.v-vii). Biskop en diaken hoort bymekaar. Calvyn stel in 1537 sy eerste kerkorde net vir predikante en diakens op. Die dienste van predikant en diaken vul mekaar op ’n besondere wyse aan. Juis die verkondiging van die koninkryk wat gekom het, bring nou al nuwe lewe na vore al moet die volmaakte nog kom. Nuwe lewe, verlossing uit nood hier en nou, verkondig die volkomenheid van die ryk wat kom. Van al die dienste waarvan 1 Kor 12: 28 en Rm 12: 7,8 praat, het volgens Calvyn slegs dié van regering deur opsieners en versorging deur diakens oorgebly (Inst IV.3.viii.ix).

Die intieme en komplementerende funksie van die geestelike bediening deur predikante en stoflike versorging deur diakens het nie in gereformeerde kerke na behore ontplooi nie. So veel as van die leer gemaak is, so terloops is die diakenwerk dikwels behandel. Moontlik het die inmenging van die Christelike staat gedurende die 16de eeu die diakens tot welsynswerk vir die staat beperk. Verder het die piëtisme dikwels so op die “wen van siele” en die “hemel” nadruk gelê dat op fisiese noodleniging neergesien is as iets wat niks met godsdiens en kerk-wees te doen het nie.

 

4. Die diakens dien die wese van die kerk

Calvyn onderskei twee elemente wat die kerk aaneen hou. Die eerste en vernaamste is eenstemmigheid oor die gesonde leer waarvoor die predikante en ouderlinge in die ware kerk moet sorg. In die tweede plek word die kerk volgens Calvyn deur gemeenskap in broederlike liefde bepaal (Inst IV,2.v; Heid Kat V/A 55). Die gereformeerdes het tradisioneel te min van die praktiese gemeenskap van die heiliges gemaak en noodleniging versaaklik en tot die minimum verskraal. Die marxisme en neo-marxisme verwyt die kerke vandag dat hulle gepraat, maar nie gedoen het nie. Die diakens het in gereformeerde kerke, in vergelyking met erns oor die leer en sedes duidelik tweede viool gespeel (Spoelstra 1963b; 1977a:38; Du Plessis 1969:25). Na regte moet die diakens eintlik die komponiste van die kerk as ’n gemeenskap in liefde gewees het (Von Meyenfeldt 1955:194,40). ’n Mens kan net dink hoeveel sterker die gereformeerde kerke vir Christus sou getuig het, indien hulle ortodoksie en sedelike ortopraktyk ook van daadkragtige liefde en barmhartigheidswerke onder leiding van gemotiveerde diakens vergesel gewees het.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Gedurende die Reformasie tree diakens onmiddellik saam met predikante na vore. Die Roomse teenhervorming en vervolging het armoede verskerp. Massas gelowiges moes vlug. Hele vlugtelinggemeentes het soms in naburige lande en stede op die barmhartigheid van medegelowiges oorlewe.

In Genève was twee soorte diakens: vier penningmeesters of arme-diakens met die oog op armsorg en naas hulle hospitaaldiakens vir hospitaalbestuur

|244|

en sorg vir behoeftige siekes. Een of twee arme-diakens kon in noodgevalle sonder ’n vergadering besluite neem. Die predikante en verteenwoordigers van die Geneefse Raad moes oor die werk van armversorgers en hospitaaldiakens toesig hou (Pont 1981:30 artt 56-67). Die Konvent van Wezel 1568 identifiseer bediening van die tafels verkeerdelik met armversorging en staan ook twee soorte diakens voor (Biesterveld 1905:20v).

Wanneer die kerkorde by Emden 1571 begin ontwikkel, word die diens en vergadering van diakens aanvaar en slegs bepaal dat predikante en diakens nie te maklik rondtrekkende armes op naburige kerke moet aflaai nie (Pont 1981:103,108).

In 1574 word die weeklikse vergadering van diakens veral op armversorging toegespits en die diakens aangesê om advies van die konsistorie in moeilike gevalle aan te vra. Die konsistorie moes maandeliks die rekenings kontroleer (Biesterveld, Kuyper 1905:72 art 33-36). Middelburg 1581 neem die gereelde kerkraadsvergadering as voorbeeld en bepaal dat die diakens “net so” (vgl kerkraad art 37) weekliks sou saamkom om oor hulle amp te handel (Ibid 149). By Den Haag 1586 word die huidige artikel geformuleer, waarvan die Sinode Potchefstroom 1964 slegs die woorde “net soos” weglaat en “weeklikse” met “gereelde” byeenkoms vervang. Die kerkraad (art 37) dien dus as voorbeeld vir ’n parallelle diakenvergadering.

 

2. Die diens en vergadering van die diakens

Die idee van ’n Christelike staat en staatskerk het die diakens in Wes-Europa offisiële welsynswerkers van die staat gemaak wat armes, siekes, oues van dae, wese, en so meer namens die gemeenskap versorg het. Dit het die kerklike karakter van die diens verswak. Die Formulier vir die Bevestiging van diakens het lank op grond van verkeerde eksegese die tafels in Hd 6 met armes vereenselwig. Die diakens of diakonie het gevolglik meestal vergader om voorkomende “gevalle” van armoede en ’n paar omsendbriewe van “sinodale deputate” te oorweeg. Die GKSA het dit in 1982 verander (kyk GKSA 1979: 592-596;1982:468-469).

Tot ongeveer 1930 het die diakens, behalwe hulp aan behoeftiges in die gemeente, weeskinders (wat destyds veelvuldig voorgekom het) by familie of ander gesinne in die gemeente uitgeplaas. Tydens die depressie op die Witwatersrand wen ’n beweging veld om, op voetspoor van ander kerkgemeenskappe, tehuise vir onversorgde kinders op te rig. Dit het samewerking tussen diakens van verskillende kerke noodsaaklik gemaak. By gebrek aan ’n kerkordelike reëling het streeks- of landswye “konferensies” van diakens posgevat wat selfs “diakens” of “diakonieë” offisieel by nasionale sinodes verteenwoordig het (Spoelstra 1964:67-72). Die konferensie as kerklike vergadering is eintlik aan die independentisme en metodisme ontleen, waarskynlik omdat die tradisionele siening op die diakens independentisties is. Soos die amp van gelowige het ook die diakendiens onder paternalisme en “bestuur” van die “kerkraad” selfstandigheid ingeboet. Die konferensies het besware ontlok (GKSA 1964:408-410). Dit kan hoogstens sonder status met die oog op ontwikkeling van ampsbesef aanbeveel word

|245|

(Van der Linde 1983:154; Spoelstra 1967:257v). Die ontstaan en praktyk van inter-kerklike konferensies van diakens onderstreep egter die behoefte aan samewerking tussen diakens van versklllende kerke.

Die GKSA het die ou Formulier vir bevestiging van diakens gewysig en die veld van diens van die diakens wyer beskryf. Hulle moet in die gemeente en na buite in kerkverband ouderlinge broederlike liefde stimuleer.

Diakens behoort in kerkverband tehuise op ’n meer gedesentraliseerde patroon te bestuur. Hulle kan sustentasie vir behoeftige kerke behartig, die diakenamp in jong kerke help floteer, wanneer onluste of rampe in ’n streek of dorp voorkom, dadelik plaaslik inisiatief neem en daarna kerke in kerkverband lei in effektiewe hulpbetoon. Diakens en diakonieë kan gesamentlik in kerkverband armoede verlig en voorkom deur studie-trusts, werkverskaffingsburo’s, inter-gemeentelike gemeenskap deur middel van saamtrekke vir bepaalde groepe te stimuleer, ensovoorts. Die NG Kerk het ’n pragtige skema van rehabilitasie vir “armblankes” tydens die Depressie by Kakamas geloods. Diakens wat in kerkverband “groot” dink, kan die kerk as lewensgemeenskap in Christus baie konkreter na vore laat tree. Dit sal egter alleen kan gebeur wanneer die diakenamp deur diakenvergaderings in kerkverband op gedesentraliseerde vlakke gedien word.

Die Konvent van Wezel 1568 wys onder die opskrif “diakens” die traktement van die predikante en bekostiging van die erediens, geboue, ensovoorts, aan 'n aantal goeie manne van beproefde geloof en onbesproke lewenswandel toe, wat versigtig uitgesoek en gekies moet word (Biesterveld, Kuyper 1905:22). Toe die Christelike staat egter die predikante onderhou, het van dié kerkvoogde nie veel geword nie. Tans behartig diakens saam met ouderlinge die werk meestal in breë kerkraad. Die argument dat finansiële beheer uitsluitlik by ouderlinge berus, kan nie op die gereformeerde kerkordelike ontwikkeling steun nie.

Die intieme band tussen diakendiens en gemeente moet net soos in die geval van die kerkraad tot sy reg kom. Die ongelukkige indruk het egter ontstaan dat die gemeente sy “liefde” aan die diakonie bewys en “diens van barmhartigheid” vervul met ’n kollekte in die erediens. Daarna het die diakens ’n volkome vry hand en monopolie om “hulle” werk te doen. Die diakens behoort die gemeente van Christus te lei om aktief barmhartigheidswerk te doen. Waar die diakens saam as orgaan van die gemeente optree, behoort eredienskollektes vooruit beplan en ’n vorige Sondag aangekondig te word vir watter noodleniging gekollekteer sal word. Die beurtdiaken kan dié afkondiging in die erediens net voor gekollekteer word, herhaal met of sonder ’n kort oproep tot die gemeente.

 

3. Geen kerkordelike voorsiening vir inter-kerklike diakonale samewerking nie

Toe die “konferensies” as regeerliggame van diakens of diakonieë afgewys is, het ook die behoefte aan ’n ruimer vertolking van die diakenamp gevra dat die beginsel van artikel 25 vir die diakendiens na meerdere vergaderings deurgetrek word. Soos diakens afsonderlik optree en in die kerkraad verslag

|246|

doen, so kan naburige kerke diakens afvaardig na ’n samekoms waar gemeenskaplike diakonale werk behandel kan word (vgl art 30) en waarvan in die klassis verslag gedoen word. Veral in die stede is die independente diakonie-patroon ondoelmatig. Indien nodig kan met behoud van artikel 30 dieselfde werkswyse na die sinodes deurgetrek word.

Hierdie versoek het sinodes vir studie verwys, maar gestuit op die kollegialistiese idee dat die kerkorde aan bepaalde strukture “regeermag” toeskrywe en die diakens daarvan uitsluit. Die diakens kan dus in die klassis slegs struktureel (nie diakonaal of bedieningsgerig nie) deur middel van die “kerkraad” geakkommodeer word (GKSA 1973:319-327, 1976:26-45). Die gronde waarop die kerkregtelike situasie van artikel 25 KO tussen diakens en kerkraad tot die plaaslike kerk beperk word, voer aan dat die “kerkverband” as ’n (kollegialistiese?) struktuur deur “meerdere vergaderings” werk. Die abstrakte “kerkverband” verplaas dus die lewende gemeentes en diakonieë as hulle organe en neem die “werk” oor. Gevolglik moet plaaslike “diakonieë ten opsigte van diakonale inrigtings” deur middel van “sinodale deputate vir diakonale sake” saamwerk wat “allereers uit diakens” moet bestaan (GKSA 1976:43-45). Hierdie besluit is innerlik teenstrydig. Dit erken aan die een kant “diakonieë” en “diakonale inrigtings”. Aan die ander kant annekseer dit “diakens” uit plaaslike kerke ampshalwe vir sinodale deputate sonder om artikels 30 en 41 in ag te neem. Sinodale deputate bestaan nie uit “ampte” nie, maar persone (kyk by art 49).

Hierdie besluit kan moeilik kerkregtelik verdedig word. Dit volg ’n volstruispolitiek vir werklike probleme wat diakonale ampbediening in kerkverband ondervind wanneer gesamentlik oor byvoorbeeld tehuise “regeer” of plotseling in ’n rampgebied opgetree moet word. Dit loën die selfstandigheid van die amp en besluitbevoegdheid wat Christus aan die diakens as sy instrumente gegee het. Dit het geen oog vir die doel van ’n meerdere vergadering om per slot van sake bepaalde ampbediening in plaaslike kerke te stimuleer en nie te annekseer nie. Dit gaan mindere vergaderings in stryd met artikel 30 verby deur die diakens van plaaslike kerke aan die bestuur van sinodale deputate (in stryd met art 49 KO) te onderwerp, persone wat selfs nie ’n welomskrewe opdrag het nie. Die nasionale sinode benoem nie die persone nie, maar laat hulle benoem om ampsdraers, “diakens”, van plaaslike kerke te betrek, asof deputate ’n vergadering van ampsdraers van plaaslike kerke saamstel. Die sinodale deputate is in wese ’n bestuurskollege of kommissie op kollegialistiese patroon.

Alle anomalieë kan nie hier deurgetrap word nie. Die feit is egter dat sinodale deputate nie daadwerklike brandende behoeftes wat diakonale ampbediening plaaslik en in kerkverband raak, oplos nie. Ook Nederlandse resepte om “diakens” ter wille van hulle amp (in plaas van namens kerke) na klassisse vir diakonale sake te deputeer, deug nie (Spoelstra 1967:258). Dit word te veel bepaal deur vergaderings as strukture en teorieë oor “regeermag” en te min deur die vraag hoe die bediening van Christus ten beste die gemeente(s) se gemeenskap in liefde laat ontplooi. Die diakendiens smoor in gereformeerde kerke wanneer kerkraad en kerklike vergaderings die diakens in stryd met art 84 KO as ’n minderwaardige en plaaslike (independente) diens beskou, en hul eiesoortige seggenskap en “regeermag” in die diens van Christus ontsê. Die

|247|

opsieners behou immers daaroor geestelike toesig en kan ingryp as dit nodig is.

Spoelstra, B. (1989) Art. 41

Artikel 41

Samekoms van naburige kerke in klassis

 

Artikel 41: Die klassis is ’n vergadering van naburige kerke wat elkeen ’n bedienaar van die Woord en ’n ouderling of, waar nie ’n bedienaar is nie, twee ouderlinge afvaardig. Die plek en die tyd van die volgende vergadering word deur die vorige vergadering bepaal en dit mag nie meer as drie maande uitgestel word nie. Op hierdie vergadering moet die bedienaars van die Woord om die beurt presideer of anders die een wat deur die vergadering gekies word, maar dieselfde bedienaar mag nie op twee agtereenvolgende vergaderings gekies word nie.

Die praeses moet onder andere vra of die kerke kerkraadsvergaderings hou, of die kerklike tug uitgeoefen word, of die armes en die skole versorg word, en of daar iets is waarin ’n kerk die oordeel en die hulp van die klassis vir sy regte bestuur nodig het. Op die laaste vergadering voor die partikuliere sinode moet die afgevaardigdes na hierdie sinode gekies word.

 

A. Kerkregtelik

1. Samekoms van meer kerke in sinode

Die kerkregtelike grond vir die samekoms van meer (plurale) kerke kragtens kerkverband om in sinode te handel is, reeds aangedui by artikels 29,31,33,36, ensovoorts. Dit word nie herhaal nie.

Hierdie artikel definieer ’n klassis as ’n “vergadering van naburige kerke”. Die kerke leef in kerkverband, is saam op pad (sun-hodos) en kan daarom soos familie in sinodes saamkom om mekaar by te staan. Net so min as wat ’n vergadering van buurvroue wat oor melkaflewering gehou word, ’n eie regsposisie teenoor elke vrou wat daar aanwesig was, verkry, net so min moet die klassis as ’n struktuur wat naas, buite of los van die betrokke kerke

|248|

(kerkrade) staan, beskou word. Dit is verwarrend en ’n toutologie om van “die vergadering van klassis so en so” of van ’n “klassisvergadering” te praat. Die klassis is nie ’n “ding” op homself wat vergader nie en artikel 41 definieer “klassis” reeds as ’n bepaalde vergadering van bepaalde naburige kerke op ’n bepaalde tyd en op ’n bepaalde plek. Die klassis is ’n vergadering van meer kerke en wesenlik dieselfde as enige ander “sinode” (meerdere vergadering art 29).

 

2. Die belangrikste meerdere vergadering in presbiteriale kerkreg

Christus regeer en versorg sy kudde deur die diens van geroepe ouderlinge en diakens (kyk artt 2,3,16,23,25, ens). Om die koningskap van Christus te bedien (art 36) moet hulle ook in bepaalde gevalle met mekaar in kerkraad en diakonie handel (artt 37,38,40). Hierdie samekomste wil die Christusregering deur onderskeie dienste in die gemeente reg en beter laat geskied. Om presies dieselfde rede noodsaak die eenheid (kerkverband) in Christus die naaste kerke om mekaar onderling met toesig en hulp by te staan. Die klassis is die naaste en eerste vlak van ondersteuning om die eienskappe van die ware kerk in elke gemeente na vore te laat tree. Die klassis is dus die belangrikste en noodsaaklikste meerdere vergadering wat help om elke kerk ware kerk te laat wees.

Die Gereformeerdes bely die opsiener of ouderlingamp en kerkraad (NGB 30,31), maar nie meerdere vergaderings soos die Westminister Confession (artt 31,32) nie. Die Skotse presbiterianisme beskou die “presbytery” (ring, klassis) belangriker as die kerkraad (Hodge 1879:103,300-364). Presbiteriale en presbiteriaanse kerkreg is dus nie dieselfde nie. Eersgenoemde neem bediening deur die ouderling en laasgenoemde bestuur deur die “presbytery” en “assembly” as vertrekpunt en begunstig maklik ’n kollegialistiese vertolking.

Volgens die verenigingsreg is die algemene sinode die hoogste en belangrikste meerdere vergadering omdat dit volgens die beginsel van volksoewereiniteit die hoogste gesag in die kerkgenootskap uitoefen. Dit verg dus skerp gereformeerde aanvoeling vir die wyse waarop Christus sy kerk regeer om in te sien dat die klassis die belangrikste meerdere vergadering, maar nie belangriker as die kerkraad is nie.

 

3. Naburigheid van kerke

Volgens die Skrif en NGB word die een liggaam, of een kerk van Christus, in baie kerke op baie plekke sigbaar in so ver gemeenskap in dieselfde geloof beleef en dieselfde gehoorsaamheid aan die Koning (in die koninkryk) bewys word (Snyman 1977:39-45; NGB 27-29; Heid Kat S 48).

Die een Hoof Christus gebruik uit die staanspoor nie een apostel (soos by Rome) nie, maar twaalf. Hulle stel in elke gemeente nie een biskop nie,maar ouderlinge (meervoud) aan. Soos daar verskeidenheid in gawes van regering is, so is daar 'n verskeidenheid van kerke waarin die een kerk van Christus sigbaar word. Gevolglik word gemeentes wat in Christus een is, ook volgens reële kategorieë, onderskei en gegroepeer. Geografies beskou is daar sewe

|249|

kerke in Asië (Op 1: 11); gelowiges van Italië (Hb 13: 24) en kerke in Masedonië (2 Kor 8: 1). Kerke in meervoud word by mekaar gegroepeer. Daar is gelowiges wat dieselfde lot op verskillende plekke deel (Jk 1: 1; 1 Pt 1: 1). ’n Brief aan een kerk moet met ’n ander gedeel word (Kol 4: 16). Kerke word selfs na landstreke of provinsies genoem (Rm 15: 26: 1 Kor 16: 1; 2 Kor 1: 21; 9: 2) of volgens onderskeie kulturele en religieuse agtergronde gegroepeer (Rm 15: 27)

Hierdie differensiasie verplig kerke oor en weer (2 Kor 8). Kerke word Masedoniërs en Agaje genoem (2 Kor 9: 2). Die gelowiges leef in hulle natuurlike kultuurverband van Romeine, Galasiërs, Jode, Grieke en in tale en nasies. Hulle kan onderskei en gegroepeer word soos mans en vroue, vrymanne en slawe, al is hulle een in geloof en gehoorsaamheid aan Christus (Gl 3: 28; Ef 2: 14; Kol 3: 11; Hd 2: 11; Hd 21: 40; 22: 2; 1 Kor 13: 8; 14: 21; Op 5: 9, ens). Die Christene is in, maar nie van die wêreld nie en deel in hulle menswees aan identiteite van kultuur, nasieskap, seks, ekonomie, bedryf, beroep, woonplek, ensovoorts. “In fact, Paul desired above all to safeguard the cultural particularity ... Christian life is indelibly marked with the stamp of culture, and faithful stewardship includes uttering the prophetic word in culture and sometimes even against it” (Sanneh 1988:26).

Rome het kerk en natuur en daarom die universele kerk (pous) teenoor die staat (keiser) as alternatiewe samelewing gestel. Beide Rome met die pous as sinoniem vir “kerk” en moderne ekumeniese organisasies as sinoniem vir “wêreldkerk”, poseer as alternatiewe, universele of supersamelewing teenoor natuurlike owerhede, regerings, state asof hulle in eie reg die “eenheid” en monokultuur van die volk van God en Christusregering op aarde verteenwoordig.

Die Skrif benadruk dat die eenheid van die kerk in eenheid met Christus geleë is wat in die wêreld in die verskeidenheid van mense en kerke (gemeentes) na vore tree en wat daarom volgens geografiese, kulturele en selfs lotsgemeenskappe gegroepeer kan word. Die Skrif leer nie die een sigbare superkerkorganisasie van Rome en moderne wêreldkerk nie. Die kerke kan volgens Skrif, Belydenis (NGB 32) en kerkorde vir kerkregering en kerklike meelewing in verskillende klassisse saamgroepeer sonder dat dit die eenheid in gedrang bring. So breek die opkoms van nasionale state tydens die Reformasie die monargale episkopaat van Rome af en kom Franse, Switserse, Nederlandse, Duitse, Skotse, Engelse kerke tot stand. So kon in dieselfde staat, stad en dorp verskillende kerke volgens kultuur (Waalse, Nederlandse, Engelse) onderskei word en kon hulle in afsonderlike klassisse en partikuliere sinodes binne dieselfde algemene sinodale kerkverband groepeer (Pont 1981:103, artt 2,8-12;182: artt 50-52; KO artt 47,50,51)

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die “ordening” van kerke is in die Nederlandse Reformasie gemotiveer deur die behoefte om predikante op te lei en om “naburige kerke” in staat te stel om hulle na bepaalde kerke te wend wanneer eenheid in die leer, liturgie en

|250|

tug gedien moet word (Biesterveld, Kuyper 1905:1 v; Wesel 1568:I,1). Die eerste Sinode 1571 aanvaar die afsonderlike groepering van Nederlandse, Franse en Engelse kerke, selfs met onderskeie Kategismusse en Geloofsbelydenisstukke, in afsonderlike klassisse en “provinsies” as gegewe werklikheid (Pont 1981:103v, artt 4-12).

Die ou Kerkordes sê wat die kerke in klassis sal doen, en dui die klassis nie as struktuur in eie reg aan nie. Die klassis is bloot ’n aantal “naburige” kerke wat geografies en kultureel vier maal per jaar sal vergader om mekaar in hulle onderskeie en gesamentlike kerk-wees te help (vgl Biesterveld, Kuyyer 1905:65, ivm 1574; 101 ivm 1578). Die kerke sê te Tholen 1602 dat die klassis ’n vergadering van “kerkrade” en nie ’n vergadering van “persone” (soos die kerkraad) is nie (Bos 1950:157). Pont wys daarop dat die 19de eeuse “veranderde bedeling” waarin die klassisse en sinodes as “voortsettingsliggame na vore kom en die gedagte om die regeer- en beslissingsbevoegdhede van die ampte te delegeer” toe nog nie bestaan het nie (1981:145).

Die huidige artikel 41 is in 1581 geformuieer. Dit het toe kwartaallikse klassis bepaal en ’n preek voorgeskryf wat 'n predikant wat die vorige klassis aangewys het, moes lewer sodat daaroor in die klassis geoordeel en gebreke uitgewys kon word (Biesterveld, Kuyyer 1905:150). Laasgenoemde bepaling het waarskynlik in onbruik geraak en is in 1905 weggelaat.

 

2. Karakter van ’n klassis

Elke plaaslike kerk vertoon ’n intieme verhouding van gemeente-opsieners-diakens-kerkraad en so ’n afgeronde en georganiseerde gestalte van die een kerk van Christus. Gevolglik kan kerke mekaar erken (NGB 29) en in gemeenskap lewe. Naburige kerkrade sou voltallig met mekaar kon saamkom (Bouwman 1937:90). Dit is prakties onmoontlik. Gevolglik deputeer elke kerkraad volgens afspraak in ’n kerkorde verteenwoordigers met mandaat sodat die kerkraad op dié wyse self in die klassis teenwoordig is (art 33). Uit die afvaardiging volg dat die lasgewer (kerkraad) meer “mag” het as die lasdraer (vgl Bouwman 1937:87).

Die klassis is ’n tydelike vergadering wat van konstituering tot sluiting duur. Omdat kerke met die oog op kerkregering saamkom, verskil die gereformeerde klassis in wese van die klassis waarin “ampsdraers” sitting neem of van ’n “ring” van predikante wat die Algemene Reglement van die NHK in 1816 in die lewe geroep het (Spoelstra 1967:260). Die kerkraad is ’n samekoms van ouderlinge en die klassis ’n samekoms van kerke deur middel van verteenwoordigers van kerkrade. Die klassis is dus ’n vergadering van elkeen van die naburige kerkrade en as sodanig ’n kerkraadsvergadering van daardie kerk wat hy saam met kerkrade van naburige kerke hou. Die klassis is daarom ’n sinode van meer kerke wat met die oog op kerkregering plaasvind.

Volgens die kerkwet van die Ned Herv Kerk van Afrika is die “ringsvergadering die vergadering van ampsdraers wat oor die gemeentes in ’n bepaalde gebied regeer” (Die Hervormer Aug 1988:2). Meerdere vergaderings ontleen in hierdie geval uit die ampte selfstandige regeermag langs en teenoor die kerkrade. In die kollegialisme en presbiterianisme word dit ’n volle

|251|

kerkraadsvergadering wat in eie reg langs en oor die kerkrade ’n eie regeerbevoegdheid beoefen. Hierdie opvatting stry met die basis van presbiteriale kerkreg (art 2) en die regsbevoegdheid van die plaaslike kerk (Pienaar sa:art 30,33; Spoelstra 1967, 1977b, 1980).

 

3. Die voorsitter

Soos artikels 35 en 37 bepaal artikel 41 dat die voorsitter ’n predikant moet wees. Hy kan by wyse van toerbeurt aangewys of verkies word. Hierdie artikel bepaal verder dat dieselfde predikant nie twee agtereenvolgende klassisse mag lei nie. Dit sny die wêreldse praktyk (Lk 22:24,25) om aan voorsitters besondere regeermag oor ander toe te skryf, af (kyk artt 35,84).

Die kerkorde wil so veel as moontlik vermy dat mense oor die kerk van Christus sal regeer (Pont 1981:150). Die praktyk om die voorsitterskap van sinodes tussen net twee predikante te wissel (art 35), bots met die bedoeling van die kerkorde.

Klassisse reël toerbeurt meestal volgens diensjare in die klassis. Wanneer ’n jong onervare voorsitter moet lei, kan ’n ervare onder-voorsitter gekies word. Wanneer ’n buitengewone moeilike agenda om ’n ervare voorsitter vra, of die voorsitter wat toerbeurt moet neem ernstig betrokke is (art 33), kan op ’n ordevoorstel ’n voorsitter met vrye verkiesing aangewys word. Toerbeurt kan feitlik net in kerkrade en klassisse toegepas word.

 

4. Konstituering van die klassis (sinode)

Voordat ’n klassis sluit, bepaal dit die “plek en die tyd” van die volgende klassis. Die “plek” dui eerder die roepende kerkraad (art 45) as lokaliteit aan. Gereformeerdes noem ’n sinode (klassis) gevolglik volgens die plek en tyd van vergadering, byvoorbeeld Sinode Kaapstad 1988.

’n Sinode kan slegs konstitueer nadat die roepende kerkraad die geloofsbriewe in order bevind en die presensielys van kerke opgemaak het (kyk artt 33,45). Elke kerkraad deputeer ’n predikant en ouderling en vakante kerke twee ouderlinge met behoorlike las en opdrag (art 33). Die klassis is nie ’n vergadering van daardie “ampsdraers” wat parallel as “meerdere vergadering” langs die kerkraad tot stand kom nie (vgl Bouwman 73:90v) wanneer die kompleetheid van die plaaslike kerk onder toesig van die ouderlinge (Calvyn Inst IV.3.vii; 11.i) ontken word.

Artikel 41 stel normale goeie orde. Kragtens die beginsel van afvaardiging word ’n kerk in die reël deur ouderlinge, maar ook soms deur ’n diaken (vgl diskresie in art 38) en in buitengewone omstandighede selfs deur nie-ampsdraers verteenwoordig (Bos 1950:158; Bouwman 1934:21,135). Die beslissende vraag is of die persoon by magte is om namens die kerk die mandaat van die geloofsbrief te kan uitvoer. Wie dit misken (Bouwman 1937:85v, 90v; Van der Linde 1983:157), beskou die klassis as ’n selfstandige kerklike vergadering wat deur “leer”- en “regeer”-ouderlinge (“ampsdraers”) saamgestel word.

|252|

Aangesien kerke in ’n klassis saamkom en die agenda nie tot werk van die smal kerkraad beperk is nie, behoort die kerkraad saam met die diakens na die klassis af te vaardig (Spoelstra 1967:261). Ouderlinge kan ook by wyse van toerbeurt afgevaardig word, maar bekwaamheid vir diens moet deurslag gee. Gewoonlik maak die kerkraad ’n groslys van beskikbare broeders op waarna die afgevaardigde ouderling(e) met geslote stembrlef aangewys word. Vir elke afgevaardigde (primus) moet ’n plaasvervanger (sekundus) aangewys word. Waar slegs een predikant in ’n kerk dien, word ’n ouderling as sy plaasvervanger aangewys. Kerkrade moet by deputering probeer seker maak dat die afgevaardigdes die klassis sal bywoon.

Die klassis as vergadering van kerkrade kom in ’n gelyke getal afgevaardigdes per kerk byeen (kyk art 84). Sake moet nie met getalle nie, maar onder gesag van Christus beslis word. Die wettige afgevaardigdes (art 33), verkies onder leiding van die voorsitter van die roepende kerkraad ’n voorsitter en skriba (art 34). Daarmee het die klassis gekonstitueer. Die voorsitter kan die deputate nou (weer) met hulle mandaat in die geloofsbriewe konfronteer of met die sogenaamde “Openlike Verklaring” (KO-boekie 1979:65,100) laat instem.

 

5. Die taak van die klassis

Die klassis beoordeel eerste die rapport van die roepende kerkraad omdat die oproep, veral in geval van ’n buitengewone klassis (art 45) byvoorbeeld, foutief af onnodig kon plaasgevind het. As die oproep nie goedgekeur word nie, sluit en verval die klassis.

Die kerkraad of deputate vir korrepondensie (art 45) se rapport dien puntsgewyse as agenda en word aangevul met stukke wat ter tafel gelê word. Appèlle (art 31), dringende of laatgekome stukke kan nog tot net na die konstituering voorgelê word. Die klassis moet op meriete stukke ter tatel neem en by elke punt op die agenda die orde (vgl artt 30,31,33,46,49) streng in ag neem.

Hoewel die kerkorde en sinodereëlings sekere handelinge aan ’n classis contracta opdra, kan die klassis dergelike sake indien nodig self ook behartig, byvoorbeeld wanneer 'n predikant in die roepende kerk tydens die klassis bevestig word of ontslag neem. Die Kerkorde wys aan die klassis as belangrikste meerdere vergadering baie werk toe (artt 4,8,9,12,13,14,41,43,44,45,47,48,49 ens). Eksaminering wat die kerkrade aan een klassis opdra en wat daar tuishoort (artt 4,30), kan ook volgens sinodebesluite deur klassisse gesamentlik uitgevoer word. Die klassis behou egter sy bevoegdheid so lank die kerkorde nie gewysig is nie (art 86).

Die klassis hou toesig oor die leer, lewe en orde van die kerke. Hierby vorm die toelating tot die diens van die Woord (peremptoire-eksamen art 4) die belangrikste onderdeel. Daarmee hang saam die bystand aan kerke met beroeping en ontslag van predikante en sorg vir vakante kerke, die gee van advies en leiding in sake wat volgens die kerklike weg ter tafel kom (Bouwman 1934:145v). Wie sake met ’n beroep op artikel 30 van die klassikale tafel onttrek om dit sonder behandeling na sinodes te verwys, gaan van ’n meervoudige kompartementele sinodokrasie uit.

|253|

6. Die rondvraag in die klassis

Die onderlinge toesig tussen naburige kerke in die klassis (art 41) herinner aan onderlinge toesig in artikel 81. Dit beklemtoon weer eens die belangrikste funksie van die klassis om toe te sien dat die onderskeie kerke ware kerke bly wat die liggaam (kerk) van Christus vertoon (art 29 NGB).

Die voorsitter moet deur middel van rondvraag vasstel of kerkraadsvergaderings gereeld gehou word omdat daarsonder tug nie bedien kan word soos Christus dit ingestel het nie; of die diens van die diakens die gemeente hulle liefdesplig en gemeenskapsoefening laat nakom; of die belange van die jeug deur gereformeerde skole bevorder word (kyk artt 21,44). Die rondvraag kan op gepaste wyse die bedieninge van predikante, ouderlinge en diakens, sowel as die amp van gelowiges aan die orde stel, terwyl ook na die skole en jeug omgesien word. Die gereformeerde skole het in die 16de eeu nie net kennis en beskawing ontsluit nie, maar met gereformeerde skoolkategese by die huis en kerk aangesluit. Die predikante en kerkrade is toe selfs van owerheidsweë gebruik om skoolinspeksie te behartig. Die kerke moet vandag meer as ooit te vore op mekaar ag gee en vasstel of elke kerk van die bediening van die jeug erns maak.

Die rondvraag vra uitdruklik of ’n kerk die oordeel en hulp van die klassis nodig het. Hoewel dit op tuggevalle betrekking kan hê (artt 77,79), kan hier sake soos advies oor kombinasles met die oog op beroep, finansiële sustentasie, arbitrasie in geskille, steun in vertoë tot die owerheid, probleme met toepassing van besluite van meerdere vergaderings, korrespondensie met die lokale of hoë owerheid, gemeenskaplike optrede teen openbare sondes en sosiale euwels, noodlenigingsaksies en baie meer betrek word

Die voorsitter moet hom voorberei om die vrae ten beste te kan stel. Vroeër is die rondvraag van artikel 41 en die visitasie van artikel 44 min of meer saamgegooi en jaarlikse “gemeenteverslae” aan die hand van ’n vaste stel vrae van elke kerk in die klassis gevra (GKSA 1945 art 165(e), 1949 artt 10,40, 1955 art 254). Wanneer nodig kan enige belangrike saak uitgelig en in belang van die kerke aan die orde gestel word (Jansen 1952:193). Die jong kerke kan veral groot waarde uit “gemeenteverslae” aan die hand van ’n vraelys put.

Spoelstra, B. (1989) Art. 42

Artikel 42

Meer advies in die klassis

 

Artikel 42: Waar in ’n kerk meer as een bedienaar van die Woord is, kan ook die wat nie volgens die bogenoemde artikel afgevaardig is nie, in die klassis teenwoordig wees met adviserende stem.

|254|

A. Kerkregtelik

1. Die voorrang van die diens van die Woord

Omdat die kerk deur die Woord en Gees (Heid Kat S 21) regeer moet word, beklee die diens van die Woord ’n besondere plek in die kerkregering. Om dieselfde rede waarom predikante moet presideer (artt 35,37,41), is dit noodsaaklik dat aanwesige predikante wat met sake op hoogte is, in die klassis advies sal gee. Adviserende stem kan help om die Christusregering in die besluite van die klassis te bevorder en word nie verleen omdat predikante ’n besondere plek beklee nie of om ’n predikant nie in sy gesig te vat nie, maar slegs met die oog daarop dat advies van ’n bedienaar van die Woord (artt 2,3,16) die kerkregering sal bevorder.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die kerke het in 1578 te Dordrecht die afvaardiging per kerk tot één dienaar en één ouderling beperk sodat groter kerke nie kleiner kerke in die klassis sou oorheers nie (art 84). In 1581 stem die kerke toe dat ander aanwesige predikante wanneer hulle gevra word, advies kan gee maar nie stem nie. Die Sinode van Dordrecht 1619 laat hierdie beginsel los en verleen keurstem aan alle aanwesige predikante uit die kerke van die klassis, behalwe in geval waar sake hulle persoon of kerke in besonder raak (art 33). By die hersiening van die kerkorde in 1905 is die bevoorregting van nie-afgevaardigde predikante bo ouderlinge reggestel (Jansen 1952:193-195).

 

2. Adviserende stem word as ’n voorreg verleen

Adviserende stem moet uitdruklik met toestemming in die klassis en ander sinodes verleen en genotuleer word. Adviseurs kan op kommissies van pre-advies dien omdat die kommissies ook net advies gee. Omdat die predikante of professor met adviserende stem nie afgevaardig is nie, deel hulle nie in die konstituering nie en kan daarom nie soos Jansen sê (1952:195) in die moderamen verkies word nie. Die vergadering moet gekonstitueer het voordat adviserende stem verleen word.

’n Meerdere vergadering kan ook aan ander ouderlinge, predikante van kerke buite die klassis en waar nodig ook aan deskundiges op 'n bepaalde saak adviserende stem verleen. Die keurstem berus egter net by die wettige afgevaardigdes.

Spoelstra, B. (1989) Art. 43

|255|

Artikel 43

Onderlinge sensuur in meerdere vergaderings

 

Artikel 43: Aan die einde van die klassikale en ander meerdere vergaderings moet sensuur uitgeoefen word oor die wat iets tugwaardigs in die vergadering gedoen of die vermaning van die mindere samekomste verontagsaam het.

 

A. Kerkregtelik

1. Die karakter van ’n meerdere vergadering

Gereformeerde kerkreg wat op die Skrif gegrond is, verleen aan leer- en regeerouderlinge, kerkraad, klassis en vergaderings van meer kerke slegs bedienende gesag (kyk artt 2,16,23,29,36-38,41). Kerklike besluite moet dus op so ’n manier geneem word dat dit duidelik blyk dat dienaars van Christus gesamentlik die besluit geneem het. Hulle moet hulle bediening van Christus op ’n Christelike wyse verrig. Wanneer die orde versteur word, moet die orde met bestraffing herstel word.

 

2. Menslike swakheid en sonde

Die Here gee aan kerklike dienaars gawes om in sy diens te gebruik, maar die dienaar gaan self gebuk onder menslike gebreke en sonde (Heid Kat S 1-4,31) Om ook die lewe en werk van die dienaars te heilig, moet hulle mekaar onderling oor sonde en foute kan vermaan om te kan versoen, en aan die Skrif gehoorsaam te wees (Mt 18: 16, 1 Kor 5: 6,7; Hd 20: 28a,31; 1 Ts 5: 11,15; 2 Ts 3: 6,14; 1 Tm 3: 2-5; 5: 20). Juis die opsieners wat oor die gelowiges regeer se woorde en optrede moet in kerkvergaderings ’n voorbeeld vir ander wees.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Gedurende die Reformasie het talle kerkdienaars nog ’n swak idee van kerklike orde, gereformeerde beginsels en vergaderingsprosedure gehad. Hulle het maklik, soos vandag ook maar, hulle humeur verloor wanneer hulle opponeer word. Gevolglik bepaal die kerke te Dordrecht 1578 dat aan die einde van ’n vergadering sensuur gehou word oor wie iets strafwaardigs in die samekoms gedoen of die vermaning van sy kerkraad verontagsaam het

|256|

(Biesterveld, Kuyper 1905:106, art 16). Hulle brei dit in 1581 uit na ander meerdere vergaderings en voeg “vermaninge van die mindere samekomste” by (Ibid 150, art 31).

 

2. Onderlinge sensuur

Die kerkraad en diakens beoefen onderlinge sensuur oor mekaar se ampswerk (art 81). Dieselfde soort tugoefening word in artikel 43 selektief binne die vergaderings van die kerke toegepas. “Sensuur” moet hier onderskei word van sensuur wat die voorsitter op ’n bepaalde oomblik gedurende die vergadering moet toepas (art 35). Hier word die optrede van ’n afgevaardigde in die vergadering teenoor die voorsitter of ’n ander afgevaardigde of lasterlike uitlatings teenoor enige ander instansie en veral teen die Skrif of Belydenis bedoel. Die voorsitter kan self, of op versoek van ’n afgevaardigde, terugkom op wat gebeur het oor orde, vrede, versoening en gesindheid te herstel, sodat wanneer die betrokke vergadering sluit, die eenheid in Christus sal seëvier. In bepaalde gevalle mag die betrokke meerdere vergadering ’n klag formuleer en na die kerkraad van die persoon wat hom wangedra het, verwys (kyk artt 7678). In die reël gaan dit hier egter oor sensuur op sondes wat die Konvent van Wezel in 1568 aangedui het (Pont 1981:89) wat nie afsetting uit die amp verdien nie, maar waaroor wel “sensuur” uitgeoefen moet word. Hier kom te pas; onbehoorlike vrae, vreemde en verkeerde hantering van die Skrif, optrede wat ergernis verwek, ongepaste vergelykings en uitlatings, eiewillige invoer van ongewone gebruike, versuim oor te studeer en die Skrif te lees, verdraagsaamheid teenoor sonde, soek na vleiery, ongereelde en trae ampsbediening, onbetaamlike grappe, leuens, kwaadpratery, beledigende taal, vermetelheid, skelmstreke, gierigheid, eersug, onbeteulde humeur, huislike onenigheid, venyn, uitspattige kleredrag, sug na weelde of heerskappy, kortom, dinge wat nie by ’n kerklike dienaar van die Here Christus pas nie maar waaroor hy nie dadelik afgesit kan word nie (Bos 1950:163; Pt 1981:89).

Die woord “sensuur” beteken hier vermaning, teregwysing of berisping oor wangedrag en onbetaamlike of aanstootlike optrede. Die persoon moet weer die goeie verhouding met sy mededienaars in diens van Christus herstel. Hierdie sensuur moet nie op klein en beuselagtige dingetjies slaan of uit liefdeloosheid of persoonlike geldingsdrang opkom nie.

Die voorsitter oordeel of hy sensuur moet toepas of toelaat. Wie van hierdie reg gebruik wil maak, behoort voor die einde van die vergadering die voorsitter van sy voorneme in kennis te stel. Indien die voorsitter onseker is, kan hy die oordeel van die vergadering daaroor vra. Die vergadering kan op ’n ordevoorstel vir toepassing van die artikel vra, veral wanneer die sensuur oor die voorsitter self uitgeoefen moet word.

Spoelstra, B. (1989) Art. 44

|257|

Artikel 44

Visitasie deur naburige predikante

 

Artikel 44: Die klassis moet minstens twee van die oudste, mees ervare en geskikte bedienaars van die Woord as visitatore benoem om in alle kerke van die klassis gereeld kerkvisitasie te hou, vas te stel of die ampsdraers hulle ampte getrou waarneem, by die suiwerheid van die leer bly, die Kerkorde in alles onderhou, die stigting van die gemeente en onderwys van die jeug behoorlik na hulle vermoë bevorder, sodat hulle diegene wat nalatig in een of ander bevind word, betyds broederlik kan vermaan en met raad en daad alles kan help reël wat bevorderlik is vir die vrede, die opbou en belange van die kerk.

 

A. Kerkregtelik

1. Visitasie vloei uit kerkverband voort

Die belydenis dat Jesus die Koning is, bring plaaslike kerke na vore en bind plaaslike kerke oor die ganse ekumene saam (Du Plooy 1982:412). Die eenheid tussen Hoof en liggaam skep ’n relasie tussen plaaslike kerke wat ons kerkverband noem. Dit is gegee, maar dit moet ook beskerm, bewaar, beleef en uitgebou word. So skep kerkverband nie net ’n behoefte aan klassisse nie, maar ook aan besoeke van dienaars uit die omgewing wat met hulle gawes die naburige kerk sal besoek en help.

Die Skrif vertel van besoeke van apostels, evangeliste en kerkdienaars aan verskillende kerke wat positiewe vrugte uit die belewing van die kerkverband in Christus afgewerp het. Die kerklike visitasie dien en bou aan die konfessionele, liturgiese en kerkregeringseenheid tussen die kerke tot eer van die Koning van die kerk. Dié eenheid tussen die kerke maak visitasie moontlik (art 32 NGB), sonder oor die selfstandigheid en kompleetheid van elke plaaslike kerk as openbaring van die liggaam van Christus in gedrang te bring. Hoewel die “klassis” die visitatore aanwys, bly visitasie soos die woord sê ’n besoek van visitatore aan en binne ’n plaaslike kerk.

 

2. Visitatore tree nie namens of as deputate van ’n klassis op nie

Die visitasie van die biskop kragtens sy amp in episkopaalse kerke is die oudste vorm van visitasie. By die Lutherse en kollegialistiesevorme van kerkregering

|258|

gaan visitasie uit van superintendente of van “hoëre besture”. Die “presbytery” is die “court” wat in presbiterianisme kerkrade en gemeentes bestuur (Spoelstra 1989). Verkeerde vertolking of toepassing van visitasie lei tot hiërargie en heerskappyvoering van visitatore en klassisse in en oor plaaslike kerke (Bouwman 1934:157,161-163).

Die Christologiese kerkreg berus op Christus wat dienaars roep, toerus en aan sy kerk gee (kyk by artt 2,3,16,23,37,72-77; NGB 30). Die Heilige Gees verbind die dienaars aan onderskeie kerke (Hd 20: 28; Jk 5: 14; 1 Pt 5: 2). Die kerkraad is in geen opsig aan die klassis ondergeskik nie (vgl by artt 29,36,41; Pienaar sa). Daar is ook geen Skrifgrond om vir visitatore op die klassis verantwoordelikheid in of oor die kerkraad op te eis nie. Hoewel die klassis visitatore uitsoek en aanwys, doen die klassis nie die visitasie nie. Die visitatore is dienaars en nie mondstukke van die klassis nie. Hulle mag nie inspekteurs van die klassis wees, of indring in die diens van ’n plaaslike kerk of daaraan wil voorskrywe nie (art 84).

 

3. Kerkvisitasie

Die woord “visitasie” beteken in Latyn “om dikwels te sien” of “te besoek” en hou die gedagte van ’n ondersoek ter plaatse in. Dit is ’n besoek wat kyk na die gelowiges op die betrokke plek, sowel as na die bedieninge wat Christus ingestel het. Petrus het oral rondgegaan (Hd 9: 32); Paulus het rondgegaan en kerke versterk (Hd 15: 41, 16: 4; 18: 23). Hy het ondersoek na die welstand van kerke ingestel (1 Kor 4: 19; 2 Kor 1: 16 vgl 7: 5-7). Die opvolgers van die apostels het dieselfde gedoen (2 Kor 7: 6; 8: 6,23; 12: 18; Kol 4: 8,9 ens). Visitasie is in die kerke so oud as die kerklike lewe self (Bouwman 1934:157).

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die behoefte aan visitasie het gedurende die Reformasie in Nederland na vore gekom. Die owerhede het selfs inspeksie oor kerke en klassise verlang. Die klassikale rondvraag (art 41), klassikale sensuur (art 43) en visitasie wou verseker dat die kerke werklik in leer en lewe reformeer. Die gereformeerde kerke wou egter van kerklike superintendente of inspekteurs niks weet nie (Bouwman 1934:163-167). Die Sinode van Den Haag 1586 het visitasie aan die vryheid van kerke oorgelaat waar dit nodig sou gewees het. Tog het die kerke hulle gemeenskap besef sodat dienaars met gawes en ervaring uit naburige kerke ander kerke sou kon bystaan. Aanvanklik moes visitatore ook preke van die plaaslike predikant aanhoor en indien nodig met hom daaroor praat en hom help om te verbeter. Indien dit nie help nie, kon die saak by die klassis aanhangig gemaak word. Die spanning met Remonstrante het die weg vir artikel 44 na die kerkorde in 1619 vergemaklik.

Hoewel die woord “inspeksie” soms voorkom, is visitasie nie as “inspeksie” van superintendente namens ’n klassis ingestel nie, maar is dit ten bate van

|259|

die kerk wat besoek word, bedoel (Spoelstra 1974:35). Die Sinode van Dordrecht formuleer in 1619 hierdie bedoeling duideliker as in 1581. Gevolglik is vir jaarlikse visitasie voorsiening gemaak. Die GKSA het in 1964 slegs die beginsel van gereelde visitasie gestel. Elke klassis bepaal dus sy program vir gereelde visitasie.

 

2. Visitasie geskied by en in ’n plaaslike kerk

Visitasie geskied “in alle kerke van die klassis” om ter plaatse dadelik tydens die ontmoeting en ondersoeke “betyds” broederlik te kan vermaan en met “raad en daad alles te kan help reël wat bevorderlik is vir die vrede, die opbou en belange van die kerk”. Visitasie gebeur en loop af in die kerk wat besoek word. Visitatore tree daar op, vermaan daar en help daar. Nog die kerkreg, nog die opset in die Kerkorde, nog die praktyk van visitasie en allermins die bewoording van art 44 kan aan visitatore opdrag verleen om by ’n kerk inspeksie te doen en daarvan verslag in die klassis voor te lê. So ’n verslag sou buitendien op grond van artikel 30 en Mt 18: 15v; 1 Tm 5: 19,20 ensovoorts buite orde gewees het.

Artikel 44 stel duidelik sake aan die orde wat by die plaaslike kerk tuishoort en daar afgehandel moet word. Die woorde “help reël” wys ondubbelsinnig dat visitatore hulle hulp in die kerk en kerkraad verleen. Indien iemand (selfs ’n visitator) ontevrede is met die handeling van die kerkraad op advies van die visitatore, kan die saak volgens artikel 41 of in appèl (art 31) voor die klassis gelê word.

Soms mag ’n klassis aan visitatore opdra om in ’n kerk met ’n bepaalde moeilikheid bepaalde hulp te gaan verleen. In laasgenoemde geval moet die klassis meestal in reses gaan en die getuienis afwag om die saak daarna af te handel. Hierdie buitengewone visitasie geskied na aanleiding van wat reeds in die klassis ter tafel is en volg nie uit ’n inspeksieverslag van die visitatore nie.

 

3. Die herkoms van visitasie

Op voetspoor van die Roomse en Lutherse visitasies het die eerste Skotse Kerkorde 1560 ’n “instituut van superintendente” in die lewe geroep om gemeentes te stig en te organiseer, toesig oor die lewe en werk van die predikante te hou en daaroor in die sinodes verslag te doen (kyk Hodge 1879:300-363). Die Gereformeerdes het gevrees dat superintendente en visitatore ’n hiërargie sou daarstel waarin menslike instellings oor die bedieninge wat Christus ingestel het, sou heers (kyk art 84). Nietemin kon visitasie help in ’n tyd toe Roomse geestelikes plotseling gereformeerd geword het en libertyne nie net Roomse oorheersing nie, maar ook Skrifgesag verwerp het.

Hierdie visitatore moes gaan preke aanhoor, ag gee op die leer wat voorgestaan word, kyk of die predikante die Skrif bestudeer en hoedanig hulle liturgies optree wanneer hulle sakramente bedien. Hulle moes ook “versigtig” let op die werk van ouderlinge en diakens en veral vasstel of hulle vergaderings

|260|

hou. Hulle moes met “spoed” probeer verbeter en die reël van Mt 18 nakom (artt 72,73). Eers wanneer die visitatore vrugteloos moeite gedoen het, moet die hulp van die klassis ingeroep word.

Visitasie wil positief alle fasette van kerklike lewe bevorder en tegelykertyd waak teen enigiets wat die geformeerde leer en lewe, vrede, eendrag en vooruitgang bedreig (art 32 NGB). Visitasie geskied nie ter wille van die klassis nie, maar ter wille van die gemeente van Christus. Visitasie beoog om die kenmerke van die ware kerk nog duideliker te vertoon (art 29 NGB). Die visitatore dien ’n naburige kerk kragtens hulle roeping met die gawes waaroor hulle beskik (kyk artt 2,3,16).

Visitasie moet toespits op die bevordering van die lewende kerk-wees, die een-wees-in-die-Here en deel-hê-aan-dieselfde-Here wat uitkom in leereenheid, belydeniseenheid en lewenseenheid, wanneer die Woord van God in alles gehoorsaam word (NGB 7,29; Spoelstra 1974:36). Die visitator moet so optree dat in hom te alle tye ’n dienaar van Christus en nooit ’n inspekteur van ’n klassis gesien word nie.

 

4. Die benoeming van visitatore

Die klassis moet visitatore sorgvuldig uitkies. Derhalwe behoort ’n verkiesing van visitatore met geslote stembrief te geskied, sodat die kerke hulle oordeel kan uitoefen. Dit sluit ook aan by die ou redaksie dat die klassis visitatore kan kontinueer so lank hy dit goed vind of hulleself vra om van die opdrag onthef te word (Spoelstra 1967:272).

’n Visitator moet ’n predikant wees wat ’n goeie naam as dienaar verdien het. ’n Visitator moet as een van “die oudste, mees ervare en geskikste” predikante bekend staan. Die klem val op gawes van insig, temperament, takt, diensjare en ervaring, kortom, ’n visitator behoort ’n uitnemende dienaar van Christus te wees (vgl 1 Ts 5: 12,13; 1 Tm 5: 17; Hb 13: 7, 1 Pt 5: 3,5). Wanneer ’n jong predikant noodgedwonge as visitator benoem moet word, kwalifiseer hy net op grond van sy amp. Hy moet daarom beskeie optree, ’n dienskneggestalte vertoon en trag om net Skrif, belydenis en goeie orde te laat praat. Heethoofdigheid of deurdrywery gaan teen die grein van artikel 44 in. Visitasie word daarom deur “minstens twee” predikante gedoen, sodat die een die ander kan kontroleer en heerskappyvoering verhoed word. Wanneer die aanleiding vir visitasie gevoelig is, kan meer as twee visitatore aangewys word. Dit is wenslik dat genoeg predikante onbetrokke bly sodat die klassis sake wat uit buitengewone visitasie voortspruit, onpartydig kan afhandel.

Die vraag kan gevra word of ouderlinge as visitatore benoem mag word. Artikel 44 reël normale orde terwyl buitengewone omstandighede buitengewone maatreëls nodig mag maak. Nietemin sal slegs enkele ouderlinge as “visitatore” kan kwalifiseer. Ouderlinge bedien ’n regeeramp en nie die leeramp nie en voldoen daarmee nie aan die vereistes wat aan ’n visitator gestel word nie. Tog kan ’n goeie ouderling toesig hou dat ’n predikant-visitator nie heerskappy voer of sy persoonlike stempel op ’n ander kerk of bedienaar wil afdruk nie (art 84). Twee ouderlinge sal slegs om gewigtige redes vir ’n beperkte doel op ’n beperkte wyse na analogie van artikel 44 visitasie kan doen.

|261|

5. Die metode van visitasie

Die kerkorde en nie die klassis nie sê waaroor die visitasie moet gaan en daarom verskil artikel 44 ingrypend van artikel 49 K0. Die artikel is reeds ’n handleiding vir die visitatore.

Die visitasiegeleentheid, die inhoud en doel van artikel 44, moet behoorlik beplan en vroegtydig en by herhaling aan die kerk bekendgestel word. Baie mense weet nie wat visitasie inhou nie. Afkondiging moet elkeen op die hoogte stel dat hy oor enige aspek binne die skopus van artikel 44 met die visitatore kan praat.

Die name van die visitatore moet ook vooraf afgekondig word, sodat mense wat met die visitatore vertroulik wil praat regstreeks by die visitatore kan aanklop. Vroeër is baie keer die eis gestel dat iemand slegs by die kerkraad kan vra om die visitatore te ontmoet. Dit vergemaklik reëlings, maar kan ook tot intimidasie lei. Die kerkraad hoef nie te weet wie die visitatore ontmoet nie (vgl Mt 18). Persone wat bekommerd is oor die stand van sake in die kerk moet vrylik geleentheid hê om advies by die visitatore aan te vra en desnoods vermaning van die visitatore op die lyf te loop. In daardie geval is die visitatore aan Mt 18: 15 gebonde. In ’n kerk waarin beroering ontstaan het, mag baie lede van die gemeente die visitatore wil ontmoet. In daardie geval kan ’n onbetrokke en onpartydige persoon as skakel bekend gestel word om te reël dat persone individueel of in groepe die visitatore ontmoet.

Die visitatore doen ook in die kerkraad visitasie. Die predikant bly voorsitter by gewone visitasie, maar die visitatore beplan en neem inisiatief aan die hand van ’n visitasie-reglement (waar so iets bestaan) of soos hulle dit die beste ag. Indien 'n saak die predikant raak of ’n buitengewone karakter dra, presideer een van die visitatore. Jaarlikse visitasie deur middel van ’n reglement word maklik ’n stereoptiepe, tydrowende formaliteit.

Visitasie moet ingaan op die areas waar hulp nodig mag wees of waar wrywing voorkom. Klassis Pretoria-Oos het gedurende die sestigerjare by visitasie geleentheid gegee dat enige saak tydens die visitasie volgens artikel 44 aan die orde gestel mag word, maar tegelyk aan visitatore opgedra om een of ander gemeenskaplike aspek van die kerklike lewe indringend aan die hand van vooraf opgestelde vraelyste te ondersoek en daaroor die klassis aan die hand van die algemene beeld met advies te bedien. Miskien moet visitasie op verskillende maniere afgewissel word om te verhoed dat dit stereotiep word.

 

6. Die verhouding van artikels 41 en 44 Kerkorde

Weens landsomstandighede is die Kerkorde met artikel 44 in 1862 aanvaar, maar nie toegepas nie. Aandrang om visitasie in te stel op Sinodes 1927, 1930, 1939 en 1945 het telkens gestuit op die voorkeur wat aan jaarlikse “gemeenteverslae” aan die hand van ’n vraelys gegee is. Die vraelys is uit ou Nederlandse visitasiereglemente opgestel. Die rondvraag van artikel 41 en visitasie van artikel 44 het so verstrengel geraak. Toe met visitasie begin is, is aanvanklik nog met gemeenteverslae ook voortgegaan (GKSA 1955:169-186).

|262|

Die vrae wat artikel 41 aan die voorsitter opdra, hou eerder verband met die beginsel in artikel 81 Kerkorde. Dit is ’n soort onderlinge sensuur wat die kerke in klassis oor essensiële aspekte van die bediening onder mekaar uitoefen. Dit sluit aan by die kerkregtelike beginsel waarop die klassis berus, naamlik onderlinge hulp om mekaar by die eenheid in leer en lewe te bewaar (vgl NGB 32). Dit hang dus saam met die ou gebruik dat predikante beurtelings in die klassis ’n “preek” moes lewer wat deur ander beoordeel kon word.

 

7. Buitengewone en gewone visitasie

Gewone en “gereelde” visitasie vind plaas volgens die reëling wat die betrokke klassis na gelang van behoeftes en omstandighede van die kerke getref het. Visitatore berig aan die volgende klassis dat die besoek (visitasie) plaasgevind het. Indien nodig kan hulle ’n kort algemene indruk van die stand van sake in die bepaalde kerk gee, terwyl die beginsels van artikels 30,72-74 KO noukeurig nagekom word. Baie en bepaalde sake wat aandag van die visitatore geverg het, mag dus nie in die klassis rapporteer word nie, omdat dit by die plaaslike kerk tuishoort.

Visitatore word benoem om kerke te besoek. Die ou bewoording het op ’n staande opdrag nadruk gelê. Gevolglik kan die kerkraad, die kerk of selfs ’n deel van kerkraad of gemeente, die visitatore inroep om ter wille van die welsyn van die kerk en eer van die Here daar te kom help. So ’n besoek verloop soos ’n “gewone visitasie”. Op dieselfde wyse kan ’n kerkraad vir ’n dringende behoefte versoek om dadelik visitasie te ontvang. Soms moet ’n kerkraad ’n bepaalde probleem aan die klassis stel en vra dat gewone visitasie vervroeg of buitengewone visitasie op die bepaalde probleem toegespits word. Ook hierdie visitasie verloop soos “gewone” visitasie en die materie van die saak moet volgens die beginsels van artikels 30,72-74 afgehandel word.

Soms mag ’n ernstige saak (bv ’n dreigende skeuring, ernstige pligsversuim, heerssug ens) deur appèl, petisie of op ’n ander wyse ordelik tot keuring van die klassis kom. Die rus, vrede en opbou van die kerk mag op die spel wees. Die klassis mag dan “visitatore” aanwys om ter plaatse ondersoek te gaan instel en hulle bevindinge aan dieselfde klassis na ’n reses te rapporteer. In hierdie geval kan van buitengewone visitasie gepraat word. Daar moet altyd minstens twee visitatore optree, sodat in die mond van twee getuies die waarheid bevestig kan word (Mt 18: 16).

Buitengewone visitasie moet onderskei word van ’n opdrag aan “deputate” wat volgens artikel 49 ’n welomlynde opdrag van die klassis ontvang om byvoorbeeld ’n besluit van die klassis te gaan bekend maak of help deurvoer. Visitatore is nie deputate volgens artikel 49 KO nie. Hulle ontvang geen voorskrif van die klassis wat hulle in ’n kerk moet gaan sê of doen nie. Hulle doen visitasie in hulle amp as bedienaars van die Woord in ’n naburige kerk met die oog op daardie kerk.

|263|

8. Visitasie en die kerk

Uit die gees van die kerkorde en geskiedenis van visitasie blyk duidelik dat visitasie ten behoewe van elke kerk en nie ten behoewe van die klassis as sodanig geskied nie. Die klassis is slegs instrument om bekwame visitatore uit die aanwesige naburige kerke te voorsien en aan te wys.

Vroeër was dit (soos by art 81) gebruiklik dat groepe ampsdraers tydens visitasie buite staan wanneer oor hulle amp gehandel word. Hierdie prosedure waarborg groter vryheid om uit te praat, maar loop groter gevaar om of bloot formeel of dalk misbruik te word. Dié prosedure kan gevolg word wanneer visitatore rede het om op die bediening van ’n bepaalde ampsdraer (moontlik die predikant) toe te spits voordat hulle finaal advies aan die kerkraad gee.

Visitatore kan mondeling in ’n volledige skriftelike rapport hulle bediening en adviese in die kerkraad voorlê. Die rapport mag nie verwys na vertroulike sake wat in gesprekke met lidmate na vore gekom het nie (bv Mt 18: 15), of na sake wat in gesprekke met of teregwysings aan lidmate of byvoorbeeld die predikant buite die kerkraad om na vore gekom het. Die visitatore kan van die kerkraad antwoord op hulle voorstelle verlang. Dit is aan te beveel dat minstens een van die visitatore na die visitasie in die kerk by ’n goed bygewoonde erediens die Woord sal bedien en daarna met die gemeente oor verskillende aspekte van kerk-wees aanmoedigend, vermanend en vertroostend sal praat.

Spoelstra, B. (1989) Art. 45

Artikel 45

Kontinuïteit van meerdere vergaderings (sinodes)

 

Artikel 45: Elke meerdere vergadering benoem ’n korresponderende kerkraad of deputate vir korrespondensie wat alle stukke en dokumente van die vergadering ontvang en bewaar en sy handelinge op die volgende vergadering besorg.
Eweneens benoem elke meerdere vergadering ’n roepende kerkraad om die volgende vergadering op te roep en te ontvang op die vasgestelde tyd en plek of anders op die tyd en plek wat die roepende kerkraad in die geval van die partikuliere sinode, volgens advies van sy klassis, en in die geval van die algemene sinode, volgens advies van sy partikuliere sinode, bepaal.

|264|

A. Kerkregtelik

1. Meerdere vergaderings (sinodes) is vergaderings van kerke

By artikels 29 en 41 is verduidelik dat sinodes (meerdere vergaderings) daar is ter wille van die kerke en nie andersom nie. Elke klassis (meerdere vergadering of sinode) is ’n byeenkoms van kerke op homself en nie ’n permanente kerklike struktuur wat kontinueer nie. Daarom maak die kerke in die samekoms onderling voorsiening vir die volgende samekoms deur een van die kerke verantwoordelik te stel vir ’n aspek wat die kontinuïteit raak. Hulle benoem ’n kerk om volgens afspraak of anders na raadpleging met ander kerke die kerke vir ’n volgende samekoms saam te roep en die basiese stukke na te gaan (art 33). Die plaaslike kerk en kerkraad is permanent en kan dus dien as adres en agent vir 'n volgende meerdere vergadering. ’n Kerkraad verleen die basis vir oproep, ontvangs en konstituering van ’n vergadering van meer kerke (Hd 15) en ’n kerkraad kan die argiewe bewaar, stukke vir die volgende vergadering ontvang en ordelik voorlê

 

2. Meerdere vergaderings moet ordelik verloop

Die Here God skep orde uit chaos en herskep sy kerk as orde uit die sondeval (Milner 1970:123v). In die kerk van die Here moet alles welvoeglik en ordelik toegaan (1 Kor 14: 40). Met die oog daarop moet die dienaars min maar noodsaaklike reëlings instel, sonder om dwang op die gewetens van die gelowiges uit te oefen (art 32 NGB; Calvyn Inst IV.9.xiii). Besluite van vorige samekomste is belangrik (art 46). Gevolglik moet die notule en argiewe van die vorige vergaderings bewaar en ter wille van kontinuïteit op die volgende vergadering beskikbaar wees. Die oudste kerke het die instruksies en adviese van die apostels bewaar en in konsilies aan ander kerke beskikbaar gestel.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die eerste kerkorde (1571) maak slegs vir gereelde periodieke samekomste van kerke voorsiening. In 1574 word prakties verder gereël dat die samekomste in die kerke (vergaderplekke) sal roteer (Biesterveld, Kuyper 1905:36,65). In 1578 word bepaal dat ’n klassis “ten laaste” (voor dit sluit) ’n roepende kerk vir die volgende klassis moet aanwys. ’n Bepaalde kerk moet ook opdrag ontvang om ’n provinsiale sinode saam te roep en die sake voor te dra wat die klassis nie kon afhandel nie (Biesterveld, Kuyper 1905:106,108). In 1586 word kort en bondig gestel dat die aangewese roepende kerkraad ook die handelinge (argiewe) van die betrokke klassis, partikuliere of algemene sinode op die volgende vergadering moet besorg. Dit word net so in 1619 behou.

In die Dordtse Kerkorde 1619 het artikel 41 vir die oproep van ’n klassis voorsiening gemaak terwyl artikel 47 bepaal het: “Met die sluiting van sowel

|265|

die partikuliere as die algemene sinode moet aan ’n kerk opgedra word om met advies van die klassis die tyd en plek van die volgende sinode te bepaal” (Biesterveld, Kuyper 1905:202,238).

Die GKSA het in 1964 die taak en plek van die roepende en korresponderende kerkrade onderskei en omlyn in die lig van praktyke wat reeds ontwikkel het. So is vir ’n korresponderende kerkraad of alternatiewelik vir deputate vir korrespondensie (dws persone) voorsiening gemaak (GKSA 1964:71).

 

2. Die Roepende Kerkraad

Die GKSA het in 1964 die orde vir die oproep van ’n meerdere vergadering duidelik bewoord en koppel die vraag na “advies” duidelik aan ’n situasie waar ’n buitengewone vergadering weens onvermydelike omstandighede op ’n ander tyd en plek opgeroep moet word as wat in die vorige besluit bepaal was. Die oorspronklike bepaling weerspieël die selfstandigheid, vermoë van en vertroue in mindere kerke om te oordeel waar en wanneer ’n meerdere vergadering moet saamkom. Dit is tipies van die gereformeerde kerkreg dat mindere vergaderings namens alle kerke kan handel (artt 4,66). ’n Kerk kan net met die klassis raadpleeg om die samekoms van ’n algemene sinode te reël. Die GKSA het die geval van advies van ’n “partikuliere sinode” ingevoeg. Dit maak die prosedure lomper en het waarskynlik uit sisteemdwang gebeur. Wanneer die tyd en plek van ’n volgende klassis moet verander, raadpleeg die roepende kerkraad met die korresponderende kerkraad of anders die korresponderende kerkraad met een of meer naburlge kerkrade.

Kerke moet beslis omdat dit die enigste permanente instelling is. Deputate vir korrespondensie (as persone) is nie bevoeg om hieroor te adviseer nie. Toe die nasionale sinode verklein is (GKSA 1958:37-43), was daar selfs sprake van “roepende” sinodes (GKSA 1967:347). Hierdie opvatting gaan verkeerdelik van sinodes as blywende strukture soos van ’n kerkraad uit. Omdat meerdere vergaderings in en deur middel van ’n plaaslike kerk saamkom, word hulle volgens die plek van die roepende kerk en tyd van samekoms genoem en onderskei (bv Sinode van Dordrecht 1618/19).

Die roepende kerkraad roep die ander kerke vir die betrokke vergadering op, gaan die geloofsbriewe na in die lig van Kerkorde, stel vas hoeveel afgevaardigdes ontvang moet word en maak so die vergadering fisies moontlik en lei daarna die konstituering.

Sedert 1945 het die GKSA in nasionale sinode altyd op dieselfde plek vergader en dieselfde roepende kerkraad aangewys. In Nederland vergader kerke dikwels in dieselfde gerieflike ruimte, maar roteer die roepende kerkrade. Hierdie prosedure benadruk die pluraliteit van die verskyning van die kerk van Christus en die gelykheid tussen kerke baie beter.

 

3. Die korresponderende kerkraad of deputate vir korrespondensie

Die woord “korrespondeer” beteken in die kerkorde ooreenstem, een-wees of saamwerk in kerkverband (art 52). “Korrespondensie” wys hier egter op gewone administratiewe verkeer. Wanneer die roepende kerkraad soos

|266|

gedurende die 16de eeu, die argiewe moet bewaar, kan dit gebeur dat klassikale argiewe tot vier keer per jaar van hande moes verwissel. Dit bring die veiligheid van kosbare argiewe sowel as doeltreffende administrasie tussen ’n vorige en volgende klassis (sinode) in gedrang. Daarom moet by voorkeur ’n vaste kerkraad of alternatiewelik bevoegde persone met hierdie taak belas word, so lank die absolute veiligheid en noukeurige bewaring van die argiewe verseker is.

Die kerke benoem gewoonlik korresponderende kerkrade vir klassisse en partikuliere sinodes, maar deputate vir korrespondensie vir nasionale en algemene sinodes vir wie die sentrale Kerkargief maklik bereikbaar is. Deputate vir korrespondensie skep vir mindere vergaderings probleme wanneer dergelike persone verhuis, siek word, ontslag neem, ensovoorts. ’n Korresponderende kerkraad verskaf daarteenoor ’n vaste adres, al behartig die voorsitter en skriba in praktyk grootliks hierdie taak. Hulle behoort egter die kerkraad op die hoogte te hou. Nie alle kerkrade en ongelukkig nie alle predikante kan met die veilige bewaring van argiewe en stiptelike hantering van stukke van meerdere vergaderings vertrou word nie. Toerusting en bekwaamheid moet die keuse bepaal. Die roepende kerkraad kan bygeval ook korresponderende kerkraad wees.

 

4. Die taak van die korresponderende kerkraad

Die korresponderende kerkraad behartig gewoonlik die onafgehandelde korrespondensie (art 49) en bewaar alle stukke soos notules, finansiële state, korrespondensie, rapporte, ensovoorts van vorige vergaderings. Wanneer nodig vra die korresponderende kerkraad verlof om argiewe van die betrokke meerdere vergadering na ’n sentrale argiefbewaarplek te sentraliseer.

Die rapport van die korresponderende kerkraad dien net na die konstituering en rapport van die roepende kerkraad afgehandel is. Dit rapporteer oor opdragte van die vorige vergadering wat afgehandel is, lê stukke wat vir die agenda van die betrokke vergadering ontvang is ter tafel en vestig vir goeie orde aandag op sake wat voorrang moet geniet en waarvoor voorsiening gemaak moet word, soos byvoorbeeld vir die benoeming van ’n roepende en ’n korresponderende kerkraad. Die rapport van die korresponderende kerkraad oor die stukke is die basiese agenda van die vergadering.

Die meeste meerdere vergaderings versoek dat stukke ’n bepaalde tyd voor die volgende vergadering aan die korresponderende kerkraad gestuur moet word. So ’n reglement van orde is ’n ordereëling en kan nie die bepaling van artikel 33 of die prerogatief van die betrokke meerdere vergadering met betrekking tot sy agenda ophef nie. Sekere stukke soos appèlle (art 31) kan direk ter tafel gelê word en ander stukke kan “aanvullend” tot die agenda net na die rapport van die korresponderende kerkraad ter tafel kom. Die betrokke vergadering besluit op meriete of hy dergelike stukke ontvang. Dit kan ontvangs weier indien mindere vergaderings uit onverskilligheid stukke van middelmatige belang nie betyds aan die korresponderende kerkraad gestuur het nie. ’n Laatgekome stuk wat die welsyn van die kerke raak, moet ter tafel geneem word sodat die kerke nie skade ly nie.

|267|

4. Gesentraliseerde kerkargiewe

Die kerke onderneem saam in ’n sentrale Kerkargief ordening, liassering, versorging en bewaring van kerklike argiewe deur vakdeskundige personeel. Die argiewe bly eiendom van die betrokke kerke en word volgens bepaalde reëls en besluite in die Kerkargief bewaar (vgl GKSA 1961, 1964, Snyman, Spoelstra: 1963). Die stukke van meerdere vergaderings bly eiendom van die kerke. Argiewe is die spore of geheue van die kerke en daarom van onskatbare waarde vir die volgende geslagte. Geen individu mag na goeddunke om watter rede ook al van hierdie kerklike eiendom waardeloos beskou of vernietig nie.

Spoelstra, B. (1989) Art. 46

Artikel 46

Agenda en besluite van meerdere vergaderings

 

Artikel 46: Sake vir behandeling op meerdere vergaderings moet nie opgestel word voordat die besluite van die voorgaande sinodes oor die voorgestelde punte naggaan is nie, sodat wat eenmaal afgehandel is, nie weer voorgestel word nie tensy dit noodsaaklik geag word om iets te verander.

 

A. Kerkregtelik

1. Kerkregering moet gepas en ordelik plaasvind

Die vorige artikels (artt 30,31,41) toon aan dat meerdere vergaderings vir die kerkregering in die plaaslike kerke nodig is. Dit is daarom gepas en ordelik (1 Kor 14: 34) om op die besluite van meerdere vergaderings, te let sodat dieselfde vrae nie oor en oor gevra word nie. Dit spaar ook tyd vir ander sake wanneer 'n saak nie herhaal nie.

’n Kerk of klassis sou selfs in behandeling van ’n bepaalde probleem nuttig van besluite in naburige klassisse of ander sinodes oor dieselfde saak gebruik kon maak. Dit is duidelik uit Hd 15: 23-29 dat mindere kerke wat seker is dat hulle en die Hellige Gees besluit het, daardie besluit vir meerdere kerke as die wil van God kon deurgee. Die agenda van ’n meerdere vergadering moet daarom nie belas word met sake waaroor reeds uitsprake bestaan nie.

Hierdie ordebeginsel hou verder in dat iemand wat ’n saak by ’n meerdere vergadering aanhangig wil maak, verplig is om eers self ernstig en verantwoordelik te werk te gaan, asof hy dit moet hanteer en afhandel. Daar moet op plaaslike vlak gevra, gestudeer, nagevors en ondersoek word, voordat ’n saak verder gevoer word. Dit hou in dat vasgestel moet word of meerdere

|268|

vergaderings nie al oor die saak uitsprake gedoen het nie. Vir die eerste honderd jaar het die GKSA by vrae oor sakramente, diakens, huwelike, artikel 8, visitasie, ensovoorts gewoonlik eers gekyk na wat meerdere vergaderings in die 16de en 17de eeu of buitelandse kerke met wie korrespondensie onderhou word, daaroor besluit het, voordat tot ’n bevinding geraak is.

Godsdiens en kerk is intiem verwant en raak mense se diepste sekerhede. Onnodige, ligvaardige en teenstrydige kerklike besluite en adviese skok en breek af. Wie sê dat die Heilige Gees vergaderings lei (Hd 15: 28) en kerklike dienaars gebruik (Hd 20: 28) moet ook toon dat iets wat eenmaal afgehandel is, nie maklik weer voorgestel word nie (vgl Van der Linde 1983:167v).

 

2. Kontinuïteit in kerkregering

Sommige sake, soos byvoorbeeld eksamens of tuggevalle, handel meerdere vergaderings eenmalig en op eie meriete af. Wanneer prinsipiële “advies” of uitsprake gevra word, gaan dit om beginsels wat altyd waar is en vas staan. Indien die probleem ’n tydelike en plaaslike aangeleentheid raak, moet die meerdere vergadering hom daar nie lig by inlaat nie (art 30).

Adviese van meerdere vergaderings en kerkordebepalings moet beginsels stel wat in alle omstandighede geldig is. Gevolglik lê die kontinuïteit van gereformeerde kerkregering in die besluite van die diskontinue, periodieke en opeenvolgende meerdere vergaderings. Daarin verskil dit radikaal van demokratiese of revolusionêre kerkreg wat op sterkte van volksoewereiniteit kontinuïteit van die kerkregering sien in die gesag en jongste besluite van die vergadering wat die “lede” verteenwoordig, al sou die jongste besluit stry met ’n vorige besluit. Die soewereiniteit berus volgens hierdie opvatting nie by die reg (Skrif, Belydenis en Kerkorde) nie, maar by die bevoegde vergadering.

 

3. Besluite van meerdere vergaderings kan en moet soms verander word 

Omdat die Skrif die volkome reël van geloof is (NGB 7, sola scriptura), ontken Calvyn in sy Institusie dat konsilies of sinodes die kerk vergestalt of verteenwoordig (boek 4 hfst 9) of soewereine gesag oor die gemeente voer (10.vi). Hulle besluit is wel bindend in sover dit met die Woord en Wet van God ooreenkom. Calvyn dring juis daarom aan dat besluite van meerdere vergaderings omsigtig hanteer moet word. Daar moet eerstens ondersoek word in watter tyd, om watter rede, met watter bedoeling en deur watter persone ’n bepaalde besluit geneem is en of die besluit met die Heilige Skrif ooreenstem. Slegs so sal sinodes hulle gesag behou, maar die Skrif steeds die eerste en hoogste plek beklee (Inst IV.9.viii).

Konsilies soos dié van Nicea in die vierde eeu het besluite oor die Belydenis geneem wat ons vandag nog eerbiedig. Die Konsilie van Constans het egter weer in stryd met die woorde van Christus die nagmaalbeker vir die gemeente verbied, terwyl nog ’n ander die huwelik in stryd met die Skrif belet het (Inst IV.9.xiv). Kerklike besluite moes dus kan verander (kyk artt 31,36), ook wanneer veranderde omstandighede ander besluite (bv tov leerplanne vir opleiding van predikante) vereis. Selfs die kerkorde kan gewysig word (art 86).

|269|

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die eerste Sinode (1571) het voorsiening vir meerdere vergaderings gemaak en die beginsel van hierdie artikel te boek gestel (Biesterveld, Kuyper 1905:57). Dit het met klein nuanseverskil in 1578 deel van die Kerkorde geword todat die huidige bewoording in 1581 vasgestel is (Biesterveld, Kuyper 1905:102v,150).

 

2. Kontinuïteit van besluite

Sinodes dra dieselfde gesag as kerkrade (art 36) en is aan Skrif, Belydenis en Kerkorde ondergeskik. Met die oog daarop is besluite van meer kerke, en nie die vergaderings as sodanig nie, vir die kerkregering nodig. Indien die soewereiniteit by die reg en nie by vergaderings berus nie verloor ’n besluit wat met die Skrif, Belydenis of Kerkorde bots, dadelik sy geldigheid (Bouwman 1934:59). Kragtens kerkverband behoort die noodsaak vir revisie van ’n besluit dadelik na vore te tree en moet ’n persoon hom dus reeds daarmee by ’n kerkraad en ’n kerkraad, indien hy dit toestem, hom by die naaste klassis vervoeg. Daar kan nie gewag word totdat ’n bepaalde meerdere vergadering oor maande of selfs jare eers weer saamkom nie. Wanneer die mindere vergadering gewigtige besware (bv gegrond op Skrif en Belydenis) kondoneer, kan so ’n besluit nie geld totdat ’n bepaalde sinode verander nie. Die kerke mag nie ’n vorige sinode hoër ag en daaraan meer gehoorsaam as aan Christus wees nie. Die reg van die Koning van die kerk is soewerein.

Die kerkregering kan gedien word indien die kerke kragtens kerkverband ’n goeie bruikbare indeks van besluite van alle meerdere vergaderings beskikbaar sou kon maak en byhou. Moontlik kan ’n losblad-register of kompersisteem aan die behoefte in die toekoms voldoen. Dit sal baie meer waarde hê as die beperkte aantal besluite van slegs nasionale sinodes wat tans agter in ’n Kerkordeboekie verskyn. Meerdere vergaderings het al gedurende die 16de eeu beklemtoon hoeveel waarde kennis van besluite vir kerkregering kan hê (Bos 1950:175). Regsgeleerdes word in vorige hofuitsprake geskool, terwyl predikante en ouderlinge met ’n minimum kennis van besluite en adviese van meerdere vergaderings tot die bediening toetree en moontlik selfs nie eers daarna vra nie!

 

3. Agenda van meerdere vergaderings

Kragtens artikel 30 behoort meerdere vergaderings slegs te handel oor wat ’n mindere vergadering nie kon afhandel nie. Die agenda van ’n meerdere vergadering word dus grootliks deur die onmiddellike mindere vergadering opgemaak wat na die meerdere vergadering deputeer het (art 33). Dit is opmerklik en minder bekend dat by die Dordtse Sinode feitlik alle vrae,

|270|

voorstelle, probleme en besware uit mindere vergaderings as gravamina bekend gestaan het (kyk Kuyper 1899:95-99,106,109,120v).

Onder die GKSA word klassisse soms “nasionale sinodes” genoem (Soutpansberg, Suidland). Die “ouer” of Afrikaanse kerke met hulle Nederlandse tradisie onderhou sedert 1862 “nasionale sinodes”. Tans word die agenda van ’n algemene sinode uit hierdie sogenaamde “nasionale sinodes” saamgestel. Waar tans in een geval klassisse, in ’n ander ’n sinode van klassisse (Middellande) en by die “ouer” kerke ’n sinode van sinodes agenda voor ’n algemene sinode bring, behoort in laasgenoemde geval gravamina uit partikuliere sowel as nasionale sinodes voor ’n algemene sinode gelê kon word. Waar klassisse partikuliere sinodes onderhou, behoort hulle gravamina wel eers die kerklike weg te volg. Die huidige “nasionale sinode” van die ouer kerke is in wese ’n partikuliere sinode op etniese grondslag. Dit was gedurende die 16de eeu ook die geval met die Waalse en ander kerke (vgl Biesterveld, Kuyper 1905:36,109,239v).

Die benaming “beskrywingspunt” het in die GKSA in omloop gekom en word partymaal verkeerdelik radikaal van ’n gravamen of beswaar (-skrif) onderskei. ’n Saak wat ordelik ter tafel kom, moet op grond van sy inhoud deur die vergadering wat dit moet behandel, gekategoriseer word om te bepaal hoe die vergadering dit wil behandel. ’n “Beskrywingspunt” of “versoek” sou, selfs wanneer die inhoud op appèl neerkom, deur die vergadering as appèl behandel kan word (artt 31,33,46). Die naam of vorm van ’n stuk prejudiseer nie noodwendig die inhoud nie.

Onder “gravamen” word vandag ’n beswaar teen die aangenome belydenis, KO of enige ander besluit van ’n kerkvergadering verstaan. Om te sê dat dit juis op Gods Woord moet steun (GKSA 1961:513), stel dit te eng. Dit is beter om onder gravamina moeilikhede oor gemeenskaplike sake tussen kerke te verstaan (GKSA 1961:515). Die kerke het egter ook ’n roeping om verdraagsaamheid te beoefen as iemand bepaalde besware teen die leer koester maar dit nie propageer nie (Bouwman 1934:565; vgl Calvyn Inst IV.Ixii).

Die benaming beswaar of gravamen word tans veral aan artikel 46 verbind by voorstelle wat hersiening van besluite van voorgaande sinodes (meerdere vergadering) vra. Wie ’n bestaande besluit wil verander, moet daarvoor goeie gronde en redes kan aanvoer. Daarom heet dit ook “beswaarskrif”. Die versoek tot revisie moet dus gedra word deur gronde (Skrif, Belydenis, Kerkorde), of bewyse van teenstrydige besluite, intrinsieke gebreke, onduidelikhede of watter ander gebrek ookal (vgl GKSA 1961:515v;1964:443v). Die aard van die gronde bepaal die erns van die beswaar. Gravamina verdien voorrang op die agenda van die vergadering: dié oor die leer geniet prioriteit bo dié met betrekking tot kerkorde en laasgenoemde weer oor dié met betrekking tot bloot organisatoriese aangeleenthede.

 

4. Prosedure vir beswaarskrifte

In die gereformeerde sinodes voor 1964 is geen besondere “prosedure” vir “beswaarskrifte” gereglementeer nie. Die kerklike weg (art 33) is as voldoende beskou (Middelburg 1581 part vr 17; GKSA 1876 art 236). Onder toenemende

|271|

sentralisering en sinodokrasie het die GKSA In Potchefstroom 1958, 1961 en 1964 onder duidelike meningsverskil probeer om prosedure vir beswaarskrifte voor te skryf. Die Sinode van 1964 het op ’n minderheidsvoorstel uit ’n kommissie gesê (1) ’n gravamen word gerig aan die vergadering wat die gewraakte besluit geneem het; (2) dit moet betyds vir opname in die agenda ingedien word; (3) die betrokke besluit moet duidelik en woordeliks aangegee word; (4) die gronde waarop die beswaar steun, moet duidelik woordeliks aangegee word en (5) ’n beswaarskrif oor ’n besondere besluit mag nie meer as een keer ingedien word nie, tensy die beswaardes met gewigtige redes aantoon waarom nie berus kan word nie (GKSA 1964:444,446). Probleme trek saam op die eerste punt, omdat die orige vier eintlik vanselfsprekend is.

Dit is moeilik om te sê waarom hierdie “prosedure” opgestel moes word. Besware en versoeke tot revisie het voor 1952 gewoonlik nie soos appelle onder ’n spesiale kategorie “gravamina” na vore gekom nie. In 1955 (Acta:34v) kom uit ’n klassis ’n “beswaarskrif” oor ’n besluit van 1952 oor ’n persoon ter tafel. Dit lyk asof die “beswaarskrif” vir die moderamen ’n “nuwigheid” was sodat hulle uit radeloosheid (na die dood van die vertroude adviseur prof J D du Toit 1953?) ’n reglement verlang het. Die versoek om prosedure vir beswaarskrifte te reglementeer kom dus nie uit die kerke nie (art 33), maar onordelik vanaf die moderamen op die tafel sonder dat uitgemaak was of dit werklik nodig was (GKSA 1955:37).

In 1958 dien plotseling nege beswaarskrifte met betrekking tot rasseverhoudinge (p 270), besluite van 1949 en 1952 oor sustersverenigings (p 272v), lidmaatskap van die Broederbond (p 304), ’n sinodale katkisasie-organiseerder (pp 342-354), bestuursmag van deputate in kerklike sustentasie (p 379v) en onderwysbeleid (p 407). Tog was daar geen merkbare prosedureprobleme met wat ter tafel was nie. Die reglement vir beswaarskrifte in 1964 spreek die enkele prosedure-probleem in 1958 (pp 349-353) glad nie aan nie. Die kernvraag is of ’n individu bepaalde besware direk by ’n partikuliere, nasionale of algemene sinode moet indien (GKSA 1958:276). ’n Meerderheid van deputate wil dit in 1961 so voorskryf, maar mede in die lig van ’n sterk minderheidsrapport word die prosedure nog weer vir verdere pre-advies verwys (GKSA 1961:512-515).

Die rapport voor die sinode van 1964 bied ’n karige analise van die probleem en beveel onses insiens tereg aan dat in die reël die kerklike weg (artt 31,33 KO) met beswaarskrifte gevolg word. Wanneer ’n mindere vergadering ’n beswaar teen ’n besluit van ’n meerdere vergadering afwys, kan die beswaarde na ’n meerdere appelleer (art 31). Noodsaaklike of buitengewone gravamina kan met motivering direk by ’n bevoegde vergadering aangemeld word. Oor ’n deugdelike vorm vir ’n beswaarskrif bestaan nie verskil nie (GKSA 1964:442-444).

Die Sinode wys egter op sterkte van ’n minderheidsrapport die kerklike weg vir beswaarskrifte af omdat artikel 30 KO kompartementeel vertolk word asof sekere sake slegs tot die bevoegdheid van bepaalde staande meerdere vergaderings behoort. Dié argument (GKSA 1964:446) toon geen begrip vir die gereformeerde beginsel dat besluite van meerdere vergaderings minder vergaderings bedien en dat hulle dit as hulle besluite moet hanteer nie. Dit steun selfs op die sekulêre en onkerklike argumente dat ’n “beswaarde” op die

|272|

kerklike weg “aanhangers” vir sy beswaar sou kon werf. In plaas van festina lente (haas jou langsaam) in die kerklike weg te waardeer as ’n manier om vas te stel of besluite noodsaaklik verander moet word, word dit met “trombose” vergelyk (GKSA 1964:445-446). Die Sinode van 1964 sny as ’t ware die kerklike weg vir beswaarskrifte af hoewel artikel 33 en ondertekeningsformulier vir predikante nie gewysig word nie.

Die voorskrif dat “’n gravamen moet gerig word tot die vergadering wat die betrokke besluit geneem het” veroorsaak onmiddellik ’n anomalie. ’n Predikant onderneem byvoorbeeld in sy ondertekeningsformulier om besware teen die belydenis wat in ’n algemene sinode aanvaar is, by ’n kerkraad, klassis of partikuliere sinode aanhangig te maak en behou ’n reg van appèl na ’n meerdere vergadering. Daar was wel verskil van mening in die 16de eeu of die kerklike weg van kerkraad, klassis en (part) sinode conjunctim (dws van die een na ander) of divisim (dws een of die ander) verstaan moes word (Kuyper 1899:200; Bouwman 1934:573). ’n Kerkraad en mindere vergaderings het egter sonder twyfel met beswaardes oor leer wat op ’n algemene sinode vasgestel was, gehandel. Die prosedure van 1964 wou daarteenoor die “beswaarde” verplig om sy beswaar in te dien by die “vergadering wat die betrokke besluit geneem het” (GKSA 1964:446 d(2)).

Hierdie voorskrif berus op die kollegialistiese idee dat ’n sinode ’n eie struktuur is wat ’n eie taak en veld van kerkregering naas en buite die kerkraad beoefen. Gevolglik kan lidmate selfs buite die kerkraad om sake op die tafel van meerdere vergaderings lê (GKSA 1961:513;1964:446; Spoelstra 1967:285). Hoewel Van der Linde die prosedure van 1964 (1983:168) verdedig met “bedoeling”, kom sy argument tweeslagtig en apologeties oor. Hy stem per slot van rekening, anders as wat die prosedure van 1964 bedoel, toe dat die kerklike weg (artt 31,33,46 KO) ook nog steeds gevolg kan word. Daarmee trek hy die mat onder die besluit van 1964 uit. Die prosedure wat in 1964 voorgeskryf is, bots met die Kerkorde en die gereformeerde praktyk en lê ’n kerkraad lam om met byvoorbeeld iemand wat teen die leer beswaar het, te handel (vgl GKSA 1876: art 236;1894 art 118; Kuyper 1899:107v,413-468).

Gravamina behoort op goeie gronde (vgl 1964:443v) in die reël die kerklike weg te volg. Wanneer ’n gravamen mindere vergaderings verbygaan en direk by ’n meerdere vergadering ingedien word, kan dit daar oorweeg word as dit noodsaaklik is, anders moet dit liewer terugverwys en rustig langs die kerklike weg oorweeg, afgewys, “getrim” en afgerond word sodat dit gemotiveerd en helder dien waar en wanneer ’n besluit verander moet word.

Die gereformeerde kerkregering soek nie daarna om so gou as moontlik sonder formele “trombose” (GKSA 1964:446) te besluit nie, maar soek daarna om waarheid, rus en eenheid in die kerke te bevorder (NGB 32). Soos aangetoon, het Calvyn omsigtige beoordeling van besluite van meerdere vergaderings noodsaaklik geag. Dit is gevaarlik wanneer ingrypende besluite haastig in ’n algemene sinode geneem word, terwyl daarteen geen appèl (art 31) meer moontlik is nie. Daarom behoort slegs kerke in mindere vergaderings agenda vir die volgende meerdere vergadering slegs deur kerke in mindere vergaderings op te maak. Dit is wel waar dat die kerklike weg ’n mate van duplisering veroorsaak. Wanneer elke vergadering erns maak, dien dit ook as dubbele kontrole wat in die lig van artikel 46 seker maak wat noodsaaklik is.

|273|

Mindere vergaderings werk goedkoper, het meer tyd tot hulle beskikking en kom meer dikwels saam. Hulle kan by gravamina onnodige en ongegronde argumente afwys, vae gravamina tegnies verbeter en so die meerdere vergadering help wat die finale besluit dikwels onder druk moet neem. Juis die kerklike weg verseker dat rustig uitgemaak kan word of iets noodsaaklik verander moet word.

 

5. Behandeling van beswaarskrifte

Elke beswaarskrif moet onpartydig op eie meriete behandel word. Sinodale handelinge van die GKSA skep soms die indruk asof kommissies saamgestel word om ’n bepaalde uitslag te probeer verseker. Omdat volkome onpartydigheid moeilik in kerklike sake verkry word, moet ’n beswaarskrif so veel as moontlik in volle vergadering beredeneer word. In ’n kommissie vir pre-advies moet die personeel die verskillende skakerings van standpunte weerspieël. Wanneer so ’n kommissie konsensus bereik, is die saak vir die sinode gewoonlik opgelos. Selfs wanneer ’n meerderheid en ’n minderheid rapporteer, vergemaklik kontrasterende standpunte verantwoordelike besluitneming. Vrae en antwoorde stel ’n beswaar duideliker as toesprake en argumentasies. Die voorsitter moet help om die kern van die saak voor die vergadering uit te lig, sonder dat hy kant kies (art 35). Die vorm van besware en rapporte voor meerdere vergaderings maak dit baie keer moeilik om die kern te begryp omdat dit op ingewikkelde redenering en argumentasies gebou is.

Die vergadering (kerkraad, klassis of sinode) moet ’n beswaar in die eerste plek tot sy kern herlei en verstaan; daarna moet dit die besluit in sy konteks oorweeg; waarna die gronde vir die beswaar teenoor die oorwegings waarop die besluit rus, afgeweeg moet word, sodat geoordeel kan word of die besluit in sy geheel of gedeeltelik gewysig moet word. Die vergadering wat ’n beswaar oorweeg, moet nie apologie vir ’n besluit aanbied nie. Drogredenasies moes vermy word soos waar afleidings gemaak word op grond van wat in toeligting gesê of nie gesê was nie (argumentum e silentio), of waar die argument hom op belange of gesag van ’n persoon beroep (argumentum ad hominem), of waar konklusies oor die geheel slegs op ’n deel gegrond word (petitio principium), of waar met voorspooksels en dreigemente gekom word (argumentum ad baculum), ensovoorts. Verandering van besluit moet ernstig in oortuiging deur die volle vergadering gedoen word.

Die kerkraad, klassis of sinode kan in uitspraak verwys na besluite wat daar of elders in die kerkverband reeds geneem is. Indien ’n beswaarde nie moeite gedoen het om daarmee op hoogte te kom nie, behoort die meerdere vergadering op grond van hierdie artikel die versoek of voorstel terug te verwys.

Wanneer ’n versoek tot revisie glashelder is, kan dit onmiddellik in die volle vergadering afgehandel word. Indien onduidelikhede, probleme of bepaalde fasette nader uitgepluis moet word, kan ’n kommissie van pre-advies benoem word om die gravamen duideliker voor te lê, oorwegings daaromtrent aan te dui en ’n besluit aan te beveel. Die beswaarde kan repliek op die kommissierapport lewer, waarna die vergadering met vrae en amendemente die kommissierapport afhandel.

|274|

Wanneer ’n mindere vergadering ’n beswaar teen ’n besluit van ’n meerdere vergadering in sy geheel of ten dele toestem, moet dit die instruksie aan die eersvolgende meerdere vergadering tegnies behoorlik versorg. Elke mindere vergadering is verantwoordelik om ’n besluit van ’n meerdere vergadering wat hy nie langer as sy besluit kan erken nie, ter wille van die Hoof van die kerk (NGB 31) en tot beswil van die kerke te laat hersien. ’n Mindere vergadering wat ’n “beswaarde” nie van die teendeel kan of wil oortuig nie, maar hom na ’n meerdere vergadering verwys om van ’n probleem los te kom, handel oppervlakkig, onverantwoordelik en onbroederlik en misken die wese van die kerk as gemeenskap. Besluite van meerdere vergaderings is besluite van kerke wat in geloofsbriewe onderneem het om die besluite wat die toets van norme kan deurstaan, na te leef (art 33, kyk geloofsbrief).

Spoelstra, B. (1989) Art. 47, 50 & 51

Artikel 47, 50, 51

Meer vergaderings van meer kerke

 

Artikel 47: Die partikuliere sinode is ’n vergadering van naburige klassisse waarheen elke klassis ’n gelyke aantal bedienaars van die Woord en ouderlinge afvaardig soos deur die partikuliere sinodes bepaal. Die partikuliere sinode vergader jaarliks tensy dit na die oordeel van minstens twee klassisse noodsaaklik geag word om ’n buitengewone vergadering byeen te roep.

Artikel 50: Die nasionale sinode is ’n vergadering van al die partikuliere sinodes (of betrokke mindere vergaderings) waarheen elke partikuliere sinode (of betrokke mindere vergadering) ’n gelyke aantal bedienaars van die Woord en ouderlinge, soos die nasionale sinode bepaal, afvaardig. Die nasionale sinode vergader driejaarliks tensy dit na die oordeel van minstens twee partikuliere sinodes (of betrokke mindere vergaderings) noodsaaklik geag word om ’n buitengewone vergadering byeen te roep.

|275|

Artikel 51: Die algemene sinode is ’n vergadering van al die nasionale sinodes waarheen elke nasionale sinode ’n gelyke aantal bedienaars van die Woord en ouderlinge, soos deur die algemene sinode bepaal, afvaardig. ’n Buitengewone of vervroegde algemene sinode word opgeroep wanneer ten minste twee nasionale sinodes so ’n algemene sinode noodsaaklik ag.

 

A. Kerkregtelik

1. Meer sinodes is moontlik

Hierdie drie artikels berus op die kerkregtelike grond wat reeds by artt 29,30,36,41 bespreek is. Die klassis is die eerste, belangrikste en noodsaaklike samekoms van meer kerke. Nog meer kerke kan mekaar nog beter in bepaalde gemeenskaplike sake as in die klassis bystaan. Verder kan meer kerke gemeenskaplike belange met betrekking tot onderwys, opleiding en toelating van predikante, versorging van tehuise, finansiële sustentasie, korrespondensie met burgerlike owerhede, Bybelvertaling, skakeling met ander kerke binne dieselfde land of etniese verband, ens, gesamentlik behartig.

Waar meer as een klassis voorkom, sou ten minste periodieke sinodes met die oog op eenheid in leer, diens en tug noodsaaklik wees. Tog leer die geskiedenis van die Nederlandse kerke van 1618 tot 1816 toe die owerheid geen nasionale of algemene sinode toegelaat het nie, dat die kerke in provinsiale sinodes en deur middel van onderlinge korrespondensie (art 48) grootliks die gemis aan algemene sinodes uitgeskakel het.

Die aantal vlakke van sinodes (artt 47,50) wat die kerke tussen klassis en algemene sinode onderhou, is ’n middelmatige saak wat deur behoefte en praktyk bepaal word. Die Skrif skryf nie die vergaderings van meer kerke voor nie. Daarom bely die kerke die noodsaak van 'n kerkraad (NGB 30), maar niks oor sinodes nie. Die belydenis voorsien egter dat die kerke met mekaar sal reël hoe hulle wil saamkom om mekaar met die oog op bepaalde belange te ondersteun (NGB 32).

Die Nederlandse gedesentraliseerde politieke regeringstelsel en etniese samestelling speel ’n rol in die Kerkorde wat met die oog op plaaslike vryheid en verantwoordelikheid vir klassisse, provinsiale en nasionale sinodes voorsiening maak (Spoelstra 1980). Die Dordtse Sinode in 1618 maak selfs van afgevaardigdes van buitelandse kerke gebruik. Die Suid-Afrikaanse politieke verdeling in die vorige eeu en verskeidenheid in die 20ste eeu, speel 'n rol in die aantal vlakke waarop kerke tans saamkom in sinodes.

 

2. Die prerogatief berus by die kerke

Kragtens die federale, vrywillige maar tog noodsaaklike samewerking van die selfstandige en komplete kerke in meerdere vergaderings (Spoelstra 1977),

|276|

oordeel die kerke self waar en hoe hulle in meerdere vergaderings saamwerk. Dit word nie uit ’n struktuur of kerkorde as konstitusie aan hulle opgelê of voorgeskryf nie. Gereformeerde Kerke In Nederland, die VSA, Suid-Afrika en elders onderhou daarom nie identiese vlakke van kerkregering nie.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikels

Die eerste paar Nederlandse kerke kom in 1571 in Emden saam op grond van hulle eenheid in belydenis, hoewel hulle verskillende Franse en Nederlandse belydenisskrifte gebruik (Pont 1981:103 art 2). Vanuit die konfessionele eenheid reël hulle in kerkorde dat die Waalse (Franse), Nederlandse, Engelse en Duitse kerke gereeld in afsonderlike klassisse en jaarliks in etniese sinodes sal saamkom, terwyl alle kerke uit die verskillende etniese groepe tweejaarliks in algemene sinode sou saamkom. Reeds in 1578 word laasgenoemde na driejaarliks verander en bepaal dat die partikuliere sinodes drie maande voor die “generale of nasionale sinode” sal vergader om laasgenoemde voor te berei (Biesterveld, Kuyper 1905:35-7;109).

Die Kerkorde van 1578 (art 31) bepaal: “Aangesien in die Nederlande twee tale gebruik word, die Duitse en die Waalse, sal die gemeentes van beide tale hulle eie (besondere) kerkrade, klassisse en partikuliere sinodes hê en hou, maar as die gemeentes van die een of ander taalgroep al hulle partikuliere sinodes wil saamroep, kan hulle dit doen. Dit moet egter verstaan word dat so ’n samekoms van kerke van die een taalgroep alleen, nie die kerkorde en seremonies en ander gewigtige sake wat in hierdie sinode (1578) besluit is, sal verander nie. Indien verandering nodig geag word, sal dit in ’n nasionale sinode van albei tale gedoen word” (Biesterveld, Kuyper 1905:109v). Die nadruk in die kerkordelike bepalings van die 16de eeu val op die kerkrade en klassisse (Ibid 101-106), terwyl jaarlikse partikuliere sinodes tussen klassisse met die oog op die kerkorde en “partikuliere sake” nodig geag word (Ibid 106-107). Die “generale of nasionale sinode” wat partikuliere sinodes met kredensiebriewe in sowel die “Waalse as Nederlandse taal” saamstel, word feitlik net genoem (Ibid 109). Dit beklemtoon hoe swaar die aksent in die kerkregering op die kerke val, terwyl die bevoegdheid van meerdere vergaderings konsentries kleiner word (art 30).

Die Kerkordes van 1586 en 1619 definieer ’n klassis as vergadering van naburige kerke en sê verder net: “Elke jaar... sal vier of vyf of meer genabuurde klassisse saamkom as partikuliere sinode…” (art 47 van 1619) wat ook net “sinode” genoem word (vgl artt 48,49, ondertekeningsformuliere, Kuyper 1899). “Die Nasionale sinode sal gewoonlik elke drie jaar gehou word…” (Biesterveld, Kuyper 1905:201 v; 236-240). Sinodes is nie liggame in eie reg nie, maar blote periodieke samekomste van kerke in steeds wyer verband maar met ’n steeds krimpende agenda-bevoegdheid. Die heel basiese uitgangspunt en verstandhouding by die Franse kerke in 1559 en Nederlandse in 1571 is dat een kerk nie deur middel van ’n sinode oor ander sal heers nie (Pont 1981:50,103).

|277|

Die GKSA redigeer in 1964 artikels 47 en 50 van die Dordtse Kerkorde. Die reglementering van twee predikante en twee ouderlinge per klassis of sinode in artikels 47 en 51 word vervang met “’n gelyke aantal” predikante en ouderlinge. Die reëling hoe gewone en buitengewone sinodes opgeroep word, word deels by artikel 45 afgehandel. Op die voorbeeld van artikel 41 word die partikuliere en nasionale sinodes gedefinieer as: “Die partikuliere sinode is ’n vergadering van naburige klassisse…” en “Die nasionale sinode is ’n vergadering van al die partikuliere sinodes…” (GKSA 1964:61,71 v).

Artikel 51 is die Kerkorde-artikel wat ingrypend verander het. Die Dordtse Kerkorde 1619 bepaal: “Omdat in die Nederlande twee tale gepraat word, sal die kerke van Duitse en Waalse tale hulle eie kerkrade, klassisse en partikuliere sinodes hê” (Biesterveld, Kuyper 1905:240). In 1905 vervang die Nederlandse kerke dit met: “Vir die Gereformeerde kerke van Europeane in Nederlands-Indië word die wyse waarop hulle met die kerke hier te lande in verband staan, deur die Generale Sinode gereël” (Renkema, De Moor 1916:64).

Die GKSA het artikel 51 in 1916 soos volg bewoord: “Die algemene sinode moet reël hoe die Gereformeerde Gemeentes van blankes buite die Unie met die gemeentes in die Unie in verband staan,” wat destyds met die oog op kerke in Angola, Kenia, Argentinië, Suidwes-Afrika en Rhodesië aktueel was en gewoonlik volgens artikel 39 gereël is.

In 1964 lees artikel 51 soos volg: “Die nasionale sinode reël die korrespondensie met Gereformeerde Kerke buite die Republiek van SA sowel as met Gereformeerde Kerke van ander volksgroepe binne die Republiek wat hulle eie klassisse, partikuliere sinodes en nasionale sinodes onderhou”, Die sinode sê dat daarmee teruggekeer word na die beginsel van die Dordtse Kerkorde van 1619 (art 51) en sinodale besluite word in ag genoem met betrekking tot “Gereformeerde Kerke onder die nie-blankes met wie taal- en/ of volksverskille eerbiedig word” (GKSA 1964:62,72).

Die nasionale sinode Potchefstroom 1979 beveel by die algemene sinode die huidige bewoording van artikel 51 aan (GKSA 1979:554), terwyl die beoefening van korrespondensie as nuwe art 52 gestel word (Ibid 555}.

 

2. Die aantal sinodes

Die aantal sinodes van artikel 29 is nie normatief nie, maar word na behoefte en tradisie bepaal. Vanaf 1862 tot ongeveer 1924 het die GKSA die Dordtse Kerkorde van 1619 gehad, maar in plaas van klassis en partikuliere sinode slegs ’n Algemene Vergadering van al die kerke in ’n bepaalde staat (Kaapkolonie, Republiek van OVS en Transvaal) onderhou. Anders as wat die kerkorde bepaal, het kerke tot 1958 direk na die algemene of nasionale sinode afgevaardig. Die kerkorde is hierin nie as ’n voorskrif gesien en gebruik nie.

Die Reformasie van die 16de eeu gaan hand aan hand met die opkoms van nasionale state en volkskerke in die dekolonisasie van die ou Heilige Romeinse Ryk en Kerk.

Die benaming “generale of nasionale” sinode het in Nederland nie ’n etniese nie, maar staatkundige betekenis gehad waar Waalse, Duitse en Nederlandse (en selfs Engelse) kerke in dieselfde koninkryk saamgekom het. Gedurende

|278|

die 16de eeu kon al die partikuliere sinodes van kerke uit ’n bepaalde volks- of taalgroep egter naas die generale (of staatkundig “nasionale”) sinode ook hulle eie etniese (“nasionale”) sinode onderhou (Sinode Dordrecht 1578 art 31; Biesterveld, Kuyper 1905:109). Laasgenoemde sinode was noodsaaklik omdat die Waalse kerke gemeenskaplik byvoorbeeld hulle Franse belydenis, kategismus, liturgie, ensovoorts moes versorg. Die voorbeeld sou aangevul kon word deur na Bybelvertaling, psalmberyming, liturgiese formuliere, opleiding van predikante, ensovoorts te verwys.

Die beskrywingspunt in die Algemene Sinode van 1988 uit die kerke van Soutpansberg, wat oorname van alle teologiese opleiding deur die Algemene Sinode vra, hou nie rekening met die verband tussen kerk en werklikheid nie en kom waarskynlik op uit tipiese Europese imperialisme waarin eenheid met een struktuur vereenselwig is (vgl Spoelstra sa:157-163). Die ideologie van “apartheid” kan nie met ’n ideologie van totalitarisme bestry word nie. Sedert 1939 het die internasionale sendingkonferensies die kolonialisme skerp gekritiseer omdat kerstening en kerk-wees met verwestersing en vernietiging van inheemse nie-Europese kulture vereenselwig is.

Die GKSA het oorleg met deputate van “al die nie-blanke gemeentes” in 1962 gepleeg en hierdie kerke in 1964 ontvoog. Etnisiteit is wel met rasbepaalde begrippe soos “nie-blankes” en “kleurlinge” vermeng, en as uitgangspunt vir “nasionale sinodes” geneem wat as “kerkverband geïnstitueer” is (Acta 1964:261-270). Ook is die behoefte aan ’n “ekumeniese” sinode gestel. So het ’n “algemene sinode” en nuwe artikel 51 in 1979 die lig gesien (GKSA 1964:269;1979:5547). Tegelykertyd dui bepaalde vorme van wit en swart kerke wat kombineer, byvoorbeeld in die Breë Kuratorium van die Hammanskraalse Teologiese Skool, op synodi contracta, dit wil sê samewerking van meer kerke in ’n sinode met die oog op een bepaalde doel.

In die “ontvoogding” of selfstandigwording van die vroeëre “sendinggemeentes” het die “sendende” of “ouer” kerke eie meerdere vergaderings vir onderskeidelik die kerke in Venda en onder die Kleurlinge voorsien. Hierdie vergaderings kom meer ooreen met die vroeëre “algemene vergaderings” van die GKSA wat gelyktydig die rol van klassis en partikuliere sinodes vervul het. Die deels etniese (hoofsaaklik Sotho en Nguni), maar in stede muiti-etniese swart kerke in die Middellande, onderhou wel klassisse en eie partikuliere sinodes. Dit lyk asof bepaalde struktuurdwang in 1964 hierdie samekomste van kerke as “nasionale sinodes” in plaas van algemene vergaderings of partikuliere sinodes beskryf het (en aan die strukture selfs “name” soos Soutpansberg, Suidland en Middellande gegee het!). Die ouer kerke se “nasionale sinodes” mag daartoe gelei het dat die begrip “nasionale sinode” oordryf is.

Hierdie ontvoogding van die jong kerke deur die GKSA in 1964 binne die konteks van die destydse “apartheidsbeleid” was uniek, progressief, welmenend en gebaseer op ’n studierapport (GKSA 1961:43-119} wat rassisme afgewys en die beginsel van gelykheid van kerke (art 84) wou uitleef. Ongelukkig het ook kerkregtelike gebreke soos struktuurdwang en sinodalisme veroorsaak dat “nasionale sinodes” as permanente strukture met name “geïnstitueer” is. Daar word selfs van “die algemene sinode” gepraat asof dit ’n bepaalde struktuur soos ’n kerk is. Aan die ander kant het gelukkig nog die

|279|

“blank”-Afrikaanse kerke se opeenvolgende “nasionale sinodes” nie een naam gekry nie. Die gereformeerde kerkreg verkeer vandag onder druk van Europess-Amerikaanse denominalisme, kerksentrisme, strukturalisme en kollegialisme.

Afgesien van formele gebreke waarmee die GKSA moontlik die jong kerke in 1964 ontvoog het, was daardie kerke onmiddellik selfstandig. Die vergaderinge van die jong kerke het sedertdien nog min gedoen om hulle posisies kerkregtelik suiwerder te stel. Hulle beleef die bevrydende besluite van 1964 skynbaar foutief as voorgeskrewe strukture wat slegs ’n sinode in Potchefstroom kan verander (GKSA 1988:246-2.55) en so word artikels 30 en 84 KO nog nie beleef nie.

Sinodes in Potchefstroom het van 1964 af ook aangedring dat meer kontak, samewerking en belewing van kerkverband as net in 'n algemene sinode op plaaslike en klassikale vlak tussen “ouer” en “jonger” gereformeerde kerke uitgebou moet word (GKSA 1964:269; 1967:190, 357-411; 1970:66, 361 pt 3j; 1985:437). Die onus en inisiatief bly tot nou toe hoofsaaklik by die “ouer kerke”, hulle sendingkommissies en deputate. Wanneer ook “jonger kerke” inisiatief neem en samewerkingsprojekte loods, sal nuwe kombinasies van kerke in gepaste vergaderings natuurlikerwys met die oog op behoeftes saamkom. Niks belet dit nie. Politieke ontwikkelinge in Namibië mag byvoorbeeld weer die behoefte aan ’n nuwe “algemene vergadering” skep. Dit is die mindere vergaderings wat hulle behoeftes moet bepaal (art 30) en daarna, indien nodig, die betrokke klassisse in kennis stel. Kerklike imperialisme is die vrug van Westerse sekularisme.

 

3. Die partikuliere sinode

Die kerkorde en geskiedenis van die kerke in Nederland tot 1816 toon aan dat die partikuliere sinode na die klassis die belangrikste meerdere vergadering kan wees. Wie die kerk as ’n bepaalde “denominasie” onder bestuur van sy sinode beskou, sal hiervan verskil. In Suid-Afrika is die behoefte aan en noodsaak vir partikuliere sinodes dan ook al bevraagteken (GKSA 1927:19; 1936:87;1961:32-36;1964: 25-32;1970:121-122). Die gedagte om partikuliere sinodes uit te skakel, hang saam met die idee van kleiner nasionale sinodes wat in plek van partikuliere sinodes meer dikwels kan vergader. Studies van deputate het egter bevind dat daar geen dwingende argumente teen die partikuliere sinodes aangevoer word wat nie ook teen nasionale sinodes ingebring kan word nie (bv koste, minder belangstelling by lidmate, ens}.

Die partikuliere (vroeër genoem provinsiale) sinodes hou verband met die 16de eeuse Nederlandse en eertydse Suid-Afrikaanse gedesentraliseerde regeringsvorme (vgl Spoelstra 1977c; 1980:3-12). Dit verskil radikaal van byvoorbeeld die Engeise gesentraliseerde stelsel wat met die Unie van 1910 ook in Suid-Afrika groot invloed verkry en denke oor kerklike patrone beïnvloed het. ’n Gedesentraliseerde stelsel waarborg egter die maksimum plaaslike vryheid, verantwoordelikheid en aktiwiteit, terwyl sentralisasie aktiwiteite na sinodes, amptenare en enkele persone in kommissies verlê.

|280|

Die partikuliere sinodes adviseer klassisse, verleen onderlinge sustentasie, behartig appèlle, gravamina en tans ook eksamens (art 4). Indien elkeen van die huidige ses partikuliere sinodes oor drie jaar net een dag se werk aan appèlle, gravamina, beskrywingspunte, sustentasie, kuratore, ensovoorts vir ’n nasionale sinode sou bespaar, verkort dit ’n nasionale sinode met ses dae. Daarbenewens hanteer nasionale sinodes te Potchefstroom tans baie sake wat partikuliere sinodes nie behoorlik voorberei het nie.

Partikuliere sinodes kom egter dikwels onbetrokke en oorbodig voor omdat die kerke moontlik verkeerdelik by ’n nasionale sinode wil sentraliseer of omdat partikuliere sinodes sake nie krities behandel en beoordeel nie, maar sonder om artikel 30 in ag te neem of stukke te beoordeel en te redigeer, sake net so na nasionale sinodes deurstuur. Nasionale sinodes handel byvoorbeeld vandag oor tehuise, sending, noodleniging, allerlei studies, lektuur, besluite oor proponente, moslem-sending, aansoeke om te kollekteer, katkisasie, immigrasie, selfs emeritaatsversorging, Bybelverspreiding (Bybelgenootskap}, ensovoorts wat goedskiks op partikuliere sinodes behartig kon word. Waarom moet alle partikuliere sinodes oor alle middelmatige sake per se “eenvormige” besluite neem? Wanneer die kerke nie probeer om “een kerk” onder bestuur van “een sinode” te bedryf nie, sal hulle verantwoordeliker met partikuliere sinodes omgaan.

Die huidige indeling van die partikuliere sinodes is formeel, meganies en numeries-simmetries. Kerke in Wes-Transvaal en Suidwes-Afrika en kerke in Bloemfontein en Kaapstad word bymekaar gegroepeer (GKSA 1976:461-463). Dit veroorsaak koste, kom gedwonge voor en verhinder natuurlike belangegemeenskap. Die kerke in mindere vergaderings behoort self die indeling realisties te hersien.

Tans vaardig elke klassis 16 predikante en 16 ouderlinge na ’n partikuliere sinode af (GKSA 1976:463). Dit is ’n ope vraag of afvaardiging ’n “band met die kerk” (vgl GKSA 1970:122; 1976:463) daarstel of bevorder omdat dit deur besluite en nie deur persone nie, gedien word.

 

4. Verkleinde partikuliere en nasionale sinodes en getrapte afvaardiging 

Die Dordtse Kerkorde van 1619 het bepaal dat elke klassis en elke partikuliere sinode twee predikante en twee ouderlinge onderskeidelik na die partikuliere sinode en nasionale (generale) sinode deputeer. Die Kerkorde veronderstel dat die agenda wat in die kerke ontstaan (art 33) in die klassisse afgehandel word (art 30). Vir die sake wat aan die orde was en nie afgehandel kon word nie, kan die klassis en daarna die partikuliere sinode minder afgevaardigdes stuur.

Die GKSA het in 1958 besluit om ’n gelyke aantal predikante en ouderlinge uit elke klassis soos deur elke sinode bepaal en 'n gelyke getal van predikante en ouderlinge uit ’n partikuliere sinode, bereken op agt per klassis (waarvan minstens vier uit elke afsonderlike klassis afkomstig moes wees) na die nasionale sinode af te vaardig (GKSA 1958:40-43). Die berekening het in gedrang gekom toe meer as vier klassisse in bepaalde partikuliere sinodes na vore gekom het. Die getal is toe vir die huidige op 16 (sestien) per partikuliere sinode vasgestel (GKSA 1976:463). Die getrapte afvaardiging hou dus verband

|281|

en korreleer met die idee dat al die kerke in klassisse saamkom en daaruit in konsentries kleinerwordende meerdere vergaderings ’n krimpende agenda behandel, sodat die verkleinde sinode nog steeds die sinode van die kerke is. Die algemene sinode behoort daarom net dié af te handel waarby al die kerke gemeenskaplike belang het.

 

5. Nasionale sinode en algemene sinode

Die samestelling van nasionale en algemene sinodes kom prinsipieel ooreen met dié van partikuliere sinodes. Dit verskil van ’n klassis daarin dat dit in getrapte afvaardiging deur meerdere vergaderings saamgestel word. Dit bly nogtans, soos die klassisse, vergaderings van die kerke wat in klassisse byeen was.

Verkleinde sinodes met getrapte afvaardiging veroorsaak dat dieselfde kleiner getal predikante reëlmatig in nasionale en algemene sinodes kan verskyn. Dit gee soms daartoe aanleiding dat gevra word of klassisse of partikuliere sinodes met toerbeurt moet afvaardig. Vergaderings moet egter bekwame mense afvaardig om die werk te doen en nie na persoonlike belange kyk en minder geskiktes afvaardig dat hulle moet “leer” nie (Bouwman 1934:155). Die sinode wat afvaardig moet deur middel van ’n vrye verkiesing (dws sonder voorstelle of voordrag van name) die voorgeskrewe gelyke aantal predikante en ouderlinge aanwys. Ouderlinge kan in die plek van predikante, maar predikante nie in die plek van ouderlinge afgevaardig word nie (Bos 1950:177).

Die bepaling dat nasionale sinodes driejaarliks saamkom, bevat ’n “stukkie reglementering” (Van der Linde 1983:175) wat in die geval van algemene sinodes ontbreek. Die kerke in Soutpansberg, Middellande en Suidland word “nasionale sinodes” genoem, maar vergader tog nie driejaarliks nie. Dit onderstreep dat hier “algemene vergaderings” (Soutpansberg, Suidland) en ’n partikuliere sinode (Middellande) deur sisteemdwang as “nasionale sinodes” onder artikel 50 tuisgebring word. Slegs die ouer GKSA onderhou werklik driejaarlikse nasionale sinodes in Potchefstroom. Die kerke in Middellande mag daartoe kom wanneer klassise onder Nguni- en Sotho-volke in partikuliere sinodes sou wou groepeer.

Die tyd en plek van ’n volgende algemene sinode moet deur die vorige “bepaal” word. Ook hier behoort roepende kerke afgewissel te word al word die sinodes in Potchefstroom gehou.

Sinodes word met oop deure gehou, behalwe wanneer tuggevalle behandel word. Ampsdraers wat nie afgevaardig is nie, kan gewoonlik alle sittings bywoon “om te sien, te hoor en te leer” en hulle mag selfs om advies gevra word, maar nie stem nie (Bos 1950:179).

In die Nederlande is al oorweeg om sinodes eerder as driejaarliks te laat saamkom. Die nadele van hoër koste, herhaling van en dus outomaties meer agenda en oorname van werk uit hande van mindere vergaderings, het swaarder as die verwagte voordele geweeg (Bos 1950:186).

|282|

6. Buitengewone sinodes

Buitengewone omstandighede maak soms die oproep van ’n vervroegde of buitengewone sinode noodsaaklik. ’n Buitengewone sinode word vir ’n bepaalde buitengewone dringende saak saamgeroep. ’n Vervroegde sinode kan ook ’n dringende saak hanteer en verder gewone agenda afhandel, sodat die volgende sinode soveel later kan saamkom. Dit bespaar moeite en koste.

Die oordeel oor die saamroep van buitengewone sinodes berus nie by twee of meer kerkrade nie. Wanneer ’n aansoek om ’n buitengewone nasionale of algemene sinode die roepende kerkraad bereik, pleeg dit direk of langs die kerklike weg (na gelang van wat moontlik is) met die twee partikuliere sinodes (art 50) of met twee nasionale sinodes (art 51 ), onderskeidelik, oorleg. Dit is nie wenslik om só ’n ingrypende stap in belang of ter wille van ’n saak wat een persoon raak, te doen nie. Selfs tug oor professore moet nie soos in 1946 geforseer word nie. Daar moet rustig op ’n sinode oor ’n jaar of wat later gewag kan word. Tyd mag moontlik selfs besinning, versoening en rus bring (Spoelstra 1966:311).

Die huidige prosedure waarvolgens ’n buitengewone sinode opgeroep moet word, is lomper as die reëling van 1619 toe die roepende kerk met die partikuliere sinode en met die naburige kerke “die van eene andere taal is”, moes oorleg pleeg. Laasgenoemde kerke sou vier persone stuur na die partikuliere sinode waar besluit moes word oor die noodsaak vir en tyd en plek van die buitengewone sinode. Tegelykertyd stel die Dordtse Kerkorde uitdruklik dat die roepende kerk in dié proses met die klassis raadpleeg (Pont 1981:182 art 50).

Buitengewone sinodes moet in ’n hoogsuitsonderlike geval en onder druk van nood gehou word. Die prosedure om die beslissing van twee partikuliere of twee “nasionale” sinodes te verkry, impliseer nie noodwendig dat daarvoor ook buitengewone of vervroegde klassisse en sinodes saamgeroep moet word nie. In die kerklike lewe moet ’n paar maande gewag kan word, behalwe as dit nie anders kan nie.

 

7. Werkswyse van die sinodes

Die GKSA het tot 1924 sake direk in sinode aan die orde gestel en afgehandel. Kommissies van pre-advies is net benoem wanneer dit werklik noodsaaklik geword het. Sedert 1924 is die Nederlandse kommissiestelsel (Bos 1950:190) tot 1958 gevolg waarby die sinode na konstituering in ’n vier- of sestal kommissies verdeel. Die agenda word vir die kommissies ingedeel en die sinode verdaag om die kommissies geleentheid vir hulle werk te gee. Die kommissies behandel die betrokke agenda gelyktydig as ’t ware op vier of ses plekke en lê daarna pre-advies voor, waarop die volle sinode aan die hand van die rapport die saak beredeneer en beslis. Die werkswyse het die voordeel dat bespreking, amendemente en besluite saam met die debat oor die saak val. Talle sake word so gou afgehandel.

Na 1958 het sinodes in Potchefstroom weer ’n tydlank sake direk in die sinode behandel en afgehandel. Tans word sake in die volle sinode

|283|

gedebatteer, daarna na ’n klein kommissie verwys om voorstelle te formuleer en dan weer in die sinode gestel om feitlik sonder bespreking afgehandel te word. Daar is tans klaarblyklik te min tyd vir die agenda beskikbaar.

 

8. Openlike Verklaring

Die 18de eeuse rasionalisme het onder andere in die Algemene Reglement van 1816 in die Nederlandse Hervormde Kerk die opvatting gevestig dat ’n kerk ’n vereniging van persone is wat dieselfde beoog. So bepaal die meerderheid hoe hulle hulle kerk wil hê en is daar onder druk van die verligte eeu van die gereformeerde leer, diens en tug van die 16de eeu afgewyk. Toe in 1834 ’n Christelike Gereformeerde Kerk weer die ou gereformeerde leer en lewe wou bewaar, begin die verskynsel van verskillende “kerke” of “kerkgenootskappe” na vore tree. Die Christelike Gereformeerde Kerk het toe in die sinode van Zwolle 1854 ’n Openlike Verklaring opgestel om die CGK te identifiseer (Bos 1950:189).

Ds D Postma kom uit die CGK in 1858 na Suid-Afrika en lê in 1862 op die eerste sinode ’n konsep Openlike Verklaring voor wat vandag nog in sinodes van die GKSA gebruik word. Dit nooi almal wat aan die Dordtse leer, diens en kerkregering van 1618-19 wil vashou uit om in kerklike gemeenskap of korrespondensie (art 52) met die GKSA te tree (GKSA 1862:art 12).

Spoelstra, B. (1989) Art. 48

Artikel 48

Korrespondensie is belewing van oop kerkverband

 

Artikel 48: Onderskeie klassisse, partikuliere en/of nasionale sinodes onder kerke in algemene sinodale verband, kan met naburige klassisse, partikuliere en/of nasionale sinodes onderskeidelik, korrespondensie hou soos elkeen dit vir die algemene welsyn die beste ag.

|284|

A. Kerkregtelik

1. Korrespondensie

Kragtens die koninkryk van God (Heid Kat S 48; Du Plooy 1982:61) openbaar die een kerk van Christus (Heid Kat S 21; NGB 27) hom in baie kerke op baie plekke (NGB 28). Daarom dra ware kerke dieselfde kenmerke van die koninkryk wat uitkom in eenheid van leer, lewe en liturgie (NGB 29). Hierdie “eenheid”, gemeenskap of ooreenstemming in dieselfde leer, diens en tug (vgl Openlike Verklaring) lê die wesenlike en diepste verband tussen kerke, waardeur hulle ook in die aktiewe leer en lewe met mekaar korrespondeer. Die gemeenskap (koinonia) in Christus maak konkrete koinonia op verskillende vlakke en maniere moontlik.

Die woord “korrespondensie” is afgelei van spondere (beloof) en respondere (wedersyds beloof) sodat correspondere “saam wedersyds beloof”, instaan vir mekaar en ooreenstem beteken. Dit is dus ’n kerkordelike onderneming tussen plurale kerke om met mekaar saam te werk omdat hulle innerlik ooreen- en saamstem.

In die Kerkorde het die begrip “korrespondensie” gevolglik veral die betekenis gekry van daadwerklike beoefening van kontak tussen kerke en kerkvergaderings (Bouwman 1934:230v). Die behoefte daaraan het ontstaan toe die Nederlandse owerheid die byeenkoms van nasionale sinodes van 1586 af (met uitsondering in 1618/19) tot 1816 belet het. Tog is die wyse van korrespondensie nie gereglementeer of voorgeskrywe nie, omdat die kerke en kerkvergaderings hulle eenheid in leer, diens en tug volgens behoefte “oop” kon belewe en deur behoeftes laat bepaal.

 

2. Kerke lewe in kerkverband soos ’n familie in gesinsverband

Selfstandige kerke staan met mekaar in kerkverband. Elke kerk is regsgemeenskap wat homself in gehoorsaamheid aan Christus en sy Gees regeer, diensbaar aan die heiligheid van God en sy kerk. Gevolglik moet die kerke in nabygeleë en verwyderde assosiasies oor die wêreld heen soos een familie met mekaar saamlewe sonder dat een kerk oor ’n ander heers (Du Plooy 1982:182-183). Dit laat die moontlikheid vir verskillende vorme van korrespondensie tussen kerke en kerkvergaderings oop.

Korrespondensie oorskry strukturele, geografiese, taal- of kultuurgrense omdat dit op die eenheid in Christus steun.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Na die Sinode van Den Haag 1586 het die Nederlandse owerhede geen nasionale sinode toegelaat nie, terwyl die kerke deur die optrede van die Remonstrante ernstig beroer was (Rutgers 1882). Die partikuliere of provinsiale

|285|

sinodes kon egter gereeld saamkom binne die Nederlandse state en het hulle eie kerkordes volgens dié van Den Haag 1586 ingerig. In die bekommernis oor die eenheid in die leer en weerstand teen die Remonstrante het die provinsiale sinodes oor en weer deputate gestuur om van mekaar se probleme kennis te neem en optredes om die leer te beskerm, te korreleer (Bouwman 1934:231). So het hierdie artikel in die Dordtse Kerkorde van 1619 sy plek gekry (Bos 1950:181).

Klassisse het die korrespondensie onder mekaar binne dieselfde partikuliere ressort aangemoedig (Bos 1950:182). Die oorspronklike bepaling (Pont 1981:181) moet dus nie eksklusief vertolk word nie. Dit geld net so goed en natuurlik vir selfstandige kerke sonder dat ’n kerkorde dit sê (vgl die rol wat naburige kerke in die KO speel).

Die GKSA aanvaar die huidige bewoording in 1979 toe afsonderlike nasionale en algemene sinodes in artikel 29 ingerig word (GKSA 1979:555). Die vraag is of die lomper bewoording nodig was, terwyl die beginsel wat klassisse insluit duideliker soos volg kon gelui het: “Onderskeie meerdere vergaderings kan met naburige of ander meerdere vergaderings korrespondensie onderhou soos elkeen dit vir die algemene welsyn die beste ag”.

 

2. Kerklike korrespondensie in praktyk

Van kerklike korrespondensie word nie genoeg gebruik genaak nie, omdat mense vandag die selfstandigheid van plaaslike kerke nie sterk beleef nie en die onderlinge kerkregering in strukture wil plaas. “Korrespondensie” kan in mindere vergaderings groter rypheid bewerkstellig voordat sake na meerdere vergaderings deurgevoer word. Kosbare hulp, advies, wedersydse begrip kan tussen ouer en jonger kerke bewerkstellig word.

Daar vind tans die minimum skakeling tussen partikuliere sinodes en klassisse plaas oor sake soos onderwys, bestryding van openbare sondes, sending, tehuise, hospitalisasie, noodleniging, sustentasie, ensovoorts. Terwyl talle van hierdie aangeleenthede geen aandag op mindere vergaderings geniet nie en geen onderlinge “korrespondensie” plaasvind nie, geniet dit ’n permanente plek op die agenda van nasionale sinodes. Dit wys seker hoe strak struktureel gedink word. Tegelykertyd oorvleuel klassisse (of partikuliere sinodes) wanneer hulle los van mekaar met moeite dieselfde studies doen en moontlik selfs verskillende uitsprake maak oor byvoorbeeld “dienspligkapelane” en proponentseksamens net omdat hulle onderlinge korrespondensie beoefen.

Naburige klassisse, partikuliere en “nasionale” sinodes behoort na mekaar se sinodes twee deputate te stuur om die vergadering by te woon en daarvan verslag te doen (Spoelstra 1967:297). Getalle het in Transvaal drie partikuliere sinodes na vore gebring sonder dat hierdie sinodes oor sake soos provinsiale onderwys of tehuise korrespondensie beoefen. Korrespondensie tussen jong en ouer kerke is van die begin af bepleit (GKSA 1964:269,(6)). Daarvan het nog min tereg gekom. Indien dit waar is dat klassisse van die jong kerke moeilik van die grond af kom, lê die oplossing nie in klassikale integrasie, nuwe strukture en oorheersing van ouer kerke oor jong kerke nie (vgl art 84 KO),

|286|

maar in gesonde korrespondensie tussen kerke en klassisse. Deputate vir korrespondensie uit kerke van ’n bepaalde taal- en kultuurmilieu kan die kerke in naburige klassise met advies bedien. Dit is onontbeerlik in tye van rampspoedige droogtes, onluste, werkloosheid, ensovoorts. Hoe moeiliker die situasie, hoe noodsaakliker word korrespondensie tussen naburige kerke en klassisse oor taal- en kultuurgrense heen. Deputate van naburige klassisse onder ou en jong kerke moet mekaar se vergaderings bywoon. So kan van mekaar kennis geneem en hulp verleen word sonder dat een kerk (of groep kerke) oor ander heers (art 84).

Spoelstra, B. (1989) Art. 49

Artikel 49

Deputate om uit te voer wat besluit is

 

Artikel 49: Elke meerdere vergadering benoem deputate om wat besluit is, uit te voer volgens ’n welomskrewe opdrag. Die partikuliere sinode benoem in elk geval deputate om aan klassisse hulp te bied in voorkomende moeilikhede en om teenwoordig te wees by die proponentseksamen (peremptoire). Vir die onderskeie belange moet soveel moontlik afsonderlike groepe deputate benoem word. Hierdie deputate hou van al hulle handelinge notule om aan die meerdere vergadering verslag te doen. Slegs die betrokke meerdere vergadering kan hulle van hierdie opdrag onthef.

 

A. Kerkregtelik

1. Deputate het geen regeer- of besluitbevoegdheid nie

Deputate, funksionarisse of kommissies kry in kerkstrukture wat op verenigingsreg berus ’n bepaalde bevoegdheid, opdrag en mag volgens die konstitusie of wanneer die vergadering sy bevoegdheid na die funksionarisse delegeer. Die deputate verteenwoordig in interim-periodes die vergadering en so neem sinodale amptenare, kommissisies van ringe en sinodes en deputate namens die “kerk” as genootskap besluite, al sou hulle by ’n volgende sinode formeel verslag moet lever en hulle optredes laat goedkeur.

Dit verg ’n studie op homself om vas te stel hoeveel keer deputate binne die GKSA ook al bogenoemde weg in stryd met die gereformeerde kerkreg opgegaan het. Die Sinode Potchefstroom 1988 het byvoorbeeld met betrekking

|287|

tot rapporte van deputate oor ekumeniese sake en rasseverhoudings met die probleem te doen gekry. Pragmatiese oogmerke lei maklik tot oorskryding van mandaat en bevoegdheid.

Kragtens die uitgangspunt in die koninkryk van God waar Christus die enigste Koning en Hoof van sy kerk is, beperk die gereformeerde kerkreg die roeping tot regering tot die geroepe dienaars van Christus in die plaaslike kerk (artt 2,3,16,23) wat in tweede fase in die kerkraad saamkom (artt 37,38). Hierdie kerke (kerkrade) kom deur afvaardiging en mandaatverlening (art 33) in kerkvergaderings byeen (artt 29,41,47,50,51). Daar is geen manier waarop hierdie vergadering die roeping en taak van kerke of wat by hulle moes gebeur het, aan ’n aantal persone kan opdra asof dit nog die kerke is wat daar saamkom nie. Geen vergadering van die kerke mag bevoegdheid en opdrag wat Christus gegee het, oordra aan ’n persoon, persone of kommissie nie. Die kredensiebrief (art 33) stel dit baie duidelik dat kerke net besluite eerbiedig wat in die vergadering geneem is en onder andere aan die kerkorde beantwoord. Daarvolgens het deputate as persone geen regeerbevoegdheid in sake van die kerke oor ander dienaars nie (art 84).

 

2. Korrespondensie tussen klassisse

Toelating van predikante is van die belangrikste werk wat klassisse moet verrig (art 4). Gevolglik word korrespondensie in die verband beoefen deur deputate wat die partikuliere sinodes vir die klassisse aanwys Soos die klassis visitatore vir die kerke beskikbaar stel kragtens kerkverband, so stel die partikuliere sinodes by die peremptoire-eksamen vir die klassisse deputate beskikbaar. So wou die kerke die suiwerheid van die leer en standaard van die eksamen modereer en verhoed dat te maklik predikante toegelaat sou word (Rutgers sa:129).

 

3. Administratiewe noodsaaklikheid

Kerklike vergaderings is tydelik van aard, maar neem besluite wat uitgevoer moet word wanneer die vergaderings nie meer bestaan nie. Nadat die kerkorde in 1619 klaar goedgekeur was, moes dit byvoorbeeld by die Nederlandse State-Generaal aanbeveel word. Die vergadering kan dit self nie doen nie. ’n Meerdere vergadering neem besluite en moet duidelik sê wat die deputate moet uitvoer en hoe dit gedoen moet word. Dit beteken dat die deputate aan hulle las of opdrag gebonde bly en dat hulle nie die reg. mag of bevoegdheid het om op eie outoriteit nuwe sake aan te pak of anders op te tree as wat die sinode aan hulle opgedra het nie (Rutgers sa:191). In Hd 15:22 het ons in Judas en Silas, vertroude voorgangers onder die broeders, voorbeelde van die eerste deputate wat moes uitvoer wat duidelik besluit was. Sinodes kan aan deputate te veel mag toeken, byvoorbeeld wanneer hulle sou kon besluit oor die oproep van sinodes, waar en wanneer predikante mag preek, sensuurtoepassing, goedkeur van beroepe, ensovoorts.

|288|

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die meerdere vergaderings het van die begin af uitvoerig bepaalde besluite aan bepaalde persone opgedra sodat ’n reëling daaroor al in 1579 gevra is. Daarop is nie ingegaan nie en eers in 1619 het die Sinode van Dordrecht dié artikel in die Kerkorde ingevoeg om ’n reeds bestaande praktyk te reël en te verhoed dat deputate tot superintendente of tussentydse bestuursliggame ontwikkel (Rutgers sa:17-23; 183v).

Die Dordtse Kerkorde het eksplisiet deputate vir die uitvoering van besluite by die hoë owerheid en hulp in die klassisse by die eksamens benoem. Deputate kan die klassisse help sodat “goeie eenheid, orde en suiwerheid van die leer behou en gestabiliseer word” (Pont 1981:181 v). Die Sinode van Utrecht 1905 laat dié doelstelling van 1619 weg, maar voeg by dat vir “onderskeie belange soveel moontlik afsonderlike groepe van deputate benoem moet word”. Ook dit moet verhoed dat een bepaalde deputategroep bestuursmag in en oor die kerke verkry. Die GKSA neem die redaksie in 1916 oor en waak nog sterker teen bestuursmag vir deputate deur “welomskrewe opdrag” by te voeg. Dit voeg “partikuliere” voor “sinode” om duideliker te sê wat Dordrecht met “sinode” bedoel het (GKSA 1964:61,71).

 

2. Deputate uit die partikuliere sinodes

Die partikuliere sinodes stel deputate vir die klassisse beskikbaar, soos die klassisse visitatore vir die kerke aanwys (art 44). Hierdie deputate verleen hulp in die klassisse by die toelatingseksamens van predikante (wat grootliks in die GKSA deur die proponentseksamen verdring is, kyk by art 4). Die klassisse moet hierdie deputate ook inroep by voorkomende moeilikhede. Die Kerkorde wys in artikels 11,12,13 en 79 ’n hele aantal van dié moeilike sake aan. Die klassisse kan die deputate ook by ander sake om advies vra.

Wanneer die deputate advies gegee het, berus die besluit egter by die klassis. Die klassis kan op goeie gronde advies van die deputate van die partikuliere sinode ter syde stel. Die deputate kan met die handeling verlief neem of appelleer na die partikuliere sinode. Die afwys van die advies is op sigself nie ’n grond vir appèl nie, omdat die klassis nie aan die deputate gesubordineer is nie.

 

3. Deputate van kerkrade

Die beginsels waarop artikel 49 berus, geld ook vir deputate (funksionarisse en kommissies) van kerkrade. Hulle het geen bevoegdheid om besluite te neem of om namens die kerk of kerkraad op te tree nie. Hulle kan slegs uitvoer wat die kerkraad goed omlynd aan hulle opgedra het. Kerkrade mag nie hulle werk gerieflikheidshalwe na ’n persoon of kommissie delegeer nie. Kerkrade kan deurlopend optree, terwyl meerdere vergaderings net periodiek saamkom, sodat hier makliker regeermag by deputate kan ontwikkel. Tog sondig baie

|289|

kerkrade met byvoorbeeld sendingkommissies wat besluite neem en optree asof hulle namens en vir die kerkraad regeer.

 

4. Deputate van meerdere vergaderings

“Elke meerdere vergadering” kan deputate benoem om wat besluit is uit te voer en moet vir “onderskeie belange soveel moontlik afsonderlike groepe deputate benoem”. Die betrokke vergadering moet sê wat deur deputate uitgevoer moet word. Die opdrag moet gewoonlik voor die volgende vergadering uitgevoer word, waar gerapporteer moet word. Deputate moet van sinode tot sinode benoem word (Rutgers sa:200v).

Hierdie artikel word die meeste misbruik wanneer “deputate vir studie” benoem word. Persone en kerke meen soms dat hulle ’n probleem raaksien, maar nie in staat is om dit self te bestudeer nie. Uit ’n soort valse beskeidenheid (gemaksug?) verwys hulle dit na meerdere vergaderings met die versoek om “studiedeputate” aan te wys wat dan met ekstra werk opgesaal word. Artikel 49 maak nie vir “studiedeputate” voorsiening nie. Deputate word nie benoem om potensiële besluite voor te berei nie. Hulle moet besluite wat geneem is, uitvoer. Deputate moet nie maklik ’n kommissie van pre-advies vir die volgende samekoms word nie, omdat daardie deputate daarmee indirek deurslaggewende mag in die uiteindelike besluit verkry. Dit is kerkordelik verkeerd wanneer deputate nuwe materiaal in hulle rapporte op die tafel bring asof hulle ’n kerklike vergadering in eie reg soos 'n mindere vergadering geword het. Waar deputate dit wel doen, kan groot probleme ontstaan (vgl GKSA 1958:330-349).

Dit val op in die geval van nasionale sinodes te Potchefstroom dat ’n hele aantal deputategroepe soort van permanente instellings of liggame word, wat nie net uitvoer wat sinodes besluit het nie, maar as ’t ware op ’n eie terrein selfstandig werk (bv tov barmhartigheidsdiens, ekumene, EPPW en W, onderwys, katkisasie, sending, ens). Dit lei ook daartoe dat sommige persone tot skade van die kerke jag maak op bepaalde deputategroepe (Bouwman 1934:218). Sommige deputate dien jaar in en jaar uit op dieselfde deputategroep. Deputate behoort af te wissel sonder dat kontinuïteit verlore gaan, omdat die bepaling bedoel dat vir onderskeie belange soveel moontlik afsonderlike groepe deputate benoem moet word. Daarin lê die gedagte van diversifikasie en verspreiding opgesluit. Wanneer deputate van sinode tot sinode benoem word, behoort die helfte uit nuwe deputate te bestaan. Die kerkorde wil hiërargie of te veel invloed in hande van bepaalde persone voorkom (Bos 1950:184-185; Kruger et al 1967:300v).

Die Kerkorde bepaal nie hoe deputate aangewys word nie. Deputate wat kerke volgens artikels 41,47 of 50 verteenwoordig, word verkies. Deputate onder artikel 49 kan moeilik verkies word en word gewoonlik op pre-advies van die moderamen of van ’n bepaalde kommissie aangewys. Bekwaamheid en nie populariteit nie moet die deurslag gee. Dieselfde persoon moet nie op te veel deputategroepe benoem word nie of teen gediskrimineer word om 'n bepaalde groepsbelang te bevorder nie.

|290|

Die benaming “deputaatskap” het verkeerdelik teen die middel van hierdie eeu vinnig by nasionale sinodes ingang gevind, asof ons hier met ’n bepaalde kommissie of regeerliggaam van die betrokke sinode te doen het. Deputate is persone. Hulle beskik oor geen kerklike mag nie (Bouwman 1934:217,221). Deputate kan nie hulleself ontslaan of hulle buite die kerklike vergadering om van die opdrag onthef of ander in hulle plek aanwys of koöpteer nie. Plaasvervangers (sekundi) moet vir deputate wat wettig verhinder mag word, aangewys word. Deputate kan waar nodig wel elders advies inwin as dit by hulle opdrag pas.

 

5. Deputate en hulle opdrag

Die deputate bly gebind aan wat die sinode besluit het. Dit is hulle “welomskrewe opdrag” (Bouwman 1934:221,229). Kerkregtelikes waarsku in skerp taal teen deputate wat as superintendente, tussentydse regeerders of kerkvoogde begin uitstaan, terwyl die meerdere vergaderings net tydelik op die toneel verskyn (Rutgers 1921:319,323,330). Die kerke reël, lei en beslis self sake in hulle vergaderings vo!gens kerkorde en daarom mag deputate nie selfstandig handel nie. Hulle is aan hulle mandaat gebonde (Rutgers 1921:331; Bouwman 1934:229v; Rutgers sa:185).

Die vraag is of deputate in ’n noodsituasie waar spoedeisend opgetree moet word, hulle mandaat mag oorskry om sonder mandaat namens die kerke te handel. Sommige wil dit op pragmatiese (nuttigheids-) oorwegings regverdig. Die vraag bly dan nog wie die situasie as noodsaaklik of spoedeisend beoordeel. Vroeër het deputate in die Nederlande binne só ’n dilemma die advies van die kerke in een of twee klassisse gevra (Rutgers sa:196v). Ander sê weer nood breek wet en deputate wat verder as hulle mandaat gaan, moet die verantwoordelikheid daarvoor neem (Ibid 198). Hierdie situasie sal op eie meriete oorweeg moet word omdat die kerkorde nie dergelike uitsonderlike situasies reël nie.

Daar kom egter gevalle voor waar deputate nie hulle opdrag kan en mag uitvoer nie. Die rede vir die opdrag mag verval, die owerheid mag dit verhinder, tyd of omstandighede mag heeltemal verander het, die opdrag mag met ander kerklike belange oorvleuel of deputate mag selfs ernstige gewetensbesware teen ’n opdrag ontwikkel (Ibid 204-212).

Die bepaling dat deputate behoorlik notule moet hou van hulle werk, toon aan dat hulle hulle moet kan verantwoord by die meerdere vergadering. Eers nadat hulle daar verslag gedoen het, is hulle van hulle opdrag onthef.

Die duur van die opdrag van deputate kom soms in gedrang. Mag deputate opdrag ontvang of kies om eers op ’n tweede of derde vergadering later te rapporteer? Die kerke behoort in elke samekoms agenda af te handel (art 33). Wanneer uitvoering van besluite tyd verg, behoort die deputate dus minstens op elke eersvolgende samekoms die mate van vordering te rapporteer (interimverslag) sodat die kerke daaroor kan oordeel.

Opdragte aan deputate kan selfs niksseggend wees sodat hulle in werklikheid niks het om uit te voer nie. ’n Vergadering moet nooit sy verantwoordelikheid om te besluit probeer vertraag of vermy deur dit na

|291|

deputate te verwys nie (soos dikwels in die parlement met benoeming van kommissies van ondersoek gebeur).

 

6. Kuratorium en Kieskollege

Die derde sinode van die GKSA 1866 se hele agenda handel omtrent net oor teologiese opleiding en toelating van predikante. Sinodes kon in die destydse landsomstandighede moeilik saamkom. Gevolglik word ’n “sinodale kommissie”, bestaande uit twee of meer predikante en twee ouderlinge uit “elke staat” in die lewe geroep om “in naam der Synode” predikante te eksamineer en tot die bediening toe te laat (GKS 1866:17). Artikel 50 van die Dordtse Kerkorde dien klaarblyklik as model vir hierdie “kommissie” sodat hiermee ’n bevoegde liggaam deur die kerke uit die verskillende “state” in die lewe geroep word om te doen wat 'n sinode moes doen (kyk art 4). Omdat dit ’n sinode verplaas, kan dit nie as deputate volgens artikel 49 beskou word nie.

In 1869 vervang ’n kuratorium die sinodale kommissie van 1866, terwyl sinodes nog tot 1894 self professore vir die teologiese opleiding beroep. Toe word ’n uitgebreide kuratorium as kieskollege ook vir die beroep van professore verantwoordelik gemaak. Die kuratorium was met die oog op opleiding ’n meer permanente kerklike figuur wat later selfs vir die kerke eiendomme gehou, tydskrifte uitgegee en beheer, emeritaatsversorging behartig het — take wat glad nie met die teologiese opleiding verband hou nie.

Toe die idee van “deputaatskap” in die veertigerjare posvat, word die Kuratorium as ’n “deputaatskap” van die nasionale sinode beskou, sonder om te vra of sy werk en funksie met artikel 49 KO ooreenkom en sonder om te vra waarom dit uit die mindere vergaderings deur middel van gemandateerde afgevaardigdes soos ’n meerdere vergadering konstitueer. Gevolglik het die kerke hieraan aandag begin gee (GKSA 1982:60-68; 1985:534-549; 1988:531-541).

Hoewel die aangeleentheid nog nie uitgemaak is nie, heers daar in beginsel reeds konsensus dat die kuratorium en kieskollege nie deputategroepe in terme van artikel 49 is of kan wees nie. Dit is liggame waarin die kerke kombineer om vir ’n bepaalde en beperkte taak met betrekking tot die teologiese opleiding amptelik saam te werk. Die kuratorium en kieskollege konstitueer kragtens kerkverband as buitengewone vergaderings van meer kerke uit verkose deputate van mindere vergaderings met ’n bepaalde en beperkte opdrag ten opsigte van kerkregering met betrekking tot die beroeping van en toesig oor professore, sowel as die sorg vir opleiding van teologiese kandidate (kyk art 4), werk wat by kerkvergaderings tuishoort. Die kuratorium en kieskollege kom as buitengewone meerdere vergadering, wat synodus contracta genoem kan word, tussen die partikuliere en nasionale sinodes te staan (GKSA 1973:315).

In die sorg vir en beheer oor die Hammanskraalse Teologiese Skool het ’n Smal en Breë Kuratorium natuurlik ontwikkel. Die kerke wat dienaars vir die opleiding beroep, versorg en oor hulle toesig hou, kom in die Smal Kuratorium vir hierdie werk saam (vgl art 30). Die Smal Kuratorium vergader egter saam met kuratore uit die kerke in Venda, die Middellande en Suidland as Breë Kuratorium om studente-aangeleenthede en opleidingsbehoeftes te behartig

|292|

(GKSA 1988:411 v). Die Breë Kuratorium word dus deur meer kerke as die Smal Kuratorium gekonstitueer om kerklik in verband met opleiding saam te werk.

Spoelstra, B. (1989) Art. 52

Artikel 52

Engere en ekumeniese kerklike korrespondensie

 

Artikel 52: Kerklike korrespondensie en samewerking of kontak (met kerke en kerklike instansies) buite die algemene sinodale verband, word in ’n algemene sinode gereël.

 

A. Kerkregtelik

1. Eenheid in Christus

Verskillende artikels (29,41,48, ens) rus op die basiese eenheid van verskillende kerke in Christus. Almal wat deur ’n ware geloof in Christus ingelyf is, is met Hom een en daarom ook lede van mekaar (Heid Kat S 21; NGB 27). Hierdie een universele kerk gaan bo die baie verskillende plaaslike gemeentes uit. Calvyn erken dat daar selfs onder die verworde pousdom nog kerke van ware gelowiges kan wees (Inst IV.2.xii). Al is gelowiges deur stelsels van kerkinrigting met die oog op kerkregering geskei, kan hulle met mekaar afpraat om in ’n bepaalde opsig saam te werk (vgl Rm 15: 27; GKSA 1976:317v).

Eenheid van belydenis (nie blote enerse belydenisskrifte nie) behoort kerklike gemeenskap en alle kerklike korrespondensie te dra (Bouwman 1934:5; artt 53,54). Intieme eenheid bewerkstellig samewerking van kerke in kerkvergaderings (art 29) of tussen kerkvergaderings deur middel van deputate (art 48). Waar nie genoegsame grond vir eenheid in kerkregering gevind word nie, kan kerklike korrespondensie in belang van God se koninkryk nog nodig wees. Omdat vorme verskil, kan van kerklike korrespondensie, samewerking of net van kontak gepraat word.

Die genootskaplike kerkbegrip vorm ’n struikelblok omdat elke genootskap toespits op homself en sy voortbestaan. In Nederland bestaan byvoorbeeld meer as sewe groepe Gereformeerdes van die Geref Bond binne die Ned Herv Kerk tot die Oud-Geref Gemeenten wat nie met mekaar saamwerk op punte waarop hulle dit wel eens is nie. Aan die ander kant is kleiner gereformeerde kerkgroepe altyd onder druk van groteres wat sonder om te verander hulle ter wille van “eenheid” wil insluk. Eenheid in ’n statiese struktuur moet radikaal van ’n dinamiese geestelike eenheid in Christus onderskei word (Spoelstra 1982:238v; 1988:37v).

|293|

2. Eenheid in Christus moet beleef en nie gestruktureer word nie

Die gereformeerde kerke beleef hulle eenheid dinamies in verskillende vergaderinge (art 29) en korrespondeer soos hulle dit goedvind (art 48), omdat hulle een is en omdat hulle statiese eenheid in ’n struktuur van ’n sinodekerk afwys. Die gereformeerdes identifiseer nie eenheid in Christus met strukture nie (Spoelstra 1988:40, vgl titel Du Plooy 1982). Tog het die teenoorgestelde opvatting ook onder gereformeerdes posgevat (Snyman 1966d; vgl GKSA 1955:164 en Spoelstra 1988:42), dat eenheid in ekumeniese strukture as “kerkverband” in sinodes vergestalt moet word.

Indien sinodes kerkeenheid struktureer, was daar in Nederland van 1619 tot 1816 nie kerklike eenheid onder gereformeerdes nie. Tog het die gereformeerde kerke sonder ’n sinode in kerkeenheid geleef. Die proloog van die Geneefse Kerkorde stel ook nie die doel van ’n kerkorde om kerklike “eenheid” daar te stel nie, maar om die leer suiwer te bewaar, die kerk in goeie orde te hou, die jeug te onderrig en armes te versorg (Pont 1981:23). Die anti-hiërargiese beginsel van die Reformasie wat geen kerk oor ’n ander kerk wil laat heers nie (art 94), open die weg vir verskeidenheid wat nie moontlik is nie wanneer eenheid binne dieselfde sinodestruktuur demonstreer moet word (vgl art 30).

Christus is Koning en regeer deur sy Woord en Gees. Die eenheid moet daarom in dinamiese gehoorsaming van sy koningskap uitkom (GKSA 1967:360).

Ekumene wat nie op gehoorsaam-wees aan Christus neerkom nie, is blote formele eenheid sonder inhoud. Waar die GKSA die ideaal van ’n ware ekumeniese sinode van gereformeerde kerke oor die wêreld (1946) inisieer (Spoelstra 1981:24), het ander dit liewer in die rigting van ’n organisasie, genootskap of liggaam van kerke gestuur. So het die GES die naam sinode gedra (1952), terwyl dit geen sinode wou wees nie en formeel ’n Ekumeniese Raad (1988) op dieselfde vlak as die Wêreldbond van Geref Kerke of die Wêreldraad van Kerke geword het.

Die GKSA (1967:362) het met die Nederlandse formele begrip van “kerkverband” gewerk wat “eenheid” in strukture uitdruk, asof “kerkverband” in ’n struktuur bestaan. Du Plooy (1982) het aangetoon dat kerkverband ’n relasie of eenheid is wat uit Christus voortvloei.

Die GKSA het in 1967 ’n belangrike kerkregtelike uitspraak op grond van die Skrif gemaak: “Dit lê nie op die weg van die kerk om by ekumeniese bewegings aan te sluit nie” (367, effens geredigeer). Die grond van die besluit lui: "Omdat die kerk aan die Here behoort (Rom 14: 8; 1 Kor 3: 23) kan dit aan niks anders — ook aan geen ekumeniese raad of wat ook al — behoort nie... Die verhouding met God is eksklusief” (GKSA 1967:367; 1970:88). Hierdie argument is baie sterk, tog het die GKSA ’n “member church” binne die GES gebly terwyl die konstitusie van die GES al meer ’n ekumeniese “body” van “kerke” (denominasies) in 1972 daargestel het. Skynbaar het die GKSA dit verdra in die hoop dat die GES tog ’n “kerklike vergadering” (GKSA 1942:87v) sou word. Die GES het sy konstitusie egter in 1988 gewysig om kerke wat van die gereformeerde belydenis afwyk te kan huisves om ’n Reformed Ecumenical Council te word en finaal van die gedagte van ’n sinode afskeid geneem.

|294|

Tog behou gereformeerde kerke ook teenoor kerke wat saamkom in rade ’n verantwoordelikheid wanneer dit om die koningskap van Christus gaan (GKSA 1967:368). Dit hang saam reet die ekumeniese roeping van die kerke. Die kerke moet ook na buite gesamentlik die koningskap van Christus en eer van God in die wêreld bevorder. Die basis waarop dit geskied moet eerder vir periodieke samekomste op 'n konfessionele basis as ’n struktuur in eie reg voorsiening maak (vgl GKSA 1988 ivm konstitusie GES).

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Hierdie artikel het in die Dordtse Kerkorde korrespondensie tussen Nederlandse en Waalse (Franse) kerke bepaal. In die stede waar Waalse kerke was, sou sommige predikante en ouderlinge van “beide kante” maandeliks saamkom om goeie eenheid en korrespondensie met mekaar te onderhou en mekaar wedersyds met raad te bedien (Pont 1981:182).

Die Franssprekende gereformeerde kerke van België en Vlaandere het pertinent in die 16de en 17de eeu (ook mbt die Hugenote in 1685) na vore getree. Hulle het egter gedurende die 19de eeu in modernisme verval. Hulle vorm tans nog ’n eie groep kerke binne die Ned Herv Kerk van Nederland.

By die hersiening van die kerkorde in die Nederlande in 1905 het hulle nie meer Waalse kerke gehad om mee rekening te hou nie. In daardie tyd het hulle ’n kragtige sendingoffensief in Nederlandse kolonies geloods en volgens 18de en 19de eeuse opvattings “sending” as ’n parallelle aksie in artikel 52 soos volg gereël. “Die werk van kerklike sending in Nederlands-Indië word vir sover daar algemene bepalings nodig is deur die algemene sinode gereël” (Bos 1950:95).

Die GKSA het hierdie spoor gevolg en met ’n aparte sendingorde langs die kerkorde opereer. Toe die jong kerke egter selfstandig in meerdere vergaderings saamgekom het, is nog eers probeer om die Sendingorde gedurig aan te pas (GKSA 1964:273-276; 1967:240-242, 248; 1973:419-422). Dit het egter spoedig ’n natuurlike dood gesterf en dus maak die kerkorde vir enger en breër kerklike korrespondensie in artikel 52 voorsiening (GKSA 1979:555).

Kerklike korrespondensie moet van “samewerking of kontak buite die algemene sinodale verband” onderskei word. Kerklike korrespondensie met buitelandse kerke met wie eenheid in leer, diens en tug bestaan, sowel as ekumeniese samewerking buite die algemene sinodale verband van kerke, word in ’n algemene sinode gereël. Die artikel is egter tot op die Algemene Sinode van 1988 nie toegepas nie. Waarskynlik het die ouer kerke ’n lang tradisie van kerklike korrespondensie onderhou, terwyl die jonger kerke nog min korrespondensie met ander “blanke”, Europese of selfs ander inheemse kerke op die tafel gehad het.

 

2. Kerklike korrespondensie

Hierdie artikel handel nie oor gewone kerklike korrespondensie wat deur middel

|295|

van kerklike vergaderings, kombinasies van kerke, ooreenkomste van samewerking, ensovoorts, binne kerkverband plaasvind nie. Die term “kerklike korrespondensie” het in omloop gekom om verder as artikel 48 KO verhoudinge met kerkfamilies met wie eenheid in leer, diens en tug erken word, uit te druk. Dit stel in die eerste plek ’n verhouding met buitelandse kerke wat sê dat indien die kerke in dieselfde landstreek geleë was, sou een sinodale verband tussen die kerke bestaan het. Die GKSA het ’n lang tradisie van hierdie enger korrespondensie en ooreenstemming met die GKN en CRC in die VSA onderhou wat na 1959 ook na die CGKN uitgebrei het. Die korrespondensie is met die GKN in 1976 beëindig toe nie meer eenheid oor die leer van die Skrifgesag bestaan het nie (GKSA 1976:302). In later jare is talle gereformeerde kerke in Europa, Australië, Nieu-Seeland en Japan ook as kerke met dieselfde leer, diens en tug erken.

Die GKN het die begrip kerklike korrespondensie in 1936 te Amsterdam geformuleer en dit het ook na die GKSA deurgewerk (GKSA 1939:148). In 1955 is mede onder invloed van die GES oor die term “korrespondensie” gehandel, en nie langer op “eenvormigheid van kerkregering” wat vir sinodes essensieel is, as absolute voorwaarde aangedring nie. So kom ’n onderskeiding tussen “enger” korrespondensie “binne dieselfde kerkverband” en “wyer korrespondensie” of kontak en samewerking met kerke met wie nie eenheid in kerkregering bestaan nie, in omloop (GKSA 1955-158v).

Korrespondensie in engere sin hou in “dat kerke hulle kansels vir mekaar oopstel”, die “sertifikate van lidmaatskap” (sic!) wederkerig as geldig erken, “lidmate” oor en weer toelaat tot die Nagmaalstafel en afgevaardigdes oor en weer na sinodes stuur, “in die verstandhouding dat kerke een sal wees in kerkregering sowel as leer ... Dit veronderstel kerkverband tussen kerke van dieselfde belydenis en kerkregering in verskillende lande soos tussen kerke van verskillende provisies in een land. Hieruit vloei voort dat verskillende nasionale sinodes kan saamkom in ’n gewone ekumeniese sinode ... En daarom is korrespondensie as middel om die ekumeniese kerkverband te onderhou geheel in ooreenstemming met die gees van art 48 KO” (GKSA 1955:161). Dit hou in wedersydse erkenning van predikante-opleiding, oor-en-weer beroepbaarheid. Dit is “susterkerke”.

Korrespondensie in wyere sin is die stuur van afgevaardigdes na kerke (sinodes van kerke?) wat enigsins afwyk van die gereformeerde belydenis in broederlike gees, ingeval raadpleging tot onderlinge profyt sal strek. Hier pas die naam “susterkerke” nie (GKSA 1955:162). Dit is duidelik dat die term “kerke” hier eerder “genootskappe”, sinodekerke of “kerkverbande” beteken.

In Suid-Afrika het ’n Interkerklike-kommissie tussen “drie Afrikaanse Kerke” ontstaan wat as ’n soort interkerklike klaagbank begin het. Dit het tot gesprekke tussen deputate uit die NG Kerk, N H Kerk van Afrika en nasionale sinodes van die GKSA ontwikkel (GKSA 1939:160, 1942:94v). Die idee van “wyer korrespondensie” en ekumene het die gedagte laat posvat dat deur middel van “gesprekke” met die ander Afrikaanse kerke die eenheid in leer, diens en tug waartoe die Openlike Verklaring oproep, indien moontlik bewerkstellig moet word. Dergelike gesprekke is waardevol en reflekteer begripsverskille tussen die deelnemers aan die gesprekke (GKSA 1964:202v; 1967:412-47 ens). Die GKSA aanvaar onkrities dat die persone wat konfereer werklik “kerke”

|296|

(genootskappe?) is wat met mekaar praat. Vrae hoe dit met art 49 rym en of dit op die weg van sinodes lê om teologiese debatte soos teoloë te voer, is nie gevra en nie beantwoord nie. Hier het “persone” as die “kerk” (genootskap?) opgetree.

Hierdie kerkregtelike ontwikkeling loop mank met kollegialistiese trekke in die kerkbegrip. Die woord “kerkverband” word as sinoniem vir een kerklike struktuur hanteer (kyk bv GKSA 1955:159 pt 5a; 1976:319). Daarvolgens moet “korrespondensie” in enger sin in ’n ware ekumeniese sinode vergestalt word. Nie die agenda wat kerke in sinodale verband kan afhandel nie, maar die behoefte aan ’n ekumeniese sinodestruktuur oorheers die motivering.

In die gereformeerde kerklike wêreld is die kenmerke van die ware kerk (NGB 29) ook genootskaplik op “sinodekerke” toegepas. So het die CGKN dit in 1834 op die NHK in Nederland, die GKSA dit in 1869 op die Herv Kerk in die ZAR en die Geref Kerken in Nederland onderhoudende artikel 31 (later Vrye Geref Kerke of net GKN) die kenmerke van artikel 29 NGB staties op kerke in sinodale verband toegepas en “genootskappe” as “valse kerke” getipeer. Daardeur word die eie kerkgroepering (as genootskap) verabsoluteer as die enigste “ware” kerk. Dit maak kerklike korrespondensie of samewerking in wyere sin onmoontlik en so kon die GKSA sedert 1955 nie met die VGK in Suid-Afrika of die GKN (Vrygemaak) in Nederland enger korrespondensie toegestem kry nie, hoewel die kerke inhoudelik ooreenkom.

Die GKSA het geoordeel dat kerke in een land sinodale korrespondensie met meer as een kerkgroepering van ’n ander land kan onderhou. Faktore soos die “vrymaking” 1944 of voortbestaan van die Chr Geref Kerk in Nederland 1892 hoort nie by die GKSA tuis nie (artt 30,84,85). So het die GKSA korrespondensie in engere sin eers met die GKN (tot 1976) en CGKN en in 1985 ook met die Nederlandse Geref Kerke aangeknoop.

Wanneer die verskillende antwoorde selfs onder gereformeerde kerke op vrae oor die begrippe kerklike korrespondensie, samewerking en kontak, ontleed word (vgl GKSA 1976:313-320), is dit duidelik dat “korrespondensie” van geval tot geval op eie meriete beoordeel moet word. Die kerkorde stel die feit van korrespondensie, samewerking of kontak. Die kerke moet die hoe en in hoe ver bepaal.

Alle interkerklike korrespondensie, samewerking of kontak berus ook nie eksklusief by algemene sinodes nie. Die belewing van korrespondensie lê by die kerke plaaslik. Plaaslike kerke onderhou hulle eie vorme van korrespondensie, samewerking of kontak met ander kerke met wie nie volkome eenheid in leer, diens en tug bestaan nie, hoeveel meer met kerke met wie enger korrespondensie bestaan. Wie kan hulle hierin voorskryf sonder om met artikel 30 KO te bots? In die lig hiervan is die sinodale besluit (GKSA 1970:464) wat plaaslike kerke belet om met ander kerke (gemeentes) te praat oor wat hulle plaaslik uitmekaar hou, onverdedigbaar. Hoe kan kerke anders in kerkverband opgeneem word as daar nie plaaslik probleme geïdentifiseer, langs die kerklike weg onder oë gebring en tot eenheid gekom word nie? Skynbaar beteken “kerk” vir die Sinode van 1970 ’n genootskap van kerke.

Spoelstra, B. (1989) Art. 53 & 54

|297|

Artikel 53, 54

Die band van kerklike eenheid

 

Artikel 53: Die bedienaars van die Woord en ook die professore aan die Teologiese Skool moet die drie Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht 1618-19 onderskryf en onderteken en die wat weier om dit te doen, moet metterdaad in hulle diens geskors word deur die kerkraad of klassis, en in die geval van professore, deur die nasionale sinode, totdat hulle hul daaroor volledig verantwoord het. As hulle hardnekkig weier, moet hulle heeltemal van hulle diens afgesit word.

Artikel 54: Ook die ouderlinge en die diakens en diegene wat deur ’n klassis as proponente toegelaat word, moet die genoemde Formuliere van Eenheid onderskryf en onderteken.

 

A. Kerkregtelik

1. Die wese van die kerk

Op die oog af reël hierdie artikel slegs die formele ondertekening van die Belydenisskrifte “in die kerk”. Wie so dink neem die kerk as vaste uitgangspunt en stel die Belydenisskrifte tweede. Die wese van die kerk is egter dat dit universeel en plaaslik 'n eenheid, vergadering of gemeenskap van die gelowiges in Christus is (NGB 27) wat Christus in “die eenheid van die ware geloof” vergader (Heid Kat V/A 54). Die geloof is dus die bepalende faktor vir die kerk en nie die kerk die bepalende faktor vir die geloof nie. Geloof is ’n daad maar wat geglo word is die inhoud van geloof wat die eenheid en wese van die kerk bepaal.

Die geloofsbelydenis is dus die “akkoord van kerklike gemeenskap”. Wie tot die kerk toegelaat word, moet óf belydenis doen (vgl art 59 KO) óf bewys lewer (vgl artt 61,82 KO) dat hy dieselfde geloof bely.

 

2. Bediening gerig op geloof

Die verskillende dienste (art 2 KO) moet die gelowiges vir hulle dienswerk in die eenheid van ’n ware geloof opbou (Ef 4: 12). Groei in geloof is groei van

|298|

die kerk. Slegs die dienaars wat dieselfde geloof onderskryf, kan die gemeente in daardie geloof “as een liggaam” (Et 4: 4) opbou. Die kerklkike dienaars moet daarom duidelik verklaar wat hulle glo.

 

3. Formuliere van Eenheid

Die woord “formuliere” sê dat iets geformuleer of verwoord is. In die kerkregering kom verskillende kategorieë van formuliere voor, naamlik Formuliere van Eenheid, Ondertekeningsformuliere, Liturgiese Formuliere vir die bediening van Sakramente en hantering van kerklike seremonies (vgl artt 4,22,24,70 KO). Artikels 53 en 54 KO handel in die eerste plek oor die Formuliere van Eenheid en in die tweede plek oor die Ondertekeningsformuliere.

Kragtens die koninkryk van God regeer Christus, die Hoof, sy Kerk deur sy Woord en Gees. Die Skrif is dus die volkome bron en enigste reël vir wat ons moet glo (vgl NGB art 7). Maar daarom is ook ter sake die vraag wat glo ons? Van die vroegste tyd af het die gelowiges hulle geloof bely (Hb 4: 14) en so het al in die eerste paar eeue die Twaalf Artikels ontwikkel waarin die saligmakende geloof bely word (vgl Heid Kat S 7). Die Kerkhervorming wentel om die sentrale beginsel: alleen die geloof voor God regverdig ’n mens (Heid Kat V/A 22,60).

Gedurende die eerste eeue tydens ernstige leerverskille het konsilies (sinodes van biskoppe) of biskoppe soos Athanasius geformuleer hoe hulle die Skrif verstaan (vgl bv NGB 9). Gedurende die Kerkhervorming ontstaan in Duitsland, Switserland, Frankryk, België, Engeland, Nederland verskillende Belydenisskrifte om die ware leer teenoor Rome te formuleer. Rome antwoord self, in die Konsilie van Trente (1545-1563), alwaar die Roomse leer teen die Protestantisme geformuleer en verdedig word. Ten spyte van kleiner verskille stem gereformeerde (calvinistiese) Belydenisse met mekaar ooreen. Selfs Gereformeerde en Lutherse Belydenisse (vgl Augsburg 1555), ten spyte van ondergeskikte verskille oor byvoorbeeld die hemelvaart en nagmaal, openbaar innerlike eenheid in die Protestantisme. Luther en Calvyn het gevra: kom die belydenis in alles met die Woord van God ooreen?

Kerke hoef nie noodwendig dieselfde Belydenisskrifte te hê nie, so lank hulle in hoofsake die Bybel eners verstaan. Die eerste Nederlandse Sinode van Emden 1571 aanvaar volkome eenheid hoewel die Waalse kerke die Franse Geloofsbelydenis en Kategismus onderskryf en die Nederlandse en Duitse Kerke die Belgiese en Heidelbergse gebruik (Pont 1981:103). Tog staan die kerke so in een en dieselfde kerkverband op grond waarvan ’n kerkorde aanvaar word.

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika het uit die Nederlandse agtergrond drie Belydenisskrifte ontvang, te wete die Belgiese Konfessie of Nederlandse Geloofsbelydenis wat Guido de Brés in 1561 opgestel het, die Heidelbergse Kategismus wat keurvors Frederik I in 1563 as leerboek vir sy volk deur Ursinus en Olevianus laat opstel het en die Dordtse Leerreëls wat die Sinode van Dordrecht met inspraak van teoloë uit sewentien buitelandse kerke, in antwoord op die semi-pelagiaanse leer van die Remonstrante geformuleer het.

|299|

4. Sinodes aanvaar of formuleer Belydenisskrifte

Calvyn het die opstel van Belydenis of uitspraak in leerverskille as die eintlike taak van sinodes in kerkregering aangedui (Inst IV.9). Tegelykertyd het hy beklemtoon dat sinodebesluite en -leeruitsprake slegs gesag dra in sover dit met die Skrif ooreenkom (Inst IV.8 en 9). Die Belydenisskrifte dra dus nie goddelike gesag asof hulle by die Bybel gevoeg word nie, maar slegs kerklike gesag. In die aanvaarding van die Belydenis word bely hoe die Skrif geglo word, terwyl die Belydenis altyd weer aan die Skrif getoets moet word (Inst IV.9.viii). Die Skrif alleen (sola scriptura) is die bepalende beginsel van die Reformasie en gereformeerd-wees (NGB 7).

 

B. Kerkregering

1. Ondertekeningsformuliere

Aanvanklik moes slegs die predikante, professore en ouderlinge die Nederlandse Belydenis as sodanig onderteken (1578). Vanaf 1581 word dieselfde van die diakens en onderwysers verwag. Die ernstige leerverskille en beroeringe in die Nederlandse kerke laat die Sinode van Dordrecht in 1618/ 19 ’n “accuraat formulier van ondertekening” vasstel om gevoelens oor die leer duidelik na vore te bring (Bos 1950:197). Blote ondertekening van die belydenis laat die opening om later te beweer dat iemand dit onderteken het in so ver (quatenus) dit met die Bybel ooreenstem. So ’n persoon kon dan soos die Remonstrante met eie opvattings die eenheid van die kerk versteur.

In die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika is aanvanklik die Dordtse Ondertekeningsformulier vir predikante by die bevestiging van predikante, professore en by die beroepbaarstelling van proponente gebruik. Die Sinodes van Bethulie 1936 (art 100) en Bloemfontein 1939 (art 54) het egter onderskeie formuliere, wat in hoofsaak ooreenstem, daargestel. Die Sinode van 1967 (p 154) het ook ’n formulier vir ouderlinge en diakens vrygestel.

Die deputate het by die hersiening van die kerkorde in 1964 (pp 62,67) aanbeveel dat “Kuratorium van die Teologiese Skool” naas “kerkraad” in artikel 53 gestel word. Dit sou die feitlike posisie korrek weergegee het. ’n “Nasionale sinode” kan onmoontlik “metterdaad” optree. Waarom die aanbeveling nie opgevolg is nie, is nie verklaar nie. Geen kerkorde voor 1964 het na die “nasionale sinode” verwys nie.

 

2. Die inhoud van die Ondertekeningsformuliere

Die Dordtse Ondertekeningsformulier vir predikante bevat die volgende elemente: predikante binne ’n bepaalde klassikale verband verklaar opreg en sonder voorbehoud dat die NGB, Heid Kat en Dordtse Leerreëls “in alles met Gods Woord ooreenkom”; vervolgens ’n plegtige belofte om die leer te propageer, niks daarteen te leer nie en alle leringe in stryd daarmee te verwerp; indien twyfel of verskil oor ’n bepaalde aspek van die leer mag opduik, beloof

|300|

en onderneem die ondertekenaar om dit nie openlik of heimlik uit te dra nie; hy verbind hom om vooraf sy beswaar aan die kerkraad, klassis of sinode voor te lê en beloof dat hy bereid sal wees om daaroor “geëksamineer” te word; met die oog op die eenheid en suiwerheid van die leer sal hy die oordeel van die kerkvergaderings eerbiedig terwyl hy die reg van appèl (art 31 KO) voorbehou; hy beloof om ondertussen sy opvattings nie uit te dra nie; hy stem toe dat indien hy enigsins die onderneming verbreek, hy ipso facto (bloot deur die feit alleen) in sy diens geskors sal word.

Die tekste van die onderskeie ondertekeningsformuliere verskyn as bylaes agter in Kerkorde van die GKSA (1979).

 

3. Die Ondertekening

Hierdie kerkorde-artikels beoog “die eenheid van die leer maar ook die suiwerheid daarvan” (Rotterdam 1581, Bos 1950:197). Die ondertekening mag dus nooit tot ’n kerklike formaliteit of pligpleging ontaard nie. Eenheid in geloofsgemeenskap is die akkoord vir kerklike gemeenskap. Om te onderteken is om te onderskryf en vorm ’n plegtige onderneming in ’n openhartige verklaring. Hiermee verseker die ondertekenaar die kerk (gelowiges) wat hy dien en die kerke in kerkverband dat sy innerlike geloofsoortuiging in die Drie Formuliere van Eenheid verwoord is. Indien iemand dus teen sy beterwete só ’n plegtige verklaring sou aflê, is hy oneerlik en pleeg hy bedrog.

’n Toekomstige predikant ontmoet hierdie Ondertekeningsformulier vir die eerste keer wanneer hy as proponent beroepbaar gestel word (vgl art 4 KO). Elke klassis (of klassisse in partikuliere sinode) hou gewoonlik ’n duursame boek met die formulier vir ondertekening aan. Na suksesvolle eksamen, voor finale beroepbaarstelling, hoor die kandidaat die formulier in die vergadering aan en word hy versoek om dit daar en dan te onderteken. Waar nie ’n boek bestaan nie, kan die betrokke vergadering die ondertekeningsformulier in die notule aanbring en in die notule laat onderteken. ’n Predikant onderteken sy instemming met die Belydenis voor die gemeente waar hy bevestig word in teenwoordigheid van die klassis of ’n classis contracta in die vorm van twee naburige kerke. Daarvoor hou elke klassis gewoonlik so ’n formulierboek daarop na. Waar dit ontbreek, moet ’n losbladformulier geteken en aan die volgende klassis gestuur word. Professore vir teologiese opleiding onderteken die formulier by bevestiging voor die kerk en kuratore wat hier in die plek van die klassis optree.

Die ondertekening van die formulier deur ouderlinge en diakens (GKSA 1967:154) kan op dieselfde wyse by bevestiging geskied. Kerkrade ondervind egter soms hiermee probleme as gevolg van die frekwensie en tydsduur wat hierdie handeling verg, terwyl dit dreig om ’n “vervelige” voorskriftelike formaliteit te word. Die motief vir die handeling het vervaag omdat innerlike beroering oor leerverskille nie meer soos in die 16de en 17de eeu ondervind word nie. Daarbenewens beskou baie mense die kerk vandag as ’n omlynde instituut en hulle beleef kerk (gemeente) nie meer as ’n akkoord van geloofsgemeenskap wat in die eenheid van die leer bestaan nie. ’n Formele kerklike handeling wat nie sinvol oorkom nie, kan selfs skadelik wees. Sommige

|301|

kerke ag derhalwe die ondertekening nie nodig nie; ander lees die formulier in die kerkraad en laat die ondertekening daar plaasvind; nog ander stuur by die kennisgewing van bevestiging ’n afskrif van die formulier en verg dan na bevestiging in die konsistorie slegs ’n handtekening in 'n formulierboek by die datum van bevestiging.

Dit is belangrik dat die beginsel van leereenheid en leersuiwerheid by ouderlinge en diakens tuisgebring word, asook hulle roeping van die Here om daaroor te waak (Hd 20: 28v). Elke plaaslike kerk moet hierna omsien en sinodes kan die wyse nie voorskryf nie (art 30 KO).
Die vraag word soms gestel waarom die “onderskrywing” nie sonder ’n formulier met ’n gepaste vraag by die bevestiging voor die gemeente plaasvind nie. So ’n onderneming is tog net so regsgeldig as formele ondertekening. Daarteenoor kan geargumenteer word dat so ’n absolute binding by ampsbevestiging aan die Formuliere van Eenheid, ouderlinge sou bind wanneer hulle moet oordeel oor besware wat teen die leer ingebring word, asof Belydenisskrifte nie kan verander nie. Die tweede vraag van die Bevestigïngsformulier vir ouderlinge verg daarom slegs dat hulle die Skrif as hoogste gesag en norm vir die leer beskou.

 

4. Die gesag van Belydenisskrifte

Die Reformatore het gesê die Skrif bevat die bindende reël (norma normans) van geloof terwyl die Belydnisskrifte die reël gee wat uit die Skrif afgelei is (norma normata). Die Skrif het gevolglik goddelike gesag, terwyl die Belydenisskrifte geestelike gesag het in sover dit geloofswaarhede uit die Skrif formuleer. Dit dra ook kerklike gesag in sover die kerk (vergadering van gelowiges) daarin hulle gemeenskaplike geloof bely, dit wil sê ’n gemeenskaplike Skrifverstaan weergee (vgl NGB 32).

 

5. Optrede by leerverskiile

5.1 Leerverskille in kerkvergaderings

Die vraag oor die eenheid en suiwerheid van die leer kan in verskïllende vergaderings van kerke (kerkraad. klassis of sinode) aan die dag tree. “Sinode” beteken in die Ondertekeningsformulier van Dordrecht 1619 ’n partikuliere en nie ’n nasionale sinode nie.

Leerverskille kan by eksamen of by ondertekening van die Belydenisskrifte in ’n kerkraad of in ’n klassis, gedurende optrede in ’n kerk of in ’n dienaar se gemoed en gewete na vore tree. In laasgenoemde geval verplig die onderneming in die Ondertekeningsformulier hom om die saak by sy kerkraad aan te meld, terwyl hy hom verbind het om hoegenaamd nie na buite daaroor te praat nie. Om na buite te praat, ontstig die gemeente en kan die eenheid versteur. Gevolglik bepaal die Ondertekeningsformulier dat praat na buite (skeurmakery) tot summiere skorsing lei (vgl artt 79,80). Elke leerverskil hoef nie tot voorlopige skorsing te lei nie (vgl art 79). Die Ondertekeningsformulier

|302|

open die weg vir indringende leergesprekke (colloqium doctum) op inisiatief van die kerkvergadering (of wanneer die beswaarde dit in ’n gravamen aanvra).

 

5.2 Teenstrydige prosedure by leerverskille

Die gangbare prosedure in verband met beswaarskrifte hou nie met bogenoemde feite rekening nie (GKSA 1964:442v). Die sinode het die “kerklike weg” as reël vir enige gravamen soos die Ondertekeningsformulier voorskryf, afgewys en bepaal dat ’n beswaar gerig moet word “tot die vergadering wat die betrokke besluit geneem het”. Die voorgeskrewe prosedure kan nie die kerklike weg wat die Kerkorde reël (artt 31,33,46) en die Ondertekeningsformuliere handhaaf, ophef nie (vgl by artt 31,46). Indien ’n dienaar sou redeneer dat sy beswaar teen die leer tans slegs by ’n Algemene Sinode kan dien, verkrag hy sy onderneming in die Ondertekeningsformulier wat regsgeldig is. Die ondertekenaar het hom persoonlik tot ’n optrede verbind wat nie deur Sinode 1964 opgehef is nie. By ampsdraers en proponente moet leerverskille volgens die kerklike weg behandel word. ’n Meerdere vergadering sou selfs bepaalde leerverskille wat ter vergadering aan die lig gekom het, na ’n kerkraad vir behandeling kon terugverwys (vgl artt 72,73,75 KO).

 

5.3 Oorweging van 'n leerverskil

Die kerklike weg bied meer tyd vir rustige kerklike optrede, om te redeneer, te oorreed, te oorweeg en te besin; om die bepaalde verskil in perspektief tot die geheel van die leer te weeg; om opgeloopte emosies, soms as gevolg van geregverdigde provokasies, te laat bedaar.

By behandeling van 'n leerverskil moet steeds ook op die positiewe gekonsentreer word. Daar moet eers deeglik vasgestel word watter kardinale leerstukke die beswaarde nog altyd onderskryf sodat die punt van verskil teen die agtergrond van die geheel beoordeel word. Die verhouding van die beswaarde tot die Skrif en die Here Christus behoort oneindig swaarder te weeg as instemming met ’n geykte kerklike standpunt wat uit die Belydenis afgelei, maar nie noodwendig die Belydenis self weergee nie (vgl bv doopstryd in Nederland 1944; Calvyn Inst IV.1.xii).

Die beswaarde en die betrokke kerkvergadering moet steeds oorweeg of die verskil so diep gaan dat eenheid in Christus daardeur uitgesluit word. Die neiging bestaan soms om formeel op die feit van ’n leerverskil te fikseer. Dikwels word in hierdie uiters moeilike situasies met die historiese eenheid van die institusionele kerk as absolute norm geëis dat elke onderdeel van die leer en kerklike interpretasie onderskryf moet word. Hierdie dwang ter wille van “eenheid” het tot menige “kerkskeuring” gelei. Die Gereformeerde Kerke het in 1859 ontstaan toe Ned Geref en Ned Herv kerkvergaderings, onderskeidelik, absolute instemming met hulle histories-geworde kerklike patrone tot absolute norme verhef en dwang op die gewetens van ander uitgeoefen het.

Die Skrif roep die kerk op om ’n swakker broeder te verdra en om steeds verdraagsaam te wees. Oor die vraag tot waar kerklike toleransie strek, sal waarskynlik skerp verskil na vore tree. ’n Vergadering van “blanke” kerke sal

|303|

waarskynlik oor ’n leerverskil baie minder verdraagsaam wees as een van “swart” kerke wat ’n beswaarde lank sal wil konsidereer en vashou. Gedurende die Hervorming het Calvyn van Luther oor die nagmaal, hemelvaart en kerkregering verskil. Calvyn was bereid om deur sewe seë te gaan om leerverskille met ander te probeer uitstryk. Ten spyte van dié verskille het hy sy eenheid met Luther en Lutherane bly beklemtoon en vir verdraagsaamheid gepleit (Inst IV.1.xii). Daar is talle voorbeelde waar tweërlei opvattings oor die doop (Utrecht 1905), onvervulde profesieë of verklaring van Gn 1 (letterlike of goddelike werksdae), eenvoudig geduld moet word. Eenheid beteken nie noodwendig om tot in detail enerse en gelykluidende standpunte te huldig nie.

Afwyking in die leer het by ’n leraar ernstiger gevolge as by ’n ouderling of enkel gelowige. Eerstens moet herstel van eenheid in belydenis nagejaag word. Indien dit nie slaag nie, moet indringend vasgestel word in hoeverre die persoon die geloofsbelydenis nog onderskryf. Wanneer die afwyking op een duidelike punt saamtrek, het die kerke dikwels in die verlede van só ’n persoon ’n plegtige onderneming afgeneem dat hy sy opvatting met die oog op die eenheid in die kerk nie heimlik of openlik sal propageer nie. Met hierdie onderneming is die eenheid van die sigbare kerk gehandhaaf, terwyl die beswaarde nog as ’n broeder in Christus erken en vasgehou word, terwyl die gesprek onder vier oë kon voortgaan. Indien hy egter weier om ’n bevredigende onderneming te gee, ’n onderneming sou breek of wanneer die leerverskil ’n sentrale leerstuk soos Skrifgesag (NGB 7) of enige aspek van die 12 Artikels raak, moet met daardie dienaar volgens artikel 79 KO gehandel word.

In die CRC van die VSA is daar byvoorbeeld ’n predikant getolereer wat nie die kinderdoop kon onderskryf nie, omdat hy onderneem het om dit in sy amptelike optrede te handhaaf. In die minder verdraagsame Nederlandse of selfs Afrikaanse kerklike “klimaat” sou so iets waarskynlik ondenkbaar wees. ’n Bepaalde kerklike “klimaat” of groepsgesteldheid kan die oordeel in leerverskille grootliks beïnvloed, byvoorbeeld tussen wit en swart kerke.

In uiters moeilike en verreikende beslissings oor die gewetens van ander geld die kardinale vraag: Wat wil die Here Christus vir sy kerk (vergadering van gelowiges) gedoen hê? Ongelukkig word (soos in 1944 binne die GKN) eerder gevra: Wat wil ons vir ons kerk hê? Kerklike optrede roep dikwels geregverdigde kritiek en verwyte op, naamlik dat met ’n beroep op die leer liefdeloos, haastig, heerssugtig, eensydig of formeel voorskriftelik opgetree word.

 

5.4 Die grense van verdraagsaamheid

In kerklike kringe wel soms spanning op tussen ’n bewuste aanvaar en verdra van mekaar. Die kerke moet eerstens bewustelik die grense van toleransie vasstel sodat hulle nie oor elke verskil van lering mekaar los en uitmekaar gaan nie (Van ’t Spijker 1984:15). Toleransie reik vanselfsprekend in die geval van ’n ouderling of diaken verder as in die geval van ’n predikant. By ’n gewone gelowige (lidmaat) kan meer verdra word as by ’n professor wat predikante oplei.

|304|

Gelowiges fikseer soms op ’n probleem met ’n leerstuk, terwyl hulle die hoofsom van die Belydenis onderskryf. Hulle verset om in te gee, mag intens irriteer. Die dwalinge moet egter geduldig en volhardend bestry word, terwyl die mens vasgehou word. Hy moet met die Woord bedien word, totdat die Heilige Gees sy opvattings verander. Kortom, die kerk tree nie soos ’n politieke party op, waar iemand wat met die koukus bots onmiddellik moet konformeer of uittree nie. Die kerk is swak sondaarmense, in Christus een, maar wat steeds meer in hul Here een moet word (Joh 17:21). Dit impliseer dat elke verskil nie ’n geskil moet word nie.

 

5.5 Skorsing wanneer onderskrywing geweier word

“Metterdaad” beteken “saam met die daad” en bepaal daarom dat ’n kerkraad, klassis of partikuliere sinode op die oomblik wat ’n kandidaat of dienaar weier om die leer te onderskryf en te onderteken tot skorsing moet oorgaan. Tog moet onderskei word. Dit gebeur dat ’n ouderling (of diaken) na bevestiging weier om die Formulier te onderteken, alhoewel hy volmondig met die leer instem, omdat hy byvoorbeeld mag aanvoer dat onderteken onnodig is of sy integriteit betwyfel. Die artikel het nie so ’n geval op die oog nie, maar iemand wat weier omdat hy met die leer verskil.

Wanneer ’n verkose kerklike dienaar by bevestiging instemming met die Belydenis weier, moet dadelik gehandel word. Indien hy na die bevestiging weier, moet hy summier in sy diens geskors word en die saak in die kerkraad behandel word (vgl 5.3). Indien weiering gedurende die loop van bevestiging plaasvind, moet die handeling op die oomblik gestaak en verder ondersoek word, voordat verder met bevestiging deurgegaan kan word.

Wanneer ’n predikant by bevestiging instemming met die Belydenis weier, is die deputate van twee naburige kerke teenwoordig en kan die kerkraad in klassis contracta handel. Indien die predikant se bevestiging deur die weiering verydel word, verval die losmaking (art 10 KO) en moet die kerk wat moes losmaak, die saak behandel.

’n Professor vir teologiese opleiding (artt 2,18 KO) is ’n predikant wat kerkregtelik verbonde is aan die kerk waar hy woon (GKSA 1973:315v). Hy moet die Formuliere van Eenheid onderskryf en onderteken in die kerk waar hy bevestig word, terwyl die kuratorium teenwoordig is. Die partikuliere sinodes stel die kuratorium daar as synodus contracta wat namens die kerke in kerkverband oor die opleiding beheer uitoefen (GKSA 1973:315; 1979:214).

Die kuratorium sal as “nasionale sinode” moet handel en metterdaad en ter plaatse oordeel of die beroep opgehef en of die professor (indien bevestig) in sy diens geskors moet word. Die kuratorium sal (soos die naburige kerke by bevestiging van ’n predikant) saam met die kerk waar die bevestiging plaasvind en eventueel in oorleg met die kerk wat losmaking moes verleen (art 10 KO) optree. Die kuratorium kan in die diens van professor skors, terwyl alleen kerkrade in die diens van predikante kan skors. In alle handelinge behou die persoon sy reg tot appèl (art 31 KO).

|305|

5.6 Probleme met Universiteitsprofessore

Die kerke wou in die 16de eeu kragtens die idee van ’n Christelike staat en staatskerk alle professore van die Ryksuniversiteite aan die leer bind. Die Sinode van Dordrecht 1618/19 het vir ondertekening deur professore in Teologie, regente van Kolleges, rektore en “skoolmeesters” voorsiening gemaak (Jansen 1923:239; Kuyper 1899:188v,229v). By die Kerkorde-revisie te Utrecht 1905 is dié ondertekening, behalwe vir teologiese professore, opsioneel gemaak. Die kerke het immers geen jurisdiksie oor die aanstelling van professore aan die Universiteite gehad nie en kon slegs kerklike sensuur bedien. Die Nederlandse Universiteitsprofessore het buitendien ondertekening geweier, sodat hierdie artikel gedeeltelik in onbruik geraak het.

Die Afskeiding van 1834 het die beginsel van selfstandige kerklike opleiding, onafhanklik van die Ryksuniversiteite, na vore gebring. ’n Eie Formulier vir ondertekening deur teologiese professore is eers in 1908 daargestel.

Spoelstra, B. (1989) Art. 55

Artikel 55

Bevordering van die ware geloof 

 

Artikel 55: Om die suiwere leer in die gemeente te handhaaf en om die valse leringe en dwalinge te weer, wend die bedienaars van die Woord en die ouderlinge by die uitoefening van hulle onderskeie ampte, by die bediening van die Woord, by die kategetiese onderrig en by die huisbesoek, die middele van lering, weerlegging, waarskuwing en vermaning aan. 

 

A. Kerkregtelik

1. Die kerk bestaan in eenheid van geloof

Die prinsipiële agtergrond vir hierdie artikel sluit regstreeks aan by die vorige artt 53, 54. Die kerk leef in die handhawing, verdediging en uitdra van die suiwere leer. Die kerk is vergadering van gelowiges (NGB 27), ’n eenheid in ware geloof (Heid Kat Sondag 21). Opbou van elke lid in ware geloof is die roeping van die kerklike dienaars (Ef 4: 11-16). Sodra die leer verwaarloos of losgelaat word, verval die band wat die kerk saambind.

|306|

2. Die kerk is strydende gelowiges

Elke gelowige en die gelowiges-in-gemeenskap (kerk) moet vanaf die begin aanval, teenstand en suigkrag van ’n teen-kerk die hoof bied (Mt 16: 12; Mk 1: 27; 11: 18; Joh 7: 17; Hd 2: 42; Rm 16: 17; Ef 4: 14; 1 Tm 1: 3,10,11; 4: 6,16; 5: 17; 6: 1-5; 2 Tm 4: 2,3; Tit 1: 9; 2 Joh 10).

Die opdrag om te leer en die ware leer omtrent Jesus Christus vas te hou, loop soos ’n draad dwarsdeur die verkondiging van die Here Jesus en die apostels (Mt 28: 19; Rm 16: 17; 1 Kor 15: 1,2; GI 1: 8 ens). Christus leer wat Hy van die Vader geleer het. Daarop volg die imperatief dat ons die leer sal ontvang, bewaar en uitdra. Van vroeg af was die dwaalleraars aktief. Teenoor hulle het die 12 Artikels al in die drie eerste eeue die ware leer uitgespel en vanaf die 4de eeu het konsilies van tyd tot tyd leeruitsprake en belydenisse teen dwaalleraars uitgereik om in plaaslike kerke die eenheid in ware geloof te beskerm.

 

3. Prominensie van die leerdiens in die Skrif

In die Skrif staan die begrip “leraar” (didaskalos) sentraal. Hy is die verkondiger en verdediger van die ware leer. Artikel 55 omlyn dus die wese van die taak van die leraar. Hy is gelykwaardig leraar op die kansel, in kategese en op huisbesoek, terwyl hy in die tweede plek saam met die herder-ouderlinge ook regeerder is. By die ouderlinge kom die regeertaak (opsiener-wees) in die eerste plek te staan, terwyl hulle ook valse leer moet kan uitken en bestry. Dit kan hulle slegs doen as hulle in 'n tweede instansie in staat is om te kan leer. 

 

4. Die kerkregering berus op bediening van die Skrif

Lering, weerlegging, waarskuwing en vermaning is middele of vorme van bediening wat direk aan die Skrif ontleen is. Dié begrippe adem ’n bedienende karakter en sluit dwangmiddele uit. Die bediening moet nie probeer om ’n soort formele lidmaatskap op sterkte van ’n geykte kerkpatroon af te dwing nie, soos byvoorbeeld met die besluit van die Algemene Kerkvergadering op Pretoria 11 Januarie 1859 gebeur het nie (Spoelstra 1982 b158). Die bediening moet van kleins af toespits op die leer en lewe van elke individuele gelowige (2 Tm 3: 15). 

 

5. Die predikant is ook leraar van die kind

In Lutherse en ook gereformeerde kerkpraktyk word kategese dikwels as ’n onderwystaak vir hulpkragte op die skoolmodel beskou. Eers op ryper leeftyd by die belydenis van geloof tree die predikant (“miskien”) as leraar in die katkisasie na vore. Hierdie praktyk berus waarskynlik op ’n heidense kindbeeld onder die Grieke en Germane en by die jong kerke onder swartmense. ’n Kind is nie werklik as ’n mens beskou voordat hy nie met een of ander ritueel onder volwassenes ingelyf is nie. Behalwe onderwysers, bemoei volwassenes hulle gevolglik nie met kinders voordat hulle groot geword het nie. Die idee het wyd posgevat dat kinders eers “aangeneem” moet word om “lidmate” te kan wees.

|307|

Die Here Jesus het duidelik op die betekenis en plek van die kind in die verbond gewys (bv Lk 2: 41-52; 9: 48; Mt 18: 2v; 19: 13v; Ef 6: 4; 2 Tm 1: 3-6). Sy kindbeeld staan in skerp kontras met dié van die Grieke, Jode en die beeld wat in swart en ou patriargaal-Afrikaanse kulture aangetref word waar kinders eintlik altyd “apart” van die volwassenes gestel word en nie die “tyd” van die dominee mag opeis nie en op huisbesoek links gelaat word.

 

B. Kerkregering

1. Die oorspronklike redaksie

Die Kerkorde van Dordt 1619 skryf in artikel 55 die sogenaamde boekesensuur voor. Geen gereformeerde belyder mag sy eie of ’n ander godsdienstige boek sonder verlof van predikante of teologiese professore laat druk of uitgee nie. Die klassis moes van hierdie publikasie kennis dra (Pont 1981:182).

Die boekdrukkuns (1453) was destyds nog jonk en minder as vandag gebruik. Tydens die reformasie het juis ketterse geskrifte (vgl bv Servet 1553, Remonstransie 1604 en Anabaptiste) die eenheid in leer bedreig en gelei tot volksoplope en politieke spanning. Hierdie artikel wou dus met boekesensuur die ware leer beskerm en blootstelling van gelowiges aan dwaalleer afweer. Die paternalistiese vertroue in predikante en professore (leraars) wat die publikasies moes beoordeel adem die milieu van die 16de eeu. Hierin het die standeverskil tussen geestelikes en leke deurgeskemer. Soms is goeie geskrifte belet en boeke met dwaalleer gesanksioneer (Van der Linde 1982:186).

Die humanisme wat die Renaissance beheers het, het daarteenoor elke mens opgeroep om self ondersoek in te stel en die gesag van sy rede te gehoorsaam. Die 18de eeuse “verligting” het van die boekesensuur spoedig ’n dooie letter gemaak.

 

2. Die nuwe redaksie

Die GKN het te Utrecht 1905 die positiewe agter die ou artikel 55, nl die uitbou van die ware geloof, geneem en die artikel min of meer soos tans bewoord. Die Sinode van Potchefstroom 1964 stel die positiewe beginsel “om die suiwere leer in die gemeente te handhaaf…” nog sterker. Die CGK in Nederland formuleer: “Die ampsdraers moet met middele tot hulle beskikking die invloed van onregsinnige, revolusionêre en sedebederwende lektuur teengaan en in sowel prediking as kategese en by huisbesoek waarsku teen alles wat die suiwerheid van die Christelike lewe bedreig” (eie vertaling). Hier verskuif die aksent ietwat van die leer na die praktyk.

 

3. Die mees aktuele opdrag

“Veral in ons tyd is dit noodsaaklik dat ampsdraers moet let op watter leesstof in die huis van gelowiges kom ... Ons verwag van owerhede om deur die

|308|

Sensuurraad sulke soort geskrifte te weer, maar wat doen die ampsdraers in die Gereformeerde Kerke?” (Van der Linde 1982:185). Die media van koerant, tydskrif en TV, sowel as lektuur spoel teen die gereformeerde geloof aan. Artikel 55 KO stel die wyse waarop die dienaars van Christus tot hierdie stryd moet toetree. Die adres is die bedieninge in die plaaslike kerk. Dit is die taak van elke gelowige en veral van elke predikant, om dwaalleer en sosiale euvels te bestry. Dit is verkeerd en verlammend om die taak aan sinodale deputate op te dra (GKSA 1967:90v).

Kerke is nie gereformeerd wanneer hulle bloot formeel en institusioneel die erfenis van die Reformasie in die Drie Formuliere van Eenheid vashou nie. Die Bybelse imperatief om die evangelie uit te dra (Mt 28:19) kom in die 20ste eeu dringender tot die gelowiges omdat soveel meer dwaalleer en sedelike verval vandag botvier. Daar kom as ’t ware ’n noodroep om te oorlewe tot predikante en ouderlinge om die suiwere leer en Christelike lewe te handhaaf. ’n Normlose post-Christelike kultuur dreig om die ware leer en Christelike lewe uit te wis. Gelukkig staan van die media vir die verdediging van die gereformeerde erfenis ook nog oop.

Dit is onmoontlik om iemand iets te laat lees, luister of kyk waarna hy nie vra nie. Gereformeerdes het dikwels paternalisties gepreek, gepraat, geskryf en gepubliseer en verwag die mense moet inval omdat hulle dit kragtens hulle amp moet sê. Die ekonomiese model geld ook vir kerklike bediening: ’n aanbod sonder aanvraag speel bankrot. Voorskriftelike besluite oor vrymesselaars, dans, ensovoorts wat op kerkgesag ’n verbod sonder norme uitlig, het soms uiterlike konformasie, maar selde innerlike motivering tot gevolg gehad. Die bediening moet die gelowige vandag toerus met norme waarmee hy hom moet kan verantwoord in ’n wêreld vol ingewikkelde keuses (Ef 4: 12-16; Hb 5: 12-6: 2). Hy moet weet waarom.

 

4. Kerkregering is pastoraat

Die “leraar” is by uitstek op die kansel en in die katkisasieklas herder (pastor). Die gemeente ervaar die herder verder in die gewone gereelde huisbesoek, siekebesoek en in spesiale besoeke wat hy in omstandighede soos dood, sondeval, egskeiding, hofsake, finansiële terugslae, ensovoorts, aflê. Oral mag wanopvattings na vore tree wat pastoraal besweer moet word. Die dominee is die Godgegewe herder vir die jeug. Hy het hier ’n unieke geleentheid wat, as dit verbygegaan het, nie weer kom nie. Mense heg hulle aan dienaars op grond van die kwaliteit van pastorale begeleiding wat hulle geniet het. Waar die gelowiges hulle leer en lewe inrig na die Woord van God, bly die gesonde leer gehandhaaf, die kerk intakt en tuggevalle voor die kerkraad die uitsondering.

 

5. Probleme ten opsigte van offisiële kerklike publikasies

Die Sinode van Potchefstroom 1869 wou nie boekesensuur instel nie maar het dit aan die vryheid van “kerkbesturen” oorgelaat (art 108). Klagte oor predikante wat “boekjes” uitgee, wou die Sinode van Reddersburg 1876 nie

|309|

ter tafel neem nie, maar het morele steun toegesê aan De Maandbode wat ds Lion-Cachet persoonlik as kerklike blad begin uitgee het. Vrye meningswisseling in ’n broederlike gees is aangemoedig (artt 27,81,85).

Die Sinode van Reddersburg 1894 het De Maandbode oorgeneem en die uitgave daarvan aan die Kuratorium van die Teologiese Skool opgedra. Die Sinode Burgersdorp 1897 gee daaraan die naam De Kerkblad en later word dit selfs die “amptelike” of “offisiële orgaan” van die Gereformeerde Kerk in SA genoem.

Kerkregtelik lê dit nie op die weg van sinodes om “offisiële publikasies” die lig te laat sien nie (Kruger et al 1965:339). Publikasies van deputate is nie “sinodale” publikasies nie voordat ’n sinode dit nie soos ’n Belydenisskrif woord vir woord vir sy rekening aanvaar het nie. Wanneer die sinode egter beskou word as ’n “struktuur” wat die “hele kerk” verteenwoordig, word geglo dat “die Kerk” sinodaal ’n “offisiële” of “amptelike” orgaan moet hê wat finansiële ondersteuning van sinodeweë kry. Die Sinode van 1894 het De Maandbode dus op pragmatiese en foutieve kerkregtelike veronderstellinge oorgeneem. Op dié onkerkregtelike pad is verder gegaan toe selfs ’n predikant as redakteur in diens van deputate geneem is (GKSA 1958:304v). Die volgende Sinode 1961 het die “offisiële of amptelike orgaan” afgekeur, maar nog beweer dat “die Kerk ’n blad uitgee” waarin hy sy “amptelike stukke” publiseer, terwyl ander skrywers op eie verantwoordelikheid daarin skrywe (297).

Gaandeweg is gevra hoe ’n predikant voltyds redakteur van ’n blad kan wees (GKSA 1973:492v, 501v). Tans word nog “publikasies” onder sorg van sinodale deputate bedryf, moontlik om finansiële en morele ondersteuning te verseker. Na regte behoort kerklike dienaars in die loop van hulle diens publikasies die lig te laat sien. Gelukkig betree uitgevers vandag al meer interkerklik die mark. 

 

5. Kategese, sending en evangelisasie

In die teologie word soms onderskei tussen kategese vir verbondskinders, evangelisasie onder diegene wat van die geloof afvallig geword het en sending onder heidene. In werklikheid is dit dieselfde Woordverkondiging wat slegs met die oog op die mate van verskil onder diegene aan wie die Woord verkondig word, aangepas en gerig word. Die Gereformeerde kategese het tot aan die begin van die 20ste eeu swaar geleun op die gereformeerde skool en onderwyser. Toe die staat die onderwys op neutrale basis skoei, het kategese dikwels nie die patroon van Sondagskole of Lutherse “leer- en geloofseksamens” in ’n soort “kerklike onderwys” op die skoolpatroon met afsonderlike klassies en onderwysers ontwikkel.

Die nadruk wat die Skrif op die leer, die roeping om te leer en die leraarsdiens lê, toon onteenseglik aan dat soos die leraar amptelik moet preek, hy ook vir die amptelike kategese, sending en evangelisasie verantwoordelik is. Kategese is onlosmaaklik gerig op bewuste en verantwoordelike belydenis van geloof (Bouwman 1934:389; vgl art 61 KO). Dit bly die primêre taak van die predikant as herder en leraar om die kerkkatkisasie minstens met kinders vanaf hulle 10de jaar self te behartig.

Spoelstra, B. (1989) Art. 56

|310|

Artikel 56

Kinderdoop verseël die verbond

 

Artikel 56: Die verbond van God moet so spoedig moontlik aan die kinders van die Christene in die erediens met die Heilige Doop beseël word volgens die formulier wat daarvoor vasgestel is.

 

A. Kerkregtelik

1. Die Doopbevel

Die Here Jesus Christus het met sy hemelvaart (Mt 28: 19) aan die elf apostels opdrag gegee om na al die nasies te gaan (sending): mense sy dissipels te maak (Woordverkondiging dmv sending, kategese, evangelisering); hulle te doop in die Naam van die Drie-enige God (sakrament) en hulle te leer om alles te onderhou wat Christus die apostels beveel het (Woordverkondiging dmv prediking, pastoraat, tug, ens).

Hierdie opdrag “institueer” die Nuwe Testamentiese Kerk. Die Woord wat verkondig word (vgl Rm 10: 12v) en die Heilige Gees wat geloof gee, verenig gelowiges in ’n gemeente (vgl Hd 2). Mense word deur geloof in Christus ingelyf (HK V/A 59,60,74). Die doopbevel is onder al Jesus se “dissipels” aan die bepaalde elf gevolmagtigde dienaars (apostels) gegee en hulle kry opdrag om die sigbare sakrament van die doop te bedien. Die betekenis van die sakrament hang nie af van die waarde van die bedienaar nie, maar van die Koning van die Koninkryk wat alle mag besit (Mt 20: 18).

Die doop is al met reg die sakrament van die universele kerk genoem omdat dit die insluiting in die verbond van God en “in sy gemeente” (HK S27) uitbeeld. Omdat die gemeente van God op ’n bepaalde plek konkreet sigbaar word, is doop ook die offisiële opname in die sigbare gemeente. Wie gedoop is, is formeel lid van die gemeente (kerk).

Die doopbevel wys tegelykertyd hoe Woordverkondiging en Sakrament verbind is (“maak dissipels” en “doop hulle”). In die eerste sendingwerk in die Nuwe Testament en op die sendingveld vandag, gaan missionêre en kategetiese Woordverkondiging aan doop vooraf. Op die Woordverkondiging volg geloofsbelydenis, dan doop en daarna verdere opbou (vgl “leer hulle” Mt 28: 19).

Hieroor stem Roomse, Gereformeerdes en Baptiste min of meer saam. Die Baptiste aanvaar egter nie dat die kind in die Christelike huis reeds werklik binne die kring van “dissipels” (“Christene”, art 56) verkeer nie. Hulle reken nie organies met huisgesinne (Hd 16: 15,33; Ps 87: 5,6) en gemeenskappe nie. Hulle neem soos die humanisme die individu as vertrekpunt. Vir hulle sê

|311|

Mk 16: 16 dat elke kind sy geloof eers verantwoordelik moet bely, voordat hy gedoop mag word. Milner (1970:123-126) stel waarskynlík die Baptistestandpunt wanneer hy sê dat Calvyn inkonsekwent kinders as gebore lede van die kerk op grond van hulle weergebore ouers en die erflike karakter van die verbond, aanvaar. Volgens hom vereis Calvyn se sakramentsleer, selfs al speel die Heilige Gees daarin so ’n groot rol, volwasse, self-bewuste geloofsbelydenis. Hy laat egter na om aan te toon hoe Calvyn die “church of professing believers” nie aan ’n eenmalige doop nie, maar aan dinamiese kerkwees in leer en lewe onder tug van die Woord aan die nagmaal verbind (vgl art 61 KO).

 

2. Die doop as sakrament

Die reg waarop die doopsbediening (ook die kinderdoop) berus, hang saam met die doel, plek en betekenis van die sakramente waaroor die Dogmatiek geraadpleeg kan word. ’n Populêre brosjure van Joh Jansen (1922) oor “Die reg van die kinderdoop”, is in Afrikaans vertaal.

Sakramentsbediening veronderstel geloof by die ontvanger en dat die kind binne die verbond in geloof gaan opgroei. Die sakramente is gegee om ons geloof te versterk terwyl ons van ons kant ons “godsvrug” betoon wanneer ons dit gebruik (Calvyn Inst IV.14.i). ’n Sakrament is ’n heilige aanskoulike (sigbare) afbeelding of teken van ’n geestelike (onsigbare) misterie. Die sakrament beseël en teken nie die geloof van die ontvanger af nie, maar die verbondsbeloftes wat die Here aan die gelowiges gee (Hd 2: 39). Sakramente waarborg daardie beloftes soos ’n seël die egtheid van dokumente waarborg (HK V/A 66). Die Woord gaan voorop en moet steeds die teken verklaar, terwyl die sakramente weer die waarheid van die Woord bevestig (Inst IV.14.vi). Die Heilige Gees laat ons die Woord en Sakrament glo en maak ons aan God se goeie wil gehoorsaam. Sodoende versterk die sakrament ons geloof (Inst IV.14.x.xvii). Onverskilligheid, of uitstel of versuim van die sakramente kan gevolglik nie in die godsdienstige relasie tot God (verbond) geduld word nie.

Die Hervorming het die Roomse leer verwerp dat die sakrament van die doop genade instort waardeur die natuurlike verlore mens na die Godsryk (universele kerk) oorgaan. Op grond hiervan leer Rome “nooddoop”. Wanneer ’n Roomse priester nie beskíkbaar is nie, moet die vroedvrou, dokter of ’n medestander summier aan ’n sterwende kind nooddoop bedien om te verseker dat die doop die kind red. Spoedig doop kom by Rome uit bygeloof op, terwyl Calvyn spoedig doop op sterkte van intieme geloofsverhouding gegrond het.

Doop en nagmaal dra dieselfde evangelie: God vergewe sonde. Doop beklemtoon die inkom en nagmaal die inbly in die kerk van God. Teoloë het die doop die sakrament van die universele en die nagmaal die van die plaaslike kerk genoem. Die stelling mag nie absoluut opgeneem word nie. Die plaaslike kerk is immers die universele kerk op daardie plek (Ef 4: 6, Snyman 1977:45). Die stelling dui egter wel aan dat die doop eenmalige inlywing (verbond) en die nagmaal voortdurende versorging (gemeenskap) afteken en verseël.

|312|

3. Die verbond tussen God en mens

In die verbondsverhouding, of gemeenskap tussen God en die gelowiges, onderskei ’n mens twee kante: Hy sal vir hulle God wees en hulle sal sy volk wees (Hb 8: 10). Die kardinale vraag is: hoe kom die verbond tussen God en mense (sy volk) tot stand? Een van die twee partye moet tog eerste inisiatief neem om die verbond te sluit. Neem God mense aan of neem mense eers God aan?

Pelagiane en semi-pelagiane aanvaar dat God net ’n aanbod van genade doen. Elke mens wat tot geloof kom, aanvaar die aanbod en op grond daarvan kom God sy verbondsbeloftes na. Volgens dié leer gaan die mens die verbond aan.

Die Bybel gebruik op baie plekke in OT en NT die huwelik om hierdie verbond tussen God en mens uit te beeld. God kies soos ’n bruidegom vir Hom vrylik ’n bruid uit. Hy het eerste lief en maak die liefde in die bruid wakker. Sy moet antwoord op sy genade. Vir Calvyn beteken “verkieswees” om tot die liggaam van Christus verkies te wees (vgl Rm 5: 10). Die verbond is die geboorte van die liggaam, die kerk. Ten diepste rus alles in die Ordinatio Dei (Milner 1970:72v).

Die verbond tussen God en mens kom dus volkome eensydig tot stand. God sluit en gee die verbond. Die Vader neem kinders uit genade aan en in sy verbond op (Gn 17: 7; Js 43: 1; Jr 30: 21,22; Joh 6: 37; Rm 7: 24, 8: 9-17; 2 Kor 5: 18, 6: 16-18; Hb 8: 6-13).

In werklikheid voer God die sending- en doopbevel van Mt 28: 19 uit. Hy gee geloof (Rm 1: 17, 4: 11-25; Ef 2: 8). Hy maak slegs van mense sy gesante en gebruik hulle as gereedskap om die Woord te bring (2 Kor 5: 20; HK S21). Die een-wees in die Here of kerk-wees beteken een geloof en een doop (Ef 4: 6).

Die eerste vraag by die doopbediening neem die reddende werk van God in sy verbond as vertrekpunt. Calvyn sê die kinders van gelowiges word nie gedoop sodat hulle kinders van God sal word nie, maar omdat hulle alreeds deur die krag van die beloftes tot die liggaam van Christus behoort (Inst IV.15.xxii). Wie gedoop word, moet in die vergadering van gelowiges gebring word, sodat die hele gemeente daarvan getuie kan wees (Inst IV.15.xix). Christus het aan die eis van die Wet en goddelike reg voldoen. Daarom kan die nuwe verbond van God sonder enige bydrae van sondaars opgerig word (Hb 8: 6-13).

Die teken van die verbond in die OT was die besnydenis (Gn 17: 10). Dit is aan volwassenes wat van buite tot die verbondsvolk toegetree het, toegedien (Hd 15: 15). Binne die OT verbondsvolk moes seuntjies van agt dae egter besny word. Die NT verbind die besnydenis regstreeks aan God se genade wat sonde vergewe sodat 'n verbond tussen God en mens tot stand kom (Rm 4: 8-12). Dit is presies waarna die doop heenwys. Die doop het in die NT die teken van die verbond met God geword (Hd 15: 24; GI 2: 3v; 3: 27v; Kol 2: 11,12).

 

4. Die doop as seël

Die Baptiste vertolk “hy wat glo en hom laat doop” só dat die dopeling met sy doop sy geloof en gehoorsaamheid betuig. Sommige sê dat die Here slegs

|313|

diegene aanneem en seën wat hulle geloof by wyse van grootdoop betuig het. Volgens hierdie opvatting beseël die doop die saligmakende geloof van die dopeling en nie die beloftes van God in sy verbond nie.

Die GKN het in 1944 verklaar dat die doop bedien word op die veronderstelling dat die kind wedergebore is. Prof K Schilder en ’n tagtig predikante is toe geskors omdat hulle volgehou het dat die doop God se beloftes teken en beseël vir diegene wat deur die geloof aan God se verbondseise voldoen. Die besluit het tot ’n kerkskeuring (“vrymaking”) gelei waaruit die GKN (Vrygemaak) en Nederlandse Geref Kerke voortgekom het.

Ons bely dat ons deur die doop “in die Kerk van God ontvang word en van alle ander volke en vreemde godsdienste afgesonder word om geheel en al sy eiendom te wees en sy merk en vaandel te dra, en dit is vir ons ’n getuienis dat Hy tot in ewigheid ons God sal wees en ons genadige Vader” (NGB 34; Inst IV.15.i). Soos water die vuil van die liggaam afwas, so neem die bloed van Christus deur die Heilige Gees ons sonde weg. Verlore mense, volwassenes en kinders, word tot kinders van God weergebore (HK S 26,27). Omdat ’n mens maar een maal gebore word, is een maal gedoop wees voldoende. Die doop is daarom ’n gemeenskaplike sakrament. Christene word nie oorgedoop nie. Die doop is nie self die inlywing in Christus of inwyding in die kerk van God nie. Die doop is egter teken (afbeelding) en seël (versekering) daarvan (vgl Doopformulier).

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die Sinode van Dordrecht 1574 het bepaal dat doop in ’n openbare erediens by die prediking bedien sal word (Bos 1950:208). Te Middelburg 1581 het die kerke selfs vir ’n erediens in die week voorsiening gemaak om doop nie te vertraag nie. By die kerkordehersiening te Utrecht 1905 is die bepaling weer weggelaat. In 1964 word die woorde “volgens die formulier” bygevoeg, waarmee artikel 58 KO eintlik dupliseer word.

 

2. So spoedig moontlik

In die geskiedenis het die onverskillige houding van ouers oor die tyd van doop tot uitstel en vertraging van doop gelei. Dit bewys dat die verbond as kerkregtelike grond vir die doop nie verstaan word nie. Gedurende die Reformasie het die verwerping van die Roomse nooddoop en aan die ander kant die Anabaptiste wat kinderdoop verwerp het, dalk bygedra tot vertraging van doop en instelling van periodieke “doopsondae” in party kringe. Doop word soms as ’n familie-aangeleentheid of helaas as ’n blote kerklike seremonie beskou. Gevolglik word doop om beuselagtige redes uitgestel, byvoorbeeld om sekere familie by die plegtigheid te betrek. Die GKSA het deur middel van ’n breë voorligtingstuk probeer om “onnodige vertraging van die doop” te bekamp (GKSA 1958:134; 1961:132v). Die doop moet so spoedig moontlik bedien word,

|314|

omdat daarmee antwoord op God se verbondsbeloftes gegee word. Geen kerklike besluit nie, maar slegs deeglike voorligting in doopgerigte pastorale besoeke van die leraar, kan mense die verbond laat omhels en verhoed dat doop 'n kerklike seremonie in plaas van ’n heilige sakrament word.

In die kultuur van die meeste swart volke mag geen man binne enkele weke na die geboorte van ’n baba by die moeder op besoek kom nie. Pastorale besoeke kan na ’n geboorte gevolglik nie dadelik plaasvind nie. Dit is nie nodig om die beginsel “so spoedig moontlik” teen die kultuur af te speel nie, soos byvoorbeeld om aan te dring dat die vader die kind vir doop hou terwyl die moeder nog herstel. Dit was in Nederlandse gereformeerde kringe nogal gebruiklik. “So spoedig moontlik” sal in ’n swart kerk op onmiddellik ná die afsonderingstyd toegespits moet word.

 

3. Kinders van die Christene

3.1 Die begrip “Christen”

Die Kerkorde gebruik opvallend genoeg die begrip “Christene” (’s Gravenhage 1578) en sê nie iets soos “kinders van lidmate” nie. Die begrip “Christen” wys op geloof en verhouding tot Christus, terwyl “kinders van die lidmate” die verhouding tot die kerkinstituut sou onderstreep. Tog word die artikel dikwels in terme van “lidmaatskap” vertolk (Kruger et al 1965:344v; Van der Linde 1983:193v).

Met “Christene” erken die kerk dat ten spyte van groot verskille, soos byvoorbeeld tussen Protestant en Rooms-Katoliek, die doop op die een gemeenskaplike heilige Christelike Kerk dui (vgl Inst IV.2.xii). Die doop van ander gesindtes word erken, wanneer (a) die doop in die naam van die Drieenige God, (b) met skoon water en (c) deur ’n erkende dienaar van daardie kerkgemeenskap bedien is (vgl Bos 1950:206v).

 

3.2 Kinders waarvan een ouer nie “lidmaat” is nie

Egpare mag om talle redes, waarvan geloofsoortuiging die belangrikste behoort te wees, hulle kerklik in twee verskillende gemeenskappe bevind. Wanneer die ouerpaar die kind in die gereformeerde kerk (waar net een van hulle behoort) wil laat doop, neem sommige kerkregtelikes “lidmaatskap” as norm en weier dat die nie-lidmaat voor die kansel verskyn en/of op die doopvrae antwoord. Ander wil wel uitsonderings toelaat mits die “tipe” kerk van die ander ouer (wat bloot willekeurig beoordeel word) gekondoneer word. Hierdie oorwegings kom formeel, onoortuigend, kerkisties en subjektief voor. Dergelike situasies moet kerkregtelik met die norm van die verbond beoordeel word. Die doop bring nie “lidmaatskap” van die “nie-lidmaat” op die tafel nie, maar wel die vraag of die ouer met die doopvrae instem.

Indien die “nie-lidmaat” ’n belydende Christen is en hy verstaan en stem in met die doopvrae, bestaan daar geen regsgrond om daardie ouer by die doop uit te sluit nie. In sy volle reg en verantwoordelikheid as ouer erken hy die verbond (eerste doopvraag), die leer en die gereformeerde kerk waar die kind

|315|

gedoop word (tweede doopvraag) en stem hy voor getuies in dat die kind in hierdie leer opgevoed word (derde doopvraag).

In bepaalde gevalle mag die nie-lidmaatouer ’n twyfelaar, onkerklike of selfs ’n ateïs wees. So ’n persoon mag uit gewoonte vanweë ’n “volkskerk”-idee (Van der Linde 1983:191v) of ter wille van die eggenoot vra om voor die kansel te verskyn. in dergelike gevalle moet in die eerste plek vasstaan dat die “lidmaat”-ouer wat die doop aanvra ’n belydende Christen is. Die doop word kerkregtelik aan die kind van hierdie gelowige ouer bedien. Wanneer die ander eggenoot egter wil bystaan, omdat dit immers ook sy/haar kind is, moet alles wat met die doop saamhang aan hom/haar verduidelik word. Indien so ’n persoon nog voor die kansel wil verskyn, sou dit beter wees om dit toe te laat as te weier. Wanneer so ’n ouer selfs sou verkies om op die vrae te antwoord, het dit vir die kerk geen direkte kerkregtelike implikasies nie, terwyl dit tog die persoon voor die Here en baie getuies betrek by die belofte van die gelowige eggenoot. Hy/sy stem toe dat die eggenoot die kind gereformeerd sal opvoed, al kan en gaan hy/sy dit self nie doen nie. Die bystaan en antwoord van so ’n ouer erken immers die verbondsbetrekking tussen God, die gelowige ouer en die kind. Die doop gaan immers primêr om die kind in sy verbondsrelasie met die Here.

 

3.3 Kinders van afvallige of kerklose ouers

Wanneer ouers dissiplinêr van die sakramente afgehou word, kan hulle vanselfsprekend nie ’n kind vir doop hou voordat hulle versoen is nie (art 76 KO).

Ouers wat afvallig, kerklos en kerkloos en tog nie onder tug is nie, vra egter dikwels doop vir hulle kind aan, moontlik ter wille van grootouers wat meelewende Christene is. Uiteraard moet die doop nie sonder ernstige pastorale besinning toegelaat word nie. ’n Toestand van afval, kerklos- en kerkloosheid kwalifiseer dergelike ouers nie as “Christene” nie. Vroeër is soms ter wille van die kind van doopgetuies wat vir die ouers instaan, gebruik gemaak, omdat toe, soos vandag nog by swart volksgemeenskappe mag voorkom, grootouers of ander familie as getuies in ’n posisie was om die kinders in die verbond op te voed. ’n “Christen”-doopgetuie wat regtens in ’n posisie is om op die derde doopvraag positief te kan antwoord, sou ’n kind vir doop kon hou. 

 

3.4 Doop van aangenome kinders

In gereformeerde kringe (veral in Nederland) is soms geweldig veel van die biologiese “verbondslyn” (vgl GKSA 1930.29) gemaak. Op sterkte van kerklike grootouers is ’n “verbondslyn” vasgestel. Wanneer ouers dus ’n kindjie aanneem wie se ouers onbekend was, kon so ’n kind nie gedoop word nie.

Deeglike studie van die leer van die verbond het aan die lig gebring dat die werk van God in die NT nie aan biologiese afstamming gebind is nie. Wanneer gelowige ouers ’n kindjie wettig aangeneem het, is hulle in die Here die ouers van daardie kind. Niks kan die doop van so ’n kindjie verbied nie (GKSA 1970:131v).

|316|

3.5 Doop van kinders in Tehuise

Die doop van kinders in Tehuise word toegelaat wanneer huisouers of gekeurde persone verantwoordelikheid vir die verbondsopvoeding aanvaar (GKSA 1949:278). Indien kinders tot ’n redelike volwasse leeftyd aan die Kinderhuis toevertrou word, kom hulle posisie min of meer met dié van aangenome kinders ooreen. Die besluit van 1949 steun moontlik op ’n definisie van “verbondskinders” wat op biologiese afstamming berus. Daar sou met die doop van ongedoopte kinders gewag kon word totdat hulle self die doop aanvra (Kruger 1966:348, vgl art 59 KO).

 

3.6 Doop waar ouers nog nie belydenis van geloof gedoen het nie

Uit die kerkregtelike beginsels het geblyk dat die eenheid in ware geloof die sentrale plek in kerkwees inneem. Mense wat nog nie mondige en verantwoordelike geloofsbelydenis gedoen het nie, kan nie op die tweede vraag by die doop antwoord nie. Gevolglik kan hulle kindjie nie gedoop word voordat die ouers bewustelik die verbondsbeloftes wat in hulle eie doop beseël is, vir hulleself toegeëien het nie. In die meeste van hierdie gevalle sal die doop moet wag totdat verantwoordelike geloofsbelydenis afgelê is.

 

3.7 Doop van ’n buite-egtelike kind

By buite-egtelike geboorte moet gewoonlik slegs met ’n moeder rekening gehou word. Hierdie probleem kom veelvuldig by swart gemeenskappe voor, terwyl ’n groot persentasie blanke buite-egtelike kinders vir aanneming deur wagtende egpare bestem word. Die kerkregtelike posisie van die moeder (en nie die kind nie) kan die aansoek om doop beïnvloed. Is aan artikel 71 KO voldoen? Wie staan regtens vir die kind se opvoeding in? Kan die moeder met goeie reg verantwoordelik op die doopvrae antwoord? Indien die moeder self haar kind wil opvoed, moet die aangeleentheid van sonde en berou liefs voor die geboorte afgehandel word sodat die kindjie in versoende omstandighede in die Here ontvang en gedoop kan word. Indien die saak eers na geboorte onder aandag kom, moet die kerklike tughandeling en bediening van die versoening (vgl artt 72-75 KO) afgehandel word, voordat doop bedien kan word.

 

3.8 Doop uit of in ’n ander kerk

Die Sinode van Franeker 1863 het in ’n appèl ’n kerkraad se reg bevestig om die kind van ’n moeder wat “geen lid der gemeente is” nie, te doop. As gronde is aangevoer dat die saak by die plaaslike kerk tuishoort om volgens plaaslike gebruik tot meeste stigting te handel en omdat die omstandighede aan die “eigenlijke doopbediening” niks afdoen nie (Bos 1950:216v).

Om verskillende redes, dikwels vanweë die ervaring van God se verbondstrou in geslagte, versoek ouers om hulle kind in ’n ander kerk binne

|317|

die kerkverband te laat doop. Vanselfsprekend moet die wykouderling, leraar of kerkraad van die redes kennis neem wat tot die aansoek gelei het. Die ouers moet toestemming (liefs ’n brief) van die kerkraad, of as dit nie bekom kan word nie, van hulle wyksouderling of predikant, bygestaan deur een of meer ouderlinge, aan die kerk waar hulle wil gaan doop, voorlê. So ’n kerk moet in die lig daarvan oordeel en handel.

Wanneer mense uit ’n ander kerkverband hulle kind in ’n gereformeerde kerk wil doop, vereis goeie orde dat hulle aansoek met toestemming van hulle kerklike gesag vergesel moet gaan. So ’n aansoek kan om gegronde redes geweier word (byvoorbeeld wanneer dit bekend is dat die aansoekers kerklos is en slegs “in naam”, ter wille van familie, in die kerk wil doop). Kerkregtelik moet die kerkraad vasstel hoe die aansoekers die doopvrae bejeën. Wanneer dit vasstaan dat die mense nie die gereformeerde leer onderskryf nie en hulle kind nie in daardie leer gaan opvoed nie, moet die aansoek nie toegestaan word nie. Daar kan wel gevra word of mense uit ’n ander kerkverband doopvrae oor “die Christelike kerk hier” en leer wat “hier” geleer word, met reg kan beantwoord. ’n Duidelike afkondiging kan egter die regsposisie oorbrug: die doop geskied op versoek van en ter wille van die ouers en hulle bepaalde kerkgemeenskap om gegronde redes. Die doop word in die doopregister as spesiale versoek aangeteken, terwyl dadelik aan die ouers ’n doopseel (getuigskrif) meegegee word.

In die lig van die tweede en derde doopvrae is dit uiters moeilik wanneer gereformeerde ouers van die kerk verlof vra om hulle kind in ’n ander kerk buite die kerkverband te laat doop. Die aansoek kom gewoonlik uit sterk persoonlike en emosionele motiewe op, byvoorbeeld waar ’n grootvader predikant in ’n ander kerkgemeenskap is en die kind nog sy naam ontvang ook. Om dié motiewe met objektiewe argumente te weerlê, gebeur nie maklik nie. Die objektiewe kerksituasie bots in hierdie geval met die konkrete familiesituasie binne ’n breër Christelike verbondsbetrekking en so ’n versoek moet gevolglik simpatiek en omsigtig hanteer word. Weiering mag funeste implikasies vir die eggenoot, die betrokke gesin en selfs vir inter-kerklike verhoudinge hê. Dit mag suiwer kerkisties vertolk word.

Weer eens is die bepalende norm: word die doop Christelik of institusioneel-kerklik gekwalifiseer? Is formele kerklike “lidmaatskap” voldoende grond om ’n Christelike doopbediening in ’n ander kerkgemeenskap te weier? Waar loop die grens tussen kerkisme en die verbond? Juis die ingewikkelde verbondsrelasie maak dit onmoontlik om formeel kategories te reël. Elke geval moet met begrip simpatiek deurgepraat en op eie meriete behandel word. Oorreding in plaas van dwang of anders duidelike wedersydse begrip vir die meriete van elke situasie sal tot die meeste stigting dien. Indien die ouers volhou, moet hulle verstaan dat die kerkraad die doopbelofte wat elders afgelê word, neem asof dit voor homself gedoen is. Hulle sal ’n doopseel van die kerk waar die doop bedien is, moet saambring.

 

4. Doopbediening deur ’n predikant uit ’n ander kerkverband

’n Lastige variasie op bogenoemde probleem kom voor wanneer die ouers versoek dat byvoorbeeld ’n grootvader wat predikant in ’n ander kerkgemeenskap

|318|

is, om familieredes die doop tydens die gereformeerde erediens sal bedien. Die kerkregtelike vrae trek dan op die bedienaar van die doop saam. Die doop is net so deel van die erediens as nagmaal en kan slegs deur ’n predikant bedien word (Inst IV.15.xx). Niemand mag die waardigheid vir homself neem nie (Hb 5: 4; Inst IV.15.xxii). Wanneer ’n leraar van verwante gereformeerde gesindte versoek word om slegs die sakramentele handeling in ’n gereformeerde erediens uit te voer, kan daar tog nie prinsipiële besware geopper word nie. Doop by ander gesindtes deur hulle wettige dienaars word sedert de 16de eeu erken.

Wanneer so ’n dienaar versoek moet word om ook die Woord te bedien, waarby lees van die Formulier gereken moet word, kom tweërlei opvattings na vore. Eerstens reken sommige met die volgende kerkregtelike beginsels: (1) Die Here stel die kerkraad onvervreembaar verantwoordelik om oor die kansel te handel (Hd 20: 28; Ef 4: 11v; artt 15,30,84 KO). (2) Die Kerkorde reël die normale orde tussen kerke in kerkverband en nie hierdie uitsonderlike situasie met so ’n predikant nie. (3) Die kerkraad moet hom dus vooraf vergewis dat die betrokke predikant self (en nie sy kerk nie) die gereformeerde leer van harte toegedaan is. Indien die kerkraad hiervan seker is, kan die kerkraad die bepaalde leraar uitnooi om onder hulle toesig en regering per doopgeleentheid Woord en Sakrament te bedien.

Aan die ander kant redeneer ander (1) meer in terme van ’n eksklusiewe kerkgenootskap of kerkverband-struktuur. (2) Hulle soek gevolglik ’n reglement of formele sanksie van “meerdere vergaderings” voordat die kerkraad mag optree en maak baie van “korrespondensie in enger sin” (art 52). (3) Wanneer kerkrade ligtelik predikers uit ander kerke Woord en Sakramente sou laat bedien, verflou die roeping ten opsigte van suiwer leer, diens en word gereformeerde roepings- en kerkbesef verswak.

Eersgenoemde standpunt hou risiko in waar kerkrade bloot formeel horisontaal sou oordeel. ’n Blote formele verbod bou nie behoorlike kerkbesef by die gemeente nie en kom kerkisties oor. Indien ’n kerk egter ’n prediker sou toelaat wat die gereformeerde leer op bepaalde punte nie onderskryf nie, moet die ander kerke in kerkverband met dié kerk daaroor plaaslik en in die klassis handel (artt 41,44).

 

5. Verwerping van die kinderdoop en weer-doop

By tye wen weer-doop as volwassedoop veld in kerklike kringe. Redes hiervoor kan legio wees: begrip vir die verbond van God en familie-verbande stomp deur die verstedeliking en moderne geestelike invloede af; gedoopte individue ontbeer in tye van spanning geloofsekerheid; volwasse doop op persoonlike geloofsbelydenis spreek die mens aan; die Engelse en Amerikaanse Baptiste dra die puriteinse tradisie teenoor die Anglikaanse (Episkopaalse) staatskerk waarin sekularisasie ’n groot rol gespeel het. Gevestigde kerke skep moontlik die idee van gedoopte massakerke. Gedurende die Reformasie het selfs reformatore soos Zwingli, Bucer en ander met baptistiese ondertone begin. Hierdie Baptiste kan nie op een vlak met die uitwasse van ander soos Matthys van Munster gestel word nie (Spoelstra 1975:37v). In Engeland en die VSA

|319|

verteenwoordig die Baptiste die Engelse Calviniste. Calvyn bepleit op die punt van weer-doop verdraagsaamheid (Inst IV.1.xiii).

Wie die kinderdoop verwerp, bots met die gereformeerde Belydenis (NGB 34, HK A 74). As sodanig kom die eenheid in die ware geloof wat die wese van die kerk bepaal, in gedrang. By die afwyking erken die mens egter die verdienste van Christus en die sakrament van doop. Die verskil trek dus saam op die tydstip (kinder- of volwassedoop) van doop met klem op die Christelike verantwoordelikheid en keuse.

Wanneer ’n lid van die gemeente die kinderdoop verwerp en om watter rede ook al hom weer laat doop het, moet die predikant en wyksouderling eerstens noukeurig by herhaalde besoeke vasstel of die persoon as skeurmaker optree deur sy opvattings in die kerk te verkondig. Tweedens, afgesien van die dwaling oor die kinderdoop, hoe staan die persoon origens teenoor die Geloofsbelydenis? Dit gebeur dikwels dat soekers en twyfelaars na weer-doop gryp, terwyl hulle die leer van kinderdoop in die kerk tolereer en origens die kerklike eenheid in geloof beleef. Hier kom die moeilike kerkregtelike vraag na vore: In hoeverre kan die kerk so ’n persoon met sy probleem tolereer?

Die Sinode van Potchefstroom 1945 (p 126 vgl 1873 art 153) het op ’n vraag van ’n partikuliere kerkraad geoordeel dat wanneer iemand hom by ’n sekte laat doop het, hy by die sekte aangesluit en metterdaad “as lidmaat” verval het. Hy kan slegs na openbare belydenis van geloof weer opgeneem word. Hierdie uitspraak lewer ernstige kerkregtelike probleme op. Indien die Sinode hier in stryd met artikel 30 soos ’n klassis (art 41 KO) ’n kerkraad oor ’n bepaalde geval soos dit toegelig was, wou adviseer, kan die uitspraak allermins as algemene voorskrif geld. Iemand kon in hierdie geval sonder om formeel “lidmaatskap” op te sê hom by ’n sekte laat doop en sy rug op die kerk gekeer het. Moet die kerkraad hom nog as “lidmaat” beskou? Op hierdie tipe probleem gee die besluit van 1945 aanvaarbare advies.

Indien die Sinode van 1945 egter ’n algemene beginseluitspraak vir enige voorkomende geval van weer-doop wou doen, roep die uitspraak ernstige kerkregtelike probleme op. Dit gebeur dat iemand hom laat weer doop en in die gemeente wil voortleef. Dergelike sake hoort by die plaaslike kerk of hoogstens by ’n klassis tuis (artt 30,41,77 KO). Slegs in ’n kollegialistiese struktuur skryf sinodes “lidmaatskap” aan plaaslike kerke voor. Die Sinode van 1945 kon onmoontlik summier die ban voorskryf oor iemand wat in die leer oor die doop dwaal sonder om enige grond uit Skrif of Belydenis vir die uitspraak aan te voer. Die besluit handel bloot met formele begrippe soos “lidmaatskap verval” en “aangesluit” asof kerke en sektes verskillende strukture is. So ’n ingrypende oordeel op blote formele gronde bots met artikel 7 NGB en bring die tweede lid van artikel 29 NGB na vore. Indien iemand teen die suiwerheid van die leer met weer-doop gesondig het, maar daarna tog begeer om onder die gereformeerde bediening in die ware kerk (artt 28,29 NGB) voort te leef, gee die besluit van 1945 geen gronde om aan te neem dat weer-doop so ’n persoon buite die verbond en universele kerk van Christus gestel het nie en daarom durf die kerk nie ’n soekende skaap in die kudde van Christus na buite dryf nie. Weer-doop kan nie soos ’n Roomse “doodsonde” tot summiere ban of ekskommunikasie lei nie en die tugprosedure wat Christus en die Kerkorde

|320|

voorskrywe met ’n argument oor “lidmaatskap” uitskakel nie (NGB 7,32; HK S 31; artt 71-75 KO).

Mense met ’n valse pluriformiteitsopvatting stuur maklik iemand na ’n ander “kerk” om die eie soos ’n gesuiwerde party voor te doen. Die Here het egter ook die bediening en sorg vir die weer-doper aan die kerk (gelowiges) en opsieners opgedra (vgl Bevestigingsformulier van Ouderlinge; GKSA 1910 art 153). Wanneer iemand dus die kinderdoop betwyfel, moet die kerkraad die weg gaan wat in artikels 71 tot 74 KO aangedui word. Daar moet deeglik vasgestel word hoe wyd en diep die dwaling insny in die verhouding van die sondaar tot Christus (die verbond) en die kerkgemeenskap. Indien die persoon aanhangers werf en skeurmaak dui die Kerkorde artikels 76,77,80 die weg aan waarop gehandel moet word. Indien die persoon egter plegtig onderneem om sy dwaling oor weer-doop nie te propageer en die leer van die kinderdoop nie te opponeer nie, behoort die kerkraad Christelike verdraagsaamheid te oorweeg. Sy dwaling word gekonstateer en gearresteer, terwyl daarna met baie geduld oor die leer van die verbond en universele kerk gepraat kan word. Niemand kan in sy gewete gedwing word nie, maar niemand kan ook geban word omdat hy oor ’n bepaalde punt van die leer dwaal terwyl hy die groot heilsfeite (bv in die 12 Artikels) van die saligmakende geloof onderskryf. Wie aan Christus behoort moet deur die dienaars van Christus met liefde en geduld bedien word, sonder dat ’n dwaling in beskerming geneem word (Calvyn Inst IV.1.xiii). ’n Dwaling kan egter bestry word sonder om ’n mens in die ban te doen. Dwaling oor tyd of wyse (onderdompeling) van doop loën immers nie doop as sodanig nie.

 

6. Bediening in die erediens

In die pouslike en episkopaalse stelsels magtig die hoogste biskop in die Naam van Christus sy verteenwoordigers om van huis tot huis sakramente te bedien. Daarteenoor het die Reformasie die bedienaars van Woord en Sakramente aan die plaaslike kerk gebind (Calvyn Inst IV.1.x; 15.xiii,xix). Die wyse waarop die sakramente bedien en ontvang word, is juis ’n merkteken van die ware kerk. Dit toon of die universele kerk in daardie plaaslike kerk sigbaar word (NGB 28,29). Die onlosmaaklike band tussen Woord en Sakrament vereis dat die sakrament wat die inlywing in die kerk van God beseël, in die midde van die plaaslike kerk wat die universele kerk op daardie plek is, bedien moet word. Tegelykertyd word die kind by en deur die doop as lidmaat in die kerk ontvang (vgl art 60 KO). Op hierdie punt was die gereformeerde kerke vanaf die 16de eeu baie uitgesproke (Bos 1950:207v).

 

7. Die wyse van doopbediening

Die doop geskied vandag baie algemeen deur besprenkeling. Daarteenoor dring verskillende sektes aan op onderdompeling as die enigste regverdigbare vorm van doop. Die vroeë kerke het tot die negende eeu merendeel oorgieting en indompeling (Inst IV.15.xix) gebruik. Besprenkeling het vroeër ook voorgekom, maar vanaf die 12de eeu algemeen ingang gevind (Van der Linde 1983:197).

|321|

Kerkregtelik staan vas dat die hoeveelheid water, besprenkeling, oorgieting of onderdompeling, nie die vergiffenis van sonde en gawe van wedergeboorte raak nie. Tog kan besprenkeling, veral soos baie dominees dit doen, kwalik ’n wassing wees wat “afwassing van sonde” en “nuwe lewe” afteken. Die verswakking van die teken (Bouwman 1934:314-317) verplig dus des te meer tot deeglike en verduidelikende Woordverkondiging deur middel van ’n goeie Formulier en onderrig (art 57 KO). Die betekenende saak mag nie deur ’n swak teken skade ly nie. Allerlei opsmukgebruike by doop, soos Jordaanwater uit Israel, is skadelik en kan selfs tot bygelowigheid lei. Dit trek die aandag van die betekenende saak af. Vrae oor die hoeveelheid water, een of driemaal oorgiet of onderdompel, bepaal nie die wese van die doop nie. Hierin moet vryheid bestaan (Bouwman 1934:317).

Gereformeerdes erken die doop by ander gesindtes wanneer dit met skoon water, in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees, deur iemand wat in sodanige kerkgemeenskap die reg besit om sakramente te bedien, geskied het (Sinode Dordrecht 1618/19 sessie 162; GKSA 1879 artt 170,178; 1882 art 163; 1930 art 16). Oor-doop van gevalle wat by sektes gedoop was, kan alleen plaasvind wanneer die wyse van doopbediening nie as Christelike doop erken kan word nie. In gevalle waar twyfel bestaan, moet die kerkraad die advies van een of twee naburige kerke of ’n klassis inroep.

 

8. Leeftydgrens vir die doop

Die kerke wou nie ’n ouderdom bepaal om skeiding tussen kinderdoop en volwassedoop te reglementeer nie. Wanneer ’n kind tot rekenskap van sy geloof in staat is, mag hy nie meer as ’n onmondige kind gedoop word nie (Bos 1950:213v; kyk by art 57 KO).

Spoelstra, B. (1989) Art. 57

Artikel 57

Verantwoordelikheid vir doopaanvraag

 

Artikel 57: Die bedienaars van die Woord moet toesien dat die vader, moeder of voogde die doop vir hulle kinders aanvra.

 

A. Kerkregtelik

1. Die toesig van die leraars

Die Here Jesus het voor sy hemelvaart aan sy elf apostels opdrag gegee om die “nasies” dissipels te maak, te leer en te doop (Mt 28: 19). Deur die leerdiens vergader die Here sy kerk (Rm 10: 17v; Hd 2: 14v). Daarop volg die doop (Hd 2: 38v). Die amp van leraar of bedienaar van die Woord beklee gevolglik ‘n

|322|

besonder plek in die uitbreiding van die koninkryk van God (Ef 4: 11v; 2 Tm 2: 2; 3: 14; 4: 2; Calvyn Inst IV.1.v,ix,x; 2.i,iv; 3.i,ii,iv ens; kyk by artt 2,16,55 KO). In die lig hiervan wys hierdie artikel op die bedienaar van die Woord en nie op die kerkraad of regerende ouderlinge nie. Calvyn noem die bedienaar van die Woord tereg biskop, opsiener (Inst IV.3.viii). Sy leerdiens is van basiese betekenis omdat die verstaan van die doop (geloof) die fondament van die kerk is.

 

2. Verband tussen doop en kerk

Die kerk is ’n organisme, ’n liggaam, wat die Gees deur middel van Woordverkondiging in prediking en sakramentbediening vergader, beskerm en opvoed. God maak salig deur die prediking van die evangelie (Rm 10: 17). Die gelowiges kom saam in die eenheid van geloof wat slegs gevoed en onderhou kan word as die leer geken en onderhou word (Inst IV.1.v; 2.iv,v). Die onsigbare kerk van God word dus sigbaar waar die Woord van God reg verkondig en aangehoor word en die sakramente volgens die instelling van Christus bedien en ontvang word. Dit volg dus logies dat oor die sakramentleer gewaak moet word (NGB 29; Inst IV.1.ix-xii). Die leraar bedien die sleutels waarmee die evangelie die koninkryk oopsluit (lnst IV.i,xxii) en die gelowiges opbou op die fondament van die apostels en profetie om ’n pilaar van die waarheid te wees (Ef 2: 20; 1 Tm 3: 15). Die doop mag nie uit gewoonte of bygeloof bedien of aangevra word nie, maar sluit aan by die leer wat aan die ouers voor die doop bedien is. So word die gemeente in ’n hegte eenheid van geloof opgebou.

 

3. Die verbondverhouding

Die doopouers moet die verbond wat God met mense aangaan van harte omhels (vgl by art 56 KO). God sluit die verbond met mense in hulle geslagte en daarom is God se beloftes vir hulle en hulle kinders van krag (Hd 2: 38,39; Rm 4: 11-16). Gevolglik moet die verbondshoof van elke gesin in die kerk van die Here bewustelik hierdie verbondsbetrekking met God bely en sy verantwoordelikheid as gesinshoof op sterkte daarvan nakom.

 

4. Die peetouers

Die Roomse leer maak ’n skerp teenstelling tussen die ryk van die natuur (waarin ’n kind gebore en verlore is) en die ryk van genade (waarin ’n kind deur die doop oorgeplaas en gered word). Die ouers is verantwoordelik vir die kind se natuurlike geboorte en verlorenheid. Hulle kan hom derhalve volgens die leer nie vir doop hou nie. Die priester daarenteen is gewy om met die sakrament van doop genade in die dopeling te stort en so die kind in die ryk van genade (die Roomse kerksfeer) te ontvang. Die kind behoort dus aan die Roomse kerk. Rome ken ook nie die begrip “gemeente” en sakramentbediening binne ’n erediens nie. Ander gelowiges moet gevolglik as doopgetuies geneem

|323|

word. Die Reformasie het met die Roomse doopleer gebreek en bediening in die erediens beklemtoon. 

 

5. Verbond en opvoeding

God gaan in sy genade die verbond eensydig aan, skenk sy beloftes, maar eis dan van die mens om die beloftes te glo, Christus na te volg en die Wet van God te gehoorsaam. God vergewe en versoen die sonde (regverdigmaking) maar daarop moet die heiligmaking met ’n lewe van bekering volg — al bereik geen mens op aarde volmaaktheid nie. Die verbondouers moet die kind in die weë van die verbond opvoed en onderrig (Dt 6; Spreuke-boek; Lk 2: 46v, Hd 2: 39; vgl derde doopvraag in die Doopformulier). Wanneer die heiden van buite in die verbond en kerk inkom, gaan sy geloofsbelydenis die doop vooraf (vgl art 59 KO). By die kind wat in die verbondsgesin gebore is, volg die belydenis van geloof op die doop wanneer hy verantwoordelik God se verbond met hom erken en aanvaar. By die volwasse en kinderdoop word doop en geloofsbelydenis nie geskei nie en om tot geloofsbelydenis te kom is kategese deur die ouers van grondliggende betekenis.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die Dordtse Kerkorde (1619) het bepaal: Die dienaars sal hulle bes doen en daartoe werk maak dat die vader sy kind vir die doop aanbied. In die gemeentes, waar naas die vader ook peetvaders of getuies by die doop geneem word (’n gebruik op sigself vryblywend wat nie ligtelik verander moet word nie), is dit gepas om slegs die te neem wat die suiwere leer toegedaan en van vrome levenswandel is (eie vertaling).

Die Sinode van Potchefstroom 1964 (62,72) het die huidige redaksie vasgestel. Moeder en voog is bygevoeg vir gevalle waar ’n moeder of voog as “verbondshoof” optree. “Aanbied” is verander na “aanvra” wat (so word gesê) duideliker die beslissing van ’n kerkraad aandui. Die deel oor peetvaders en getuies is weggelaat omdat dit in onbruik geraak het.

 

2. Peetouers en getuies

Die Anglikaanse Kerk het wel met die Roomse doopleer gebreek, maar maak nog van peetouers gebruik om kinders vir doop te hou. Tydens die Reformasie het baie ouers peetouers en getuies bygebring omdat gemeenskapskringe so by die doop beleef is. Wanneer iemand “peetouer” van hierdie of daardie kind by die doop was, is ’n besondere band tussen hulle aangevoel.

In ouer doopregisters van Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika kom nie peetouers nie, maar lang lyste van “doopgetuies” voor. Hulle is naas die doopouers toegelaat en in die doopregister aangeteken. Die gebruik is nuttig

|324|

in gemeenskappe wat nie "doopregisters" hou nie (Kruger 1966:350). Reeds die Sinode van Rustenburg 1863 (art 41) het die gebruik begin ontmoedig (vgl ook GKSA 1869,1891,1910). Soms is van “getuies” gebruik gemaak om ’n kind vir doop te hou wanneer die ouers onder tug, slegs dooplede of onmondig was. Dit kan egter slegs gebeur wanneer daar sekerheid is dat die “getuies” die kind in die verbond sal en mag opvoed.

Op sigself het die gebruik van peetouers en doopgetuies geen kerkregtelike grond nie. Waar dit egter deel van kerkkultuur geword het, hoef dit nie noodwendig afgeskaf te word nie. Dit is ’n middelmatige saak waaroor die kerk nie ontstig moet word nie. ’n Opvatting oor so ’n gebruik moet derhalwe nie uitgelig en tot beginsel verhef word nie.

Teen die einde van die 19de eeu het Nederlandse sinodes “doopgetuies” vereis om op te tree by die doop van kinders waar ouers nie die nodige waarborge kon gee nie (Bos 1950:215). Hierdie gebruik berus waarskynlik op ’n sterk biologiese opvatting omtrent ’n “verbondslyn” kragtens afstamming en kan moeilik net so regverdig word. By doop word nie getuienis oor ’n “verbondslyn” verlang nie, maar ’n versekering oor verbondsonderwys. Die nuwe redaksie wat met voogde reken wanneer die natuurlike ouers nie daar is nie, is kerkregtelik in orde. Die voog is iemand wat regtens aangestel en bevoeg is om in die plek van die ouer op te tree. Onder swart volksgemeenskappe word verantwoordelike persone deur grade van verwantskap aangewys.

 

3. Die verantwoordelikheid van die ouers

Die rede waarom “aanbied” na “aanvra” in 1964 verander is, kan op goeie grond betwyfel word. In “aanbied” staan die mondige, selfstandige gelowige keuse van die ouers in hulle verbondsrelasie op die voorgrond. Die ouers bied die kind weliswaar in die kerk aan maar in werklikheid aan die Verbondsgod in wie se Naam hy gedoop word. Dit is ’n diep religieuse handeling. In “aanvra” kom die “kerkraad” egter meer institusioneel en formeel as tussenganger na vore en verkry die doop ’n meer kerklike seremoniële aksent asof dit iets is waaroor die kerkraad beskik.

Die Sinode van Burgersdorp 1873 (art 156) het onomwonde uitgespreek dat by die doopbediening met albei ouers gereken moet word. Opmerklik genoeg het die oudste gereformeerde kerkvergaderings (Bos 1950:214) alle nadruk op albei “ouers” gelê al was slegs die vader in artikel 57 KO genoem. Die ouers moes die doop verstaan en hulleself tot die godsalige opvoeding van die kind verbind. Die opvatting dat doop by die kerkraad aangevra moet word (waar kerkraad as ’t ware die leraar verplaas), dateer uit ’n Huishoudelike Reglement van 1839 in Nederland (Bos 1950:215).

 

4. Die taak van die predikant

Op grond van die betekenis van die sakrament van die doop staan die bedienaar van Woord en Sakrament hier as werktuig van die Here op die voorgrond. Hierdie taak mag hy in geen omstandigheid op ’n ouderling of op “die kerkraad” afskuiwe nie. Vroeër in plattelandse kerke het ouers die doop

|325|

van hulle kinders tydens “groot-kerk”-naweke op ’n gesette uur by die predikant kom aanvra. Nadat hy die besonderhede in die doopregister aangeteken het, het die predikant vir die ouers in ’n doopkatkisasie betrek, sodat die hele doopbediening vir hulle sou sin maak. Vandag beskik predikante oor vinnige kommunikasiemiddele en kan hy sy leraarstaak met ’n gerigte huisbesoek uitvoer.

Waar kulturele gebruike ’n swart predikant verhinder om spoedig na die geboorte so ’n besoek te bring, moet die predikant hom aan die kerkregtelike beginsels verantwoord. Hy sal óf kort voor die geboorte óf op die tydstip dat die moeder se afsondering opgehef word, die ouers moet besoek om te doen soos artikels 56,57 bepaal. Sy voorligting kan deel uitmaak van die vrou en kind se terugkeer tot die normale gemeenskapslewe. Die derde alternatief, dat die vader ondertussen die kind vir doop hou, laat die moeder wat juis die grootste bydrae tot die opvoeding moet leuver, buite rekening. Die doopkatkisasie vir die ouers in die swart kerke is juis met die oog op die opbou van die kerk gebiedend noodsaaklik (Ef 4: 11-16).

 

5. Die doop aanmeld

Hierbo het ons die begrip “aanvraag” gekritiseer. Tog moet die doop gereël word. Die ideaal is dat ouers hulle leraar van ’n geboorte in kennis sal stel. In vakante kerke tree die wyksouderling na vore en kan hy reël vir besoek deur die predikant wat die doop bedien. Daar is egter te veel by die doop op die spel om net op die inisiatief van die ouers te wag. Die opsieners moet bepaaldelik toesien dat ouers nie nalatig, onverskillig of onkundig optree nie. By die besoek van die bedienaar van die Woord kan voorlopig reëlings vir die doop getref word — anders bring die ouers hulle kinders na die erediens om gedoop te word.

 

6. Onderrig in die geloof

Die plig om die kinders in die leer van die verbond te onderrig, rus vierkantig op die skouers van die ouers. Die derde doopvraag mag nie so verstaan word dat daar ’n keuse tussen huiskatkisasie en ander katkisasie is nie. Skool- en uiteindelik kerkkatkisasies bou op die huiskatkisasie. Ouers moet hulle kinders in die leer van die God se verbond met hulle woorde en voorbeeld opvoed, terwyl die kerklike dienaars hulle hierin waar nodig begelei.

 

7. Die ouderdom vir doop

’n Bepaalde eenvormige ouderdom vir die kinderdoop kan moeilik voorgeskryf word. In die 16de eeu is kinders vanaf 14- tot 15-jarige ouderdom vir volwassedoop oorweeg (Rotterdam 1586, Leiden 1592 en 1857). Die beginsel is gehandhaaf dat die beslissing by die leraar en kerkraad tuishoort (Bos 1950:214; vgl art 30 KO). Te Reddersburg (1896 art 51 ) het die kerke daarop gewys dat Gods Woord hieroor nie uitspraak doen nie en dat een kind soms

|326|

veel van ’n ander in “gesindheid en ontwikkeling” verskil. Wanneer groter kinders gedoop moet word, moet die leraar in die eerste plek en die kerkraad in die tweede plek, hulle vergewis hoe selfstandig en verantwoordelik die kinders met betrekking tot die Christelike geloof kan optree Elke geval moet op werklike meriete beoordeel word. Aan die een kant moet in ag geneem word om die doop so spoedig moontlik te bedien (dws kinderdoop eerder as volwassedoop). Aan die ander kant mag dit wenslik wees, veral op die sendingveld, om kinders wat op ouderdom vanaf 12 jaar die vermoë ontwikkel om deur abstrakte denke die geloofsbelydenis te begryp, aan deeglike kategese te onderwerp sodat hulle liewer ná verantwoordelike belydenis van geloof, gedoop kan word. Wanneer ouers self pas belydenis van geloof bedoen het, kan hulle opgeskote kinders tog moeilik saam met hulle gedoop word. Hierdie kinders moet aangemoedig word om self belydenis van geloof, al is dit na kategese van enkele jare, af te lê (vgl art 60 KO).

Gedurende die 16de eeu is by die kinderdoop van opgeskote kinders ’n prosedure gevolg wat aan die geloofsbelydenis voor volwassedoop herinner. Kinders (tussen 7 en 14) is eers ondervra oor die Onse Vader, Tien Gebooie, Twaalf Artikels en betekenis van die doop voordat hulle as kinders gedoop is. Groter kinders wat gedoop word behoort na vermoë te verstaan wat die doop beteken en verseël.

Spoelstra, B. (1989) Art. 58

Artikel 58

Onderskeie formuliere vir volwasse- en kinderdoop

 

Artikel 58: Die bedienaar van die Woord moet by die doop van klein kinders sowel as die volwasse persone die onderskeie formuliere gebruik wat daarvoor vasgestel is.

 

A. Kerkregtelik

1. Suiwer Sakramentbediening as merkteken van die ware kerk

Die wyse waarop die doop bedien word, is een van die kenmerke wat aandui of die een ware kerk van God op die betrokke plek sigbaar en aanwesig is (Calvyn 1951: IV.1.x: artt 28,29 NGB). Die sakrament kan slegs suiwer bedien word indien die Woord die sakrament verklaar en vir die gemeente ontsluit. Gevolglik het die kerke Formuliere as Woordverkondiging by die doopbediening daargestel. Deur die Woordverkondiging kan die sakramentbediening geloof

|327|

bou en versterk (Heid Kat S 25). Die kerkregtelike agtergrond by art 56 moet ook in ag geneem word.

 

2. Voorskrif aan Bedienaars van die Woord

Vandag sou die kerksentriese denke waarskynlik hierdie artikel soos volg formuleer het: “Die kerk moet by die doop ... ens”. Die Skrif neem egter die bediening van Christus as uitgangspunt (Rm 10: 17v; Ef 4: 11; Mt 28: 29). Daarby sluit die Reformasie aan (Calvyn 1951:IV hfst 3 vgl artt 2-28 KO). Sakramentbediening is gevolglik aan ’n bepaalde dienaar en nie aan “die kerk” opgedra nie. Die bedienaar van die Woord staan nie in diens van die kerk nie, maar in diens van Christus (vgl art 3 KO). Dit spreek tog vanself dat Woord en sakrament van doop eers bedien moes wees, voordat daar ’n kerk kan wees (Rm, 10: 17v; Hd 2: 14v,38).

 

B. Kerkregering

1. Redaksioneel

Die redaksionele byvoeging “volgens die Formulier” in 1964 is by artikel 56 KO in die lig van art 58 KO oorbodig.

 

2. Twee Formuliere

Die Kerkorde vloei uit die Belydenis voort (art 3 KO). Vir die uitvoering van die kerkordelike handelinge word liturgiese Formuliere wat op Skrif en Belydenis gegrond is, ontwerp. Daarin word die Skriftuurlike reg in verband met die sakrament uiteengesit. Die verwysing in die Kerkorde na die Formulier betrek dus die regsbasis by die handeling. Die Formulier vir die kinderdoop het via Calvyn se Geneefse formulier, die Heidelbergse Formulier in die Paltz, a Lasco van die Vlugtelinggemeente in Engeland en uiteindelik deur middel van die Nederlandse liturg, Petrus Datheen, die Sinode van Dordrecht 1578 bereik. Die Sinode het dit verkort (d’Assonville 1981; Woelderink 1938). Die volgende Sinode van Dordrecht 1618/19 het met die oog op die doop van bekeerdes uit die heidendom ook ’n formulier vir die doop van volwassenes daargestel.

Die Doopformulier bedoel Woordbediening aan die hele gemeente. Dit het omtrent gelyktydig met die Heidelbergse Kategismus in die Paltz ontstaan en is in 1578 verkort. Dit bestaan uit ’n didaktiese deel waarin die leer van die verbond en eenheid oor die betekende saak (d’Assonville 1981:4v; 18v; 93v), naamlik sondevergiffenis en bekering (wedergeboorte) wat die wese van die kerk bepaal, van die doop uiteengesit word, gevolg deur ’n liturgiese gedeelte wat uit gebede, vermaning en vrae aan die ouers bestaan. Daarop volg die doopplegtigheid en ’n dankgebed. Die sakramentele rus dus op die Woordverkondiging.

|328|

Die formuliere vir kinder- en volwassedoop onderskei hulle van die Lutherse en Engelse Formuliere daarin dat dit met ’n didaktiese gedeelte die sakrament ontsluit. Dit skryf aan die sakrament geen bonatuurlike werking toe nie, maar die sakrament kom in die lig van die Woord te staan.

Die Formulier vir doop van volwassenes neem die didaktiese gedeelte van die formulier vir kinderdoop feitlik woordeliks oor. Die volwasse doop word geregverdig omdat die dopeling die “verborgenhede van die heilige Doop uit die prediking van die heilige evangelie” leer ken het en “verstaan” sodat hy daarvan mondelings belydenis kan doen. Die doop is ’n seël van die dopeling se “inlywing in die kerk van God” en hy neem vir leer en lewe die Christelike godsdiens aan. Die vrae is gevolglik ook daarop gerig om hom sy geloof in die Drie-enige God te laat bely en sy instemming met die Geloofsbelydenis te laat betuig (vgl Calvyn 1951:IV.15.xix). Die Formulier lê nadruk op sy doop binne gemeenskap van die Christelike Kerk. Die dopeling moet beloof (soos art 59 KO reël) om in die aanhoor van die Goddelike Woord en gebruik van die heilige nagmaal te volhard. Die antwoord op die vrae kom neer op geloofsbelydens wat toegang tot die doop en nagmaal (art 61) verleen. Dit gaan hier om die een algemene Christelike Kerk (vgl Heid Kat S 21).

 

2. Liturgiese Vryheid

Die Sinode van Burgersdorp 1873 het geweier om ’n reël neer te lê dat die formuliergebede “letterlijk” opgesê moet word, alhoewel so naby as moontlik daaraan gehou moet word. Die Sinode van Reddersburg 1927 (art 154) wou wel die formuliergebede voorskrywe (art 154). Die beginsels van eenheid en orde sonder dwang, moet hier seker in ag geneem word. Dit verplig nie noodwendig “enersheid” nie. Dit is dikwels raadsaam om by ’n doopbediening voor die preek die formuliergebed by die kinderdoop aan te pas om alle node te dien. Die Sinode van Reddersburg 1910 het die gebruik van die woordjie “amen” by die doopformule aan die vryheid van die predikant oorgelaat (art 154).

 

3. Redaksionele bewerking van Formuliere

Na ’n besluit in 1918 om die liturgíese Formuliere in Afrikaans te vertaal, het eers die Sinode van Bloemfontein 1939 (art 46) dit ontvang. Die Sinode van Potchefstroom 1976 het weer die formuliere taalkundig laat hersien. Dit is ook oorweeg om die reeds baie kort doopformulier verder te verkort, waarvan die Sinode van 1985 gelukkig afgestap het. Woord en Sakrament hoort bymekaar. Wanneer die Woord as oorbodig beskou word, ontaard die doop maklik in ’n blote seremonie sonder enige sakramentele betekenis.

Spoelstra, B. (1989) Art. 59

|329|

Artikel 59

Belydende gemeente is nagmaalgemeente

 

Artikel 59: Volwassenes word deur die doop in die gemeente van Christus ingelyf en as lidmate van die kerk opgeneem en daarom is hulle verplig om die Nagmaal van die Here te gebruik soos hulle by hulle doop belowe het om te doen.

 

A. Kerkregtelik

1. Konsekwensie van die Verbond van God

Hierdie artikel trek ’n konsekwensie uit die kerkregtelike basis wat die Verbond van God vir die Doop verleen (vgl art 56).

Die artikel wil uit die Verbond van God konkludeer dat die volwassene wat gedoop word deur sy geloof reeds in die Verbond van God en gemeente (liggaam) van Christus opgeneem is, soos die doop beseël en bekragtig. Die doop het derhalwe ook kerkregtelike gevolge vir die sigbare kerk (Christelike gemeente). By die moment van doop word die persoon ten volle by die gemeente as gemeenskap van gelowiges ingelyf. Hier gebeur sigbaar op aarde wat God reeds onsigbaar in die hemel gedoen het en die heilige doop beseël en bekragtig het.

 

2. Lidmaat van die gemeente of kerk?

Die redaksie van 1964 suggereer dat iemand deur die doop lid van die gemeente van Christus word en daarnaas “as lidmaat van die kerk opgeneem” word. Hy is dan verplig om nagmaal te gebruik enersyds vanweë sy onsigbare lid-wees van Christus en andersyds omdat hy sigbare institusionele lidmaat van “die kerk” is. Hierdie vertolking van “lidmaat van die kerk” leef sterk onder mense as gevolg van die kollegialistiese beskouing wat die kerk (as genootskap) as sy vertrekpunt neem. Mense is geneig om geweldig nadruk te lê op die formele kerklidmaatskap as basis vir hulle regte, soos wat die geval is waar iemand lid is van ’n organisasie. Daarteenoor wil die oorspronklike “en voor lidmaten der gemeente aangenomen” iets anders sê as “en als lidmate ... aangenomen”. Die oorspronklike bewoording dui op die organiese opname van die gedoopte onder die gemeente as volk van God — terwyl “as lidmate van die kerk opgeneem” formeel en bloot institusioneel oorkom. Die verskuiwing van die aksent van die gemeente as vergadering van gelowiges (vgl NGB 2; HK S 21) na ’n institusionele “kerk” waarin “lidmaatskap” verkry word, kan nie gereformeerd-kerkregtelik verdedig word nie.

|330|

3. Die kerk van Christus aan die nagmaal sigbaar

Die Anabaptiste wou met die doop die lyn trek tussen gelowiges en ongelowiges, kerk en wêreld, heilige gemeenskap en staatskerk. Die hervormer Calvyn het daarteenoor beklemtoon dat die kerklike dissipline oor leer en lewe en afhouding van die nagmaal (art 76 KO) verseker dat die gemeente van Christus rondom die nagmaaltafel suiwer geopenbaar word (Spoelstra 1982:240). Wie dus pas sy geloof in Christus bely het en daardeur in die gemeente van Christus opgeneem is en op sterkte daarvan gedoop is, moet eenvoudig dan ook sigbaar onder die volk van God sy plek neem — anders haper daar iets aan die voorafgaande geloofsbelydenis. Die Kerkorde verwys dus eksplisiet na die belofte wat by die doop afgelê is. Om die doop te begeer, maar die nagmaal af te wys, plaas ’n vraagteken agter die integriteit van die geloofsbelydenis.

 

4. Eenheid van Doop en Nagmaal

Dieselfde geloof en eenheid in Christus verplig tot die doop en nagmaal, behalwe dat die doop die persoonlik-individuele relasie tot Christus en die nagmaal die relasie in gemeenskap voorop stel. Die persoonlike geloof in Christus moet tot die gemeenskap met die volk van God lei, soos die artikel dit in sy eerste lid as vertrekpunt neem. Daarom kan die doop en nagmaal nie anders as in eredienste waarin die volk van God saamkom, bedien word nie. Die gemeente is aanwesig waar die doop bedien word en neem die persoon op grond van sy geloofsbelydenis in hulle midde op en daarom is hy verplig om as een van die gemeente die dood van die Here te gedenk en te verkondig. Die volwassene moet daarom liefs in of so naby moontlik aan ’n nagmaaldiens gedoop word.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die Dordtse KO bepaal: “die volwassenes word deur die doop in die Christelike gemeente ingelyf en as lidmate van die gemeente aangeneem…” (Pont 1981:183).

Die feit dat die Afrikaanse bewerking van hierdie artikel in 1964 (sonder motivering) die begrip “gemeente” wat konsekwent in die ou artikel voorkom enersyds met “gemeente” en andersyds met “kerk” weergee, dui op ’n ongelukkige verskuiwing in kerkbegrip.

Op sigself geneem, kom die volgende stelling byna Rooms voor: “Volwassenes word deur die doop in die gemeente van Christus ingelyf …”. Indien “doop” hier heenwys op die sakramentbediening as sodanig, sou dit beteken dat iemand eers op die moment van sy doop in die liggaam van Christus “ingelyf” word. Die oorspronklike artikel verwys nie afsonderlik na die

|331|

universele en plaaslike kerk nie, maar na die sigbare openbaring van die universele kerk as die plaaslike Christelike gemeente, al sou gelowiges en hipokriete daarin vermeng kon wees (Calvyn 1951 : IV.1.vii).

 

2. Verplig om nagmaal te gebruik?

Die woord “verplig” in artikel 59 KO is sterk. Tog kan die verpligting uit verskillende kante beskou word. Die Here verplig met sy nagmaalbevel al die gelowiges om die dood van die Here te herdenk en te verkondig. Daarom kom die motivering normaalweg uit die gelowige self op. Wie dus belydenis doen (en gedoop word) sal wil nagmaal vier. Dit is egter verkeerd indien die gemeente iemand verplig om nagmaal te gebruik.

Minagting vir die nagmaal kan nie geduld word nie. Daarom mag niemand ligvaardig tot volwasse doop toegelaat word nie. Hy moet daarvoor eers deeglik onderrig ontvang en in volle oortuiging belydenis doen. In die ou staatskerkpraktyk het mense soms die doop begeer om nominaal as “Christene” deur te gaan, terwyl hulle nie onder dissipline van die Woord wou lewe nie en dus ook nie aan die nagmaal wou gaan nie. Vanselfsprekend moet die gemeente, wanneer nodig die herders en uiteindelik die kerkraad in sodanige gevalle optree (artt 71-77).

In sekere konserwatiewe gereformeerde kringe in Nederland kom ’n angs om nagmaal te gebruik voor op sterkte van ervaring in die staatskerke dat mense te maklik uit vorm en gewoonte aan die nagmaal gaan. Gevolglik het die oortuiging posgevat dat ’n gedoopte en belydende Christen eers deur ’n persoonlike ervaring van die Here sekerheid moet kry dat hy/sy ’n “gekende” van die Here is voordat nagmaal gevier word. Dit is verkeerd wanneer kerkrade met die kerklike tug dergelike Christene wil verplig om aan die nagmaal te gaan. Tugprosedure sou tot die anomalie kon lei, dat iemand wat hardnekkig homself die nagmaal onwaardig beskou, maar die Here Jesus Christus bely, deur die ban (art 77 KO) uit die gemeente van Christus gesny moet word omdat hy glo hy is die nagmaal nie waardig nie. Dit kan tog nie. Die rokende lamppit mag so lank hy brand, nie uitgedoof word nie. Niemand moet deur kerkgesag “verplig” word om nagmaal te vier nie, omdat dit van nagmaal ’n formaliteit in en van die kerk maak. Persone wat hulleself die nagmaal onwaardig ag, moet met oneindige geduld getroos, geleer en aangemoedig word om die nagmaal in sy ryke betekenis te verstaan. Dit sal by uitstek leraarswerk eerder as ouderlingswerk wees.

Spoelstra, B. (1989) Art. 60

|332|

Artikel 60

Volledige doopregisters

 

Artikel 60: Die name van die gedooptes en van hulle ouers of voogde sowel as die datums van geboorte en doop moet opgeteken word. 

 

A. Kerkregtelik

1. Die wese van die kerk

Die verbondsgedagte in die Skrif behels die gedagte dat die Here sy volk se name opskrywe (Ps 87: 5,6; Op 21: 27) en kragtens die verbond verwerklik die Here sy heilsraad in en deur geslagte (vgl geslagsregisters in OT en NT). Die wese van die kerk is immers dat dit ’n liggaam, ’n eenheid, ’n vergadering van mense is wat gedoop is in die Naam van die Drie-enige God. Die begrip van ’n doopregister wat die name van die dopelinge en hulle ouers, hulle geboortedatum en doopdatum aandui, vloei kerkregtelik as natuurlik en noodsaaklik uit die wese van die kerk voort. Die doopregister bied daarom ook die wesenlike lidmateregister.

 

2. Geen verbondslyn nie

Kragtens ’n doopbeskouing in bepaalde gereformeerde kringe is die verbond van God dikwels meganies verbind aan die lyn van afstamming. So sou iemand wat totaal vervreem het, nog “in die verbond” kon wees indien bewys kan word dat sy ouers of grootouers gedoop en in die “verbondslyn” was. Hierdie beskouing het onses insiens geen Skriftuurlike en daarom geen kerkregtelike grond nie. Die “verbondslyn” word deur geloof bepaal en nie deur afstamming nie.

 

B. Kerkregering

1. Redaksie van die artikel

Die artikel word in 1581 in die Kerkorde opgeneem.

Op sigself lyk dit asof hierdie artikel ’n blote administratiewe voorskrif en opdrag gee. In die 16de eeu het die registrasie egter met die oog op die “kerk” en die “gemenebes” geskied. Die kerklike boekhouding en registrasie is dus ouer as die staat se bevolkingsregistrasie. Kerklike doopseels het ook in Suid-Afrika geboortes tot ongeveer 1900 baie beter as staatsrekords weergegee.

|333|

2. Die Doopregister

Die huidige redaksie stel vrywel volledig wat by die doop aangeteken moet word. Dit word natuurlik aan kerkrade oorgelaat in watter vorm die doopregister gehou sal word. Hier kan van ’n kaartsisteem of van ’n goeie boek met ’n sterk stewige rug gebruik gemaak word. Daarin moet dan duidelik die naam van die kind, sy geboortedatum, die name van die ouers of voogde en die datum van doop aangeteken word. Soms teken kerkrade ook die naam van die predikant daarby aan. Soms moet ’n spesiale omstandigheid met betrekking tot die doop aangeteken word, byvoorbeeld waarom voogde optree of doop op spesiale versoek van ’n ander kerk, ensovoorts.

’n Doopregister moet so gekies word dat gegewens lank bewaar kan word. Dit moet daarom nie te dik wees nie, sodat elke tien jaar of so ’n nuwe aangelê kan word en die oue veilig bewaar word. Deur die afname in kindertal per gesin vind in die ouer kerke baie minder doopbedieninge as in die jong kerke per jaar plaas. Doopregisters is selfs vir genealogiese navorsing onontbeerlik. Gevolglik skenk die Kerkargief in Potchefstroom besonderlik aandag aan die bewaring en/of vermikrofilming (en so meer afskrifte) van doopregisters. Wanneer doopregisters daarheen gesentraliseer word, kan enige navrae oor doopseels by die sentrale adres gedoen word. By die jong kerke onder swart volke mag noukeurige doopregisters in die toekoms van onskatbare waarde word.

 

3. Doopseel

Vroeër het die “doopseel” as openbare inligting oor die geboorte (bv vir aansoek om ouderdomspensioen) of as getuienis van doop by ’n aansoek om belydenis van geloof af te lê, gedoen. Vandag sluit attestasieverkeer tussen kerke meesal getuienis oor dooplidmate in en raak aanvrae vir doopseels in onbruik. Die vraag is egter hoe betroubaar die verkeer is. Neem skribas nie dikwels sommer aan dat kinders gedoop is nie? Waar geen betroubare attestasieverkeer oor dooplidmate bestaan nie (bv in sommige swart kerke), moet die offisiële doopseel by aanvraag om belydenis van geloof af te lê, vereis word. Die vraag of en hoeveel gelde vir die uitreiking van doop- (en lidmaat-) sertifikate gevra word, hoort by elke kerkraad tuis (GKSA 1961, art 163).

 

4. Doopgelde

Gedurende die vorige eeu het talle kerke doopgelde as ’n soort lopende belasting ten behoewe van registrasiekoste en die gemeentekas gehef (GKSA 1888, art 88). Besware teen dié praktyk het op dowe ore geval (GKSA 1897 art 114) — ’n patetiese voorbeeld dat swak sinodebesluite geneem kan word wanneer finansiële voordeel op die spel is! Die besware daarteen het egter dié praktyk ten spyte van die sinodebesluite laat uitsterf. Dit staan enige ouerpaar natuurlik vry om ’n dankoffer by die doop van ’n kind vir een of ander kerklike doel te gee. Indien so ’n bydrae nie geoormerk is nie, geld dit as gawe

|334|

van dankbaarheid in die lig van Heid Kat Sondag 38 wat by voorkeur ten bate van die sending (wat met doop verband hou, vgl Mt 28: 16) gebruik kan word.